Op die grondslag van die broederskap van die kerk word die maatskaplike verhoudings wat geskend is, weer herstel.

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Filémon 8
Preek Inhoud: 

Preek van ds J.R. Wiskerke oor Filémon: 8-20

Geliefde broeders en susters,

Die teks vir vanoggend is geneem uit die kort briefie van die apostel Paulus aan sy vriend en medewerker in die Evangelie Filémon. Hierdie brief begin soos dikwels die gebruik is by 'n brief, met seënwense vir die welstand van Filémon. Maar in hierdie geval word daardie goeie wense aangepas aan die hoë vlak waarop Christus die lewe van sowel skrywer ontvanger van die briefie gebring het.

'n Heiden of 'n onverskillige christen sou moontlik geskryf het: Filémon, ek hoop net dit gaan goed met jou. Maar noudat Chistus die lewe verlos het, neem Hy ook elke briefwisseling in sy verlossende gemeenskap op. Daarom lees ons hier geen oppervlakkige wensie vir die welstand en vir 'n suksesvolle toekoms nie, maar 'n gebed. Christene wat briewe skryf en so kontak met mekaar wil hou, het in die eerste plek gemeenskap met mekaar vir die genadetroon van God. Hulle dra mekaar op die vleuels van die gebed Boontoe, sodat die vrede van God ons Vader en van die Here Jesus Christus hulle lewe kan vervul.

En daarby is sodanige gebede nie vaag en ongerig nie. Inteendeel - hulle word gerig op die vervulling van die nood wat op daardie oomblik in die lewe van die ander aanwesig is.

Daarom lees ons as 'n spesifieke gebedswens van Paulus met betrekking tot Filémon in vs. 6: "Dat die gemeenskap van jou geloof kragtig mag word deur die kennis van alles wat goed in julle is, tot eer van Christus Jesus".

Paulus wil graag, en hy sien dit ook as die wil van die HERE, dat Filémon hom verstaan, sy rêrig goeie bedoelings begryp en daarop ingaan. Met daardie doel voor oë skryf hy sy briefie. Maar dan bid hy ook eers daarvoor. En in sy gebed soek hy aansluiting by alles wat die HERE reeds in die lewe van Filémon gewerk het! Filémon het geglo. En in sy lewe is daar nou ook geloofsgemeenskap.

Dit lyk asof die apostel wil sê: die rykdom van die geloof is nie vreemd vir u nie. Ook u het, soos ander, deel daaraan gekry. Maar as jy, Filémon, jou aandeel het in die skatte van die geloof, mag ek ook vir jou bid dat jou deelhê aan die geloof aktief mag wees. Dat jou geloofsgemeenskap wat uiteraard hom aan die Christus en al sy skatte vasklem ook as gevolg mag hê dat jy aandagtig al die goeie wat in die mense tot Christus uitgaan, mag sien en waardeer.

Want so staan sake tog? Hy of sy wat deur die geloof aan Christus deelhet, moet ook oog hê vir wat Christus in die broeders werk. Dié kan nie met oë wat daarvoor gesluit is verder gaan nie. Nee, hy bemerk en aanvaar die goeie in sy broeder; die goeie wat tot Christus uitgaan.

En so word daar 'n band gesmee tussen die weggelope slaaf Onésimus en sy beledige baas Filémon. 'n Band wat altyd as onbestaanbaar beskou is.

Dan gebeur daar 'n wonder van Christus. Maar vir daardie wonder het Paulus eers gepleit by sy Meester, sy Heer en by sy God. Vir hierdie wonder gaan hy daarna in ons teks aan die werk.

Ons verkondig u:

Op die grondslag van die broederskap van die kerk word die maatskaplike verhoudings wat geskend is, weer herstel.

  1. So word die weggelope slaaf Onesimus teruggestuur.
  2. So kan hierdie slaaf as broeder ontvang word.
  3. Alleen so word die pad gebaan na 'n nuwe samelewing.

1. Deur middel van hierdie brief kom, brs. en srs, in aanraking met 'n brok ellende uit die heidense sosiale lewe. Daar lê dan 'n swart bladsy vir ons oop in die boek van die menslike samelewing. Die ghoeie verhoudings tussen die mense onderling is hier van alle kante in gevaar gebring, en selfs geskend en verskeur. Dit het begin ver voordat Filémon, Onesimus en Paulus geleef het. Dit het begin met die invoering van die slawerny op 'n tydstip wat nie deur ons bepaal kan word nie. Daar moet volgens God se orde 'n band in die menselewe wees van ontsag en van gesag, ook op die gebied van die arbeidsverhoudinge. Die een taak wat in die paradys aan die mense gegee is, vra vir 'n duisendvoudige taakverdeling. En daarom moet daar wel leiers in 'n bepaalde tak van sekere mensewerk kom èn werkers wat aan hierdie leiers gehoorsaam is. God bind hulle aan mekaar in 'n orde van Bo. Daarom is daar werkgewers en werknemers. Daar moet orde in die werk wees, anders misluk dit.

Maar die band van ontsag en gesag in die werk is ontaard. Die ondergeskikte werker het nie net in die werk nie, maar in die geheel van sy bestaan aan sy baas onderworpe geword. Die gesonde gesagsverhouding was uitgebrei tot 'n ongesonde diktatuur oor die hele mens. En die ondergeskikte mens het die plek van 'n lyfeiene gekry, 'n mens wat in sy totale bestaan die eiendom van sy aardse heer was.

Kyk net hoedat die miskenning van die HERE as hoogste Heer in die werk hom gewreek het. Waar die HERE nie meer as die eerste erken word nie, daar word die lewe van die mense ondeling verskeur. Die een stand het hom op 'n manier tot afgodiese hoogte verhef en die ander stand is tot onder die menslike peil verlaag.

So was die slawe in die antike wêreld lyfeienes. Hulle is dikwels nie hoër geag as instrumente, werktuie. Waar God onttroon word, daar neem die een mens plek op 'n troon wat net aan God toebehoor en daar word die ander mens 'n ding van benede-menslike peil. Dit beteken kortliks die opkoms van die slawerny.

Maar as die stortvloed van die sonde die lewe van die arbeid van sy fondamente in die Verbond van God losgemaak het, kan 'n mens verwarring op verwarring verwag. Eers is die maatskappy ontwrig deur die opkoms van die slawerny; daarna deur die verset van die slawe.

Die mans en vroue wat dink hulle het niks anders om te verloor as hulle kettings nie, het hulle (as hulle die kans gekry het) uit die boeie van die slawerny losgetrek. Die Romeinse Ryk het sy verskriklike slawe-opstande geken waarin groot groepe slawe al plunderende en moordende rondgetrek het. Hierdie mense het die vryheid gekies en na die vryheid gegryp langs die weg van opstand. Egter tevergeefs, want die slawe-opstande is in bloed gesmoor. Maar die brandstof wat enkele kere met 'n steekvlam wat die hele ryk aan die brand gesteek het, ontvlam het, het in die hart van baie slawe bly smeul. Daarom was ontvlugtinge aan die orde van die dag.

Ook Onesimus, die slaaf van 'n redelik aansienlike man uit die Frigiese stad Colosse met die naam Filémon, het kans gesien om die juk van die slawerny af te werp.

Dit beteken nie dat Filémon 'n harde baas was nie. Daar was ook baie goeie meesters wat hulle slawe soos hul kinders behandel het. In elke geval - Onesimus was moeg daarvoor om slaaf te wees. Hy het kans gesien om deur die land te swerf en moontlik met 'n skip oor die see te gaan, om so die stad Colosse te ontvlug. Daarna het hy ná baie omswerwinge tereg gekom in die plek waar Paulus gevange gesit het, moontlik in Rome. Hoe hy toe met Paulus in aanraking gekom het, weet ons nie. Maar dit is in elke geval duidelik: die Christus het hom in die oog gehou, hom aangegryp in sy sondige lewe en Hy het Onesimus met sy haat teen die bestaande maatskappy waarvan hy die slagoffer geword het en sy bitterheid teenoor sy heer, met Paulus in aanraking gebring.

En hy wat 'n kind van die rewolusie was en daardeur 'n slaaf wat gevlug het, het nou 'n kind van Paulus geword. Paulus noem hom: "My kind, Onésimus, wat ek verwek het in my boeie" (vs 10).

In die huis waarin hy as gevange geleef het, maar waar die apostel tog nog baie besoek kon ontvang, daar is Onésimus verander. Verander deur die Woord wat Paulus oor die Christus gespreek het. Daar het sy lewensloop 'n radikaal ander rigting gekry.

Paulus praat vrymoedig daaroor. Want dit het aan die Christus behaag om deur middel van die mond van mense sy kerk te vergader. En die Heilige Gees werk die geloof nie deur 'n regstreekse inwerking in die hart nie, maar deur die verkondiging van die Evangelie waarby dienaars van Chjristus ingeskakel word. Mense mag die Evangelie bring, katkisasieklasse aanbied, preek en ook oor die Evangelie praat by alle moontlike geleenthede wat daar maar mag wees. As iemand aan ons die Evangelie verkondig het, mag ons daarvoor dankbaar wees. As hulle deur die krag van Christus ons tot die geloof gebring het, dan is hulle ons vaders in Christus. Ons moet dit erken en niemand mag dit mensverheerliking noem nie. Inteendeel, ons gee die eer aan Christus wat mense in sy diens wil gebruik.

En wanneer 'n geboeide apostel hom bemoei met ene Onésimus wat ons moontlik deesdae 'n halwe kommunis sou noem, dan sal ons wat in vryheid lewe meer aandag aan ons moontlike vaderskap moet gee. Dan sal ons so met ons naaste moet praat dat ons sy vader deur die Evangelie kàn word. Daar is 'n wonder in daardie vaderskap. Ons kan daaroor nie vrylik beskik nie - Christus moet ons kinders gee. Maar as ons ons nie in sy diens wil stel en geen prys daarop stel om vader of moeder in Israel te wees nie, sluit ons vir onsself die pad na die wonder toe.

Salig die mens wat die Evangelie spreek. Salig die apostel wat saai; hy sal op Christus se tyd die oes sien. Salig daardie man of vrou wat agter Paulus aan, saai; ook hy of sy sal met gejuig die oes mag sien.

In die lewe van Onésimus het die saad ryke vrug gedra. Daardie man wat so bitter ontevrede was, is so verander dat hy selfs heeltemaal vrywillig begin het om Paulus te help en te dien. Met 'n kleine woordspeling teken Paulus die omkeer in Onésimus se lewe. Hierdie slaaf se naam was Onésimus wat "die nuttige" beteken. Maar voorheen was hierdie "Nuttige" 'n onbruikbare, 'n nuttelose mens. Filémon het aan hom niks gehad nie. Ongeskik vir die werk en op die ou end het hy weggeloop. Maar nou het hy deur die Evangelie 'n nuttige, 'n bruikbare mens geword. Hy doen boodskappies vir Paulus en help hom by sy werk. Die arbeid wat hy vroeër verag het, het nou die liefde van sy hart omdat hy deur die Here Jesus Christus in diens geneem is. Die revolusionêre élan is uit sy lewe weggeneem. Hy skik hom onder die taak wat die genade van Christus aan hom toewys.

Maar dan wil Paulus hom ook nie langer by hom hou nie. Indien die genade van Christus regtig die lewe genees, moet nou ook die geskonde verhouding met Filémon herstel word. Hoewel Paulus hom graag by hom sou gehou het.

Ons kry uit Paulus se briewe partykeer 'n indruk van die veelomvattende werk wat die apostel ter hand geneem het. Selfs die gevangenis het 'n hoofkwartier vir die Evangeliediens geword. Briewe en boodskappe stuur hy vandaaruit. Medewerkers kry opdragte en meld hulle. Paulus se tronk is 'n kruispunt op die paaie van die wêreldwye werk van Christus. En dan is 'n geskikte helper soos Onésimus nie te versmaai nie. Veral omdat Paulus as 'n gevangene wel baie vryhede gehad het, maar tog op die een plek moes bly. Hy moes alles per brief en deur middel van 'n boodskapper verrig.

Tog doen Paulus afstand van Onésimus en stuur hom terug na sy vroeëre heer. Omdat hy geleer het dat in Christus alle geskonde verhoudinge herstel word. Omdat hy skerp insien dat Onésimus wat op 'n verkeerde manier weggegaan het, ná sy bekering terug moet na die plek waarvandaan hy gekom het - die huis van Filémon. Waar sy revolusionêre neigings hom opstandig gemaak het, na dieselfde plek wil Christus hom weer teruglei en daar wil die apostel hom laat bly.

Want dit is die wil van God.

Daar is soms beweer die christelike geloof is 'n leer vir die verdruktes, 'n soort godsdienstige kommunisme; die Evangelie is voorgestel as 'n mag wat die kant van die verdrukte en vergete groepe van die aarde kies. In hierdie trant is daar in die loop van die tye baie goedgepraat wat maar net verkeerd was in die oë van die HERE. Want die Evangelie kies geen party in 'n sondige spanning tussen here en slawe of in 'n sondige stryd tussen maghebbers en verdruktes nie. Niemand het die reg om Christus vir wanverhoudinge van die kant van slawehouers of maghebbers aanspraaklik te stel nie.

Maar elkeen mis ook die reg om in die naam van die Evangelie die rewolusie in watter vorm dan ook, goed te praat. Want rewolusie is niks anders as 'n sondige antwoord op moontlik ook wel sondige toestande. Baie mense vergoeilik dit. Ons is onreg aangedoen en nou gaan staak ons. Daar is niks wat ons, sondige mense, meer gepas voorkom as om 'n rewolusionêre antwoord op rewolusioêre dade te gee. Mense vind dit gewoonlik baie vanselfsprekend.

Maar Paulus staan daar in die tronk en in sy ouderdom (vs 9) graag 'n medewerker vir af om hierdie droom te versteur. So mag dit nie gebeur nie, dit is nie uit Christus nie. Selfs nie t. a. v. 'n mensonwaardige instelling as die slawerny nie. Paulus sal dan ook later aan Timotheüs skrywe: Almal wat onder 'n slawejuk is, moet hulle eie here alle eer waardig ag, sodat die Naam van God en die leer nie belaster mag word nie (I Tim. 6: 1).

En daarom stuur hy nou Onésimus, die weggelope slaaf met 'n briefie op pad - terug na die huis van Filémon. Onésimus moet die smaad wat hy deur sy vlug aan die Naam van God aangedoen het, wegneem. Die Evangelie word verheerlik deurdat alle opstandige gedagtes in die hart van Onésimus tot swye gebring is.

II. Op die grondslag van die broederskap van die kerk word geskonde maatskaplike verhoudings herstel. In die tweede plek wil ons nou sien dat hierdie slaaf as 'n broeder ontvang kan word.

Christus het Onésimus bekeer sodat hy nou 'n bruikbare mens is. Maar nou kom daar nog 'n moeilikheid aan die ander kant. Christus stuur die slaaf na sy baas terug - nou moet die heer ook bereid wees wees om hom, Onésimus, te ontvang.

U begryp wel hoe moeilik dit vir Filémon was. 'n Weggelope slaaf is in daardie tyd swaar gestraf. Die eienaar kon eintlik vrylik besluit hoe hy sy gedroste lyfeiene wou bestraf. Soms is 'n yster halsband om sy nek gesit met 'n opskrif soos: ek is 'n vlugteling, hou my vas. In ander gevalle is letters as merk op voorhoof, hande en voete ingebrand. As 'n slaaf weggeloop en weggebly het, het dit boonop 'n aansienlike skade in die destydse maatskappy tot gevolg gehad. Hoe baie onproduktiewe ure moes die heer konstateer as gevolg van hierdie daad van sy lewende eiendom? Daar was dus aanleiding genoeg om streng te straf.

En die amptelike regsvoering, die sedes en die toenmalige maatskappy was alles ten gunste van die meester as hy sy weggelope slaaf hardhandig gestraf het.

Maar... Filémon was 'n christen. Dus 'n mens wat deur Christus uit sy ou heidense lewenswandel losgetrek was en wat nou in die lig van die genade mog leef. Ja, 'n broeder van wie Paulus groot blydskap en troos ondervind het, omdat deur hom die harte van die heiliges verkwik is (vs 7).

Hoe hy dit gedoen het, word nie vermeld nie. Maar moontlik het hy deur geldelike bydraes of andersins die gemeente baie gehelp. Die liefde tot Christus maak die harte en ook die beursies vir ander oop. In elke geval, die apostel het op grond van die gedrag wat hy van Filémon meegemaak het vrymoedigheid om die saak van Onésimus by hom te bepleit. Want die deelname aan die geloof maak ander mense. Dit genees opstandige sentimente by die slaaf Onésimus en dit doen ook 'n liefdesberoep op die hart van 'n meester wat redes gehad het om baie verontwaardig te wees.

Paulus beveel nie in hierdie saak nie. Dit is inderdaad passend vir Filémon om Onésimus nie met die sambok nie maar as 'n broeder te ontvang. Die apostel doen egter liewer 'n versoek tot so 'n behandeling. Filémon mag gerus weet dat God gewillig en nie uit dwang gediend wil wees nie. Filémon moet verstaan dat die goeie wat in Onésimus (en in Paulus) gewerk is, uit Christus is. En hy moet ook verstaan dat Paulus daarom hierdie geliefde kind wil terugstuur, ondanks sy hulpbehoewende omstandighede.

Want as Paulus Onésimus sondermeer by hom hou, dwing hy Filémon om hom in hierdie saak ter wille te wees. Onésimus is mos die slaaf van Filémon? Maar bly om Paulus te help, lyk dit of Paulus 'n arbeidskrag afdwing.

Sê nou maar Paulus sou geskryf het: ek hou Onésimus hier by my want dan kan hy my in u naam van diens wees. Ja, dan sou Filémon wat ook deur die arbeid van Paulus tot geloof gekom het, sekerlik nie die moed gehad het om 'n kwaai brief terug te skryf nie. Nee, baie moontlik sou Filémon hom dan hierin geskik het. Sy liefdevolle hart het mos uitgegaan na Paulus wat in die tronk was. Maar dan sou tog ook die moontlikheid daar wees dat onaangename gedagtes in Filémon se hart jeens Paulus agtergebly het. En in elke geval sou daar dan geen eie liefdesbeweging by Filémon vir Onésimus gewees het nie. En spesifiek op die eie beweging stel Paulus so 'n hoë prys.

Daar word in die kerk nie gekommandeer nie, maar daar word in die kerk vermaan.

Want Christus wil eie liefdeswerke sien. Paulus kan die taak van vergewing en broederlike behandeling t. a. v. Onésimus nie van Filémon oorneem nie. Die besondere amp verdring nooit die algemene amp nie, maar stimuleer dit tot eie taak.

Filémon moet dit self ondervind dat Onésimus oor 'n tydjie voor hom sal staan met 'n briefie van Paulus en Timotheüs in die hand. Filémon moet dan die teruggekeerde, verlore gewaande slaaf begroet soos iemand wat teruggevind is. Filémon se ontvangs van Onésimus moet die beeld vertoon van die Vader wat sy verlore seun met vreugde begroet. Want miskien was hy wel daarom 'n tydlank weg sodat hy hom vir altyd terug sou kry. Nie meer as 'n slaaf nie, maar meer as 'n slaaf, nl. as 'n geliefde broeder.

Regte liefde van twee kante. Die liefde van broeder tot broeder wat die ontmoeting tussen hulle tot 'n vreugde sal maak in Christus. Ontvang Onésimus as 'n broeder in die vlees sowel as in die Here (vs 16). Paulus voeg dit maar toe. Vir mense wat dink dat die broederskap op Sondag by die kerkdeur afgehandel is, moet dit herhaal word: broeder in die vlees en in die Here.

Die lewe in gemeenskap met die HERE, dit is met Christus, omspan immers alles - daar staan die verhouding heer-slaaf nie buite nie. Dis net ons mense wat 'n listige onderskeid sal maak tussen die gewone lewe in die aardse verhoudinge onder mekaar (die lewe in die vlees) èn die lewe in die HERE. En daarom noem Paulus daardie twee maar in een asem: broeder in die vlees en broeder in die HERE. Broeder in die geloof, maar dan ook by die werksplek.

In 'n maatskappy wat doodsiek is omdat Gods gebooie vertrap word, in so 'n maatskappy wil Christus die lewe onder die broeders gesond maak. Sal ons dit nooit vergeet nie?

III. Op die grondslag van die broederskap van die kerk word maatskaplike verhoudinge wat geskend is, herstel. In die derde plek sien ons nou dat net op hierdie manier die pad na 'n nuwe samelewing gebaan word.

Miskien is u 'n bietjie teleurgestel deur die brief van Paulus. Die apostel gee mos nie 'n program tot bestryding van die slawerny nie. Hy vra nie eens of Onésimus sy vryheid kan kry nie. Alles bly dan tog eintlik maar gelyk en is dit nou wel die moeite werd om daaroor te stry of te skrywe? Ja, Onésimus word weer deur Filémon ontvang, soos ook Paulus self. En 'n mens lees niks oor harde woorde, woede-uitbarstinge of selfs 'n drag slae nie. Maar die volgende dag doen Onésimus sy werk weer in die bedryf of in die besigheid van Filémon.

Inderdaad, hy wat dink dat die wêreld sommer skielik verbeter moet en kan word, kom met Paulus nie klaar nie.

So is die Evangelie nie en so werk die HERE nie. Christus begin nie deur ons honger en kommer weg te neem nie, maar Hy dra die oorsaak van ons ewige honger en kommer, nl. die sonde weg na die kruis. Christus het die saak van die wêreldellende in die wortel aangetas. En dàn, ja waar begin Hy dan met die herstel van die lewe? Christus volg daarvoor 'n heeltemaal ander pad as wat ons sou dink. Hy doen dit nl. deur deelname aan die geloof.

Kyk, van daardie ware nuwe begin wil die wêreld nie weet nie. Mense begin met die skuld te gee aan die maatskappy, aan die stelsel. Daar word skuldiges aan-gewys wat daarvoor moet boet. Die stelsel of die rykes dra die skuld.

So word die rewolusie-storm in die harte ontketen.

Baie dink dat alle maatskaplike kwale deur wette of reëls genees kan word. Maar terwyl hulle dit bedink word die eie pad van Christus verwaarloos en dit is die enigste pad! Die weg van die deelname aan die geloof wat meteens die pad van die vergadering tot die gemeente van Christus is.

Filémon kan Onésimus as 'n broeder ontvang toe ook hy tot geloof gekom het. Altwee is deur die Evangelie wat deur hom verkondig is, kinders van die een Paulus. Dieselfde diens van die Woord verenig hulle en bring hulle na mekaar toe, desnoods oor seeë heen, ja, oor 'n kloof wat vir mense onoorbrugbaar is. Sodat Filémon Onésimus vir altyd terugkry, soos vs 15 sê. Paulus lê dus geen plofstof onder 'n maatskappy wat volgens hom bouvallig is nie. Maar hy lê die Evangelie van die Koninkryk in die kerk, soos 'n vrou 'n klomp suurdeeg in die meel.

Suurdeeg, geen plofstof nie, só is die werkwyse van Christus. Die harte moet verander word onder die broeders!

En dan kom daar op God se tyd ook 'n ander, 'n betere wêreld. Alle ander gedagtes is onwerklik. Maar eendag kom daar 'n wêreld waarop die geregtigheid woon, d. w. s. waar die geregtigheid orals heers!

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)