In die laaste dae word die waarheid bedreig deur skynheiligheid

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
II Timótheüs 3
Preek Inhoud: 

PREEK OOR 2 TIMOTHEUS 3: 8 EN 9

LITURGIE:
L. 2 Tim. 3: 1-4: 5
Ps. 94: 9, 12
Ps. 94: 6
Ps. 73: 2, 4, 7, 8
Ps. 37: 4, 5, 22
Ps. 12: 2, 3, 7

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Paulus noem in ons teks twee name wat u verder nêrens in die Bybel sal lees nie: Jannes en Jambres. Maar ons weet gelukkig wel van wie hy praat. Volgens die owerlewering van die Jode was Jannes en Jambres die leiers van die Egiptiese towenaars aan die hof van die Farao met wie Moses en Aäron te make gekry het toe hulle vir die Farao opgeroep het om hom te onderwerp aan die HERE, die God van Israel. As 'n egte Jood en boonop 'n leerling uit die skool van rabbi Gamaliël het Paulus natuurlik hierdie name leer ken.

Moontlik het daardie twee towenaars in werklikheid ander name gedra, en is die name Jannes en Jambres maar net simboliese name wat in die Joodse tradisie later aan hulle gegee is. Jannes beteken naamlik soiets soos: Teëstander en Jambres: Hy wat jou probeer keer.

Want so onthou God se volk daardie towenaars van die Farao: mense wat gedugte teëstanders van Moses en Aäron geblyk het, wat alles in die stryd gewerp het om te keer dat die Farao sou swig vir God se aansprake op Israel.

Hulle was tot heelwat in staat. Ook hulle kon, soos Aäron, hul kieries in 'n slang verander, ook hulle kon water bloed laat word, ook hulle kon paddas tevoorskyn bring....

Moet maar reken dat hulle met hul prestasies wat nie vir Moses en Aäron s'n ondergedoen het nie, heelwat verwarring gestig het.

Daardie Jannes en Jambres het lank gelede geleef. Aan die begin van die geskiedenis van God se volk.

Maar nou sê die apostel Paulus in ons teks: daar is steeds mense soos Jannes en Jambres. Ook vandag nog, in die laaste dae van die kerkgeskiedenis, sal die kerk met sulke tipe van teëstanders te make kry wat aanvanklik baie indruk maak en verwarring stig.

Waaraan dink die apostel? Waaraan moet ons dink? Het u al sulke teëstanders raakgeloop?

Laat ons luister na die waarskuwing in ons teks wat terselfdertyd 'n bemoediging bevat.

As ek dit probeer saamvat is dit die boodskap van ons teks:

IN DIE LAASTE DAE WORD DIE WAARHEID BEDREIG DEUR SKYNHEILIGHEID

  1. DIE SKYN KAN MISLEI
  2. DIE SKYN SAL VERDWYN.

1. Om te kan begryp van wie Paulus in ons teksverse praat, watter mense dit is wat ons met Jannes en Jambres kan vergelyk, moet ons ons tekshoofstuk by vs. 1 begin lees, broeders en susters.

Swaar tye stel die apostel ons in die vooruitsig: "Weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom". En die laaste dae sal nie eers aanbreek kort voordat die Here Jesus na die aarde terugkom nie. Nee, uit die vervolg van wat Paulus skryf word dit al gou duidelik dat die laaste dae klaar aangebreek het. Die laaste dae het begin toe die Heilige Gees van Christus op God se volk uitgestort is. Toe het die laaste gedeelte van God se geskiedenis met sy wêreld aangebreek. God se Gees gaan nou sy kragte ontplooi om die nuwe aarde met die nuwe volk te laat kom.

Maar ons moet wel weet, dat in hierdie laaste dae ook die duiwel sy laaste téénkragte ontplooi om nog soveel skade as wat maar moontlik is aan Christus se kerk te berokken. Want hy weet baie mooi dat hy maar min tyd meer het.

En hy kry, ten spyte van die werk van die Heilige Gees, nog heelwat reg! Ons moet sy gevaarlike aanwesigheid nie onderskat nie.

"Let Wel!", waarsku Paulus heel nadruklik: "daar sal in die laaste dae swaar tye kom". Want kyk hoe sal die mense danksy die werk van die duiwel wees!

En dan volg daar 'n uitgebreide tipering van die mense in die laaste dae. Dus ook die mense in óns dae. En dis dan ook nie so moeilik om die prentjie wat hier geteken word orals om ons heen te herken nie.

Jy sien by hulle presies die teenoorgestelde van dit wat die HERE in sy wet van ons vra. "Jy moet die HERE jou God liefhê bo alles en jy moet jou naaste liefhê soos jouself" lui die samevatting van God se wet. Maar die mense sal wees:

"Liefhebbers van hulleself". Die mens plaas homself in die middelpunt en die HERE en die naaste kom eers op die tweede of derde plek. Maar op die ou end is daar glad nie meer 'n plek vir die HERE en die naaste nie.

Maar as God se goeie wet jou lewe nie meer beheers nie, breek alle sondes na buite, dan word die lewe soos die HERE dit vanaf die paradys bedoel het en soos die Heilige Gees dit weer vir ons leer, heeltemal onderstebo gekeer: "on- gehoorsaam aan hulle ouers" word dan die mense, "on-dankbaar, on-heilig, sonder natuurlike liefde, on-versoenlik, bande-loos, sonder liefde vir die goeie, roeke-loos...... ". Alles tiperings van 'n ab-normale lewe. 'n Lewe waarin die mens maar net meer homself sien en al hoe meer selfingenome raak. Kyk hoe spog hy oor homself en sy besittings, sy prestasies.... "Grootpraters, trotsaards, verwaand". Maar met betrekkings tot ander mense: "lasteraars, kwaadsprekers,, wreed, verraaiers... ".

So sal die mense wees in hierdie laaste dae van God se wêreldgeskiedenis, broeders en susters. Met sulke mense kry ons en ons kinders te make, gister, vandag en môre. Ons moet maar daarop voorbereid wees.

"Die mense", skryf Paulus baie algemeen.

Waar loop ons sulke mense raak? In die bose wêreld rondom ons? By die moderne heidendom? By ateïste en brutale godloënaars?

Ja, sonder twyfel. Maar nie net daar nie. U kan hulle ook in die kerk of in die nabye omgewing van die kerk raakloop!

Dit maak die waarskuwing van Paulus hier des te ernstiger: die duiwel los nie die kérk uit in sy pogings om die werk van die Heilige Gees weer ongedaan te maak nie. Daar sal ook mense wees wat hul normloosheid en in feite goddeloosheid baie mooi kamoefleer agter 'n vrome skyn. Kyk wat skryf die apostel in vs. 5: daar sal in die laaste dae ook mense wees "wat 'n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het". Die Nuwe Vertaling lees: "Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie".

Oënskynlik is hulle christene, hulle kan selfs baie meelewende kerkmense lyk, hulle kan heel vroom met jou gesels, maar dit alles is net 'n baie dun vernis. Want hulle het die "krag van die lewe met God verloën". Ja, Paulus gebruik die werkwoord "verloën" asof hy van 'n persoon praat. Hy bedoel feitlik ook 'n Persoon. Wat is mos die krag agter ons lewe met God? Watter krag bewerk by ons 'n regtig godvresende lewe? Dit is mos die krag van die Heilige Gees van ons Here Jesus Christus! Dié skyn-heilige mense waarvoor Paulus waarsku, het die skyn van 'n godvresende lewe behou, maar het lankal hul rug gedraai op die Bewerker van so'n lewe: die Heilige Gees. Die Woord van die Gees beheers nie meer regtig hul lewe nie.

Dis dié dat Paulus in ons teksverse, vs. 8, ook kan sê dat hulle "verdorwe in hulle verstand" is. U sal daardie uitdrukking dalk die beste gaan verstaan as u dit vergelyk met wat Paulus in sy brief aan die Romeine, hoofstuk 12 geskryf het. Kom ons kyk gou saam. In vs. 2 klink daar die oproep: "Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed (daar staan eintlik: verstand), sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is".

Dis die Heilige Gees wat so'n vernuwing van ons verstand by ons bewerk. Maar by daardie skyn-heilige tipe mense waarop Paulus in ons tekshoofstuk wys, het so'n vernuwing nooit regtig plaasgevind nie. Ten spyte van die vrome skyn is hul denke ewe verdorwe as by die mense van hierdie wêreld. Hul "geloof" kan die toets dan ook nie deurstaan nie. As jy deur die uiterlike skyn heenprik, sal dit blyk dat daar nie eintlik geloof was nie.

Hierdie tipe van mense kan ons dus in ons direkte omgewing raakloop.

En hulle is volgens Paulus 'n groter gevaar as die "bose wêreld". Veral hulle sal die laaste dae vir God se kinders tot swaar tye kan maak.

Waarom?

Wel, hulle kan sommer 'n gevaarlik misleidende invloed in Christus se gemeente kry. Kyk vs. 6: "Uit hulle is die wat in die huise insluip en arme vroue gevange neem.... ". Heelwat skynheilige mense sal hul eie gang gaan en so lank as moontlik net vir hulleself die skyn probeer ophou. Maar daar sal ook wees wat 'n baie invloedryke posisie in kerklike kringe sal probeer verkry. En hulle rig hul by voorkeur op die swakkeres, die meer kwesbare mense wat makliker ontvanklik is vir hul vrome praatjies.

Paulus skryf aan sy medewerker in Efese, Timotheüs, oor "vroutjies wat met sondes belaai is en deur allerhande begeerlikhede gedryf word, wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie". Dametjies met 'n slegte verlede en daarom 'n slegte gewete, wat hulle egter nooit ten volle aan ons Heiland oorgegee het nie. Hulle is "soekende siele" wat oopstaan vir enige godsdienstige handreiking sonder om regtig die waarheid van God se Woord te aanvaar. Juis sulke mense is 'n maklike prooi vir die wat met hul skynheiligheid invloed probeer verkry. Juis by sulke soekende siele kan die skyn sommer mislei.

Hulle probeer jou in hul skynwêreld in trek sodat jy die regte sig op die werklikheid verloor. Hulle probeer om jou die gesig op Gód se werklikheid te beneem, sodat jy Hom nie meer raaksien nie, en sy Seun nie en die werk van sy Heilige Gees nie. Hulle laat jou, ten spyte van hul vrome praatjies, toenemend jou ore sluit vir die Woord van die Waarheid, die Evangelie van God.

En hiér maak die apostel dan die vergelyking met Jannes en Jambres, gemeente.

Net soos Jannes en Jambres staan daardie skynheilige verleiders die waarheid teë.

Want wie was daardie Jannes en Jambres? Hulle was nie net 'n paar onskuldige goëlaars nie. Hulle het 'n groot verwarring in die Farao se paleissaal gesaai toe hulle in staat was om presies dieselfde wondertekens as Moses en Aäron te doen. 'n Slang so hipniotiseer dat hy 'n hele ruk so styf soos 'n stok bly staan- dit het baie magiërs reeds gepresteer. Maar andersom: 'n egte stok sommer in 'n slang verander- dit was nog nooit vertoon nie. Moet u die skok probeer voorstel wat Moses en Aäron en die verteenwoordigers van die Israeliete wat dalk saamgekom het, skielik moes verwerk: toe Aäron sy kierie op die grond gegooi het en daar sommer 'n slang geseil het, het hulle met 'n glimlaggie na die Farao gestaan en kyk. Was daar 'n duideliker legitimasie nodig dat hulle die knegte van die Allerhoogste God was? Die HERE is God en niemand meer en ook Farao sal voor Hom moet buig.

Maar hul selfversekerde glimlaggie verdwyn ewe skielik as daar 'n oomblik later sommer 'n hele aantal slange oor die paleisvloer seil. Jannes en Jambres hulle blyk in staat te wees om 'n ewe indrukwekkende teken as Moses en Aäron te verrig! En daarmee het die effek van die legitimasie van Moses hulle feitlik verdwyn. Is God die HERE regtig die Allerhoogste God?? Of is Hy net een van die vele gode wat daar in die wêreld is? Op wie moet 'n mens nou staatmaak? Aan wie se boodskap moet 'n mens jou nou uitlewer?

So het Jannes en Jambres eendag verwarring gesaai en die waarheid teëgestaan.

So kan die duiwel -want hy was natuurlik die krag agter Jannes en Jambres se verbysterende optrede- ons van stryk bring en ons oë met indrukwekkende skyn vir die waarheid toemaak. Selfs die satan kan hom in 'n engel van die lig verander.

Kyk, en daarvoor wil Paulus ons oë oopmaak in hierdie hoofstuk. "Weet dit", so het hy hierdie hoofstuk begin: Nota Bene, Let Wel!. Daardie gevaarlike satan is steeds daar. En die oorlog wat Hy teen Christus en sy kerk voer, gaan nog steeds aan. Dit het net al hoe grimmiger geword. Maar satan se taktiek is basies nog presies dieselfde: verwarring saai deur bedrieglike skyn-heiligheid.

Hy kan mense in die stryd werp wat allesins godsdienstig en godvresend lyk en wat skynbaar die waarheid in pag het. Maar inderwaarheid is hulle besig om jou oë toe te maak vir die waarheid. Inderwaarheid probeer hulle jou saamsleep in 'n goddelose en selfgesentreerde lewe in. Hulle probeer jou "gevange neem", krygsgevange maak sê Paulus eintlik met 'n oorlogsterm, om ons terug te kry in die kamp van die satan.

Die satan vertoon hom aan ons in die gedaante van kerklike leiers wat dik boeke skryf, wêreldkonferensies belê en bywoon, vraaggesprekke op die televisie en die radio en vir koerante voer, maar by alle mooie skyn lankal vasgevang is in die greep van die verwêreldliking geraak het. Die uiterlike skyn van godsdienstigheid is steeds daar, maar die Heilige Gees het nie eintlik meer 'n plek in hul lewe nie.

Die satan werp televisiedominees in die stryd wat meeslepende kan preek maar onderwyl so veel moontlik geld uit jou sak probeer ja en hulleself aan seksuele uitspattinge te buite gaan.

Die verleidelike skyn kom na ons toe in die gedaante van allerlei sektes vandag, veral ook in ons land. Uiterlik is dit die ene vroomheid en heiligheid. Daar gebeur selfs opvallende wonders van genesings en voorgangers spog daarmee dat hulle in engeletale kan praat, visioene gesien het en regstreekse boodskappe van die Heilige Gees ontvang het. Party van ons kinders in die Oos Moot-hoërskool het daar verlede week nog mee te make gekry tydens 'n gesprek in een van die klasse.

Maar al daardie opvallende dinge wat die aandag trek, trek die aandag algaande weg van dit wat die Heilige Gees regtig in die Skrifte tot ons sê, met as gevolg dat talle sektemense na 'n rukkie ook heeltemal in die wêreld terugval.

Laat ons besef dat die satan met sy skynheiligheid ook óns bedreig, broeders en susters, en ons kinders. Die skynheiligheid kan ook sommer in die gemeente, in u huise en gesinne binnesluip en invloedryke lidmate oormeester. As ons nie op ons oppassens is nie, is ons gevange geneem, krygsgevange gemaak voordat ons dit self besef. U kan in u eie huis gearresteer en in u eie leunstoel buite geveg gestel word as u argeloos word en die verleiding onderskat.

En dan is dit maar 'n klein stappie verder en ons het self skynheilige mense geword wat as sodate van die satan weer ander mense probeer verlei.

Dan word Ek en u ook mense word wat in die kerk die waarheid teëstaan omdat ons al hoe meer die Heilige Gees verloën en nog slegs met 'n gedaante van vroomheid onsself in die gemeente wil laat geld. U kan vir u eie kinders 'n gevaar word as u opvoeding deur nie meer as net 'n uiterlike skyn van vroomheid beheers word nie.

2. Laat ons daarom Paulus se waarskuwing ter harte neem en onsself wapen teen die verleidelike skyn van die bose.

Paulus reik die wapens as 't ware aan in die verse na ons teks. Sien veral vs. 14 e. v. Ons moet ons nie aan die skyn verkyk nie maar bly in wat ons geleer het waarvan ons verseker is. Die Skrifte waarin die meeste van ons van kleins af onderrig is, moet ons lewe en denke bly beheers. Saam in die gesinne met God se Woord besig bly om die skyn te kan ontmasker, met ons kinders praat oor die verleidelike skyn wat hulle in die hoërskole en die universiteite raakloop; saam as gemeente in die diverse verenigings God se Woord bestudeer en met die aktualiteit konfronteer, voorkom dat die kykkas in ons huise die boekekas gaan vervang en voorkom dat ons maar net koerante en tydskrifte te sien kry wat wel 'n uiterlike skyn van godsdienstigheid het maar die krag van die godsdiens nie ken nie....

En ons as dominees moet bly studeer en preek, die katkisante deeglike kennis van die gesonde leer van die kerk bybring, kursusse gee om die lidmate ekstra toe te rus vir hul stryd teen die bose en sy ryk. Die ouderlinge en diakens moet maar trou hul huisbesoeke doen en konkreek en indringend praat oor die krag van die lewe met die Here en die verleidelikheid van die skyn.

As ons so maak, word ons nie deur die skyn gevang nie, maar sal ons nugter tussen skyn en waarheid kan bly onderskei. Dan sal ons ook gaan raaksien dat daar 'n grens aan die mag van die satan en sy soldate is en dat God op sy tyd die dwaasheid van hul skynvertoning vir almal sal duidelik maak.

Kyk nog 'n bietjie na daardie Jannes en Jambres, sê Paulus: hulle kon inderdaad heelwat regkry. Op die eerste gesig baie misleidend.

Maar feitlik was dit nie meer nie as net 'n imitasie van God se wondertekens deur Moses en Aäron. 'n Imitasie wat hulle ook nie baie lank kon volhou nie. Toe die waarskuwende tekens in grimmige plae verander het: muskiete, haelstorms ens. was die moontlikhede van Jannes en Jambres lankal uitgeput.

En hul dwaasheid is wel die mooiste deur God aan die kaak gestel by daardie slangewonder. Ja, ook hulle kon hul kieries in slange verander en Moses en Aäron hulle het inderdaad 'n oomblik verbluf gestaan en kyk. Maar nie vir lank nie. Want wat het toe gebeur? Aäron se slang gaan tot die aanval oor en verslind die een na die ander van Jannes en Jambres se slange. Sodat daar op die ou end nog maar net die een slang van Aäron oor Farao se paleisvloer seil. In Exodus 7 staan dit eintlik nog mooier beskrywe, broeders en susters: nie: Aäron se slang het hul slange verslind nie; maar: Aäron se staf het hul stawe verslind! Met ander woorde: aan die einde van die dag is nie net hul slange weg nie, maar moet hulle selfs sonder hul stáwe huis toe. Wanneer Aäron sy slang weer by die stert vat en skielik weer sy kierie in die hand het, staan hulle heeltemal met leë hande. Alle skyn het in een keer verdwyn en Jannes en Jambres moet as belaglike dwase afdruip.

So sal die HERE op sy tyd ook in ons dae die skyn verskeur en die dwaasheid van die skynheiliges vir almal duidelik laat word. Eendag sal duidelik word dat daardie skynheiliges self met leë hande staan en jou aan die einde van die dag met leë hande agterlaat. Die skynheiligheid kan 'n hele ruk opslae maak, aan die einde van die dag word dit deur God self as dwaasheid ontmasker.

Met dié wetenskap mag ons lewe, gemeente. Met die wetenskap mag ons ons kinders wapen. Die laaste dae is nie die maklikste nie. Ons moet reken op swaar tye. Maar selfs deur die swaarste donderwolke bly daar vir ons 'n sonnestraal wat 'n weersverbetering vir ons belowe.

Want ons ken vir Jannes en Jambres en hul name bevat wel 'n waarskuwing maar veel meer nog 'n troos: al loop die leuen nog so snel, die waarheid agterhaal hom wel.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)