'n Vreemdeling wat met Vader wandel, sal skitter in die wereld

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Petrus 2
Preek Inhoud: 

16-06-91

1 PETRUS 2 : 11-12

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 118 : 1, 2
Wetslesing
Sing: Ps. 118 : 11, 14
Skriflesing: Handelinge 4:1-12, 1 Petrus 2:1-10
Gebed
Kollekte
Sing: SB. 16 : 1, 3, 4
Prediking
Sing: Ps. 119 : 7, 17
Dankgebed
Sing: SB. 16 : 5, 6
Seën

Gemeente van ons Here,

hoe is dit moontlik: 'n vreemdeling te wees en te moet bly, terwyl die kerk juis soek hoe om die wêreld, hoe om die mense in Suid-Afrika te bereik? Hoe moet dit: christen wees en geniet van die lewe wat God vir jou gee, terwyl jy anders, heilig moet wees? Hoe lyk die pad van u as christene in hierdie wêreld, hoe lyk die pad van ons saam as gemeente in die stad en in die land: dit is almal vrae wat in ons gedagtes opkom, as ons op so baie plekke die woord "vreemdelingskap" in die Heilige Skrif hoor.

Ons het hierdie reeks oor ons vreemdeling-wees begin by die 1ste brief van die apostel Petrus. Jy het as christen-vreemdeling waarde vir die wêreld, was die betekenis! In die brief aan die Hebreërs het ons vervolgens gesien hoe die vaders hulle hele lewe lank op pad was en in die geloof volhard het, sonder om ooit werklik die beloofde land te kry. Tuis wees, het hulle geleer, mag jy by alles wat van God, uit daardie vaderland kom. Daarna het die laaste hoofstuk van die brief ons almal opgeroep om die Here Jesus te volg, omdat dit selfs in die woestyn vir God se volk veilig is.

Petrus het al gesê: as julle dit waag om God as Vader aan te roep, wandel dan in godvresendheid gedurende die tyd van julle vreemdelingskap (1:17). Nou sê die Woord van God vir u:

'N VREEMDELING WAT MET VADER WANDEL, SAL SKITTER IN DIE WERELD

Daar is

  1. tog 'n volk wat anders is,
  2. dit gaan teen verlangens wat verkeerd is,
  3. daar is trouens werke wat mooi is.

1. DAAR IS TOG 'N VOLK: WAT ANDERS IS

Alleen al die woord "vreemdeling" kan jou die gevoel gee: maar dis 'n klomp los mense, swerwers, plakkers. Vreemdelinge in 'n spesifieke land vorm hoogstens 'n minderheid. Seuns en dogters, hoe voel julle julself as die woord "vreemdelinge" op julle toegepas word? Voel jy ongemaklik, omdat dit lyk of daar bande wat jou aan die land, aan die mense verbind, deurgesny word? Jy word geroep om anders te wees. En 'n vreemdeling noem jy mos iemand met 'n snaakse identiteit. Ja, vreemdelinge is 'n minderheid wat saamgestel is uit baie groepies uit verskillende lande. Die woord "vreemdelinge" is 'n versamelnaam vir losse indiwidue: elkeen is van sy ou land, sy tuisland losgeraak. Maar Petrus het die woord toegepas op mense wat in hulle eie land, onder hulle eie mense tot christene bekeer is en wat dáárdeur anders geword het: vreemdelinge in eie land. Ons brief het Petrus geskryf "aan die vreemdelinge van die verstrooiing" in die hele Klein-Asië. Dit wat hulle sonder God was, is net: heidene. Wat hulle deur God se genade geword het, is christene. Daar was nie 'n beloofde land vir hulle nie. Hulle eie land het die "verstrooiing" geword. Maar dit is, omdat God 'n groot doel met sy mense het.

Dié groot doel het God Homself in Christus gestel: dat alle volke van die aarde die Evangelie sou hoor. Nou versamel Hy vir Homself inderdaad uit alle volke, nee, onder alle volke sy mense. Die mense word nou opnuut 'n volk. Ja, die volk is oor die hele wêreld versprei. En daar bly hulle woon, elkeen op sy plek. Maar hulle kry die naam om "volk van God" te wees. Dit is die versamelnaam vir Jesus se volgelinge! Ten opsigte van die wêreld weet jy: God gee my die naam "vreemdelinge en bywoners". Maar ten opsigte van God self mag ons "volk van God" heet. Dit weet jy dus as Petrus opnuut skryf: "Ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge". Maar kyk mooi wannéér hy so skryf!

In vers 9 het die apostel vol bewondering na God se werk in die Here Jesus Christus gekyk. Lees maar hoe Petrus vol verbasing na die mense wat in Hom glo, kyk: "Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige nasie, 'n volk wat vir God 'n eiendom is"! Maar dit is alles die ou name, die erename van die ou volk van God?! Israël was mos die een uitverkore geslag uit alle stamme van die aarde. Hulle is by die berg Sinaï mos die koninklike priesterdom genoem. Die Jode was die heilige nasie: die etniese eenheid wat in 'n spesiale land apart gesit is. Hulle mog die geliefde eiendomsvolk van God Almagtig wees. Die name beteken: Israël is na sy oorsprong 'n geslag genoem. Na sy roeping: 'n koninklike priesterdom. Na sy wese: 'n heilige nasie. En tenslotte na sy waarde: die eiendomsvolk van God. Die oorsprong en roeping, die wese en waarde van die ou volk word nou oorgedra op ... mense wat vreemdelinge in hul eie samelewing geword het. Dit word nou hulle erename. Onder die versamelnaam van vreemdelinge en bywoners skuil die een volk van God! Heidene en Jode oor die hele wêreld wat Jesus volg: God se volk!

Kyk ook mooi hoe dit gekom het. Ons het gesing in Psalm 118 en gelees in 1 Petrus 2:6 van God se plan: "Kyk, Ek lê in Sion 'n uitverkore en kosbare hoeksteen en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie". Die hoeksteen is die begin van die nuwe fondament wat God in die persoon van ons Here Jesus gelê het. Daardie hoeksteen kom op die plek van Jerusalem, van die ou tempel. Letterlik pleks van Jerusalem én op daardie plek! God het in Jesus 'n nuwe gebou begin bou. En, het vers 5 gesê, dié nuwe gebou is: "'n geestlike huis waarvan die christene die lewende stene" is. Die eerste steen is Christus, die andere stene is ... julle! Nou verstaan u hoekom die erename van God se ou volk op die nuwe volk toegepas word. Daar word 'n huis vir God gebou. Nie uit klip nie, maar uit mense. Die kerk is nie die gebou nie: dis die gelowiges wat saam 'n geestelike huis vorm. Mense wat vreemdelinge en bywoners genoeg moét word, heet teselfdertyd die een volk van God: 'n eenheid oor die hele aarde.

Dit is hoekom die verlange na die eenheid van God se volk, die eenheid van die kerk in ons siele gebrand moet staan, lank voordat ons oor kerklike struikelblokke moet praat. Dit is hoekom die eenheid van die kerk in die erenaam "volk van God" ons moet verwonder, lank voordat ons begin om oor die kultuurverskille te praat. Uit alle stamme en tale en nasies kom daar een volk! Dit is die huis wat God nou alreeds bouy Laat nooit die verwondering oor God se barmhartigheid oor jouself in die eerste plek ophou. "Julle aan wie vroër geen barmhartigheid bewys is, maar nou bewys is" (vs. 10). Dan sal u ook oor die bekering en geloof van die ander verwonderd wees. Die wonder van die almal verskillende mense wat saam as christene 'n volk vir God mag wees, is groot. Dit gee dan die basis waarop die apostel ons sit, as hy sê: "Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge". Dit is vreemdelinge wat aan Vader se hand deur die wêreld, elkeen in sy omgewing wil wandel. Dan begin die een volk vir Hom te skitter.

Maar Die Skrif het 'n aansporing vir ons hoe om bywoners en vreemdelinge te wees:

2. DIT GAAN TEEN VERLANGENS: WAT VERKEERD IS

Die inhoud van Petrus se aansporing is: "ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel" (vs. 11b). Daar is dus 'n stryd besig om gevoer te word. Die stryd gaan teen jou siel. Jou siel: die plek-in-jou waar die Heilige Gees begin om jou lewe te oorwin. In die stryd is die duiwel aktief. Maar dit beteken nie dat jy passief is nie. Nee, jy kan wat doen, as jy dit in die krag van die Gees doen. En jy moet wat doen, want die stryd gaan teen jou: om jou te verlei om God se hand los te laat. Hou die hand vas. Dit maak jy so: "onthou jou van vleeslike begeertes". Sê dit in gewone Afrikaans: los dit!

Vleeslik is nie dieselfde as menslik. Menslik is alles wat God goed en mooi aan die mens geskep het. Vleeslik is wat die sonde in ons bederf het. Die duiwel werk so dat hy die dinge in jou aanvat wat siek plekke in jou hart is. Siek plekke in jou hart: is dit nie 'n bietjie swaar om te sê nie?? Nee, want die "begeertes" is die verlangens wat diep in jou gewortel is. Nie al verlangens is verkeerd nie. Nee, net die wat op 'n verkeerde doel gerig is. Die "vleeslike begeertes" is 'n deel van jouself. Dit lê daar moontlik al deur jou karakter: wat deur die erfsonde van jou ouers bevlek is. Die siek plekke in jou siel kan ook deur die samelewing beïnvloed word. Of, duideliker, deur die duiwel in jou omgewing: hy wakker jou verlangens aan en rig die op 'n verkeerde doel. Sodat daar 'n stryd teen jou siel ontstaan. Jou "siel" is mos die innerlik waarin die Gees van God begin werk het. Wees jy maar bly, as daar 'n stryd in jou ontstaan. Want die duiwel stry teen jou: om jou van Christus se kant, van Vader se hand weg te kry. Wees maar gelukkig, as die Heilige Gees in jou siel Homself teen die bose verset: dan begin die stryd in jou siel.

Aan watter verlangens wat verkeerd is, moet jy dink? Dink aan die geld. Vir watter doel wens jy dit? Om so lekker moontlik te lewe, om baie dinge saam te kan doen ... of om die Here God in alles te wil dien. Sosiale kontakte: waarom wens jy die? Om net betrokke te wees by die aktiwiteite van die jeug ... of omdat jy die geloof by ander mense wil ontmoet? Seksualiteit, intimiteit en warmte: wanneer is dit 'n geskenk van God? As jy dit in die eerste plek by die ander soek ... of as jy die ander soos hy of sy heeltemal is, as 'n gawe van God eers gerespekteer het. Daar is baie verlange na intimiteit, en dit is basies mooi. God het dit uitgedink en vir jou geskep. Daar is groot waarde in sosiale kontakte: God het dit tussen mense moontlik gemaak. My geloof mag ek by ander mense ontmoet. Ook die geld is 'n mooi middel: om die werk van God se koninkryk ook daarmee te dien. Die verlangens kan mooi wees. Maar die duiwel kan dit in ons hart omdraai en op 'n verkeerde doel rig. Dalk is jy self die verkeerde doel: as jy die dinge vir jouself soek.

Onthou jou van die verlangens wat stry teen jou siel. Pas op dat dit nie nou alreeds stryd voer teen jou siel nie. En dus in hande van die duiwel is. Dat jou hart al in hande van die duiwel is, al is jou verstand ook nog altyd vol kennis van die Woord. Ook al is jy nog steeds lidmaat van die kerk. Want as jy nie teen jouself kan stry nie, sal jy nooit skitter in die wêreld: as 'n bywoner of 'n vreemdeling wat altyd soek hoe om dichter by sy Vader en dié vaderland te lewe. Ja, jy moet iets met jou persoon iets wys in en vir die wêreld.

Daarom vervolg Petrus positief: "en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon" (vs. 12a). Die lewenswandel is die sigbare van jou siel! Jou siel is mos die deel waar die Gees begin woon. Die geloof moet uit jou hart uitstraal in jou lewe wat almal daagliks kan sien. Dit moet "skoon" wees" en nie bevuil deur allerhande teenstrydighede. Jou dade mag die geloof nooit verloën nie. Begin maar by mekaar as, byvoorbeeld, die jeug van die kerk. Hoe maklik en hoe dikwels gebeur dit dat julle teenoor mekaar feitelik die geloof verloën? Dit gebeur al, as jy dit eintlik nie waag om jou geloof te wys nie. Dit word erger, as julle 'n ander vergeet of verstoot: 'n ander wat dalk in sy siel 'n stryd voer. Positief: hou julle lewenswandel skoon! Ontdek wie jy self is en wat jy wêrd is. Teselfdertyd leer stry teen wat verkeerd in jou is. Dit is moeilik, maar die moeite wêrd. Jy word meer wêrd, hoe meer jy dit waag om te stry!

Seuns en dogters, julle ontmoet baie mense wat nie lidmaat van die VGK is nie. Maar praat asseblief nooit asof dit 'n etiket is nie. Wys maar eenvoudig dat die geloof 'n wonderlike ding vir jou is. Noem Christus se naam maar! Dalk kan jy iemand help. Want die Here wil ook jou gebruik. As jy vir iets "nee" sê waartoe 'n ander jou nooi, voeg dan ook 'n "ja" by. Probeer om saam te formuleer hoe om positief in allerhande situasies te reageer. Julle is die toekoms van die gemeente! Soek dan ook saam die pad hoe om dit te waag om vreemdelinge te wees en teselfdertyd die volk van die Here te verteenwoordig!

3. SODAT ONS IS VOL WERKE: WAT MOOI IS

Op basis van die stryd teen wat in jou verkeerd is en deur jou pogings om jou lewenswandel skoon te hou, kom daar nou ook sigbaar iets wat mooi is, iets wat gewys mag word. "Hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou God mag verheerlik". Die vertaling "goeie" werke klink 'n bietjie rooms. Vertaal maar liewers: die mooi werke. Dit is alles wat sigbaar is aan jou geloof, alles waarin uitkom hoe mooi die geloof is. Dink maar konkreet aan die direkte uitinge van geloof: die gebed, christelike gesprekke, jou Bybellesing, die Sondagsbesteding. Mense mag tog sien dat jy intens bid? Hulle hoor tog die inhoudryke geloof in die gesprek? Die Bybel mag tog sigbaar in jou tas sit of op jou tafel lê? Die Sondag is tog 'n vrolike en kansryke dag!

Dink by die mooi werke ook aan die bewuste dade wat jy uit die geloof doen. Soos Jesus om sy naaste omgegee het, so soek ons ook om die naaste te help. Soos sy hande genees het, so soek ons tog ook om barmhartigheid te bewys. Hy het sy offer gebring: Hy het daagliks en volledig sy lewe aan God en mense gewy. Jy bring tog ook die offer van jou hart en hande! Als jy dit doen, als ons dit saam doen, sê die Bybel, sal daar dalk kwaad gespreek word.

Dit het met die Hebreërs gebeur wat hulself bekeer het en plotseling vreemdes in eie land geword het. Die christene is werklik as "kwaaddoeners", as misdadigers beskou. Die offisiële beskuldiging teen christene was in die 1ste eeu: anargie, omdat hulle die keiser nie aanbid en die offisiële godsdienste nie gevolg het nie. Nee, oor gereformeerde mense sal nie maklik kwaad gespreek word nie. Veral nie as jy publiek nie baie aktief is nie. Dit is vandag eers die swart christene wat ly, sodra hulle dit waag om teen die mag van die revolusie te praat. Hulle sal steeds meer vervolg word, soos dit nou alreeds gebeur. Die swart jeug wat in radikale politiek glo, probeer om enigiemand te dwing om saam te staan. Nou alreeds is die swart christenjeug die meeste in die versoeking om saam te maak. Laat dit nie so wees dat ons maatskaplike goeie, mooie werke nalaat en daardeur nie bespot word nie. Kom ons soek hoe om die mooi werke nie net verborge te hou nie. Want die apostel Petrus vat hier die woorde wat hy self uit die mond van ons Here Jesus gehoor het: "Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien én julle Vader wat in die hemele is, verheerlik" (Matt. 5:16).

Die verheerliking van God gebeur, sê die slotwoorde van ons teks, "op die dag van besoeking". Dit is 'n ou, Bybelse woord wat ons dikwels in negatiewe sin ken: die HERE besoek die sonde van die vaders aan die nageslag, sê die 2de gebod. Maar dit kan ook positief gebruik word: "die HERE het Sara besoek soos Hy beloof het" en sy het van Isak swanger geword! Die werkwoord "besoek" sê dat die HERE omgee. Hy is met die mense besig! Hy werk in die lewe van elkeen: met seëninge en beproewinge, met sorg en straf. Hy dring die lewe in Sy rigting. Dus soek die HERE die bekering van die mens met wie Hy besig is. Alles is op dié doel gerig. Die dag van die besoeking: dit is die dag waarop die lig kan deurbreek en die mens erken dat dit God is wat sy lewe lei. In Luk. 19 praat die Here Jesus oor "die gunstige tyd toe God jou besoek het" (vs. 44). Op daardie dag kan ook die lig deurbreek dat die een mens in julle goeie werke iets sien om God oor te prys! Dan gaan die oë oop. Dan sien die mense ook jou lewe wat so anders, so snaaks gelyk het, in die lig van God se werk.

'n Christen-vreemdeling wat met die Vader op aarde wandel, sal skitter in die wêreld. So sal God dit sien en as eer vir Hom ervaar. So sal Hy dit aanvaar: om Jesus wat julle volg, ontwil. So leer ons opnuut te sien hoe wonderlik dit is om as vreemdelinge tog 'n volk wat anders, heilig is genoem te word. Ons leer hoe om te aanvaar dat ons moet stry teen verlangens wat verkeerd is. Die Gees maak jou vol mooie werke waardeur God deur ander mense wat dit agterkom, verheerlik sal word. Die mooi lewe wat jy van Jesus Christus gekry het, sal afstraal op God. Mag God jou die genade gee! Later in sy brief skryf Petrus (lees maar saam in 3:15-16):

"Heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees; met behoud van 'n goeie gewete, sodat in die saak waarin hulle van julle kwaadspreek soos van boosdoenersa, húlle beskaam mag word wat julle goeie lewenswandel in Christus laster".

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)