Petrus spoor die gemeente van vreemdelinge aan tot 'n nougesette wandel

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1990-01-01
Teks: 
I Petrus 1
Preek Inhoud: 

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Verlede week het ons in die prediking uit die eerste Petrus brief gesien hoe Petrus vir die gemeente 'n bemoediging saamgee op hul pad na die beloofde erfenis. Hy het vir die gemeente gewys dat hulle vreemdelinge in die wêreld is.

Wel, dat hulle vreemdelinge is, het die gemeente reeds agtergekom. Hulle het taamlik baie probleme ondervind deur hul bekering. Hulle het swaargekry. Hulle het amper selfmeely ontwikkel. In die situasie het Petrus vir hulle 'n brief geskryf. En daarin wys hy vir hulle dat hul vreemdelingskap nie 'n saak van armoede is nie, maar inteendeel 'n saak van rykdom. Let op, sê hy, wat julle alles reeds ontvang het.

Julle is reeds baie ryk en dit gaan maar net ryker word.

Daarom, omgord die lendene van julle verstand. Sorg dat julle saamkom op die pad wat die Here met julle gaan.

Moenie daaroor pieker wat jy as 'n christen moet mis nie. Dan sal jul nie kan volhou nie.

Maar moet liewers op God let wat vir julle saamneem op Sy weg.

Gaan die pad wat Hy vir jou wys.

Tot sover het ons verlede week gekom.

Loop die pad wat God met jou wil gaan!

In vandag se prediking wil ons sien hoe dat jy die weg met Hom moet gaan. Want die pad wat God met ons gaan is 'n smal pad.

Hy eis op die pad gehoorsaamheid aan Sy gebooie. God self plaas jou op die pad. Die pad het 'n heerlike doel. Maar Hy vra op daardie pad 'n nougesette wandel, uit dankbaarheid vir wat Hy met jou begin het.

Die boodskap van die teks vat ek soos volg vir u saam:

PETRUS SPOOR DIE GEMEENTE VAN VREEMDELINGE AAN TOT 'N NOUGESETTE WANDEL

Want:

  1. sy het genader tot 'n heilige Vader
  2. sy is gekoop teen 'n hoë prys
  3. sy is geroep volgens 'n goddelike plan.

1. Jul moet in jul hele lewenswandel heilig word, lees ons in vers l5. Wandel het te make met 'n pad wat jy loop. Die Here gaan met Sy gemeente 'n spesiale pad. Die pad van die Verbond sou ons dit kon noem. In daardie Verbond kom Hy met Sy groot liefde na ons toe, maar Hy vra ook iets van ons, naamlik dat ons Hom al ons liefde gee.

Ons lewe moet 'n liefdediens vir die Here wees. Here moet heel eerste wees. Maar so gou 'n mens dit gaan probeer tel jy allerhande probleme op. Byvoorbeeld, met die omgewing waar jy woon of werk. Jy kan alleen kom staan, want sê ons teks: Jy roep God as Vader aan. Dit is jou groot rykdom as christenmens.

Maar juis dit kan probleme gee met jou omgewing. Die Here Jesus het gesê: soos hulle My haat, sal die wêreld ook julle haat.

Hulle sal jou nie aanvaar nie.

Maar moenie daaroor worrie nie.

Die rykdom om God as Vader aan te kan roep is so groot, dat in vergelyking daarmee die haat van die wêreld vir jou nie tel nie. Jy het 'n Vader in die hemel En jy mag Hom aaroep. In jou gebed. Dit is 'n baie groot voorreg wat jy as gelowige van God ontvang. Dit is selfs een van die mees kosbare geskenke wat God vir Sy gemeente gee. Die gebed. Die persoonlike gebed, die gebed in die gesin, die gebed in die kerk.

Daarin kom jy baie na aan die Here, jy kom digby jou Vader. Jou verdriet kan jy daarin uitskree, jou nood aan Hom voorlê, maar ook jou dankbaarheid mag opklink in daardie gebed.

Dit is 'n groot voorreg broeders en susters. Dat dit kan. Dat dit mag. En jy doen jouself verskriklik te kort as jy hierdie voorreg laat lê. As jy nooit verder kom as 'n paar vaste formulerings, dan gebruik jy die gebed nie optimaal nie.

Ek weet dit is baie moeilik, nuwe woorde vind. Maar dit is die moeite werd om dit gedurigdeur weer te probeer.

Ook vir ons kinders is dit van die grootste belang. Hoe sal 'n kind iets leer verstaan van die vreugde van die diens vir die Here as daardie vreugde nooit deurklink in ons gebede nie?

Die vreugde moet ons beheers op die pad wat die Here met ons gaan.

Op die smal pad vra Hy dat ons diens verrig in Sy Koninkryk. En daarmee is jy anders as ander mense. Daar is 'n hele paar dinge wat jy nie meer kan doen nie. Dikwels moet jy afsien van dinge waarin die wêreld sy plesier vind. Maar dis tog nie te erg nie. Jy is mos 'n kind van die Vader in die hemel. Laat dit vir ons 'n vreugde wees!

Selfs die wandel op die smal pad is 'n saak van blydskap!

Dink daar goed aan ouers, vaders en moeders!

As u self nie meer die vreugde van die wandel op die smal pad verstaan nie, as uself daardie weg nie met blydskap loop nie, hoe sal u u kinders kan saamneem op daardie pad?

As u self nie meer met blydskap en warmte oor die diens van die Here kan praat nie, sal u u kinders langs daardie pad verloor. Wie self mopperende kerk toe gaan en by tuiskoms mopper oor 'n swak preek, wie self altyd brom oor die tekortkomings van die kerkraad en negatief staan teenoor die broeders en susters uit die gemeente, moet nie verwag dat sy kinders die Here met blydskap sal dien nie. As jy self die voorreg van die omgang met die Here in die verbond nie raaksien of nie belewe nie, kry jy jou kinders nie saam op die smal pad nie.

Ons het nou gesê broeders en susters, dit is 'n voorreg om God te kan aanroep as Onse Vader.

Maar daarby moet u wel weet, Wie u dan aanroep!

Want God is 'n heilige God. Ook 'n heilige Vader. Dit wil sê: Hy is 'n God wat Hom vertoorn oor die sondes. Ook oor die sondes van sy kinders.

Hy sien die sondes van sy kinders nie deur die vingers nie, omdat hulle nou maar Sy kinders is nie. Soos 'n aardse vader die oortredings van sy eie kinders dikwels minder gou raaksien as die van ander.

God keur nie sommer alles goed van wat sy kinders doen nie. Maar, so sêons teks: Hy oordeel sonder aanneming van die persoon. Dus ook oor sy eie kinders! God is baie presies op sy volk. U moet daar maar op reken dat daar goed op die volk van die Here gelet word. Ook deur die wêreld! Die wêreld sien noulettend toe. Dink daaraan! Hoe dikwels kan 'n mens nie so iets hoor: Hy behoort nog wel aan 'n kerk! Elke sondag gaan hy twee keer! Hy is baie presies in die leer, maar sien nie na sy lewe nie!

As so 'n beskuldiging vals is, kan jy dit maar laat vir wat dit is. Maar as dit waar is, het jy wel iets om oor na te dink!

Daar word op u gelet, soos gesê deur die buitestaanders, maar dink daaraan, tog wel allereers deur die Here self!

En Hy sien nog baie meer as wat 'n ander kan sien.

Hy oordeel sonder aanneming van die persoon.

Hy het jou as 'n kind aanvaar, maar nou verwag Hy van jou dat jy jou as 'n kind van Hom sal gedra. Dat jou lewe vervul is van dankbaarheid! Vervul! Volwees!

Dit hou in: jy kan nie met 'n leë lewe voor Hom verskyn nie! As jy opgaan in die plesier wat die wêreld vir jou kan gee, dan het jy in jou gebed feitlik niks meer om van Hom te vra nie, en op die ou end weet jy ook nie meer waarvoor om Hom te dank nie. So sien ons, gemeente, dat die gebed en die lewe baie nou aan mekaar verbind is.

As jy in jou gebed nie digby die Vader kom nie, kan jy die lewe op die smal pad nie volhou nie.

Wanneer jy in jou lewe na God se gebooie nie vra nie, het jy ook in jou gebed niks meer om te sê nie.

Wandel dan in vrees, gedurende die tyd van jou vreemdelingskap. In vrees - dit beteken ongeveer met eerbied.

Wandel met eerbied voor God se aangesig.

Dit is die intieme verhouding met God, waaraan jy met die aanspraak: "Vader" uitdrukking gee, mag die ontsag vir die heiligheid van God nie wegneem nie.

Jy mag vertroulik met God omgaan, maar nie familiaar nie. God is nie jou maatjie nie. Hy bly die heilige God. Altyd!

Daarom: jy mag van die liefde van God baie verwag, maar tegelyk: jy moenie gering dink oor Sy toorn oor die sondes nie.

2. Ons word aangespoor tot 'n nougesette wandel: ons is gekoop vir 'n hoë prys.

In die verse 18, 19 van ons teks vertel Petrus iets oor die prys waarvoor ons gekoop is.

Hierdie verse is nou verbind aan dit wat voorafgaan deur die woorde: "omdat julle weet!" Dus Petrus se: Wandel nougeset in jou lewe, omdat julle weet.... vir hoeveel julle gekoop is. Wees voortdurend bewus dat jy gekoop is. Dat jy die eiendom van 'n Ander is. En besef veral dit: Daar is vir jou 'n hoë prys betaal. Julle is naamlik losgekoop. Vroeër was julle diensknegte, slawe van 'n ander, maar nou is julle vry.

Met die woord losgekoop, roep Petrus 'n herinnering op aan die uittog uit Egipte, van die volk Israel. Die volk van die Ou Verbond is deur die Here weggehaal uit slawerny en in vryheid gebring. Hy het hulle na die beloofde land gebring deur die woestyn. Hulle was vreemdelinge daar in die woestyn. Maar sinds hulle loskoop is die Here met hulle op pad.

U hoor hoe Petrus in hierdie brief telkens weer dieselfde akkoorde aanslaan. Dieselfde elemente keer voortdurend terug. Losgekoop uit slawerny, nou nog vreemdelinge, straks die erfenis. Dit geld ook die Nieu Testamentiese gemeente. Losgekoop uit 'n ydele lewenswandel staan hier. 'n Ydel, 'n leeg lewe: dit is die sfeer waarin die ongelowige wêreld leef: laat ons eet en drink, want môre sterf ons. Aan die eind van 'n sodanige lewe wag die dood. Maar in u geval het God daartussen gekom. Hy het 'n bevrydingsaksie onderneem! Hy het u losgekoop van so 'n heidense, sinlose lewenswandel. En hy het vir u nie betaal met aardse, met verganklike dinge nie, nee Sy handel, Sy kooptransaksie het daar ver bo uit gegaan. In die woorde wat Petrus hier gebruik is 'n duidelike opklimming in krag, 'n klimaks. 'n Klimaks in waardes. Nie met verganklike dinge, nie met silwer, nie met goud selfs nie, maar met iets wat baie duurder is..... met bloed! Bloed is nog altyd kosbaarder as al die natuuurlike goed. Ook op aarde. Jou bloed, jou lewe kan jy nie betaal of koop met al die geld van die wêreld nie. Maar die bloed waarvan hier sprake is gaan die waarde van menslike bloed nog ver te bowe.

Julle is gekoop met die kosbare bloed van Christus! Met die bloed van 'n unieke persoon! Met die bloed van die kosbaarste mens wat ooit op die aarde was. So, vir u bevryding is 'n kolossale som betaal!

Die bloed van die Eniggebore Seun van God, Sy Geliefde!

Aan die Seun kan God as Vader al Sy liefde kwyt. En daardie Seun was die Enigste op die wêreld wat die liefde ook volledig kon beantwoord. En daardie Seun het Sy bloed gestort om vir U die lewe te kan gee. Ons het sopas gelees oor die Paaslam in Eksodus l2. Daar beveel die Here aan die volk, hulle moet 'n lam sonder gebrek neem en dit as 'n Paaslam te slag op die dag wat daarvoor vasgestel is. Die bloed van daardie lam moet aan die deurposte gestryk word. En in huis waar die bloed van die Paaslam sigbaar aan die buitekant is, daar sal die Here nie binnekant toe gaan om te dood nie. Daar het die dodelike toorn van die Here verbygegaan. Die bloed van die paaslam staan dan tussen die volk van God en die engel van die dood. Waar daardie bloed gevind word, sal die dood nie kom nie. Wel, daardie Paaslam van Eksodus 12 is 'n teken van die Christus wat kom. Jesus Christus is ons paaslam, sonder gebrek en vlekkeloos. Met Sy bloed is u vrygekoop. En daarom mag u lewenswandel nie ydel wees soos die wandel van die wêreld nie. Die kosbare bloed van Christus staan daar tussenin. Daardie bloed sit u lewe op 'n nuwe pad. Nie meer 'n ydele wandel nie, maar 'n wandel in vrees.

Dus hiervan moet u baie bewus wees gemeente. Die lewe van die kerk, is die mees duurbetaalde saak van die wêreld. Daar is 'n formidabele som neergetel om dit moontlik te maak. Die bloed van die mees kosbare Persoon op die wêreld is daarvoor vergiet. Met die bedoeling om u lewe te verander!

As 'n mens dit besef, dan ontvang jy ook die krag tot 'n nougesette wandel op die smal pad.

Hier hang leer en lewe baie nou saam. As 'n kerk nie meer met alle krag die kruis in Christus verkondig nie, maar daarvoor ander dinge in die plek stel, dan is dit ook die einde van 'n christelike lewenswandel. Toeneem: vanuit kruis, nuwe kragte. Aansporing tot 'n lewe in God.

3. Petrus spoor ons aan tot 'n nougesette lewenswandel, want: ons is geroep volgens 'n goddelike plan.

Petrus het tot nou toe geargumenteer vanuit die hoë prys wat vir ons betaal is. Daaruit kom 'n sterk aansporing tot 'n nougesette lewenswandel. Maar nou wil hy die gemeente nog verder inwy in die geheime van God. Want met betrekking tot die loskoop, daaragter steek nog iets anders. En ook daarvoor moet 'n mens oog kry. Naamlik agter die vrykoop deur Christus sit 'n plan van God.

'n Heilsplan. 'n Verlossingsplan.

En die plan is al baie oud. God het geweet reeds voor die grondlegging van die wêreld hoe Christus eendag Sy volk sal loskoop. God het daaroor in Sy ewige Raad besluit. Toe reeds is Christus vir hierdie diens gereserveer. Toe reeds is Hy aangewys om eendag die betaling te maak vir ons sondes. Daaraan moet u dink as vir u vandag die evangelie verkondig word. U word nou opgeroep tot 'n gehoorsame wandel in Christus. Maar daaraan is baie voorafgegaan

'n Komplete verlossingsplan van God waarop u naam verskyn. God het aan u gedink, voordat u ooit van Hom gehoor het. Reeds voordat u gebore is, het Christus u as Sy eiendom verkies. En dat ons dit weet is vir ons 'n sterk bemoediging om voort te gaan op die pad wat God ons vorentoe wys.

Die pad waarop God u as gemeente stel, het 'n begin iewerss in 'n grys verlede. Toe alleen nog God daar was.

God het reeds vir Christus geken voor die grondlegging van die wêreld, staan hier. En nadat God die wêreld geskape het, het Hy voortdurend besig gewees met die voorbereiding van Christus se koms.

Ons kan dan dink aan heel die geskiedenis in die Ou Testament.

Die moederbelofte in die Paradys, die roeping van Abraham, die uittog uit Egipte van die volk Israel.

Die wetgewing op Sinaï. Die optrede van die priesters in die Ou Testament. Die woorde van die profete. Die diens van die Ou Testamentiese koninge. Dit alles het te doen gehad met die koms van Jesus Christus!

Natuurlik het die mense uit die Ou Testament dit alles nie so verstaan, soos ons dit tans begryp nie.

Hulle het ondersoek en nagevors. Hulle het nagespooor op watter tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat in Christus sou kom, en die heerlikheid daarna. Hulle kon net tas en raai, en het maar baie gedeeltelik verstaan waarmee die Here al die tyd besig was.

Maar God het volgens Sy eie plan gewerk. Alles gedoen soos in die Bybel beskryf. En die plan het aan die lig gekom in die volheid van die tyd. Want toe het God Sy Seun op die wêreld ingebring om daar te sterf en op te staan uit die dood.

Toe die werklikheid naamlik Christus geopenbaar is, kon ons ook die plan van God sien wat daar altyd al was.

En dit alles mag vir u behoud gemaak word. Die plan is nie meer 'n geheim nie, maar is in die laaste tye geopenbaar om julle ontwil, sê Petrus. En die wonderlikste val alles is: In die plan is u opgeneem. Die gemeente van Christus en al die gelowiges is 'n onderdeel van daardie groot verlossingswerk. Dit is nou u rydom, broeders en susters, seuns en dogters.

U is 'n geroepe volk. 'n Deur God geroepe volk.

Die Kerk van die Nuwe Verbond is die hoogtepunt in die geskiedenis! Daarom het dit alles gegaan. Reeds voor die eerste steen van die wêreld gelê is, het God Sy bouplanne klaar gehad. Hy het Sy stene uitgekies. U is die boustene van God se verkiesing! Waarmee Hy Sy gemeente bou. Hy het u almal geroep.

En daarom moet julle saamkom, almal!

Saamgaan op die pad wat God met ons gaan!

En as jy nou nie wil nie, dan moet jy weet, dat jy God se plan verwerp. God se plan om jou te verlos! Aanvaar hierdie roeping! Glo die woorde van God wat u roep! Wandel op die pad wat God vir u wys. Aan die einde wag vir u 'n groot heerlikheid. Die heerlikheid van die ewige lewe!

Die erfenis vir die gelowiges.

Dus:

  1. As jul vandag Sy roepstem hoor
    verhard jul nie, maar neig jul oor,
    merk op die roep van Sy ontferming.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)Ps. 95: 1, 2
Ps. 95: 3
Ps. 126: 1, 2, 3
Ps. 95: 4, 5, 6
Ps. 128: 1, 4
Lees: Eks. l2: l - 13
Teks: 1 Petr. 1: 17 - 21