God vra heiliging van die seksuele lewe

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Thessalonicense 4
Preek Inhoud: 

Ps. 113: 1, 2, 3
Ps. 112: 1 - 4
Ps. 26: 1, 2, 3
Ps. 25: 1, 2, 3
Lees: 1 Thess. 3: 1-4: 8
Teks: 1 Thess. 4: 3 - 8

Broeders en susters, seuns en dogters,

Dit is nog nie so lank gelede dat die onderwerp seksualiteit 'n moeilik bespreekbare saak was nie. En werklik nie alleen binne die kerk nie, maar ook daarbuite. Tot so dertig jaar gelede was daar op die gebied van die seksualiteit 'n min of meer algemeen aanvaarde moraal. Om seksuele omgang te hê buite die huwelik was verkeerd en 'n gedwonge huwelik is deur almal ervaar as 'n skande.

Die tye het wel verander. In hierdie opsig ten ongunste. Altans as dit gaan om beoordeling van seksueel verkeer buite die huwelik. As ons egter kyk na bespreekbaarheid van die onderwerp, dan sien ek 'n verandering ten gunste. Vroeër kon oor die onderwerp skaars gepraat word. Selfs die basiese voorligting aan seuns en dogters oor die funsionering van hul geslagsorgane is deur baie ouers uit skaamtegevoel agterweë gelaat. En om met hul kinders te praat oor ervaring van seksuele gevoelens, was heeltemal 'n probleem. Nou sal ek die laaste wee om te beweer dat dit so eenvoudig is. Daarvoor is jy as ouer self te emosioneel betrokke. Dit is maar moeilik om van jou gevoelens in die opsig teenoor iemand anders iets bloot te gee. En miskien nog wel ekstra moeilik teenoor jou kinders.

Daarom is die gevaar groot dat ons die maklike pad kies, en tog maar weer oor die onderwerp swyg. Maar dan sou ons 'n groot fout maak. Juis in ons tyd waarin van die kant van die wêreld ten aansien van die onderwerp geen enkele terughoudendheid in ag geneem word nie.

Dit is opvallend dat die Bybel die onderwerp nooit uit die pad gaan nie. Paulus was glad nie skaam om oor seksuele sake te praat nie. In hierdie brief aan die Thessalonicense is dit selfs die eerste onderwerp wat hy aan die orde stel. Hy het hier naamlik 'n boodskap van die Here. Want jou seksualiteit is nie iets wat buite jou geloof staan nie. Dit is mos 'n skeppingsgawe wat die Here die mens geskenk het. En hy wil dat ons Sy skeppingsgeskenke met sorg moet hanteer. Ook op die gebied wil Hy met Sy genade ons sondes oorwin, sodat ons as Sy dinders ook werklik bly kan wees voor Sy aangesig.

GOD VRA HEILIGING VAN DIE SEKSUELE LEWE.

  1. Die agtergrond van hierdie gebod.
  2. Die uitwerking van hierdie gebod.
  3. Die erns van hierdie gebod.

1. Die agtergrond van hierdie gebod.

Dit is heel eenvoudig wat Paulus in vers 3 sê: dit is die wil van God: julle heiligmaking. God wil dat Sy kinders heilig moet lewe.

Maar op die oomblik dat jy so 'n stelling mak, kom onmiddellik die vraag: Maar wat beteken dit prakties? Hoe heilig jy jou lewe as gelowige in Jesus Christus?

Want as jy die boodskap van verlossing deur Jesus Christus aanvaar, dan moet dit tog 'n verandering in jou lewe gee? Immers, as dit nie die geval is nie, dan beteken die verlossing deur Christus niks nie.

Ons het die preek van verlede week afgesluit met die gedagte dat dit ons bestemming is om onberispelik in heiligheid te wees (3: 13). God wil ons verlos van slawerny aan allerhande sondes wat ons lewe met Hom bedreig.

In ons teks word so 'n slawerny heel konkreet aangewys.

God wil julle heiligmaking, en dit beteken in die eerste plek dat julle jul moet onthou van die hoerery.

Hoerery - dit is in die Nuwe-Testament die versamelwoord vir allerhande sondes op seksuele gebied. Byvoorbeeld prostitusie in tempels en bordele, buite-egtelike geslagsverkeer, homoseksuele praktyke ens.

Ons het dikwels die gedagte, gemeente, dat hierdie soort dinge slegs in ons tyd gebeur. Vandag word op talle maniere bedekte propaganda gemaakvir die beoefening van sogenaamde vrye liefde. Seksuele omgang met wie jy wil en wanneer jy wil.

Dan kan ons meen, ons leef vandag tog wel in 'n ekstra sondige tyd. Die einde4 sal wel binnekort daar wees, want dit kan nie lank meer duur nie. Maar ons moet nie 'n fout maak nie. In die wêreld waarin die Thessalonicense geleef het, was dit niks anders nie. In die Griekse wêreld was 'n vrye seksuele omgang met wie jy maar wou, 'n algemeen aanvaarde saak.

Seksualiteit was 'n behoefte, 'n menslike drif op soortgelyke vlak as eet en drink. So 'n drif behoort bevredig te word, hoe en wat maak nie soveel saak nie.

Wel, in so 'n wêreld het Paulus met die evangelie gekom. En met 'n gebod van God: jy mag nie egbreek nie.

Wil u weet hoe die bewoners van Thessalonicense gevoel het oor iemand wat kom praat oor onthouding en selfbeheersing in seksuele opsig? Agterlik!, het hulle dit gevind. Bespottelik!

Dit kan selfs skadelik wees vir jouself. Jy kan jou drifte nie sommer verdring nie? Dit maak 'n mens maar net gefrustreerd. So het die Grieke gevoel.

Dus leef ons vandag werklik in 'n heel ander tyd, waarin op seksuele gebied totaal nuwe menings verkondig word? Wel nee, glad nie. Wat ons vandag sien is tenslotte slegs 'n herhaling van 'n suiwer heidense mentaliteit en lewenspraktyk.

Dit is waar jy vroeër of later uitkom as jy nie meer 'n wet van 'n God in jou lewe wil erken nie. By 'n heidense leefwyse. En daarom as jy as kerk van Christus in so 'n wêreld lewe moet hier 'n groot waarskuwingsbord opgerig word.

Oor hierdie sake moet gepraat word. Jy mag hieroor eenvoudig nie swyg nie. Dis hoekom Paulus daaroor praat met die gemeente van Thessalonicense. Kernagtig vat hy dit so saam: Onthou julle van die hoerery. Daarby beroep hy hom op die Here Jesus Self. Lees vers 2: Julle weet watter bevele ons julle deur die Here Jesus gegee het. ook oor die seksuele lewe. Want as jy hier nie met heiliging van jou lewe begin nie, begin jy nêrens. As die gemeente van Christus hom in hierdie opsig nie van die wêreld onderskei nie, dan is Christus se werk verniet.

So 'n boodskap is vandag nie populêr nie. As jy dit aan jou kinders (en aan jouself) voorhou, bring jou dit onherroepelik in 'n isolement. Maar dit was in Thessalonicense nie anders nie. In daardie wêreld was sy boodskap net so onverkoopbaar as in ons wêreld.

Maar die vraag is nie of jy so 'n boodskap nog kan verkoop nie, maar dit gaan hieron: wat wil die Here?

Sy wil is in hierdie opsig baie duidelik: Daaraan mag jy nie meedoen nie!

Dit is ook die vlak warop jy hierdie sake moet aansny: Wat vra die Here in hierdie dinge van ons? Wat is Sy wil?

Laat niemand meen dat ons jeug dit uit hulleself wel weet nie. Hulle loop deur onder 'n taamlike agressiewe propaganda vir seksuele vryheid. Die Ameriakaanse manier van lewe wat ons via Televisie en bioskoopfilms voorgespieël word, het baie meer invloed as wat ons besef. In 'n film is dit die mees vanselfsprekende saak dat mense wat op mekaar verlief raak saam in bed gaan. Getroud of nie getroud nie. As daar nie teveel details vertoon word nie, se sê ons niks daarvan nie. Trouens aan details raak 'n mens ook vinnig gewoond. En voor ons dit weet, aanvaar ons kinders dit as volkome normaal. So gaan dit maar in die liefde... Maar die Bybel noem dit: hoerery!

Daarom moet ons in die opsig waaksaam wees. Vir onsself en vir ons kinders. Ons moet daaroor praat.

En as ons daaroor praat moet ons dit op die regte manier doen. Ons hoef nie 'n moralistiese praatjie te lewer, op die manier van: So of so maak ons nie. Dit of dat behoort nie.

As ons nie verder kom as dit nie, voer ons 'n verlore stryd. Vir 'n kind het so 'n verhaal geen enkele gesag nie.

Daar is slegs een manier hoe jy oor hierdie dinge kan praat. En dit is: So en so vra die Here. Hy het vir jou 'n wonderlike geskenk gegee. Ook 'n moeilike geskenk, maar as jy hou by die gebruiksaanwysings wat God Self gee, dan sal jy ontdek watter wonderlike geskenk dit is. Maar as jy self wil eksperimenteer, of op die raadgewings van die wêreld afgaan, dan maak jy daarvan 'n gemors. Dan beland jy op die vlak van hoerery.

Dus laat jou waarsku, deur die Here Self!

2. Die uitwerking van hierdie gebod.

Ons kan maar rustig aanvaar dat Paulus reeds oor die heiliging van die seksuele lewe gepraat het toe hy self in Thessalonicense was. Noudat hy vir hulle later 'n brief stuur, werk hy 'n bepaalde onderdeel daarvan nog 'n bietjie verder uit. Naamlik die voorbereiding tot die huwelik.

Ons leer daarvan in vers 4: God wil dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer.

Hier gee Paulus dus duidelik onderwys aan die jeug van die gemeente. Let wel, Paulus sê hier nie dat jy as seun nie 'n meisie mag begeer nie. Ewemin beweer Paulus dat die liggaamlike verlange na mekaar iets verkeerdsw sou wees nie.

Hy sê alleen dit: In die verlange na mekaar moet julle, as gelowiges, heiligheid betrag. Jy mag jou nie laat dryf op jou hartstogtelike begeertes nie. Want so maak die heidene. Hulle wil God nie ken, en in hierdie saak nie erken nie. Die gevolg is: hulle laat hulleself slegs dryf op hul gevoelens. En hulle noem dit alles: liefde. Luister 'n slag na die radio, en jy hoor hoe daar van die liefde gesing word. Daardie liefde is blykbaar onweerstaanbaar. Jy moet die stem van jou hart maar volg. Hy is baas.

Wel, wat daar 'liefde' genoem word, noem Paulus 'hartstogtelike begeerte'! En daardie hartstog heers oor jou lewe. In naam van die liefde word egbreuk gepleg, troubeloftes verbreek, huwelike summier beëindig, kinders skade gedoen. In die naam van die liefde breek die lewe stukkend! En daaron skryf Paulus hier so skerp: laat julle nie saamsleep deur hartstogtelike begeerte nie. Want dan word jy weer 'n slaaf. 'n Slaaf van jou begeertes! Terwyl jy as kind van God juis bevry is! Juis as kind van God kan jy weet wat ware liefde is. Liefde heers nie, maar dien. Liefde maak nie misbruik van 'n ander nie, maar liefde kan ook 'nee' sê as jy aan 'n grens kom.

Dus onderskei dit baie goed, seuns en dogters: liefde en hartstog. Veral as dit gaan om 'n verhouding wat jy met 'n ander begin. Die enigste vraag is dan nie: Voel ek iets vir hierdie seun of dogter nie? Maar: Mag ek, as kind van God van hierdie seun of dogter hou?

Is ek hier besig, of die woorde van Paulus self te gebruik, 'n man of 'n vrou te verkry in heiligheid en eerbaarheid?

Wie vir homself steeds weer hierdie vraag vra, weet baie goed wanneer hy aan sekere verlangens kan toegee, en wanneer nie.

Dan weet jy baie goed of jy uitsluitlik jouself en jou begeertes soek, of dat jy God behaag (vers1)

In die verband is dit belangrik om ook op vers 6 te let: Niemand moet sy broeder in hierdie saak bedrieg of benadeel nie.

Ons kan hier rustig ook maar by aanvul: Jy mag ook jou suster in hierdie saak nie bedrieg nie.

Verskillende uitleggers dink hier aan 'n direkte verwysing na die 7de gebod. Wie 'n vrou van 'n ander afvat deur met haar owerspel te pleeg, benadeel sy broeder, die man van hierdie vrou.

Maar ek meen dat Paulus nog steeds oor die voorbereiding tot die huwelik praat.

Jy mag jou broeder of suster in hierdie saak nie bedrieg of benadeel nie. Die verhouding tussen seuns en dogters het op 'n sekere leeftyd ook die karakter van 'n eksperiment. Jy moet leer om met mekaar om te gaan en daar van is deel 'n verkenning van mekaar se liggaam. Hande vashou, soen en streel, behoort daarby. Ons hoef daaroor nie dramaties te doen nie. Tegelykertyd is hier wel 'n waarskuwing op sy plek. Seuns en dogters kan ook by wyse van eksperiment baie ver gaan in liggaamlike kontakte, sonder dat hulle, of een van hulle werklik ernstig is om die ander nader te leer ken. Seuns kan dit maar net lekker vind om aan 'n meisie te vat, sonder dat hy werklik vir haar as mens omgee.

Wel, in so 'n geval bedrieg jy jou suster in hierdie saak. Of benadeel jy jou broeder as jy as meisie net met hom flirt, sonder dat jy iets vir hom voel.

Daarmee kan jy iemand baie ernstig beskadig. Ek vrees dat daar talle vroue is wat in hul jeug op een of ander manier in hierdie saak bedrieg is, en daardeur al hul vertroue in die bedoeling van mans verloor het. Wat vir die een ernstig bedoel was, was vir die ander net 'n spel gewees.

Ook hierin moet jy dus as christen jou naaste liefhê soos jouself. Ook as jy ernstig is met 'n seun of dogter, moet jy daarvoor waak om die ander nie te misbruik deur hom of haar jou hartstogte op te dring nie.

In die verband wil ek ook noem die verhoudings wat jy sou begin met 'n ongelowige. Uit die aard van die saak kan jy ook op 'n ongelowige verlief raak. Maar as jy werklik ernstig is oor jou geloof in Jesus Christus, dan kan so 'n verholuding nie aangaan nie.

Stop daarmee, voordat dit vir jouself te moeilik raak. Want 'n christelike huwelik kan alleen maar 'n huwelik in die Here wees. En om jou man of vrou te verkry in heiligheid en eer, is 'n onmoontlikheid buite Christus om.

3. Die erns van hierdie gebod.

Paulus onderstreep sy aanwysings met 'n diep ernstige woord: Die Here is 'n wreker oor al hierdie dinge. Dit beteken: God laat 'n onheilige omgang tussen man en vrou, tussen seuns en dogters nie ongestraf nie. As jy jou huwelik in die opsig verkeerd begin het, sal die gevolge merkbaar wees. Soms meer, soms minder.

Nou is dit natuurlik nie die bedoeling om 'n huwelik wat 'n verkeerde begin gemaak het, per definisie as 'n mislukking te benoem, of by probleme te sê: Kyk, dit is julle straf van die Here! Nee, God se genade is dikwels baie groter as wat ons dink. Daarvoor kan jy as mens dankbaar wees. Maar jy mag nie van tevore op God se genade spekuleer nie.

So van: Ek het nou begin aan iets waarvan ek weet dit kan eintlik nie, maar God moet my maar bewaar nie.

So mag ons met God se gebooie en onderwysings nie omgaan nie. Die Heer is 'n wreker van dit alles. Die praktyd wys dit dikwels ook. 'n Huwelik wat wak begin het, kan dikwels later nie die paal opkom nie. Of 'n verkeerde omgang met mekaar in seksuele opsig in die verlowingstyd, lei dikwels tot moeite en onvrede in die huwelik.

En aan die ander kant: die jong man en vrou wat vanaf die allereerste begin saam geleer het om met mekaar om te gaan in heiligheid en saam die wil van die Here te soek, in so 'n huwelik gee die Here groot seën. As jy in jou verkeringstyd geleer het wat werklik liefde is, dan gaan dit jou geweldig help in 'n huwelik. Maar dan is dit nog steeds 'n geskenk van die Here! God het julle almal tot heiligheid geroep.

Hy begin daarmee by die Doop en sit dit voort in jou hele lewe. Daardie heiliging kan niemand uit homself opbring nie. Dit bly die werk van die Heilige Gees! Die Gees wat ook jou liggaam heilig in die Here. Want dit is waar dit die Here om gaan. Om totale heiliging.

Laat niemand hierdie woorde langs hom neerlê nie. Want ook met die heiliging van jou seksuele lewe staan of val u lewe met die Heilige God.

Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie 'n mens nie, maar God. So ernstig is die boodskap van die prediking.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)