Christus bou aan sy gemeente

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Efésiërs 4
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 61: 1, 2, 3, 4
Ps 31: 1, 2, 3
Ps 31: 4, 5
Skb 35: 1, 2, 3
Ps 68: 8, 9
Lees: Efese 4: 1-16
Teks: Efese 4: 11- 13

Brs en srs, gemeente van ons Here Jesus Christus!

In sy brief aan die Efesiërs het Paulus al 'n hele paar lesse oor gemeenteopbou gegee.

In elk van die lesse is daar spesiale elemente waaraan ons as gemeente aandag moet gee.

Heel kort saamgevat uit die laaste drie preke uit hierdie brief:

  1. Ons moet lewe van genade (Ef 2: 14)
  2. Ons moet lewe uit die Heilige Gees (Ef 3: 16)
  3. Ons moet lewe in die liefde (Ef 3: 17)

In ons teks van vandag gaan dit nog direkter oor gemeenteopbou. Maar hier ontdek ons dat gemeenteopbou nie soseer iets is wat ons saam as gemeente moet doen nie, maar dat gemeenteopbou in die eerste plek die werk van Christus self is.

Hy bou aan die gemeente. Seker, daarvoor skakel Hy mense in. Hy maak gebruik van ampsdraers in die gemeente. En die ampsdraers op hulle beurt moet weer heel die gemeente betrek.

Maar dit alles is werk van Christus.

Dit is sy gemeente.

Hy voel verantwoordelik vir die heil van die gemeente.

Daarom doen Hy alles daaraan om die gemeente aan sy roeping te laat beantwoord.

Ons tema is: Christus bou aan sy gemeente

  1. Hy skenk die nodige gawes
  2. Hy soek die nodige groei

In die verse voorafgaand aan ons teks kry ons 'n verwysing na die hemelvaart van Christus. Dit is die glorie van die opgestane Christus dat Hy na die hemel kon gaan. Hy is daar om te werk aan die voltooing van sy herstelwerk aan die skepping.

Vers 10: Hy het opgevaar "om alles tot volheid te kan bring"

Maar, en dit is die punt wat Paulus wil maak. Hy het nie weggegaan in sy eie heerlikheid om ons hier netso alleen agter te laat nie.

By sy afskeid het Hy presente uitgedeel.

Ofwel by sy hemelvaart het Hy opdragte gegee aan mense om aan die wêreld die evangelie te verkondig.

Paulus som die geskenke so op: Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars.

Ek sal u nie vermoei deur hier te probeer om van elk van die genoemde take in die kerk 'n presiese omskrywing te gee nie.

Ek gee net 'n globale aanduiding.

By die apostels dink ons aan die 12 mense wat persoonlik deur Christus geroep is om die evangelie te verkondig. Paulus reken homself ook as 'n apostel omdat Hy by die verskyning op pad na Damaskus as laaste ook so'n persoonlike roeping van Christus ontvang het.

Evangeliste is mense wat deur die apostels aangestel is om die evangelie nader te verkondig in die stede waar die apostels na 'n korter of langer verblyf weer verder trek.

Profete is mense in die gemeente wat in die gemeente konkrete leiding gegee het as hulle wou geweet het, wat is die wil van die Here in 'n sekere situasie. Onthou, dit was hard nodig in die tyd dat daar nog geen bybels vir die gemeentes beskikbaar was nie. Daar was soveel praktiese vrae wat 'n antwoord nodig gehad het. Daar het die profete ingespring.

Tenslotte noem hy dan die herders en leraars.

Hierby wil ons 'n bietjie langer stilstaan. Dit is nie mense wat rondgetrek het om die evangelie op allerhande plekke te verkondig nie, maar hulle is die mense wat uit die gemeente self voortgekom het. Mense met gawes om leiding te gee, om rigting te wys, om onderrig aan te bied.

"Herder en leraar"- hierdie aanduiding het by ons so 'n bietjie 'n staande uitdrukking geword vir 'n predikant. En by 'n predikant dink ons dan onmiddellik aan iemand met 'n teologiese opleiding. So 'n predikant kan by ons deur 'n gemeente beroep word om die Woord van die Here te predik.

In die situasie waarin Paulus skryf het so'n skerp omlynde predikanteamp nog glad nie bestaan nie.

Ons moet dan ook by die woorde 'herder en leraar' uit ons teks veel meer aan die ouderlinge van die gemeente dink. Dus geen mense wat van buiteaf na die gemeente kom nie, maar deel van die gemeente self is.

Hulle is die herders en die leraars.

Deur Jesus Christus as geskenke aan die gemeente gegee.

Binne elke gemeente gee Christus 'n aantal mense wat in staat is om leiding te neem.

Laat ons goed vashou dat dit Christus self is, wat die gemeente opbou. Hy maak daarvoor gebruik van die dienste van mense. En daartoe skenk Hy aan mense die nodige gawes.

Want die kerk is mos sy kerk?

Daarom is ook die opbou van die gemeente sy werk.

In elke situasie van die kerk gee Hy wat nodig is. So het Hy altyd gewerk.

Toe daar apostels nodig was, was hulle daar. Christus roep hulle en berei hulle self voor op hul spesifieke taak.

Toe daar evangeliste nodig was, het Hy hulle beskikbaar gestel.

Toe die diens van profete onmisbaar was... Christus gee hulle.

Vandag is ons in 'n situasie dat ons herders en leraars benodig.

Wel, Christus gee hulle. 'n Bank vol. Laat ons begin om daarvoor dankbaar te wees.

Die ampsdraers is geskenke van Christus aan sy gemeente. Want Hy wil sy gemeente opbou.

Daarom stel Hy hulle aan as herders. Hulle moet sy skape oppas.

En ons kan maar rustig vertrou dat Hy steeds hierdie gawes sal bly skenk. Dit is mos sy gemeente waarna Hy omsien.

Ook as daar binnekort 'n tyd van 'n predikantsvakature kom, dan mag ons in vertroue sê: Christus self sal omsien na die gemeente. Die herders en leraars wat daar is, bly daar.

Christus het gegee en Hy sal gee.

Hoe en wanneer presies weet ons nog nie, maar dit mag ons nie verhinder om van tevore ons vertroue uit te spreek in die Here Jesus Christus. Hy sorg self vir die herders wat ons nodig het.

Dit is belangrik vir 'n ampsdraer om te onthou. Bedink: jy is 'n geskenk van Christus aan die gemeente. Hy wil jou gebruik.

Hierdie besef kan vir jou die vrymoedigheid gee om in die gemeente op besoek te gaan en ook sonodig iemand te vermaan.

Daarvan hou niemand nie. Maar as Christus jou stuur moet jy maar gaan.

So moet ons vanaf die kant van die gemeente ook na die verkose ampsdraers kyk.

As geskenke van Christus aan die gemeente.

As jy nie so daarna kyk nie, word elke besoek wat hulle bring reeds van te vore 'n mislukking. Want dan sien ons net Jan of Koos of Wim kom, wat elk ook maar hul swakhede het.

Onthou net, deur Jan of Koos of Wim kom Christus.

Want dit is Christus wat jou heil soek.

Dit is Christus self wat deur middel van hierdie mense sy gemeente opbou.

2. Christus soek die nodige groei

Christus gee dus allerhande gawes gee ten behoewe van die opbou van die gemeente.

Om hierdie opbou skerper in beeld te kry, lees ons hoe vers 13 die doel van die opbouwerk in die gemeente beskryf: om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk.

Dit maak duidelik waaraan en hoe die herders moet werk.

Hulle moet die heiliges toerus.

Die heiliges is die lidmate van die gemeente.

Toerus beteken iemand vir 'n taak bekwaam maak.

Iemand voorberei op 'n werk wat hy moet gaan doen.

As die ampsdraers dus daar is om die heiliges toe te rus, dan beteken dit dat die werk van die ampsdraers aktiwiteit van die gemeente tot gevolg moet hê.

Want dan eers vind is regtig opbouwerk plaas.

Dit moet vir ons goed duidelik word.

'n Gemeente word slegs daar gebou waar lidmate betrokke raak.

Dit gaan werklik nie help as die ouderlinge almal verskriklik hardloop en die gemeente sit en toekyk hoe besig hulle is.

Inteendeel die bedoeling is dat al die lidmate geaktiveer word om self werksaam te wees met die gawes wat die Here vir hulle gee. Dan eers gaan dit goed in die liggaam van Christus.

Ongelukkig sien ons in die praktyk dikwels iets anders.

B.v. dat die ampsdraers baie swaar belas word met kerkwerk. Maar die gemeente sit terug.

Die gemeente ontwikkel dan 'n tipe konsumente gedrag.

Hulle kyk net hoe ander mense besig is. Op sy beste probeer hulle nog 'n beoordeling daarvan gee.

Nee, die preek was vandag nie so boeiend nie.

Nee, die huisbesoek het vir my niks opgelewer nie.

Gemeente, ek vrees dat so'n houding gemaklik in die gemeente kan ontstaan. Veral in die televisie- tydperk waarin ons lewe is dit 'n groot bedreiging. Dit is goed om ons daarvan wel bewus te wees.

Nog afgesien van die inhoud van programme is my grootste beswaar teen televisie dat dit mense so vreeslik passief maak. Dit is so 'n gerieflike tydverdryf. Jy hoef net terug te sit in jou stoel en niks te doen nie. Teen 'n klein jaarlikse vergoeding word jy daagliks deur ander mense vermaak.

Verder is jy onbetrokke. Jy hoef niks te sê en niks te doen nie.

Die grootste probleem daarvan is dat dit maklik 'n lewenshouding word. En dit is absoluut dodelik wees vir jou kerklike en ook vir jou geestelike lewe. Iemand wat gewoond is om hom self altyd deur 'n T.V. te laat vermaak raak so ingestel op visuele beelde dat hy b. v. nie meer in staat is om vir 'n half uur gekonsentreer na 'n preek te luister nie. Ek merk dit al aan jong katkisante wat baie kyk. Hulle kan tydens 'n katkisasie nie langer as 3 minute hul aandag by die onderwerp hou.

Terug na ons onderwerp. Die passiewe houding wat vandag baie aangekweek word is dodelik vir ons kerklike lewe, het ek gesê.

Die liggaam van Christus word slegs opgebou waar almal betrokke wil raak.

Die herders en leraars, sê maar die ampsdraers is daar om die heiliges toe te rus vir dienswerk.

Hier kry ons weer so 'n belangrike woord: "dienswerk". Diensbaarheid.

Ook hiervan moet ek sê dat ons daarvoor die gees van ons tyd baie teen het.

Wie is nog bereid om diensbaar te wees?

Wie is bereid om self iets in te lewer om vir 'n ander ook geleenthede te gee?

Diensbaarheid is in die samelewing van vandag absoluut nie populêr nie. Elkeen wil soveel as moontlik van sy eie lewe maak. Daarin pas eenvoudig geen diensbaarheid aan ander mense nie. Want diensbaarheid beteken opofferings maak. Diensbaarheid is om jouself dinge te ontsê om vir 'n ander geleenthede te gee.

Waar dit die atmosfeer van ons tyd is gebeur dit ook in die gemeente maklik dat elkeen so besig raak met sy gesin, of met sy loopbaan, of met sy stokperdjies, of met sy vakansies dat tenslotte niemand meer daar is om aan mekaar en aan Christus diensbaar te wees nie.

Die liggaam van Christus word opgebou waar ons almal kom tot die eenheid van die geloof.

Let op die woordjie 'almal'. Dit is 'n kernwoord van gemeentewees. Almal moet saamkom. Ons moet mekaar saamneem.

Mekaar stimuleer tot onderlinge diensbetoon.

Juis daarom pas in die gemeente geen houding van individualisme nie. Ook geen geestelike individualisme nie.

Jy kry mense wat met so 'n individualistiese instelling deel neem in die gemeente.

Hulle kom daar net om te ontvang. Hulle konsumeer prediking. Hulle ontvang huisbesoek. Hulle reken op geestelike voedsel wat vir hulle beskikbaar gestel moet word.

Maar al die sake ontvang hulle net vir hulleself om daarvan self geestelik ryker te probeer word. Hulle neem op en op. Maar van dit alles kom niks terug nie.

Hulle bly tenslotte maar net besig met hulleself.

Hulle wil met van alles bedien word, maar wil self nie diensbaar wees nie.

En dan gaan dinge verkeerd.

Waar elkeen maar net besig raak met homself en sy eie geestelike belange, verloor ons mekaar uit die oog. Dan is daarmee die eenheid van die gemeente heen.

Ons moet almal groei. Maar in Christus gemeente beteken dit dat ons met mekaar moet groei.

Want as elkeen op sy eie groei dan groei ons uit mekaar.

En dan kan ons nie meer een liggaam vorm nie.

Juis daarom is dit so belangrik dat ons almal betrokke is by al die gemeentelike aktiwiteite.

Die gemeente kom elke sondag twee keer vir 'n erediens by mekaar. Nou kan jy wel dink een keer is vir my geestelike vorming voldoende, maar dan mis jy wel die opbouwerk wat in die tweede diens verrig word.

Almal groei daardeur, maar jy is nie daar nie. Dan raak jy agter.

Of jy groei weg van die res van die gemeente.

Want ons is almal besig om te groei. Die lewe in die gemeente is nie iets wat oor die jare kan bly stilstaan nie.

Ons moet groei.

Tot 'n volwasse man, sê ons teks. Tot die maat van die volle grootte van Christus.

Ja, dit is die rigting waarnatoe ons moet groei.

Want laat niemand dink dat ons met die gemeente klaar daar is nie.

Ons moet groei tot die volle grootte van Christus.

Onthou dat Jesus Christus die eerste en enigste mens was wat aan die roeping van God in sy lewe beantwoord het.

Hierdie selfde Jesus roep ons om Hom na te volg.

Om net soos Hy in ons lewe weer diensbaar te wees.

In die eerste plek aan God en vervolgens ook aan ons naaste.

Dan kom God aan sy eer.

Amen

26 Sept '93

Liturgie: 

(kyk in preek)