Jesus Christus wat in die oorwinning van Sy Kerk op die vyand self triomfeer

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Handelinge 7
Preek Inhoud: 

Preek van ds J.A. Vink oor Hand. 7: 54-59

Geliefde gemeente van onse Here Jesus Christus,

Die Bybelboek Handelinge begin met die geskiedenis van die Hemelvaart van Christus en van die uitstorting van die Heilige Gees. En dit eindig met die mededeling dat die apostel Paulus in Rome "die Koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering".

Die laaste wat die boek meedeel staan in noue verband met wat in die begin vertel is. Paulus kon in Rome apostolies besig wees omdat die heilsfeite van Hemelvaart en uitstorting van die Heilige Gees plaasgevind het. Want Hemelvaart beteken die Christus het na die troon van God gegaan, om vandaaruit oor alle skepsele te regeer. En die uitstorting van die H. Gees beteken dat Christus getoon het Hy regeer vanaf die troon van God en wil in en deur die Gees heerskappy uitoefen oor alle vlees op die aarde. Van Jerusalem af tot aan Rome en die eindes van die aarde. En daardeur kan die apostels uitgaan en in die saam- vergadering van die kerk die vlees aan die Gees onderwerp.

Maar - dit sou nie sonder teenstand gebeur nie. Waar Christus deur sy Gees wou gaan heers, daar het die vlees, die sondige aard van die mens, in verset gekom. En in daardie vlees het die gees uit die afgrond, die Satan, in beweging gekom teen die Gees van die Christus.

Waar Christus verskyn, sal dit altyd die geval wees. En dit moet ook so wees. Want in daardie stryd wil Christus die gees uit die afgrond, die Satan, die kop vermorsel.

As nou die Handelinge van die apostels ons die aktiwiteit van die verhoogde Christus openbaar wat sy kerk vergader en wat daarom die stryd met die Satan wat die kerk beloer, laat kom, dan kom daar in hierdie boek 'n eskatologiese motief. Hier is die begin van die einde.

So hoor ons ook vandag die boodskap van hierdie boek, ook in die teks wat vandag aandag in die prediking sal kry.

Ons verkondig daarom: Jesus Christus wat in die oorwinning van sy kerk op die vyand self triomfeer.

Ons let op drie dinge:

  1. Christus roep die vyandskap op;
  2. Hy bly teenoor die vyandskap aan sy kerk verbind;
  3. Hy triomfeer in gemeenskap met sy kerk oor die vyandskap.

1. Daar het groot dinge in Jerusalem gebeur as vrug van die uitstorting van die Heilige Gees. Die lewe in Jerusalem word deur en vir die Christus gemobiliseer. Groot menigtes kom tot bekering, self 'n groot aantal priesters (Hand. 7: 15).

Maar u lees ook hoe in Jerusalem die verset teen die Christus openbaar geword het. Van die apostels word in die gevangenis gewerp, en ook Stefanus word in 'n oproer gegryp en voor die Joodse Raad gebring.

Stefanus was een van die sewe broeders wat in Jerusalem se gemeente as helper van die apostels aangestel was - "'n man vol van geloof en van die Heilige Gees". En in die krag van die Heilige Gees verkondig hy die Naam en heerskappy van Jesus Christus in Jerusalem. Hy roep die reg van die verhoogde Christus uit. Sy reg ook op die Joodse lewe.

Daaroor het hulle in Jerusalem met Stefanus gestry. Want die Joodse leiers in Jerusalem wou hulle nog amptelik handhaaf teenoor die Christus. Ja, die afvallige Joodse volk wou wel die uitverkore volk van God wees, kerk van die HERE, maar hierdie volk wou dit wees buite Jesus Christus, in verloëning van Hom. En as Stefanus hulle daaroor aanspreek, word hulle verbitterd teen hom. Dit mog hy nie sê nie; dus moet hy tot swye gebring word.

Valse getuies staan teen Stefanus op en so kom hy as 'n aangeklaagde voor die Joodse Raad. En daar ontwikkel dan die krisis in die stryd van die H. Gees teen die afvallige, sondige vlees en omgekeerd.

Lees maar die rede van Stefanus uit Hand 7. Hy beskuldig die amptelike Jodendom daarvan dat hulle nie op die dade van God met sy kerk wil let nie. Ook in vroeër tye het dit dikwels voorgekom dat die volk die HERE nie in sy Verbond wou volg nie. En daardie traagheid en weerspannigheid van die vaders was by die kinders nou ook weer daar.

Die HERE het verder gegaan in sy Verbond. Die dag van die Here het openbaar geword in die koms van die Seun van God in die vlees, in die koms van die Regverdige (vs. 52). Maar hulle het verraaiers en moordenaars van hierdie Regverdige geword. En daarin het hulle die Heilige Gees weerstaan. Hulle was hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore (vs 51). So stel Stefanus hulle verantwoordelik vir hulle verwerping van die Christus.

Maar as Stefanus só praat, as hulle dit hoor, was hulle woedend in hul harte en het teen hom op die tande gekners (vs 54). Dan kom die Joodse Raad in beroering. Hulle haat kom tot uiting en hulle staan in vyandskap teen Stefanus op.

Maar dit beteken dat hulle in vyandskap teen Jesus Christus opstaan! Ja, hulle is woedend op die kerk wat in die persoon van Stefanus voor hulle staan. Maar daardie woede is 'n uiting van die groot afkeer van Hom wat sy kerk in Jerusalem vergader het. Hulle boosheid teen 'n kneg kom op uit die wrok teen die Heer.

Maar daarom is Jesus Christus self dan ook in hierdie botsing tussen Stefanus en die Joodse Raad aanwesig. Die krag van die Gees wat in Stefanus is, wat van sy woorde uitgaan, prikkel hierdie Raad om aan hulle vyandskap uiting te gee.

Hier is 'n stryd aan die gang. Maar dit is 'n geestelike stryd wat heftiger word namate die getuienis van Stefanus duideliker word.

Daar is die inisiatief by Stefanus en nie by die Joodse Raad nie. Stefanus val aan. En in sy aanval is Jesus Christus aktief. Hy dwing die Joodse Raad om aan sy woede sterker uiting te gee. Agter daardie woede was die gees van die Satan. Eendag was Jesus Christus reeds deur die Gees gedryf die woestyn ingegaan om deur die Satan versoek te word. Hy het toe die Satan opgesoek en so self die inisiatief geneem. Hy het die Satan gedwing om dáár te kom waar hy as Satan verslaan sou word.

En aan die einde van sy aardse bestaan het Christus die Satan gedwing om in Judas sy helse drifte te toon. Christus het die Satan gedwingom met Hom die pad na die kruisheuwel te gaan - weer sodat die Satan daar as Satan self verslaan sou word.

En nou hier voor die Joodse Raad - hier is dit weer die Christus wat deur die getuienis van Stefanus wat die woede van die Joodse Raad prikkel, die Satan tot verset opwek. Christus dwing weer die Satan om daar te gaab staan en daar aktief te word waar Hy dit wil hê. Want die sataniese mag moet verslaan word.

Nou ja, dit is nog nie die finale stryd nie. Maar die verhoogde Christus maak hier 'n begin. Hy begeer die stryd, alle eeue deur, omwille van sy oorwinning.

En terwille van sy kerk om die uit die benoudheid te red.

Ons moet van die verhoogde Christus glo dat Hy heerlik is, ook as die vyandskap heftiger word. As die kerk trou is, sal die vyandskap moet kom. Want Christus begeer om sy getroue kerk te verlos.

2. Maar, brs en srs, as die kerk trou is en die vyandskap openbaar word, word dit vir die kerk ook moeilik. Kyk maar hoe dit daar in die Joodse Raad gegaan het en let maar op Stefanus.

'n Woedende Joodse Raad staan om hom heen en dring op hom aan. Hulle haat is so groot dat hulle hom wil verteer. Dan word dit vir Stafanus baie gevaarlik.

Die kerk word in die hoek gedring, die asem word haar beneem. Ja, die krisis word swaar om te verwerk.

Maar kyk dan na Stefanus wat nog vry asem kan en mag haal vanweë die gemeenskap met Christus wat altyd bly bestaan. Want Stefanus was 'n man vol van geloof en van die Heilige Gees. En dit beteken iets! Dit beteken dat Stefanus nie los van Jesus Christus gestaan het nie.

Daar was bande, bande van geloof wat deur die Heilige Gees gewerk was, waarmee Jesus Christus Stefanus aan homself verbind het. Christus het deur sy H. Gees in Stefanus gewoon. En Stefanus het deur die geloof in Jesus Christus gelewe. Christus was in hom en hy was in Christus. Die groot lewenswerklikheid van die kerk, was die lewenswerklikheid van Stefanus.

En in hierdie geweldige oomblik, noudat die die krisis van die ontmoeting met die antichristelike mag tot sy hoogtepunt kom, mag Stefanus dit ook sien. Die groot lewenswerklikheid van die kerk dat sy bestaan deur die verbondenheid aan Christus mag Stefanus aanskou.

"Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. En hy het gesê: 'Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan'. "

Dit was 'n geweldige openbaring op daardie tydstip. Want wat was die betekenis hiervan? Stefanus praat daaroor dat die verhoogde Christus wat hy mag sien die Seun van die mens is.

En die Seun van die mens - dit is Christus soos Hy deur die lyde heen in die heerlikheid sou ingaan. Soos Hy deur die stryd heen sou triomfeer. Soos Hy deur die vernedering heen sou verhoog word.

Ja, daar was 'n tyd dat volgens die visioen uit Openb. 12 die draak die Kind, dit is die Christus, wou verslind. Maar hierdie Kind is weggeruk tot God in sy troon. Christus het na die hemel opgevaar en was daar onskendbaar vir die woede van die draak.

Stefanus mag nou sien dit het só gegaan. Die Seun van die mens wat die lyding moes ondergaan, wat sy stryd moes stry, wat deur die uiterste krisis deurgegaan het, is tòg in heerlikheid opgeneem. Die weg wat God met Hom gegaan het was 'n pad deur die versmaadheid na die troon. Dit was die pad van die Kind.

En nou hier voor die Joodse Raad, nou is die draak, die Satan, weer daar. En nou word die vrou, die kerk, vervolg. Ook hier in die persoon van Stefanus.

Maar Stefanus sê: Ek sien nou daardie Seun van die mens en Hy staan aan die regterhand van God.

En in daardie feit wat Stefanus mag sien, en die gestalte en in die houding waarin hy die verhoogde Christus sien, mag hy hy bemerk hoe die Seun van die mens aan die kerk dink, ook in dae van krisis soos dié waarin Stefanus nou verkeer.

Stefanus mag die aandag wat Christus vir sy kerk het, sien. Hy mag sien dat in hierdie uur van groot vereensaming tussen die vyande, die Seun van die mens tog aan sy kerk verbind is en bly.

Want daardie Seun van die mens is nie weg nie. Hy het deur lyding heen na die heerlikheid gegaan en is vanuit daardie heerlikheid naby sy kerk, ook as dié moet ly. Hy wat oorwin het, is met sy oorwinning aan die kerk in haar stryd verbonde. Hy wat in die troon van God sit, help die kerk in versmaadheid en gee 'n band met daardie troon. Hy wat onskendbaar was vir die woede van die draak, kom die kerk in haar ontmoeting van die draak te hulp.

Dit is die geweldige wat Stefanus mag sien. En die werklikheid van dit wat hy mag sien, beheers hom nou in al sy uitinge. Jesus Christus is daar - Hy is in heerlikheid en Hy is oorwinnaar.

Stefanus is in sy stryd aan daardie Christus en aan sy oorwinning verbonde. Die vyande beheers nie die situasie nie. Jesus Christus beheers die situasie en aan Hom is die oorwinning.

Daarom: nie die haat van die vyande sal bepaal wat van Stefanus sal word nie, maar die liefde van Christus. Nie hulle vervloeking nie, maar Sy seëning.

En hierin is nou die openbaring van Jesus Christus. Dit was Hemelvaart. Christus is nou in die hemel, in heerlikheid.

Maar dit was ook Pinksterfees. Hy het in die Gees in sy kerk kom woon. Dit beteken Hy het sy kerk wat in die wêreld is aan Homself in die hemel verbind.

En as nou die kerk haar pad moet loop deur die wêreld, dan is Hy met haar.

Dit beteken - Christus is met sy heerlikheid naby sy kerk wat smaad moet ly. En in die swakheid van die kerk temidde van vyande, is Christus daar met sy krag om te oorwin.

Dit is dus nie die vyande wat die situasies en die posisie van die kerk in die wêreld bepaal nie. Dié word deur Christus bepaal.

Want die lewenswerklikheid en die lewensmoontlikheid van die kerk word bepaal deur haar band aan Christus. Deur die band van die Heilige Gees en die band van die geloof.

Laat ons dit tog glo! En laat dit ook die allesbeheersende werklikheid vir ons wees. Ook dan as gevare dreig en sekularisasie en ongeloof toeneem. As die vyandskap kop opsteek. Laat ons dan ons verbondenheid aan Christus glo. Ons verbondenheid aan Hom wat die kerk Sy pad laat loop - deur stryd na die oorwinning. Want Hy wat self oorwin het, begeer ook om in die oorwinning van die kerk verheerlik te word.

3. Christus wat self oorwin het, begeer ook om in die oorwinning van sy kerk te triomfeer. Dit wil ons ook nog uit ons teks leer.

Stefanus het dan van die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan, getuig. Maar deur hierdie getuienis kom daar 'n vernude en verhewigde beroering in die Joodse Raad.

"Maar hulle het met 'n groot stem geskreeu en hulle ore toegestop en soos een man op hom aangestorm. En hulle het hom buitekant die stad uitgewerp en hom gestenig. " Die valse getuies voorop. En waarom is hulle so woedend dat hulle hom stenig?

Wel, Stefanus het gepraat oor die Seun van die mens en oor sy plek aan die regterhand van God. Dit was geen vreemde woord nie, maar baie bekende vir die Joodse Raad. Nog nie so lank terug nie, het Christus self hier voor dieselfde Joodse Raad gestaan en dieselfde woorde gespreek. Kajafas het hom toe gevra of Hy die Christus, die Seun van God was. En Jesus het toe geantwoord: "U het dit gesê. Maar Ek sê vir u: van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel".

Die Joodse Raad het toe net die vernedering van Christus begeer, maar Hy het self van sy verhoging en van sy komende heerlikheid geprofeteer. En vanweë hierdie woorde en hierdie profesie het hulle toe gesê dat Jesus die dood skuldig was. Hy wat oor sy heerlikheid en sy verhoging geprofeteer het, moes maar in vernedering ondergaan. Nie die pad na die troon nie, maar die pad na die kruis moes Hy betree. So het die Joodse Raad geoordeel en volgens daardie oordeel is toe ook gehandel. Jesus van Nasaret was in die oë van die Joodse Raad die gekruisigde, dié wat van alle eer beroof is.

Maar kyk, nou staan Stefanus hier en sê: "Ek sien die Seun van die mens aan die regterhand van God staan".

Wat nog maar kort gelede hier voor die Joodse Raad geprofeteer is, het dus in vervulling gegaan. Ondanks kruis en dood het die verheerliking en opvaart na die troon tog gekom. Nie die wil en oordeel van die Joodse Raad nie, maar die wil en profesie van die versmade Christus het tot oorwinning gekom.

En as Stefanus nou daarvan getuig, dan staan in Stefanus Jesus Christus self weer voor die Joodse Raad en spreek dieselfde woorde waaroor Hy nou die dag veroordeel is. Hy sê: julle veroordeling, o Joodse Raad, kon die vervulling van my woorde nie belet nie. Ek sê dit vir julle deur hierdie kneg van My wat dit van sy Heer mog sien.

So staan die Christus opnuut voor hulle wat kort gelede sy regters was. Maar nou spreek Hy 'n oordeel oor hulle uit.

En nou begryp ons dat hulle woede geen grense meer ken nie. Is die Christus nou in heerlikheid? Wel, dan sal die Satan, deur die anti-christelike magte, ook teen Hom in opstand kom. En hulle verwerp die Christus opnuut oor dieselfde woorde waaroor Hy nou die dag veroordeel is. En dus word ook Stefanus om hierdie woorde tot die doodstraf veroordeel.

En hulle het hom uit die stad uit gegooi en hom gestenig.

Sal nou die draak, die Satan, in elke geval oor die kerk triomfeer? En sal die heerlikheid van die Christus wat hulle nie wil aanvaar nie ontluister word deur hulle Hom in Stafanus aan die kerk ontneem? Sal die Gees wat in Christus as in die Hoof en in die lidmate van die kerk as in sy liggaam woon, sal daardie Heilige Gees wat Christus en die gemeente saam verbind, nou die mindere van hierdie vyandige mense wees?

Ja, Stefanus word gestenig. Maar hulle het hom gestenig terwyl hy uitroep: Her Jesus ontvang my gees!

Here Jesus, ek gee my tog aan u oor. Ek weet ek is tog aan U verbind. Ek glo u heerlikheid waarvan ek glo en vertrou dat ook ek daarin mag deel.

So spreek Stefanus terwyl hy gestenig word. Hy kan nie van Jesus Christus geskei word nie. Ook nie deur 'n veroordeling en steniging vanweë die Joodse Raad nie. Hy word gedood - maar hy sal tog lewe. Hy word verneder - maar hy sal tog in heerlikheid opgeneem word.

Mense wil die kerk verwoes - maar dit sal tog gebou word. Hulle wil haar in Stefanus aanrand - maar in die gemeenskap met Christus sal sy tog onskendbaar wees.

Dit alles roep Stefanus ook vir die ore van sy vyande uit. En as hy hierdie woorde spreek, oorwin hy sy vyande. Want as sy vyande sê: nou is dit klaar met hom, dan sê Stefanus: daar kom 'n nuwe begin.

En dit is nie net 'n oorwinning van Stefanus nie, maar in Stefanus triomfeer Jesus Christus. Want as Stefanus sê: Here Jesus, ontvang my gees, dan is dit weer woorde wat deur die krag van die geloof en deur die krag van die Heielige Gees gespreek word.

Stefanus kan ook terwyl hy gestenig word homself bly omdat esus Christus vir hom dieselfde bly. Dieselde - wat die bande van die Gees en van die geloof onderhou. Want Jesus Christus laat Hom nie van sy kerk skei nie - die Satan kan dit nie van Hom wegvat nie. Hy bly die kerk vashou, ook in Stefanus. Om haar in sy oorwinning te laat deel.

Anti-christelike magte staan wel op, maar kan die kerk nie oorwin nie. So triomfeer die Christus in die oorwinning van Stefanus. Die pad van die Kind mag ook die pad van die vrou word (Openb. 12).

Maar so sien ons deur hierdie geskiedenis ook die Christus wat streef na die einde. Hy leef en Hy regeer in heerlikheid. Deur sy Gees onderwerp Hy in die kerk die lewe aan Homself. En daarin is Hy baie aktief.

Maar daardeur prikkel Hy ook sy vyande tot teenstand en opstand. En dan kan dit vir die kerk moeilik word. Ons moet daar nie maklik oor dink nie. Want in die opstand van die anti-christelike magte teen die Christus word ook die kerk betrek. Maar ons sal lewe. Want Christus leef en triomfeer oor sy vyande. En Hy sal altyd weer sy kerk help en red.

Glo dit van die Here Jesus Christus. Glo dat Hy sal triomfeer dwarsdeur die stryd van die kerk met haar vyande heen. Glo dit van Hom dat Hy ook deur stryd en moeite heen ons sal lei en uiteindelik in die vreugde van sy heerlikheid sal inlei.

"Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee" (Openb. 2: 10).

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)