Die kinders van die belofte kry 'n plek in God se planne!

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Romeine 9
Preek Inhoud: 

12-07-92

ROMEINE 9 : 10-13

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 78 : 1, 2
Wetslesing
Sing: Ps. 78 : 3, 4
Skriflesing: Romeine 9 : 1-13, Genesis 25 : 19-28, Maleagi 1 : 1-5
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 105 : 1, 2, 3, 4
Tekslesing: Romeine 9 : 10-13
Prediking
Sing: SB. 24 : 2
Dankgebed
Sing: Ps. 119 : 62, 63
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

die mees opvallende woorde in ons teks is: "Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat". Dit is woorde wat jou seer kan maak, wanneer jy sien hoe die een God se liefde en die ander sy afwysing deelagtig word. Dit lyk asof mense deur God verskillend behandel word, terwyl die mense nie so verskillend is dat dit 'n verskillende bestemming sou regverdig nie. Almal is tog sondaars en in hul ellende verlore? Waarin is hy anders as ek?

Ek wil graag die gedeeltes uit die NT wat oor Esau en Jakob praat, met u lees. Ons begin vandag met Rom. 9 en vervolg op die volgende Sondae - as die Here wil - met 'n gedeelte uit Hebr. 11 (vs. 20) en 12 (vs. 16-17).

Dit gaan dus oor twee kinders uit een gesin, twee kinders wat binne die verbond van die HERE gebore is. Dit is twee kinders wat totaal verskillende paaie loop. Hoe dikwels sien ouers nie dat kinders wat dieselfde opvoeding geniet het, verskillende weë kies nie?! Lê agter hulle keuses dan tog 'n verskillende bedoeling wat God met hulle het? Praat hierdie teks van verkiesing of verwerping wat dan die agtergrond van die uitkoms van 'n mens se lewe is? Ons kan beter sê: dit is twee broers met wie die HERE twee verskillende paaie loop.

Ons vra eers: wat is Paulus se aanleiding om oor die tweeling van Isak en Rebekka te praat? In hoofstuk 9 (-11) begin hy om verder oor die ou volk Israel te praat. Noudat God se ou volk Jesus, die Messias verwerp het, is nou vir dié volk alles verby? Hulle het so baie gehad: vs. 4-5! Kan dit sommer verlore gaan? Kom God op sy beloftes terug? Nee, sê die apostel. Dit was mos lankal so dat nie elke afstammeling van Abraham ook werklik in die geloof 'n kind van ou Abraham was nie. Nou gaan dit egter nie oor enkele mense nie. Dit gaan oor dele van God se volk. Nie die gehele volk is altyd gered nie. 'n Res, "net 'n handjievol wat oorbly" sal gered word, sê Paulus is vs. 27. Die vraag vir jou is: by welke deel behoort ek? Die een volk het dus altyd kleiner geword. Nie die hele gesin van Abraham was die uitgangspunt vir die nageslag nie, maar net die nageslag van Isak. Ismael, Esau moes buite dié planne van God bly staan.

Ek predik die Woord van God vir u soos volg:

DIE KINDERS VAN DIE BELOFTE KRY 'N PLEK IN GOD SE PLANNE!

God se planne word

  1. bepaal deur sy keuse,
  2. sigbaar in sy dade,
  3. uitgespreek in sy roep.

1. GOD SE PLANNE WORD BEPAAL DEUR SY KEUSE (vs. 10-12 + Gen. 25)

Nie die hele Israel, nie al Abraham se kinders is gereken as kinders wat deel aan God se beloftes het nie. Ja, almal mog deel van die verbond van die HERE wees. Nie elkeen het egter in sy lewe gewys dat hy die beloftes aanvaar nie. Die geloof: dit was vir die volk altyd al die sleutel tot 'n blywende plek in die verbond, die houvas aan die HERE. "In Isak sal jou nageslag genoem word", omdat hierdie kind uit geloof gebore is (vgl. Hebr. 11:11). Nou maak Paulus egter duidelik dat dit nou nie so is asof elke nakomeling van Isak wel automaties 'n kind van die belofte is nie. En daarmee begin ons teks.

Nie alleen die twee kinders van Abraham en Sara het 'n verskillende plek in God se planne gekry. Daar was al iets anders aan elkeen se geboorte. Ismael was volgens die beplanning van Sara en Abraham verwek, maar Isak deur die blote wonder van God. Daar is nog 'n sterkere voorbeeld dat nie iets van die kinders verskil maak nie, maar dat dit die HERE is wat verskil gemaak het. Want "ook Rebekka was swanger (net soos Sara, maar sy) uit een (man), naamlik Isak ons vader". Een moeder, een swangerskap; een vader, een daad van verwekking. Dit is beslis 'n ander situasie as in Abraham se tent. Sara wou eers kinders vir haarself uit haar slawin probeer kry. Abraham het toegestem en so 'n seun "van die vlees" (dit is: wat deur homself verwek is) gekry, nl. Ismael (vs. 8). Kyk, hierdie twee broers, Esau en Jakob, was dieselfde! Dit is 'n tweeling! By hulle kan jy nie sê: die een was uit die vlees, die ander volgens die belofte verwek nie. Want hierdie tweeling is uit een swangerskap gebore wat op die gebed van die een egpaar ontvang is.

"Want toe (vervolg vers 11) die kinders nog nie eers gebore was nie ...", toe al het God sy planne wat Hy met elk van altwee gehad het, bekend gemaak. Ek praat bewus vanmôre van die planne van die HERE. Paulus druk homself bewus so uit: "die voorneme van God volgens die verkiesing". Ek wil u gedagtes 'n bietjie weglei van die woord "uitverkiesing" na die woord "voorneme" toe. Die NAB vertaal so: "Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing". Dit is te sterk met dogmatiese woorde uitgedruk (asof dit hier in die eerste plek oor die uitverkiesing tot saligheid sou gaan). God se voorneme: dit staan voorop. 'n Plan wat Hy eers vir Rebekka gesê het. Ja, dit is 'n sekere plan, 'n besluit: sy hoef nie daaraan te twyfel nie. Die plan het ook 'n aspek van 'n keuse, van verkiesing. God het sy keuses in sy planne vasgelê.

Om watter keuses, watter planne gaan dit? Dit gaan nie oor die uitverkiesing tot saligheid van een van die twee broers, asof die HERE ons sou laat weet dat Hy Esau verwerp en Jakob tot die saligheid verkies het nie. Paulus wys na die swangerskap van Rebekka. Ons het Gen. 25 gelees: hoe Rebekka gevoel het dat die tweeling in haar skoot teen mekaar gestamp het (blykbaar heftig en aanhoudend). Sy het vir die HERE gevra wat dit moes beteken. Toe het die HERE vir haar gesê: "Daar is twee nasies in jou, twee volke uit jou sal van mekaar geskei word" (Gen. 25:23). Eers daarna sê die HERE die woorde wat Paulus aanhaal: "Een sal sterker wees as die ander, die oudste sal die jongste dien". Die HERE praat oor die ongebore tweeling as die vaders van twee volke: tweelingvolke, soos Israel en Edom geword het! die HERE het 'n plan met hulle gehad, 'n plan vir die toekoms. Dit is hoekom ek eers oor die voorneme van God praat: sy plan wat Hy al gehad het voordat hulle gebore was.

Ja, God het al gekies om so te handel "toe die kinders nog geen goed en nie kwaad gedoen het nie ...". Toe alreeds is vir Rebekka gesê: Die oudste sal die jongste dien" (vs. 12). God se planne, sy keuses is beslis nie afhanklik van die goeie of bose dade van Esau en Jakob in hul latere lewe nie. So word hierdie Bybelteks ook in ons belydenis genoem. Lees DL I 10: net hierdie element uit die teks word toegepas, naamlik dat God in sy verkiesing nie van die dade van mense uitgaan nie. God se planne is bepaal deur sy keuses.

Dit hang nie van ons af watter doel die HERE met mense het nie. Watter doele is dit nou presies? Dit kom ons duideliker agter in die tweede gedagte:

2. GOD SE PLANNE WORD SIGBAAR IN SY DADE (vs. 13 + Mal. 1:2-3)

Want nou kyk ons spesiaal na die woorde van vs. 13: "Soos geskrywe is: vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat". Dié woorde het die HERE egter nie voor die geboorte en nie tot Rebekka en Isak uitgespreek nie. Baie later, eeue later het die HERE dit deur middel van die profeet Maleagi gesê. Ja, die liefhê en die haat van die HERE wat hier genoem is, het in sy dade uitgekom. Want Maleagi was profeet in die jare waarin Israel uit die ballingskap mog terugkeer: 'n daad van liefde. In daardie jare het die HERE ook 'n oordeel aan Edom voltrek. Die broedervolk Edom het die strawwende hand, die toorn en die haat van die HERE gevoel. Die HERE sê deur Maleagi: "Ek het sy bergland 'n verlate plek gemaak, sy woongebied vir die woestynjakkalse gegee" (1:3). Selfs as Edom oorweeg om die stede weer op te bou, sal dit nie uitwerk nie. "Hulle sal bekend staan as die goddelose land, die volk op wie die HERE se toorn vir altyd rus" (1:4).

Israel het homself in die dae van Maleagi, so 'n rukkie na die terugkeer uit die ballingskap veronreg gevoel. "Ek het julle lief", sê die HERE. Israel vra egter: "Hoe het U ons lief?". Dan antwoord hulle God: "Esau was tog Jakob se broer? En tog het Ek vir Jakob liefgehad en vir Esau gehaat" (1:2). Dit is nie woorde wat soos 'n voorsegging alreeds voor hulle geboorte gesê is nie. Dit is wat die HERE agteraf sê, wanneer Edom die toorn, die haat van God verdien het. God se planne word sigbaar in sy dade: die terugkeer wat Jakob mag geniet (Israel) én die verwoesting wat Esau (Edom) moes ondergaan. Esau is nie 'n kind van die belofte nie, eers omdat dit nie die volk sou wees waarmee die HERE sy verbond wou sluit nie. Dan ook, omdat die volk nie uit geloof en nederigheid ondergeskik aan Israel wou wees nie. Die broedervolk het homself altyd teen Israel gekeer. Ons onthou hoe in Joël 3:19 Edom gedreig en tot "'n onbewoonbare woestyn" gemaak word.

Dit gaan in Rom. 9 dus nie in die eerste plek oor verkiesing en verwerping van afsonderlike mense nie. Tussen Esau en Jakob het die HERE 'n keuse gemaak, sodat die een vooraan in die planne van God sou staan. Later, in die geskiedenis het uitgekom dat nie Esau in God se ontferming gedeel het nie. Toe was daar die twee verskillende volke. Die HERE het net die volk van Jakob naby Hom gehou en elke keer opnuut na sy genade teruggeroep. Dit noem Paulus as 'n bewys daarvoor dat nie die hele Israel "kinders van die belofte" is nie. God het tussen Esau en Jakob gekies.

Wat maak ons nou hiermee? Ons het mos altyd geglo dat elkeen wat uit gelowige ouers gebore is, daarmee deel aan God se beloftes het? Elke kind mag gedoop word en elke gedoopte kind mag tog die beloftes werklik ontvang? Maak die verkiesing ons nou tog oor ons kinders onseker?

Kyk, hier gaan dit oor God se keuse van die een waaruit die volk gebore sou word. Jakob is bo Esau verkies. Nou het egter Christus gekom! Uit Jakob het na eeue die Verlosser gekom. Hy is die basis van die verbond van God se liefde en genade. Dit beteken: God se verbond het baie breër geword. Dis vir jou en jou kinders. So mag ons ná Jakob van "kinders van die belofte" praat.

Daar is egter wel 'n verskil of die kind die belofte nou ook saamdra in sy lewe. Die sleutel van die geloof word jou op die pad van die Here Jesus in hande gegee. Sal jy die sleutel gebruik? Want daar is kinders wat binne die verbond gebore is, maar tog nie meer by dié volk gereken sal word nie. Nee, die HERE kom tot ons nie met 'n woord soos tot Rebekka nie. Hy maak vir jou kinders nie verskillende planne bekend nie. Vir jou om aan jou kinders te vertel is daar die een groot plan: dat God elkeen 'n plek wil gee, elkeen volgens die gawes wat God aan hom of haar gegee het.

3. GOD SE PLANNE IS UITGESPREEK IN SY ROEP (vs. 11c)

Nou moet ons nog na die een gedeelte uit vs. 11 luister wat 'n tussensin is. Oor "die voorneme van God ... nie uit werke nie, maar uit Hom wat roep". Die NAB het die tussesin uitgehaal en na die einde, na vs. 13 verskuif.

Want, gaan die hele teks nou glad nie oor uitverkiesing nie? Dit is tog wat ons altyd geglo het? Ja, die uitverkiesing speel ook baie beslis 'n rol. Nou eers kan ons egter sien watter plek die uitverkiesing in ons teks inneem. 1. God se planne word bepaal deur sy keuse; 2. God se planne word sigbaar in sy dade van seën en straf. Hoe weet jy en wanneer mag jy sien of jy by die volk van sy verkiesing behoort? Dit mag weet en dit kan jy sien, wanneer jy Hom hoor roep.

Paulus noem hierdie kenmerk van God se plan, sy keuse: dit is "nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep" (vs. 11c). Jakob het nie besondere kwaliteite gehad wat hom bo sy ouer broer Esau sou verhef nie. Dit is maar net dat die HERE Hom gekies het en hom sy liefde in dade bewys het. Die doel, sy roeping was: om vader van die volk van God te wees, die belofte te glo. Jakob het 'n roeping gekry wat hom bo sy ouer broer verhef het. Dit was sy uitverkiesing: die taak wat Hy in God se planne gekry het, waarvoor Hy gekies is al voordat hy gebore is en los van enige goeie daad van homself. So het die verbond rondom 'n hele volk wat die pad van die geloof mog loop, gekom.

Die Bybel sê nie dat Esau van ewigheid verwerp is en dat hy dus nooit van God 'n kans gekry het nie. Nee, Esau is agtergestel by Jakob met die opdrag "om sy jonger broer diensbaar te wees". As hy dit sou aanvaar het, sou hy ook in die seën van die verbond mog gedeel het. Hy was in die verbond gebore, in die gesin met die groot beloftes, hy is ook besnede met die "teken van die geregtigheid van die geloof". Ja, hy het minder seën van die HERE ontvang. Hy moes egter bereid wees om die mindere te wees. Die ou broedervolk Esau is op grond van die afstamming van vader Isak altyd deur die HERE spesiaal behandel. Aan die begin van die intog in die beloofde land mog Israel Edom nie verower nie (Num. 20 :14-21). Edom is nie verwerp nie, maar het wel sy agterstelling nie kon verwerk nie. Die vyandskap teen Israel het die haat van die HERE opgeroep. Dit het Hy in strawwe gewys.

Dit gaan dus hier in Rom. 9:10-13 nie in die eerste plek oor enkele mense waarvan God die een sou verkies en die ander verwerp nie. Dit gaan vir Paulus hierom: watter kanse het my broedervolk Israel nog?! Die antwoord is: uit geloof in die roeping van God het hulle altyd kanse. Die vraag vir jou is: behoort ek by daardie volk? Ja, wanneer ek in geloof graag 'n kind van dié volk wil wees. Dan hoor ook jy die Here roep! En jy hoor die stem van Jesus! Wees maar bly dat Hy eers roep en nie eers wag vir watter dade van geloof of ongeloof jy Hom sal wys nie. Onthou uit die voorgeskiedenis van Jakob en Esau dit: dat God se keuse vir jou eers in die verbond van genade in Jesus Christus gesien mag word. Die belofte van vergewing van jou sondes en 'n waardevolle lewe, van 'n konkrete plek in God se planne vandag: dit is wat jy mag glo en waarin die Here jou elke keer opnuut wil terugroep. Hy stel jou by niemand in sy genade agter nie. Jy is nie soos Esau nie. Wees dan ook nie onverskillig soos Esau nie.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)