Die Heilige Gees maak ons tot geestelikes

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Korinthiërs 2
Preek Inhoud: 

PREEK OOR 1 KORINTHIëRS 2: 15

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps 92: 1, 2, 3
Wetslesing
Ps 92: 6, 7
Gebed
Skriflesing: 1 Korinth 1: 26-2: 16 (NAB)
SB 18: 3, 4
Prediking
SB 33: 1
Gebed
Kollekte
Ps 119: 6, 13, 14
Seën

Broeders en susters,

Ek het op hierdie Pinksterdag 'n teks gekies waarin dit dié keer nie gaan oor die feit van die uitstorting van die Heilige Gees nie. Ek het gereken: almal ken die feite soos dit in Handelinge 2 vertel word. Daarom wil ek vandag 'n keerspesiaal fokus op die effek van die koms van die Heilige Gees in die kerk.

Vanaf Pinkster het ons in die kerk almal geestlikes geword.

Nie net die dominees, die ouderlinge en die diakens nie. Nee, elke kerklidmaat mag homself 'n geestelike noem. Ons vorm saam die geestelikheid in die kerk waaroor die Heilige Gees uitgestort is.

U weet natuurlik: in ons spraakgebruik reserveer ons die woord geestelikheid vir die ampsdraers alleen. Boonop klink hierdie benaming vir ons taamlik Rooms.

In die Roomse, en ook in die Anglikaanse Kerk word die ampsdraers geestelikes genoem. Hierdie manne styg uit bo die gewone kerkvolk- dit is maar die eenvoudige leke; dit is die simpele sondaars wat vir hul saligheid geheel en al afhanklik is van die priester, die biskop, die Pous.

Want aan daardie besondere manne, die geestelikes, het God sy genade toevertrou om dit aan die eenvoudige leke uit te deel. Hulle is die spesiaal ingewydes in God se geheime. Hulle het die besondere genade van die Heilige Gees.

So dink die Roomses.

As die apostel Paulus in 1 Kor 2 egter skryf, broeders en susters, dat God aan ons geopenbaar het wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie - as hy skryf dat ons die Gees wat uit God is ontvang het, sodat ons kan weet God God uit genade aan ons geskenk het, dan dink die apostel nie net aan slegs 'n homself en die ander apostels nie, nie slegs aan paar spesiale mense in die kerk, die ampsdraers, spesiaal ingewydes nie. Met daardie "ons" bedoel hy regtig ons almal. Ons het almal ingewydes geword in God se heilsgeheime. Die Heilige Gees het ons almal tot geestelikes gemaak.

Dit is die rykdom in die kerk vanaf Pinkster.

Die Gees is aan die kerk gegee, uitgestort op alle vlees, soos Petrus in Jerusalem uit die profeet Joël aangehaal het: op jonk en oud, op seuns en dogters, selfs op diensknegte en diensmeisies. Die Gees wil in almal woon. Hy wil almal inwy in wat daar leef diep in God se hart, sodat almal daaroor kan saampraat. Ons almal het geestelikes geword.

Wat dit presies beteken, daaroor sal ek u vanoggend God se Woord bedien. Kom ek van my boodskap so saam:

DIE HEILIGE GEES MAAK ONS TOT GEESTELIKES

  1. DAARDEUR KAN ONS NOU ALLES DEURGROND
  2. DAARDEUR HET ONS SELF EGTER ONDEURGRONDELIK GEWORD.

1. Die woorde van ons teks, en ook die verse daaromheen, klink op die eerste gesig taamlik moeilik. Maar dit is die moeite werd om hulle op u te laat inwerk. Want in hierdie woorde word vir ons aangewys wat die unieke van die lewe in die kerk is.

Hier word aan ons aangewys hoeveel ryker die lewe in die kerk is as die lewe daarbuite. Ons oë word oopgemaak vir die indrukwekkende voorreg wat ons in die kerk mag geniet, maar waarvoor 'n mens ook alleen in die kerk 'n oog kan hê.

Want buite die kerk sien die mense daarvan niks nie. Hulle verstaan ook niks daarvan nie.

Immers, in gewone menseoë is die kerk 'n snaakse verskynsel. 'n Eienaardige versameling van mense wat hulleself presenteer as die volk van 'n gekruisigde Koning.

Die kerk bestaan nie uit 'n aparte kategorie mense wat tot een spesiale laag van die samelewing behoort nie.

Nee wat, sondags sien 'n mens 'n bonte versameling mense saamstroom, oud en jonk, ryk besigheidsmense en eenvoudige arbeiders, 'n deftige mevrou skuif sommer langs 'n swart huishulp in die bank, daar sit mense met wetenskaplike titels, maar ewegoed swakbegaafde persone....

En wat is dit wat hulle dryf om elke Sondag opnuut saam te kom? Wat besiel hulle om op 'n vrye dag in 'n warm en bedompige, of in die winter in 'n koue en kille kerk vir meer as 'n uur lank bymekaar te sit?

Dis hierdie een wonderlike verhaal wat hulle almal onomstootlik vir waar aanvaar: dat 'n sekere Jesus van Nasaret, wat in die begin van ons jaartelling gekruisig is op die heuwel Golgota effens buite Jerusalem, geglo moet word as die Redder van die hele wêreld.

Is dit nie 'n dwase boodskap nie? Moet 'n mens regtig glo dat die wêreld gered sal word deur die bloed van hierdie gekruisigde Koning, omdat Hy daarmee al ons sondes by God versoen? En dat almal wat nie in Hom wil glo nie, vir ewig verlore sal gaan?

Is dit nie 'n ongeloofwaardige geskiedenis nie: dat daardie Man wat aan daardie harde kruispaal sy lewe verloor het, vandag die Here van die heerlikheid is, dat Hy vandag op 'n troon êrens in die hemel sit en alle mag in die hemel en op die aarde het? Moet 'n mens dit regtig glo dat daardie Jesus vandag as Koning die leisels van die geskiedenis in sy hande het en oor almal se lot kan beskik?

In die kerk glo hulle dit egter so. Sondag op Sondag beheers hierdie boodskap hul eredienste. En regdeur die week beheers dit die gesprekke van die kerkmense, hul verkeer met mekaar maar ook met ander mense. Deur hierdie wete laat hulle hul in alles lei en hulle roep elkeen op om hulle daarin na te volg.

'n Buitestaander begryp niks hiervan nie. Hy kan slegs met 'n meewarige spotlaggie op ons neerkyk. Ons is in sy oë kortsigtige, onrealistiese mense.

Dis mos belaglik om vandag nog steeds te wil glo wat mense vroeër geglo het.

Wat maak 'n mens mos in vandag se chaotiese wêreld met sy telkens nuwe probleme met die ou boodskap van die Bybel?? Wat bereik 'n mens vandag daarmee om maar net in 'n kerkgebou te praat oor versoeningsbloed en genade van God?

Hoe kan jy nou van die jeug mondige wêreldburgers maak wat kan saamhelp om die groot probleme van die samelewing aan te pak en te help oplos, as hulle in die Katkisasie moet leer om woorde soos: "skuld en vergewing, versoening deur voldoening, regverdigmaking en heiligmaking" en so meer te spel en te begryp?

Het dit nie tyd geword dat die kerk hom gaan besighou met meer konkrete sake wat die gemoedere in vandag se wêreld besighou, soos die oorlogvraagstuk, die probleem van die rassevehoudinge, die verskil tussen ryk en arm...?

Dergelike kritiek op die kerk met sy prediking van Christus se kruis is al eeue oud, gemeente.

Paulus het reeds daarmee te make gekry toe hy sy eerste brief aan die Korinthiërs geskryf het.

En dit is 'n gevaarlike kritiek, want dit kan by ons in die kerk die saad van die twyfel saai. Is die kerk inderdaad nie 'n snaakse verskynsel nie, 'n eienaardige geselskap met 'n ongeloofwaardige boodskap?

Is dit wel so sinvol om in hierdie kerk openbare geloofsbelydenis te doen en "Ja" te sê teen daardie moeilike dinge soos genade en versoening?

Is die kerk inderdaad nie nogal wêreldvreemd nie?

Dog daardie twyfel wil die apostel Paulus by ons vir eens en vir altyd uitroei, broeders en susters.

Dink u ons is inderdaad 'n bietjie wêreldvreemd met ons geloof in die krag van Christus se kruis?

Ons is hoegenaamd nie! Ons boodskap is die mees aktuele en noodsaaklike boodskap vir almal in hierdie wêreld. Want ons is in staat om verder te kyk as die horison van hierdie wêreld.

Is die kerk 'n klomp kortsigtige mense? Glad nie!

Dit wat geen oog gesien en geen oor gehoor het nie in in die hart van g'n mens opgekom het nie- dit weet ons! Daarvan is ons op hoogte. Want die Gees van God

Self het ons daarvan op hoogte gebring.

Ons het heelwat voor op die ander mense van hierdie wêreld. Want ons het nie die gees van hierdie wêreld ontvang nie, die gees van benede wat jou ook slegs leer om te dink binne die grense van hier benede nie. Ons denke hou geen halt by die horison van hierdie wêreld nie. Maar ons het die Gees uit God ontvang, sodat ons kan weet wat God ons uit genade alles geskenk het. Die Heilige Gees van God het ons denke in beslag geneem en ons blikveld ontsaglik verruim.

Die Heilige Gees wat met die Woord van God Self na ons toe kom en terselfdertyd ons hart vir daardie Woord ontvanklik maak, maak ons soedoende tot ingewydes in die diepste geheime van God.

Die Gees wat Self alle dinge ondersoek, wat beter as wie ook al op hoogte is met die diepste gedagtes van God, lê daardie wêrelk vir ons oop. Hy laat ons diep deurdring in God se wêreld, ver agter ons beperkte menslike horison. Sodat ons kan deurgrond Wie en wat God is, wat Hy alles vir ons beteken.

Nee, dan raak ons nie ontslae van woorde soos: "sonde en skuld, genade en versoening, kruis en opstanding" nie. Maar hierdie woorde gee ons juis die juiste kyk op ons lewe in hierdie wêreld. Want die Heilige Gees leer ons om gelowig die hele lewe met die Gód van alle lewe in verband te bring. En dan leer ons insien wie ons inderwaarheid is: eiewyse, selfversekerde skepsels van hierdie God. Ons mog sy kinders wees maar ons het daardie voorreg versmaai en onsself in ons dwaasheid net soos God begin beskou.

Ons leer insien dat God so 'n hoogmoed nie ongestraf kon laat bly nie. Ons begin verstaan dat God as die regverdige en onveranderlike God die volste reg het om sy toorn voelbaar te maak hier op aarde. Sy vloek het oor die wêreld gekom en die mens is met magteloosheid geslaan om hom sy hoogmoed af te leer.

Ons weet dit. Daarom verbaas ons ons glad nie oor al die verdriet en ellende wat regdeur die eeue oor die mensheid uitgestort word nie. Siekes en epidemies, verkeersongelukke en vliegtuigrampe, aardbewings en hongersnode, ekonomiese krisis, oorloë en rewolusies.... Ons weet die oorsaak.

Ons voel God se slaande hand daarin.

Maar ons weet terselfdertyd van die krag van die kruis wat daar op Golgota gestaan het. Ons weet dat daar versoening met God bewerk is deur die bloed van God se eie Seun uit die hemel. Ons weet dat aan daardie kruispaal 'n nuwe lewe en 'n nuwe toekoms vir die aarde oopgemaak is, en dat elkeen wat glo in die

Christus daarin sal deel.

Ons kan verder as die wolke kyk, tot in die hemel waar daar 'n troon staan met daarop ons gekruisigde Koning, aan Wie nou alle mag in die hemel en op die aarde gegee is. Hierdie aarde is sy besit en in alle politieke verwarring berie Hy in alle rus die koms van God se Koninkryk voor.

Ons weet dat selfs dood en graf nie meer die einde van die menselewe vorm nie, maar dat ons lewe deur dood en graf heen 'n toekoms tot in ewigheid het.

Kyk, uit ons eie uit sou ons al hierdie dinge nie kon geweet het nie. Ons sou dit ook nie wou aanvaar het as ander dit aan ons sou voorgehou het nie.

Maar ons het die Gees van God ontvang, en Hy het ons as geestelikes ingewy.

Want slegs geestelike mense, mett die Heilige Gees vervulde mense, ontvang so 'n diepe insig en deursig.

Ons kan dit ongeestelike mense dan ook met die beste wil van die wêreld nie aanpraat nie, sê Paulus in 1 Kor 2. Want oor hierdie dinge kan 'n mens nie praat met woorde wat deur menslike wysheid geïnspireer is nie. Oortuigingskrag en logiese redeneerkuns skiet hier totaal en al tekort.

'n Preek bereik niks met slegs meeslepende woorde, met 'n boeiende wetenskaplike betoog of so iets nie. 'n Evangelisasiegesprek oortuig nie deur die oorredingskrag van die persoon nie.

Die Gees van God moet die werk doen.

Die Heilige Gees se eenvoudig in God se Woord: "So is dit, so moet jy dit aanvaar!"

En as dieselfde Gees dan 'n mens se hart vir hierdie woord oopsluit en hom ook tot 'n ingewyde maak, het hy aan daardie eenvoudige Woord genoeg. Dan gaan ook sy oë oop en kry hy 'n heeltemal ander kyk op die wêreld waarin hy leef en op die dinge om hom heen.

Die Heilige Gees trek 'n gelowige as 't ware omhoog tot op 'n hoë uitkyktoring vanwaaraf hy die hele lewe kan oorsien. Hy ontvang 'n uitsig en 'n insig waardeur hy alles kan deurgrond.

Dit is die groot voorreg wat ons in die kerk vanaf Pinkster ontvang het, gemeente. Ons kan met ander oë in hierdie wêreld rondkyk as die meeste ander mense. Ons het opgeskerpte oë. En daardeur 'n diep insig. Ons verstaan nou alles.

Nee, ek oordryf nie. So staan dit in ons teks: "die geestelike mens beoordeel alle dinge". 'n Geestelike kan oor alles 'n goeie oordeel vorm.

Ek weet, dit beteken nie dat ons vir alles kitsantwoorde en oplossings het nie. Die Bybel is nie 'n ensiklopedie, of 'n vraagbaak met 'n trefwoorderegister waarin ons op enige vraag dadelik die regte antwoord kan kry nie.

Ons sal nog steeds moet nadink, God se Woord moet oorpeins en die lyne wat daarin gewys word verder trek na vandag toe.

Maar God gee ons saam met sy Woord sy Gees. En die wat homself deur die Gees laat lei, kry op enige vraag 'n antwoord.

Ons hoef in die kerk met geen enkele vraag regtig vas te loop nie, broeders en susters. Nooit hoef daar 'n situasie te wees waarin ons nie meer uitsig het nie. Die Gees wys altyd die uitpad.

Het ons in die kerk 'n bekrompe kyk op die lewe?

Bestaan die kerk uit kortsigtige mense wat nie weet wat in die wêreld aangaan nie?

Glad nie! Ons in die kerk kan oor alle dinge sinvol saampraat. Ons in die kerk weet vir enige ding 'n antwoord. Ja, die eenvoudigste kerklidmaat deurgrond wat die slimste wetenskaplike nie raaksien nie, naamlik dit wat wel en dit wat nie belangrik is nie, dit wat reg en dit wat verkeerd is, dit wat waar en dit wat nie waar is.

Waar die grootkoppe van hierdie wêreld met angs en kommer vervul is, daar bly die gelowiges in alle rus op die sorg van hul hemelse Vader vertrou.

En andersom: waar die invloedryke mense van hierdie wêreld onbekommerd en ligsinnig vorentoe kyk, daar weet ons in die kerk dat dit nie goed sal afloop nie.

Maak nie saak of jy student of kneg, huisvrou of matrone, 'n wetenskaplike of 'n boer is nie- die Gees gee vir ons almal dieselfde insig in dit wat sonder Hom onverstaanbaar bly.

'n Uitsig tot in ewigheid.

2. Maar, broeders en susters, hierdie diepe insig in die dinge bring wel saam dat ons self vir ander mense ondeurgrondelik geword het.

Dit is die keersy van die medalje, waarvan ons teks ook praat.

"Die geestelike mens beoordeel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel. "

Dit beteken: hy val self buite almal se beoordeling. Ons kan deur die geloof alles na die regte waarde skat, daar is egter g'n mens wat ons ooit reg sal kan beoordeel en deurgrond nie.

Voor ons lê alle paaie oop- maar self bly ons 'n geslote boek vir almal wat nie geleer het om deur die Gees te lees nie.

Die mense wat slegs die gees van hierdie wêreld ontvang het, verstaan niks van ons nie. Hulle kán dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word: met ander woorde: omdat die Gees van God eers jou verstand daarvoor moet verlig.

As die Gees dit nie doen nie, bly 'n mens stekeblind. In daardie geval voel dit wat hulle in die kerk beweer en dit waarvoor hulle hul druk maak, pure dwaasheid vir jou.

Daar is die moeilike en pynlike sy aan hierdie saak, gemeente. Ons is in verskeie opsigte 'n raaisel vir die mense om ons heen. Hulle verstaan ons nie. Hulle verstaan nie dat ons so opgewonde raak oor hierdie boodskap nie. Hulle snap dit nie dat ons trane in ons oë kan kry as ons praat oor, of sing van ons getroue Saligmaker Jesus Christus en God se ontferming oor sondaars.

Hulle sien met verwondering dat ons tot in die kleinste besonderhede van die lewe die boodskap wat ons sondags hoor, probeer deurtrek en in praktyk bring.

Dis snaaks vir hulle dat ons soveel geld bestee aan die kerk se dinge, aan kerkskole vir ons kinders en aan sendingwerk. Hulle verbaas hulle daaroor dat ons bereid is om selfs 'n kerkstryd te stry as dit kom by die onvervalste bewaring van die suiwere leer.

Nou was dit nog tot daarnatoe as hulle net verbaas was daaroor, as hulle dit net snaaks sou vind.

Maar dit kan ook gebeur dat ons bespot en verag word omdat ons anders is.

Ons kan uitgestoot word en eenkant te staan kom.

Dit kan ons soms 'n gevoel van eensaamheid besorg. Dis mos nie lekker as die mense om jou heen jou en jou geloof nie verstaan nie en jy dit ook nie aan hulle kan duidelik maak wat jou besiel nie, aangesien die Heilige Gees hul harte gesluit hou vir die waarheid van God se Woord.

Moet egter nooit moedeloos daaronder word nie, broeders en susters, seuns en dogters.

Want in ons teks van vanoggend sê die apostel Paulus dit byna triomfantelik: dat ons vir almal ondeurgrondelik geword het!

Ons eensaamheid benadruk ons uitsonderlike posisie.

As die mense ons doen en late heltemaal misverstaan, as ons met jammerlike onkunde oor wat ons besiel, te make kry, as ons en ons lewensstyl bespot word en die mense ons belaglik maak - wat kan daarvan anders die rede wees as dat ons uitverkies is om ingewydes te mag wees in die geheime van God. En nie hulle nie!

Aan ons het die hoë eer te beurt geval dat God se eie Gees in ons kom woon het. En nie aan hulle nie!

Almal wat ons as beklaenswaardige en bekrompe skepsels beskou, is juis selfs die beklaenswaardigste.

Want kyk 'n bietjie hoe groot die kloof geword het tussen hulle en ons, noudat die Heilige Gees ons in God se wêreld ingetrek het.

"Die wat die Evangelie van Christus se kruis 'n dwaasheid noem, gaan verlóre" het Paulus in hoofstuk 1: 18 geskrywe.

Die wat ons en ons geloof nie kan volg, het agtergeraak en sal, as God Hom nie ook eendag oor hulle ontferm nie, verlore gaan.

Laat daardie huiweringwekkende wete u verwondering maar des te groter maak oor die voorreg van die Heilige Gees wat ons ontvang het.

Ons is nie agterlik nie. Hulle is. Ons is juis die mees progressiewe mense van die hele wêreld. Ons is onder die leiding van God se eie Gees op pad na 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)