Die worsteling van die gelowiges om die lewe een te laat wees

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 2
Preek Inhoud: 

Ps. 21: 1, 2, 3
Ps. 21: 4, 5
Ps. 2
SB. 41: 1 - 4
SB. 41: 5, 6, 7
Lees: Psalm 2
Teks: Openb. 2: 18 - 29

Broeders en Susters,

Namate ek langer besig is om myself te probeer inleef in die leef omstandighede van die Christelike Kerk in die eerste eeue van sy bestaan, neem my respek vir hulle toe. By al die briewe uit Openb. 2, wat ons tot nou toe bespreek het, val dit op dat die gemeentes van Christus moet leef temidde van 'n agressiewe heidense samelewing. Die heidendom het so 'n sterk stempel op die hele lewe gesit, dat 'n mens hom waarlik afvra: hoe moet jy daar as Christen staande bly?

Daar is 'n bekende woord van Paulus: ons is wel in die wêreld, maar nie van die wêreld nie. Dit beteken om Christen te wees, hoef jy jou werklik nie uit die wêreld terug te trek, om iewers as 'n groep kluisenaars te gaan lewe nie. Nee, jy staan in die wêreld, die wêreld van werk en besigheid doen, die wêreld van geld verdien en geld uitgee ens. En tegelykertyd moet jy daarvoor waak dat jy nie daarin opgaan nie, dat jou lewensdoel en lewenswyse nie identiek raak met hulle, wat sonder God en sonder Christus die lewe in die wêreld geniet nie. Jy is mos nie van die wêreld nie. Jy behoort nie aan die wêreld nie, want jy behoort aan Jesus Christus.

So is dit met ons. En dit kan al moeilik genoeg wees, om daarin altyd reg op te tree.

Maar nou die gemeentes van die eerste eeu. Hulle leef in 'n wêreld wat deur en deur gestempel is deur pure heidendom. Die brood wat jy koop, die vleis wat jy braai, die medisyne wat jy gebruik, oor al die sake word heidens-religieuse spreuke uitgespreek. Jy kan geen stap doen ofjy loop heidense simbole en rituele raak. Want die heidene het hul religie nie gereserveer vir een dag in die week, of vir 'n private seremonie agter geslote deure nie. Nee, hulle maak geen onderskeid nie. Vir hulle is die lewe een.

Wel, vir die Christene ook. En daar het ons meteen die groot probleem, waarmee die gemeente van Thiatire worstel. Wat beteken dit in die maatskaplike lewe om Christus as Heer te erken? Hoe moet jy dit doen: wel in die wêreld wees, maar nie van die wêreld nie?

DIE WORSTELING VAN DIE GELOWIGES OM DIE LEWE EEN TE LAAT WEES.

  1. Christus prys die gemeente van Thiatire vanweë hul trou.
  2. Christus vermaan die gemeente van Thiatire vanweë hul swakheid.
  3. Christus bemoedig die gemeente van Thiatire vir die toekoms.

1. Thiatire - 'n stad in Klein-Asië. 'n Kleine 100 kilometer suid-oostelik van Pergamus. Ook 'n flinke stad. Die keer nie beroemd vanweë 'n besondere tempel of 'n spesiale godheid nie, maar bekend as industriestad. 'n Stad met baie handwerksmense, soos pottebakkers, linnewewers, wolbewerkers, meubelmakers, ystersmede, ens.

In daardie tyd het die beoefenaars van die verskillende ambagte almal 'n sterk organisasie gehad. Elke vak het sy eie gilde geken. In so 'n gilde was al die beoefenaars van een ambag georganiseer. Binne die gilde het 'n sekere hiërargie geheers van senior-vakmense, en so onder toe tot vakleerlinge. Daarby het elke gilde sy eie god gehad, wat hulle saam vereer het. Dink byvoorbeeld aan Demetrius die silwersmid uit Efese, hy het sy hele gilde georganiseer in 'n demonstrasie teen die apostels, en vir die godin Diana.

Toe die Romeinse Ryk later Christelik geword het, het hulle die hele sisteem van vakorganisasies, van beroepsgildes, min of meer gehandhaaf, maar die vereerde heidense afgod vervang deur 'n Christelike persoon uit die geskiedenis. So kon hulle byvoorbeeld die houtbewerkersgilde die St. Josefgilde noem, na die vader van die Here Jesus. 'n Vorm van verering van heiliges, binne 'n vakorganisasie, waarmee na die Reformasie van die 16de eeu, baie gereformeerdes probleme ondervind het.

Maar terug na Thiatire. Elke vak het sy eie beskermgod gehad, en is deur die vakgenote vereer. En om die vak te kon uitoefen, moet jy by die gilde aangesluit wees. Daar kry jy 'n opleiding in die vak, daar kan jy verder kom binne jou beroepswêreld. Maar dit beteken dan ook, dat jy jou kant moet bring in die aanbidding van die beskermgodin van jou vak. Dat jy deel moet neem aan die gereelde braaifunksies met jou kollegas. Daar word 'n skaap of 'n bees geslag vir die beskermgod van die gilde, en daarna eet jy dit saam, en jy drink op die god, tot heil van jou gilde. Tot die fees uitloop op brassery en dronkenskap en seksuele uitspattighede. So gaan dit daar nou maar.

Wel, gemeente, daar het u die probleem van die kerk van Thiatire. 'n Baie moeilike probleem.

Miskien kan 'n mens nog wegbly van die Diana-tempel in Efese.

Miskien sien jy nog kans om sonder besoek aan die Asklepios-tempel in Pergamus weer gesond te word.

Maar hoe gaan jy in jou lewensonderhoud voorsien, as jy deur die gilde uitgesluit word? Daar in Thiatire kan jy nie sê: Ek kan saamdoen, totdat ek voel, dis nou tyd om huistoe te gaan nie. Dit word van jou nie geaksepteer nie. Daarmee het die gilde dus 'n geweldige mag. En wat gaan jy daaraan doen?

In daardie situasie ontvang die gemeente 'n brief.

'n Brief met die opvallende Afsender: Dit sê die Seun van God.

Met hierdie aanduiding kom ons vir die eerste keer af op 'n woord uit Psalm 2; die psalm wat op so 'n wonderlike manier deur hierdie brief geweef is. Psalm 2 sing van die heerskappy van die Seun van God oor heel die wêreld. Die wereld kan hom op talle manier teen Hom verset, hulle kan enige revolusie teen God se leiding beplan, maar tenslotte het God die wêreldregering oorgedra aan Sy Gesalfde Seun. En aan Hom moet alles en almal hulle, teen wil en dank desnoods, onderwerp. Hierdie Seun van God wat oë het soos 'n vuurvlam, rig Hom hier tot Sy eie mense, tot Sy gemeente. Dit is die gemeente wat die roeping het om die heerskappy van Jesus Christus wat tans nog in talle opsigte onsigbaar is, in hul lewe en in die wêreld vorm te gee.

Wel, daardie roeping het die gemeente van Thiatire raakgesien. Christus self getuig daarvan: Ek weet jou werke en liefde en diens en geloof.

In die geloof het hulle 'n keus gemaak, vir Christus en teen die ambagsgod. In die oortuiging van die liefde het hulle offers gebring.

Daar het probleme gekom, maar in lydsaamheid het hulle verdra.

Daar het mense sonder inkomste gekom, maar hulle het mekaar diens betoon. Die diens was bitter hard nodig in 'n situasie waarin die gemeente na die rand van die samelewing gedruk word. Dan moet jy mekaar wel bystaan. En namate die tyd aangegaan het, en die nood eerder groter as kleiner geword het, het hulle in liefde en in diensbetoon selfs gegroei. Dis pragtig.

Hulle funksioneer werklik as een gemeenskap. Elkeen het nie geprobeer om self sover as moontlik in hierdie wêreld te kom nie, deur alles op te offer in die algemene welvaartsjag nie. Nee, hulle het hul krag gesoek in onderlinge sorg en liefdebetoon.

Ja, dan word 'n mens nie gou ryk in hierdie wêreld nie.

Ons herken dit wel. As jy net 'n bietjie spaargeldjies op jou rekening sien groei, dan het die kerk dit nodig.

Maar so gaan dit waar liefde, diensbaarheid en geloof is.

So het die gemeente van Thiatire talle armes geken. Armes vir die oog van hierdie wêreld.

Maar hulle was konings in die oë van Christus! Waardig om saam met Hom te regeer oor die hele aarde.

En dit omdat hulle trou was in die diens; omdat hulle duidelik gekies het. Jy kan nie Christus en Mammon dien nie.

En die gemeente van Thiatire het uit oortuiging gekies.

Daar is een Heer wat reg het op ons aanbidding en verering, en dit is Jesus Christus.

2. Christus vermaan die gemeente vanweë hul swakheid.

Christus het ook kritiek op die gemeente van Thiatire. Let op hoe pragtig die lof en die kritiek saamgaan. 'n Mens is dikwels maar geneig om as hy kritiek op iets of iemand het, om net die kritiek te laat hoor. Of as iemand geprys kan word, om maar net die loftrompet te steek en die kritiek nie uit te spreek nie. Maar Christus hou die saak goek in balans. Hy prys hulle vanweë hul geloof en liefde en volharding, maar wat nie reg is noem Hy ook. In Thiatire word blykbaar ruimte gegee aan die propaganda van 'n vrou wat Isebel genoem word. En daaroor spreek Christus nou die gemeente aan. Sy beskou haarself as 'n profetes en tree ook as sodanig op. In die naam van Christus verkondig sy 'n leer wat die gemeente tenslotte van die regte pad sal afhelp. Sy noem haarself 'n profetes, dus ons kan maar aanvaar dat sy beweer dat die Heilige Gees vir haar die dinge sê wat sy leer.

Sy verlei die gemeente om te hoereer en afgodsoffers te eet. Daar is mense wat met haar owerspel bedrywe, staan in hierdie brief.

Ek vermoed dat ons die hoereer en die owerspel bedryf, in die eerste plek figuurlik moet opvat. Dit lyk vir my, naamlik baie onwaarskynlik dat die gemeente 'n vooraanstaande suster toelaat om die broeders in haar eie bed te lok. Daarvoor het Christus die gemeente teveel geprys, vanweë haar geloof en liefde.

Daar staan voorop dat Isebel toegelaat word om te leer. En haar leer bring tot 'n eerbetoon aan verskillende afgode. En dit word as hoerery gekwalifiseer, soos in die Ou Testament alle afwyking van die Here se diens dikwels hoerery genoem is. Dat by die erediens van die afgode ook heel letterlik dikwels hoerery een van die dryfkragte is, bly natuurlik waar.

Daarom is die naam Isebel in hierdie verband ook baie treffend. Isebel was die vrou van koning Agab wat in Israel die Baäldiens sterk gepropageer het. Baäl is die Kanaänitiese god van die landbou. In die diens rond Baal het seks 'n baie groot rol gespeel.

Isebel wou as vrou van die koning die hele volk Israel oorhaal om die landbougod Baäl te aanbid. Daardie god sou welvaart vir Israel waarborg. En dit is die mees treffende van haar naam.

Die Ou Testamentiese Isebel het met die hulp van die landbougod Baal, welvaart vir Israel probeer soek.

Wel, die Isebel van Thiatire maak net so.

Daar is in die gemeente 'n sterk saamstaan in die oortuiging: Ons moet uitsluitlik op die Here vertrou. Ons moet nie aan afgode eer bewys nie, ook al gee dit probleme.

Maar Isebel leer anders: Ek is 'n profetes. Die Heilige Gees sê vir julle: Maak nie so 'n probleem van die eerbetoon aan die beskermgode van die verskillende beroepe nie. 'n Christen staan daar mos bo. Hy kan met sy liggaam wel buig voor 'n afgod, want die Satan is mos 'n oorwonne vyand. Hy kan jou nie meer bedreig nie.

Ja, dit is eerder nuttig om intensief met die diens aan die gode besig te wees. Dan leer jy die diepte van die Satan ken, en dan ontdek jy wel dat hy 'n magtelose vyand is. Hy is mos klaar oorwin deur Christus. Dus daardie eerbetoon beteken feitlik niks meer nie.

As Christen staan jy daar bo.

Voel u broeders en susters, die krag van so 'n verleiding? Dit klink mos redelik aanvaarbaar. En Psalm 2 sê tog dat Christus bo die magte op die aarde staan. Psalm 2 sê tog ook dat Sy onderdane met Hom sal deel in die oorwinning op die heidene. Wel, dan kan die afgodsdiens tog nie meer so bedreigend wees nie?

Gelukkig kry Isebel met haar argumente die gemeente nie agter haar nie. Maar 'n deel is tog wel beïndruk met haar woorde en hulle soek toenadering tot die beroepsgildes, met alles wat daarby hoort. En dit werk. Dit lewer geld op en die welvaart begin terugkeer. Die grootste deel van die gemeente voel dat dit so nie kan en mag nie. Maar hulle durf ook nie op te tree teen Isebel nie.

En daarmee raak almal mee verantwoordelik vir haar hoerery, en die feit dat sy mense daarin saamsleep.

Maar dan gaan Christus op tree.

Isebel het nou tyd van bekering gehad, nou gaan Hy 'n daad stel. Kyk, ek werp haar neer op 'n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf in 'n groot verdrukking. Wat presies met hulle sal gebeur, daarna kan ons alleen maar raai, maar duidelik is, dat dit vir almal sigbaar sal wees. Daarom sê Hy: Kyk, let op, julle sal sien.

Isebel en haar volgelinge het 'n manier gevind om aan verdrukking omwille van die Naam van Christus te ontkom, maar nou bring Christus self 'n groot verdrukking oor hulle, as waarskuwing vir heel die gemeente. Op daardie manier dwing Hy heel die gemeente terug na die gebed. Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose. Want solank die Satan nog nie definitief uitgeskakel is nie, bly die kinders van God in die gevaargebied. Die versoekings is groot, maar met die versoeking beloof Christus ook volharding te gee, mits maar steeds uit gebed geleef word.

3. Christus bemoedig Sy gemeente vir die toekoms.

Die gemeente van Thiatire het swaargekry. Na die oordeel van Jesus Christus, swaar genoeg.

Hy sal op hulle geen ander las lê nie.

Hulle moet maar net vashou wat hulle het. Hulle is ryk in Christus, ook al gee dit vir hulle baie probleme in die wêreld waarin hulle lewe. Want nogmaals gemeente, laat ons nie gering daarvan dink, wat dit beteken vir 'n kerk, vir gelowiges om in so 'n wêreld jou plek te vind nie. Dat jy elke keer weer voor die vraag kom, waaraan kan ek saamdoen en waarvan moet ek om Christus wil afstand hou?

In 'n wêreld wat deurdrenk is van heidendom, in 'n suiwer heidense kultuur, is dit 'n verskriklik sware las. En dan is dit werklik nie eenvoudig om steeds die regte ding te doen nie. Daarby het jy dan mekaar as gelowiges bitter hard nodig.

Vir Thiatire sê Christus: Hou net vol. Ek lê geen ander las op julle nie. Dis 'n belofte vir onmiddellik.

Christus het ook 'n belofte op termyn. Vir later.

Wie oorwin en tot die einde toe in My werke bly, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met 'n ysterstaf.

Hier kom die belofte terug van Psalm 2. Die Seun van God is oorwinnaar. En Hy regeer die volke, en wie met Christus is, sal met Christus regeer.

Maar hierdie mag is nie 'n mag waarna jy kan gryp nie. Die mag ontvang jy alleen in die weg van gehoorsaamheid. In die weg van roepingsvervulling. En dit is die weg wat Thiatire moet gaan. Isebel wou magtig wees in hierdie wêreld. En sy het ver gekom. Maar haar mag is net skyn.

Wie die loon van Christus wil ontvang, sal daarom die weg van Christus moet gaan. Christus self wys nadruklik daarop, deur te sê: Die weg, soos Ek van My Vader ontvang het.

Onthou u die versoeking in die woestyn? Toe kon Christus mag ontvang, sommer dadelik, uit die hande van Satan. Mag oor al die nasies. Maar Christus het Hom nie van Sy pad af laat lei nie. Hy het bewus die pad van die kruis gekies. 'n Pad van gehoorsaamheid. So het Hy nee gesê in sware versoekings van Satan.

En daarom kan Hy met die volste reg vir ons sê: Hou vas wat julle het. Hou vol terwille van My Naam.

Ook al word die pad swaar, en lyk die toekoms duister.

Maar Ek gee vir julle die môrester.

Die duisternis van die nag is nog daar, maar as die môrester sigbaar word, kom die nuwe dag.

En almal wat aan Christus en Sy Naam vasgehou het, mag deel in die vreugde van die nuwe dag.

Wie 'n oor het, laat hom hoor.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)