Die huwelik is nie alles nie

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Korinthiërs 7
Preek Inhoud: 

Huweliksbevestiging Mendelt en Lettie 3 April 1993

Ps 147: 1, 2
Ps 147: 4
Skb 30: 1-6
Ps 121: 1, 2
Ps 121: 3, 4
Lees: 1 Kor 7: 1-9 + 25-35
Teks: 1 Kor 7: 29, 30

Bruid en bruidegom, familie en vriende,

Moontlik het u met 'n bietjie verbasing na vanmiddag se Skriflesing uit 1 Kor 7 geluister.

Ons kan die boodskap daarvan so saamvat: Wie trou doen goed, wie nie trou nie, doen beter (vs 38).

Dit klink na 'n baie snaakse boodskap.

Wie die Bybel 'n bietjie ken, weet tog dat die Bybel altyd baie positief oor die huwelik is. As ons b. v. die O.T. boek Hooglied lees, ontdek ons dat met groot verwagting en intense vreugde die liggaamlike omgang van bruidegom en bruid beskryf word.

Hoe kan dieselfde Bybel dinge beweer soos Paulus hier doen?

Wie trou doen goed, maar wie nie trou nie doen beter.

Hoe dit ook al mag wees, in elk geval lyk dit op 'n troudag nie baie passend om uit 1 Kor 7 te lees nie.

Daar word na ons gevoel veels te relativerend oor die huwelik gepraat.

Maar tog is dit presies die bedoeling van Paulus hier.

Wat hy wil sê is dit: Die huwelik is werklik nie alles nie.

Moontlik is dit juis op 'n troudag 'n geskikte boodskap om oor na te dink.

Dit is dan ook ons tema vir die preek van vanmiddag:

Die huwelik is nie alles nie

Dit is

  1. 'n nugtere boodskap
  2. 'n troosryke boodskap

Kom ons kyk 'n bietjie na hierdie Bybelhoofstuk. 1 Kor 7.

Wat bring Paulus eintlik daartoe om so (vir ons gevoel) merkwaardige dinge oor die huwelik kwyt te raak?

Korinte is 'n groot stad in Griekeland.

Paulus het daar ongeveer een en 'n halwe jaar gewerk as sendeling. In die tyd het 'n behoorlike gemeente van Christus in die stad ontstaan.

Maar daarna moes Paulus weer weg. U kan voorstel dat daarna binne die gemeente nog baie vrae gerys het oor die praktiese implikasies van die evangelie van Jesus Christus.

Hulle het die boodskap van redding aanvaar, maar hoe nou verder?

Dan besluit hulle om vir Paulus 'n lang brief te stuur waarin hulle hom 'n klomp vrae voorlê.

In ons hoofstuk is hy besig met beantwoording van hul vrae oor die huwelik.

Ons kan ons voorstel dat op die punt baie vrae opgekom het.

'n Groot aantal gemeentelede wat tot geloof gekom het was voor die tyd reeds getroud.

Nou dat hulle tot geloof gekom het, het hulle hul afgevra of hulle nog wel getroud kon bly. Die vraag was natuurlik ekstra dringend wanneer die ander party hom nie by die gemeente aangesluit het nie.

Dan kom die vraag op: is so'n huwelik eintlik wel geldig?

Mag dit eintlik wel om as gelowige getroud te bly met 'n ongelowige?

Weer ander het beweer: as jy by Jesus Christus behoort dan het jy klaar 'n verbinding vir jou lewe aangegaan, dan mag jy glad nie meer trou nie. Boonop is die huwelik 'n saak wat veel te doen het met bevrediging van liggaamlike verlangens en 'n christen behoort daarbo te staan. As christen mag jy glad nie wil trou nie. En as jy al klaar getroud is moet jy maar van die man of vrou ontslae raak.

Blykbaar het die gevoelens oor hierdie saak nogal hoog opgeloop in die gemeente. Dis hoekom hulle aan Paulus geskryf het.

Wat sal hy sê?

Sal hy hulle gelyk gee wat sê: Die huwelik is 'n saak van die liggaam, dit het niks met jou geloof te doen nie!?

Of sal hy hulle gelyk gee wat sê: As jy in Christus glo dan mag jy glad nie meer trou nie en die huwelike wat klaar gesluit was moet liewers ontbind word!?

Paulus begin sy antwoord met die groep wat beweer jy mag as christen glad nie trou nie.

Maar hy neem nie hul siening oor nie.

Hy sê nie, julle is reg, 'n christen behoort nie te trou nie.

Maar hy sê julle het 'n punt daar.

Dit is inderdaad 'n goeie ding om nie getroud te wees nie.

So skryf hy dan in vers 1: Dit is goed vir 'n man om sonder 'n vrou te lewe.

Hierdie algemene stelling werk hy onder andere in ons teks nader uit.

Ek bedoel dit broers, die tyd is min.

Watter tyd? Wel die tyd wat vir ons nog oorbly in hierdie wêreld.

Immers hy wat vir Christus gekies het, moet daarop reken dat hy deur daardie keuse in sy lewe kan swaarkry.

Mens weet nie wat kan gebeur nie met betrekking tot vervolging byvoorbeeld.

Soos maar dikwels in die geskiedenis van die christendom gebeur het.

Daar het situasies voorgekom dat jy as christen eenvoudig nie werk kan kry nie, omdat jy aktief is in 'n kerk.

Dan kan 'n mens voor 'n swaar dilemma kom. Want jy het mos 'n gesin waarvoor jy moet sorg.

Dan kan dit bitter moeilik wees om tog vir Christus te bly kies. Die woord van die Here Jesus: " Wie man of vrou bo My liefhet is My nie waardig nie", kan 'n loodswaar las word. Niemand kan die persoon beny wat regtig voor daardie keus te staan kom.

Dan is dit gemakliker om nie getroud te wees en enkel verantwoordelikheid vir jouself te dra.

Probeer Paulus nou om ons met hierdie boodskap die vreugde van vandag se huweliksluiting te ontneem?

Wil hy vandag se vreugde bederf?

Nee nie so nie. Maar dit is wel 'n baie nugtere woord. Want dit is mos die werklikheid.

Vir bruid en bruidegom is die troudag 'n uiters belangrike dag.

Julle het nou 'n keus vir die res van jul lewe gedoen.

Maar vergeet nie: die keuse van jou huweliksmaat is nie die allerbelangrikste keus van jou lewe nie.

Julle het altwee eerder 'n keuse gemaak wat veel ingrypender is.

Die keuse vir Jesus Christus.

En dit is 'n keuse wat ver bo hierdie aardse lewe uitgryp. As 'n christen is jy geroep om die diens van Christus in die middelpunt van jou lewe te stel.

Jy gaan lewe vir Hom.

Gelukkig is dit nie so dat julle deur jul troue hierdie keuse vir Christus weer ongedaan maak nie.

Maar wat wel kan gebeur is dat die een ding die ander in die pad staan.

Immers 'n man wat getroud is moet vir sy vrou sorg. En 'n vrou vir haar man.

So gaan dit in 'n huwelik. Dit is jul roeping as getroudes.

Maar jy kan in 'n huwelik so besig raak met mekaar, so in mekaar op gaan dat daar eintlik nie meer plek is vir die diens aan die Here nie. Dan gaan dinge verkeerd.

As jy getroud is wil jy natuurlik graag self 'n eie huis kry om in te woon. Op sig niks mee verkeerd. Dit is 'n heel wettige verlange. Maar ook hier kan dinge verkeerd gaan. Die eie huis kan so belangrik word dat jy alles daaraan opoffer. Jy het nie meer tyd of geld vir iets anders nie, want jou huis... jou huis.

Dit kan 'n afgod raak wat jou diens aan Christus in die pad staan.

In 'n huwelik kry 'n mens te make met allerhande aardse sorge.

Hulle vra tyd en aandag.

Dit kan vreugdevolle sake wees maar ook heel verdrietige.

Daar kan sorge kom van materiële aard.

Om as ongetroude van jou salaris te kan uitkom is een ding, maar om met twee daarvan te lewe kan bitter moeilik wees.

Kortom hierdie sorge wat kan kom kan so groot wees dat 'n mens daardeur sy blydskap as christen verloor.

En daarom waarsku Paulus ons vandag. Dink daarom, die huwelik is nie alles nie. Vir 'n gelowige mag die huwelik nie alles wees nie.

Immers die huwelik behoort by die sake van hierdie wêreld wat besig is om verby te gaan.

En ons moet leer om ons verwagting van die nuwe aarde wat Christus beloof het, hoër te stel as jou huwelik b. v.

En dit is glad nie gemaklik nie.

Dit vra 'n voortdurende besinning en stryd met jouself.

En dit sou Paulus sy mense graag bespaar.

Christene kan dit al klaar moeilik genoeg hê.

En daarom praat Paulus met 'n sekere reserwe oor die huwelik.

Hoor maar:

Van nouaf moet hulle wat getroud is, leef asof hulle nie getroud is nie.

Dit beteken natuurlik nie dat 'n man sy vrou maar kan verwaarloos nie.

Dat hy maar kan leef en werk asof daar by die huis nie 'n vrou is, wat vir hom wag nie.

Nee, Paulus doel hier op die probleem wat elke gelowige kan hê:

Dit is jou eerste taak om die Here te dien; om jou gawes en jou tyd vir Hom beskikbaar te hou. Maar as jy nou trou neem jy 'n klomp ander verpligtings op jou. Dan moet jy steeds jou aandag verdeel. En dit kan soms moeilik wees.

Hy adviseer die Korintiërs:

Die wat getroud is moet leef asof hulle nie getroud is nie.

Daarmee bedoel hy, die huwelik, watter goeie ding dit ook al is, as gelowige mag jy daarin nie heeltemal opgaan nie.

Jou huwelik en alles wat daarby behoort, mag nie alles vir jou wees nie.

Christus is mos reeds alles vir jou.

Ons uiteindelike lewensdoel lê verder as om hier op aarde gelukkig getroud te kan wees.

Ons is op pad na 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde.

2. dit is 'n troosryke woord

 

Is dit die enigste wat ons vanmiddag oor die huwelik te hore moet kry? So 'n nugtere, waarskuwende woord?

Nee tog nie.

'n Bietjie vroeër in hierdie hoofstuk sê die apostel: Elkeen het sy eie genadegawe van God, die een so, die ander weer 'n andere.

Daarmee bedoel hy dit: Of 'n mens nou getroud is, of dat jy ongetroud bly, in altwee gevalle mag jy dit sien as 'n gawe van God.

En oor 'n geskenk van die Here mag jy jou verbly.

As jy 'n lewensmaat vind, dan is dit 'n genadegawe van God.

Daarvoor moet jy Hom dank en daaroor mag jy jou verbly.

Laat hulle wat bly is, wees asof hulle nie bly is nie, sê Paulus.

Ons lewe gaan nie op in die blydskap oor die gewone dinge van die aardse lewe nie, maar daarom mag ons wel bly wees.

Die vreugde wat die Here ons in hierdie lewe wil gee, mag ons nie minag asof dit niks sou beteken nie.

Ook christenen mag dinge aankoop en dit gebruik.

Elke gawe is mos goed as dit met dankbaarheid aan God aanvaar word.

Dit geld heel duidelik vir die huwelik wat in die Here gesluit word.

Dit is 'n gawe van Hom. 'n Geskenk wat jy uit Sy hand mag aanvaar.

En daarom mag ons as bruilofsgaste ons vandag saam verheug met die bruidspaar omdat hulle mekaar gevind het.

Of beter nog: Ons mag bly wees omdat die Here hulle mekaar laat vind het.

Dat hulle van nou af aan saam die pad vorentoe kan loop.

Hulle mag voortaan saam die Here dien.

En saam uitsien na die koms van die dag van die Here.

Hierdie verwagting van die dag van die wederkoms van Christus is bepalend vir alles wat Paulus in hierdie hoofstuk oor die huwelik sê.

Wie uit daardie verwagting leef besef dat die huwelik nie die eind van al is nie.

Maar wie in daardie verwagting sy huwelik beleef kan hom op sy bruilof ekstra verbly.

Immers vandag se bruilof word eenmaal vervul in die groot Bruilofsfees. Die bruilof van die Lam van God.

Op 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde.

Dat jy saam daarnatoe kan lewe dit gee die glans aan 'n christelike huwelik.

As jy jou huwelik met die Here begin, dan mag jy dit ook tot sy lof voleindig.

Dit gaan nie vanself nie.

Dit is eerder 'n opdrag waaraan julle saam moet werk.

Nie 'n eenvoudige opdrag nie.

Maar wel 'n opdrag waaraan jy saam met die Here Jesus Christus kan begin.

Julle mag van nou af Hom saam dien.

En daarom mekaar saamneem op pad na die Jongste Dag.

Op daardie pad kan 'n huwelik ook baie ondersteuning gee.

Julle het mekaar mos as 'n genadegawe van God ontvang.

Buite die Here om is die huwelik 'n uiters riskante onderneming. Met tal van onvoorsienbare risikós.

Want wie sal sê of julle oor 'n aantal jare nog net so oor mekaar voel as nou?

'n Mens kan verander en boonop kom in 'n huwelik ook die minder mooi eienskappe van die man en die vrou aan die lig.

Dit kan jy nie meer wegsteek nie.

Dan kan julle mekaar nou en dan teë val

Maar daar is Een wat nie verander nie en wat nooit teëval nie.

Dit is die Here Jesus Christus.

Hy is altyd dieselfde.

En in Hom kan jy altyd weer 'n nuwe begin maak.

Solank julle jul saam aan Hom vasklamp, bly julle ook aan mekaar verbonde.

Onthou dit goed.

Die groot kragbron van 'n huwelik is die gesamentlike gebed.

As daar probleme is, bid saam.

Hou mekaar se hande vas en bring jul problemem voor die Here.

En verwag alles van Hom.

Gebruik die gebed in blye dae om te dank.

Gebruik dit in droewe dae om jou troos uit te put.

En hou daarby altyd die uiteindelike doel voor oë: Die koms van die Dag van Jesus Christus.

As 'n mens sy oog daarop bly rig, dan word die huwelik nie meer op en neer geslinger met die ups en downs van die aardse lewe nie.

Dit is mos dinge wat verbygaan.

Maar wat bly staan is die belofte van Jesus Christus, die koms van 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde.

Dan word vandag se bruilof vervul in die ewige vreugde van die bruilof van die Lam.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)