Opsieners en dienaars moet persoonlik oop tot God wees

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Timótheüs 3
Preek Inhoud: 

22-11-92

1 TIMOTEUS 3:9

bevestiging ampsdraers

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 146 : 1, 2, 3
Wetslesing
Sing: Ps. 146 : 4, 5, 6 in magteloosheid
Gebed
Skriflesing: 1 Timoteüs 3
Tekslesing : 1 Timoteüs 3:9
Prediking
Sing: Ps. 5 : 6, 7, 11
Bevestigingsformulier vir ouderlinge en diakens
Sing: Ps. 134 : 4
Dankgebed
Kollekte
Sing: Ps. 146 : 7, 8
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

vanoggend is daar alle aanleiding om te fokus op die mense wat op 'n spesiale wyse in die kerk werk. Daar staan manne gereed om die take van ouderling of diaken te aanvaar. Daar is ook manne wat dié werk vir 'n tydjie sal neerlê. Daar is selfs die predikant wat sy taak hier sal beëindig. Ons bely met die Bybel: "Hy, die Here, het verskillende manne vir die verskeie take gegee". Christus wil van die diens van mense gebruik maak en skenk daarom ampsdraers aan sy gemeente.

Nadat ons dit bely het, moet ons ook vra: hoe lyk die manne nou terwyl hulle aan die werk is? Dit is waaroor 1 Tim. 3 gaan: wat is mooi aan die mense wat werk, en watter lelyke dinge mag dus nie gesien word nie. Ons teks, vers 9 vra: hoe lyk hulle geloof en hoe staan dit met hulle gewete?

Vooraf sê ek vir almal: dit wat die Here in hierdie teks laat weet, is nie net vir ampsdraers bestem nie. Want dit gaan ook oor jou geloof. Kan jy sê: die geloof is myne! Ons praat ook oor jou gewete. Wat wil dit sê om 'n rein gewete te hê?

Om jou gedagtes 'n bietjie te prikkel vra ek vooraf: wat is jou gewete? Is dit 'n stemmetjie wat jou pla en jou dikwels laat skuldig voel: ek het dit of dat verkeerd gedoen? Is daar net die stemmetjie wat waarsku om nie verkeerde dinge te doen nie of is daar meer? Is daar ook mooie dinge in jou gewete?!

Kom ons luister vir die hele boodskap van ons 1 Tim. 3:9. Ek bring vir u die Woord van God soos volg:

OPSIENERS EN DIENAARS MOET PERSOONLIK OOP TOT GOD WEES

  1. hoe lyk die "opsieners en diakens"?
  2. hoe moet elkeen "oop wees tot God"?

1. HOE LYK DIE "OPSIENERS EN DIAKENS"?

Op 'n manier is dit 'n baie bekende hoofstuk. Ons ken dit as die Bybelhoofstuk waarin die vereistes opgesom is wat aan ons ouderlinge en diakens gestel moet word. 'n Belangrike ding om te onthou is egter: dit gaan oor opsieners en dienaars wat 'n taak in die gemeente het en besig is die taak om te vervul. Dit is dus nie bloot 'n lys van voorwaardes wat gecheck moet wanneer ons die verkiesing voorberei (nl. wanneer kan iemand nie op die groslys gehandhaaf word nie). Nee, dit sê: so moet mense lyk wat aan die werk is! Dit geld dus ook vir die manne wat waardig geag was om die taak te verrig, maar wat vanoggend aftree en vir 'n tydjie rus kry.

Intussen kry ons nie baie sig op die inhoud van die take nie. Wat het in die jong kerke, kort na Pinkster, die opsieners en diakens presies gedoen? Ons kan nie sê dat ons hier 'n beskrywing van die ampte kry wat ons as ouderlinge en diakens het. Dit het ook in die rapport aan die Sinode oor die "ouderling en die seën" uitgekom: u moet onthou dat die ampte soos wat ons dit ken hulle invulling deur die kerkgeskiedenis gekry het. Ek sal vandag nie baie daaroor sê nie. Dit gaan eers oor die opsieners: die manne wat oor die kudde van Christus gewaak en hulle gelei het. Uit ander briewe van Paulus kom ons agter dat party van die opsieners die sorg vir die gemeente gehad het (soos ons ouderlinge vandag) en dat ander boonop 'n taak in die onderwys aan die gemeente gehad het (soos wat ons predikante doen).

Dit gaan vervolgens oor die dienaars: die mense wat op 'n manier die opsieners, die ouderlinge in hulle werk bygestaan het. Die dienaars was mans, ja, maar ook vrouens! Kyk, vers 1-7 gaan oor die opsieners; vs. 8-13 oor die dienaars. In die tweede gedeelte is vers 11 'n tussenvoegsel wat iets spesiaals sê oor die vrouens wat as "diaken" gedien het. Ons sê dan: sy was 'n diakones, maar die Grieks ken net die een mannelike woord wat op mans en vrouens toegepas word. Ons ken vir Fébé, die vrou wat "diakonos" van Kenchréë genoem word (Rom. 16:1). Die dienaars het die opsieners dus bygestaan.

Hoekom vertel ek dit alles? Omdat ons teks wel in die gedeelte oor die mans-diakens staan, maar nie net op hulle van toepassing is nie! Vs. 1-7 sê hoe die opsieners wat besig is, moet lyk. Vs. 8 oor die mans-diakens begin egter met "net so". "Net so moet die diakens waardig wees ...". Wat oor die opsieners gesê is, geld ook vir die dienaars. Baie van wat in vs. 1-7 gesê word, kom in vs. 8-13 terug. Opsieners én dienaars moet wees: "waardig, nie aan wyn verslaaf, nie op oneerlike winsbejag uit wees nie" en hulle moet "aan hulle vrou getrou wees en die kinders en eie huisgesin goed beheer". Goed, 1 Tim. 3 sê dus min oor die aard van die werk. Dit sê terselfdertyd baie oor watter trekke van die christlike lewe en van vroomheid veral sigbaar moet wees. "Net so" moet die dienaars wees: net soos die opsieners. Ons moet dit ook op die vroue-dienaars, die diakonesse toepas. Want ook die spesiale vers ook hulle begin met "net so". Hoe lyk almal wat werk in die kerk: wat is die christelike trekke wat opval?

Daar is uiterlike dinge. Kom ons neem 'n voorbeeld uit die baie dinge wat genoem word. Van die diakens word gesê in vs. 8: "hulle moet nie uit twee monde spreek nie". Dit is die enigste wat nie spesiaal by die opsiener genoem is nie. Dit beteken waarskynlik dat hulle wel na twee kante moes praat en daarom nie met twee monde nie. Wanneer jy in die midde van die gemeente dien en tussen mense die kontak moet bevorder, moet altwee kante jou woorde kan vertrou. Wat jy vir die een sê, moet jy ook vir die ander kan sê. Moontlik kom hier iets uit van die spesiale werk van die diaken in die jong kerke. Hulle het gewerk om die gemeenskap van heiliges en die kontak in geloof tussen mense en groepe in die gemeente bevorder. Dan benodig jy publiek dit: dat jy woord betroubaar is en dat jy nooit van partydigheid beskuldig kan word nie.

Dus: vir almal wat iets spesiaals in die kerk mag doen, moet daar uiterlike dinge wees wat reg is. Daar is egter ook innerlike kenmerke! So kom ons by ons teks. Die tema is: opsieners en dienaars moet persoonlik oop wees tot God. Ons vra:

2. HOE MOET ELKEEN "OOP WEES VIR GOD"?

Vs. 9 is nou 'n positiewe uitspraak. Iemand wat in Jesus se gemeente mag dien, moet 'n aantal sondes veral nalaat, omdat dit sy diens in die gemeenskap versteur, byv. deur met twee monde te praat. Positief moet dit van hulle waar wees: "hulle moet manne [en vroue] wees "wat die verborgenheid van die geloof in 'n rein gewete hou".

Hulle moet "die verborgenheid van die geloof" bewaar. Die woordjie verborgenheid dui niks geheimsinnigs aan nie. Letterlik sê dit: die diep geheim, maar dan dié wat God onthul het. Dit is alles wat God in die koms van sy Seun op aarde bekendgemaak het. Dis die antwoord op die groot raaisel: hoe sal God die wêreld wat so diep geval het, red? Kyk hoe mooi Paulus in vs. 16, in die laaste vers van ons hoofstuk oor die "verborgenheid" praat. In die NAB kan u sien dat dit soos 'n gedig, 'n lied lyk.

"En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot:
God is geopenbaar in die vlees,
is geregverdig in die Gees,
het verskyn aan engele,
is verkondig onder die heidene,
is geglo in die wêreld,
opgeneem in heerlikheid!".

'n Verborgenheid, 'n wonder uit die ondeurgrondelike dieptes van God se genade. Jy kan daarvan sing! Dié geloof kan jy kort en kragtig bely! Die NAB vertaal: "die geopenbaarde waarheid". Ek sou die element van diepte daarin gelê het: die diep waarheid wat ons mog leer ken.

Ja, dit kan jy bewaar. Want die kerk het die geloof ontvang. Dit is die rykdom van die algemene, ontwyfelbare, christelike geloof wat die kerk van alle eeue ontvang het, wat ons in die Bybel mag bewaar. Dié geloof kan jy soos 'n skat in jou hart bêre. Vanuit die skat kan jy dit beleef en so bewaar. Ja, dié "hou" is nie 'n dooie kapitaal wat in belydenisse veilig is nie. Dit kan jy net in jou hou, wanneer dit in jou lewe! Kyk, voordat ons uitkom by die "doen" in die kerk, moet ons weet wat ons het. Voordat jou mond begin praat en jou hande goeie werk doen, moet jy besin op wat in jou hart lê.

So kom ons by die woorde "in 'n rein gewete". Daar moet ons die mooi geheim van God se planne bewaar. Rein is jy, wanneer jy gereinig is in die bloed van ons Here Jesus en wanneer die Heilige Gees jou daagliks by dié genade bewaar. Nou staan ons vir 'n moment stil en keer terug na die vrae wat ek in die begin oor jou gewete gevra het.

Ons praat op menslike vlak dikwels van die gewete: dis die stem wat jou waarsku wanneer daar 'n verkeerde ding in jou hart opkom. Wanneer dit wat ons gedoen het, sleg was, het ons 'n skuldige gewete. 'n Goeie gewete het jy wanneer jy jouself van geen kwaad bewus is nie. Die woordeboek sê: die gewete is "die vermoë om goed en kwaad te kan onderskei". Ek het gesê: so praat ons op ménslike vlak. Want ons kom nie daarvan weg om te erken: dit sê eintlik nog niks of my gewete swyg of nie, omdat dit daarvan afhang of ek ooit die regte onderskeid tussen goed en kwaad geleer het. En: jy kan ook die stem van jou gewete laat swyg.

Ons moet liewer ophou met te praat van "die stem van my gewete". Ja, ook na die sondeval het God die mens nog 'n bietjie van die vermoë gelaat om te leer onderskei tussen goed en kwaad. Ons is nog in staat om te glo, en dus om God se goeie wil te ken! Dit is egter nie die stem van my gewete wat my kan red. Ja, nadat God dit vir my gegee het, mag ek sy Woord in my hart bewaar. Dit is hoekom ek weet wat is reg en ook wat is verkeerd in sy oë. Wat gebeur daar dan as ek iets doen wat verkeerd is? Nee, dan praat nie 'n stemmetjie van my hart nie, maar dan is dit die Heilige Gees wat God se Woord in my laat praat. Ja, ek mag sy Woord in my hart bewaar. Na sy stem kan ek luister, wanneer die Gees dit vir my gee.

Die gewete: dit is die bewussyn van wat God goed genoem het en wat Hy afgewys het. Dit is egter meer: die gewete in die hele Nuwe Testament die hart van 'n mens wanneer hy bewus is dat hy voor God se aangesig lewe. Met alles wat God gee en wat Hy vra. Die gewete is dus die moontlikheid om van God bo jou lewe bewus te wees. Dit gaan nie net oor die nalaat of die doen van sondes nie, maar oor jou hele hart, jou hele lewe wat oop voor God se aangesig lê. Is jy bewus daarvan dat Hy jou hart ken? Mag Hy jou hart, jou bedoelings ken? Ja? Dan is jou gewete oop vir God. 'n Rein gewete het jy in die wete dat God om Jesus ontwil genadig oor jou is en lief is vir jou soos wat jy dán is, wat jy deur sy genade mag wees.

Nou kan ons die hele vers 9 samevat. Wat bewaar jy in jou gewete? Paulus sê: jy moet die "verborgenheid van die geloof" daar hou. Die hele rykdom van die geloof wat God in Christus geskenk het, mag in jou hart, in die gewete woon. So is jy oop vir God.

Die Bybel praat hier veral tot mense wat geroep is om in die kerk 'n taak te vervul. Elkeen moet eendag vra: hoe is ek, 'n sondig en swak mens, in staat om die Here in so 'n posisie te dien? Dan kan jy weer besef: die genade om Jesus ontwil is dit wat my rein maak, opnuut oop vir God om met die rykdom van die geloof te lewe. Eers in my hart vir Hom, dan ook in die werk wat my opgedra is. Want, ja, opsieners en dienaars moet daarin vooropgaan. Wanneer hulle die pragtige geheim van God se verlossing glo en in hulle hart koester en voed, dán sal hulle almal kan voorgaan. Want dié geloof is vir almal bestem: dit is wat almal, jonk en oud, man en vrou in die kerk mag leer! Met 'n spesiale taak of in die amp wat al die gelowiges het. Opnuut geld vir almal: voordat jy iets kan doen in die kerk, moet jou hart oop wees vir God. Want jy mog 'n verborgenheid ontvang: die wonderlike wete dat mense soos ons is in hulle swakheid en ondanks hulle sondes verlos kan word. Dus kan niemand, veral iemand wat voorgaan in die diens, nie sonder die verwondering nie: ek ken die geheim van die geloof! Ek ken dit so goed, omdat ek verlossing ondervind het.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)