Aan die vrede in die gemeente moet gewerk word

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Thessalonicense 5
Preek Inhoud: 

Ps. 92: 1, 2
Ps. 92: 3, 4
Ps. 22: 11, 12
Ps. 51: 1, 2, 3
Lees: Ps. 51
Teks: 1 Thess. 5: 25 - 28

Geliefde gemeente,

Met vanoggend se preek wil ons 'n serie van omtrent 13 preke oor die brief van Paulus aan die Thessalonicense afsluit. Paulus is voorlopig klaargepraat met die gemeente van Thessalonika. Ons kan ons voorstel dat die toon aan die slot van 'n brief steeds indringender word. Dit is mos die laaste geleentheid om nog iets te sê, om die boodskap waar dit om gaan nog vir oulaas by die lesers op die hart te bind.

Ons het al eerder daarop gewys dat die tema van die slot van die brief is, die vrede in die gemeente. En daarmee bedoel Paulus nie die vrede van 'n slapende gemeente wat nie in rus gestoor wil word nie, maar die vrede van 'n lewende gemeente, waar werklik geleef word uit geloof.

En waar werklik almal hulle inspan om die gemeenskap wat Christus tot stand gebring het, ook konkreet vorm te gee deur 'n liefdevolle omgang met mekaar, deur met blymoedigheid te praat oor die werk van die Here. Daar waar almal leef uit dankbaarheid vir die groot werk van Christus in hul lewe, daar kry die vrede in die gemeente sigbare vorm.

Dit gaan nie vanself nie. Daaraan moet hard gewerk word.

Elkeen persoonlik sal hom steeds weer moet bekeer om so 'n lidmaat te word wat die vrede in die liggaam van Christus dien.

My tema is vanoggend:

AAN DIE VREDE IN DIE GEMEENTE MOET GEWERK WORD.

Ons gee aandag aan 4 punte:

  1. Gebed.
  2. Gemeenskap.
  3. Betrokkenheid.
  4. Genade.

Broeders, bid vir ons.

Dit is die dringende versoek van Paulus, Silvanus en Timotheus, aan die gemeente van Thessalonicense. Broeders, bid vir ons.

In die begin van hierdie brief het ons agtergekom hoeveel aandag en tyd Paulus gee aan sy gebed vir die gemeente. Daarvan het die ampsdraers van ons eie gemeente iets geleer, naamlik dat die enigste manier om vrugbaar te werk as 'n ouderling is, dat jy jou hele wyk daagliks opdra in jou gebed. Daarop mag jy groei verwag vir jouself as ampsdraer, en ook vir die mense vir wie jy bid om groei in die geloof.

Maar hier aan die slot van die brief sien ons die omgekeerde. Paulus en sy metgeselle soek die voorbede van die gemeente.

Broeders, bid vir ons.

Paulus nog wel! Die man wat so 'n groot een is in die Koninkryk van God. As ons na hom kyk, dink ons, nee Paulus is so vol van die Heilige Gees, hy het so 'n groot geloof, hy het die die steun van ons voorbede nie nodig nie. Hy kom sonder dit wel reg.

Maar Paulus, Timotheus en Silvanus ken hulleself. Juis hulle besef terdeë hul sonde en swakheid (en ek dink dit is wat hulle so groot maak in die Koninkryk van God). Daarom vra hulle: Asseblief broeders, bid vir ons. Anders hou ons dit nie vol nie.

Juis mense wat 'n groot taak het in God se Koninkryk, benodig u voorbede. In die kerk die predikant, die ouderlinge, die diakens. In die wêreld die owerheid, die wêreldleiers.

Broeders en susters, bid vir ons.

As u niks aan die preek het nie, moet dit nie net aan die predikant verwyt nie, maar vra u eers af hoeveel keer u vir die predikant gebid het die week. As u te min gebid het, kan u ook nie stigting deur 'n preek verwag nie.

As die huisbesoek wat die ouderlinge gebring het, nie regtig op gang wou kom nie, sê nie: ag, die ouderlinge kan nie 'n goeie besoek bring nie, maar dink eers: hoe intensief het jy gebid om 'n geestelike seën in die besoek. Hoe intensief het jy die Here werklik gevra, dat die besoek vrugte sou oplewer, vir jouself en vir die besoekende broeders?

Bid vir die kerkraad. Dit is so gemaklik om sonder enige kennis van feite en besprekings 'n oordeel te gee oor allerhande kerkraadsbesluite. Maar wie gebid het vir die kerkraad, wie van die Here om wysheid gevra het vir die vergaderende broeders, hou liewer sy mond, of vra inligting aan jou ouderling as jy iets graag wil weet.

Bid vir ons. Paulus weet hoe belangrik die gebed van die gemeente is. 'n Biddende gemeente is 'n gemeente waar vrede heers.

En as daar nie meer gebid word nie, dan laat ons sommer oorneem deur onvrede en onrus.

Bid vir ons.

Hoe dikwels het u dit die laaste tyd van iemand gevra? Bid vir my. Binne die gemeente mag jy dit tog van mekaar vra?

Ons mag tog ons steun soek binne die gemeenskap van die heiliges? Of is ons eenvoudig nog te trots om so 'n hulp te vra?

Hou ons maar liewers ons fassade teenoor mekaar op? Hoe gaan dit? Nee, met my gaan dit goed, dankie. Geen klagtes nie. Jy hoef vir my nie te bid nie. Ek bid skaars vir myself.

En so sterf die gemeenskap. Almal speel mooiweer en sonskyn.

'n Ander het niks met my probleme te doen nie. Dit is privaat.

Bid vir ons.

As ons dit weer eens 'n slag vir mekaar durf sê, as ons bereid is om ons sorge met 'n ander te deel, dan word ons 'n gemeente soos Christus dit bedoel het. 'n Gemeenskap van biddendes broeders en susters.

2. Gemeenskap.

Groet die broeders almal met 'n heilige kus, vers 2b.

Hier gee Paulus 'n voorskrif wat ons waarskynlik nie sal uitvoer nie. Dit is eintlik merkwaardig hoe gemaklik 'n tradisie 'n woord uit die Bybel eenkant kan skuiwe. Ook 'n gereformeerde tradisie terwyl ons in ons eie belydenis uitspreek dat die tradisie nooit bo die Skrif gestel mag word nie.

By die vorige vers van ons teks: broeders, bid vir ons, durf ek nog hoop dat die gemeente in die opsig verder sal kom. Maar as ek u sou vra om vandag vers 2b op te volg deur mekaar na die diens met 'n heilige kus te begroet, dan weet ek seker dat groot verontwaardiging sou ontstaan, ook al staan dit 100 keer in die Bybel.

Nou staan dit nie 100 keer in die Bybel nie, maar 4 keer.

Steeds presies dieselfde voorskrif. Vir die belangstellendes:
Rom 16: 16, 1 Kor. 16: 20. 2 Kor. 13: 12, en dan ons teks. Groet mekaar met 'n heilige kus.

In elk geval is die voorskrif uit die Bybel duidelik genoeg. Maar ons afkeer om dit op te volg is ewe duidelik.

Rede genoeg om 'n bietjie in die kerkgeskiedenis na te gaan hoe die christene met hierdie bevel van Paulus gemaak het.

Die bedoeling van Paulus is duidelik genoeg. Dit gaan om 'n kus van liefde en vrede. Die broederkus van medegelowiges in Jesus Christus. Met daardie kus deurbreek jy 'n spontane klasseverskil van mense.

Van geskooldes en onopgeleides. Van rykes en armes. Van blankes en swartes. Daar is dus werklik selfverloëning en 'n hoë vlak van geestelike lewe nodig om met so 'n kus al jou broeders werklik te aanvaar. Die kus dien as 'n oefening in selfverloëning. Omdat die Bybel dit so uitdruklik voorskryf, is die broederkus al in die begin onmiddellik deurgevoer. Justinus, 'n kerkvader wat omtrent 150 na Christus geleef het, vertel byvoorbeeld dat na 'n doopsbediening van 'n volwassene, die persoon deur heel die gemeente met 'n heilige kus verwelkom is.

'n Heilige kus, daarvan praat Paulus hier. Nou kan u wel aanvoel, dat as sekere manne uit die gemeente wel voel vir hierdie voorskrif van Paulus, en belangstelling vertoon om sekere susters uit die gemeente op Sondag met 'n heilige kus te verwelkom en ander broeders en susters liewers verby te kyk, dan gaan dit om ander sake as gehoorsaamheid aan 1 Thess. 5: 26.

'n Ander kerkvader Augustinus het dit haarskerp aangevoel, dat soiets maklik kon gebeur. Om in gehoorsaamheid aan die Bybel die heilige kus te handhaaf en tegelyk sekere bybedoelings te voorkom, het Augustinus die gebruik ingevoer dat mans en vroue in die kerk apart moet sit. By die afsluiting van die diens gee dan al die broeders mekaar die broederkus en wens mekaar die vrede van die Here toe. En die susters gee mekaar 'n susterskus met dieselfde seënwense.

In die latere ontwikkeling van die kerk het die gebruik in verval geraak. Blykbaar was die mense nie meer in staat om op so 'n hoë geestelike vlak te lewe, dat hulle hierdie simbool van liefde en vrede onbekommerd met almal in die gemeente kon uitruil.

Let op die: almal. Dit help nie om alleen jou vriende in die gemeente met 'n broeder of susterkus te begroet nie. Dit gaan Paulus juis om die almal. Groet almal met 'n kus.

Om terug te kom op die geskiedenis. Die heilige kus is dus al eeue in onbruik. Maar die gewoonte dat daar 'n aparte manne en vrou afdeling in die kerk is, het hom tot diep in ons eeu in die kerk gehadhaaf.

Om terug te kom op ons teks: Groet die broeders almal met 'n heilige kus. Wat maak ons vandag met so 'n voorskrif.

Kan ons dit domweg ignoreer uit kulturele oorwegings? Ek sal nie pleit vir herinvoering op kort termyn nie. Dit sou vermoedelik teveel van 'n kultuurskok vir ons wees.

En tog vra ons ons af na aanleiding van ons teks, of ons as kerk nie teveel waardevolle Bybelse simbole summier afgeskaf of geignoreer het nie. In swart kerke in ons land is dit gebruiklik dat na elke diens alle kerkgangers vir mekaar met die hand groet en 'n seën uitspreek. Dit is 'n pragtige gebaar wat goed aansluit by die bedoeling van ons teks. Want dit gaan om die gemeenskap van al die gelowiges wat in die diens bymekaar is. Daardie gemeenskap en eenheid in Christus moet ons steeds meer met woord en daad aan mekaar betuig. En as ons daarvoor geskikte simbole kan vind, kan dit die saak waar dit om gaan, die belewing van die gemeenskap ook bevorder.

3. Betrokkenheid.

Ek besweer julle by die Here dat hierdie brief aan al die heilige broeders voorgelees word.

Ek besweer. Paulus stel die gemeente van Thessalonicense onder 'n plegtige eed, warby hy die naam van die Here aanroep. Dit is 'n ongelooflike stuk vermaning. Dit bewys dat hy dit as 'n saak van die hoogste erns beskou.

Die brief moet aan almal voorgelees word. Immers in hierdie brief het Paulus dringende onderwerpe vir die gemeentelike lewe aan die orde gestel. Dit gaan om die vrede van die gemeente. Blykbaar word die vrede gedurigdeur bedreig. Byvoorbeeld daar waar mense onordelik optree, of kwaad met kwaad vergeld, of waar die blydskap versmoor word, of waar gebrek aan dankbaarheid getoon word, of waar die Heilige Gees uitgeblus word. Oor al die sake het Paulus geskryf. En daarom moet heel die gemeente dit hoor en daarna luister. Want dit gaan hier oor die basis kenmerke van 'n christelike gemeente, om die sigbaarheid van ware christenskap.

As daar mense is wat nie daaraan werk nie, dan is dit 'n groot bedreiging vir die hele gemeente.

Byvoorbeeld die onordelikes wat Paulus hier noem. Dit is die mense wat nie gereeld kerk-toe kom nie, wat maklik gemeentevergaderings versuim.

Mense wat nie die moeite neem om die kerkblad goed te lees nie. Hulle mis daardeur 'n groot stuk onderwys. Die onderwys is bedoel vir die gemeente om te groei. Daar moet wat die geloof betref 'n ontwikkeling in die gemeente wees. Wel, as jy nie gemeentevergaderings bywoon nie, en nie op hoogte is van wat aangaan nie, dan kry jy 'n agterstand in ontwikkeling. Almal groei deur aandag vir prediking en onderrig, maar jy bly agter. En dan tree sommer maklik vervreemding op. Dan gaan jy ongelukkig voel, jou dankbaarheid verdwyn, jou blydskap is weg. Jy kom in 'n sirkel waarin jy self die Gees uitblus. En dit is weer 'n bedreiging vir die vrede in die gemeente.

Dit was in die gemeente van Thessalonicense net so as by ons. En daarom vermaan Paulus hier in die naam van die Here. In vredesnaam, laat al die heilige broeders luister. Almal moet betrokke raak by die kerklike lewe. Lees wat geskryf word. Hoor wat gesê word. Verstaan jy nie, doen navraag.

Maar groei saam. Jy mag nie die ontwikkeling van die gemeente misloop nie. In Jesus naam! Kom saam! Leef uit geloof. Leef uit die liefde. Dan werk jy vanself aan die vrede. Van jouself en van die hele gemeente.

4. Genade.

Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle!

Dit is Paulus se slotwoord. 'n Onmisbare slotwoord.

Want daarvan hang tenslotte alles af.

Want niemand, geen gemeente en geen individu kan uit homself hierdie voorskrifte van Paulus uitwerk nie. As jy dit op eie krag wil probeer, sal dit definitief misluk.

En daarom moet hier die woord genade val.

Genade, dit is 'n geskenk.

Genade is dat God in liefde en geduld na jou kyk.

Hy sien jou sonde baie goed. Hy laat hom nie om die bos lei deur jou redenerings waarmee jy jou sonde probeer bedek of die bedinkselfs waarmee jy die gebrek aan liefde en dankbaarheid by jou probeer afskuif as skuld van 'n ander.

Nee, voor God staan jy kaal in al jou sondigheid en miserabelheid. En tog sê God: hier is genade vir jou.

Laat My jou reghelp. Vergeet van jou verskonings. Ek glo nie 'n woord daarvan nie. Ek ken jou gebrekkigheid.

Dan is daar genade. Dan mag jy my genade sien!

En as jy die genade vir jou een keer werklik gesien het, dan kan jy daarvan leef. Dan praat jy nie meer oor jou geloofsprestasies nie, dan kla jy nie oor die gebrek van jou broeder nie. Dan leef jy enkel van genade.

En laat jy jou broeder en jou suster ook leef van genade.

Gemeente, as ons dit almal werklik sou verstaan, dan sou ons op een slag 'n totaal ander gemeente word. Dan sou ons 'n gemeente word waar die vrede as 'n kosbare geskenk bewaak sou word. Wat sou ons dan 'n aantrekkingskrag kry van buite.

Dan sou ons leer om geduld te oefen met 'n ander wat anders is as ons. Ja, dan sou ons 'n ander altyd uitnemender ag as onsself.

Wie dit werklik doen, het verstaan wat genade is.

Om eg te leer leef van genade, daarvoor het 'n mens 'n lewe lank nodig. Ons wil bid dat u almal in die leerproses betrokke bly.

En daarom sluit ons af:

Die genade van onse Here Jesus Christus sy met elkeen van julle.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)