God is 'n genadige Redder

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Handelinge 7
Preek Inhoud: 

Handelinge 7: 5-8

Geliefde gemeente,

In die bybelgedeelte wat ons vanoggend gelees het, verduidelik die apostel Paulus vir sy lesers in Korinte hoe die Jode die O.T. lees. Hy sê daarvan die volgende: "Hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die O.T. dieselfde bedekking, sonder dat dit opgelig word. Die bedekking kan eers weggeneem word as hulle Christus in die Skrif herken. "

In Handelinge 7 is Stefanus aan die woord. In sy verdedigings rede gaan hy met sy hoorders deur die O.T.As ons sy betoog volg klink wat hy sê nou nie juis so skerp in die rigting van die Jode nie, maar blykbaar raak die wyse van Skrifvertelling die Jode sodanig dat hulle hul ore wil toestop en die spreker vervolgens deur steniging ter dood bring.

Waarom reageer hulle so fel? Dit is die vraag wat ons in Handelinge 7 steeds besig sal hou. Ons sal steeds ontdek dat die antwoord is dat Stefanus die O.T. heel duidelik christelik lees.

Dit beteken nie dat hy steeds sê: Hier is Christus! en: Kyk lees daar, daar gaan dit oor hom! Nee, Stefanus noem in sy toespraak die naam Christus glad nie. En tog is Christus volop aanwesig, namelik op die manier waarop Paulus in 2 Korintiers 3 vertel dat Christus in die O.T. aanwesig is, namelik met sy Gees.

Stefanus lees die O.T. deur die Heilige Gees. Die Gees van die lewende God. Die Gees van Jesus Christus.

Hierdie Heilige Gees ken Stefanus goed van die Pinksterfees, met daardie Gees was Stefanus self ook heeltemal vervul.

Dit staan nadrukkelik in die gedeelte wat voorafgaan aan Stefanus' rede in Handelinge 7. Stefanus is vol van die Heilige Gees. En daardie Gees laat hom die O.T. Geestelik ofwel Christelik lees.

En as jy dit doen dan sien jy skielik die evangelie in die O.T.!

Die evangelie namelik dat God 'n genadige Redder is. Die hele O.T. word skielik 'n bewys daarvan dat daar van ons kant af geen weg na God is nie, maar dat God in sy genade self na ons moet toekom om ons te red.

God stuur 'n Middelaar om ons te verlos want self kom ons nie reg nie. En so leer die O.T. vir ons om klein te wees, dit leer vir ons om slegs te roem in God as 'n genadige Redder!

Vandag kyk ons met Stefanus na die geskiedenis van Abraham.

Eintlik alles heel bekende feite, maar in sy vertelling gee Stefanus vir ons steeds uitroeptekens: Let op God is 'n genadige Redder! Dit is dan ook ons tema vir vanoggend se preek:

God is 'n genadige Redder

  1. Hy moet geglo word
  2. Hy moet erken word
  3. Hy moet gedien word

In die verse 2-4 van hierdie hoofstuk het Stefanus vertel van die roeping van Abraham. Hy het aangedui hoe Abraham tenslotte in die land Kanaan kom bly het, die land waar julle nou woon.

Ons teks sê nou: En God het hom geen erfdeel daarin gegee nie, selfs geen voetbreed nie, maar Hy het belowe om om dit aan hom en sy nageslag na hom as eiendom te gee, toe hy nog geen kind gehad het nie.

Wat staan daar dus? Geen voetbreed grond nie, slegs 'n belofte.

Daarmee moet Abraham dit doen. Die heil wat God vir hom belowe word geen tasbare werklikheid nie, maar bly voorlopig net 'n belofte. 'n Belofte wat jy alleen maar kan glo, want sien kan jy dit nie. Meer het Abraham nie gehad nie.

Wel dit is nou kenmerkend vir die manier waarop God met sy uitverkorenes omgaan. Hulle kan slegs leef van die belofte.

Kyk maar na Abraham. Hy het 'n belofte van 'n heel land, maar voorlopig: geen voetbreed grond nie.

Hy het 'n belofte van 'n talryk nageslag, maar voorlopig geen kind nie!

Dus al wat hy het is 'n belofte wat hy alleen maar kan glo.

En dan sê Stefanus kom daar vir Abraham nog iets by. Ons lees dit in vers 6: En God het aan hom dit gesê, dat sy nageslag bywoners in 'n vreemde land sou wees. Daar sal vir Abraham 'n nageslag kom, maar wat gebeur met hulle? Geen eie land nie, vreemdelinge en bywoners sal hulle wees. En asof dit nie erg genoeg is nie, God sê ook alvas maar vir Abraham. Hulle sal tot slawe gemaak word en hulle sal mishandel word, vierhonders jaar lank.

Wat 'n belofte! Hoe moet Abraham voel oor so 'n belofte?

Die Here laat hom minstens vierhonderd jaar die toekoms in kyk, maar al wat hy sien is: geen land vir sy nageslag nie, enkel 'n voorsegging dat hulle vir vier eeue in slawerny gehou sal word en daarin boonop nog mishandel sal word.

Dit moet dan die toekoms vir Abraham en sy nakomelinge wees nadat God hom uit sy land en uit sy familie weggeroep het. Is dit al wat die Almagtige God vir Abraham kan belowe?

Is dit dan die rykdom van die Verbond?

Moet jy dit as 'n voorreg sien?

Moet jy geroepe bly voel deur so'n God?

'n God wat jou al jou sekerhede ontneem en jou uitsluitlik laat leef by 'n belofte? En dan nog wel so'n sombere belofte?

Waarom wys Stefanus so nadruklik daarop dat Abraham absoluut niks meer as net 'n belofte gehad het nie? Dat Abraham heeltemal sonder enige sigbare en tasbare sekerheid moes klaarkom?

Wel, dit het hierdie rede: die Jodedom het juis hul sekerhede gesoek by allerhande sigbare sake.

Dit is ook die manier waarop hulle met die Bybel omgaan. Hulle sal allerhande bybeltekste probeer gebruik vir die daar-stelling van menslike sekerhede.

Ek sal u 'n paar voorbeelde noem om te besef waaroor dit gaan.

Soos u weet het die Jode graag hul sekerheid gesoek by die feit dat hulle die tempel van Jahwe gehad het. U onthou moontlik nog uit die preke uit Miga hoe hulle veilig gevoel het by die tempel, ons het mos die tempel, ons kan niks gebeur nie.

Of: ons bly mos in die stad Jerusalem die uitverkore Godstad, wat kan met ons verkeerd gaan?

Of, ons het mos die wet van Moses, daarin is ons klaar gered.

Dit is hierdie houding waardeur hulle totaal onbereikbaar geword het vir die prediking deur die profete. Selfs die Here Jesus kon nie deurdring tot die groot meerderheid van die Jode nie, vanweë hierdie godsdienstige eiewaan.

Want as jy so met die woord van God omgaan dan is jy inderdaad heeltemal onbereikbaar. Want dan besef jy nie meer dat jy 'n sondaar is wat uit genade gered moet word nie. Dan het jy inderdaad geen redder, geen Middelaar meer nodig nie.

Wel, in die geval kan jy, al is jy honderd keer 'n Jood selfs die O.T. nie meer lees nie, want dan weier jy die bedekking wat oor jou gesig hang weg te neem.

Stefanus wil uit liefde tot die mense alles wel doen om daardie bedekking weg te ruk en vir hulle leer om die Skrifte werklik Geestelik te lees en in die O.T. die weg van God met 'n ongehoorsame volk raak te sien. En dan gaan dit nie net daarom dat hulle hulself as ongehoorsame volk leer raaksien nie, maar veral dat hulle oog moet kry vir die wonderlike genade van die Here, dat Hy tog steeds weer met hulle wou omgaan, dat Hy dit steeds weer wou probeer omdat Hy 'n genadige redder is.

As ons so die toespraak van Stefanus hier in Handelinge 7 leer lees dan gaan ons vanself iets meer verstaan waarom die Jode so woedend geraak het toe hulle hierdie verhaal van Stefanus moes aanhoor.

Immers hy trek hul so gekoesterde sekerhede een vir een omver. Dit is nie hulle vleeslike afkoms van Abraham is wat hulle gaan red nie. Hulle sal as smekelinge terugmoet na die genadige God.

Hierdie boodskap van Stefanus is tot vandag toe nie populêr nie.

Veelmeer populêr is die moderne Israelteologie wat alle aandag vra vir die Jerusalem van vandag en sê: Kyk wat gebeur daar? !

Sien tog wat God doen! Dit is 'n bewys dat ou profesieë nog steeds vervul moet word. God het weer na Sion teruggekeer, die bewys is sinds 1948 daar.

Stefanus sou sê: Nee, leef maar by die beloftes van die Here. Hou jou by sy woord en moet nie leef by sigbare sekerhede nie maar leef uit geloof. Leef uit die hoop wat nie gesien word nie.

So het ook die eerste gemmeente van Jerusalem waaraan Stefanus behoort het geleef. Wat het hulle aan sigbare werklikhede gehad?

Het hulle Jesus Christus by hulle gehad? Nee mos! Jesus was opgevaar na die hemel. Hy het aan die regterhand van God gaan sit. Dit het hulle geglo en daarvoor het hulle hul lewe gegee.

Die heil in Christus was vir hulle nie 'n tasbare werklikheid nie, maar 'n saak wat in geloof gegryp moes word. En dit bly dit tot vandag toe. Laat ons nooit ons sekerheid en ons veiligheid soek by tasbare sekerhede nie, want hulle kan ons enige tyd ontval. Laat ons ons enigste sekerheid soek daar waar dit te vinde is namelik in die beloftes van ons Here Jesus Christus.

2. Die God moet erken word

Vers 7: En die nasie aan wie hulle diensbaar sal wees, sal Ek oordeel, het God gesê.

Ook hier tref ons weer die opvallende verteltrant van Stefanus. Na vers 6 sou ons namelik verwag dat God sou begin praat van die bevryding van sy volk uit die slawerny. Op die manier van hulle sal eers 'n slawevolk wees, maar daaruit sal Ek hulle bevry.

Maar die merkwaardige is dat eers die oordeel oor die Egiptenare genoem word. Ek sal hulle oordeel sê die Here, en dan as 'n gedagte agteraf: daarna sal my volk uittrek.

Dus ook hier sien ons heel duidelik: nie die volk self staan in die middelpunt van die belangstelling nie, maar dit gaan veelmeer oor die werk van die Here.

Hy stel 'n volk aan om die nageslag van Abraham te kneg en Hy kom op sy tyd weer met 'n oordeel daaroor.

En dan in die oordeel oor die ander volk lê die bevryding vir Israel. Dus in die vertelling gaan dit om God. Hy voer sy plan uit. Hy bring plae oor die land Egipte. En in dit alles tree Hy op as 'n genadige Redder.

Dit is werklik christelik lees van die O.T. Elke verlossing is God se verlossing. Hy, Hy alleen het dit gedoen.

In die opsig is die bevrydingsteologie van vandag 'n vorm van verjoodsing van die teologie. In die bevrydingsteologie word alle aandag gevra vir die mens wat homself moet bevry. Daarvoor word met graagte 'n beroep op die O.T. gedoen en wel met name op die geskiedenis van die uittog uit Egipte.

Maar dan lees jy die O.T. buite Christus om.

Dan lees jy die Bybel met 'n bedekking oor jou gesig en kan jy dit nie meer verstaan nie.

Dan is jy sommer bereid om in die naam van die Bybel 'n revolusie te begin.

Dan wil jy jouself help in die naam van God. Dan het jy dus feitlik nie meer 'n middelaar nodig nie. Jy red jouself.

Maar as jy die Bybel deur die Gees lees dan besef jy dat die Here daar steeds sê: Wag op My! Aan my kom die oordeel toe! Ek sal jou uitred en jy moet My eer!

Die Here sal reg verskaf. Hy sal uitkoms gee. Dit is werklik evangelie. Jy hoef jouself nie te red nie. God is 'n genadige Redder. Hy wil deur jou ook steeds as sodanig erken word.

So mag ons die Bybel lees, ook vir onsself.

Die Here kom daarin steeds weer na jou toe as jou Redder.

Jy moet uit die woord jouself as 'n sondaar leer sien, as 'n sondaar war Sy genade nodig het. En wanneer jy so die Woord van die Here lees dan het dit altyd 'n boodskap vir jou. Dan bring elke bybelgedeelte wat jy lees jou tenslotte aan die voete van Jesus Christus, die deur God gegewe Middelaar.

3. Die God moet gedien word

Ons lees verder in vers 7: Daarna sal hulle uittrek en My in hierdie plek dien.

Met hierdie woorde is die bedoeling van die Here met die uittog uit Egipte volstrek duidelik gemaak. Dit gaan nie om die volk se vryheid op sig nie, dit gaan nie daarom dat hulle reg het op 'n lewe sonder slawerny nie, maar dit gaan die Here in die eerste plek om die diens van sy volk. Hulle sal uittrek en My dien. Hulle slawediens moet plekmaak vir erediens.

Immers wat beteken vryheid as daar nie diens aan die Here is nie?

Die hele lewe behoort erediens aan God te wees in Jesus Christus. Anders is dit maar net selfdiens.

Dus met hierdie woorde laat Stefanus die Jode besef: Mense, dit het die Here nie om julle op sig gegaan nie, dit gaan hom om die roeping wat Hy vir julle gehad het, namelik om Hom te dien.

Julle moet My dien 'in hierdie plek', watter plek is dit?

As die Here die woorde spreek tot Moses dan bedoel Hy ongetwyfeld die plek waar Moses op daardie oomblik is, nl by die brandende braambos iewers in die Sinaiwoestyn.

Maar tegelykertyd kan die uitdrukking 'in hierdie plek' ook slaan op Jerusalem. Dit is mos die plek wat die Here verkies het om Sy Naam te laat woon.

Ek dink nie dat dit die bedoeling is dat ons hier 'n keuse moet maak nie. Stefanus bedoel juis, dit maak eintlik nie saak waar jy die Here dien nie. Die een plek is vir die Here ewegoed as die ander.

En dan onthou ons skielik die beskuldiging waarop Stefanus teregstaan. Dit is dat hy nie eerbiedig genoeg oor die tempel en oor Jerusalem praat nie. Hy sê steeds: Maak nie saak waar jy die Here dien nie. Sinds Christus na die hemel opgevaar het kan jy hom op enige plek op die aarde dien.

Solank Hy maar in die middelpunt van jou lewe staan is die plek waar jy Hom dien glad nie tersake nie.

As jy Hom aanroep as die genadige Redder, dan mag jy Hom orals aanbid.

En as jy Hom nie as die genadige Redder wil aanroep nie dan help dit vir jou ook niks om in Jerusalem te aanbid nie., want die Here wil slegs as 'n genadige God aanbid word. Hy stel geen belang in die aanbidding van mense wat ondanks hul mooi woorde maar net hulself op die oog het.

Dit gaan die Here enkel en alleen om die mens wat hom in geloof vasklamp aan sy beloftes.

Vers 8 onderstreep en herhaal dit nog 'n slag.

Opnuut is Abraham in beeld. Hy het van God enkel 'n belofte ontvang en dan nog wel 'n belofte wat vir 'n deel 'n somber toekoms teken.

God gee aan Abraham die verbond van die besnydenis.

Daardie verbond word deur Abraham in geloof aanvaar, en so word hy die vader van Isak.

Let op die woordjie 'so'. So word Abraham die vader van Isak en so besny hy Isak. Dit wil sê Abraham moes geheel uit geloof die kind Isak verwek en besny.

Daardie besnydenis is namelik 'n teken wat slegs in die geloof betekenis het. Die besnydenis as sakrament verwys na die beloftes wat God gegee het. Soos ons doop op sig ook niks beteken nie, maar sy waarde ontleen aan die geloof in die belofte waarna die sakrament verwys.

Met hierdie verwysing na die besnydenis van die aartsvaders staan Stefanus weer op gevoelige Joodse tone, want vir hulle het die besnydenis in sigself 'n groot waarde verteenwoordig. Dit was vir hulle baie meer as n simbool wat na iets anders verwys. Hul besnydenis was iets soos hul nasionale trots. Hulle kon met groot veragting oor die res van die wêreld praat as die 'onbesnedenes'.

En dan verwys die besnydenis eintlik nie meer na die grootheid van die genadige God nie maar eerder na die grootheid van die uitverkore volk Israel.

Dan word die besnydenis 'n simbool van selfversekerdheid in pleks van 'n simbool van geloofsvertroue.

En daarmee het hulle hul dan ver verwyder van hul vader Abraham. Hy het niks gehad om homself te prys nie. Hy het geen enkele sekerheid gehad nie. Geen voetbreed grond nie. Net 'n belofte.

Maar met die belofte voor oë het sy kinders besny.

Op daardie geloof word ons ook vandag aangespreek. Immers ook U en ik, as mense, is geneig om in allerhande sake ons sekerhede te soek. In ons kerklidmaatskap, of in ons kerklike tradisies, of in ons leefgewoontes en noem maar op. Nie dat daar altyd met tradisies of gewoontes iets verkeerd is nie, maar ons moet net pasop dat hulle nie ons lewe uit die geloof gaan vervang of verhinder nie.

Geloof in Jesus Christus is om middein die lewe met al sy onsekerhede te staan en dan met blymoedigheid te sê: Die Here is 'n genadige Redder. Hy het vir my sy beloftes gegee. Daaruit leef ik en daarom kan ek altyd verder.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)