'n Pastorale bemoediging vir die gemeente van Smirna

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 2
Preek Inhoud: 

Ps. 18: 1, 2
Ps. 18: 12, 13
Ps. 123
SB. 39
Ps. 146: 1, 3
Lees: Fil. 1
Teks: Openb. 2: 8 - 11

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Noudat ek my hierdie week met die brief aan die gemeente van Smirna besig gehou het, het dit vir my opnuut opgeval, watter sterk pastorale krag die sewe gemeente briewe besit. Die krag sien ons in die eerste plek in die wyse waarop die Afsender Homself presenteer. Hy doen dit steeds in woorde en beelde wat ontleen is aan die indrukwekkende openingsvisioen van die boek. In die geval van vanoggend se brief: Dit sê: die Eerste en die Laaste, wat dood was en lewend geword het. Daarmee herinner Jesus nadruklik aan Sy eie lyde en Sy oorwinning daarin. In die brief aan Smirna praat Hy nie oor iets wat Hyself nie meegemaak het nie, maar Hy praat as iemand wat presies kan voel wat hulle ondergaan, as vanweë hul geloofsoortuiging, heel hul lewe in gevaar kom.

Vir die gemeente is dit verder ook 'n geweldige bemoediging dat die Here weet van hul probleme. Daar is niks so frustrerend en moedeloos makend as dat jy in die moeilikheid is, en jou beste vriende weet niks daarvan nie. Dan kan 'n mens bitter eensaam voel in sy lyde, en tenslotte verbitter raak, omdat 'n ander nie kan besef wat jy moet deurmaak nie.

Maar die Here Jesus weet alles: Hy weet presies wat in Smirna aangaan, en hoe hulle daar voel: Ek ken jou werke, Ek weet van jou verdrukking, Ek besef julle armoede. Maar juis in die verdrukking en armoede het Ek vir julle 'n boodskap.

'N PASTORALE BEMOEDIGING VIR DIE GEMEENTE VAN SMIRNA.

  1. Die situasie van die gemeente.
  2. Die beproewing van die gemeente.
  3. Die uitkoms vir die gemeente.

1. Ek ken jou werke en verdrukking en armoede. Die Goeie Herder weet alles van die situasie in Smirna. En dit gee aan die brief sy pastorale krag. Maar as ons die brief wil verstaan, moet ons ook iets van die gemeente weet. Daarom sal ek daarvan nou iets vertel. Eers van die stad Smirna. In 'n hele paar opsigte lyk Smirna op Efese. Ook Smirna is 'n hawestad aan die weskus van Klein-Asië. Ook Smirna is 'n lewendige handelsentrum.

Smirna het 'n goeie relasie met die stad Rome onderhou. Reeds in die jaar 195 voor Christus, staan daar in Smirna 'n tempel wat gewy is aan die godin Rome. In die tyd het hulle dus die stad Rome as iets goddeliks beskou. U sal verstaan dat die oorgang na 'n verering van die keiser van Rome, dan nie so 'n groot stap is nie. Dus ewe-as Efese ken ook Smirna 'n lewendige keiserkultus. Tenslotte dank die stad sy welvaart aan die vrede wat die Romeinse keiser waarborg, en daarvoor wil 'n koopman wel iets doen natuurlik.

Nou het Smirna nog iets wat haar tot 'n besondere stad maak. Smirna het as stad, veral na die verwoesting van Jerusalem (70 na Christus) die toevlugsoord van baie Jode geword. Omdat hulle al spoedig na hul koms 'n groot bydrae aan die handelsukses van Smirna gelewer het, is aan hulle 'n hele klomp toegewings gemaak in verband met hul godsdiens. Hulle kry 'n aparte wyk om in te woon. Hulle is vrygestel van militêre diensplig. Hulle mag hul geloof uitleef in hul eie sinagoges ens.

Die Jode van hul kant, het ook sekere toegewings moet maak met betrekking tot die keiserverering. In hul vaste gebedsliturgie is 'n uitvoerige bede opgeneem vir die heil van die keiser en die stad Rome.

En so het daar 'n redelik goeie verstandhouding tot stand gekom, tussen die Joodse sinagoge, en die Romeinse outoriteite.

Wel, in hierdie stad, in hierdie situasie, leef 'n gemeente van Jesus Christus. 'n Gemeente wat alleen Christus bely as die Eerste en die laaste;as die Enigste wat reg het op verering en aanbidding. En dis juis hierdie belydenis, wat dit vir die gemeente van Smirna swaar gemaak het. As die Here Jesus sê: Ek ken jou werke, dan moet ons daaraan dink dat hulle opgekom het vir die Naam van Jesus Christus, as die Enigste Naam waarin behoud is. Hulle het konsekwent geweier die eer aan die keiser te bring, wat hulle net aan Jesus Christus mag bring.

En juis dit het vir hulle in die probleme gebring.

Verdrukking en armoede - noem die Here Jesus hier.

Smirna was 'n ryk stad. Daar was baie woonbuurte, waar mens goed kon sien dat daar baie geld beskikbaar was. En die Jode wat as emigrante en vlugtelinge in Smirna aangekom het, het in 'n kort tydjie kans gesien om hulleself in spogbuurte te vestig. Maar die gemeente van die Here Jesus het arm gebly. Vir hulle was daar geen geleenthede om aan die rykdom deel te hê nie. En die woord verdrukking, maak duidelik dat hulle opsetlik daarin verhinder is. Dit is vir hulle onmoontlik gemaak om ekonomies vorentoe te beweeg.

En dit het die lewe van die gemeente geraak. Immers as hulle almal swaarkry, as almal ekonomies aan die afgrond lewe, watter aantrekkingskrag het so 'n gemeente vir ander mense? Juis hul opsigtelike armoede, rem die groei van die gemeente. Want wie wil daar nou aansluit? Juis in 'n stad waar almal deel het aan die rykdomme van 'n handelsentrum. Nee, opsigtelike armoede is 'n swaar kruis. Vir die gemeente as geheel, omdat dit die sendingmoontlikhede so frustreer, maar ook vir die gesinne is dit bitter moeilik. Probeer vir jou kinders maar 'n keer te vertel, as al hul vriende geld het vir enigiets, dat ons ryk is in Jesus Christus! Dit sal vir jou nie maklik wees nie!

En tog is dit juis wat die Here Jesus vir hulle sê: Ek weet van jou verdrukking en armoede - maar jy is ryk.

Dis hulle wat 'n skat in die Hemel het. 'n Skat groter as al die welvaart van Smirna bymekaar. Waar Jesus Christus in 'n mens se lewe kom, daar kan die lewe ontplooi. Daar word die lewe inderdaad ryk. En tog, reken maar dat dit in die praktyk bitter moeilik i!.

Iemand wat Jesus Christus as Verlosser leer ken het, soek uiteraard ook lewensblydskap. Dat hy bly kan wees met wat hy het, en daarvoor is tog 'n minimum voorsiening vir 'n mens onmisbaar. Dus laat ons nie te maklik daaroor dink nie, in elk geval nie van 'n ander nie. Laat ons maar besef, dit is 'n geweldige uitdaging vir die geloof, om jou ryk te weet in Jesus Christus, terwyl jou omstandighede armoedig is. Maar as Christus Self vir ons sê: Ek weet jy ly armoede, maar jy is ryk, probeer dan in die krag van die Heilige Gees om daaraan vas te hou.

Die gemeente het nog 'n ander probleem. Daar word om hulle gelaster. Daar word roddelpraatjies oor hulle gesaai in Smirna, waardeur dit alles nog moeiliker word, want mense is maar al te geneig om skinderpraatjies te glo.

Wat is eintlik die bron van die lasterpraat?

Vers 9 meld: dis hulle wat sê dat hulle Jode is, maar hulle is dit nie, hulle is 'n sinagoge van Satan.

Hier hoor ons 'n vlymskerpe kritiek op die Jode van Smirna. Hulle bid tot die Here as die enigste God, maar in feite het hulle 'n kompromie gesluit met die verering van die Romeinse keiser. Terwille van hul welvaart het hulle feitlik hul Jood-wees verloën en 'n liberale godsdiensopvatting voorgestaan. Want die Romeine moet te vriend gehou word.

Maar hulle wat na die een kant so ruim en tolerant is, naamlik in die rigting van die Romeine, is na die Christene toe uiters onverdraagsaam. Dit is kenmerkend vir die Jode van Smirna. Die eerste Christelike geskiedskrywer Eusebius maak in sy boeke melding van die felheid waarmee die Joodse gemeenskap van Smirna hulle teen die Christelike gemeente gekeer het. Vermoedelik het die Jode van Smirna die Romeine daarop gewys dat die Christene nie 'n Joodse groep is soos die Romeine meestal maar aanvaar het nie, maar dat hulle heeltemal los staan van die Jode, en daarom ook nie reg het op die spesiale Joodse voorregte nie. Miskien het hulle ook nog wel gesuggereer dat die leer en die lewenswyse van die Christene 'n gevaar vir die staat is, omdat die Christene elke vorm van verering van die keiser tot nou toe geweier het.

Wel, om die rede val die skerp oordeel. Hulle is nie meer sinagoge vir die Here nie. Hulle het geword tot 'n sinagoge van Satan. Hulle stel hulself in diens van die teëstander van God, deur te laster van die gemeente van Christus.

En so kry die gemeente van Smirna van alle kante swaar. Verdrukking, armoede, lastering. Erger kan dit eintlik nie vir 'n gemeente van Christus nie. En daarom raak ons nuuskierig wat die Here Jesus in so 'n situasie vir hulle sal sê.

2. Die beproewing van die gemeente.

Vrees vir niks wat julle sal ly nie! Ek moet sê dit klink in die eerste instansie nogal teleurstellend. Dit kan iemand maklik sê: Moenie vrees nie. Maar daar is juis alle rede om wel te vrees! Die lyde sal selfs erger word, staan daar.

Immers, die duiwel gaan sommige van hulle in die gevangenis werp. Nou is hulle brood al afgeneem, wat tot armoede gelei het. Verdrukking het hulle ondervind van die kant van die Romeine. Hul goeie naam is weg vanweë die lastering deur die Jode. Moet hulle nou ook nog hul laaste lewensgoed, hul vryheid en dalk hul lewe offer? En dit onder 'n God wat die Eerste en die Laaste is? 10 dae lank sal mense in 'n gevangenis sit. Die getal 10 is hier simbolies vir 'n tyd lank. Nie sommer 'n paar dae nie, maar ook nie oneindig lank nie.

Gemeente, ek dink nie ons sou graag so 'n tipe brief van Christus hier in Kaapstad wil ontvang nie.

Hoe kan 'n gemeente soiets hanteer?

Dit kan mos geen mens opbring nie. As jy al die gevoel het dat jy arm is, en verdruk word en belaster word, hoe kan jy dan nog 'n boodskap verdra soos: Moenie vrees vir al die lyde wat sal kom nie!

Dit kan niemand. Daarvoor is niemand se geloof groot genoeg nie.

So 'n boodskap daaroor kan jy net skouers optrek: Moenie vrees nie... Nee! En tog. Laat ons eers oplet wie dit sê: Dis nie sommer 'n medemens of 'n medebroeder nie. Dit sê Christus self. Die Christus wat self die pad van Sy lyde enduit geloop het.

Hy weet waarvan Hy praat. Hy weet wat lyde in 'n mens se lewe kan teweegbring. Maar Hy weet nog iets anders van lyde ook.

En dit is dat lyde 'n beproewing kan wees.

Agter die lyde wat oor die gemeente van Smirna sal kom, staan die duiwel, die Satan wat in hierdie brief so nadruklik genoem word.

En daarmee kom die lyde wat oor die gemeente gaan kom, meteen in 'n ander lig te staan. Dit is nie lyde van mense wat ander mense hulle aandoen nie. Nee, dit wat die gemeente van Smirna sal ondergaan, is 'n stryd wat ver bo mensekragte uitgaan. Teenoor die geweld wat Satan oefen, staan die krag van Jesus Christus.

En in daardie verhouding ondervind Smirna lyde.

En daarom vind hulle daarin tewens hul troos.

Trouens dit is nie hulle krag wat in die beproewing moet blyk nie. Maar dit is die krag van Jesus Christus.

Want dit is die eintlike wat by 'n beproewing in die weegskaal kom. Nie die mense nie, nie die geloofskrag van mense nie, maar die werk van Jesus Christus in die mense.

Dit is die krag van die Heilige Gees wat getoets word. Kan Hy in 'n situasie van beproewing, mense vashou, ja of nee.

Is die boodskap van verlossing deur Christus opgewasse teen die realiteit van 'n verdrukking om Christus wil. Ja of nee.

Agteraf kan ons sê: die antwoord is Ja. Immers Johannes moet hierdie brief stuur in die jaar 90. En ongeveer 60 jaar later sterf die biskop van Smirna die marteldood. Ek dink die kinders van die laerskool, onthou nog wel sy naam: Polycarpus. Die feit dat Polycarpus vir tientalle jare die herder van die gemeente van Smirna was, bewys dat die gemeente onder die swaar verdrukking volhard het. Nie op eie kragte nie, maar met die krag van Jesus Christus.

En daarom kan ons die vraag wat sommer by ons opkom, as ons dit alles oordink, naamlik hierdie vraag: Sê nou dat dit met ons sou gebeur, hoe sou ons reageer? nie beantwoord nie. Of eerder moet ons sê: die vraag is nie reg nie

Christus gee mos krag na kruis. Dit beteken: as Hy die lewe swaar maak, dan gee Hy die nodige kragte.

Net so goed soos 'n mens nie van die een op die ander dag klaar is om te sterwe nie, net so min is ons vanuit 'n situasie sonder armoede, sonder verdrukking, sonder lastering in een keer in staat om die lyde te verdra, en vol te hou.

En daarom hoef ons nie te vrees voor die tyd nie. As Christus lyde en vervolging in ons lewe bring, wel, dan is Hy daarby. Met Sy krag, met Sy beloftes.

Want dis tenslotte Sy gemeente en Sy werk waarom dit alles gaan.

3. Die uitkoms vir die gemeente.

10 dae lank sal die gemeente verdrukking ondervind. Soos ons eerder genoem het, is 10 dae 'n beperkte tyd. Christus gee Sy gemeente nie sommer oor aan die mag van Satan om te kyk wat gebeur nie. Nee, Hy hou dit alles Self volkome in die hand. Hy laat die lyde nie langer duur as nodig is om Sy krag te laat blyk nie.

En daarom sê Hy: Wees getrou tot die dood, en Ek sal jou die kroon van die Lewe gee.

Dit kan inderdaad sover kom, dat iemand sy lewe moet gee terwille van die Naam van Jesus Christus. Dan word inderdaad die hoogste offer gevra.

Maar selfs dan is Jesus Christus die oorwinnaar: Wie Sy lewe wil verloor om My ontwil, hy sal dit behou.

So iemand ontvang van Christus die kroon van die Lewe. Die oorwinnaarskroon. Aan so iemand word toegesê: Hy sal deur die tweede dood geen skade ly nie. In ons teks is dus sprake van 'n eerste en 'n tweede dood. Ek wil tenslotte nog iets daarvan sê. Met die eerste dood bedoel die Here Jesus die einde van die aardse lewe, soos ons dit ken, en waaraan elke mens onderworpe is. Maar die tweede dood is die definitiewe dood, die definitiewe uitsluiting uit die Lewe. Iemand wat die tweede dood ingaan, sal daaruit nooit kan terugkeer nie.

Met hierdie spreke oor 'n eerste en tweede dood deurbreek die Here Jesus 'n menslike dilemma. Die grootste en gewigtigste teëstelling is vir ons mense van vlees en bloed die kwessie, dood of lewe. Die lewe is vir ons alles, en by die dood ontval ons dit alles. Die eerste dood.

Maar die Here Jesus bring ons denke op 'n ander plan. Die eintlike dilemma is nie dood - lewe, soos ons dit ervaar nie (aardse lewe - eerste dood), maar die dilemma waaroor alles gaan is 'n Ewige Lewe of ewige dood (tweede dood). Daarin moet 'n mens kies. En vanuit daardie keuse is die saak van eerste lewe of eerste dood, 'n betreklike een.

Die eerste dood is 'n dood waaroor Christus klaar die oorwinning behaal het.

En daarom laat jou lei deur die eintlike keuse. Ewige Lewe of ewige dood. Nogmaals is dit uiters moeilik om so te lewe. Dit vra elke dag weer baie gebed en geloofsoorgawe.

Dit vra van jou dat jy van jongsaf aan en elke dag opnuut, Jesus Christus in die middelpunt van jou lewe stel. As jy dit doen dan word Jesus Christus jou lewe. En dan kan jy tenslotte met Paulus sê: Die lewe is my Christus... en dus sterwe wins.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)