Paulus se gebed om die versterking van ons innerlike mens

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Efésiërs 3
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 1: 1, 2, 3, 4
Ps 93: 1, 2, 3
Ps 93: 4
Skb 20: 1, 2, 3, 4, 5
Skb 20: 6, 7, 8
Lees: Efese 3
Teks: Efese 3: 16, 17a

Brs en srs, gemeente van die Here Jesus Christus!

Ons het vanoggend weer uit 'n brief van die apostel Paulus gelees.

Die brief aan die Efesiërs. Dit is nie 'n onbekende brief vir ons nie. As ons dit lees hoor ons bekende klanke.

En die gevaar van bekende klanke is dat ons dit skaars nog hoor. Dat ons nie meer verwonderd is oor die inhoud daarvan.

Dit is nou die taak van die prediker om ons weer verwondering by te bring.

Ek wil u aandag daarop vestig dat Paulus in hierdie brief so geweldig positief is. Hy is druk besig met die opbou van die gemeente. Hy spoor almal aan om die Here te prys. Met woorde, maar ook met 'n lewensstyl waaruit sigbaar word dat jy 'n kind van God geword het.

Dit alles is op sigself nie so besonder nie. Wat dit wel besonder maak is dit. Paulus skryf dit alles vanuit die gevangenis. Hy weet dat sy eie dae getel is.

As u ooit eens 'n ou gevangenis besoek het dan weet u dat gevangenes verskriklik swaar gekry het. Die doodstraf was in daardie tyd nouliks nodig. As jy 'n paar maand in 'n gevangenis moes deurbring was jy in elk geval dood.

Dus Paulus het niks meer om nog van die lewe te verwag.

Hy kry liggaamlik bitter swaar.

As ons onsself in sy posisie indink, sou ons vermoedelik maar net moedeloos neersit. Ons sou so vol wees van ons eie ellendige omstandighede dat ons vir niks anders meer belangstelling kan opbring nie.

Maar nie Paulus nie!

Hy bid selfs vir die Efesiërs vers 13: Julle moenie moedeloos word by my verdrukkinge terwille van julle nie!

Hoe kan hy nog so positief wees?

Ons lees glad nie klagtes nie. Ons hoor net van sy blydskap. Aan God kom alle lof toe!

Hoe kan hy? Wat is sy geheim?

Dit is dit: Paulus het 'n sterk lewende innerlike mens.

Hy het 'n kragbron binnekant wat heeltemal onafhanklik is van sy uiterlike omstandighede. Dit is die krag van die Heilige Gees. In ons teks bid hy daardie krag ook aan sy lesers toe.

Ons tema vir die preek is:

Paulus se gebed om die versterking van ons innerlike mens

Hy bid:

  1. Laat die krag van die Gees in jou werk
  2. Laat Christus deur geloof in jou woon.

Die brief aan die Efesiërs is 'n brief waarin Paulus werk aan die opbou van die gemeente.

Verlede week het ons al 'n basisles daarin gekry. Dit is die les dat ons in die gemeente almal van genade moet lewe. Aan die voet van die kruis kan ons mekaar altyd vind. In die vrede wat Christus aan die kruis gemaak het is die eenheid van die gemeente verseker.

In ons teks vir vandag kry ons weer 'n les in gemeenteopbou.

Dit gaan oor geestelike groei van die gemeente. Maar daar kan slegs sprake van geestelike groei van die gemeente wees as daar by alle gelowiges groei is.

Elke lid van die gemeente moet groei in geloof en in kennis.

Want as daar nie groei is nie, dan is daar agteruitgang.

Daarom bid Paulus nadruklik om groei, om versterking van die geloof.

Ons teks sê: Dat Hy (dit is die Vader) aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens.

Ons wil eers 'n bietjie stilstaan by die uitdrukking: 'na die rykdom van sy heerlikheid'

Paulus bid dus dat God sal gee volgens die maat van sy heerlikheid. Sy heerlikheid is oorvloedig.

Vra ons ooit daarom? Dat God volgens die maat van sy heerlikheid sal gee?

Ek dink dat ons geneig is om in ons gebede ons eie maat stel. Ons bepaal self hoe en wat God moet gee. Ons stel self die heerlikheid vas waaraan ons deel wil hê.

Maar ek vrees dat as God werklik die volle rykdom van sy heerlikheid aan ons beskikbaar sou stel dan sou ons maar net bang raak, ons sou nie weet hoe om dit te hanteer nie.

Ek sal vir u 'n voorbeeld noem waaruit u maklik sal kan verstaan wat ek bedoel as ek sê dat die verwagting van ons gebede baie sterk bepaal word deur die maat wat onsself stel.

Oor die laaste jaar is daar elke drie maande in Belhar twee of drie mense wat tot geloof kom en by die kerk wil aansluit.

Pragtig sê ons dan, die sendingspan doen goeie werk. Aan die evangelie word gehoor gegee.

Maar stel nou, volgende week kom die sendingspan met die mededeling: Ons het nou 'n besondere evangelisasie aksie gehou in die Civic Centre in Belhar. Daar was 1000 mense gewees. Ons het gebid om die krag van die Heilige Gees vir hierdie mense en kyk, nou is daar 500 mense wat hulle graag wil laat doop.

Weet u hoe ons dan sou reageer?

Ek dink so: He broers van die sendingspan, wat het julle nou aangevang? Daar is iewers groot fout.

Sien u wat ek bedoel as ek sê: Ons gebede is dikwels beperk tot ons eie maat. Ons vra heel beperk. Ons soek nie groter verhoring as wat ons kan hanteer.

Dit geld ook in ons persoonlike lewe. Ons is bereid om te bid om deurwerking van die nuwe mens in ons, maar tot 'n mate dan. Want ons sal nie daarvan hou om skielik heeltemal ander mense te word nie.

Maar Paulus het daarmee nie 'n probleem nie. Hy bid dat ons na die rykdom van God se heerlikheid versterk mag word.

Die heerlikheid van God, dit is die goddelike glorie waarmee Hy nou en dan verskyn het in die O.T. 'n Oorvloed van lig en vreugde.

Doen 'n beroep daarop, sê Paulus. En laat jou verwagting groot wees. Die rykdom van God se heerlikheid is vir julle beskikbaar!

En wat gaan jy nou vra?

Paulus skryf: Dat julle met krag versterk kan word in die innerlike mens.

Ek wil eers iets sê oor die innerlike mens.

Die innerlike mens kan ons aandui as die hart van ons bestaan.

Dit is die plek waar die werklike beslissings geneem word. Waar jy die koers van jou lewe bepaal.

U sal verstaan dat dit daar in die mees sentrale plek van jou bestaan, baie saak maak deur wie of deur wat jy jou in beslissings laat lei.

Vanuit jou innerlik gee jy mos stuur aan jou lewe. As daar in jou innerlike mens niks leef nie dan kan jy dit aan die buitekant sommer agterkom.

As jy in jou innerlike mens jou laat lei deur eie insigte en deur eie begeertes, dan word dit definitief aan die buitekant sigbaar.

In geval van bekering gaan dit dan ook nie oor 'n paar uiterlike aanpassings nie, maar egte bekering vind plaas in jou innerlike mens. En vanuit die innerlike mens word aan die buitekant dade van bekering sigbaar.

Daarom is dit so belangrik dat jy jou in jou innerlike mens nie deur eie insigte laat lei nie, maar dat jy jou juis daar laat versterk deur die krag van die Heilige Gees.

Jou innerlike mens moet steeds weer vernuwe word. Dit moet jy nie self doen nie, maar dit moet jy laat doen. Deur die Heilige Gees!

En dit is wat Paulus die Efesiërs toebid: Laat die Gees toe om te werk in jou hart!

Want Hy alleen gee vir jou daar die nodige krag.

Krag in jou innerlike mens!

Dit is wat jy nodig het.

Want wat heers daar dikwels nie 'n slapheid in ons lewe.

'n Totaal gebrek aan geestelike dissipline.

Ons laat ons gevoelens totaal lei deur ons uiterlike lewensomstandighede. En dit gee vir ons weer aanleiding tot moedeloosheid. Tot bitterheid soms.

Moet ons dan maar net wag tot ons uiterlike omstandighede weer verbeter dat ons weer blymoedig kan raak?

Nee, sê Paulus. Laat jou innerlike mens versterk word met die krag van die Gees van God. Daarvan word jy 'n ander mens!

Dit is nou mooi, maar hoe doen 'n mens dit? Hoe laat jy jou innerlike mens versterk? Hoe werk dit nou prakties?

Wel dit gebeur daar waar jyself die Heilige Gees in jou lewe toelaat om te werk.

Dit gebeur onder andere deur die prediking van die evangelie.

Maar nie net dit nie. By die prediking is nog altyd 'n ander persoon ook betrokke.

Daar is egter ook die noodsaaklikheid van direkte persoonlike omgamg met God. Jy laat die Gees van God in jou hart werk deur vir jouself op gereelde basis te oordink wat die evangelie vir jou beteken.

Ons belydenis sê dit heel mooi: Die Heilige Gees eien ons toe wat ons in Christus het.

Wat het ons in Christus?

Die belofte van vergewing van sondes en 'n ewige lewe!

En hoe word so'n belofte nou jou eie?

Deur dit steeds te oordink by jouself. Immers dan laat jy die Heilige Gees toe om in jou te werk. Dan leer jy om ja te sê op die beloftes. So word die innerlike mens al hoe meer versterk.

As 'n mens sy uiterlik in vorm wil hou, sal jy gereeld aandag moet gee. Ons doen dit deur daaglikse versorging. Ons gebruik daagliks voedsel, dit alles om ons uiterlike mens in stand te hou. En as ons werk het waarby min liggaamsbeweging te pas kom doen ons iets spesiaals om tog in goeie kondisie te bly. Ons liggaam het dit nodig.

Maar wat van ons innerlike mens?

Die innerlike mens het ook daaglike versorging en onderhoud nodig. En soms wat ekstra oefening om in kondisie te bly.

Hierdie geestelike oefening versterk die innerlike mens.

En onthou goed dit is in die lewe van 'n mens die belangrikste.

Op 'n ander plek sê Paulus: "Ons word nie moedeloos nie ook al is ons uiterlike mens besig om te vergaan, nogtans word die innerlike mens dag na dag vernuwe (2 Kor 4: 16)".

Hoe besig kan ons wees met die versorging van ons uiterlike mens. Ons kan aan liggaamsoefening en aan velversorging doen, maar eendag moet ons die stryd teen die rimpels verloor. Daar kom 'n dag dat van ons uiterlike mens niks oorbly nie. Sy glorie vergaan onherroepelik.

Maar die innerlike mens kan oor 'n ander pad beweeg.

Hy word dag na dag vernuwe.

Dikwels kan jy dit tot jou vreugde by broeders of susters van hoë leeftyd opmerk.

Hul uiterlike mens is regtig besig om te vergaan. Hulle word al hoe meer ingeperk in hul bewegings. Hulle liggaamlike probleme neem net toe. Maar inmiddels groei nog steeds die innerlike mens. Dit is wonderlik! Daarvandaan gaan regtig iets uit.

En almal wat die voorreg het om sulke mense te ontmoet en die groei van die innerlike mens raak te sien baat daarby.

Maar onthou, 'n groeiproses kom altyd oor 'n lang pad.

Dit moet nou reeds begin. Want as die innerlike mens nie met die krag van die Gees gevoed word nie, sterf die innerlike mens steeds meer af.

Dan gaan jou innerlike mens maar dieselfde pad as jou uiterlike mens.

Maar in die lewe van 'n gelowige kan dit deur God se genade anders wees. Daar het God onverganklike lewe uitgedeel.

2. Laat Christus deur geloof in jou woon

Christus moet dus in ons kom woon.

Maar woon Christus dan nog nie in ons nie? Immers sinds ons doop het ons tog die belofte dat die Heilige Gees, die Gees van Christus in ons kom woon?

Het ons dan nog nodig om daarom te bid?

Dit is tog veel nodiger om te bid dat Christus ook sy intrek neem in die harte van ongelowiges en heidene?

Maar Paulus dink nie so nie.

Hy bid dat Christus in julle harte kan woon.

Christus kan namelik slegs woon in harte waarin vir Hom ruimte gemaak is.

Broers en susters, weet u wat dikwels die probleem is?

Ons het wel die belofte van inwoning van Christus in ons hart maar inmiddels gee ons vir Hom nie woonplek in ons hart nie.

Waarom nie?

Ons woon self al daar. Die huis is vol.

Ons het nie nog plek vir Christus in ons hart nie, omdat ons hart al klaar vol is van onsself.

Van ons eie verwagtings en begeertes.

Wel, as jou hart vol is van jouself en jou begeertes, dan is daar nie plek vir Christus om te woon nie.

Net so min as wat daar plek is vir die krag van die Gees in jou innerlike mens as jy in jou lewe geheel op eie kragte wil vaar.

Slegs waar jy bereid is om af te sien van jouself en jou eie verlangens, kan Christus sy intrek neem.

En onthou, as Hy in jou kom woon dan rig hy die woning in met geestelike goedere.

Dan is daar sake wat weggedoen moet word. Dan is die ou bewoners van jou hart nie meer welkom nie. Die ou bewoners is 'n gees van eiewysheid, selfgenoegsaamheid, egoisme, materialisme en noem maar op. Almal sake wat in ons lewe so gemaklik kan oorneem.

Maar daarmee moet weggedoen word as Christus die woning van die hart betrek. Want ons dink miskien dat ons kan saamlewe met 'n klomp sondes, maar Christus kan nie.

Hy wil in ons kom woon. Hy soek plek in ons hart.

Eintlik is dit 'n pragtige beeld dat Christus in ons wil woon.

Hy is nie 'n God verweg in die hemel nie. Ons hoef nie verskriklike inspannings te lewer om Hom by ons lewe te betrek nie. Nee Hy kom sommer self. Hy woon in os.

Hy is steeds daar. Ons kan met Hom direk kommunikeer.

En van sy kant kan ons nog iets meld.

Ons het in die eerste punt gepraat van die rykdom van sy heerlikheid.

As Christus werklik in ons harte kom woon, dan sal jy sien dan openbaar Hy van sy heerlikheid in ons hart.

Dan begin daar uit ons lewe die glans van die heerlikheid van God straal.

Dit kannie anders nie. En dit sal definitief ook opgemerk word deur ander mense. Want uit 'n lewe waarin God se heerlikheid straal, ontvang die Here weer eer. Dan word ons lewe inderdaad soos Paulus in hierdie brief steeds weer as doelstelling noem: 'n Lewe tot lof van sy heerlikheid!

Ook hier wil ons tenslotte vra: Hoe werk dit prakties dat Christus in ons kan woon?

Paulus gee in ons teks die antwoord: deur die geloof!

Daarom gaan dit alles.

Dit gaan nie in die eerste plek daaroor dat ons Christus in ons hart voel nie, maar ons moet begin om in geloof sy aanwesigheid te erken.

Hy het beloof om in ons harte te woon.

Hierdie belofte moet ons in geloof aanvaar.

En as ons dit doen, dan woon Hy daar.

Christus leef in My! Dit mag alleeen 'n gelowige sê.

Immers slegs deur die geloof kan Christus in jou lewe.

En in die geloof hou jy dan ook voordurend rekening met die aanwesigheid van die inwonende Christus.

Hierdie Christus wat in jou woon neem jy saam as jy werk toe gaan.

Hierdie Christus gaan met jou saam as jy 'n aand in die stad uitgaan.

Christus is by jou as jy met jou meisie alleen is en jul bloed bruis.

Om gelowig te reken met Jesus Christus in alles wat jy doen, dit is die inwoning van Christus in jou.

Nogmaals, Paulus weet waarvan hy praat.

Christus het in hom geleef. Christus het sy innerlike mens bepaal.

En daarom kon hy veel teëslag vir die uiterlike mens verduur.

Hy het hom laat versterk deur die krag van die Gees.

En toe kon hy bly wees waar uiterlik rede tot moedeloosheid was.

Toe kon hy sing waar uiterlik rede tot klagtes was.

Toe was hy dankbaar vir die openbaring van die heerlikheid van God in sy lewe.

Want hoewel sy uiterlike mens steeds meer verval het, is sy innerlike mens dag na dag vernuwe.

Tot lof van God!

Vader, Seun en Heilige Gees!

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)