Paulus se gebed om voorrang van die liefde in die gemeente

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Efésiërs 3
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 130: 1, 2, 3, 4
Ps 84: 1, 2
Ps 84: 4, 6
Skb 21: 1, 2, 3
Skb 21;4, 5, 6
Lees: Efese 3: 14-21 + 1 Kor 13
Teks: Efese 3: 17b-19

Brs en srs!

In die brief aan die gemeente van Efese is Paulus duidelik besig met die opbou van die gemeente. Uit die aard van die saak bedoel ons dan die opbou van die geloof van die gemeente.

Die eerste les wat Paulus daaroor gegee het het ons gekry in hoofstuk 2. Die tema is daar dat ons in die gemeente almal van genade moet leer lewe. As almal van genade lewe is daar ook ruimte vir mekaar en daarmee is die eenheid van die gemeente verseker.

'n Tweede les in gemeenteopbou het ons gekry in die verse wat aan ons teks voorafgaan. In 'n lewende gemeente moet groei wees. Groei in die gemeente is slegs daar waar alle lidmate besig is om te groei en hulle innerlike mens te laat versterk deur die krag van die Heilige Gees.

Vandag kry ons 'n derde les in gemeenteopbou.

Die les is dat dit in die gemeente bo alles gaan om liefde.

Sonder die liefde beteken alles wat in de gemeente gebeur niks nie. Soos Paulus in die beroemde hoofstuk 1 Kor 13 skryf:

Al sou ek 'n geloof hê dat ek berge kon versit, maar ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.

Al sou ek alle kennis hê, en alles weet wat daar is om te weet, sonder liefde sou dit absoluut niks help nie.

Al sou in 'n gemeente alles perfek georganiseer wees, al sou elkeen sy deel doen van die take wat daar te doen is, al sou elkeen 'n paar bybelhoofstukke per dag lees, maar daar was nie liefde nie, dan is so'n gemeente dood. Morsdood. Gedoem om te verdwyn.

Want slegs waar liefde is, daar is lewe.

As die liefde dan so onmisbaar is, raak die vraag belangrik, waar kry ons so'n liefde en hoe kan ons so'n liefde in stand hou?

Ons teks gee daarop 'n duidelike antwoord.

Liefde is 'n vrug van gebed.

Ons moet bid om self die gawe van die liefde te hê om daarvan te kan uitdeel. En ons moet bid dat die gawe van die liefde in die gemeente altyd die toon aangee.

Ons tema vir vanoggend se preek:

Paulus se gebed om voorrang van die liefde in die gemeente

Ons moet leer:

  1. om uit die liefde te leef
  2. om oor die liefde te praat

Ek het vandag ons teksverse uit die Nuwe Vertaling vir u voorgelees. Dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.

Die verskil met die Ou vertaling is dat die ou Vertaling slegs vasstel dat die lesers van die brief klaar in die liefde gewortel is. Hoe waar dit ook mag wees as geloofsfeit, tog is dit tewens so dat so'n feit steeds weer deur gebed werklikheid moet word.

Want in die gemeente moet ons dit steeds weer so ervaar en mekaar ook laat ervaar dat ons inderdaad in die liefde gewortel is.

In die liefde gewortel...

Hierdie beskrywing roep 'n beeld op van 'n boom wat in die grond gewortel is. Sy wortelstelsel het diep deurgedring in die ondergrond. Dit is die plek waarvandaan hy sy voeding kry.

Aan die uiterlik van die boom, aan die deel bo die grond kan jy sien of die bodem waarin hy staan vir hom genoeg water en voedsel verskaf. Lyk die uiterlik gesond en lewenskragtig dan weet jy, die ondergrond waarin sy wortel staan is reg.

Wel, so is die gelowige gewortel in die liefde.

Hy staan op die bodem van die liefde.

En hierdie feit is uitenuit bepalend vir sy optrede.

In alles laat hy hom lei deur die liefde.

Eintlik is dit so dat hy nie anders kan as om lief te hê nie. Want dit is liefde waarmee hy voordurend gevoed word.

Is dit nie wonderlik gemeente?

Want so was dit ook al in die O.T.

Waar liefde woon, daar skenk die Heer Sy seën.

En in die N.T. bly dit net so. Die liefde bedek alles, glo alles hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer! sing 1 Kor 13.

Hoe kostelik! Watter seën word vir ons as gemeente in die gawe van die liefde geskenk!

Maar! Ongelukkig is hier 'n maar. Hierdie maar: In die gemeente is dit nie alles so nie.

Seker, deur God se genade is daar liefde, baie liefde selfs.

Maar daar beweeg ook heel ander onderstrome. Lank nie altyd laat ons ons lei deur die liefde nie. Ons laat ons ook dikwels lei deur: trots... of eiebelang... of angs... of jaloesie.

Hier moet ons almal maar indringend selfondersoek doen, brs en srs, sns en dgtrs!

Ons moet vir onsself die vraag vra: Is my geloofslewe in liefde gewortel?

En vir onsself as gemeente: Is ons kerklike lewe op liefde gegrondves?

Ek vrees dat ons lewe dikwels in heel ander sake wortel geskiet het.

Dit kan byvoorbeeld wees dat ons lewe in gewoonte gewortel is. Dit gebeur sommer gou hoor!

Dat jy uit gewoonte begin bid en bybellees. Uit gewoonte kerktoe gaan en saamdoen in die gemeente. So'n gewoonte kan jy lank volhou, maar pasop dit is geen deeglike grond om 'n geloofslewe op te bou nie. Want as jou lewe skielik in 'n krisis kom dan bied jou gewoonte jou nie genoegsame basis nie.

Dan gaan jy die geloof nie volhou nie!

Ons geloofslewe kan ook in pligsbesef gewortel wees. Jou geestelike lewe bestaan dan uit 'n vertroude roetine. Jy voel verantwoordelik om jou deel te doen. Jy het in die opsig 'n goed ontwikkelde pligsgevoel. En jy kan daarmee ver kom. As jy in die kerk vir een of ander werk gevra word span jy jou in.

Want jy het al vroeg verantwoordelikheidsgevoel geleer.

En tog staan jou geloofslewe dan nie op 'n gesonde wortel nie.

Want as dit net gaan oor pligte dan bereik jy nie die vlak van die liefde nie.

Miskien ken u wel die uitdrukking: egtelike verpligtinge.

Daarmee word bedoel dat man en vrou mekaar in die huwelik op seksueel-liggaamlike vlak gee waarop hulle reg het. Sommige mense verwag nie meer van 'n huwelik nie, maar dit is tog 'n tragiese armoede as man en vrou hul seksuele moontlikhede as egpaar ervaar as 'n voldoen aan egtelike pligte. Dit haal immers nie die vlak van die liefde nie.

Wel, as ons geloofslewe en ons gemeentelike lewe afgesak het na die vlak van vervulling van godsdienstige verpligtinge dan bly ons ver onder die vlak waarop Christus die gemeente gestel het en waarop Hy ons wil sien. Dan haal ons nie meer die vlak van die liefde nie. En dan gaan daar slagoffers val.

Ons bedoel dit nie so nie, maar dit gebeur wel. Dan maak ons mekaar seer deur dinge wat ons sê.

Een ondeurdagte opmerking kan iemand so beskadig dat hy al sy vertroue in sy broeders en susters verloor. Want hy of sy voel hierdie opmerking sou nie gemaak gewees het as die persoon deur liefde beheers was nie.

Weet u wat dit is met liefde? Egte liefde is bereidheid om offers te bring.

Dan besoek jy byvoorbeeld nie uitsluitlik jou vriende in die gemeente nie maar gee jy ook aandag aan iemand wat buite jou direkte vriendekring staan, maar wat ook behoefte het aan 'n bietjie menslike kontak.

Liefde is dat jy nie net aandag aan iemand gee as dit goed met hom gaan, maar dat jy ook daarby is as dit nie goed gaan nie. Ook al voel jy verleë met iemand se nood en weet jy nie wat om te sê nie.

Liefde is as jy jou tyd beskikbaar stel om 'n ander te help ook al weet jy heel wat aangenamer maniere om jou tyd deur te bring.

Ken ons nog hierdie liefde?

Liefde vir onse God in die hemel en liefde vir ons naaste hier op aarde?

Of is ons so vol van al ons aardse belangstellings dat ons eintlik nie meer liefde vir die saak van die Here kan opbring nie.

Ek vra maar net.

Het ons ook hier nie elke dag bekering nodig nie?

Laat ons maar nie te gou aanvaar, natuurlik ons leef uit die liefde, want hoeveel tyd het ons eintlik vir 'n ander?

Hoe kort is ons geduld met mense wat anders is as ons.

Onthou dit, liefde vir mekaar en liefde vir God is nie iets wat van nature in 'n mens is nie. Ons belydenis leer anders. Van nature is daar haat teenoor God en ons naaste.

Haat betken hier geen emosionele aversie nie, maar eerder onverskilligheid. Jy trek jou van God en jou naaste niks aan nie. Dit is die haat wat leef in ons natuurlike mens.

Terwyl hierdie natuurlike mens in ons nog so springlewend is moet ons maar nie te gou aanvaar ons leef klaar in die liefde.

Laat ons liewers elke dag maar bid om krag om in die liefde te kan lewe. Om steeds meer vervul te raak van die liefde en daarvan dan te kan uitdeel.

Gewortel en gegrondves in die liefde.

Dit is Paulus se gebed.

Ek bid dat ons almal in die liefde gewortel mag raak.

Bid dit almal vir uself.

Want hoe dieper u daarin gewortel is, hoe stewiger die boom staan.

Dan kan ons in die gemeente ook iets van mekaar verdra. Selfs 'n gebrek aan onderlinge liefde waaraan ons ons nou en dan gevoelig stamp, sal nie kan veroorsaak dat onsself ontwortel raak nie.

Immers wie self in die liefde gewortel is, kan altyd verder.

Wie self uit die liefde leef wil ook altyd met 'n ander weer 'n nuwe begin maak.

Die omgekeerde is natuurlik ook waar. Hoe ondieper wortels onsself het in die bodem van die liefde hoe eerder waai die boom om. Ons voel seergemaak deur 'n ander. Ons is teleurgestel. Ons raak verbitter.

Dit gebeur maklik, hoor.

Maar daar is maar een remedie. Bid, bid dat jy self in die liefde gewortel mag bly.

Want dan kry jy vaste grond onder die voete.

2. Ons moet leer om oor die liefde te praat

Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.

In die eerste punt het ons veral benadruk hoe ons vanuit die liefde moet handel.

In vers 18 word aandag gegee aan die bron van die liefde.

Die bron is die liefde van Christus.

Daaruit moet ons liefde gevoed word.

En daarom moet ons nou eers iets sê oor sy liefde.

Sy liefde het bestaan uit 'n totale selfoorgawe terwille van ons heil. Hy het nie uit eiebalng gehandel nie. Hy het Homself oorgegee. Hy het die offer van sy lewe gebring. 'n Liefdes-offer.

Nou sou ons miskien nog kans sien om 'n liefdesoffer bring vir iemand wat ons liefhet.

Maar hoe was dit van die kant van God? Hy het gegee sonder dat Hyself dit nodig gehad het.

Hy het gegee sonder iets daarvoor terug te ontvang.

Was daar 'n antwoord op sy liefde?

Die evangelis Johannes sê daarvan die volgende in die begin van sy evangelie.

Die lig het in die duisternis geskyn, maar geen reaksie nie. Hy het na sy eie mense gekom, maar hulle het Hom nie aanvaar nie.

En tog het Hy volgehou. Hy het deurgesit, ook na teleurstelling op teleurstelling.

En Hy sit nog altyd deur!

Terwille van ons ! Dit is nou liefde, gemeente!

Verwonder jou daaroor! Dink daaroor na! Praat daaroor! Preek daaroor!

As u 'n slag teleurgestel is in mense, dink oor die liefde van Christus. Hoe Hy teleurstellings wat ons Hom berei het steeds maar weer moes ondergaan.

Verbaas u dan oor sy liefde en trou.

Doen dit, sê Paulus, saam met al die gelowiges.

Heel konkreet daar in Efese. Verwonder julle saam Jode en nie-Jode oor die liefde van Christus wat vir julle saam in die gemeente 'n plek gegee het.

Of hier in Suid Afrika: Verwonder julle saam met die totaal verskillende mense van die land oor die liefde van Christus. Hoe Hy Hom oorgegee het om mense te red. Om die lewe weer kans te gee op aarde.

As ons nie saam na daardie bron kan teruggaan nie dan lyk die toekoms maar somber.

Laat ons self in die gemeente daarmee begin.

Die liefde van Christus is die bron van ons geloofslewe en van ons gemeentelike lewe.

En nou moet ons saam leer besef hoe groot die liefde van God is.

Paulus sê dit so: meet dit maar saam uit. Hoogte, diepte, breedte, lengte.

Veels te groot vir jou om alleen te kan begryp.

Daarby het jy al die gelowiges nodig. Slegs saam kan jy 'n idee daarvan kry hoe groot die liefde van Christus wel is.

Eers as ek ander mense hoor vertel van die grootheid van God se liefde in hul lewe, hoe Hy steeds weer hulle sy liefde betoon het in al hul lewenservarings, dan gaan ek besef dat die liefde veel verder strek as wat ek persoonlik daarvan gesien het.

Daarvoor het ons dus mekaar nodig!

Vertel mekaar maar baie daaroor. Nie sentimenteel nie, nie spoggerig op eie ervarings nie, maar opreg gelowig.

Sê maar vir mekaar: Kyk hierin het ek die liefde van die Here ervaar!

Gemeente, dit sou tragies wees as ons as gemeente elke sondag oor die liefde van God hoor preek, maar ons sien nie kans een woord met mekaar daaroor na die preek te wissel nie.

Ons hou almal daarvoor die deur op slot.

Ons kan orals oor praat, maar nie oor die liefde van God in ons lewe nie. Ook nie oor ons onderlinge liefde nie.

Al wat ons miskien kan is 'n kritiese opmerking dat ons van liefde van 'n ander maar bitter min ervaar het.

Dit sou verskriklik wees as dit ons situasie was.

Daarom bid Paulus so indringend: Mag julle sy liefde ken!

Saam met al die gelowiges.

Dit kan net deur saam daaroor te praat.

En onthou, 'n mens het 'n lewe lank nodig om die grootheid van die liefde te leer ken.

Maar 'n mens kannie vroeg genoeg leer om daaroor te praat nie.

Die liefde van Christus is 'n liefde wat alle kennis te bowe gaan. Ons sal die reikwydte van die liefde nooit met die verstand kan deurgrond nie.

Maar die liefde is groot genoeg om jou steeds weer oor te verwonder.

Op sy liefde raak jy nooit uitgekyk nie.

Nooit klaargesien.

Bly bid daarom dat jou oë oop sal gaan vir die liefde van Christus.

Dan sal jou hart ook oopgaan vir jou naaste.

Ja dan sal julle vervul word tot die volheid van God.

Dan begin julle weer aan jul roeping in die lewe te beantwoord.

Want wat is die roeping anders as om die Here lief te hê bo alles en jou naaste soos jouself?

As ons daarmee besig raak dan vind ons ons bestemming.

En dan ontvang die Here die lof waarop Hy reg het

Aan daardie God dra ons mekaar op.

Aan Hom wat mag het om te doen ver bo wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen!

12 September 1993

Liturgie: 

(kyk in preek)