Ons het die sekerheid dat ons op pad is na die heerlikheid

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Romeine 8
Preek Inhoud: 

PREEK OOR ROMEINE 8: 28-30

LITURGIE:
L. Rom. 8: 14-39
Ps. 16: 1, 3, 5
Ps. 16: 2
Ps. 33: 6, 10, 11
Ps. 73: 10
Ps. 73: 11, 12

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons teks vir vanaand wil by ons 'n lied losmaak.

Hierdie verse vorm mos die voorspel en inleiding op diè bekende lied waarmee die apostel Paulus die 8ste hoofstuk van sy brief aan die Romeine afsluit. Diè bekende lied van die geloof:

"As God vìr ons is, wie kan teen ons wees?
Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?
Wie sal ons skei van die liefde van Christus?
Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge, of hoogte of diepte of enig ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie!"

Dis nie die bedoeling dat ons in hierdie kerkdiens vir 'n uurtjie onsself met hierdie lied van Paulus uittel bo alle moeie en sorg, verdriet en spanning waarvan ons lewe so vol is nie. Ons het nie hier in die kerk saamgekom om in 'n spesiale sfeer 'n oomblik alles te vergeet en weg te droom in ideale wat ver afstaan van die werklikheid waarin ons daagliks leef nie.

Want daarvoor het Paulus sy lied nie geskrywe nie. Die geloofspsalm aan die slot van Romeine 8 het nie die bedoeling om ons vir 'n oomblik uit die dikwels maar moeilike realiteit van die lewe van elke dag weg te haal nie. Maar hierdie psalm moet juis gesing word midde in daardie moeilike lewe vol lyding waarmee God se kinders dag in dag uit, jaar in, jaar uit te make het. Paulus het in sy voorspel op hierdie psalm op geen enkele manier probeer kamoefleer dat die lyding ons in hierdie lewe nie bespaar bly nie. Hy praat reguit oor die lyding van die teenwoordige tyd en oor die vloek wat nog oor die skepping lê. Paulus het dit uit eie ondervinding geweet: hierdie skepping is aan die nietigheid, vrugteloosheid, onderworpe. Dit sug en is in barensnood. En nie alleen dit nie, maar ook onsself sug dikwels. Ons weet partymaal nie eers meer reg wat ons moet bid nie.

Maar midde-in hierdie moeitevolle lewe, waarin baie gesug word, leer die apostel ons om tog 'n lied te sing waaraan ons onsself mag optrek. Omdat ons temidde van alles wat onseker is, hierdie een sekerheid mag hê: "Ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk".

Dit mag dan 'n sware weg wees wat ons moet gaan, jaar in jaar uit, dis nogtans 'n veilige weg. God is met ons op pad, deur lyding heen, na die heerlikheid toe.

Ek mag u verkondig:

ONS HET DIE SEKERHEID DAT ONS OP PAD IS NA DIE HEERLIKHEID.

Want ons toekomstige heerlikheid

  1. IS IN GOD SE SEUN GEGARANDEER
  2. IS IN GOD SE RAAD VERORDINEER
  3. WORD IN GOD SE KERK GEPRESENTEER.

1. Die taal van ons teksverse is by eerste lesing taamlik moeilik, broeders en susters. Veral die verse 29 en 30.

En daarom is dit ook nie direk vir elkeen duidelik wat die apostel hier presies wil sê nie. Hierdie 'n bietjie swaar sinne stoot eerder af as wat hulle aantrek.

Tog sê Paulus ontsaglik veel in hierdie verse. Ons teks vorm die hoogtepunt van die inleiding op die lied wat die apostel nou-nou sal aanhef. Hy kom tot die klimaks van sy betoog en dis hoekom die woorde as 't ware oor mekaar begin rol.

Want hy mag vir ons wys watter doel God aan ons lewe gegee het. Hoeveel lyding die apostel ook al gesien en self ondervind het, hy mag ons die sekerheid gee dat God vir sy kinders alles ten goede laat meewerk. God het hierdie groot doel met ons: ons sal eendag "gelykvormig wees aan die beeld van sy Seun".

Weet u waaraan Paulus dink, gemeente, as hy dit so skryf? Hy dink aan ons Here Jesus Christus soos Hy op die Paasmôre uit die gaf opgestaan het.

Drie dae was Hy dood en al die jare daarvoor was sy lewe 'n voortdurende sterwe. Hy was gebore om te sterwe, soos ons almal dit is. Daarin het die Here Christus in alles aan ons, sy broers en susters, gelyk geword. Ook Hy het ervaar hoe hierdie skepping sug omdat dit aan die verydeling onderworpe is. Die vloek van God oor die menselewe het Hy gevoel, erger as wat ons almal saam dit kan voel. En Hyself het ook gesug onder die las van daardie gevloekte lewe. Hy het ons lewe vol lyding volop gedeel. Daarvoor het Hy in die wêreld gekom.

Maar op die Paasmôre het dit alles àgter Hom gelê. Toe Hy uit die grafdoeke losgebreek en die grafsteen laat wegrol het, was Hy alle ellende vir altyd te bowe. Die dood het sy greep op Hom verloor. Alle verwoestende kragte wat die lewe afbreek, was deur Hom vir eens en vir altyd oorwin. Sy vernederde liggaam het 'n verheerlikte liggaam geword. En Hy mog nou na Vader toe gaan, tot voor sy troon kom, ja, aan Vader se regterhand op die troon sit.

Maar hierdie verheerlikte Christus wat op Pase alle lyding agter Hom gelaat het, het nog op dieselfde Paasmôre na òns, sy broers en susters, gevra! Hy wat ons nou 'n lewe vooruit was, het ons nogtans nie losgelaat nie, maar Hy het ons juis opgesoek. Om ons in sy oorwinning te laat deel. Sy oorwinning op die sonde en die dood moes die begin van ons oorwinning op die sonde en die dood word. Sy verheerliking moes ook ons verheerliking as gevolg kry. Hy het eerste in alles aan ons gelyk geword, nou moet ons in alles aan Hom gelyk word: sonder sonde en vry van die vloek oor die sonde. Ja, Hy wou die eersgeborene wees onder baie broeders en susters.

Dit wil die apostel Paulus in hierdie hoofstuk vir ons duidelik maak, broeders en susters. Ons mag in 'n lewe waarin die vloek nog daeliks voelbaar is, nie uit die oog verloor waarnatoe ons nogtans op pad is nie. Die heerlikheid van ons Heiland soos dit op die dag van sy opstanding sigbaar geword het, vorm die garansie, die waarborg, dat ook ons eendag in daardie heerlikheid sal deel.

Voordat Paulus meer uitvoerig oor die lyding in ons lewe gaan skryf het, het hy alreeds oor daardie heerlikheid wat aan kom is, geskrywe. Kyk vs. 17: wie kind van God mag wees, danksy die offer van God se Seun vir ons sondes, is nou ook erfgenaam van God, en dit beteken: mede-erfgenaam van Christus. En as ons saam met Christus erfgename is, het ons nie net deel aan sy lyding nie, maar ook aan sy heerlikheid. Dan kom daar ook vir ons die dag waarop alle lyding vir goed agter ons lê en ons vernederde liggame aan die verheerlikte liggaam van Christus gelyk gemaak sal wees.

En by hierdie sekerheid kom die apostel weer tereg nadat hy onder die oë het gesien hoe swaar die lyding van die teenwoordige tyd wel kan weeg. Paulus het geweet hoedat 'n mens onder diè las kan swaarkry, soseer dat ook 'n kind van die Here soms nie meer weet hoe om te bid nie.

Maar nogtans het hy met 'n groot stelligheid durf skrywe: "Ek reken (as ons meer letterlik vertaal, staan daar eintlik: ) ek is seker daarvan dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie". Hoe ellendig die lewe nou ook al mag wees- die heerlikheid wat aan kom is sal dit alles eendag definitief wegvee. Ons Broeder Christus in die heerlikheid van hemel garandeer dit. Soos Hy deur die dood heen gekom het so sal God ons daar deur heen bring. Soos Hy 'n weg vol lyding gegaan het om in die heerlikheid te eindig so mag ons langs 'n weg vol ellende op die ou end met Hom in die heerlikheid deel. Die pad waarop God ons saamneem, is nie 'n doodloopstraat nie. Dit loop juis uit op die ewige lewe en die ewige vreugde.

"Ons weet dit", skryf die apostel in vs. 28 van ons teksverse opnuut met 'n rustige sekerheid.

Ja, dit mag ons weet, gemeente.

Die leed word ons nie bespaar nie.

Natuurlik, daar is ook baie waaroor ons dankbaar kan wees. Ek sal dit nie vergeet nie. Ten spyte van die vloek wat nog oor die skepping lê, mag ons danksy God se genade in Christus veel seën ontvang. Daar is regtig nie net trane in ons lewe nie. Ons kan ook baie lag, dankbaar, en vrolik.

Maar daarmee kan ons nogtans nie die skaduwee van die nietigheid waaraan die skepping en ons lewe nog onderworpe is, weglag nie. Die gebrokenheid van hierdie lewe word ook op allerhande wyse sigbaar en pynlik voelbaar. Vir die een meer as vir die ander, ek weet. Maar daar is niemand wat dit glad nie voel nie.

Ons word gekonfronteer met verskeie siektes, liggaamlik en psigies, broeders en susters moet hospitaal toe, geopereer word, by ons bejaarde lidmate is daar die toenemende ontluistering van hulle liggame ten gevolge van die ouderdom. Daar is sterfgevalle in ons familiekring. Daar is sorge en probleme wat ons pla, ons word vir die beperktheid van ons moontlikhede geplaas en bowenal: die verwoestende mag van die sonde openbaar hom nog aanhoudend, in ons persoonlike lewe, in huwelike, in gesinne, in ons onderlinge verkeer in die gemeente.

Daar word baie trane geskrei. En ons màg skrei: ook ons Here het meer as een keer gehuil toe Hy die lewe in hierdie gevloekte wêreld met ons gedeel het.

Maar God se Woord, wat ons vandag opgeslaan het, dwing ons om nie die hoof verslae te laat hang nie maar in alle droefheid met 'n opgehewe hoof ons Here Jesus Christus uit die hemel te verwag, waar Hy ons sondige, swak en sterflike liggame aan sy sondelose en verheerlikte liggaam gelyk sal maak en ons tot in ewigheid by Hom sal neem.

Wanneer op God se klok die wysers rond is en sy Jubeljaar aanbreek, dan sal alle trane van die oë afgevee word, trane waaroor ons ons nou nie hoef te skaam nie. Pleks van gesug sal daar dan enkel nog gesang wees. Want God het alle dinge nuut gemaak.

Alle dinge- die hele skepping sal dan in die verlossing en verheerliking deel. Ook die skepping sal vrygemaak word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Alle afbrekende kragte sal eendag uit die skepping verdwene wees. Dan sal daar nooit meer aardbewings wees nie, nooit meer orkane, nooit meer vloedrampe, nooit meer hongersnood nie. Geen ongelukke met vliegtuie, treine, skepe, motors, fietse meer. Geen roofdiere wat verskeur meer nie. Oorlog en oorlogsdreiging, bomaanslae, aanrandings- dit alles sal verlede tyd wees. Alle aftakeling sal dan verby wees, oue verswakte bejaardes wat aan hulle huise, aan hulle stoel en partykeer selfs aan hulle bed gekluister is, sal nuwe krag kry, langdurig siekes sal vir altyd gesond wees, ons sal dan saam met die wat vandag verstandelik gestremd is, eers reg by ons volle verstand wees. En bowenal: die sonde sal nooit meer kans kry om die lewe te verwoes nie. Kleingeloof en ongeloof word op die nuwe aarde nie meer gevind nie. Stryery, onenigheid en vervreemding van mekaar- dit sal ons nooit meer seermaak nie. Want ons sal aan Christus gelyk wees, in alles na sy beeld vernuwe, soos Hy eers in alles aan ons gelyk geword het.

Dan word dit weer heerlik op aarde!

Baie mense is benieud oor die toekoms van hierdie wêreld.

Sogenaamde sieners maak allerlei voorspellings.

Maar ons weet dit, gemeente! Dis vir ons geen vraag. Ons het die sekerheid dat ons op weg is na die heerlikheid.

2. En as u dalk nog twyfel: het u gesien watter fondament daar onder hierdie sekerheid lê?

As daar in ons teks staan dat ons eendag gelykvormig sal wees aan die beeld van God se verheerlikte Seun, wys Paulus daarby op God se Raad wat daaragter en daaronder lê. God het in sy ewige raad besluit ons sal eendag volop deel in die heerlikheid wat Christus vandag al het. Die teks praat van God se "voorneme" en dat God ons "vantevore geken het en ons vantevore verordineer het" om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun.

God het vantevore, ja by voorbaat, sy planne met ons al klaar gehad. God het vantevore die rigting van ons lewe al bepaal.

Ons moet midde-in ons moeitevolle lewe van vandag terug kyk, vèr terug kyk tot voor die skepping van die wêreld, om te sien hoe dat die Here God toe alreeds by Homself besluit het watter bestemming ons lewe moes kry.

Toe alreeds het God die verloop van die wêreldgeskiedenis en die verloop van u en my lewensgeskiedenis bepaal. Toe alreeds het Hy sy uitverkore kinders voor Hom gesien, soos hulle eendag in sy huis rondom sy tafel sou sit, met sy Eniggebore Seun as hulle Broer op die ereplek.

Voordat die eerste jaar van ons geskiedenis voltooi was, ja voordat die eerste minuut verby was, wis God waar Hy met ons sou uitkom.

Ek kan dit die begryp nie, broeders en susters, en dus ook nie vir u verklaar nie, omdat ek God nie kan begryp nie. Maar Paulus wys in ons teks nie op God se ewige raad aangaande ons verlossing om 'n moeilike dogmatiekles te gee nie. Maar om vir ons te wys op watter anker u en my lewe vaslê.

Ons kry in ons lewe met soveel kragte te make dat dit dikwels lyk asof ons daaraan uitgelewer is. Ons kan nouliks 'n lyn in ons lewe agterkom nie. Wie kon voorspel dat dit in 1988 so sou gaan soos dit gegaan het? En wie kan by voorbaat sê hoe dat dit in 1989 sal gaan?

Maar God se kinders mag weet dat elke sekonde van hul lewe ver vantevore in God se raad bepaal is. Ons is alleen aan daardie raad uitgelewer. En die uiteindelike bestemming sal wees: ewige heerlikheid saam met Christus.

As mens weet jou lewe lê in God se raadsplan veranker, dàn kan jy met Paulus sê: "Ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is".

Want dit beteken mos dat nie net die teiken waarnatoe God met ons op pad is, goed is nie, maar ook die weg self waarlangs ons daardie teiken sal bereik.

Dit lyk vir ons meestal asof ons lewe van vandag wat in so veel opsigte so moeilik en swaar kan wees, die heerlikheid wat aan kom is, nog teëhou. Maar Paulus sê: Nee wat, dit werk juis alles daaraan saam dat God sy teiken met ons bereik!

Die apostel is soseer daarvan oortuig, dat hy die komende heerlikheid nie sien deur die tralies van die teenwoordige lyding nie. Maar hy sien in die lyding van vandag die heerlikheid van môre hom alreeds baanbreek. Hy beskryf mos hierdie wêreld as 'n wêreld in barensnood (vs. 22). Dis op hierdie oomblik nie maklik nie, maar dis nou maar eenmaal nodig vir dit wat aan kom is. Die pyn van nou pars die nuwe lewe tevoorskyn. God verwerklik sy goeie plan wat Hy al voordat hierdie wêreld daar was, gemaak het, ook as Hy ons 'n pad vol lyding laat loop.

Ervaar u so u lewe, broeders en susters? Glo u God se plan met u lewe? Daar is geen toeval by nie. Ook as God by u die trane tevoorskyn roep, verloor Hy sy goeie doel met u lewe geen oomblik uit die oog nie. Hy het baie bewus dit gekies met die oog op u komende heerlikheid.

En alles wat daar in hierdie wêreld gebeur, vreeslike, skokkende dinge ook, pas heeltemal in sy plan.

Hy sal verder werk aan sy plan, wat ook al gebeur. Nee, nie ondanks dit wat almal kan gebeur nie, maar in alles wat daar almal sal gebeur.

Nogmaals: ek kan dit nie ten volle verstaan nie. Maar u en ek mag dit wel ten volle aanvaar. Want God se raad word nooit gekeer nie. Dit sal bestaan in ewigheid. Teen sy besluit is geen verweer nie, bestendig duur dit vir altyd.

3. En as u nou tenslotte nog die laaste vers van ons teks lees, gemeente, dan kom u agter watter belangrike plek God aan sy kerk gegee het om ons tot ons uiteindelike bestemming te bring. In die kerk word die toekomstige heerlikheid aan ons gepresenteer. God se plan met ons lewe word deur middel van die kerk uitgevoer.

Want die wat God vantevore verordineer het om in die heerlikheid van sy Seun te deel, diè het Hy ook geroep. Hy kom en roep sy uitverkore kinders deur die prediking van die Evangelie. Hy kom en roep hulle, by die sonde vandaan, in die gemeenskap van die heiliges in. Hy kom en roep hulle van die breë weg wat na die verderf lei af, op die smalle pad wat na die heerlikheid lei. Dit gebeur in die kerk, deur die verkondiging van God se Woord vanaf die kansel, tydens huisbesoeke en siekebesoeke, in die katkisasieklas...

En die wat God geroep het, diè het Hy ook geregverdig. Die wat deur God geroep word en gelowig en gehoorsaam na daardie roepstem luister, die wat hom aan die Evangelieverkondiging vanaf die kansel, in die katkisasieklas, tydens huisbesoeke ens. onderwerp, diè ontvang van God vergewing van al sy sondes. Sy skuld word kwytgeskeld en God ontvang 'n verlore kind deur Christus terug, geregverdig.

En die wat Hy geregverdig het, diè het Hy ook verheerlik. As God aan 'n mens sy sondes vergeef en hom weer as sy kind en erfgenaam aanneem, dan is daardie kind van Hom nou ook mede-erfgenaam van sy groot Seun Christus wees en sàl dit eendag deel in sy verheerliking.

Maar het u dit gesien, broeders en susters: Paulus skryf in ons teks nie eers: so sal dit gebeur nie. Maar hy gebruik voltooide verlede tyd: so het God dit gedoen!! Hy wil daarmee sê: vir ons is dit nog besig om hom te voltrek; maar vir God is dit lankal 'n uitgemaakte saak. Dat dit so sal gebeur staan by Hom by voorbaat vas.

So wys Paulus in ons teks die uitvoering van God se werkplan aan in die kerk. In die kerk, daar waar die Evangelie van Christus oproep tot geloof en bekering, daar waar ons by die sonde vandaag weggeroep en na God terug geroep word- daar bring God die doel van ons lewe digterby. Die weg na die heerlikheid toe is deur God dwars deur die kerk gelê.

Daarom moet niemand in die kerk vra: hoe weet ek of God in sy ewige raad besluit het om ook my tot die heerlikheid saam met Christus te bring? nie. God het u tog hier tot die heerlikheid geroep? Telkens kan u die Evangelie van vergewing van sondes en van 'n ewige lewe in heerlikheid hoor. Tweemaal op 'n Sondag. Die ouderlinge kom by u tuis, daar is elke week katkisasieklas.

Dit is vir u lewe baie belangriker as alles waaroor die koerante skryf en waaroor op die radio en televisie gepraat word. Hier in die kerk word die rigting van u lewe bepaal! In die kerk waar die Evangelie van Jesus Christus gepredik word met bevel van geloof en bekering, daar kan jy sien waarnatoe God met ons op pad is. Jy kan die heerlikheid daar as die ware al gryp!

As u dit maar sien, broeders en susters, dan is dit glad nie moeilik om diè blye psalm waarmee Paulus ons tekshoofstuk afsluit saam met hom te sing nie: "Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte opf enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie!"

AMEN.

(Pretoria 31 Desember 1988)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)