Die skrif waarsku teen goedkoop in Christus se Kerk sit

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Hebreërs 12
Preek Inhoud: 

02-08-92

HEBREERS 12 : 16-17

Votum - Seëngroet
Sing: Ps. 34 : 1, 2
Wetslesing
Sing: Ps. 1 : 1, 2
Skriflesing: Hebreërs 12 : 1-17, Genesis 27 : 30-41, Genesis 28 : 5-9
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 1 : 3, 4
Prediking
Sing: Ps. 34 : 6, 7
Dankgebed
Sing: SB. 41 : 5, 6, 7
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

onthou u nog hoe ons eers dié Skrifgedeelte, Rom. 9:10-13, gehoor het: waar ons herinner word aan die boodskap wat die HERE voor die geboorte van die tweeling vir Rebekka gesê het. Dit was dat "die oudste die jongste sal dien". God het 'n verskillende plek vir hulle in sy planne gehad. Daarna het Paulus ook die ou woorde uit Maleagi aangehaal: "vir Jakob het Ek liefgehad, vir Esau het Ek gehaat". Die toorn van God het oor Edom gekom vanweë die misdade in dié volk se geskiedenis. Nou maak God nie meer sulke keuses nie. Die kinders van die belofte kry elkeen 'n plek in God se planne!

Daarna het ons Hebr. 11:20 gehoor: oor die seën wat Isak vir Jakob moes gee, maar wat hy eintlik vir Esau wou gegee het. Dié teks het gesê dat Isak sy kop gebuig en die wil van die HERE aanvaar het. God se Woord wil die eiewilligheid oorwin! Ouers mag terugkyk en sien hoe die Here dinge reggekry het, ondanks hulle sondes. Hulle mag vorentoe kyk, hulle mag persoonlik en saam met die kinders gehoorsaamheid leer.

Nee, God se vandag nie: jy is bestem om 'n Jakob en jy om 'n Esau te wees, nie. Christus het die verbond 'n plek gemaak wat so wyd as die wêreld is. Jy het 'n plekkie daarin gekry! Nou vra die Here Jesus vanmôre wel vir jou: wat maak jy op dié plek wat Ek vir jou vrygemaak het? Gedra jy jou dalk soos Esau? Ja, besef dat Jesus vanmôre vir u soek en vra: waar is Ek in jou lewe? Sien jy My loop? En as jy jou kop moes buig en erken: ja, ek was so dwaas soos Esau, wat maak jy dan vanmôre? Sal jy kan huil en jou bekeer of nie? Kom ons luister ook vir Hebr. 12, die laaste Skrifgedeelte wat van Esau praat. Dit lyk asof ons nou die einde van die pad bereik het. "Want [sê ons teks] julle weet dat hy verwerp is ..." (vs. 17). Wat maak hierdie Woord van God nou? Word hier gepredik dat dit kan gebeur dat terugkeer tot God onmoontlik geword het, hoe graag 'n mens ook wil? Word hier gesê dat dit dalk al te laat kan wees? Ek dink nie so nie. Ja, dié teks is 'n sterke waarskuwing. Dit kan so sterk wees, omdat dit elkeen tot bekering wil roep! Ek bedien julle vanmôre die Woord van ons Here:

DIE SKRIF WAARSKU TEEN GOEDKOOP IN CHRISTUS SE KERK SIT

Ons sien in Esau se lewe

  1. die onverskilligheid
  2. die onherstelbare skade
  3. die gebrek aan oorgawe.

1. DIE ONVERSKILLIGHEID

Moenie vir Esau buite die kerk soek nie. Ons teks praat nie van mense wat uit onverskilligheid die kerk verláát het nie. Dit is julle wat aangespreek word: julle wat die verbond van God nie wil vergeet nie. Esau was ook nie sommer 'n slegte ou nie. Hy het al die jare by die huis gebly: in die tent van Isak en dus in die kring van die verbond van die HERE. Hy het nie weggetrek en sy ouers gelos, toe hy volwasse geword het nie. Wanneer hy vrouens geneem het, neem Esau hulle huis toe. Hy bring hulle in die kerk. Daar moet goeie bedoelings in sy hart gewees het!

En tog is daar by hom 'n mate van onverskilligheid. Hy wil nie met sy ouers breek nie. Hy wil nie by die HERE weg nie, maar hy wil op 'n maklike manier naby die belofte van God bly. As ons na die keuse van sy vrouens kyk, val dit op dat Esau nie (soos sy broer Jakob later) na Paddan-Aram gegaan het nie. Dit was teveel moeite. Onthou u nog hoe Abraham vir Isak dáár 'n vrou (Rebekka) laat soek het? Daar: dit is waar Abraham self wegkom. Ek weet nie mooi wat die positiewe daarvan was nie. Het die roeping deur die HERE van Abraham dalk ook sy familie tot die geloof gebring? In elke geval is dit duidelik: die eggenote vir 'n seun van die belofte mog nie 'n dogter van die Kanaäniete wees nie. Esau kies egter die maklike pad: hy kies uit die meisies wat hy maklik in sy nabyheid ontmoet het.

Ons lees in Gen. 26:34: "Toe Esau 40 was, het hy getrou met Jehudit dogter van Beëri, 'n Hetiet, en met Basemat dogter van Elon, 'n Hetiet". Dit is ongelowige meisies. En dan lees jy ook: "Hulle het baie kommer in Isak en Rebekka se lewe gebring". So erg dat Rebekka later sê: "Ek is nou siek en sat van hierdie Hetitiese vrouens van Esau. As Jakob ook met Hetitiese meisies trou, met meisies soos hulle uit hierdie land, kan ek net sowel sterf" (28:46). Was dit die ergernis van 'n skoonma wat nie aan haar skoondogters gewoond kan raak nie? Nee, dit was die hartseer van die anders-wees van dié dogters: die eie heidense aard bly lewendig. Esau het dit huis toe gebring. Die goedkope manier was vir hom reg.

Ons teks sê: "Laat niemand 'n hoereerder wees nie". Was Esau dan iemand wat in owerspel geleef het? Ons weet niks van ontrou buite Esau se huwelik nie. Dis moontlik dat dié "hoereer" op sy meerdere vrouens sien. Dat die NAB dié woord met "sedeloos" vertaal, maar maak nie 'n verskil nie. En kyk hoe snaaks maak Esau! Wanneer Jakob na Paddan-Aram toe is om daar 'n vrou te soek, lees jy: "Esau het toe geweet dat sy pa Isak nie van die Kanaänitiese meisies gehou het nie. Daarom het Esau na Ismael toe gegaan, en by die vrouens wat hy gehad het, nog 'n vrou gevat: Magalat die dogter van Ismael, Abraham se seun" (Gen. 28:9). Esau het gedink hy maak sy ouers bly deur 'n dogter uit die wyere familiekring te neem. Nog 'n vrou ...! Esau was dalk 'n simpatieke ou en het probeer sy ouers nie seer te maak nie. Hy het egter onverskillig met die wil van God omgegaan.

Die nadruk lê in ons teks op: "Laat niemand 'n onheilige wees soos Esau". Onheilig: teengesteld aan die heiligheid wat by die lewe met God behoort. Ek sê onverskillig: so dat jy nie heilig wil wees nie. Dit het by Esau daarin veral uitgekom dat hy sy eersgeboortereg sommer verkoop, aan Jakob oorgedra het. Sommer: deur net een keer baie honger en moeg by die huis te kom en kos te vra. Die eersgeboortereg: die plek vooraan, God se gawe en die opdrag om vooraan te loop en verantwoordelikheid te dra in die verbond. Onthou: die eersgeboortereg was vir hom, ook al het God vir die verdere toekoms hom diensbaar aan Jakob wil maak.

Die eersgeboortereg: vergelyk dit maar met jou voorreg om al vanaf jou geboorte deel van God se verbond te mag wees. Of verag jy die voorreg wat jy bo so baie mense ontvang het? Laat ons maar maklik slaplê, omdat die lewe met Jesus baie vra? Ja, dit kan in jou huwelikskeuse uitkom. Ook twee kinders van God wat binne die kerk getroud is, kan egter saam laat slaplê. Dan sal jy sondes maklik skoon praat en elke keer 'n stappie verder doen. Die Here waarsku ons vandag teen goedkoop in de kerk sit: deur wel te wil bly, maar nie jouself te offer nie. Maar net binne die kring van die verbond probeer bly, sê nog niks nie.

2. DIE ONHERSTELBARE SKADE

Esau was nie maar bloot onverskillig nie. Eendag het hy agtergekom dat dit nie goedkoop is om vrygekoop te wees deur die genade nie. Ons ken die geskiedenis: Jakob het vir sy ou vader gelieg en sy broer bedrieg. Onthou u nog hoe ontroerend Esau se woorde geklink het? "Toe Esau hoor wat sy pa sê, het hy hard en bitter begin skree en by sy pa gepleit: "Pa, seën my tog óók!". En: "Pa, het Pa dan net een seën? Seën my tog ook, Pa!. Toe Esau daarna begin huil, sê Isak ..." (dan volg die voorspelling oor wat met Esau sou gebeur). Noudat die groot seën vir die toekoms oorgedra sal word, besef Esau watter waarde dit het, dit altyd al gehad het. Vandag gaan verby, die toekoms kom. Sy kinders sal ook die seën van die God van Abraham en Isak benodig. Dié wete keer skielik terug. Isak kan en wil sy woorde egter nie verander nie. Ja, Jakob het bedrieg, maar dit is die Woord van die HERE wat ou Isak gespreek het. Hy kan dit nie verander nie, nooit meer.

Nou sê ons teks: "Want julle weet dat Esau, toe hy later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer". "Geen geleentheid vir berou ...": dit is die woorde waaroor die meeste onsekerheid bestaan. Berou: letterlik staan daar "bekering". Het die HERE aan Esau die kans op berou, op terugkeer onthou? Kan dit gebeur dat God sê: maar nou is dit te laat, jy het te lang gewag? Nee, want dit leer die Bybel nêrens. Dalk het u my Bybelstudies in Kompas oor "die berou van God" gelees. Dié uitdrukking beteken dikwels: dat God bereid is om dit wat Hy gedreig het, te verander en nie uit te voer nie. Voor Esau is daar egter niks wat hy sou kon verander nie. Hy kán nie, want Isak het in die seën die Woord van God gespreek. Die NAB vertaal mooi: "Daar was vir hom geen moontlikheid om die saak reg te stel nie, al het hy ook met trane daarna gesoek". "Want julle weet dat hy ...": so begin vs. 17. Dit is mos wat ons in Genesis lees. Daar vind jy niks oor 'n pad van bekering wat aan God se kant afgesluit sou wees nie. Daar vind ons bloot dat Esau sy pa nie daartoe kon bring om die seën tog vir hom te gee, hoe graag selfs Isak dit sou wil doen nie. Die trane van Esau kom te laat: hulle kom eers, wanneer die skade al klaar daar is. Skade: dit is die woord wat ek bo hierdie 2de onderdeel geskryf het. Dit kan met elke kind van die verbond gebeur: dat jy die lewe met die Here goedkoop opvat, maar eendag agterkom dat jy skade gely het. Dalk is jou huwelik baie beskadig. Of jou kind wil jou liewerste nie weer sien nie. Jou liggaam is verslyt, jou hart is dor. Dan kan dit gebeur (en dis alreeds een wonder as dit gebeur) dat jy leer om te huil en te besef wat daar fout gegaan het. Die skade kan jy egter dikwels nie meer wegneem nie. Relasies is verbreek, die tyd is verby. Skielik kom jy agter: die lewe met die Here is nie goedkoop nie. Dit het baie waarde, wanneer jy dit op tyd besef. Dit kan in God se wysheid 'n begin van bekering beteken. Esau's kan jong en ou mense wees: die wat onverskillig is of skade gely het. Die skade kom eers nádat jy onverskillig geleef het. Dit sê God se Woord om dit vroeg te besef. Want ons sien derdens in Esau se lewe:

3. DIE GEBREK AAN OORGAWE

Ek het gesê dat ons teks nie kan beteken dat Esau nooit 'n kans gekry het om tot die HERE terug te keer nie. Ja, daar staan dat Esau "verwerp is". Hy is afgewys toe hy tog nog die seën wou kry. Hier word nie oor die verwerping van ewigheid gepraat nie. Selfs in Esau se geval praat die Bybel bloot oor die pad wat God in hierdie lewe met hom gegaan het. Esau het 'n plek in God se planne gehad: "die oudste sal die jongste dien". Esau het egter nie sy kop onder God se planne wou buig nie. Op die tweede plek sou hy dalk tog nog 'n mooi plek in God se wêreld gekry het. Wat is egter die vervolg? Esau word so bitter dat hy Jakob wil vermoor. Esau word harder, onverskillig. Pleks dat hy sy hele hart, pleks van 'n halwe hart, eindelik vir die HERE, die God van die verbond wou gee.

Kom ons vergeet nie van die begin van ons teks nie. "Laat niemand soos Esau wees nie"! Hierdie oproep is vir julle almal. Dit staan in Hebr. 12 in 'n wye verband. Dit gaan daaroor dat julle die wedloop van die geloof moet volhou. Daar is een ding wat jou kan vertraag: dit is die las van die sonde. Dié las moet jy aflê om mooi te kan loop. By dié loop moet jy jou oog vooruit gerig hou op Jesus! Hy het ons voorgegaan, Hy is die Leidsman vir jou geloof. O ja, dit kan wees dat die Here jou laat swaarkry. Die Bybel sê dan: dit is tugtiging vir kinders wat laat slaplê in die diens. Jy benodig die hand van God wat jou wil waarsku: om nie soos Esau te word nie. Of om, wanneer jy 'n Esau geword het, jou te bekeer.

Bekering begin by nederigheid: by die erkenning dat dit al 'n wonder is dat God my soek! Dat Hy tog nog dit met my wil probeer! Watter skade jy ook gely het, die Here praat vandag in die kerk met jou. Ja, dit kan wees dat jy jou lewe sien en skade vas moet stel. Dit kan wees dat baie trane te laat kom. Ja, ook dan, juis dan moet jy jou kop buig. Dit is oorgawe, as jy dit aanvaar dat die Here nogtans met jou verder kan gaan. Dat die Here nie jou lewe laat lê nie, maar dit in sy hand neem soos dit geword het. Aanvaar vervolgens ook watter plek Hy vir jou ook gegee het. Esau het die klein plekkie verag. Dalk het jy ook meer van die lewe verwag. Vra liewerste: hoe baie kan die Here met my op my klein plekkie doen?

Jy is geroep om 'n plek in Christus se kerk in te neem. Hy het voorop gegaan in hierdie wêreld. Waar so baie bittere trane gehuil word en waar so baie mense nie rerig getroos en nie rerig opreg lewe nie. Esaus is na Christus se koms op aarde nog erger. Dit was vir Hom nie goedkoop om jou lewe los te koop nie. Wys dié waarde in elke geval in jou lewe.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)