Christus se boodskap vir Sy gemeente in Pergamus

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 2
Preek Inhoud: 

Ps. 100: 1, 2, 3
Ps. 100: 4
Ps. 144: 1, 2, 4, 6
SB. 40: 1 - 4
SB. 40: 5 - 7
Lees: Jak. 5: 13 - 20
Teks: Openb. 2: 12 - 17

Geliefde gemeente.

Dit sê Hy wat die skerp tweesnydende swaard het. Met hierdie bekendstelling van die afsender begin die brief aan die gemeente van Pergamus. Die beeld van die skerp tweesnydende swaard, is ontleen aan die openingsvisioen van die boek Openbaring. Johannes sien 'n menslike gestalte met 'n tong soos 'n tweesnydende skerp swaard. Dit gaan hier dus oor die krag van die woord. Die spreke van die figuur uit die visioen is skerp soos 'n swaard. En wel spesiaal soos 'n tweesnydende swaard. Gewoonlik is 'n swaard net soos 'n mes aan een kant skerp, en aan die ander kant stomp. Die skerp kant, daarmee sny of slaan jy van jou af. Dat daar ook 'n stomp kant is, beveilig die hanteerder van die swaard. Want dit is nie die bedoeling dat jy jouself aan die skerpte van die swaard verwond nie. Maar by 'n tweesnydende swaard is dit anders. Dat hy na twee kante sny, maak dit ekstra gevaarlik, ook vir die hanteerder self. So wil ons die beeld verstaan van Christus, wie se tong soos 'n skerp tweesnydende swaard is. Hy sny nie net na buite nie, in 'n skerp veroordeling van sy vyande, maar die skerpte van die swaard kan ook gehanteer word in sy eie vlees, in die gemeente.

Die Woord van God is 'n wapen in die hand van Christus en Sy gemeente. Maar nie alleen 'n wapen na buite toe nie, maar die Woord sny ook in eie vlees. Die Woord kan haarskerp aanwys waar die swakhede is, en waar die mes moet sny, terwille van die redding van die gemeente.

Ons verkondig u vanoggend:

CHRISTUS SE BOODSKAP VIR SY GEMEENTE IN PERGAMUS.

Ons sien:

  1. Waarin Hy hulle prys.
  2. Waarvoor Hy hulle waarsku.
  3. Wat Hy vir hulle belowe.

1. Ek ken jou werke en die plek waar jy woon, waar die troon van Satan is. Uit die woorde blyk hoe pastoraal Christus by die gemeente betrokke is. Hy weet van hulle. Hy weet hoe hulle leef en waar hulle bly. Juis die plek waar die gemeente woon en werk, sê baie oor die moontlikhede en spesifieke moeilikhede van so 'n gemeente. Die posisie van 'n gemeente op 'n plek waar die meeste mense op een of ander manier deur die Christendom beïnvloed is, is totaal anders as 'n gemeente wat moet leef in 'n situasie van felle a-christelikheid of agressiewe heidendom byvoorbeeld.

Christus weet van die stad, waar die gemeente van Pergamus bly.

Om die brief aan hierdie gemeente goed te begryp moet ons ook iets van die stad Pergamus weet. Pergamus is die mees noordelike stad van die sewe gemeentes. Pergamus was nie soseer 'n handelsentrum nie, maar eerder 'n administratiewe sentrum. Die Romeinse stadhouder van Klein-Asië het sy residensie in Pergamus gehad. Pergamus was verder 'n sentrum van wetenskap en kultuur. Dit was in daardie stad dat die beroemde papier van daardie tyd uitgevind is. Perkament uit Pergamus. Pergamus was dus in talle opsigte 'n pragtige stad.

En tog beskryf Christus die stad as die plek waar die troon van die Satan is.

'n Mens vra hom af wat van die skerp beoordeling die rede is. Die troon van die Satan, is die plek waar hyself woon, waar sy invloed die sterkste is. Hy vra daar van almal eerbied betoon. En wee hom wat die eerbiedsbetoon weier. Dit sal sy dood beteken. Dit is trouens presies wat in Pergamus gebeur het.

Een van die lidmate van die gemeente, 'n sekere Antipas, is vanweë sy getuienis van Jesus Christus ter dood gebring. In vers 13 van die brief word die dood van Antipas, direk met die woonplek van die Satan verbind. Dus weereens kom die vraag: Hoe openbaar die Satan hom in Pergamus? Van watter middel maak Satan gebruik, om die mense van Pergamus hom te laat dien, en die Christene met die dood te bedreig? Wel, daar is nog iets wat die stad Pergamus in sy tyd beroemd gemaak het. Daardie stad was die sentrum van die sogenaamde Asklepios-diens. Asklepios is die god van die geneeskuns. Miskien het u ooit 'n eskulaap gesien. Dit is tot vandag toe die simbool van die geneeskunde. Dit is 'n regopstaande stok, met 'n slang wat daaromheen krul. Wel dit is die ou simbool van die god Asklepios. Wie siek was, kon vir 'n stewige bedrag 'n nag in die tempel van Asklepios slaap. In die nag ontvang jy volgens die verhaal, 'n droom waarin Asklepios jou kom sê watter middel jy teen jou siekte moet gebruik. Die tempeldienare het jou dan die volgende oggend die vereiste middele gegee. Die hele Asklepios-diens was 'n mengeling van heidense bygeloof en tegelyk ook beginnende mediese kennis. In elk geval het daardie Asklepios gegeld as die Helper uit alle nood. Aan Asklepios is in Pergamus die titel Soter = Heiland, toegeken. Sy magiese kragte wat deur sy priesters met baie hokus-pokus aan die man gebring is, is deur die stad Pergamus uit en uit bewonder en benut.

Wel, in daardie stad bly ook 'n gemeente van Jesus Christus. En ook 'n Christen kan siek word. En wat maak jy dan? Voor wie buig jy dan jou knieë? Dan maar voor Asklepios? Gesondheid is mos maar alles!

Of buig jy jou knieë voor Jesus Christus? Bring jy voor Hom al jou node, ook jou liggaamlike probleme...

Die gemeente van Pergamus het in die opsig 'n duidelike keus gemaak. Hulle het Jakobus 5 gelees.

"Is iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid, nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig".

Let op, die gebed van die ouderlinge en die salwing, gebeur in die Naam van die Here.

En dit is die saak waar dit in Pergamus omgaan.

Glo jy in die reddende krag van die Naam van Jesus Christus, of vertrou jy jou lewe toe aan die Naam van Asklepios.

In wie se Naam is daar redding?

En juis omdat die hele geneeskuns rond die tempel van Asklepios so deur en deur vermeng was met heidense en magiese praktyke, moes hier deur die gemeente duidelik gekies word. Christus of Asklepios. Want saamdoen aan die diens rond Asklepios, trek jou van Jesus Christus as enigste Redder af, en dan lag die Satan. Want tenslotte kom jy by hom uit.

In die opsig gee Christus vir die gemeente in Pergamus 'n kompliment: Julle hou vas aan My Naam en het die geloof in My nie verloën nie (Ons hoor hier amper Jakobus 5: genesing in die Naam van die Here).

Maar daardie vashoudendheid aan die Naam van Christus as Enigste Naam, is in Pergamus nie sonder meer aanvaar nie. Antipas is gedood omwille van die Naam. Dit moet 'n geweldige skok beteken het vir die gemeente, en tegelyk die vraag opgeroep het: Maar is dit dan werklik nodig om so sterk die Asklepios-diens af te wys, dat dit jou dood kan beteken?

Maar die antwoord van die gemeente was: Ja, dit kan nie anders nie. Op die punt is beslis nie plek vir 'n kompromie nie. Elke vorm van deelname aan Asklepios-diens is verloëning van die enigste Naam waarin behoud is, die Naam van Jesus Christus.

2. Waarvoor Christus die gemeente waarsku.

Die Here Jesus het Sy gemeente in Pergamus dus geprys. En in die lofprysing gee Hy vir hulle 'n geweldige bemoediging om vol te hou. Dit gaan so met 'n lofprysing, dan hoef jy eintlik nie eens meer te sê: Hou vol! nie.

En tog, die gemeente is nie buite die gevaargebied nie.

Ek het enkele dinge teen jou. Mens sou selfs kon vertaal: Ek het 'n kleinigheid teen julle. Maar dan 'n kleinigheid tussen aanhalingstekens. Want in die skynbare kleinigheid skuil 'n groot gevaar.

As die Satan met groot geweld op die gemeente afstorm, staan hulle saam sterk in hul Nee. Dit het hulle reeds bewys. Vashou aan Christus Naam. Maar nou probeer Satan dit anders. Hy gebruik die kousevoete metode. 'n Geraffineerde taktiek.

In die verband val dan die Naam Bileam. U onthou Bileam wel. Die heidense profeet wat deur koning Balak gehuur is, om die volk Israel te vervloek. As hy dit probeer, werk dit nie. En daarom moet Bileam onverrigtersake by Balak terugkeer. "Jammer Balak, maar die God van hierdie volk is te sterk. Hy beskerm hulle, sodat geen mag op aarde hulle kan vernietig nie". Maar, dis nie die laaste woord van Bileam nie. Hy het nog 'n advies vir Balak. 'n Duiwelse advies.

"Nooi die Israeliete vir 'n fees. 'n Verbroederingsfees. Sorg dat daar genoeg vleis is om te eet, en drank om te drink. En begin dan 'n opwindende dansfees. En stuur dan jul dogters maar, om die seuns van Israel te verlei. En jul seuns om met die dogters van Israel te paar. Dan sal jy sien, daarteen het hulle geen verweer nie!"

En Bileam was reg. Teen daardie verleiding was Israel nie opgewasse nie. As Balak sy leërs sou stuur, sou hulle almal pal gestaan het. Maar nou val hulle amper almal vir die verleiding.

Wel, presies dieselfde gebeur in Pergamus. Blykbaar nog nie op groot skaal nie. Die gemeente as geheel het nog nie vir die leer van Bileam en die leer van die Nikolaïte geval nie, maar dit word blykbaar wel geduld.

Daar is mense in die gemeente wat die leer van die Nikolaïte aanhang. Kort gesê is die leer dit: Christus is die Redder van jou siel. Maar jou liggaam, dit is 'n heel ander saak. Raak dit siek, gaan daarmee na Asklepios ter genesing. En stel jy belang in seksuele omgang met die tempelprostitute, waarvan die heidense tempels vol was, ag, wat maak dit eintlik saak? Dit raak mos net jou liggaam. Wat het dit met Jesus Christus te doen?

Daar is miskien nog maar enkeles wat so praat...

Maar dan sê Christus: Dit mag in die gemeente nie toegelaat word nie! Bekeer julle, anders kom Ek met My tweesnydende skerp swaard, die swaard van my Mond. Dan sal die swaard hom keer teen die gemeente self. Soos eenmaal na die sonde waartoe Bileam die volk Israel gebring het, duisende Israeliete deur die swaard geval het. Toe was dit 'n egte swaard.

Nou is dit die swaard van die Mond. Maar die oordeel is net so skerp. En die gevolg ook. Jy verloor jou lewe met Jesus Christus.

Dit bied vir ons ook stof tot nadenke.

Ons situasie is weer heel anders as in Pergamus. Op die oomblik loop ons nie die gevaar om vanweë die getuienis van die Naam van Christus die dood te vind nie. Daarmee kan Satan vandag die gemeente nie bedreig nie.

En tog moet ons juis daarom op ons pasoppens wees dat ons nie deur allerhande kompromieë die Satan 'n kans in ons lewe gee nie. Sê ons ooit nog 'nee' vir 'n film of 'n boek vanweë die Naam van Jesus Christus?

Is daar werklik 'n eenheid in ons lewe, wat ons belydenis van Christus as die Enigste Redder betref, en ons verdere lewenshouding? Doen ons moeite om van ons huwelik 'n Christelike huwelik te maak? en van ons opvoeding 'n Christelike opvoeding?

En met betrekking tot die politiek: soek ons na 'n Christelike antwoord? Of sluit ons maar kompromie op kompromie vanweë die weerbarstige werklikheid?

Dit gaan hier om die eenheid van die Christelike lewe, broeders en susters, om die vraag of ons ook werklik in Jesus Christus alles het, wat vir ons liggaam en siel nodig is.

3. Wat Christus vir Sy gemeente belowe.

Tenslotte het Christus nog 'n belofte vir Sy gemeente te Pergamus. Aan hom wat oorwin sal Ek gee om te eet van die verborge manna.

Die woord manna bring ons opnuut die woestyntyd van die volk Israel in herinnering. God het Sy volk in die woestyn gelei: Daar bring Hy hulle in die isolement. Apart van ander volke.

En daarby het hulle geen moontlikheid om in eie lewensonderhoud te voorsien nie. En as hulle dit begin insien, en angstig begin raak, dan gee die Here vir hulle manna om te eet. Hemelbrood. Wonderbrood. Volkome onverwags. Niemand weet presies waar dit vandaan kom nie, maar dit is daar en hulle kan eet.

Wel so gee Christus ook vir Sy gemeente die verborge manna. Immers as hulle moet kies vir Christus, en nee sê vir die afgodsdiens van die stad, dan kan dit vir hulle op 'n boikot uitloop. Dan kan hulle daar nie meer werk nie. Hulle verloor inkomste. Hulle raak geïsoleer. Dit was mos juis die probleem in Pergamus. Dat sommige van hulle geneig was om dan maar 'n kompromie aan te gaan, om hul posisie in die stad nie te verloor nie.

En dan sê Christus: Hou vol. Bly trou aan My Naam, ook al kan jy daarmee alleen te staan kom. Ek sal vir julle sorg wat ook al gebeur. As julle om wille van My Naam sonder brood kom, sal Ek op ongedagte wyse voorsien. Ek beskik oor verborge manna.

Nog 'n laaste belofte gee Christus vir hulle: Wie oorwin, Ek sal hom gee 'n wit keursteen, en op die steen 'n nuwe naam geskrywe, wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang.

Oor die betekenis van die wit steen en die nuwe naam is baie meningsverskil onder alle verklaarders. Van die mees waarskynlike, noem ek net die vir my mees aanneemlikste. Die wit steen is dieselfde as 'n medalje met 'n inskripsie, wat 'n winnaar in 'n wedstryd kry. Hy het die oorwinning behaal, en niemand kan dit meer van hom afneem nie. Die nuwe naam is dan die naam van die ontvanger. Met sy nuwe naam begin 'n nuwe lewensfase. Soos in die Bybel dikwels 'n nuwe naam, 'n nuwe lewendoel of lewensopdrag inhou, so ook hier. Christus roep die oorwinnaar tot 'n nuwe diens. Tot diens in Sy nuwe Koninkryk wat kom. Hoe dit daar presies sal lyk, weet tans niemand nie. Maar Christus sal alles nuut maak. Ook die mense wat Hy in Sy nuwe Ryk plek sal gee. En met hierdie belofte steek Hy vir die gemeente nogmaals 'n hart onder die riem. Hou net vol.

Gee die sonde nie 'n kans nie.

Moenie 'n kompromie met die wêreld sluit nie.

Maar kies voluit vir Jesus Christus, want by niemand anders is enige saligheid te soeke of te vind nie.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)