Ook vir vroue is daar werk in die kerk

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Timótheüs 3
Preek Inhoud: 

PREEK OOR 1 TIMÓTHEÜS 3: 11 EN 5: 3-10

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 101: 1-4
Gebed
L. 1 Tim. 3: 1-11 & 1 Tim. 5: 3-16
Preek oor 1 Tim. 3: 11 en 5: 3-10
Ps. 146: 1, 5, 6
Geloofsbelydenis
Ps. 146: 8
Gebed
Kollekte
Ps. 84: 6

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Is daar tog plek vir vroulike ampsdraers in God se gemeente?

Ons het in 'n vorige preek, oor die slot van 1 Tim. 2 en die begin van hoofstuk 3, gesien dat die Here 'n leer- en regeeramp nie aan vroue opdra nie. Predikant, ouderling- tot die taak roep Hy nie die vrou nie.

Maar is daar darem tog nie plek vir vroulike ampsdraers nie?

Paulus som in hoofstuk 3 'n hele aantal vereistes op waaraan mense met 'n spesiale opdrag in die kerk moet voldoen. Hy noem die vereistes vir oudstes, ouderlinge; hy noem die voorwaardes om as diaken in die gemeente te kan dien. En dan sê hy skielik in vs. 11: "Net so moet die vroue waardig wees..... ".

Heelwat verklaarders het gedink die apostel bedoel hier die vrouens van die diakens. Maar dis 'n snaakse verklaring. Hoekom sou die apostel hier skielik die vrouens van die diakens in sy vereistes om ampsdraer in Christus se gemeente te kan wees, betrek? Hoekom het hy dan ook nie die vrouens van die ouderlinge genoem nie?

Nee, van ouds was die meeste verklaarders dit daaroor eens dat Paulus hier aan vroulike diakens gedink het. Aan diakonesse. In die Griekse taal bestaan daar vir die manlike diaken én die vroulike diaken een en dieselfde woord. Daarom moet die apostel, wanneer hy in sy bespreking van die vereistes vir die diakens ook die diakonesse betrek, wel skrywe: "Net so moet die vroue... ".

Daar is dus ook plek vir diakonesse in die kerk! Nie net manne nie, ook vrou kan tot bepaalde take in die kerk geroep en aangestel word. En as ons die kerkgeskiedenis nagaan, kom ons agter dat daar vanaf die vroeë christelike kerk tot in die Gereformeerde kerke in die 17de eeu in Europa inderdaad diakonesse as offisiële ampsdraers was.

Paulus is in 1 Tim. 3 baie kort oor die diakonesse. Wie vir die taak gekies is, en wat hulle taak was, noem hy nie. Maar hy kan in hfst. 3 so kort wees, omdat hy in hoofstuk 5 uitvoeriger oor hierdie vroulike ampsdraers skryf. En daar blyk dat veral weduwees tot diakones gekies is. Ons mag naamlik aanvaar dat die vroue waarvan die apostel Paulus in hoofstuk 3: 11 praat, dieselfde is as die weduwees waaroor hy in hoofstuk 5 skryf.

Nie elke vrou het dus vir hierdie amp in aanmerking gekom nie. Die diakonesse- amp was net vir 'n spesiale kategorie vroue gereserveer. En selfs elke weduwee kon nie sommer vir hierdie taak gekies word nie. Die apostel stel die eise so hoog dat maar min vroue daaraan kon voldoen.

Waarom?

Omdat die vrou tog eintlik 'n minderwaardige wese is? Minder as die man? Maar net geskik vir die kombuis en die kraamkamer?

Kom ons luister na wat die Woord van die Here ons in hierdie Skrifgedeelte leer aangaande die plek en die taak van die vrou in die kerk.

Saamgevat is dit die boodskap wat ek vir u mag bring:

OOK VIR VROUE IS DAAR WERK IN DIE KERK

  1. DIT BLY 'N EERSTE VEREISTE DAT HULLE HUL EIE HUIS GOED VERSORG
  2. DAAR IS SPESIALE VEREISTES OM GOD SE HUIS MEE TE MAG VERSORG

1. Die gedagte dat daar in die kerk ook vroulike ampsdraers kan wees, is vir Gereformeerde mense maar moeilik aanvaarbaar. Sê die apostel van Christus dit in

1 Tim. 2: 12 nie baie duidelik nie: "Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil, rustig, onderdanig hou"?

En dis ook nie 'n tydgebonde bepaling van Paulus nie: hy beroep hom vir hierdie bepaling op die verhouding soos die HERE self dit in die paradys tussen man en vrou geskep het.

Daarom ken ons in die Gereformeerde kerke geen vroulike leraars of ouderlinge nie.

Maar is daar dan wel plek vir vroulike diakens? !

Kan ons dié amp dan wel vir vroue oopstel?

Sal dit dan in die praktyk nie beteken dat die vroue al gou van die diakenbank na die ouderlingebank opskuif en op die ou end ook die preekstoel beklim nie? Soos ons in so veel kerke om ons heen sien gebeur het. Dink aan die besluite van die onlangs gehoue Algemene Sinode van die NG-Kerk.

Dis dié dat Gereformeerde eksegete in 1 Tim. 3: 11 nie aan vroulike diakens nie, maar liewerste aan die vroue van die diakens wou dink.

Dié vrees vir vroulike ampsdraers het ook die verklaring van 1 Tim. 5 beïnvloed. Omdat dit in hoofstuk 5: 16 gaan oor hulp wat aan behoeftige weduwees gebied moet word, het verskeie verklaarders die héle gedeelte vanaf vs. 3 opgevat as 'n aantal aanwysings m. b. t. die versorging van behoeftige weduwees. Paulus sou vir Timotheüs waarsku dat nie elke weduwee sommer finansiële ondersteuning van die kerk moet kry nie. Die eerste taak lê by die kinders en die familie. Jonge weduwees moet ook nie gesteun word nie, hulle moet maar liewerste weer trou.

Maar as ons die hele gedeelte vanaf vs. 3 rustig lees, broeders en susters, kom ons al gou agter dat dié verklaring onhoudbaar is. Dit lei tot allerhande snaakse gevolgtrekkings: Paulus noem 'n minimum leeftydgrens van 60 jaar. Beteken dit dat die gemeente 'n hulpbehoewende weduwee van 58 jaar maar in haar eie sop moet laat gaarkook? ! In vs. 10 word nog 'n hele aantal voorwaardes genoem waaraan 'n weduwee moet voldoen. Impliseer dit dat die kerk behoeftige weduwees wat bietjie aan die rand van die gemeente geleef het, nie moet help nie? Wat se snaakse vorm van christelike barmhartigheid is dit??

Nee, hierdie gedeelte kan maar op een manier opgevat word: die apostel gee hier ruimte daarvoor dat ook vroue amptelik gekies kan word vir 'n taak in die kerk. Kyk vs. 9: hy gebruik die woord "gekies", en so'n woord pas nie mooi as dit hier sou gaan oor weduwees wat versorg moet word. Paulus dink juis aan weduwees wat self ander mense moet versorg; hy bied plek vir diakonesse met 'n versorgende taak in die gemeente.

Vir dergelike vroulike ampsdraers is daar in Christus se kerk wel ruimte.

Alleen, gemeente, as alle vroue in die gemeente nou dadelik vorentoe dring om diakones te mag word -dit is wel nie predikant of ouderling nie, maar darem tog iets!- stuur Paulus die meeste vroue terug. Hy het net plek vir 'n bepaalde kategorie vroue wat as diakones die gemeente kan dien.

Hy beperk hom tot die weduwees. Eers as 'n vrou geen taak as hulp teenoor haar eie man meer het nie en dit in haar eie huis rustig geword het, kan sy gekies word om God se huis te help versorg.

En selfs álle weduwees is vir die apostel geen egte weduwees nie. Kyk in vs. 3 en vs. 5: hy praat van "weduwees wat waarlik weduwees is". Dit val bietjie snaaks op ons ore. Elke vrou wie se man gesterf het, is tog 'n weduwee?

Maar uit vs. 5 word dit duidelik dat Paulus onder "egte weduwees" vroue bedoel wat na die dood van haar man regtig alleen agtergebly het. Daar het vir haar ook nie, of nie meer 'n taak teenoor kinders en kleinkinders oorgebly nie. Dit het stil geword in haar huis en in haar lewe.

Want as daar nog kinders is, en kleinkinders, dan lê vir 'n vrou dáár altyd die eerste taak. Ook vir 'n weduwee. As haar man wegval, val die taak in die gesin nie sommer weg nie. Dikwels word daardie taak juis verswaar! Die verantwoordelikheid verdubbel.

En wee die vrou wat na die dood van haar man skielik in dié taak geen belang meer stel nie. Die apostel gebruik vir so'n vrou sware woorde: sy het "die geloof verloën en is slegter as 'n ongelowige". Natuurlik verstaan Paulus wel dat 'n vrou in die eerste tyd na die afsterwe van haar man moeite kan hê om haar taak in haar gesin en familie weer aan te vat. Maar hy weet ook van vroue wat na die dood van haar man tot 'n weelderige, selfsugtige lewentjie verval. Vroue wat hulle nou "vry" voel, ontslae van al daardie verpligtings wat daar in hul huwelik was, en voortaan vir hul eie genoeë leef. Kyk vs. 6. Sulke vroue is"lewendig dood", sê Paulus. Hulle het hul man oorleef, maar feitlik is hulle erger daaraan toe as hy. Want hulle het die rug gedraai op die lewe soos dit goed en aangenaam voor God is.

'n Vrou moet aanvaar dat God haar allereers 'n plek in haar gesin en familie aangewys het. Paulus skryf in vs. 4 dat 'n weduwee en haar kinders en kleinkinders saam moet leer om hul eie huis te eerbiedig en vergelding te doen aan hulle ouers. Ja, hy dink dan aan altwee: aan die vrou en aan haar kinders en kleinkinders. Hy gebruik mos meervoud: "hulle moet leer... ". Saam moet hulle besef dat die HERE nie 'n God van los individue is nie, maar dat Hy sy volk bou uit gesinne, huise, families, geslagte. Uit grootouers, ouers, kinders en kleinkinders. Maar 'n vrou vervul 'n belangrike rol in dié leerproses. Sy vorm die skakel tussen voorgeslag en nageslag. 'n Gelowige vrou moet dit, ook as haar man inmiddels gesterf het, aan haar kinders en kleinkinders voorlewe dat ons in ons gesinne en families verantwoordelik is vir mekaar. Omdat God self die band van die bloed tussen ons gelê het. In die liefde en sorg vir haar nageslag vergeld so'n vrou dan dit wat sy self van haar voorgeslag ontvang het. En sy gee daarin die goeie voorbeeld aan haar nageslag.

U sien, gemeente, ook as Christus se apostel ruimte maak vir vroulike ampsdraers in die kerk, bly hy in die lyn van dit wat hy in hoofstuk 2: 11 e. v. geskryf het. Die eerste taak vir 'n vrou lê tuis!

Sluit Paulus daarmee die vroue op in hul huise?

Probeer hy so veel as moontlik die vrou van 'n taak in die kerk weg te hou, omdat die vrou tog eintlik nie daarvoor geskik is nie?

Nee, hy leer ons in hoofstuk 5 opnuut, wat hy ook alreeds in hoofstuk 2 geleer het, dat dít die eerste en besondere taak van die vrou in die kerk is: haar eie huis goed versorg. Dit is haar eerste werk, ja, haar eerste amp in die kerk. So bou sy saam aan die kerk. En dis 'n baie belangrike, ja, noodsaaklike amp.

"Dit is goed en aangenaam voor God", sê die apostel in vs. 4. En daarin klink 'n herinnering aan die refrein van Genesis 1, aan God se skeppingswerk: "Toe sien God dat dit goed was". Die vrou wat haar taak in eie gesin en familie getrou behartig, vervul daarin haar oorspronklike paradystaak in God se wêreldhuis! Op haar eie belangrike plek bou sy saam aan God se groot toekoms. Sy verrig nie minderwaardige werk nie. Sy word nie uit die kerk weggedruk en in haar huis opgesluit nie. Maar tuis is sy in haar element.

Moet dus die eerste taak van die vrou nie verag nie, broeders en veral julle, susters. Moet ook nie daaronder sug of dit probeer ontvlug nie. Moeders is onmisbaar vir die instandhouding en die toekoms van die kerk. Ook vroue wat inmiddels hul man verloor het, verloor daarmee nie hul taak en hul betekenis in die kerk nie. Ook vir die ouer kinders, wat alreeds hul eie gesinne gestig het, kan die raad en advies of die praktiese hulp van Ma in allerhande situasies van onskatbare waarde wees!

En hoe groot is die betekenis van 'n ouma wat met woord en daad die HERE vrees vir haar kleinkinders! Haar begrip en geduld, haar wysheid en lewenservaring kan kleinkinders in die moeilikste periodes van hul lewe vashou en deurhelp.

'n Vrou wat graag in die kerk die Here wil dien, moet nie aan haar eerste taak verby sien nie. Haar eenvoudige trou is die belangrikste bydrae wat sy aan die opbou van die kerk kan lewer.

Paulus sê in vs. 8: daarin bewys 'n vrou metterdaad haar geloof.

2. Maar Christus se apostel het geweet dat daar ook vroue is vir wie die eerste taak vir eens en vir altyd verby is. Vroue sonder man, maar ook sonder kinders en kleinkinders om voor te sorg.

Vir dié vroue lê daar dan 'n ander taak in die kerk. 'n Versorgende taak ten aansien van die huisgenote van die geloof.

Ons kan daarby dink aan wat in Hand. 6 vertel word, broeders en susters. In die eerste tyd na Pinkster is die samekomste van die gemeente meestal in verskillende huise gehou. Daartydens is ook gemeenskaplike maaltye gehou waarby die heilige Nagmaal gevier is. U sal verstaan daar daarby heelwat voorbereidende werk gedoen moes word. En werk naderhand, wanneer bymekaar gemaakte kos en klere ens. aan behoeftige lidmate uitgedeel is, en by allerhande maatskaplike probleme hand bygesit is.

Daarvoor kon weduwees wat in eie familie geen taak meer gehad het nie, ingeskakel word.

Ons het Hand. 6 altyd so gelees asof daar in Jerusalem behoeftige weduwees was wat in die daaglikse versorging oor die hof gesien is, sodat aan hulle geen kos, klere of geld voorsien is nie. Maar die opvatting is nie baie aanneemlik nie. Dis meer waarskynlik dat die Griekssprekende weduwees nie as diakonesse by die daaglikse versorging ingeskakel is nie en dat hulle dáároor gekla het. Hulle wou ook saamdoen in die taak van versorging.

U vind dié verklaring van Hand. 6 alreeds in die Kanttekeninge by die Statenvertaling.

Dat dít die taak van die weduwees was, kan ons ook uit 1 Tim. 5 agterkom: in vs. 13 skryf Paulus oor vroue wat "ledig by die huise rondgaan". Die woorde klink vir ons heeltemal ongunstig. Maar die woorde: "by die huise rondgaan" het as sulks glad nie 'n ongunstige betekenis nie. Dít was juis die positiewe taak van die weduwees: by die verskillende huise help en dien. Maar dan moes hulle daarin ook positief aktief besigwees, en nie "ledig, praatsiek en bemoeisiek" nie.

Vroue wat dus in eie huis geen versorgende taak meer het nie, kan in God se huis so'n taak ontvang.

Maar selfs dan moet hulle aan streng vereistes voldoen. Paulus gee 'n opsomming in die verse 9 en 10.

Hy stel 'n minimum leeftyd van 60 jaar. Op dié leeftyd is daar voldoende lewensryping en het gewoonlik die verlange na 'n nuwe huwelik verstil.

Sy mag (sien 3: 11) geen kwaadspreekster wat by die huise oor allerhande gemeentelede skinder, wees nie.

Boonop moet haar vroeëre lewe 'n voorbeeld vir almal in die gemeente wees: was sy trou aan haar man, sorgsaam in haar gesin, gasvry vir ander, behulpsaam en vriendelik in die gemeente, bereid om haarself in dienende take op te offer, soos Christus die voete van sy dissipels gewas het? Het sy haarself op elke goeie werk toegelê sonder om bepaalde sake opsetlik te laat lê?

Sulke vroue val maklik op. Veral as die stilte oor hul lewe gedaal het. Sien ook vs. 5: dan kom daar nie opstandigheid of onrus nie, maar die rustige vertroue op God dat Hy ook in die lewensaand met sy lig naby sal wees. Sulke vroue makeer ook selde of nooit in die eredienste nie. Veral in die gebedsamekomste waarin die nood van kerk en wêreld aan God opgedra word, is sy stilweg aanwesig. Want aan sulke gebedsamekomste dink Paulus as hy in vs. 5, volgens die Griekse teks, van "die smekinge en die gebede" praat.

Eers as die HERE 'n vrouelewe so gelei en tot goeie ontwikkeling laat kom het, kom haar nou ook die eer toe om, nadat sy haar eie huis versorg het, vir die gemeente van God te mag sorgdra.

Ja, gemeente, dit is 'n eer om tot diakones in die kerk gekies te word. Maar omdat met haar taak en optrede die eer van die Heer van die kerk, Christus, gemoeid is, moet die apostel wel hoë vereistes aan die diakonesse stel.

Want 'n vrou wat in die gemeente mag voorgaan in liefdediens, word 'n voorbeeld vir almal. 'n Voorbeeld van Christus self. Van sy liefde en toewyding aan sy gemeente.

Daarom kan nie enige vrou sommer dié taak verrig nie. Selfs nie enige weduwee nie. Paulus sluit selfs bewus jonger weduwees uit. Nie omdat 'n jonger vrou soos vanself minder geskik as 'n ouer een is nie. Maar omdat by jonger vroue die gevaar wel groter is dat die aantrekking tot die ander geslag en die verlange na 'n nuwe huwelik haar van haar eintlike take kan aflei. Die gevaar is by 'n jonger vrou groter dat haar rondgaan by die huise al hoe meer beheers word deur die hoop om 'n bepaalde man raak te loop, en al hoe minder deur die begeerte om die broeders en susters te help. Die besondere aandag vir 'n spesiale man kan ook toenemend haar gesprekke begin beheers.

Nee, Paulus sê nie dat elke jongere weduwee so sal maak nie. Maar omdat dit by 'n jonger vrou wel gouer kan gebeur as by 'n ouer een, en omdat hy selfs maar die moontlikheid dat Christus "oneer" aangedoen word (sien 5: 11), soveel as moontlik wil uitsluit, trek hy duidelike grense. Dit is nie verkeerd om opnuut te wil trou nie. Die apostel kan dit selfs aanbeveel. Maar so'n verlange val uit die toon as 'n vrou haar eers heeltemal aan die versorging van die kerk gewy het. As skielik 'n tweede huwelik belangriker as die volledige toewyding aan die gemeente van Christus word, "verwerp hulle hul eerste geloof", sê vs. 12, "hul eerste trou sou 'n beter vertaling wees, naamlik aan Christus se gemeente". Watter indruk moet dit by die buitestaanders wek? Is die diakonessetaak dan maar net 'n noodoplossing vir vroue wat niks anders het om te doen nie? !

Nee, gemeente, die diakonesseamp is geen noodoplossing nie. Dit is 'n eretaak vir vrome vroue wat tot in hulle lewensaand diensbaar mag wees aan hul Here in die hemel.

Ons ken vandag nie meer daardie vroueamp nie. Daar het heelwat in die praktiese organisasie van ons kerklike lewe verander sedert Paulus en Timotheüs se dae. Dit impliseer geen gebrek aan eerbied vir die Skrif nie. God se Woord skryf nêrens voor dat daar diakonesse moet wees nie. Soos u ook nêrens in die Skrif sal lees dat ampsdraers na vier jaar weer moet aftree en deur ander broeders vervang moet word nie.

Christus se apostel gee in ons teksverse slegs duidelike riglyne ingeval bepaalde vroue as diakonesse in die gemeente ingeskakel word. Die uitwerking van daardie riglyne verander namate ook die omstandighede verander.

Maar dit bly sinvol om van tyd tot tyd weer 'n keer op daardie riglyne te besin. Hoe 's dit vandag by ons?

Moet ons nie die diakonesseamp weer in ere herstel?

Dit sou 'n verkeerde ding wees as susters wat nog hul hande vol het aan die versorging van hul eie gesinne, met 'n beroep op 1 Tim. 5 sou begin roep om die herinstelling van hierdie vroueamp, net omdat hulle ook, nes die mans, 'n amp in die kerkgesin wil hê. Die eerste ding wat ons mos uit ons teks geleer het is: hulle hét 'n amp! Selfs 'n baie belangrike amp. Hul eerste amp lê in hul eie huise. En die diakonale taak in die kerk kom vir 'n vrou eers in die prentjie as daardie taak voltooi is. Ons moenie die diakonesseamp weer instel omdat daar vroue is wat om ook 'n taak in die kerk roep nie. Ons moet dié amp eers weer instel as daar take in die kerk is wat om vroue roep!

Is daar vandag dan nie meer sulke take nie?

Ons ken nie meer die gewoonte om eredienste en liefdemaaltye by die huise te hou nie. Die versorgende taak met die oog daarop het verdwyn.

Maar daarvoor het wel ander versorgende take in die plek gekom, soos allerhande vorme van maatskaplike en sosiale hulp in sorggesinne, hulp in tye van siekte of na afsterwe van die ma in 'n gesin. Dikwels word sulke hulp spontaan deur heelwat vroue in die gemeente verleen. En dit sou 'n verkeerde ding wees om dié spontane hulp te laat afneem, of selfs heeltemal weg te neem, deur dit net aan bepaalde vroulike ampsdraers op te dra.

Nogtans blyk dit in ons gemeente dat meer georganiseerde hulpverlening tog wel in 'n mate gewens is. Dis hoekom ons die instelling van 'n "Susterhulp" het.

Maar sou dit dan nie 'n goeie ding wees wanneer die kerkraad vir sulke georganiseerde susterhulp meer amptelik in die lyn van 1 Tim. 5 vroue sou kies en aanstel tot 'n tipe van diakonesse nie? Dit hoef regtig nie te beteken dat die diakonesse van vandag outomaties die ouderlinge en die predikante van môre is nie. Ons sien tog nog wel die verskil tussen die een en die ander amp?

As die kerkraad weer meer amptelik susters vir bepaalde versorgende take in die gemeente sou kies, sou daar ook meer rekening met Paulus se aanwysings in 1 Tim. 3 gehou kon word.

Want is dit wel reg dat, soos dit nou dikwels is, juis dié susters wat reeds swaar belas is met die versorging van hul eie gesinne, ook nog moet hand bysit in susterhulp? Christus se apostel leer mos dat allereers vroue wie se taak in eie huis nie, of nie meer swaar druk nie, vir die werk in die hele gemeente gekies moet word?

En dan hoef ons nie net aan weduwees te dink. Dit kan ook vroue wat self geen kinders ontvang het nie, wees. Of ongetroude vroue ingeval hulle nie te veel deur 'n voltydse baan alreeds in beslag geneem word nie. Maar ons moet met name ook aan ons ouer susters dink wat nog 'n gesonde liggaam en 'n helder verstand het. Weduwees. Dalk het hulle die neiging om te sê: Ek het my deel gedoen, laat nou ander vroue maar hul kragte inspan. Maar die neiging is nie reg nie. Want in God se diens het ons nooit ons deel klaar gedoen nie!

Andersyds kan maklik vereensaam, hulleself toenemend nutteloos en oorbodig begin voel. Maar God sê: juis dié vroue wat in hul eie familie klaar gedien het, roep Ek om die Familie (met 'n hoofletter) te dien. Met dié taak wil Ek hulle dan nog eer.

Ek soek hulle as moeders in die gemeente.

As, gemeente, ouer vroue en weduwees dit weer leer, tot hulle troos - en as ons weer leer om juis sulke vroue te eer, dan volg ons wel 'n heeltemal ander patroon as die wêreld, dan bly die kerk in die oë van geëmansipeerde vroue nog altyd hopeloos oudtyds, maar dan word daar in ons lewe nogtans iets van die nuwe lewe sigbaar wat goed en aangenaam is voor God - die nuwe lewe wat volgens sy ou paradyspatroon is.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)