Die huwelik is 'n skeppingsgeskenk van God

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Timótheüs 4
Preek Inhoud: 

Chris Engelbrecht en Willemien Nauta: Huwelik 15 Mei 1993

Ps 33: 1, 2
Ps 33: 11
Ps 47: 1, 2, 3, 4
Ps 121: 1, 2
Ps 121: 3, 4
Lees: 1 Tim 3: 14 - 4: 5
Teks: 1 Tim 4: 4, 5

Bruidspaar, familie en vriende, broeders en susters,

Ons is vanmiddag hier vir 'n feestelike geleentheid.

Die huwelik van Chris en Willemien word vandag bevestig.

Vir die geleentheid is die kerk versier met blomme, die bruilofsgaste is mooi aangetrek, en last but not least vorm bruid en bruidegom die stralende middelpunt van die belangstelling.

Dit is mos vir hulle dat hier vanmiddag 'n samekoms gehou word. Hulle sal mekaar in die openbaar hul ja-woord gee en dit is een van die mees ingrypende gebeurtenisse in 'n mens se lewe.

Dat hulle mekaar die ja-woord in die kerk wil gee is daarby baie betekenisvol, want daarmee maak die bruidspaar duidelik dat hulle hul huweliksbeloftes nie net vir mekaar wil gee nie maar dat hulle bewus daarby die Here as 'n Getuie betrek.

Ons sou dieselfde ding ook van 'n ander kant kon benader.

Van die kant van die Here. Hy wil self daarby wees as kinders van Hom 'n huwelik aangaan.

Want Hy het iets oor die huwelik te sê.

Daarom het ons vanmiddag 'n gedeelte uit die Bybel gelees. Daar lees ons dat alles wat God geskape het, goed is om met danksegging te gebruik.

In hierdie bybelgedeelte word daarby dan heel spesifiek aan die huwelik gedink. Immers die huwelik is 'n skeppingsgeskenk van God.

Hy het dit bedink. Dit het Hom goedgedunk dat man en vrou in 'n lewenslange verbintenis as egpaar by mekaar sal bly.

Hy wil dit vir hulle as 'n geskenk gee.

Maar dit is wel 'n geskenk wat enige toeligting nodig het.

Mens sou kon sê: Die Here gee by hierdie geskenk 'n gebruiks-aanwysing.

As jy die present wat die Here in die huwelik gee, goed wil gebruik, dan sal jy eers die gebruiksaanwysing sorgvuldig moet lees.

Daarom wil ons, voor ons oorgaan tot die huweliksluiting eers saam luister na wat die Here oor die huwelik sê.

Ons tema vir die preek is:

Die huwelik is 'n skeppingsgeskenk van God

Dit word geheilig

  1. deur die woord van God
  2. deur die gebed tot God

In ons tema noem ons die huwelik 'n skeppingsgeskenk van God. Dit doen ons n. a. v. ons teks waar Paulus die huwelik noem as 'n saak wat deur God goed geskape is.

Paulus het nogal rede om so oor die huwelik te praat in sy brief aan Timoteus.

Timoteus is 'n leerling, 'n helper van Paulus.

Op jong leeftyd is aan hom die sorg vir die gemeente van Efese toevertrou. Dit is vir Timoteus nie 'n eenvoudige taak nie.

Want binne die gemeente is 'n groep mense aktief wat 'n bepaalde dwaalleer aanhang.

In die verse wat aan ons teks voorafgaan blyk dat die lerings wat die dwaalleraars verkondig, veral te make het met die gebruik van seker voedsel en die siening op die huwelik.

Met betrekking tot voedsel word beweer dat dit nie toegestaan is vir 'n christen om jou voedsel te geniet nie. Jy kan maar iets eet as jy dit nodig het, maar alles wat lekker is behoort jy as 'n christen te vermy want dit trek maar net jou aandag van die hemel af na die aarde en wat 'n mens daar kan geniet.

'n Soortgelyke redenering het hulle ook gehad oor die huwelik.

As jy werklik geestelik wil lewe behoort jy nie te trou nie.

As jy werklik die Here wil dien is die huwelik vir jou nie 'n opsie nie.

Wil u weet hoe Paulus oor hierdie tipe redenerings dink?

Lees maar in vers 1: Dit is 'n dinktrant van verleidende geeste, 'n aanhang van leringe van duiwels. Hy noem dit geveinsdheid van leuenaars, wat gebrandmerk is in hul eie gewete.

U hoor hoe skerp Paulus hier reageer. Verleidende geeste, leringe van duiwels. Dit is nogal 'n hele ding om so te praat oor mense wat op hul manier tog ook God wil dien.

Waarom so skerp?

Laat ons iets meer vertel oor die agtergrond van hierdie dwaalleer.

Hulle beweer dus: 'n Gelowige mag nie trou nie. In die gemeente van Christus behoort almal ongetroud te bly. Hulle leef almal saam as broers en susters sonder dat daar sprake is van 'n huweliksgemeenskap.

Want sê hulle, in 'n huwelik speel die liggaamlike aspek altyd 'n groot rol. En daarvoor is 'n christen te geestelik.

God het jou verlos van die verlangens van jou liggaam. Daarom kan daar binne die gemeente geen plek wees vir onderlinge huwelike nie. Ons is daarvoor te geestelik.

Dit was die teorie van die dwaalleer. Maar nou die praktyk.

Hoe kan mense van vlees en bloed so'n leefwyse volhou?

Mans en vrouens het tog ook hul seksuele verlangens? Wat daarvan?

Hoe moet 'n mens daarmee omgaan?

Wel, daarop het die dwaaleraars wel 'n antwoord gehad.

Daarvoor soek jy dan maar 'n oplossing buite die kerk.

Gaan besoek 'n hoer en bevredig jou seksuele behoeftes.

Want dit is maar net 'n saak van die liggaam.

Dit beteken vir jou geloof net soveel as 'n besoek aan die kapper om jou hare te laat sny.

As ons hierdie agtergrond het, dan verstaan ons hoekom Paulus so skerp reageer op hulle siening op die huwelik.

Wat hulle beweer is leringe van duiwels, dit is geveinsdheid van leuenaars!

Geveinsdheid- dit is huigelary. Met 'n beroep op vroomheid, op 'n sogenaamde geestelikheid, gee jy jou liggaam oor aan seksuele misbruik. Aan hoerery!

'n Skoonklinkende teorie word verbind aan 'n walglike praktyk.

Om te verduidelik wat die Here van die huwelik vind wys Paulus op die Skepping.

Dit is die Here wat die mens as man en vrou geskape het.

Dit is Hy wat Adam in sy alleen wees aangesien het en toe 'n vrou vir hom gegee het wat by hom pas.

As 'n hulp vir mekaar. Juis in hul andersheid kon hulle vir mekaar aanvul.

Dit is dan ook die Here wat die hand van Eva in Adam se hand gelê het, sodat hulle saam 'n egpaar sou wees.

En so is die huwelik 'n skeppingsgeskenk van die Here.

'n Geskenk waaroor 'n mens dankbaar kan wees.

Wat jy ook met met dankbaarheid kan gebruik.

'n Geskenk van God wat met dankbaarheid aanvaar word, kan nooit verwerplik wees nie.

Aan hierdie saak is ook 'n ander kant.

As die huwelik 'n skeppingsgeskenk van God is, dan kan Hy ook bepaal hoe so 'n geskenk gebruik moet word.

Daarvoor moet ons by sy Woord wees.

In sy Woord gee Hy self onderwys oor die huwelik. Ons kan tans nie breed ingaan op alles wat in die Bybel oor die huwelik gesê word nie.

Ons wil nou net u aandag vra vir 'n woord uit ons teks. Die woordjie 'ontvang'.

Die huwelik is 'n geskenk van God wat jy ontvang.

Dit beteken die huwelik is nie iets om te gryp nie, of om te neem nie, maar dit is iets wat jy slegs kan ontvang.

En dit is betekenis vol.

'n Gelowige man, hy neem nie 'n vrou nie. Maar hy ontvang 'n vrou.

'n Gelowige vrou sy neem nie 'n eggenoot nie. Maar sy ontvang een. Van God.

Dit is van groot belang om in die besef jou huwelik te begin.

Want dan ontvang jy 'n magtige ondersteuning vir jou huwelik.

Kyk as jy 'n vrou geneem het, kan jy na 'n tydjie agterkom: Nee, maar ek darem 'n groot vergissing gemaak. Ek het die verkeerde een geneem. Ek sal vir my 'n ander moet kry.

Maar as jy vandag met danksegging aan God 'n vrou ontvang uit Sy hand, dan kan jy sê: Die Here het vir My hierdie vrou wou gee. Daarom wil ek hierdie vrou as sy geskenk bly aanvaar en waardeer.

Dieselfde geld vanselfsprekend vir die vrou wat haar man, hierdie man as 'n geskenk van God ontvang en waardeer.

Hy is God se geskenk vir my. Ek is die geskenk van God vir hom en so wil ek my aan hom gee.

As julle so, luisterend na die Woord van die Here, met mekaar omgaan word die huwelik geheilig, sê Paulus in ons teks.

Let op die woord heilig.

Ons sal die woord ook ontmoet in ons huweliksformulier.

Die huwelik is 'n heilige staat.

As instelling van God is dit heilig.

Maar daaraan moet ek iets toevoeg. Die huwelik moet ook geheilig word.

Dit is julle toekomstige taak as egpaar om jul huwelik te heilig.

Om iets te heilig beteken dit: Jy moet dit gebruik vir sy oorspronklike doel.

God het die huwelik daarvoor bedoel dat dit gebruik sou word om saam die Here beter te kan dien. Om mekaar te ondersteun in die taak wat die Here vir julle op hierdie wêreld gee.

As julle daarvoor die huwelik wat julle vandag begin wil gebruik, dan wag vir julle 'n mooi en ryk huwelik.

Dan het julle jul huwelik geheilig vir God.

Maar as julle in die huwelik net julleself soek, dan sal julle teleurgestel word. Dan sal dit gou gou nie meer werk nie.

Ek sal 'n voorbeeld gee hoe 'n mens iets totaal verkeerd kan gebruik. Sê nou, julle kry vandag van vriende 'n pragtige roomklitser as present.

Maar as julle nou besig gaan met die inrigting van julle huis gebruik julle die ding om daarmee skroewe in die muur te probeer draai. Moontlik werk dit vir 'n kort tydjie, maar binne oomblikke is jul klitser afgeskryf.

Waarom? Julle het die ding nie gebruik vir die doel waarvoor hy ontwerp is nie.

So gaan dit ook met 'n huwelik. Dit is 'n pragtige instrument. Maar gebruik dit volgens die gebruiksaanwysing wat die Here self daarby gegee het.

Gebruik dit vir die doel waarvoor God dit gegee het, namelik om in die huwelik saam Hom te dien.

Dan word die huwelik 'n saak van groot vreugde en blywende rykdom.

2. Dit word geheilig deur die gebed tot God

Om saam te luister na God maak die huwelik heilig.

Maar in die huwelik mag julle ook saam praat met God. In jul gebed. Ook dit dra by aan die heiliging van die huwelik.

'n Gebed is dan in die eerste plek die plek van danksegging. Danksegging dat God julle vir mekaar gegee het.

Let wel daarvoor is geloof nodig. Om vir 'n geskenk dankie te kan sê het jy ook 'n adres nodig waartoe jy jou woorde van dank kan rig.

Die adres is die Here self. Hy wil dat ons dankbaar is vir wat Hy in die huwelik gee.

Immers as jy die Here nie dank vir sy gawes nie, ook nie vir die gawe van die huwelik, dan het ons onmiddellik te doen met misbruik.

As jy die huwelik nie waardeer as 'n godsgeskenkdan het jy in die huwelik self iets geneem. Dan het jy self iets gesoek. Jy het jou eie geluk of jou eie genot gesoek.

Waar dit gebeur gaan jy mekaar neem in die huwelik in plaas daarvan dat julle julle aan mekaar gee.

Dus bruidspaar, vergeet nooit om saam die Here te dank nie.

Vergeet nie om teen Hom te sê: Here ons dank U dat U ons aan mekaar gegee het.

Solank jy dit kan sê is jou huwelik gesond.

Bly steeds dank, want een van die grootste gevare wat in 'n huwqelik dreig, is dat julle later die feit dat julle nou met mekaar getroud is as 'n vanselfsprekendheid aanvaar.

En die gevoel van vanselfsprekendheid is die dood vir 'n vreugdevolle huwelikslewe.

As die man dit heeltemal vanselfsprekend vind dat die vrou daar is om vir hom te sorg dan verloor die huwelik die glans van verwondering en dankbaarheid.

As die vrou dit heeltemal vanselfsprekend gaan vind dat haar man daar is om haar haar deel van die lewe te gee, dan gebeur dit sommer dat julle langs mekaar begin leef sonder dat julle eintlik nog iets vir mekaar te sê het.

Dan kan julle mekaar nie meer korrigeer nie.

Dan kan julle jul saam ook nie meer verbly oor onderlinge ondersteuning nie.

Die geheim van 'n goeie huwelik is dat julle na jare nog daagliks julle kan verwonder oor die heerlike geskenk wat die Here vir julle gegee het.

En dat julle saam julle dank daarvoor aan die Here kan adresseer.

Verder het die gebed wat Paulus in ons teks noem ook nog 'n ander funksie as danksegging.

Die gebed benodig jy ook om van die Here te vra dat Hy die kragte wil bly gee dat julle die huwelik aan Sy doel kan laat beantwoord.

Want hoeveel goeie moed en vertroue die bruidpaaar op die dag van hul troue het, julle sal van mekaar agterkom dat julle tog nie die ideale man of vrou getrou het nie.

Daar kom maar dingetjies wat krap.

Julle is mos twee mense. Onvolmaakte mense boonop.

In die opsig het julle die gebed ook steeds nodig.

Die gebed is die kragtigste middel wat die Here in 'n huwelik gee om die huwelik te beskerm teen die bederf deur die sonde.

As julle daarin slaag om in die gebed saam werklik klein te wees teenoor die Here sal julle ook kans sien daarvoor om klein te wees teenoor mekaar.

Dan kan jy gerus jou tekortkomings erken en 'n plan maak om iets daaraan te doen terwille van die ander.

Wel, so word die huwelik geheilig deur die gebed.

So wil die Here ook julle huwelik gebruik vir die doel wat Hy daarvoor bestem het. Julle mag mekaar opbou in die geloof.

As julle die doel voor oë het, kom julle met mekaar ook reg.

Dan groei julle steeds meer na mekaar toe.

Dan word die huwelik 'n saak van steeds groter vreugde.

Want as die Here sien dat Sy geskenke met dankbaarheid ontvang word, hou Hy nie op om steeds nuwe seëninge te gee nie.

So is die Here nou maar.

Julle sal sien. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)