Ons Koning in die hemel sal Sy ryk op die aarde vestig

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Filippense 3
Preek Inhoud: 

Ps. 68: 1
Ps. 68: 2
Ps. 47
Ps. 99: 1, 2, 3
Ps. 99: 4, 5
Lees: Filip. 3
Teks: Filip 3: 20

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die Hemelvaartdag is vir ons nie 'n maklike fees nie. Dis maar moeilik vir ons om in te sien watter feesvreugde die Kerk daaruit kry, dat die Here Jesus van ons weggegaan het na die Hemel. Afskeid neem is maar 'n moeilike ding.

Daar kom nog 'n ander aspek by, naamlik dit: ons kan ons by die Hemelvaart so min voorstel. Ons wêreldbeeld soos ons dit gewoonlik in gedagte het, staan ons in die pad. Die Hemel as 'n geestelike werklikheid kan ons ons nog wel 'n bietjie voorstel. Maar 'n mens van vlees en bloed, selfs al is dit die Here Jesus, hoe kan Hy na die Hemel gaan? Waar is die Hemel? As 'n mens 'n bietjie kennis neem van astronomie, dan besef jy skielik hoe oneindig groot die heelal is. Maar waar is dan die Hemel? En hoe is Christus daar? Soos altyd broeder en susters, moet ook hier die Kerk uit die geloof lewe. Die Kerk ontleen sy bestaan aan die geloof in die beloftes van God. Beloftes wat ons maar net uit die Bybel ken.

Wel, die Bybel teken vir ons die Hemelvaart as 'n bewys van die heerlikheid van Jesus Christus. Sy taak op aarde het tot 'n voorlopige afsluiting gekom. Sy lyde is volbring. Op die Paasdag het God Self Sy seun die eer gegee wat Hy verdien. Hy staan op uit die dood.

Die dood is vanaf daardie tyd op aarde nie meer oppermagtig nie. Maar daarmee is sy werk nie voltooi nie. Daar moet nog meer gebeur. Die hele aarde moet vervul word met die heerlikheid van Sy Naam.

En daartoe dien Sy Hemelvaart.

Die gelowiges is erfgename van die aarde. Wel, Christus is in die Hemel besig om die erfenis gereed te maak.

Dit is die wins van Christus se Hemelvaart.

Daarom is 'n regte Hemelvaartdagviering as 'n fees, alleen moontlik, as ons glo dat die Hemelvaart nie die einde van Christus se werk is nie, maar veel meer 'n stadium in Sy terugkeer na die aarde. Die Hemelvaart ontvang 'n feestelike glans in die lig van die belofte van die wederkoms.

Daaroor gaan dit vanmôre in die prediking.

ONS KONING IN DIE HEMEL SAL SY RYK OP DIE AARDE VESTIG.

Hierdie verwagting bewaar die burgers van die Ryk vir:

  1. Wêreldgelykvormigheid.
  2. Wêreldvreemdheid.

1. 'Want ons burgerskap is in die hemele'.

Dit klink vir ons darem merkwaardig. Ons burgerskap is in die hemele. Ons voel ons mos almal wêreldburgers. Ons is burgers van die aarde, daar woon ons, daar werk ons, vir daardie lewe is ons heeltemal aangepas. Wat bedoel Paulus?

Wel, wat vir ons nogal merkwaardig klink, klink vir die eerste lesers van hierdie brief glad nie vreemd nie. Die uitdrukking 'ons burgerskap' ken hulle baie goed en die gedagte dat hul burgerskap op 'n ander plek is as waar hulle bly, is vir hulle ook baie vertroud.

Paulus stuur naamlik sy brief aan die Filippense, die gemeente van Filippi: Die stad Filippi was in Griekeland. Maar die inwoners was nie eintlik Grieke nie. Hulle was Romeine. Die stad Filippi is naamlik gestig as 'n Romeinse kolonie. Daar was 'n tyd dat die stad Rome te vol geraak het met mense, en toe het die Romeine oral in Griekeland en Klein-Asië stede gestig met Romeine as inwoners. Hulle was koloniste wat ver van hul moederstad gebly het.

Maar hulle het die voorreg gehad om hul leefwyse in te rig, heeltemal na die gewoontes van Rome. Hulle het Romeinse huise gebou, en vir hul ontspanning Romeinse teaters. Hul taal was uiteraard die taal van Rome, en hul feesdae was dieselfde as wat in Rome die geval was.

Dus in Filippi het mense geleef soos Romeine, hoewel hulle in Griekeland gewoon het. Hulle het ver van huis gebly, maar deur hul lewensstyl, was hulle onmiddellik herkenbaar as Romeine. Deur hul lewenswyse het hulle aan die moederstad verbonde gebly.

En daarvoor het die Filippense die woord gebruik wat in ons teks weergegee is met 'ons burgerskap'.

'Ons burgerskap is in Rome' het die bewoners van Filippi gesê.

Wel, hierdie selfde woord gebruik Paulus nou om die posisie van die gemeente van Christus op aarde te omskryf.

'Ons burgerskap is in die hemele'. Ons bly ver van huis, maar deur ons burgerreg is ons met die ryk verbonde waartoe ons behoort.

Ons Koning is naamlik die Here Christus. Hy het Sy troon in die hemele. As Koning skenk Hy ons Sy gawes. Ons behoort Hom toe. Ons laat ons deur Hom regeer.

Toe Paulus eendag in die stad Filippi kom, toe kom daar Koning Christus Self om Sy onderdane te roep. Hulle het gewandel in die duisternis, maar hulle het kinders van die lig geword.

Hulle het vroeër geleef sonder God. Hulle was gebind deur die Satan. Maar nou is hulle wedergebore tot 'n lewende hoop, hulle is kinders van die stad in die Hemel.

Deur die moederstad is hulle uit die duisternis geroep na die wonderbare lig.

So is die gemeente van Christus 'n tipe van 'n hemelkolonie. Hulle bly ver van huis, maar in hul lewensstyl vertoon hulle die glans van die stad waar hul burgerskap is.

Deur die geloof onderhou die gelowiges die band met hul moederstad. Deur die geloof ken ons die Koning wat op Sy troon sit.

In daardie opsig is ons koloniste op die aarde. Koloniste - nie emigrante nie. 'n Emigrant trek mos na 'n ander land om daar op die ou end heeltemal een te word met sy nuwe land. Hy neem gewoontes en gebruike van sy nuwe land oor. Reeds die volgende generasie ken nog maar een vaderland. Die land waarin hulle gebore is, en opgegroei het. Hulle smelt saam met die land en sy mense. So behoort dit altans. Maar by die burgerskap, waarvan hier sprake is, is dit nie so nie. As jy die burgerskap van die hemel loslaat, word jy 'n emigrant op die wêreld. En saam smelt met die wêreld en sy mense sou wêreldgelykvormigheid beteken.

Dan is jou burgerskap van die andere ryk nie meer sigbaar nie. Dan leef jy as kerklid maar presies so as 'n ongelowige. Jy is nie meer herkenbaar as gelowige, as 'n burger van 'n Hemelse Koninkryk nie.

En waarom is dit alles van belang in verband met die Hemelvaart?

Wel, hierom.

Sinds die Hemelvaart is Christus nie meer op die aarde nie. Die Koning is nie meer self aanwesig om mense tot burgers van Sy Ryk te roep nie. Maar Hy laat Sy Kerk hier as 'n bewys dat Hy vroeër hier was. Die Kerk is die begin van die sigbare resultaat van Christus se werk. 'n Voorpos van die Koninkryk van die Hemele.

En daarom is wêreldse praktyke in die Kerk in stryd met die plek wat Christus vir haar wys. En wêreldse leefwyse van gelowiges is 'n groot skadepos vir die ryk van Christus. Want hoe sal mense dink oor die Koning van 'n ryk, waarvan die onderdane sleg vertoon?

Die Kerk is geroep om oor die hele wêreld mense te roep tot die Koninkryk van Christus. Aan elke volk en taal en stam en nasie, moet die grootheid van Christus verkondig word.

Vir die Evangelie van Christus kan ras of kultuur nie 'n rol speel nie.

Almal moet mos net gered word deur die geloof in die kruis van Christus. Dit is die enigste eis om burger van die Hemelse Koninkryk te kan wees: Geloof in die kruis van Christus.

Daarom tree Paulus in hierdie hoofstuk so baie skerp op teen die Judaïste. Die Judaïste is soos u waarskynlik weet, mense wat hul by Christus se gemeente aangesluit het, maar wat van elkeen wat uit die heidenwêreld in die Kerk kom, eis, dat hy hom laat besny, en dat hy hom hou aan die Joodse spyswette, naamlik, dat jy nie onreine diere mag eet nie, en verder dat jy jou stiptelik hou aan die Joodse feesdae.

Daardie Judaïste het seker ook maar baie invloed in die gemeente van Filippi gehad. Hulle het gesê: Voor jy by die kruis kan kom, sal jy eers Jood moet word en ons gebruike en instellings oorneem. Teenoor daardie mense is Paulus ongelooflik fel.

Hulle wandel as vyande van die kruis van Christus!

Hulle einde sal wees die verderf. Die ewige ondergang.

Hulle god is die buik, sê Paulus selfs. Paulus bedoel dit: deur eindeloos te praat oor reine en onreine diere, oor wat jy wel en wat jy nie mag eet as 'n gelowige nie, stel jy jou buik sentraal, pleks van Christus se kruis! Dis baie skerp!

Ek dink, die Judaïste sal baie kwaad gewees het. Hulle sê ongetwyfeld: "Nee Paulus, dit gaan ons nie om die buik nie, maar om die eer van God. Jy maak 'n karikatuur, 'n spotprent".

Dit laaste is natuurlik waar. Paulus maak 'n karikatuur. Maar veral 'n karikatuur kan 'n kenmerkende tekening van 'n probleem gee. Die masker word afgeruk. En dan ontdek ons dat mense onder 'n skyn van vroomheid besig is met aardse dinge.

Hulle eer is in hulle skande. Daarmee bedoel Paulus weer die Judaïste. Ons verstaan wat hy bedoel, as ons besef dat die woord skande hier eintlik skaamdeel beteken. Die besnydenis is naamlik gedoen aan die manlike geslagsdeel. En met hul besnydenis pronk hierdie Judaïste. Spottend sê Paulus: Julle spog met jul geslagsdeel. Pleks van dat julle uitsluitlik roem in die kruis van Christus. Nogmaals baie skerp bewoordinge van Paulus.

Die Judaïstiese vroomheid vertoon indrukwekkend maar uiteindelik is dit vertoning van aardse dinge.

Die horison van sodanige mense reik nie verder as hierdie aarde nie. Daarmee is hulle met al hul godsdienstigheid, eintlik net so ver as heidene wat nie meer weet as om te eet, te drink en die aardse lewe te geniet, voordat hulle sterf nie.

Maar ons horison reik verder. Ons het ons regeringsentrum in die Hemel. Nie die wet van die vlees en die begeertes van die liggam sal ons beheers nie, maar die wette van ons Koning wat in die Hemel is. Dit wat Paulus hier sê, wil baie mense nie meer aanvaar nie. Jy maak mos verkieslik jou eie wet. Jy bepaal liewer self wat goed en wat kwaad is. Jy hou eintlik nie daarvan om enige gesag wat van bo is te aanvaar nie.

En tog moet ons altyd weer buig voor God se wette. Voor Sy Woord. Ons moet ons laat beheers deur die wette van Christus se Koninkryk. Want ons is burgers van 'n ryk in die Hemele.

Ons regeringsentrum is daarbo, waar Christus is, aan die regterhand van God die Vader.

2. Die verwagting van die wederkoms bewaar ons vir wêreldvreemdheid.

Ons het in die eerste punt benadruk dat die gelowiges hul laat beheers deur die regeringsentrum in die Hemel. Die Ryk van Christus word bestuur vanuit die Hemel. Dit beteken ewewel nie dat dit ons tot wêreldvreemde mense sou maak nie.

Dat die gelowiges wel op die aarde woon, sê maar noodgedwonge, maar dat ons eintlik sou verkies om so spoedig as moontlik na die Hemel te vertrek nie.

Natuurlik kan 'n gelowige in bepaalde situasies die verlange wel hê. As 'n mens swaarkry in 'n vreemde land, wil hy graag repatrieer. Terugkeer na sy vaderland.

Maar dit is nie Paulus se bedoeling nie, as hy praat van ons burgerskap in die Hemele. Die Here het vir ons, mense van vlees en bloed, as woonplek die aarde toegewys. Hier het ons 'n taak. Hier op hierdie aarde moet ons die belange van Christus Koninkryk bevorder. Christus ons Koning is in die Hemel. Maar Hy het Sy Gees na ons toegestuur, om ons hier te ondersteun by die roeping wat ons het, naamlik om hier Christus Koninkryk te bevorder.

Toe die dissipels gesien het hoe hul Here Jesus Christus opgevaar het na die Hemel, het daar skielik twee engele gestaan. Die engele is gestuur tot vertroosting van die Kerk.

En let op wat hulle daar sê: Hulle sê nie: Wees getroos Galilese manne. As Jesus daarbo 'n plek berei het vir julle, mag julle Hom daarnatoe volg nie! Nee. Hulle sê: Hierdie Jesus sal net so kom soos julle Hom na die Hemel sien wegvaar het.

Nie julle gaan na Hom in die Hemel nie. Maar Hy hom weer na julle toe op die aarde.

En so kan Paulus in ons teks sê: Uit die Hemele verwag ons as Verlosser die Here Jesus Christus.

'n Voorbeeld kan dalk nog verduidelik wat dit beteken. Sê nou op aarde word 'n land deur 'n ander land oorwin, en hou die land beset. Maar die regering van die land sien kans om op die laaste oomblik die land te ontvlug, en vestig hom as 'n regering in ballingskap in 'n naburige land. Hulle kan vandaar uit berigte stuur na die bewoners van die land wat beset is. Allerhande aanwysings kan hulle gee, en woorde van bemoediging, tot solang daar weer bevryding is. En wanneer is die bevryding daar? Dis tog nie daar as ons almal kans gesien het om ons land te ontvlug, sodat ons in 'n ander land wel vry van die vyand, maar tog maar in ballingskap lewe nie?

Nee, werklike bevryding is daar as die regering weer terug is. Wel, so leef ons as Kerk tans in besettingsgebied. Die vyand van Christus kan die aarde beset. Ons sien aan alle kante op die mag van die Bose. En daarom het ons die woorde van bemoediging en troos van die Here Jesus so hard nodig. Ons teer op Sy beloftes: Ek kom!

Ek kom om julle te bevry, sodat julle weer in vryheid op die aarde kan lewe, sonder die heerskappy van die Satan.

So is ons eers werklik verlos as die Here Jesus terugkom, en Sy triomfantelike intog op die aarde hou. Dan eers is die vyand vir altyd verslaan. Selfs die laaste vyand van ons, die dood! Die dood wat ons so diep verneder. Die sonde wat selfs ons liggame aantas.

Dit alles beteken: ons verwag die verlossing van ons lewe hier.

En daarom moet Christus Self terug kom. Die mens kan self nooit die verlossing, die bevryding tot stand bring nie. Al dink hy dikwels, ky kan. Maar dit is 'n idealisme wat altyd weer stukkend breek op die werklikheid.

Christus ons Koning is die Enige wat ons kan verlos. Hy het daarvoor die krag. Die krag waarmee Hy self die dood en die mag van die Satan oorwin het.

Dus die verlossing wat Christus ons belowe is nie dat Hy ons uit ons aardse bestaan of van ons aardse lewe verlos, deur ons in die Hemel op te neem nie, maar dat Hy ons aardse bestaan self verlos van die bande van die sonde.

By Christus se wederkoms sal die gelowiges die aarde beërwe.

Die hele wêreld waarop ons tans nog koloniste is, Hemelkoloniste, word dan ons moederland.

En so is ons getroos. As gelowiges is ons wel ver van die plek van die troon van ons Koning, maar in Sy Woord, in Sy wette, in Sy beloftes is Hy ons naby.

Hy maak ons nou reeds bekwaam om ons taak hier te vervul. En ons werk hier sal nie tevergeefs wees nie. Ons sal by die wederkoms nie die aarde moet agterlaat nie, maar dit alles sal dan tot volle heerlikheid kom. En daarom is die Hemelvaartdag 'n fees vir die Kerk.

Dit is die dag van die troonsbestyging van ons Hoof Jesus Christus. Sy heerskappy gaan nou al oor die aarde en Hy sal die volkomenheid op Sy dag bring.

Laat ons daarom nou reeds die eer bring aan ons Koning Jesus Christus.

    God die Heer regeer, beef o volke
    eer die God wat woon, waar die gerubs woon
    wat in Israel, sy gerig bestel,
    Aarde en al wat lewe, laat dit voor Christus bewe!

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)