Die vrees van die Here is die begin van die wysheid

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Kolossense 2
Preek Inhoud: 

Ps. 19: 1, 2
Ps. 19: 4, 5
Ps. 132: 7 - 11
Ps. 138: 1, 2
Ps. 138: 3, 4
Lees: Kol. 2: 1 - 15
Teks: Kol. 2: 13 - 15

Broeders en susters,

Solank as wat die mens op die aarde lewe, het hy oor allerhande lewensvrae nagedink. Dit is vir hom 'n lewensbehoefte om in talle sake insig te versamel.

Reeds vroeg in die geskiedenis het Chinese wysgere hul diep gedagtes op papier gesit. Op ander plekke is wysheid dikwels mondelings oorgedra van geslag op geslag deur diepsinnige verhale en kernagtige spreuke.

Griekse dinkers soos Sokrates, Plato en Aristoteles is nog steeds wêreldberoemd.

In die wysbegeerte of die filosofie word nagedink oor vrae soos: hoe het die wêreld ontstaan, wat is die sin van die lewe, hoe is die verband tussen al die verskynsels rondom ons ens, ens.

Een van die kernvrae was ook steeds, wat beteken dood en sterflikheid en kan die dood ook op een of ander wyse oorwin word?

Op sigself is dit 'n goeie en sinvolle saak om oor vrae soos hierdie na te dink.

Maar die belangrikste, die beslissende vraag is hier: Waarvandaan verwag jy die antwoorde?

Verwag jy antwoorde as die resultaat van jou eie dinkwerk?

Indien ja, dan kan jy in jou filosofie nooit verder kom as ydele mensewysheid nie. Met daardie wysheid kan jy ongetwyfeld wel sinvolle dinge sê oor lewe en dood, oor menslike skuld en bevryding daarvan.

Maar die werklikheid van die dood kan jy daarmee nie wegredeneer nie. En die realiteit van menslike skuld in 'n vasgelope wêreld kan jy nie ontken nie.

Sodanige mensewysheid mag dalk ons verstand wel bevredig, maar is nie in staat om ons harte te troos nie.

Oor hierdie dinge gaan dit in Kolossense 2.

Teenoor die filosofiee wat in Kolosse verkondig word oor lewe en dood, oor skuld en boete stel Paulus 'n wysheid wat die hart kan troos.

Om die Here te vrees dit is die begin van die wysheid.

Die gelowiges hoef hulle teenoor die filosofe nie te skaam nie, as dit gaan oor die beantwoording van die groot lewensvrae.

Immers aan die gelowiges is die geheim van God geopenbaar, wat 'n antwoord gee op alle lewensvrae, wat in staat is om harte te vertroos en gewetes te bevry. Daardie geheim kan 'n mens in een woord saamvat: Christus.

In Hom is al die skatte van wysheid en kennis verborge.

Ons verkondig vandag vir u die Woord van die Here soos volg:

DIE VREES VAN DIE HERE IS DIE BEGIN VAN DIE WYSHEID.

  1. Ons is met Christus werklik lewendgemaak
  2. Ons is in Christus werklik vrygespreek
  3. Ons is deur Christus werklik vrygemaak

Soos u inmiddels weet broeders en susters, was 'n belangrike aanleiding vir hierdie brief aan die Kolossense die feit dat in die gemeente dwaalleer opgekom het. Daar is 'n aantal lidmate wat probeer om sekere filosofie aan hul broeders en susters op te dring.

As ons die woorde wat Paulus hier gebruik 'n bietjie op ons laat inwerk dan skrik ons van die skerpte van sy woorde. Laat niemand julle met drogredes verlei nie. Laat julle nie wegvoer deur die wysbegeerte nie. Dit is alles nietige misleiding volgens die oorlewering van die mense. Dit is glad nie volgens Christus nie.

Dit is 'n hele ding om so te skryf oor teestanders (in die kerk nogal).

Hoekom skryf Paulus hier so ongelooflik skerp?

Wel, dis nie sommer nie. Paulus stry hier nie vir eie saak of eer nie. Maar hier is die waarheid van die evangelie in geding!

Immers evangelie is dit: JULLE IS VERLOS! Julle staan vry voor God deur Jesus Christus! Julle, lidmate van Christus' gemeente. Julle almal. Dit is evangelieprediking!

Maar die dwaalleraars het 'n ander boodskap gebring. Wat hulle aanbied is filosofie. Menslike wysbegeerte.

Want hulle sê: Broeders en susters, julle kan net soos ons ook verlos word. Ook julle kan bevryding ontvang. Dan sal vir julle die lewe oopgaan.

Hulle bevrydingsboodskap was egter verpak in 'n ingewikkelde leer: "Daar is baie oefening en inspanning nodig. So kan 'n mens tot hoere kennis kom, so ontvang jy insig in die diepere sake van die lewe", so praat hulle.

Maar dit is geen evangelie nie!, sê Paulus dan.

Dit is 'n vals evangelie. Dit is 'n skynverlossing. Want so 'n leer beteken mos

    a. jou verlossing moet nog gebeur, dit lê vorentoe.
    b. jy moet dit self doen.

Maar die unieke in die evangelie van Christus is dit: DIT HET KLAAR GEBEUR! Jy is reeds verlos. Deur Jesus Christus. Aan die kruis op Golgota.

En dit het nie slegs vir jou gebeur nie. Nie net t. b. v. jou nie, maar baie sterker: dit het gebeur MET JOU. Met Hom is jy gekruisig, met Hom is jy begrawe en met Hom het jy tot 'n nuwe lewe opgestaan.

Sien u die hemelsbree verskil, tussen hierdie prediking en die boodskap van die wysgere? Wysbegeerte kan nooit verder kom as 'n soeke na die lewe, 'n soeke na oorwinning van die dood, 'n strewe na wysheid.

Maar die rykdom van Christus gemeente is, dat sy dit alles reeds HET!

Ons hoef nie te soek nie, maar in die geloof het ons.

Daarop, op dit wat jy het lê in die teksverband alle nadruk.

Laat julle nie oorhaal tot 'n ydele wysbegeerte wat slegs kan soek maar vs. 10: julle het die volheid in Hom

Julle is besny, julle is begrawe, julle is opgewek.

En dit alles kom tot 'n klimaks in ons teks:

Julle het Hy lewendgemaak saam met Hom. Dit is klaar agter die rug.

Dit is altyd weer die krag van die evangelieboodskap. Daardie evangelie kom vir jou nie vertel hoe jy verlos moet word nie of hoe jy jouself moet bevry nie, maar dit verkondig: jy het reeds lewend geword. Dit hoef jy nie deur 'n bepaalde leer of lewenswyse meer te bereik nie, maar dit is reeds werklikheid.

Dit is nou reeds so. Nou vandag. Ook vir julle.

Julle hoef nie moeisaam jouself voort te sleep in die onsekere hoop of jy dalk eendag die lewe sal beerwe nie. Nee, daardie lewe wat Christus skenk kan nou reeds begin.

Maar daarby is slegs een 'maar', n. l. Julle is dit slegs 'saam met Hom'. Met Christus.

Dit is nie so dat jy van Christus die lewe een keer moet ontvang en dat jy dan wel op eie houtjie verder kan gaan nie.

Nee, die lewe HET jy slegs met Hom, met Christus.

Daardie lewe het jy ook slegs solank die verbinding met Christus, die lewensverbinding in stand bly.

Julle het dus, broeders en susters, seuns en dogters, daardie lewe reeds ontvang. Dit is maar nie 'n teorie nie, dit is vandag reeds werklikheid. Dit benadruk ons teks baie sterk. En nou kom na ons almal die vraag toe: Het ek dit ook? Is ek ook lewendgemaak? Seker, ek weet van Doop en Nagmaal en Prediking. Maar ek weet ook dat jy dit alles kan ontvang hê en tog tenslotte die lewe misloop.

Hoe weet ek nou dat ek werklik deur Christus lewendgemaak is?

Wel, jy kan dit ervaar! Dalk in baie klein dinge, maar in die geloof weet ek, dit is baie groot dinge.

Die lewendmaking beteken n. l. nie dat ek in een keer skielik 'n totaal ander mens is nie en dat ek volkome anders begin lewe nie. Nee, jy ervaar dit in die gewone: Jy begin die Here te VREES. Jy gaan Hom LIEFHê.

Ek voel werklik berou en skaamte dat my diens aan die Here so swak is. Ek begin bid dat ek die Bybel goed sal verstaan en dat ek daardeur my lewe sal laat beheers. Dit is tekens van 'n nuwe lewe wat begin het. Vir elkeen wat daardie lewe ontvang is dit duidelik merkbaar.

As ek b. v. die Naam van Christus met eerbied hoor gebruik, dan gee dit vir my vreugde, en waar Sy Naam bespot word, doen dit vir my pyn. Die blydskap waarmee ek 'n psalm kan sing of die vreugde om 'n broeder in Christus te ontmoet, dit is alles tekens van die nuwe lewe. Van die werk wat Christus deur Sy Gees in my doen.

As hulle daar in Kolosse en ons hier, iets gaan besef van die werklikheid van die lewendmaking deur Jesus Christus, wat moet jy dan nog met dwaalleer?

Met 'n wysbegeerte wat voorgee om 'n pad na verlossing te weet? So 'n pad het ons dan nie meer nodig nie. Wie die rykdom van die evangelie van Christus ken, hy deursien sommer maklik die armoede van 'n leer van selfverlossing.

So waarsku Paulus die gemeente om tog te bly by wat sy het. Daarom moet hulle steeds bewus wees van die nuwe lewe wat God reeds gegee het. Julle was mos dood deur julle misdade en die onbesnedenheid van julle vlees.

Met daardie woord herinner Paulus hulle aan hul afkoms. Hulle was nie Jode nie. God het aan hulle geen enkele verpligting gehad nie. Dood was hulle deur hul misdade. Volkome hopeloos was hulle situasie. As God nie ingegryp het nie dan was hulle reddeloos verlore. Immers, hoe sal iemand wat dood is self die lewe kan gryp?

Want so is dit met jou as Christus geen plek in jou lewe het nie. Dan is jy dood. Ook al besef jy dit nie so nie.

Dalk voel jy jouself wel vol met lewe en lewenslus, maar tog is dit nie meer as skyn nie.

In werklikheid is jy dood vanwee jou oortredinge, omdat jy nie 'n goeie verhouding met God het nie. Slegs deur Christus word dit anders. Net Hy kan dit goed maak tussen jou en God en dan eers gaan jy lewe, werklik lewe. Dan word jou lewe darem weer sinvol omdat dit gaan beantwoord aan die doel wat die Skepper met jou lewe het.

Hoe dit in sy werk gaan sien ons in punt 2.

2. ONS IS IN CHRISTUS WERKLIK VRYGESPREEK

Paulus het teenoor die dwaalleer in Kolosse sterk benadruk dat ons nie meer na verlossing hoef soek nie, maar dat ons die verlossing reeds het. Christus het vir ons lewendgemaak toe Hy ons misdade vergeef het.

Om dan duidelik te maak hoe ver die Here in sy vryspraak van sondaars gegaan het gebruik Paulus twee beelde wat in vs. 14 'n bietjie deurmekaar loop.

Vir ons sal dit nuttig wees om eers altwee beelde afsonderlik te bekyk, dan sal ons later kan verstaan hoe Paulus daardie twee kombineer tot 'n oortuigende bewys van ons werklike vryspraak.

Die eerste beeld wat Paulus gebruik is die beeld van 'n kruisbordjie. U ken daardie gebruik wel uit die lydensverhale oor die Here Jesus. So 'n bordjie is vasgenael bo die kop van die gekruisigde misdadiger en daarop staan die aard van sy misdryf.

Dus as u u afvra, hoekom is die Here Jesus nou gekruisig, kom lees dan op die bordjie bo die kruis, daar hang 'n lys met al.... jou sondes.

Immers nie vir eie misdade moes Jesus hang nie, sy strafblad was skoon, maar jou strafblad was vol. Daardie skuldbrief het bo sy kop gehang: Gekruisig vanwee die sondes van... (vul eie naam in). Dit is die eerste beeld.

Die ander beeld is dit: Daar is sprake van 'n bewysstuk, 'n skuldbrief waarin ons skuld aangeteken is. Ons is skuldig aan al die gebooie van God. Daar is geeneen waaraan ons ons gehou het nie. Dit getuig teen ons en eis ons dood, 'n ewige dood.

Wel, deur daardie skuldbrief het God 'n streep getrek. Of nog sterker, God het dit uitgedelg. Daar is nie eens meer sigbaar hoe groot die skuld oorspronklik was nie.

Dit was die tweede beeld. En nou kombineer Paulus die twee beelde tot een. Die skuldbrief teen ons het God uitgedelg en weggeruim deur dit aan die kruis vas te nael. Ons skuld is op die rekening van Christus bygeskryf en toe heeltemaal uitgedelg. Heeltemaal weggeruim! Daar is niks meer van terug te vind nie. Dit is vir niemand meer leesbaar nie. Selfs God wil daarvan niks meer weet nie. So doen die Here dit met ons. Hy spreek ons werklik heeltemaal vry.

Daar moet ons 'n slag goed oor nadink. Ons is geneig om nog jare lank oor iemand se misstappe te praat. Amptelik is hulle lankal vergewe. 'n Streep daardeur. Sand daaroor. Weg.

Maar as dit ons vanpas kom, dan kan ons daardie foute wat 'n ander ooit gemaak het, na jare nog weer ophaal.

Maar so maak die Here gelukkig nie met ons sondes nie. As God jou vryspreek dan is jy vry. As Christus vergewe dan vergewe Hy werklik. Hy vee dit weg. Hy delg dit uit. Geen spoor meer te vinde nie.

En daarom mag ons ook oor eie sondes nie altyd bly deurpraat nie. As dit 'n slag in ons lewe heeltemaal verkeerd gegaan het en dalk so dat ons die gevolge van daardie misstap nog steeds merk, dan kan ons soms die gevoel kry dat daardie skuld nie vergewe is nie. Dat God jou nog steeds straf vir wat jy eendag verkeerd gedoen het. En dan word jou lewe swaar en vreugdeloos. Dan verloor jy al jou blymoedigheid.

Dink hierom, sê Paulus dan, as God vryspreek, as jy vergewing gevra het, dan is jy ook werklik vry!

So moet ons ook met mekaar omgaan in die gesin en in die gemeente. Ons mag 'n ander sy sondes nie bly verwyt nie. Ook al sug iemand sy lewe lank onder die las van 'n misstap uit die verlede. Om dan te sê: dis nou maar jou eie skuld, dit sou ongelooflik hoogmoedig wees en onbarmhartig. In so'n situasie moet jy langs iemand gaan staan as 'n medesondaar en vra: hoe kan ek help?

As God die skuldbrief met ons sondes uitgedelg het, wie mag dan oor daardie sondes bly praat. Van homself of van 'n ander.

3. ONS IS DEUR CHRISTUS WERKLIK VRYGEMAAK

In vs. 15 bring Paulus nog 'n aktuele kwessie in Kolosse na vore. Die betekenis van owerhede en magte. Dalk onthou u iets daarvan uit hfst. 1: 15, 16. Die dwaalleraars het gesê: Christus is wel belangrik, maar bo en behalwe Hom is daar nog geestelike magte. Goeie en kwade engele en allerhande tussenwesens.

En as jy nou op die wêreld goed wil vaar dan moet jy die bose magte weghou en die goeie magte eer betoon.

As dit waar is wat hulle sê. dan sal u sommer voel, broeders en susters, dan word die lewe van 'n mens baie angstig. As daar allerhande geeste en verborge beinvloedinge van jou bestaan is, wat jy moet probeer tevrede hou dan is jou vryheid daarmee heen!

Nou is dit opvallend dat Paulus in ons teks nie sê: Bose geeste bestaan nie, of: daar is geen onsigbare kragte in die wêreld werksaam nie.

Nee, dit doen hy nie.

Hy gaan daarvan uit dat daar onsigbare magte is. Maar sê hy dan: Hoe werklik hulle ook al is, tog hoef ons hulle nie te vrees nie. Ewemin moet ons probeer onsself van hul guns te verseker.

Want Christus staan bo hulle. Deur Sy kruis op Golgota het Hy alle magte en owerhede ontwapen. Hy het hulle in die openbaar tentoongestel en so oor hulle getriomfeer.

Die laaste woorde wat Paulus hier gebruik ontleen hy aan die gewoonte van Romeinse veldhere om die oorwonne konings en hul hooggeplaastes vas te bind agter 'n praalwa waarop hulle na 'n oorwinning in die stad Rome terugkeer.

By so'n triomftog moes die oorwonnenes aan hande en voete gebind agter die seewa stap. Die mense wat kom kyk het kon hulle maar gooi met modder en vrot eiers.

'Openbare tentoonstelling van hulle wat verloor het' is dit genoem. Natuurlik was daardie mense die voorwerp van almal se spot. Geen mens het ook maar vir 'n oomblik gedink om aan hulle agter die wa eer te betoon. Nee, alle eerbetoon is vir die oorwinnaar bo op die pronkwa.

Wel, sê Paulus dan, sodanige oorwonnenes agter 'n triomfwa is die owerhede en magte waarmee die dwaalleraars so eerbiedig wil omgaan. Sal julle vir hulle dan eer bewys? Hul magteloosheid is dan reeds in die openbaar tentoongestel!

Nou dink u dalk, broeders en susters, ag dis alles maar ver weg by ons vandaan. Ons is nie meer bang vir spoke nie en oor geestelike magte dink ons nie te baie na nie.

Maar tog is hierdie woord aktueler as wat u dalk gedink het. Om te begin in sendinggebiede, waar die lewe nog deur talle afgode beheers word. Die afgode hou hele volke in die greep van die angs. En of ons nou glo in die werklikheid van die bestaan van afgode of nie, dit is 'n feit dat die teestander van Jesus Christus die angs van die mense vir afgode gebruik en die evangelie by hulle vandaan te hou. Dit gaan regtig nie help om vir 'n heiden op die sendingveld te sê: Julle gode bestaan nie. Julle hoef regtig nie bang vir hulle te wees nie. Immers hy weet wel anders.

Daar is maar een ding wat help en dit is dit: Al daardie magte is deur Jesus Christus op Golgota oorwin. Dit is die enigste boodskap wat angste vir die afgode kan uitdryf.

En hoe is dit vandag in die westerse wêreld? Dit is opvallend dat daar vandag weer 'n enorme belangstelling is vir spiritisme, okkultisme en paranormale verskynsels.

Die astrologie (sterrewiggelary) word deur duisende ernstig beoefen. Ek het eens 'n antroposoof hoor sê: Die christendom is 'n goeie ding. Dit leer die mense om te reken met 'n lewe na hierdie lewe. Maar dit is slegs 'n begin. Want julle gaan verby aan 'n groot deel van die werklikheid. Jy kan baie meer bereik as jy weet hoe om gebruik te maak van die geheime kragte wat in die mens skuil. Jy moet weet van die verborge potensiaal wat deur ons leer ter beskikking kan kom!

Wel, dit is presies dieselfde in 1988 as wat toe in Kolosse geleer is! En nou gaan dit nie help om te sê: Okkultisme is alles twak. Bedrog. Truuks. Nee, daar is sekere kragte werksaam waarvan ons nie weet nie. En dan onthou ek skielik wat die Bybel sê: Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die magte, owerhede, die wêreldheersers van die duisternis.

Hulle is daar, en hulle het 'n sekere mag.

Laat ons as gelowiges daarvan maar ver weg bly.

Deur 'n te groot belangstelling in okkulte verskynsels het al baie mense die vastheid van die geloof in Jesus Christus verloor. Voor jy weet is jy gevange in die greep van die duistere magte.

En dan verloor jy die vryheid wat jy van Christus ontvang het. En op die ou end verloor jy Christus self!

Ongetwyfeld is daar bose magte.

Maar ons hoef daarvoor nie te vrees nie. Christus het ons van die angs bevry. Hy het mos al daardie magte oorwin.

Wat het ons as gemeente 'n groot Heer! Wat is ons ryk in Christus!

Hy is mos die antwoord op al ons lewensvrae:

  • Wat is die doel van die wêreld?
  • Wat is die sin van die lewe?
  • Hoe word ons bevry van sonde en angs en dood?

Die antwoord is steeds weer: Christus!

Jesus Christus en Hom as gekruisigde.

In Hom is al die skatte van wysheid en kennis verborge.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)