Die oproep tot voorbede vir die voortgang van die bediening van die evangelie

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Kolossense 4
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van ds JMA Groeneveld te Ridderkerk

Lees: Kolossense 1: 1-2: 3
Teks: Kolossense 4: 3, 4

Gemeente van ons Here Jesus Christus!

Aan ons teks gaan vooraf die oproep van die apostel Paulus: "Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging". Die gemeente moet 'n biddende gemeente wees. Om te bid is nie 'n eenmalige besigheid nie. Dit is 'n saak van volhou. Jy moet daarmee volhard. En daarby waaksaam wees. Soos iemand wat waghou nie mag slaap nie, maar op en wakker moet wees, so moet die gemeente waak en op sy hoede wees. Jy moet die gees van die tyd snap, die situasie onderken. Jy moet weet hoe die duiwel sy bes doen in hierdie wereld, ook in jou eie lewe. Jy moet nie aan die slaap raak, sodat jy 'n maklike prooi vir hom word nie.

Die bid moet tegelyk ook dank wees. Is die gebed dan nie die vernaamste uiting van dank teenoor ons God nie?

Nadat Paulus die gemeente opgewek het tot volharding, dankbaarheid en waaksaamheid in die gebedslewe, roep hy vervolgens op tot voorbede. Omdat ons persoonlike bestaan verweef is met die van ander, mag ons gebed nooit maar net 'n onderonsie wees tussen God en die mens nie. Die HERE laat ons lewe in die verbande van familie, vriende en kollegas; van die kerk, van 'n volk, van 'n samelewing.

Die gebed moet dus ook 'n sosiale element he. Die bidder dink nie net aan homself nie, maar ook aan ander. Ons groot Voorbidder by die Vader in die hemel, Jesus Christus, leer ons dit in die laaste drie bedes van die Onse Vader: gee ons ons daaglikse brood, vergewe ons ons skulde, lei ons nie in versoeking nie maar verlos ons van die bose.

Ons gebede moet dus ook voorbeelde wees. As jy in jou binnekamer jou persoonlike gebed opstuur, maak jy jou deur wel toe, maar dan sluit jy die wereld, en veral die kerk in die wereld, nie uit nie.

Ons hoor in die woorde van ons teks:

DIE OPROEP TOT VOORBEDE VIR DIE VOORTGANG VAN DIE BEDIENING VAN DIE EVANGELIE.

Hierdie oproep beteken dat ons sal bid

  1. om 'n geopende deur vir die Woord
  2. om verkondiging van die verborgenheid van Christus
  3. om getroue prediking.

1.

"En bid tegelykertyd ook vir ons, dat God vir ons die deur van die Woord mag open". Met hierdie woorde wek die apostel die gemeente op om voorbede te doen vir hom en sy medearbeiders in die verkondiging van die evangelie. Self laat hy meermale blyk dat hy in sy gebede vele gedenk. So ook in die brief aan die Kolossense. Daarmee begin hierdie brief selfs. Na die aanhef skryf die apostel: "Ons dank die God en Vader van onse Here Jesus Christus altyd as ons vir julle bid". Paulus dank God as hy vir die Kolossense bid.

Die apostel was self nog nooit in Kolosse nie. Hierdie gemeente in Klein-Asie is deur Epafras gestig. Hierdie medewerker van Paulus het na Rome gereis om hom in te lig. En wat hy van die Kolossense verneem het was genoeg rede om gereeld vir hierdie christene te bid. En in sy gebed was die dankbaarheid eerste. Dit moet ons ook goed onthou: die dank eerste!

'n Bietjie verder skryf Paulus: "Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardiglik voor die HERE mag wandel". Let goed op wat dit is wat Paulus vir hulle van God vra: om God se wil te ken. Dit is die belangrikste wat hy vir hulle kan vra.

En ook die man aan wie die gemeente te Kolosse sy bestaan te danke gehad het, Epafras, blyk 'n vurige voorbidder te wees. In hoofstuk 4 vers 12 skryf Paulus dat hy altyd vir hulle stry in die gebede.

Om te bid is nie iets wat sommer terloops gedoen gedoen kan word nie; dit vra jou volle aandag!

Wat Paulus en sy medewerkers nou doen vir die gemeentelede, vra hy nou vir homself en sy helpers. Natuurlik word die gebedsinhoud dan anders. Paulus bid vir opbou en groei in geloof en krag, in kennis en liefde. Die gemeente moet bid vir die evangelieverkondigers, om goeie voortgang vir die bediening van die evangelie.

"Bid tegelykertyd ook vir ons, dat God vir ons die deur van die woord mag open". Ons moet hier noukeurig lees. Ons dink al te gou hier: om te bid vir geopende deure, dit is bid vir geleenthede en moontlikhede vir die verkondiging van die evangelie. Sien jy dit so, dan sou dit beteken dat die apostel nou geen geleentheid en moontlikheid het om die evangelie te verkondig nie. Vir sommiges is dit die aanleiding om aan te neem dat die brief nie in Rome nie, maar in Caesarea geskryf is. In Rome was hy wel in huisarres, maar hy het tog die geleentheid gehad om die evangelie te verkondig. In die tronk in Caesarea was hy egter totaal van die buitewereld afgesny.

Volgens ander sien die vraag om 'n "oop deur" nie soseer op die geleentheid om die evangelie te preek nie, as wel op die ingang by hulle wat dit sal hoor. Geopende harte dus. In hierdie betekenis kom die beeld ook wel voor in die Bybel. As Paulus en Barnabas die eerste sendingreis voltooi het en terug is in Antiogie, lees ons: "En toe hulle daar kom en die gemeente saamgeroep het, het hulle verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het, en dat Hy 'n deur van geloof vir die heidene geopen het". (Handelinge 14: 27). God het die heidene nie net die evangelie laat hoor nie, maar die deur van die geloof geopen. Anders gese: die harte geopen vir die evangelie.

Die "oop deur" sou dus die geleentheid om die evangelie te predik aandui, of ook die vrug daarvan, die ingang van die Woord in die harte van die hoorders. Beide opvattings is egter onvoldoende. Dit gaan vir Paulus hier om die spreker van die Woord. Ons sal sy woorde moet verstaan in die sin van die beeldspraak van Psalm 141: 3. Daar bid die Psalmdigter: "HERE, stel 'n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe". Ook die profeet Miga gebruik hierdie beeldspraak as hy se: "let op die poorte van jou mond". (Miga 7: 5).

Wat die apostel dus as inhoud van die voorbede van die gemeente vra is dit, dat God vir die evangeliepredikers die deur van die Woord mag open, dit is: hulle monde open. Kon hulle dan nie hulle monde oopgemaak het nie? Natuurlik wel. Hulle kon net soos enigiemand woorde se. Dit is nie so moeilik nie. Ons praat eerder te baie as te min. Om op die regte oomblik te swyg, is 'n gawe wat nie almal in dieselfde mate beskik nie. Ons se eerder te veel.

Maar Paulus en sy helpers is dienaars van die Woord, predikers van die evangelie. Daardie Woord, daardie evangelie moet hulle spreek. Daarvoor moet hulle monde geopen word. Die Woord moet in hulle mond gele word. Hoe groot is die gevaar ook nie by hulle nie, om 'n onsuiwer geluid te laat hoor. Hoe maklik is dit om eie woorde, eie menings en idees te verwoord. Hulle moet egter die Woord van God verkondig, die evangelie van die versoening bedien. Dit moet duidelik en onverkort deurklink in hulle prediking. Die evangelie mag nie verskuil gaan agter niksseggende uitweidings, of eie spitsvondighede nie, of verduister word deur verhale oor eie ervarings of vroomheid nie, of allerlei politieke en sosiale praatjies. Die woorde van die predikers moet genormeer wees aan die Woord, God se Woord, die evangelie wat 'n krag tot behoud is. Dit mag nie ontkrag en verkrag word nie.

Die gebed van Psalm 141 sal die persoonlike gebed van die prediker moet wees: "HERE, stel 'n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe". Tegelyk sal hy saam met Dawid moet bid: "HERE, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig" (Psalm 51: 17).

Maar ook die gemeente sal vir die predikers bid. Wat Paulus aan die gemeente van Kolosse opdra ten opsigte van homself en sy medewerkers geld ook vandag vir die gemeente ten opsigte van almal wat tot die besondere amp geroep is, wat die besondere volmag het tot die bediening van die versoening.

Ons dink in die eerste plek aan die dienaars van die Woord. Hulle moet ook vandag die Woord van die HERE suiwer en onverkort aan die gemeente verkondig. Hulle moet dit doen ooreenkomstig die bevel van die apostel Paulus: "Verkondig die Woord; hou aan tydig en ontydig; weerle, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering" (2 Timotheus 4: 2). Na die voorbeeld van die apostels verrig hulle hierdie werk in die openbaar en by die gelowiges aan huis. Hulle sal alle dwalinge en ketterye met die Woord van God weerle, die onvrugbare werke van die duisternis ontmasker en die gemeentelede oproep om God se navolgers te wees en in die lig te wandel. Ook is dit hulle taak om die gemeente te besoek, die siekes te vertroos en die jeug van die kerk en ander te onderrig in die heilige Skrif, wat hulle wys kan maak tot behoud, deur die geloof in Jesus Christus. Wat 'n taak!Heerlik, maar swaar!

En dink dan ook aan die taak van die sendelinge. Hulle is geroep om die Woord van God te verkondig aan hulle wat sonder Christus is, sodat hulle wat ver is naby kom deur die bloed van Christus.

Wat 'n durf, wat 'n moed moet aan hulle geskenk word om vrymoedig die Woord van God onder die heidene te spreek!

Daarvoor is u gebed nodig, gemeente. U gebed in die eredienste, in u samekomste, maar ook tuis in die gesin en in u binnekamer. Dit is u taak, u opdrag, om heel konkreet aan tafel met u gesin vir u predikant te bid. Bid dat God vir hom 'n deur vir die evangelie open, dat God hom sy Woord op die lippe le en laat uitspreek, vanaf die kansel, in u huise, by die siekes, in die katkisasieklas vir julle, seuns en dogters. Ja, het julle al gebid dat die HERE aan die dominee gee dat hy goed mag klasgee?

Ons moet ook dink aan die ouderlinge en diakens. Die ouderlinge het immers nie net die taak om toesig te hou op u belydenis en wandel nie, maar ook om u te besoek en u met die Woord van God te vertroos, te vermaan en te onderwys. Ook hulle is u herders. En om die taak getrou te kan vervul, moet hulle die Skrif ywerig ondersoek. Kan hulle by die uitvoering van hulle taak ook versekerd wees van u gebed?

En laat ons die diakens tog ook nie vergeet nie. Hulle is regtig nie manne wat net kollektes insamel nie. Behalwe die insamel en beheer van die gawes het hulle ook tot taak om u almal tot hulpbetoon op te wek, en indien nodig, u met die Woord van God te vertroos en te bemoedig. Bid dus ook vir hierdie ampsdraers, dat

God hulle die deur van hulle mond open en sy heilryke Woord laat spreek.

HERE, open die lippe van die dienaars van die Woord, sendelinge, ouderlinge en diakens, ontsluit hulle monde, sodat hulle tong en lippe u Woord verkondig!

2.

Paulus se oproep aan die gemeente tot voorbidding vir die voortgang van die bediening van die evangelie beteken heel eerste dat ons sal bid vir 'n geopende deur vir die Woord. Ons hoor nou vervolgens dat hierdie oproep ook inhou dat ons sal bid vir die verkondiging van die verborgenheid van Christus. Immers, die apostel beskryf die doel van die voorbidding so: "om te spreek van die verborgenheid van Christus", en hy voeg nog daarby "waarvoor ek ook in boeie is".

Ons let op twee dinge. In die eerste plek tipeer die apostel die evangelieverkondiging as "spreek van die verborgenheid van Christus" en in die tweede plek noem hy in verband daarmee sy gevangenskap.

Wat die eerste betref: Paulus noem die evangelie op meer plekke die verborgenheid van Christus. In 1 Korinthiers 4: 1 noem hy die evangeliepredikers "dienaars van Christus en bedienaars van die verborgenhede van God". Wat word nou daarmee bedoel, die verborgenheid van God, of soos ons teks se, die verborgenheid van Christus? Ons het al gese dat Paulus hiermee die evangelie van Jesus Christus aandui. Hierdie verborgenheid, hierdie geheim, is eeue lank verswyg, so het ons gelees in hoofstuk 1 vers 26. Slegs God het dit geken. Wat Hy tot verlossing van die wereld sou doen, het Hy eeue lank verswyg en verborge gehou.

Wel het Hy laat deurskemer dat Hy van plan was om van die aarde 'n groot vrederyk te maak. Maar hoe en wanneer Hy dit sou doen, het Hy nooit gese nie. Israel het by beelde, by skaduwees gelewe. Die profete het in beeldryke taal aangekondig dat die verborgenheid openbaar sou word. Israel het in die blye verwagting gelewe dat Hy wat hulle uit Egipte gelei het en telkens weer terwille van sy volk in die geskiedenis ingegryp het, ook in die toekoms sou openbaar dat Hy 'n God was van groot verrassende heilsweldade.

Die geheim wat eeue lank verborge was, is tans geopenbaar. God het dit bekend gemaak. Daar is tans mense wat Hy die geheim laat ken het. Op hulle beurt maak hulle dit aan ander bekend.

Paulus het die besondere opdrag gekry om dit aan die heidene, die volke, te verkondig. God het daarmee begin en sedertdien geskied die bekendmaking in 'n toenemende omvang onder 'n groeiende aantal mense.

En wat behels die verborgenheid wat tans geopenbaar is? Die inhoud daarvan is Jesus Christus, die gekruisigde. Hy, en Hy alleen, is die krag en die wysheid van God. Hy is God se oplossing vir die probleem hoe om die deur sonde en dood vervalle wereld die lewe, die regverdigmaking, die heiliging en die verlossing te laat kry.

Die weg na die lewe is Jesus Christus, die gekruisigde. So het God dit gestel, so het die wysheid van God dit bepaal. Daarmee is die wysheid van die mense tot niet gemaak of tot dwaasheid gemaak. Watter oplossings die mense ook al uitgedink het vir 'n wereld wat in sonde en skuld verlore is, God kan geeneen daarvan gebruik nie, omdat Christus en sy kruis nie daarin voorkom nie. God staan met al sy krag net agter Hom en sy offer. Alle ander pogings wat mense uitgedink het, hoe knap en hoe goed bedoel hulle ookal was, het doodgeloop. Net die offer van Christus kan mense verlos. Die verborgenheid van God blyk dus te bestaan uit die grootse plan om die wereld te red deur Christus en sy offer aan die kruis.

Aan die Kolossense skryf Paulus dat dit God behaag het "dat Hy deur Hom (dit is: Christus) alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis - ek se deur Hom - die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele" (Kolossense 1: 20). Dit is die ryke, heerlike verborgenheid, vroeer geheim gebly, maar tans onder die heidene gepredik.

"Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel; waarvoor ek arbei en stry volgens sy werking wat in my werk met krag" (Kolossense 1: 28, 29).

Al Paulus se moeite is daarop gerig dat hulle goeie moed hou en innig in liefde verbonde bly, en so kom tot die volle rykdom van die insig in God se geheim, naamlik Christus, in wie alle skatte van wysheid en kennis verborge le. Die geheim van God kan dus in een naam opgesom word: Christus. In heel Paulus se werk gaan dit dan ook om Hom. Hy verkondig Christus. En vir wie Hom leer ken, gaan 'n wereld van wysheid en kennis oop!

Die geheim van die evangelie bly 'n verborgenheid vir almal wat dink dat hulle hulleself wel kan red, en wat dink dat die wyse mens wel aan 'n oplossing kan dink vir die probleem van sonde en skuld, nood en lyding.

Die evangelie klink ongeloofwaardig. Dit is 'n teenstelling van wat die mens ag in ooreenstemming met gesonde verstand te wees. Die kruis is dwaasheid teenoor die wysheid van die mens. Maar deur die dwaasheid van die kruis wil God almal wat glo, red.

Ter wille van die verborgenheid van Christus is Paulus ook 'n gevangene. Die apostel is bewus van sy roeping en reg om die verborgenheid van Christus te predik, so soos hy dit doen, hoewel dit deur baie teengestaan word. Die boeie wat hy dra, as gevangene in die Here, is soos 'n verseeling van die waarheid waarvoor hy stry.

Paulus ag sy gevangenskap geensins ydel en doelloos nie. Hy weet dat sy lyding vir die gemeente vrugte afwerp. Daar kan selfs omstandighede kom dat sy boeie dien om die evangelie ver buite die gevangenis ter sprake te bring. Moontlik dink hy hier aan die ingang van sy prediking aan die keiserlike hof in Rome.

Hy vra in ieder geval nie dat die gemeente sal bid vir sy vrylating nie. Hy dra aan die gemeente op om te bid vir alle evangeliedienaars, sodat hulle die verborgenheid van Christus mag spreek. Geopende lippe en ontslote monde om uitsluitend die wysheid van God te verkondig: die gekruisigde Jesus Christus, nie meer nie en nie minder nie.

Bid dus, broeders en susters, vir u ampsdraers, dat hulle vanaf die kansel, op katkisasie, in u huise, by u siekbed, ja, in alle omstandighede, duidelik en onomwonde, sonder om iets agter te hou, aan u die verborgenheid van God mag bekend maak, naamlik Christus, die Gekruisigde, die Redder van die wereld.

3.

Paulus se oproep tot voorbidding vir die voortgang van die bediening van die evangelie beteken tenslotte ook dat ons sal bid vir getroue prediking.

Die formulering van vers 4 is merkwaardig: "dat ek dit openbaar kan maak soos ek dit behoort te spreek". Ons moet hierdie merkwaardige manier van se sien teen die agtergrond van die omstandighede waarin die apostel verkeer. Terwyl hy die voorbidding van die gemeente vra, dink hy aan allerhande moeilikhede. Paulus het hom op die keiser beroep, en dit beteken dat hy hom voor die keiser sal moet verantwoord. In daardie geval het hy die gebed van die gemeente baie nodig. Bid dat die Here my mond open en ek vrymoedig en openlik die verborgenheid van Christus mag spreek, soos dit moet, soos ek as dienaar van die Woord behoort te spreek.

Ook die moeilikhede wat die apostel ondervind het van die kant van die Jode, sy groot teenstanders, skemer deur in hierdie woorde. Ook is hy pynlik getref deur die aarseling van sommige van sy helpers. Dit lyk asof hulle geintimideer is, of onder die invloed van afwykende menings is. Wel skryf Paulus aan die Filippense dat die grootste deel van die broeders deur sy gevangenskap vertroue gekry het om, met des te meer moed, onbevrees die Woord van God te spreek. Maar hierdie woorde impliseer tog dat daar 'n aantal is vir wie sy gevangenskap nie tot bevordering van die prediking strek nie. Ja, hy skryf selfs: "Sommige preek Christus wel ook uit afguns en twis" (Filippense 1: 15). Hulle preek wel die Christus, maar kan die apostel intussen nie verdra nie. Hulle was afgunstig op hom. Hulle het gepoog om hulle eie eer te bevorder en Paulus te dwarsboom.

Daaraan dink die apostel alles, as hy die voorbidding van die gemeente vra. Daarom word hy ook so persoonlik. Hy het begin deur te spreek in die meervoud: bid vir ons, en hy eindig by homself: "dat ek dit openbaar kan maak soos ek dit behoort te spreek".

Die dienaars van die Woord verkeer vandag onder heel ander omstandighede. Maar die moeilikhede is nie minder nie. Die gevare le op 'n ander terrein. Die moeites kom uit 'n ander hoek. Maar moeilike situasies is daar genoeg; situasies waarin die prediker geroep is om die evangelie te openbaar soos hy dit volgens die opdrag van sy Opdraggewer behoort te doen.

Dink aan die kerke wat lewe onder totalitere en diktatoriale bewind. Dink aan die gevare op die sendingsterreine. Dink aan die vyandskap van 'n gesekulariseerde wereld.

Ampsdraers sal in alle omstandighede die evangelie onverkort moet bring. Hulle moet te alle tye getrou voortgaan met hulle arbeid. Hulle mag hulle nie laat ophou deur moeite of verdriet of deur vervolging van die wereld nie. Dit kos stryd en selfverloening. Hulle sal dit net kan doen as hulle permanent deur u gebede gedra word: Here, verleen aan die predikant, die ouderlinge en die diakens die gawes wat hulle nodig het: wysheid, vrymoedigheid, onderskeidingsvermoe en barmhartigheid, sodat elkeen sy amp vervul soos U dit vra, sodat elkeen die verborgenheid van Christus te alle tye duidelik en onomwonde openbaar, soos dit moet, sodat ons steeds meer en steeds beter leer sien hoe die verlossingswerk van Christus ons hele lewe omvat.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)