Paulus se dankbaarheid vir 'n lewende gemeente in Thessalonicense

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Thessalonicense 1
Preek Inhoud: 

Ps. 125: 1 - 5
Ps. 125: 6, 7
Ps. 24: 5, 6, 7
Ps. 37: 21, 25
Lees: Hand. 17: 1 - 14
Teks: 1Thess. 1: 1 - 3

Geliefde gemeente,

Die jaar 1991 is vir ons as gemeente 'n besondere jaar. Ons het 'n nuwe kerkgebou in gebruik geneem met tal van nuwe moontlikhede. Hoe om die geleenthede effektief te gebruik, vra 'n hele klomp dinkwerk en beplanning. Tegelykertyd dwing al die moontlikhede tot 'n grondige besinning. Wat maak ons met die moontlikhede? Seker, dit bied 'n ryke geleentheid vir ons eie kerklike lewe. Ons het amper 10 studieverenigings wat gereëld vergader. Ons het meer as 10 kommissies wat ook ruimte nodig het. En vir elkeen kan ons ruimte maak. Pragtig, en tog dring die vraag hom op: Is ons klaar as die hele kerklike organisasie soepel draai? Voldoen ons dan aan die roeping waarvooor Christus die gemeente in lewe gewek het?

Oor die laaste tyd het by ons steeds meer die oortuiging gegroei dat ons, selfs by 'n perfek georganiseerde kerklike lewe, tog nie die gevaar van 'n sekere onvrugbaarheid vryspring nie. As lede van die gemeente kan ons so besig raak met onsself en met mekaar, dat daar van 'n uitstraling na buite glad nie meer sprake is nie. Om op die gevaar te besin en tegelykertyd iets daaraan te doen, het die kerkraad onlangs 'n studiedag gehou oor die opdrag van die kerk om na buite-toe gerig te wees, onder die titel: 'Missionêre gemeente'. Toe is ook besluit om die onderwerp tot 'n jaartema te maak wat in huisbesoeke, op studieverenigings en spesiale vergaderings ter sprake gebring sal word. Uiteraard sal die onderwerp ook in die prediking die nodige aandag kry. Daarmee wil ons vandag 'n begin maak. Ons sal as gemeente die komende weke 'n vars bad neem in die eerste tyd van die christelike gemeentes. Ons wil kyk hoe hulle hul opdrag om die wêreld kerk van Jesus Christus te wees, verval het. Ons maak 'n begin met die lesing van Paulus se oudste brief wat hy aan 'n gemeente geskryf het. Sy brief aan die Thessalonicense.

PAULUS SE DANKBAARHEID VIR 'N LEWENDE GEMEENTE IN THESSALONICENSE.

Hy merk op:

  1. hul werk van die geloof
  2. hul inspanning van die liefde
  3. hul volharding in die hoop.

1. Paulus merk op hul werk van die geloof.

Thessalonika was 'n taamlike belangrike hawestad in Griekeland. Dit het as gevolg gehad dat daar mense van allerhande soort gewerk en gewoon het. Dit wil voorkom asof Paulus 'n sekere voorkeur gehad het om juis in daardie tipe stede te begin werk.

Uit die verslag van die eerste besoek van Paulus en sy reisgenote aan Thessalonika (Hand. 17), weet ons dat Paulus ook daar begin het met Christus-verkondiging in die Joodse sinagoges. Drie sabbatte agtereenvolgens het hulle vir hom die geleentheid gegee om uit die Skrifte te toon dat Jesus die Christus is, maar toe was dit verby. Die Jode het nie van sy prediking gehou nie. Hulle het toe 'n klomp leeglopers opgesweep om 'n massabetoging teen Paulus en sy volgelinge te hou. Hulle het die huis van een van die eerste christene uit die stad, 'n sekere Jason bestorm met die bedoeling om Paulus-hulle in die hande te kry. Hulle het hom toe nie gekry nie, maar die broeders het geoordeel dat dit beter is dat Paulus die stad verlaat.

Wel, na 'n hele paar ander reiservarings kom Paulus tenslotte in Korinte. Dit is daarvandaan dat Paulus nou vir die gemeente van Thessalonicense 'n brief stuur. Saam met Silvanus en Timoteüs skryf hy vir hulle.

Aan die gemeente van die Thessalonicense! so adresseer hy sy brief. Aan die gemeente. Want inderdaad daar het 'n gemeente ontstaan. Die optrede van Paulus-hulle in Thessalonika is baie ryk geseën. Slegs drie weke was hulle in die stad. Slegs drie weke het hulle die kans gehad om van Jesus Christus te vertel. En nou is daar 'n gemeente. 'n Gemeente, nie sommer 'n klub of 'n sekte nie. Immers 'n sekte word opgerig rondom 'n persoon, 'n leier. En as die leier nie meer daar is nie, dan val so 'n groepie uit mekaar.

Maar by 'n gemeente is dit nie so nie! Immers, 'n gemeente word nie deur mense gestig en bymekaar gehou nie. Maar die instandhouding van die gemeente is die werk van God Self!

Daarom skryf Paulus ook so pragtig 'aan die gemeente van die Thessalonicense, wat in God die Vader en die Here Jesus Christus is'.

God Self is die fondament waarop die gemeente gebou is. 'n Onwankelbare fondament. En daarom het daar tog 'n gemeente gebly, toe Paulus na drie weke moes vlug. Want die gemeente was nie gebou op Paulus se teenwoordigheid nie, maar op die Here Jesus Christus.

Want dit was Sy Naam wat in Thessalonika verkondig is deur Paulus-hulle. Hulle het vertel van die koms van Jesus Christus, van Sy lyde vir die sonde en van Sy opstanding uit die dood. Hulle het vertel van Sy beloftes by Sy hemelvaart, van Sy koninkryk wat besig is om te kom, en van Sy wederkoms om te oordeel. En daardie boodskap het ingang gevind in Thessalonika. Hulle het die Woord in geloof aanvaar. En daarmee het hulle hulself toevertrou aan Jesus Christus. Hulle is nou 'n gemeente. 'n Gemeente van gelowiges in Jesus Christus. Maar omdat daar allerhande probleme kan kom, en omdat die mens maar swak is, het die geloof ook steeds versterking nodig. En dit is die rede dat Paulus vir hulle skryf. En dan begin hy met 'n pragtig versterkende groet: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!

Genade - een van die rykste woorde van die christelike lewe. Genade beteken mos dat jy eintlik jou lewe verbeur het. Jy het nie meer reg op die lewe nie, en tog ontvang jy dit!

Jy is ter dood veroordeel, maar jy word vrygespreek van straf. Dit is nou genade. Genade van God die Vader en van Sy Seun Jesus Christus.

Want so het die Thessalonicense die boodskap van Paulus verstaan en aanvaar, as die blye boodskap van lewensredding deur Jesus Christus.

En daar kom nog by dat hulle ook vrede ontvang van God. Dit beteken hul lewe kan nou vry-uit ontplooi. Want 'n lewe in sonde bring altyd onrus en onvrede in jou lewe. Die sonde kan alles wat mooi is stukkend maak, maar as God in jou lewe inkom, dan word daar 'n begin gemaak met puin opruiming in jou lewe.

Dit wat verkeerd was word reggestel. Langsamerhand kom alles weer op sy plek. Daar kom rus in 'n mens se lewe as daar vrede is. Dit is die magtige realiteit wat die Thessalonicense in hul eie lewe ervaar het. Toe hulle in geloof die boodskap oor Jesus Christus aanvaar het, het daar genade en vrede hul lewe binnegestroom.

Dit is vandag ook vir u, gemeente. Die genade en vrede van God word vir u elke week uitgedeel, dit word in u hande gelê: Hier vir jou. Genade en vrede van God!

Waar so 'n geskenk uitgedeel word, gebeur werklik iets. Nie dat die sonde in een keer uit jou lewe uitgesluit is nie. Nie dat dit in die gemeente van Christus alles goed gaan nie. Nee, daar bly probleme wat ergernis gee, en moedeloos kan maak. En tog, daar verander ook dinge. Waar die genade en vrede van God uitgedeel word, daar ervaar jy die krag daarvan. Selfs al gaan dit in die lewe nie so maklik nie. In Thessalonika weet hulle alles daarvan. Toe hulle nog maar net die Evangelie aanvaar het, was hulle al in die moeilikheid. Hulle was die teiken van agressiewe straatboewery. Hulle het baie bedreig gevoel toe die massa in beweging gekom het teen die jong christengemeente. En tog: genade en vrede vir julle. Dit is daar. En van daaruit kan gewerk word. Van uit die geloof in die genade en vrede van God. So 'n geloof bring mense in beweging.

Daarom is dit belangrik om goed te besef wat geloof eintlik is.

Baie mense het die gedagte: geloof is dat jy gereëld bid, uit jou bybel lees en kerk-toe gaan. Wel, met hierdie dinge is op sigself niks verkeerd nie, maar dit is daarom nog nie geloof nie. Dit is eerder godsdienstigheid. Baie mense is godsdienstig genoeg.

Maar die probleem met godsdienstigheid is, dit kan baie maklik ingebou word in 'n lewe vol egoïsme en selfdiens. Dan gaan dit in jou lewe altyd om jouself, ook al maak jy daarin ruimte vir godsdienstigheid. Maar as so 'n godsdienstige mens vir 'n keuse kom, dan laat hy altyd sy eie belang swaarder weeg as die belang van God of van sy naaste.

'n Godsdienstige mens maak wel beloftes, maar as dit vir hom beter pas, dan breek hy sommer maklik sy beloftes. Want eie belang weeg dan swaarder as sy godsdienstigheid.

Maar 'n gelowige kan nie so maak nie. Want hy glo hy staan met sy hele lewe voor die aangesig van God. Ook met sy beloftes en met al sy dade. En daarom is dit so 'n wonderlike greep van ons teks, dat hier gepraat word van die werk van die geloof. Werke op sig het vir God geen waarde as daar geen geloof is nie. Maar geloof sonder werk is nie geloof nie. Maar as Paulus die werk van die geloof van die Thessalonicense noem, dan weet ons dat hulle in Thessalonicense 'n geloof gehad het, wat 'n werksame krag in hul lewe was. 'n Bron van daaglikse inspirasie, sodat hulle steeds weer hul eie belang opgeoffer het aan die saak van Jesus Christus, en aan die gehoorsaamheid van Sy Woord.

2. Die inspanning van hul liefde.

Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede.

Blykbaar is daar vir Paulus-hulle rede om te dank. Dit gaan goed in Thessalonika! Hulle is 'n lewende gemeente van Christus. En kry dan die leiers van die gemeente 'n kompliment? Het hulle so hard gewerk aan die gemeente? Nee, aan God die dank!

As dit goed gaan in die gemeente, as die gemeente 'n lewende gemeente is, dan is dit die werk van God. Hy het die lewe in die gemeente geskenk. Hy het inderdaad Sy genade en vrede tot 'n werklikheid in die gemeente gemaak. En daarvoor kan Paulus nie ophou dank nie. Elke keer as hy bid, dan dank hy vir God se werk in Thessalonicense.

Altyd dank hy daarvoor. Ons kan hier iets leer gemeente. Ons is dikwels so vinnig klaar met dank. Ons kan 'n hele paar keer bid vir iets, maar as ons dit tenslotte ontvang dan dank ons. Een keer - klaar!

Maar nie Paulus nie. Elke keer as hy rondom hom kyk, sien hy die seëninge van die Here. En dan kan hy nie anders as dank nie. Laat ons dit vandag maar van hom leer, gemeente. Dank maar steeds weer, gemeente: vir die kerkgebou wat ons het. Dank vir vir die ouderlinge en diakens, wat leiding gee. Dank vir die predikant wat die Woord bedien. Dank vir die pragtige kanse wat God ons as gemeente gee. En by die huis: Dank maar vir die werk wat jy kan doen, dank vir die man of die vrou wat jy het, vir die kinders, dank vir vriende wat jou gegee is, dank vir die broeders en susters met wie jy in gemeenskap mag lewe. Dank God altyd.

Ja, dank ook vir almal. Paulus dank vir al die Thessalonicense. Nie alleen vir die vooraanstaandes in die gemeente, nie net vir die troue broeders en susters nie, maar hy dank ook vir die swak broeders, wat nogtans broeders is. Dank God maar dat ons ook gemeentelede het waaroor ons bekommerd is. Dit hou ons ootmoedig as gemeente. En bid maar baie vir die mense wat aan die rand van die gemeente staan.

Hulle het dit nodig. Julle ook trouens. Want as jy vir 'n ander bid, mag jy weet dat 'n ander vir jou sal bid. En so kan ons saam verder.

Paulus praat hier van die arbeid van die liefde waarvoor hy so dankbaar is. Laat ons iets sê van die liefde.

Ons verbind liefde gewoonlik met gevoelens wat ons vir 'n ander koester. Vir hom het ek gevoelens van liefde. Vir haar voel ek niks nie. Wel gemeente, as ons van gevoelens van liefde vir mekaar in die gemeente afhanklik raak, dan vrees ek die ergste.

Want gevoel van liefde is maar seldsaam. En dikwels is dit baie moeilik te onderskei van gewone eiebelang. Jy is lief vir hom of vir haar wat jou liefhet, want dit pas jou.

Maar liefde soos die Bybel dit bedoel, is baie meer as gevoel. Liefde is daar altyd in die eerste plek liefdebetoon.

Soos God Self liefde bewys het. God het die wêreld liefgehad, lees ons in die Bybel. Maar het Hy van 'n afstand in die hemel Sy gevoelens van liefde vir die wêreld gekoester? Nee, Hy het die wêreld so liefgehad, dat Hy Sy Eniggebore Seun gestuur het. Sy liefde het Hom in beweging gebring. Sy liefde het Hom tot 'n offer gebring. Die offer van Sy Eniggebore Seun!

Daar sien u dat liefde, liefdebetoon is!

En nou verstaan ons ook dat ons teks praat van die arbeid van die liefde (inspanning van die liefde. Nuwe Vertaling).

Liefde van inspanning, opoffering en nie maar een keer nie, maar telkens weer. En daardie liefde heers in Thessalonika.

Hulle het verstaan hoe God se liefde na hulle uitgegaan het, watter offer God gemaak het.

En daarin is hulle offer bereid. Hulle staan klaar. Klaar vir mekaar. Klaar vir die naaste wat Christus nie ken nie.

Waar liefde is, is lewe!

'n Lewende gemeente word gekenmerk deurdat almal bereid is om hulleself in te span vir Jesus Christus. Daarvan uit kom groot krag!

Waar liefde is, daar sorg die Here vir seën.

3. Hul volharding in die hoop.

Hoop is 'n woord wat ons daagliks 'n hele paar keer gebruik.

Ek hoop dit gaan binnekort reën.

Ek hoop ek sal die eksamen slaag.

Ek hoop jy word vinning weer beter.

In al die voorbeelde dink ons 'n wens uit waaroor ons onseker is, of dit in vervulling sal gaan. Ons kan maar net hoop.

Maar as die Bybel praat oor hoop op God, dan is dit iets heeltemal anders. Hoop op God beteken nie dat jy afwag of God al of nie iets gaan doen nie, maar hoop op God beteken dat jy reken op God. Jy bou op Sy beloftes. In al jou dade hou jy rekening met God en wat Hy in die toekoms sal doen.

Hoop op God, beteken dat jy byvoorbeeld daarvan uit gaan dat God eendag sal kom om die lewendes en die dooies sal oordeel. Dat Hy eendag 'n nuwe aarde sal gee waarop geregtigheid woon. Jy is seker daarvan, en jy bou jou lewe daarop. Sonder so 'n hoop verskrompel die menslike lewe tot 'n amper dierlike vlak. Jy leef maar net om te geniet wat jy in hierdie aardse lewe in hande kan kry. Jy ontwikkel 'n houding van: laat ons eet en drink, want môre sterf ons. Gemeente, ons leef in 'n wêreld wat so dink en voel. 'n Wêreld sonder hoop. En daarom 'n wêreld wat net uit is op genot van die aardse lewe. 'n Nooit ophoudende jag na welvaart. Laat ons nie onderskat hoe sterk daardie lewenshouding ons ook in beslag neem nie. Dit is amper onmoontlik om jou daarvan te onttrek.

Alleen christelike hoop kan 'n teëwig vorm van materialisme. As jy leef in die hoop op God, dan kan jy dankbaar wees vir alles wat jy ontvang in hierdie lewe. Jy is bly met God se goeie gawes. Maar ook as iets aan jou geluk ontbreek, as daar tekorte is, as daar probleme is: dan vergaan daarmee nie jou hoop nie. Jy glo mos. God sal eendag regmaak wat jy vandag kortkom. Die lewe lê mos voor!

Paulus self het sterk uit die hoop op God geleef. Hy is gegésel, vervolg, hy het in die gevangenis gesit, hy is gestenig. Hoe het hy dit volgehou? Omdat hy die hoop op God vasgehou het. Sonder daardie hoop sou hy wel mal wees om hom te laat slaan, om hom te laat bespot op die markte van die stede van Griekeland. Kom nou!

Maar hy het geleef uit die hoop op God. En die gemeente van Thessalonicense het dit gesien en aangeneem! Ook hulle het geleef uit die hoop op God. Hulle het volgehou teen alle verdrukking in!

En so het hulle as gemeente die lewe behou! Hoop op God het hulle laat lewe. En daarom is volharding in die hoop 'n kenmerk vir 'n lewende gemeente. Laat dit dan ook van ons gemeente gesê kan word.

Ja, dit is 'n lewende gemeente. Want daar sien jy die werk van die geloof, die inspanning van die liefde, en volharding in die hoop.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)