Die lewe van die gemeente moet beskerm word

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Thessalonicense 5
Preek Inhoud: 

Ps. 135: 1, 2
Ps. 135: 3, 8
Ps. 25: 5, 6, 7
Ps. 33: 6, 10, 11
Lees: Psalm 40
Teks: 1 Thess. 5: 19 - 22

Broeders en susters, geliefde gemeente!

In die gemeente van Thessalonicense het ons te doen met 'n in alle opsigte lewende gemeente. Dit kan duidelik wees uit die positiewe getuienis wat Paulus in hierdie brief van die gemeente gee.

Dit neem egter nie weg dat Paulus aanleiding sien om in die slot van sy brief nog 'n aantal kragtige vermanings te noteer nie.

Immers, 'n gemeente mag dan 'n lewende gemeente wees, maar daar is geen enkele aanleiding om te veronderstel dat hierdie lewe dus wel vanselfsprekend in die gemeente sal bly nie.

Inteendeel, die lewe van die gemeente is altyd 'n sterk bedreigde saak. Daar is permanent kragte werksaam wat daarop uit is om die lewe in die gemeente dood te druk. As mense begin toegee aan die sterk verleiding om kwaad met kwaad te vergeld, dan is die vrede vinnig verby. Dit het ons verlede week gesien.

Ook as die mense hul neiging om te kla en krities te wees binne die gemeente nie by hulleself welbewus die pas afsny nie, dan is die blydskap daarmee heen.

Ons het al 'n paar keer gesien dat die blydskap 'n blydskap van die Heilige Gees is. Die Heilige Gees is die sentrale krag in die gemeente. Al die geskenke van die nuwe lewe wat in die gemeente sigbaar word soos blydskap, dankbaarheid, geduld, entoesiasme, vrygewigheid, dit is alles gawe van die Heilige Gees.

En daarom moet daardie gawes gesoek word. Want daardie gawes vorm die lewe van die gemeente. En as ons in die opsig begin agterbly, dan dood ons die Heilige Gees uit. En as ons die Gees uitdoof dan sterf die gemeente. Dit sal jy nie onmiddellik sien nie. Die kerkdienste sal nog wel bly voortgaan, die kerklike organisasie kan jy nog wel 'n tydlank gaande hou, die kerkraad sal nog sy vergaderings hou, en sy huisbesoeke bring, maar dit alles kan slegs tydelik die ware stand van sake verberg. As die Gees gedood word, dan is die lewe uit die gemeente weg.

Daarom is ons tema vir vandag se Woordbediening:

DIE LEWE VAN DIE GEMEENTE MOET BESKERM WORD.

  1. Daarom verwelkom ons elke geskenk van die Gees.
  2. Weer ons elke vorm van kwaad.

Blus die Gees nie uit nie! Dit is die eerste vermaning van ons teks.

Die woord uitblus laat ons onmiddellik dink aan 'n vuur. 'n Vuur kan jy uitblus. En as Paulus die gedagte van uitblus verbind met die Gees, dan weet ons waarvan hy praat.

Hy praat van die Pinkstervuur. Die vuur van die Heilige Gees. Op die Pinksterdag is die Heilige Gees uitgestort oor die gemeente, so vertel ons die boek Handelinge. As iets word uitgestort, dan besef ons dit gaan nie mondjiesmaat nie, daar is geen enkele suinigheid en soberheid nie. Maar jy kry in volle maat. Meer as wat jy in een keer kan verwerk.

So werk die Heilige Gees in die gemeente. Hy vervul die gemeente. Hy maak die gemeente vol van die rykdom van Christus. Hy gee 'n oorvloedige maat.

Oorvloedig - dit is dan ook die woord wat ons in die brief aan die Thessalonicense steeds sien terugkeer. Oorvloed is die kenmerk van die Heilige Gees. Ek sal u 'n paar tekste noem:

  • 3: 12 'en mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en vir almal'
  • 4: 1 slotwoorde: dat julle nog oorvloediger mag wees om God te behaag
  • 4: 10 ons vermaan julle, om oorvloediger te wees.

Oorvloed: dit is die kenmerk van 'n lewende gemeente. En tegelyk die eis aan 'n lewende gemeente. Al die gawes van die Gees het maar een doel: naamlik dat die gemeente mag groei in wysheid, liefde en genade.

'n Gemeente waar jy dit kan opmerk is baie geseën Daar kan blywend die fees van die oorvloed, die Pinksterfees gevier word.

Maar as ons nou 'n slag onsself as gemeente spieël aan dit wat hier vir ons voorgehou word, dan skrik ons.

Hoeveel groei is daar eintlik in liefde vir mekaar en vir almal?

Is ons werklik 'n gemeente wat oorvloedig is in die gawes van die Gees? Is ons ten opsigte van mekaar toonbeelde van vredeliewendheid, geduld, liefde en barmhartigheid? Groei ons voortdurend in die geloof? Of is daar eerder sprake van traagheid, stilstand of agteruitgang selfs?

Wel, as dit die geval is, is daar geen enkele rede om in die rigting van die gewer van die gawes van die Gees te kyk nie. Dan moet ons die feit soek by onsself, by die ontvangers van die gawes van die Gees.

Dan hoef ons ook nie spesiaal te kyk na die predikant of na die kerkraad nie, maar dan moet ons almal na onsself kyk.

Vir die lewe van die gemeente is ons almal verantwoordelik.

Pinksterfees praat tog van die uitstorting van die Gees op alle vless. Op ou mense en op jong mense, ja op seuns en dogters ook!

En daarom as daar by ons stilstand in plaas van vooruitgang is, as daar by ons tekorte in plaas van oorvloed is, dan dwing dit ons tot die vraag: Doof ons dalk die Heilige Gees uit?

Is ons besig om die Gees te blus?

Hoe is die verhouding in aandag en tyd wat ons bestee aan die bou van ons eie huis, in vergelyking met dit wat ons doen aan die huis van die Here? En dan bedoel ek nie die kerkgebou nie, maar in die algemeen die saak van die Here. Sy Koninkryk op hierdie aarde? In hoeverre is ons eie lewe net so egosentries en net so gerig op bevrediging van ons eie behoeftes as wat dit in die wêreld rondom ons die geval is? Het ons lewe nog wel die diepgang van kinders van God, wat hulle elke dag weer kan verwonder oor Sy gawes. Wat steeds beïndruk kan raak deur die grootheid van Sy werk.

Of word ons ook steeds meer deel van 'n T.V. kultuur, waarin ons ons lui buike laat streel deur 'n apparaat wat met 'n groot snelheid allerhande indrukke oor ons uitstort. Alles ewe vlugtig en oppervlakkig, wat ons neiging tot onbetrokkenheid steeds verder stimuleer.

Hoe is die atmosfeer in die gesin as dit gaan oor die kerk? Stimuleer ons mekaar om betrokke te wees by wat gebeur, of sê ons: Ag wat, die kerkraad moet dit maar uitsorteer. Dit is hulle probleem. Ek worrie nie, of: 'n Bybelkring? niks vir my nie. Hulle wat belangstel, laat hulle hul gang gaan, maar my sal hulle daar nie sien nie.

As ouers so begin praat oor die kerk en wat daar gebeur, dan jaag hulle hul kinders die kerk uit. Dan kan jy hulle nog steeds daagliks na die skool toe karwei, en l keer per week aflaai vir katkisasie, maar inmiddels het jy die Gees uitgeblus.

Want jy het in jou lewe geen toewyding aan die saak van die Here betoon nie.

Waar jy jou lewe aan die brand laat steek deur die vuur van die Gees, daar kom toewyding aan die diens van die Here.

Daar raak jou lewe verlos van selfdiens.

En waar dit die geval is, daar kan die lewe tot bloei kom. Immers, in so 'n lewe bloei die vreugde van die diens aan die here. As almal hulle lewe werklik begin toewy aan die diens van die here, daar kan die gemeentelewe ook tot bloei kom. Dan kom daar groei. Dit waarborg dan die Heilige Gees.

Maar dan is daar wel bekering nodig. Elke dag weer. Ons leef mos in 'n tyd waarin egoïsme hoogty vier. Elkeen kom op vir homself, vir sy eie belang. En as dit die atmosfeer is onder jou kollegas op die werk, of by die bure langsaan, of die vriende met wie jy omgaan, dan het dit ook op jou 'n invloed. Dan doen jy sommer maklik saam.

En voor jy dit weet, het jy jou daaglikse werk onttrek aan die diens van die Here. Dan is jy nog steeds 'n lidmaat van die kerk, jy het die naam dat jy lewe, maar jy is besig om te sterf.

Dit is wat gebeur as jy die Gees uitblus.

En daarom raak die waarskuwing van Paulus ons heel direk: Blus die Gees nie uit nie.

Of wel: Laat die Heilige Gees werk in jou lewe. Hy wil jou lewe heilig vir die Here. Of wel: Hy soek die toewyding van jou lewe aan die diens van die Here. Met die vuur van Pinkster wil Hy ook by jou 'n vuur ontsteek.

Ook by jou broeder of suster wil Hy die vuur ontsteek.

En Hy doen dit. As jy dit maar net wil sien. Die Gees stel werklik sy gawes beskikbaar onder ons. Maak net jou oë daarvoor oop.

Wees bly as daar mense in die gemeente bly is. Wees dankbaar as mense met entoesiasme iets begin aanpak. 'n Bybelstudie, 'n sangkoor, 'n evangelisasie projek.

Daarvoor is vuur nodig, die vuur van entoesiasme.

Maar dit is 'n vuur wat jy sommer weer kan uitblus, deur self te bly sit en op 'n afstand kritiek oefen.

Om alleen maar kritiek te oefen op mense wat hul inspan in die gemeente is die mees effektiewe manier om die Gees uit te blus.

En daarom blus die Gees nie uit nie!

Dit is ook 'n woord wat vir ampsdraers geld. Hulle kan heel pligmatig weer hul ry huisbesoeke afwerk. Sugtend, omdat hulle so dikwels van huis moet en die werk so swaar is. As dit gebeur dan kan ons verstaan dat daar na hulle 'n generasie opstaan wat sê: Ek 'n ampsdraer? My nie gesien nie!

Maar die omgekeerde gebeur ook: As 'n ouderling of diaken met entoesiasme sy werk doen, as hy kans sien om iets van die blydskap van die diens van die Here oor te dra, dan kan die Pinkstergees werk. Dan bly die lewe in die gemeente behoue. Dan kom daar ook groei. Groei in kennis in liefde, en in toewyding van die lewe aan die Here.

In die verband waarsku Paulus om profesieë nie te verag nie.

Die profesie soos dit in die eerste gemeentes gefunksioneer het, was een van die belangrikste geskenke van die Gees aan die gemeente.

Paulus beskou byvoorbeeld die profesie as van baie groter betekenis as die spreek in tonge. Immers, die profesie dien direk die opbou van die gemeente in die geloof.

Ons moet naamlik besef dat in die begin van die geskiedenis van die kerk daar nog nie bybels beskikbaar was, wat elkeen kon lees nie. eers heel langsamerhand is die briewe van Paulus oor die gemeentes versprei.

Tog was daar baie praktiese vrae waarop die eerste christene 'n antwoord gesoek het. Watter rigting wys die Here vir ons? Wel, in daardie situasie het in die gemeente gereeld profete opgetree. Hulle het gewoonlik hul optrede aangekondig met: Ek het 'n woord van die Here vir julle.

Of daardie profete steeds besondere woordelikse openbarings gehad het, of dat hulle deur die Heilige Gees getooi is met spesiale insig in die wil van die Here, dit weet ons nie, maar in elke geval was hulle in staat om God se bedoeling uit te lê.

Hulle kon konkrete aanwysings gee oor wat die gemeente moes doen in sekere situasies. Hulle kon soms vermaan of vertroos, afhangende van die situasie.

Wel, daarvoor vra Paulus nadruklik aandag. Luister na daardie profesië. Dit is werking van die Heilige Gees! Let nie op die persoon wat jou vermaan nie, maar luister na Sy Woord, want daardeur wil die Here die lewende gemeente opbou.

2. Ons moet elke vorm van kwaad afweer.

As die Here besig is om koring te saai, moet ons maar aanvaar dat Satan agter Hom loop om onkruid te saai.

Ofwel, as die Heilige Gees die gawe van die profesie aan die gemeente ter beskikking stel, dan kan dit ook gebeur dat vals profete hul ter beskikking stel, dan kan dit ook gebeur dat vals profete hul kans waag. En dit maak dit baie moeilik om te beoordeel of ons met ware profesie of met valse profesie te doen het. Nou kan 'n mens die sekere voor die onsekere neem en enige profesie summier verwerp. Weg met alle profete! Maar dan sê Paulus: Nee, verag die profesie nie. Die geskenke van die Heilige Gees moet jy bly verwelkom, maar beproef alle dienge. En behou die goeie.

En daarmee is al almal geroepe om te oordeel. Dit kan ook want almal het die Heilige Gees ontvang. En daarom moet almal die profesieë toets naamlik of hulle uit God is, of dat hulle van die Satan afkomstig is. As in die gemeente iets anders gesê word as wat dit altyd gesê is, of as op sekere sake 'n ander visie gegee word as wat ons gewoond is, wys dit dan nie summier af nie. Want dan laat jy die konservatisme regeer. En dit is die dood vir 'n lewende gemeente. Dan blus jy die Gees uit.

Nog 'n effektiewe manier om die Gees uit te blus, is om in jou persoonlike lewe of in jou kerklike lewe die sonde 'n wettige plek te gee.

En daarom sluit Paulus met die waarskuwing af: Onthou julle van elke vorm van kwaad.

Jy moet die kwaad nie 'n enkele kans gee nie. Byvoorbeeld die kwaad van jaloesie, van onvrede, van bitterheid, van negatiwiteit, van lasterpraat. Dit doen so verskriklik baie skade!

Eerstens aan jouself, maar vervolgens aan jou gesin, dan aan jou vriendekring en dan aan heel die gemeente. Dit is 'n bose kringloop wat 'n ernstige bedreiging vorm vir die lewe van die gemeente.

Ons is almal mense. Mense wie se ou natuur nog steeds nie afgesterf het nie. En daarom moet ons onsself onder strenge tug hou.

Ons moet ons onthou van elke vorm van kwaad.

Die waarskuwing het die lewende gemeente van Thessalonicense hard nodig gehad. Want die Satan is altyd besig om die lewe van die gemeente te bedreig. Vandag ook nog.

En daarom het ons as gemeente ook hierdie waarskuwing nodig. Onthou julle van elke vorm van kwaad. Laat jou tog waarsku. Wees bewus daarvan dat jou lewe en die lewe van die gemeente onder voortdurende bedreiging is.

En dan hoef ons die gevare werklik nie te soek in allerhande bewegings en stromings buite die gemeente nie. Want dit is net wat die Satan wil, dat jy ver weg kyk en in die verte allerhande gevare raaksien. Dan kan hy inmiddels op die onbewaakte plek sy gang gaan, naamlik in jou hart.

In jou hart waar duistere begeertes skuil. In jou hart waar steeds weer verset opkom teen die regte van die Here op jou lewe. Laat ons daarom op ons pasoppens wees.

En bid dat ons ons hart nie laat vul met die dinge van hierdie wêreld nie. As ons daarin opgaan, sal ons tenslotte leeg agterbly.

Maar laat elkeen hulle hart vul deur die Heilige Gees. Moe meer jy daarvan vervuld raak, hoe minder plek daar is vir die kwaad.

En so hou ons vas aan die lewe wat die Gees vir ons geskenk het, en ons begin groei tot ons die volle maat bereik van die rykdom van Jesus Christus.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)