Die vertoning van 'n christelike lewenstyl waarin Christus sentraal staan

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Kolossense 2
Preek Inhoud: 

Ps 105: 1, 2
Ps 105: 3, 4
Ps 39: 1, 2, 3, 7
Ps 103: 2, 3
Ps 103: 1
Lees: Kol. 2: 4 - 23
Teks: Kol. 2: 16 - 19

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

As mense is ons maar geneig om na die nut van allerhande sake te vra. Teoriee kan pragtig en indrukwekkend wees, maar ons wil altyd wel weet, wat is die praktiese betekenis daarvan. Hoe gaan dit ons help in die praktyk van die lewe?

'n Voorbeeld: 'n rekenaar is 'n pragtige instrument, dit word beheer deur 'n programma. 'n Mens kan van die ontwerp van so 'n programma alles verstaan of glad niks verstaan nie, maar tenslotte is jou vaardigheid op die toetsbord bepalend vir die vraag of jy met die ding kan werk. Sonder 'n praktiese toepassing beteken 'n hele teorie glad niks nie.

So is dit ook met die geloof. Die Bybel vertel vir ons allerhande feite en waarhede maar uiteindelik is dit vir ons die belangrikste: Wat beteken dit prakties vir ons? Hoe raak dit my daaglikse lewe? Hoe moet ek lewe om aan God se bedoeling met my lewe te beantwoord?

Wel, daardie vrae het hul reg.

Immers as die sê-nou-maar 'teorie' van die geloof nie in die praktyk uitgewerk word nie dan beteken dit glad niks nie. Dan is so'n geloof volstrek onvrugbaar.

Tegelykertyd moet ons hier op ons pasoppens wees vir gemaksugtigheid. Jy kry mense wat 'n houding het van: wat alles in die Bybel staan daarin stel ek nie belang nie, ek hoef daaroor ook nie steeds prediking te hoor nie, gee vir my net 'n paar konkrete aanwysings oor wat ek as christen nou wel of wat ek nie mag doen nie.

Die gevaar van so 'n houding is dat die christendom vervlak tot 'n oppervlakkige moralisme. In jou lewe hou jy jou aan sekere wette en dit is dan jou manier van christen-wees.

Dit kan dalk nog wel met 'n rekenaar: Ek stel nie belang hoe daardie ding werk nie as ek maar regkom met die toetsbord.

Maar met die geloof kan dit nie so nie.

Daar moet jy van die lewenspraktyk steeds weer terug na waar dit om gaan n. l. CHRISTUS IS ALLES VIR JOU.

Hierdie kernpunt van die leer moet jy steeds weer uitwerk en sigbaar maak in jou lewe. Alles wat jy doen en nalaat moet altyd in direkte verband staan met: Christus is alles vir jou.

Daarom het Paulus in Kolossense 2 eers uitvoerig ingegaan op die betekenis van die werk van Christus vir die gelowiges en met die gelowiges. En nou gaan hy vanaf vs. 15 van hoofstuk 2 steeds meer aandag gee aan die praktiese uitwerking daarvan vir die daaglikse lewe. Maar voordat hy in hfst. 3 voluit konkreet word gee hy met name in konfrontasie met die dwaalleraars eers 'n meer algemene karakteristiek van die christelike lewe. Daaroor gaan dit vanoggend.

Ons tema is: DIE VERTONING VAN 'N CHRISTELIKE LEWENSTYL WAARIN CHRISTUS SENTRAAL STAAN

Dit word gekenmerk

  1. deur vryheid in Christus
  2. deur gebondenheid aan Christus.

Laat niemand julle dan oordeel.

Let op die woordjie 'dan'. Daarmee sluit Paulus heel nadruklik aan by wat hy eerder gesê het. Ons onthou van verlede week dat die gelowiges werklik vrygespreek is wat betref hul skulde (die skuldbrief wat weggeruim is) en dat hulle vervolgens ook werklik vrygemaak is van die mag van s. g. owerhede en magte. In Christus is die gelowige regtig vry.

Maar dan is daar dus nie meer plek vir 'n oordeel of in hierdie geval vir 'n veroordeling van die kant van sekere mense nie.

Blykbaar het Paulus gehoor dat die gemeente van Kolosse deur sekere mense gekritiseer word oor wat hulle eet en drink.

Om die woorde wat hy nou daaroor skryf te verstaan moet ek vir u iets van die agtergrond vertel. In daardie tyd het die mense algemeen sterk geneig na wat ons noem 'asketisme'. Dit beteken dat mense hulself die genot van allerhande spyse en dranke ontsê uit godsdienstige oorwegings. Hulle het naamlik gedink dat alles wat aards is, wat met die liggaam te doen het, as sodanig sondig is. As jy nou meer geestelik wil lewe, as jy op 'n hoere geestelike vlak wil kom dan moet jy jouself ontworstel aan die stoffelike. Hoe minder jy daarmee te make het, hoe beter dit is.

Dit is dus eintlik 'n algemene gedagte uit daardie tyd. Daar kom nog by dat ook die Joodse godsdiens, waaruit die chritendom voortgekom het, ook allerhande spyswette en 'n streng onderhouding van sekere feesdae ken.

Daarom was dan ook die algemene gevoel: iemand wat ernstig is oor sy geloof, hy sal hom baie presies hou aan wat hy wel of nie sal eet nie, of watter dae hy wel of nie sal werk nie.

Maar kyk nou die christengemeente van Kolosse! Hulle eet maar en hulle drink maar asof daar geen onreine spys meer is nie! Asof dit glad nie saak maak of jy drink of wanneer jy dit drink nie! Maar hulle is dan glad nie ernstig oor hulle geloof nie!

Hulle laat niks vanwee hulle geloof staan nie. Maar so 'n geloof kan niks beteken nie!

Wel, ons kan ons ons voorstel dat so 'n kritiek die jong gemeente van Kolosse pla.

En dan sê Paulus: Laat julle nie deur ander mense kritiseer nie. Moenie dat julle jul deur 'n ander laat voorskrywe wat julle moet eet en drink nie. Die Here Jesus self het al 'n slag iets daaroor gesê: Iets wat van buite af in die mens ingaan, dit kan hom nie onrein maak nie. Want dit gaan nie in in die hart nie, maar in die maag. (Markus 7)

Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein Want uit die hart van die mense kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord. Dit maak heel duidelik dat wat jy eet of drink vir die Here nie saak maak nie.

Nie jou houding t. o. v. voedsel is die belangrikste nie, maar jou verhouding tot Christus. Daarom gaan dit! As die verhouding tot Christus reg is dan is jy as christen vry om te eet en te drink wat jy maar het. Want alles is deur God geskape. As jy dit maar met danksegging gebruik.

Dieselfde geld vir die feeste, die nuwemaan en die sabbatte. Ook op die punt het die gemeente van Kolosse heftige kritiek ontmoet.

Maar julle hou julle dan nie aan die spesiale godsdienstige feesdae nie!

En wat van die sabbat? Hoe kan julle op so 'n dag gewoon aangaan met werk terwyl die sabbat al by die skepping ingestel is? Juis in daardie sake sal blyk of jy dit meen met jou geloof of nie!

Ook hierdie kritiek het die gemeente onseker gemaak. Moet dit dan inderdaad, dat ons ons aan Joodse sabbatswette moet hou?

Ook daarin wil Paulus vir hulle te hulp kom om hul onsekerheid weg te neem.

En dan gebruik hy die beeld van die skaduwee. Hy stel die skaduwee teenoor die werklikheid n. l. Christus.

Ons ken daardie beeld wel ter verklaring van die wegval van sekere seremoniele wette in die O.T. Dan gebruik ons ook dikwels die woord afskaduwing of verafskaduwing.

Wel, die skaduwee en die liggaam het 'n sekere verbinding met mekaar. As jy die skaduwee gesien het, dan het jy 'n bietjie idee hoe die liggaam lyk, maar dit bly alles taamlik vaag.

Wel, so sien ons in die O.T. die skaduwee van Christus.

Daar is allerhande seremonies wat vooruitwys op na die koms van Jesus Christus. Ter voorbereiding daarvan het die Here b. v. die sabbat ingestel en ook andere feeste. Die sabbat onder die O.T. is bedoel om een dag spesiaal af te sonder vir die Here. Maar daardie betekenis het verval. Die Here wil nou dat ons ons hele lewe moet bestee tot sy eer.

Ook die ander seremonies b. v. die verskil tusen rein en onrein het wel betekenis gehad i. v. m. die voorafskaduwing van die koms van Christus. Maar nou Christus self gekom het, het dit alles verander.

Ja, daardie seremonies het verouder. Immers nou Christus self gekom het, nou jy die liggaam het, wat moet jy nog met die skaduwee? Dit het dan sy tyd gehad!

'n Voorbeeld kan dit misskien nog verder verduidelik: Sê nou 'n seun en 'n dogter is verloof. Hulle wil nou graag trou maar hy moet eers nog twee jaar dien in die Army. In die tyd dat hy nou weg is, is dit vir die meisie 'n groot vreugde om sy foto te bewonder. Dit is verstaanbaar. Maar wat gebeur nou, al haar gevoelens vir hom gaan sy nou projekteer op die foto. As sy die foto in hande het, dan eers voel sy gelukkig.

Nou goed, na twee jaar kom die seun terug om te trou. Maar eintlik stel sy nie in hom belang nie, sy is maar net gelukkig met die foto! Almal verstaan, die huwelik gaan nie deur nie. Sy bly nog vir jare verlief op daardie foto, maar dit het al sy sin verloor. Sy het die skaduwee in plek van die liggaam verkies. En daarmee die liggaam misgeloop!

Wel, sê Paulus dit is wat gebeur met die mense wat julle wil voorskryf wat julle moet eet of drink en watter feesdae julle moet vier. Daardie mense is verlief op die foto, maar het daardeur die bruilof misgeloop. Hulle kies die skaduwee vir die werklikheid. Hulle bly staan by die armoede van 'n wettiese lewe, maar het daarom nie die rykdom van Christus nie. Maar julle, in Christus het julle, gemeente van Kolosse, reeds die volheid. Julle moet volwees van Jesus Christus. En dan is julle waarlik vry...

Nou sal 'n mens dalk sê: O.K. dit is duidelik, maar dit alles is ver van ons bed. Daar is vandag niemand wat ons wette oor spys en drank wil oplê nie. Die neiging tot asketisme kom in ons tyd nie voor nie. Die raak nie, smaak nie, roer nie aan-religie is ons vreemd. Dit is waar.

En tog, waarom dit in Kolosse eintlik gaan, is die geweldige invloed wat uitgaan van die tydgees! Teenoor die gees van die tyd moet die gemeente van Christus 'n eie lewenstyl handhaaf waarin Jesus Christus sentraal staan. En daarom wegbly van raak nie, smaak nie, roer nie aan-godsdiens.

Wel, die gees van ons tyd is 'n heel andere as indertyd in Kolosse. In ons tyd is dit eerder: laat ons eet en drink soveel en so goed moontlik. Laat ons feesvier want die lewe is maar kort. Dit is die wêreld van die materialisme en die gees van: haal alles uit die lewe wat jy kan kry. Probeer soveel moontlik te geniet. En dan word spys en drank die middelpunt van die lewe.

En m. b. t. die feeste en die sabbat gaan dit nie meer om 'n christelike sondagsviering nie maar ons soek die feesroes van die naweek. Dan eers lewe ons!

Dit is die gees van ons tyd!

En ons moet nou, op ons beurt, teenoor die gees van ons tyd, 'n christelike lewenstyl ontwikkel. En dan hoef 'n mens nie terug te keer na 'n raak nie, smaak nie, roer nie aan-religie nie, want Paulus wys dat so'n godsdiens ook maar voortkom uit 'n vleeslike gesindheid.

Maar met betrekking tot spys en drank en feeste is wel 'n sekere soberheid, 'n eie styl noodsaaklik. 'n Styl waarin ons wys dat ons nie lewe omwille van die spys en die drank nie. Vleeslike gesindheid! Immers ook die gewone spys en drank is (met die woorde van Paulus) slegs 'n skaduwee van die toekomstige dinge. Hulle behoort tot die uiterlik van die wêreld wat besig is om verby te gaan.

Daar is niks op tee om van die aardse gawes te geniet nie. 'n Christen behoort selfs daarvan te geniet as geskenke van God, maar hy moet wel steeds besef, spys en drank gaan eendag verby, maar wat bly is Jesus Christus.

Om Hom gaan dit. Hy is die bruidegom op wie ons wag as ons aansit aan die tafel van die Here. Immers die tafel van die Here, hoe mooi ook is slegs 'n skaduwee van die toekomstige dinge, want dit gaan uiteindelik om die BRUILOF VAN DIE LAM. Die tafel van die Here wil ons oog oophou vir dit wat kom. Die belofte van die Hemelse bruidegom om sy bruid eendag in volle glorie te kom haal.

2. 'N CHRISTELIKE LEWENSTYL WORD GEKENMERK DEUR GEBONDENHEID AAN CHRISTUS

Vs. 18 van Kolossense 2 is 'n baie moeilike vers om te vertaal en te verstaan. Maar ons wil tog probeer om 'n boodskap van die Here op te vang.

Laat niemand julle van jul prys beroof nie.

Die beeld wat Paulus hier gebruik is die beeld van 'n wedstryd. Kom ons sê 'n hardloopwedstryd. Wel, Paulus beskou die Kolossense as mense wat saamloop in 'n wedstryd en wat 'n prys verdien. Maar wat nou gebeur is dit: daar is sekere mense wat beweer dat die Christene vals gespeel het. Hulle hou hulleself nie aan die reels vir godsdienstigheid nie deur die spyswette en die feesdae te verontagsaam. En daarom word hulle nou gediskwalifiseer. Wel, so 'n beskuldiging teen die Kolossense maak indruk. Het ons dan werklik vergeefs gehardloop? Sal ons tog nooit die prys kan behaal nie?

En dan sê Paulus: laat niemand julle diskwalifiseer nie, want kyk nou na die dwaalleraars wat julle so kritiseer!

Die nederigheid waarmee hulle spog is slegs 'n gewilde nederigheid. 'n Gemaakte nederigheid. Dit is nie 'n nederigheid van die hart nie, maar wat hulle nederigheid noem is eerder 'n tegniek. 'n Tegniek van vas, van selfkastyding, van onthouding.

Is dit nederigheid? Nonsens, sê Paulus. Dit is eerder opgeblasenheid! U weet wat opgeblasenheid beteken. Dit lyk indrukwekkend. Groot, soos 'n ballon. Maar prik daardeur en dit loop leeg. En wat bly oor, niks!

'n Puur vleeslike gesindheid, dit is al.

Immers, egte nederigheid is nie iets wat jy kan nastrewe nie. En seker nie iets waarop jy kan trots wees nie. Want so gou jy trots is op jou nederigheid is dit nie meer nederigheid nie. Die kenmerk van ware nederigheid is dat dit heeltemaal onbewus is. Iemand wat nederig is is dit nie van homself bewus en so gou hy dit wel is, is dit nie meer nederigheid nie.

Daarom is elke vorm van bewuste, gewilde nederigheid eerder 'n uiting van heimlike hoogmoedigheid.

Die dwaalleer wat so kamtig nederig is, hulle laat die gemeente voel dat hulle met hul geloof in Christus alleen maar 'n armsalige geloof het. Nee, maar dan hulle! Hulle het kontakte met engele, hulle het self insigte in diep verborge onsigbare sake. Hulle is ingewydes in groot mysteries.

Daardeur trek Paulus 'n dik streep. Bog!

Dit is alles selfverheffing!

Hoekom is die dwaalleraars so anders? Is dit omdat hulle nader aan Christus staan? Is dit omdat hulle dieper ingewydes is? Of meer geestelik vanwee hul asketisme?

Nee, glad nie.

Dit alles is net vroom vlees. Anders niks nie. By hulle regeer die gesindheid van die vlees. En dit streel inderdaad jou vlees as jy jouself verhef bo 'n ander. Die kritiese beoordeling van ander mense is dikwels nie meer as streling van die vroom vlees nie.

Jy kry van die mense wat altyd besig is om ander mense te oordeel. Hulle gaan rond as wandelende regters: Hy is verkeerd! En hulle is swak! En daardie mense moet nog baie leer! En dit word ook tyd dat sy 'n bietjie regkom! ens. ens.

Voortdurend meet jy mense af na wat jy belangrik vind. En dit mag wees dat jy daarin 'n groot vergissing maak.

Maar erger is nog dit. So 'n oordelende houding getuig van 'n sekere mentaliteit. 'n Gedagtewêreld waarin jyself in die middelpunt van jou lewe staan. Jy praat net oor jou ervarings in die geloof. Oor jou indiwiduele verwagtings in die lewe. Hoe jy dinge sien. Maar die gevaar is dat daarmee jou godsdiens al hoe meer indiwidualisties word. Dit gaan om jou vroomheid, jou redding, jou ewige lewe.

Maar die Here leer ons hier om anders te dink. As jy so besig is met jou godsdienstigheid, dan mag dit wees dat jy daarmee jou losmaak van die Hoof van die gemeente, Jesus Christus.

Dit gaan Jesus Christus mos om sy liggaam, on die gemeente, on die kerk. As jou godsdiens, hoe vroom ook, nie gerig is op die Hoof, Jesus Christus, nie dan beteken dit alles niks nie.

Die dwaalleraars het Jesus Christus vervang deur nederigheid, engeleverering, visioene. En daarmee het hulle die Hoof losgelaat en hulself veroordeel. As die lede die band met die Hoof verloor dan gaan die liggaam onmiddellik oor tot ontbinding. Die liggaam val net so uitmekaar omdat daar geen band met die Hoof meer is nie.

Maar waar vir elkeen die Hoof hoofsaak is, daar bly die liggaam een. Waar jy as gelowige eerder jou aandag konsentreer op Christus as op jou eie godsienstigheid, dan word ook die band tussen die gelowiges onderling versterk.

In 'n individualistiese godsdienstigheid is jy net gefokus op jouself en stel jy nie belang in die gemeente nie.

Maar waar Christus die Hoof is wat die liggaam regeer, daar kom groei. Daar kom die christelike lewe steeds verder tot ontplooiing. Elk van die lede groei in geloof na Christus toe. En tegelykertyd groei ook die band tussen die gelowiges onderling.

Saam groei die liggaam in geloof. Immers die lede wat oog het vir die hele liggaam sal mekaar ook bemoedig en ondersteun.

Maar waar dit gaan om jouself alleen daar is die ander lidmate eerder konkurrente, as deelgenote in dieselfde stryd.

En in die verband kan ons weer die Heilige Nagmaal noem. Dit is die tafel waar die Hoof Jesus Christus sentraal staan. Om Hom gaan dit alles. En rondom die tafel gaan sit nie mense wat so ver moontlik probeer vorder op 'n pad van individualistiese godsdienstigheid nie, maar mense wat van hulself en van mekaar weet dat ons almal van genade moet lewe. Van die genade van Jesus Christus.

En ook dat ons mekaar nodig het om saam te groei in die geloof. En verder om saam al hoe meer te vertoon van 'n lewenstyl waarin die naam van Christus duidelik sigbaar word.

In ons lewenspraktyk sal ons daarom alles moet doen met die oog op Christus en op Sy gemeente.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)