Skrifoordenking by begrafnis

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Romeine 8
Preek Inhoud: 

LITURGIE:
Ps. 145: 10, 11
Gebed
Skriflesing: Romeine 8: 16-39
Ps. 34: 1, 2, 8
Skrifoordenking oor Romeine 8: 28
Gebed
Ps. 73: 11, 12

By die graf:
Skriflesing 1 Thess. 4: 13-18
Ps. 27: 6
Gebed: die Onse Vader.

Familie Kampman, broeders en susters, vriende en kollegas,

Die teks wat ons vir hierdie byeenkoms opgeslaan het, geld vir party mense as een van die mees irriterende, maar vir ander mense juis as een van die mees troosvolle uitsprake in die hele Bybel.

Die wat net kan kyk en dink binne die horison van hierdie wêreld, wil niks weet van dit wat in ons teks gesê word nie.

Die wat net 'n oog het vir mense: vir dit wat mense maak en vir hoedat mense faal, vererg hom bloedig oor dit wat hier staan. Dié weier om te aanvaar dat Gód Karin in sy wysheid en goedheid afgelope Vrydag uit ons midde weggeneem het. Die het dalk ook die Psalms wat ons so pas gesing het, nie saamgesing nie. Want so iemand kan by 'n begrafnis soos hierdie maar net verontwaardig wees oor 'n busbestuurder wat miskien met 'n te groot spoed gery het en die robot nie mooi dopgehou het nie; of oor die busonderneming wat sy busse nie goed diens nie sodat die remme sommer weier met as gevolg dat die lewe van 'n jonge en lewenslustige dogter so skielik en wreed afgesny is.

Maar dat God so iets sou laat meewerk ten goede...... nee, dit sou mos dwaasheid wees!

Nie net vir mense wat nie glo nie, ook vir al hoe meer kerkmense en selfs kerklike voorgangers het hierdie Bybelteks toenemend 'n aanstootlike uitspraak geword. En ek het reeds teoloë gelees en gehoor wat dit ronduit godslasterlik noem as ons God se hand wil opmerk in ongelukke, rampe, ja, in al die ellende waarvan die wêreld vol is. Ons maak van die God die HERE 'n wrede sadis, sê hulle.

Nogtans het ons saam, familie Kampman, en jy, Peter, in hierdie Bybelteks ons troos gesoek na vrydag se skielike skok. U het dit in gesprekke die afgelope dae meer as een keer vir mekaar gesê: die hand van die HERE, sy wyse leiding was daar, toe Hy Karin plotseling weggeneem het, maar ook in allerhande klein gebeurtenisse daaromheen en daaraan voorafgaande.

En ons weet vir seker van mekaar: ook Karin self het in die oortuiging geleef dat God alle dinge laat meewerk ten goede vir die wat Hom liefhet.

Daarom het ons vanoggend hierdie teks tog voor ons om daarop ons gedagtes te konsentreer voordat ons net-nou begraafplaas toe gaan.

En dit ís 'n troosvolle teks!

Want ons leer om bo alle doen en late van mense uit na die groot God te sien wat uiteindelik die leiding in ons lewe het en hou. In alle dinge wat ons oorkom, werk Hy om dit vir sy kinders ten goede te laat meewerk. Ons is nie aan die toeval uitgelewer nie, daar bestaan geen nootlottige ongevalle nie, daar gebeur niks per ongeluk nie. Maar dis nog steeds waar wat die christelike kerk eeue lank al in sy belydenis geskryf het, dat alle dinge ons uit God se vaderhand toekom en dat daar in hierdie wêreld niks gebeur sonder sy beskikking nie. God, ons Skepper en Vader, lei met vaste hand ons lewe volgens 'n plan wat Hy lank tevore opgestel het.

Ons teks praat van God se "voorneme", en daarin lê, ook blykens die verband waarin ons teks staan- daarin lê beslote dat daar 'n goddelike plan aan ons lewe ten grondslag lê. God het by voorbaat sy planne met ons lewe klaar gehad. Soos dit ook staan in Psalm 139: "in u boek was hulle almal opgeskrywe, dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie".

God het reeds ver vantevore vir elkeen van ons die lewensloop vasgestel en ons bestemming vasgelê.

Nee, ek kan dit nie begryp nie!

Aangesien 'n mens God nie kan begryp nie. Daarvoor is Hy mos Gód.

Maar God se Woord roep ons op om dit nogtans te glo. Om te weet op watter anker ons lewe vaslê. Ons kry in hierdie lewe met soveel kragte te make dat dit dikwels lyk asof ons daaraan uitgelewer is. Ons kan ook skaars 'n vaste lyn in ons lewe agterkom.

Maar God se kinders mag weet dat elke fraksie van 'n sekonde van hul lewe lankal in God se raad vasgelê is. Sodat ons nie afhanklik is van die willekeur en wreedhede van mense, natuurwette, virusse of wat ook al nie, maar ons veilig in Vader se hande mag weet. Vader bring ons met vaste hand daar waar Hy ons uiteindelik wil hê. En dit is: by Hom tuis eendag, op 'n nuwe aarde, as 'n groot huisgesin met in die middelpunt God se groot Seun, ons Here Jesus Christus. (Kyk die vers na ons teks) Soos Christus deur die dood heen gekom het, so sal God ook ons daardeurheen bring. Soos Hy 'n pad van lyding gegaan het om in die heerlikheid te eindig, so mag ons langs 'n pad van lyding, moeite en verdriet eendag met Hom deel in sy heerlikheid.

Daarnatoe is God met ons op weg.

En daarom is ons oortuig daarvan dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat vir ons wag nie. Die pad wat God met ons deur hierdie lewe gaan, is nie 'n doodloopstraat nie. Dit loop juis uit op die ewige lewe en die ewige vreugde. Dit is vir ons vas en seker.

Het u dit opgemerk by die Skriflesing so pas hoe stellig daar in Romeine 8 gepraat word? "Ons weet..., ons weet..., ek is versekerd... ". Watter lyding ons ook al oorkom- dit weet ons seker!

Tog is hierdie sekerheid van die geloof geen morfine waardeur ons die pyn van vandag nie of slegs skaars meer voel nie. Die geloof in God se leiding met ons lewe is geen verdowing nie.

Rom. 8 is ook nie geskrywe deur iemand wat maar bietjie met sy kop in die wolke geloop het en wat nie op hoogte was met die wrede werklikheid in hierdie wêreld nie.

Die apostel Paulus, wat kon skrywe: "Ek reken, ek is oortuig dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie", het die las van hierdie lewe regtig nie lig opgevat nie. Inteendeel, hy het alles daarvan geweet hoeseer ons in hierdie lewe kan swaarkry. Die wêreld is so vol lyding dat die hele skepping daaronder kreun en ons, mense, daaronder sug, ja, snak na die verlossing. Paulus het geweet dat die lyding so swaar kan word, dat ook 'n gelowige selfs nie meer weet hoe om te bid nie.

Maar Paulus het óók geweet waar daardie lyding vandaan kom. En waarom.

Dit kom uit God se hand. As 'n straf.

Dit is die straf op die sonde. Al kom dit ook uit God se hand- dit is nie God se skúld nie. Ons eie skuld.

God het met die mense begin soos 'n Vader. Hy het hierdie wêreld nie geskep soos 'n fabriek met voloutomatiese masjine nie. Hy het geen mense gemaak soos prima geprogrammeerde robots nie. Hy het vir Homself kínders geskep met wie Hy in liefde wou saamlewe. Kinders wat daagliks vol vreugde na hul hemelse Vader sou opsien en uit sy hand alles sou verwag. Hy het die mens in 'n wêreld geplaas waarin ales van sy troue Vadersorg getuig het, tot in die kleinste besonderhede, tot in die klein dinge van elke dag. En Hy het maar een ding verlang: liefde terug. Dat die mens 'n oop oog vir daardie troue vaderhand sou hê. 'n Oop hart.

Maar juis op hierdie punt het die mens hom van God afgekeer. Hy wou geen kind meer wees wat uit Vader se hand moes lewe nie. Die mens wou aan God gelyk wees, self God, selfstandig en onafhanklik.

So het ons Vader op die hart getrap. Ons het gaan lewe asof ons die lewe in ons eie hand het.

En so het ons self die lyding van die teenwoordige tyd ons op die hals gehaal. Want sulke hoogmoed en eiewysheid word deur God met harde hand gestraf: die wat nie wil hoor nie, moet voel! God sélf, weet Paulus, het die hele skepping vir straf aan die nietigheid, die verganklikheid onderwerp en die lewe tot 'n doodlopende saak gemaak. Siekte, ongelukke, rampe is middele waardeur God die mens verneder en hom die hopeloosheid, die onmoontlikheid van sy keuse onder die oë bring. Ons het die lewe onleefbaar gemaak.

Dít weet God se kinders ook. En hulle verootmoedig hulle voor God. Ons het geen reg om te kla nie. God maak ons deur alle lyding weer klein voor Hom en sit ons hardhandig op ons plek. So'n ongeluk soos dié waarin Karin gesterf het, leer ons weer hoe kwesbaar, ja, hoe onhoudbaar ons positie voor God is. Hoe weinig is daar vir God nodig om ons sommer weg te blaas en neer te lê. En dit is nog maar weinig in vergelyking met dit wat ons almal eintlik verdien het!

So herinner die HERE ons aan ons grense. God hou ons binne ons grense. Ons is nie soos Hy nie, al verbeeld ons ons dit partymaal. En so dwing Hy ons om beskaamd ons hoofde te buig.

Maar nogtans mag ons die hoofde ook ophef.

En met reikhalsende verlange uitsien na die dag waarop die lyding vir altyd verlede tyd is.

Want God wat ons met harde hand straf, het ook hoop gegee. Deur die geskenk van sy eie Seun Jesus Christus. God het, om ons as kinders terug te kry, sy eie Seun op die ou end nie gespaar nie, maar Hom vir ons almal oorgegee, om ons saam met Hom weer alles genadiglik te kan skenk. God se Seun het mens onder die mense geword. As ons Broer, die Eersgeborene onder baie broeders en susters. Hy het gekom om ons lewe vol lyding volop te deel en om die vloek met ons, nee: vír ons te dra om ons daarvan te verlos. Hy het die hele straf op ons sonde in al sy swaarte vir ons gedra.

Hy het toe ook deur die lyding heengekom, en is in die heerlikheid van die hemele opgeneem. As eerste van ons almal. En danksy sy oorwinning mag ons dit nou sekerlik weet: dit kom, in weerwil van alle lyding van vandag, wél reg.

Meer nog: dit kom deur alle lyding heen tog reg. Nie net die doel waarna God met ons op pad is, is goed nie. Ook die pad self waarlangs God ons saamneem na daardie doel, is reg.

Dit lyk en voel vir ons meestal wel asof ons lewe van vandag wat nog in soveel opsigte ellendig en moeitevol is, daardie komende heerlikheid nog keer. Maar God se Woord sê - dis die krag van ons tekswoord: - nee, dit werk nou alles daaraan mee dat God die doel met ons lewe bereik. Daardie hardhandige vernedering gebruik Hy om ons op die heerlikheid voor te berei. Noudat God, deur Jesus Christus, ons ons skuld vergewe het, laat Hy alles ten goede meewerk. Niks kan ons meer van sy liefde skei nie.

So beskou ons daarom in die geloof die sterwe van Karin, verlede Vrydag. Hoeseer die wyse waarop sy dood is, ons ook geskok het, dit was nogtans goéd en daardie ongeluk was nie per ongeluk nie. God het trefseker hierdie weg gekies om Karin in een keer, sonder 'n verdere lydensweg, by Hom tuis te haal in die hemel. Dit kon blykbaar vir haar. Vir haar was dit nie nodig om as die voorbereiding op die ewige lewe verder verneder en nog kleiner voor God gemaak te word nie. Met haar was God klaar.

Maar ook vir u as familie, vir jou as haar verloofde, Peter, en vir ons almal wat om julle heen staan en wat in hierdie lewe nog moet verdergaan, laat God hierdie skielike dood van Karin ten goede meewerk. En ons kan dit nou alreeds agterkom: wat het ons almal, veral ook ons jongmense, opnuut weer leer besef hoe breekbaar ons lewe is, en dat die HERE jou enige dag uit hierdie lewe kan wegroep. Hoe het ons almal weer geleer dat ons die lewe nie in ons eie hand het nie.

Maar wat het hierdie sterwe ons ook weer laat besef hoe kragtig die troos van God se Woord is. Wat het ons weer intens met mekaar gepraat in die afgelope dae, op 'n vlak waarop ons feitlik veels te weinig met mekaar gesels.

God kan uit verlies tog wins bewerk. Op so'n wyse dat ons sonder Karin by ons hier op aarde nogtans nie regtig armer geword het nie.

En miskien besef ons na verloop van tyd nog baie beter hoeseer God die aangrypende sterwe van Karin vir ons ten goede laat meewerk het. Dalk mag selfs jy, Peter, in jou later lewe agterkom dat die verlies van jou verloofde en daarmee van al jou toekomsplanne jou lewe tog op 'n manier ryker gemaak het.

Daar staan in ons teks: slegs "vir die wat God liefhet" laat Hy alles ten goede meewerk. Die troos van hierdie teks geld dus nie vir elkeen nie. Die wat God nie liefhet nie, kan vandag maar net vloek. Of gelate berus in dit wat nooit meer ongedaan gemaak kan word nie.

Dié is hoogstens gedwing om weereens 'n slag na te dink.

Die wat tot nou toe sy eie koers geloop en met God en sy Woord weinig of geen rekening gehou het, word mos wel gewaarsku deur dit wat met Karin gebeur het: die lewe kan eerder verby wees as wat ons dikwels dink; en dan sal enige mens tog voor sy God en Skepper moet verskyn. Wie hom dan ook ondanks alles nie laat waarsku nie, sal eendag agterkom dat God vir hom of haar juis alle dinge ten kwade laat meewerk het. Reeds eerder in hierdie brief het die apostel Paulus gewaarsku dat ons ook God se toorn kan opstapel vir die dag waarop die toorn van God in volle hewigheid sal losbrand teen elkeen wat Hom verwerp het.

Slegs die wat God liefhet en vrees, loop met dit wat verlede Vrydag gebeur het, nie vas nie. Slegs dié kan verder in die volle sekerheid van die geloof dat God -hoe onbegryplik ook al vir ons- ons tog maar net al hoe ryker maak.

Hoe kry 'n mens so'n sekerheid? vra dalk iemand hier.

Hoe kry jy so'n vaste geloof?

Wel, in ons teksvers staan dat ons daartoe "geroep" word.

God kom na ons toe met sy Woord in die Bybel. Daarin verklaar Hy sy liefde aan ons, daarin herinner Hy ons aan ons val in sonde, daarin vertel Hy ons die verhaal hoedat Hy sy liefde vir ons bewys het in die dood van sy Seun, daarin onthul Hy aan ons sy plan met ons lewe.

Maar daarin vra Hy vervolgens ook liefde terúg.

En so roep Hy die mens. Tot geloof. Tot oorgawe aan Hom en tot vertroue in sy leiding met ons lewe.

Daardie roepstem van God is al eeue hoorbaar in hierdie wêreld. En regdeur die eeue was daar ook mense wat aan sy roepstem gehoor gegee het en so die vaste sekerheid gevind het dat hul lewe in God se hande vas lê.

God gebruik 'n kerk, met sy prediking, sakramente en ook tug, om sy Woord in die wêreld hoorbaar te hou.

In daardie kerk het Karin geleef en geluister. Sy het ook geleer om sorgvuldig te onderskei watter kerk die ware kerk is en haar daarvoor vervolgens ook nie geskaam nie. Sy het selfs die bynaam "Karin van die kerk" gekry.

Só het sy die volle sekerheid van die geloof gevind.

In daardie kerk soek u in hierdie dae ook u troos, familie, Peter, broeders en susters.

God se roepstem klink ook vanoggend, in hierdie byeenkoms.

Mag dit vir niemand van u tevergeefs gewees het nie!

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)