Paulus se gebed om groei van die liefde

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1990-01-01
Teks: 
Filippense 1
Preek Inhoud: 

Broeders en susters, geliefde gemeente van Jesus Christus,

"All you need is love". Dit is die titel van 'n bekende Beatle-song van so omtrent 15 tot 20 jaar gelede. All you need is love.... Love is all you need... love, love, love ens. Dit is die tema, en vir sover ek onthou ook die hele teks van die liedjie. Al wat 'n mens nodig het is liefde. Die liefde is dan ook besing in alle vorme en toonsoorte wat maar denkbaar is. Skynbaar is die tema so onuitputtelik, dat digters en liedjiessangers van alle tye daaruit altyd weer inspirasie kon put vir nuwe versies. Dit kan alleen hierdeur verklaar word, dat mense van alle tye hulle sterk betrokke voel by die onderwerp van die liefde. Blykbaar is liefde baie nou verbonde aan menslikheid. Waar liefde is, is lewe. Sonder liefde gaan 'n mens dood. All you need is love.

Kom ons wil luister na die apostel Paulus. In eerdere preke oor sy brief aan die Filippense het ons gesien dat Paulus sterk nadruk lê op sy voortdurende gebed vir die gemeente. In verband met die Filippense het Paulus baie om te dank en te bid. Elke dag weer bid hy vir hulle, het hy gesê.

Wel, dan raak ons nuuskierig na wat Paulus dan bid. Wat is dit dat Paulus voortdurend elke dag vir hulle vra?

Wel, daarop gee ons teks 'n antwoord: Dit bid ek, dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word. Die inhoud van sy gebed is dus 'n bede om groei van die liefde. Dit is al wat hulle nodig het. All you need is love. All you need is love.... Kan dit wees dat dit dit is wat Paulus vir die Filippense wil sê?

Die antwoord is: ja! Maar, hierby moet ons wel 'n aantekening maak. Want nou hang alles daarvan af, wat jy onder love of te wel liefde verstaan, en hoe dit in 'n Christenlewe uitgewerk word.

Daarom gaan dit in vanoggend se prediking.

Ons tema is: PAULUS SE GEBED OM GROEI VAN DIE LIEFDE.

  1. Die liefde leer onderskeidingsvermoë.
  2. Die liefde maak vrugbaar.

1. Dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word... Dit gaan hier om die groei van die liefde.

Nou is die woord liefde 'n woord wat op talle maniere gebruik kan word. In die algemeen kan ons wel sê dat die woord liefde 'n geweldige devaluasie ondergaan het in die loop van die jare.

Die woord 'love' wat ons in talle liedjies oor die radio kan hoor, het meestal maar bitter min te doen met die liefde, soos bedoel in ons teks.

Baie dikwels word naamlik liefde genoem, dit wat niks anders as 'n vorm van selfsug is nie. Daarin staan eerder sentraal die bevrediging van eie verlange. Liefde beteken dan: jy wil graag iets of iemand hê, want jy verwag dat die persoon waarna dan jou liefde uitgaan, iets vir jou kan gee. Hoe dikwels sal die woorde: 'ek het jou lief' uitgespreek wees met die eintlike bedoeling: ek wil iets van jou hê!

Dit is dus die eerste misverstand met die woord liefde, dat dit gebruik word met die bedoeling dat jou eie verlangens daardeur bevredig word. Die Bybel sou vir daardie verlange eerder die woord begeerte gebruik. Dus laat ons eers maar duidelik begeerte van liefde onderskei; en nie liefde noem wat niks ander as begeerte is nie. 'n Tweede misverstand wat minstens so groot is, is dat liefde suiwer 'n gevoel is. 'n Nie kontroleerbare menslike emosie.

Die liefde kom oor jou, en het 'n geweldige sterk invloed op jou, en jy moet daaraan toegee anders voel jy diep-ongelukkig. Hierdie idee van liefde word ons aangereik deur die Romantiek, 'n geestesstroming uit die vorige eeu.

As jy liefdegevoelens teenoor iemand het, dan het jy hom lief en dan kan jy dit uiter teenoor hom. Maar as jy dit nie voel nie, wel dan kan daar ook geen sprake van liefde wees nie.

Dit beteken dus, iemand wat nie goed by jou pas nie, kan jy ook nie liefhê nie. Jy voel mos niks vir hom of vir haar nie.

So is liefde vir ons idee dus 'n spontane (irrasionele) gevoel. En nou gaan ons met daardie idee in die Bybel lees. En onmiddellik stoot ons op probleme. In die Bybel kry ons naamlik sommer die bevel om lief te hê.

Mans, het julle vroue lief!

Jy moet jou vyande liefhê!

Wel, dink ons dan, dit gaan glad nie werk nie. Hoe kan 'n mens iets voel vir sy vyande? In elk geval nie liefdegevoelens nie! Daar moet iets verkeerd wees met die Bybel. Maar waar lê nou die probleem? Wel, hier. Ons lees die Bybel met ons eie idee van wat liefde is. Met ons deur die Romantiek bepaalde idee van liefde.

Maar in die Bybel is liefde heeltemal iets anders. Liefde volgens die Bybel is nie op jouself gerig nie, maar op die ander. Liefde wil die ander help; wil die ander tot sy bestemming bring.

Paulus bid vir die Filippense dat hul liefde mag groei.

Nou dat ons gesê het dat liefde op die ander gerig is, kan ons hier vra: Wie is die ander op wie die liefde van die Filippense gerig moet wees? Ons mag sê: In die eerste plek is dit God. Hulle liefde tot God moet nog meer groei. Maar tweedens is daarmee heel nou verbonde, ook die liefde tot die naaste.

Dit is eintlik nie van mekaar los te maak nie. Immers eers vanuit die liefde tot God kan ook die liefde tot die naaste tot sy reg kom. Maar eers liefde tot God - is dit 'n spntane gevoel wat 'n mens wel of nie het nie? Het jy dit-pragtig! Het jy dit nie - jammer dan? Nee, hierdie liefde het te doen met gehoorsaamheid, met selfverloëning, met diensbaarheid.

Wel, van hieruit gaan ons ook iets verstaan van wat liefde vir 'n vyand, of wat broederliefde is: Dit is nie 'n gevoel, nie 'n emosie nie, maar dit is in die eerste plek 'n daad. Liefde = liefdebetoon! Jou naaste liefhê, dit is vir hom kos gee as hy honger is.

Jou vyand liefhê, dit is hom te hulp kom as hy in nood is. Liefde is jou oopstel vir 'n ander.

So bid Paulus dat ons liefde moet groei. Dat ons ons oopstel vir God en ons naaste. Steeds meer, steeds verder.

Liefde tot God is, jou oopstel vir Hom en Sy Woord. En ek sal vir u sê, dit is baie moeilik.

Ons is dikwels heeltemal toe, vir die Here en Sy Woord. Ons laat Hom nie toe om deur te dring nie. As ons die prediking hoor skerm ons onsself af vir die Woord. Ons het ons eie idee oor allerhande sake, en o wee, as daaraan in die prediking getorring word. Dan is ons maar geneig om dit langs ons neer te lê, of te protesteer: Ek stem nie saam nie! Ek stem nie saam nie.... hoe dikwels bedoel ons dan eintlik: dit pas my nie. Ek wil nie. Liefde tot God is oopstaan vir God en Sy Woord. Dit is steeds weer aandagtig luister en vra: Wat wil die Here van my?

Net so, beteken liefde tot die naaste: oopstaan vir jou naaste. Wie nie vir sy naaste oopstaan nie, sien hom nie eers nie. Sien ook nie sy nood of sy hulpbehoewendheid nie. Hy leef aan sy naaste verby. Jy behandel hom grof en maak hom seer, selfs sonder dat jy daar self iets van merk. Dit kom omdat jy nie in hom belangstel nie. Jy stel net belang in jouself en jou belange.

Maar liefde word juis gekenmerk deur belangeloosheid. Liefde weet om offers te bring, om diens te betoon.

En daarom bid Paulus hier dat die Filippense in daardie liefde steeds meer sal groei. Hy voeg ter verduideliking nog toe, 'in kennis en ervaring'. Nou klink dit laaste vir ons eerder as 'n verduistering in plaas van 'n verduideliking. Wat is liefde in kennis en ervaring?

Die Nuwe Vertaling kan ons vir die verstaan baie verder help.

Kennis word daar weergegee deur begrip. Die liefde is in staat om begrip te toon byvoorbeeld vir 'n ander se moeite. Insig in ander se situasies.

Die woord 'ervaring' word in die Nuwe Vertaling weergegee as 'fyn aanvoeling'. Dit is inderdaad 'n ding waarom ons baie moet bid. Want ons is as mense maar al te dikwels baie afgestomp. Sowel teenoor God as teenoor ons naaste. Dan hoor ons nie meer wat die Here vir ons wil sê nie. Ons hoor net wat ons wil hoor, en verder gaan ons ons eie gang. En ten opsigte van die naaste ontbreek ons dit aan aanvoelingsvermoë. Ons is so sterk ingestel op onsself dat ons dikwels glad nie bemerk hoeveel skade ons aan 'n ander berokken nie.

Maar waar liefde is in kombinasie met begrip en fyn aanvoeling, daar word dit anders. Aan 'n groei in daardie liefde kom nooit 'n einde nie.

En hoe verder ons vorder in daardie liefde, hoe beter ons leer onderskei waarop dit aan kom.

Dit is Paulus se volgende gedagte.

Onderskeidingsvermoë is 'n kenmerk van 'n volgroeide Christelike lewe. In Hebr. 5 word dieselfde uitdrukking gebruik. Daar gaan dit om die melkspys vir die kinders, maar volwassenes het vaste spys nodig naamlik, om te kan onderskei tussen goed en kwaad.

In ons teks bedoel Paulus veral die onderskeidingsvermoë tussen wat wesenlik en wat nie-wesenlik is nie. Tussen wat werklik belangrik is en wat minder belangrik is. Seker vir 'n jong gemeente soos Filippi is dit baie belangrik. Hoeveel stryd was daar nie oor viering van feesdae, oor geslagsregisters ens. nie. Onnuttige vrae noem Paulus dit. Haarklowerye.

Deur stryd oor klein dingetjies, kan 'n gemeente maklik die dinge wat werklik belangrik is, uit die oog verloor. Dit is nou gebrek aan onderskeidingsvermoë. Een van die bybelverklarings wat ek geraadpleeg het, benadruk sterk dat iemand wat nie weet om te onderskei nie, baie vatbaar is vir allerhande dwaalleer. Jy kry in 'n gemeente altyd mense wat met vertoon van groot erns en baie diepsinnigheid eie stokperdjies berei en vir hul gelyk selfs in staat is om die hele gemeente te verskeur.

Daarvoor moet elkeen op sy pasoppens wees, dat hy goed weet om te onderskei waarop dit aan kom. Wie kan dit? Hoe kan 'n mens dit? Wel, daarvoor is opnuut liefde nodig. Liefde tot God veral. Liefde tot Christus en Sy gemeente.

Onderskei waarop dit aankom. Om daardie gawe mag ons almal wel bid.

Daar kom vandag so verskriklik baie op 'n mens af. Ook op 'n gelowige. Daar is so verskriklik baie vrae en probleme. 'n Mens kom gedurig vir keuses in sy lewe. Wat om te doen? Watter maatstaf moet ons gebruik?

Paulus gee die antwoord: Die liefde sal jou 'n pad wys. Die liefde tot God en jou naaste sal jou leer onderskei waarop dit aan kom. Stel jou oop vir God en jou naaste.

Dan leer jy om 'n pad te vind in die oorvloed van vrae wat op jou afkom.

Die probleem is dat ons so dikwels 'n ander maatstaf gebruik om 'n pad te vind in allerhande praktiese vrae. Byvoorbeel ons pas ons aan, aan ons omgewing. Almal maak mos so. Ek sal ook maar so maak. Of ons bly maar net by ons gewoonte. Ons het altyd so gemaak. Ons verander nie. Of ons koers op ons gevoel. Ons voel nie daarvoor nie. En dus doen ons dit nie

Of wat dikwels die geval is: Ons eie belang is ons hoogste maatstaf. Pas dit my? Dan doen ek dit. Word ek daar beter van? En dan kom sê Paulus vir ons: Nee, nie daardie maatstawe nie. Vergeet van daardie metodes om jou keuses te maak. Die liefde moet altyd vir jou die pad wys!

En daarom bid Paulus dan ook steeds: Laat die liefde groei. Inderdaad, 'all you need is love'. Maar dan wel hierdie liefde. Die liefde tot God en die liefde tot die saak van Christus.

Paulus voeg daar nog aan toe: Sodat julle rein en vir niemand 'n aanstoot mag wees nie, op die dag van Christus.

Oor die eerste woorde daarvan sal ons in die tweede punt nog terugkom, maar hier wil ons nog iets sê: oor die dag van Christus.

Dit is 'n belangrike element hier. Dit het naamlik ook alles te doen met die so belangrike onderskeidingsvermoë.

Naamlik iemand wat nie die dag van Christus verwag nie, het ook nie die vermoë om te onderskei waarop dit aan kom nie. So iemand maak fatale misrekeninge. Hy gaan sake in sy lewe op die eerste plek stel, waar hulle glad nie behoort nie. Hy gaan ook dinge onbelangrik ag wat nou juis wesenlik is.

Vir iemand wat nie die dag van Christus verwag nie, is sy aardse lewe en wat hy daar kan geniet, die allerbelangrikste.

As hy 'n huweliksmaat kies, kies hy op gronde wat glad nie belangrik is nie. 'n Bietjie dwase voorbeeld, maar hopelik baie duidelik. Wie 'n vrou kies omdat sy mooi bene het, doen 'n swak keuse. Hy weet nie om te onderskei waarop dit aankom nie. 'n Christen moet sy keuse op heel ander gronde maak. 'n Keuse wat alles te doen het met die liefde vir God. Onderskei waarop dit aankom, seuns en dogters!

Dieselfde geld vir die wyse waarop iemand sy geld bestee. Elke rand bied 'n groot verskeidenheid aan moontlikhede, waarop dit uitgegee kan word. Hoe sal ons bepaal wat die beste manier is? Juis, liefde wys ons 'n pad. Die liefde tot God wys ons die pad, en dan weet ons watter prioriteite ons moet stel. Soek eers die Koninkryk van God, en dan kom dit verder wel reg.

Onderskeidingsvermoë. Dit is 'n groot gawe, waarin ons almal kort kom. Bid die Here dat ons daarin almal sal groei.

2. Die liefde maak vrugbaar.

Sodat julle rein en vir niemand 'n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus.

Ons moet hier goed oplet watter bewering Paulus hier maak.

Die sentrale inhoud van sy gebed is dus, dat hulle moet groei in liefde. En wat is nou die doel daarvan? Paulus sê dit so: Reinheid en onberispelikheid op die dag van Christus.

Reinheid - dit wil sê, hulle leef nie meer in sondes nie.

Vir niemand 'n aanstoot - dit is: niemand kan met reg enige aanmerking op die gelowiges maak nie. Selfs God nie. Hulle is onberispelik.

Dit is die gevolg as die gelowiges steeds groei in liefde.

Wel, as ons dit op ons laat inwerk, het ons die neiging om Paulus hier te onderbreek. Om 'n paar kritiese vrae te vra.

Rein en onberispelik. Kan ons ooit sover kom? Maar ons is mos almal sondaars. Sal ons nie eerder op die dag van Christus arm, naak, en ellendig voor Hom staan nie?

En daarby: Leer ons nie in die Kategismus dat gelowiges nooit verder sal kom as 'n klein begin van die gehoorsaamheid nie?

Nee, rein en onberispelik kan mense op aarde nie wees nie.

Wel, dit weet Paulus self ook baie goed. In die brief aan die Romeine kom hy tot die versugting: Ek ellendig mens, wie sal my verlos uit die liggaam van hierdie dood?

Ons kan nie verwag dat Paulus homself teëspreek nie.

Wel, dit doen Paulus ook nie. Maar ons moet sien, dit gaan hom hier om die doel waarnatoe ons op pad is. Dat daar op hierdie aarde by die gelowiges steeds sondes en tekortkonings sal bly, is helaas 'n realiteit, maar daardie realiteit mag nooit as 'n ekskuus gehanteer word nie.

En dit is wat dikwels gebeur. Iemand wat vanweë sy sondes, vermaan word, staan onmiddellik klaar met: Doen ek verkeerd? Maar ander mense dan? Ons is mos almal sondaars!? Of hy antwoord: Nou ja, ek is nou maar soos ek is. Dit moet dan dien as 'n verskoning om 'n gebrek aan inset vir die diens van die Here goed te praat.

Wel, Paulus slaan ons al ons verskonings uit hande. Julle moet rein en onberispelik wees. Dit is wat God van julle verwag. Hy verklaar dit nog nader met: Vervul met die vrug van geregtigheid. Die woord 'geregtigheid' hier moet ons herken as woord uit die Ou Testament. Dit is 'n kenmerkende verbondswoord.

Veral in die Psalms kom dit dikwels voor. Die regverdige in die Psalms is nie die sondelose nie, maar dit is hy wat lewe as 'n kind van die Verbond. Hy gedra hom na die verwagting wat God van Sy bondgenote het. So iemand word 'n regverdige genoem.

Of soos ons ook kan sê: hy lewe in geregtigheid.

Terug na die Filippense brief: Vervul met die vrug van geregtigheid. So moet Christus ons aantref op Sy dag. Heeltemal vol met geregtigheid. Met 'n lewe soos dit pas by 'n kind van God wat verlos is; Paulus is ook duidelik daaroor waar die geregtigheid vandaan kom. Dan wys hy op Jesus Christus.

Dit is Christus wat die gelowiges nie net verlos nie, maar Hy vernuwe ook hul lewe. Hy maak hul lewe vrugbaar.

Wie in My bly, Hy dra baie vrug, sê die Here Jesus in die Johannes Evangelie. Dit kan nou duidelik wees hoe dit moontlik is.

Dit word moontlik gemaak deur die liefde tot God. Waar liefde tot God is, daar word ons lewe vrugbaar. Dit kan nie anders nie. Uit liefde tot God moet goeie werke voortkom. Goeie werke wat ook ons naaste kan opmerk.

Wel, dit alles is die rede vir Paulus se dringende gebed vir die Filippense. Hy bid steeds dat die liefde sal groei, want as daar nie groei in liefde is nie, is alle ander inspannings tevergeefs. Dan gaan dit nie help nie.

En daarom volhard in die gebed om groei van die liefde. Bid ook vir mekaar dat die liefde bly groei. Bid vir jouself dat jy liefde mag hê om na God se gebooie te lewe. En dat jou liefde so groot sal wees dat jy jouself en jou eie belange kan oorwin om die heil van die naaste te soek. Want so kom God aan Sy eer.

Daarop loop Paulus se gebed dan ook uit. Op die heerlikheid en die lof van God. Perslot van rekening gaan dit daarom in die wêreld, in die kerk en in ons eie lewe.

Dit maak dan die sin uit van ons bestaan as mense, dat ons sal lewe tot eer van God en dus tot heil van ons naaste.

AMEN.

Liturgie: 

Ps. 100: 1, 2
Ps. 100: 3, 4
Ps. 1: 1 - 4
Ps. 26: 1, 2
Ps. 26: 5, 7
Lees: Filip. 1: 1 - 26
Teks: Filip. 1: 9 - 11