Die uitsig op die wederkoms maak die gemeente bly

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Thessalonicense 4
Preek Inhoud: 

Ps. 40: 1, 4
Ps. 40: 6, 8
Ps. 47: 1 - 4
Ps. 98: 1 - 4
Lees: 1 Thess. 4: 1 - 5: 11
Teks: 1 Thess. 4: 13 - 18

Broeders en susters, geliefde gemeente,

Elke jaar vier ons 'n aantal christelike feesdae. Op so 'n dag herdenk ons feestelik 'n blye gebeurtenis uit die lewensgang van Christus op aarde. Maar ons vier dit nie net as 'n feit uit die verlede nie, wat dit juis feestelik maak is dat die heilsfeit uit die verlede 'n verwagting open met betrekking tot ons toekoms.

Byvoorbeeld Paasfees: Christus het opgestaan uit die dood. Ons kan ons daaroor verbly, want nou is daar ook vir ons 'n opstanding. Hemelvaart: Christus het na die hemel gegaan. Ons wil ons verbly, want daarmee is ons toegang na God geopen.

Pinksterfees: Die Gees van Christus het as ons Trooster gekom. Ons is dus bly, want nou sal die Here vir altyd by ons bly.

So open die heilsfeit uit die verlede vir ons 'n uitsig na die toekoms. En die toekoms is die wederkoms van Christus. Die allerlaaste heilsfeit uit Christus se lewe. 'n Heilsfeit so groot dat ons dit ewig kan bly vier.

Die wederkoms van Christus is 'n belangrike tema in die briewe van Paulus aan die Thessalonicense. Saam met die tema van die blydskap.

Maar as ons goed toekyk, sien ons dat hier nie sprake is van twee losstaande temas nie, maar dat die twee baie nou saamhang. Die blydskap van die Thessalonicense word bepaal deur hul verwagting van die wederkoms. Deurdat hulle uitsien na die koms van die Here Jesus, kan hulle in hul blydskap volhard.

Ons tema vir die preek van vandag is:

DIE UITSIG OP DIE WEDERKOMS MAAK DIE GEMEENTE BLY.

Daarom moet ons:

  1. Staan in die geloof - want dit was Pase.
  2. Vashou aan die hoop - want dit was Hemelvaart.
  3. Bly in die liefde - want dit was Pinkster.

1. Ons moet staan in die geloof - want dit was Pase.

In die eerste hoofstukke van hierdie brief het Paulus baie geskryf oor die blydskap van die gemeente. Paulus kan nie ophou dank vir die wonders van genade wat die Here in Thessalonicense tot stand gebring het nie.

In hierdie vierde hoofstuk gee Paulus meer aandag aan 'n aantal konkrete sake wat in Thessalonicense gespeel het. Vanuit die waardering vir wat bereik is, probeer Paulus nou om saam verder te kom, sodat daar in die gemeente 'n lewenstyl groei wat pas by 'n gemeente van Jesus Christus.

Die geloofsblyheid wat gegroei en sigbaar geword het, moet vasgehou word in 'n lewenstyl wat die Here behaag. En darom het Paulus eers oor die seksuele lewe geskryf. Want hoerery pas onmoontlik by mense wat in gemeenskap met Jesus Christus lewe. Daarna het hy iets gesê oor die doen van jou daaglikse werk.

Ook daarin behoort jy as 'n christen uit te staan.

Wel, in hierdie verband wil Paulus ook iets sê oor die koms van die Here Jesus. Laat ons dit hier goed besef. Paulus skryf hier nie oor die wederkoms by wyse van inligting oor 'n teoretiese onderwerp nie, maar hy gee 'n praktiese aanwysing.

Want die verwagting van die koms van Christus het alles met die lewenstyl van die gemeente te doen. Dus wat Paulus hier vertel oor die wederkoms, is nie bedoel om die nuuskierigheid van die Thessalonicense of van ons te bevredig nie. Hy wil hier aandring op 'n christelike lewenstyl.

Broeders, so begin Paulus, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees nie. Dit is 'n kenmerkende prekstyl van Paulus. Ek wil nie hê dat julle nie moet weet nie. Hy bedoel: Dit is beslis noodsaaklik dat julle die volgende moet weet.

En wat moet hulle dan weet?

Julle moet iets weet oor die ontslapenes. Want voorkom moet word dat julle oor hulle sal treur soos hulle wat geen hoop het nie.

Die doel van wat Paulus hulle wil vertel is nie dat hulle sonder meer hul kennis moet vermeerder nie, maar veral dat hulle in hul lewe 'n seker manier van doen moet hê. Ofwel, die blydskap waarmee die Thessalonicense die evangelie aanvaar het, mag nie deur droefheid of in elk geval nie deur 'n verkeerde droefheid teniet gedoen word nie.

Wat was die probleem in Thessalonika?

Wel, hulle het met blydskap die boodskap wat Paulus gebring het, aanvaar. Ook die woorde oor die opstanding van Jesus en die belofte van Sy wederkoms. Na daardie wederkoms het hulle vol verwagting uitgesien.

Hulle het gemeen, daardie dag kan nie te lank duur nie. Toe hulle vervolg en verdruk is, het hulle daarop hul hoop gevestig. Die gedagte het vir hulle steun gegee. Jesus kom binnekort, dan sal die tronk oopgaan en ons mag deel in Christus se triomf. Die vreugtde wat ons dan mag ervaar sal alle verdriet goedmaak. Maar toe die wederkoms nie so gou gekom het nie, het hulle 'n probleem gevoel. Wat nou van die lidmate van die gemeente wat inmiddels gesterf het? Moet hulle die triomfantelike koms van die Heiland misloop? Hulle behoort tog ook daarby? Seker, hulle sal wel op die nuwe aarde opstaan, maar die mees feestelike, die wederkoms van die Here Jesus op die wolke het hulle dan misgeloop.

Op hierdie punt wil Paulus nadere toeligting gee. Want hul onkunde het hier 'n verkeerde droefheid tot gevolg. 'n Droefheid soos by mense wat geen hoop het nie. Paulus bedoel hier: ongelowige mense.

By hulle is die dood die einde. 'n Ongelowige sterfbed is omring deur wanhoop. Maar by christene is dit anders.

Seker, ook vir christene is die dood 'n vreeslike iets.

Dit is die grootste ramp wat in 'n gesin kan gebeur. Die dood bring ook in 'n christelike familie groot verdriet. en daarvoor gee die Bybel alle ruimte. Maar daar is 'n grens aan. Dit mag nie 'n droefheid sonder hoop wees nie. Die afsterwe van 'n gelowige mag ons nie radeloos maak nie, nie wanhopig, want daar is hoop, daar bly uitsig.

Ook ten aansien van die dood moet ons 'n eie christelike styl bewaar. Want ons weet dit: Eendag was dit Pase gewees!

Daaraan herinner Paulus hier. Ons glo mos dat Jesus gesterf en opgestaan het. Wel, houjvas aan daardie geloof, want dan mag jy ook glo dat die afgestorwe christene saam sal kom met Jesus op Sy dag. Op die dag van Sy glorie.

Kyk, die probleem waarmee die Thessalonicense geworstel het was dit: hulle het wel geglo in 'n ewige lewe. Maar, hulle het dit hulle nogal Grieks, heidens voorgestel. Die Grieke (Thessalonicense was Grieks!) het geglo in die onsterflikheid van die siel. Die siele bly ewig voortleef, in 'n hemel of as onderdeel van 'n goddelike siel of hoe die Grieke dit hulself ook maar voorgestel het.

Dat die siel na die dood altyd by Christus sou wees, dit kon die Thessalonicense ook wel aanvaar. Maar vir hulle was die allermooiste dat Christus eendag op die wolke sou terugkeer, en dat hulle daar dan as mense van vlees en bloed by kon wees. Dit sou die dag van die groot oorwinning wees. Alleen al die gedagte daaraan kon hulle opgewonde maak.

Maar ja, as jy nou voor die tyd sterf, wat dan? Dat hulle siel dan ewig sou lewe, nou ja dit het hulle eintlik altyd al geglo. Maar die afgestorwenes sou die allermooiste misloop. So het hulle gevoel. En daarom het hulle baie getreur as weer iemand van die gemeente gesterf het.

Maar dan sê Paulus: Maar so 'n droefheid is tog nie nodig nie. As God Jesus wil opwek uit die graf, dan sal God ook julle afgestorwenes kom opwek. Die krag wat God op die Paasdag vertoon het ten behoewe van Sy Seun, sal Hy ook beskikbaar stel vir al Sy kinders. En daarom sal die ontslapenes niks misloop nie.

Hulle sal terugkeer as mense van vlees en bloed op 'n tasbare aarde.

Dan Bly daar verdriet by 'n sterfgeval vanweë die gemis van 'n geliefde, maar dan is daar ook hoop. Die lig van die hoop moet skyn oor 'n christelike graflegging.

Juis by 'n oop graf moet blyk dat christelike blydskap die droefheid oor 'n ontslapene kan oorwin.

Want dit was Pase gewees. Sinds Pase mag ons oor die afgestorwenes praat as ontslapenes. Hulle het ingeslaap, maar nie vir ewig nie. Hulle het ingeslaap om gewek te word deur die basuin wat die koms van Christus aankondig.

Laat ons in daardie geloof ons blydskap vashou, broeders en susters. Want dit was Pase.

2. Ons moet vashou aan die hoop - want dit was Hemelvaart.

Want dit sê ons vir julle deur die Woord van die Here. Met hierdie woorde onderstreep Paulus die gesaghebbende van wat hy nou verder gaan sê. Ons weet nie of Paulus hier op 'n spesiale uitspraak van die here Jesus doek, of dat hy 'n spesiale openbaring op hierdie punt gehad het nie. Duidelik is dat hy hier nie sommer 'n eie siening deurgee nie. Blykbaar mag hy iets spesiaals oor die wederkoms vertel.

Met die 'ons wat in die lewe oorbly', bedoel Paulus dat daar altyd 'n kerk sal wees wat wag op die koms van Christus, en dit ook sal meemaak. Paulus sluit homself in by die kerk van alle tye.

Wel, van die wederkoms weet hy een ding seker: hulle wat dan nog lewe, sal die ontslapenes definitief nie voorgaan nie.

Eintlik is met hierdie versekering die probleem van die Thessalonicense opgelos. By die koms van die Here (ons teks praat hier van die paroesia van die Here), daar sal ook die ontslapenes by wees.

Ek wil vir u iets meer vertel van die Griekse woord paroesia.

Dit beteken iets soos feestelike intog.

In die ou tye het regerende vorste nou en dan ook die stede van hul land besoek. Uit die aard van die saak het die stede dan die otnvangs van die koning goed voorberei. Maar in daardie tyd was dit taamlik moeilik om die presiese aankomsdatum te beplan.

Na die voorbereidings het almal weer hul gewone werk gedoen, totdat 'n basuin die stad waarsku. Daar kom die koning! En dan het die hele stad uitgeloop om die koning en sy gevolg op die laaste ruk na die stad te vergesel. Wel, hierdie gebeurtenis is die paroesia genoem, die feestelike intog.

En hierdie woord word in ons teks gebruik vir die koms van die Here Jesus op Sy dag. U sal verstaan, by die paroesia wil almal by wees natuurlik. dit is mos die groot dag vir al die christene wat vol spanning op hul koning gewag het. Wanneer sal Hy kom?

Wel, in Thessalonicense is die mense bang dat die ontslapenes daardie glorieuse oomblik misloop. En daarom stel Paulus hulle gerus. Nee, die ontslapenes sal daarby wees. Hulle kom almal saam in die stoet met die koning.

As die oomblik daar is dat Christus sal kom, dan sal die ontslapenes gewek word. Dan sal 'n aartsengel met 'n basuin hulle wakker roep wat in Christus gesterf het, want juis hulle moet deel wees van die triomfoptog van koning Christus.

En dan eers is hulle wat dan nog lewe aan die beurt. Hulle sal saam met die opgestane ontslapenes in wolke weggevoer word, die Here tegemoet in die lug.

Ek dink ons kyk 'n bietjie vreemd na hierdie woorde, totdat ons besef dat ons hier 'n beskrywing vind wat herinner aan die hemelvaart van die Here Jesus self.

Want net so, op 'n wolk in die lug, het Hy van die aarde weggegaan.

Wel, omdat Hy so weggegaan het, moet Hy ook so terugkom.

Dink maar aan die woorde van die engele in Hand. 1, by die Hemelvaart: Hierdie Jesus wat van julle weggeneem is, sal net so terugkom as wat julle Hom na die hemel sien vaar het.

By die hemelvaart kon die dissipels Hom nie vergesel nie. Hulle moes op die aarde bly. Alleen Jesus Self kon die grens van die aarde na die hemel oorgaan. Op die Hemelvaartdag het die Here Jesus alleen Sy triomftog gemaak, omdat Hy op die Paasdag alleen Sy graf verlaat het.

Maar by die wederkoms mag al die gelowiges deel hê aan Sy triomftog. Hulle sal eers deel in die Paaswonder, die opstanding uit die dood, en dan mag hulle ook deel in die wonder van die Hemelvaart. Dan is ook vir hulle die kloof tussen hemel en aarde oorbrug.

Dan is daar niks wat hulle nog van hul geliefde Heiland kan skei nie. Dit is dan ook die konklusie van ons teks: so sal ons altyd by die Here wees.

Ons mag dan altyd met Hom omgaan. Daar kom 'n nujwe hemel en 'n nuwe aarde. Iets van die posisie van die Paradys keer terug. Daar mog Adam gewandel het met god.

Eintlik is daar dan nog 'n fees vervul. Die Kersfees.

Onthou u die Kersfees as die fees van Immanuel.

Immanuel, dit beteken: God met ons.

En by die wederkoms bly dit God met ons, maar nog toegevoeg: ons met Hom. Ons mag by die Here wees. Vir altyd.

3. Ons moet bly in die liefde - want dit was Pinkster.

Nadat Paulus oor sulke groot dinge gepraat het, volg nog 'n baie sober slot: Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.

Bemoediging, vertroosting. Dit is kenmerkend die werk van die Heilige Gees. Hy is die Trooster wat Christus gestuur het.

Sinds die Pinksterdag is die Heilige Gees werksaam in die gemeente.

As gemeente, as broeders en susters het Hy ons aan mekaar verbind.

Met 'n opdrag. Naamlik om mekaar te bemoedig en te vertroos.

Met die boodskap wat Paulus hier weergegee het.

Elkeen van ons het die opdrag. Dit hoef jy werklik nie oor te laat aan 'n predikant, 'n ouderling of 'n diaken nie. Julle het mos almal die Gees ontvang.

Dus as daar moeite is in die lewe. Bemoedig 'n ander met hierdie woorde. Skaam julle daarvoor asseblief nie. Wys mekaar op beloftes van die Here. Hou mekaar vas as iemand dreig om af te dwaal.

Wanneer die dag sal kom, kan niemand sê nie. Hoe dit alles presies sal toegaan, weet ons ook nie. Die Here het dit beter geag om die sake vir ons geheim te hou. hy vra net: geloof.

Vertrou op My beloftes. Hulle is genoeg vir julle. My dag sal kom, en julle almal wat glo kan deel in die blydskap van daardie dag.

En dus kan ons mekaar opvang in liefde as die Here by iemand in die gemeente droefheid bring. Ons is saam verantwoordelik om die blydskap van die evangelie vas te hou, en daarin selfs te groei. En so gaan ons saam die dag van Christus tegemoet!

Tot daardie dag moet ons as gemeente bly in geloof, hoop en liefde, en mekaar vermaan om die koms van Jesus met blydskap te verwag.

Wat sal dit 'n vreugdevolle dag wees! Immers, dan is dit Kersfees, Pase, Hemelvaart en Pinkster of een dag.

Ons blydskap sal dan geen grens meer ken nie.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)