Die God van Israel vervul die kerk van Christus met die Gees van Christus

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Handelinge 2
Preek Inhoud: 

PREEK OOR HANDELINGE 2: 1-4

LITURGIE:
L. Hand. 2: 1-36
Ps. 50: 1, 2
Ps. 50: 8, 11
Ps. 68: 7, 13, 16
Ps. 96: 2, 4
Ps. 67: 2

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Pinkster is die begin van die einde.

Met die uitstorting van die Heilige Gees het die laaste dae voor die groot en deurlugtige dag van die HERE ingegaan.

Dit het Petrus op die Pinksterdag uit die profesië van Joël aangewys. Daar kom vaart in God se heilplan. Van die uitstorting van die Heilige Gees gaan dit met haas na die laaste dag toe. Die Seun van God het die volgende stasie op die weg van sy magtige werke gepasseer; die voor laaste stasie voor sy glorieuse wederkoms op die wolke van die hemel.

Hy gaan die oes van sy verlossingswerk binnehaal, oorwin die wêreld deur sy Gees, Hy gaan menseharte verower, menselewens omvorm, 'n nuwe volk van God op aarde skep.

Die boek Handelinge is vanaf hoofstuk 2 daarvan die deurlopende bewys: omtrent drieduisend siele het nog op die eerste Pinksterdag tot geloof in die Christus gekom en hulle laat doop. Al gou groei dit tot vyfduisend siele uit. Dan swerf die apostels uit, Asië, hulle bereik Europa, die wêreldstad Rome........

En ons weet dat die boek Handelinge sy vervolg gekry het tot op vandag en tot aan die uiterste van die aarde. Oral is die Gees van Christus besig vandag om die mense vir die groot en deurlugtige dag van die HERE klaar te maak. Die triomftog wat op Pinkster begin het, het sindsdien nie meer tot stilstand gekom nie. Kan ook nie meer tot stilstand gebring word nie, aangesien

God die einde wil bereik.

Ja, dìt is vir ons Pinkster, broeders en susters: die begin van God se ekumeniese beweging na Christus se oorwinning op die sonde en die dood. 'n Beweging wat deur die Gees van Christus gestu word. Die eerste dag van die laaste dae, die begin van die einde.

En so wil ons dan ook op die eerste Pinksterdag terugsien, toe die God van Israel 'n groepie van omtrent 120 persone met die Heilige Gees kom en vervul het. Ons wil daardie eerste begin nie vergeet nie, ons wat soveel eeue later lewe en wat die magtige vervolg op daardie begin inmiddels gesien het.

Want die vervolg laat hom slegs uit daardie begin verklaar. Wie daardie begin nie gesien en verstaan het nie, kan ook die vervolg nie begryp nie.

Daarom bedien ek u op hierdie Pinksterdag in 1989 die evangelie van die uitstorting van die Heilige Gees soos ons dit in Hand. 2 vind. Ons hoor in ons teks:

DIE GOD VAN ISRAEL VERVUL DIE KERK VAN CHRISTUS MET DIE GEES VAN CHRISTUS.

Ons sal aandag gee aan drie punte:

  1. DIE KLEIN BEGIN,
  2. DIE KRAGTIGE BEWYS, EN
  3. DIE EKUMENIESE BELANG VAN HIERDIE HEILSFEIT.

1. God het op Pinkster klein begin, gemeente. Vanweë die indrukwekkende vervolg sou ons daardie klein begin maklik uit die oog kan verloor. Maar dan sou wel 'n onmisbare onderdeel van die Pinkstergebeure aan ons ontgaan.

Want Lukas begin sy Pinksterverhaal met die mededeling dat "almal eendragtig bymekaar" was toe die dag van die Pinksterfees aangebreek het.

Maar daardie "almal" was nie so veel nie! 'n Geselskap van omtrent 120 persone, weet ons uit die eerste hoofstuk van die boek Handelinge: 12 apostels, waaronder nou ook Mattias wat die plek van Judas ingeneem het, 'n aantal vroue waaronder Maria, die moeder van die Heiland, sy broers en so nog 'n klompie ander volgelinge van die Here. Daardie klein groepie, wat Jesus van Nasaret tydens sy reise deur Israel gevolg het, mense tot wie iets van die Goddelike glorie van hierdie Mens wat Homself wou verneder, begin deurdring het. Dissipels wat na Pase hulle doodgewaande Here teruggesien het en van daardie tyd die Skrifte begin verstaan en glo het, dat die Christus van God wel moès ly en sterwe en opstaan. Die eerste kleine christelike kerk wat na die hemelvaart van sy Hoof biddend op die teken vir sy sendingtaak gewag het.

Daardie "almal", of liewer: daardie klein groepie was iewers saam bymekaar, toe die God van Israel dààr sy Heilige Gees uitgestort het. So het die Pinksterbeweging begin.

Jerusalem was op daardie dag vol mense wat na die koms van die Gees uitgesien het. "Godsdienstige manne" noem Lukas hulle in vs. 5. Daar was duisende van hulle! Want na die geskenk van die Heilige Gees verlang- nie net daardie 120 mense by Petrus het dit gedoen nie. Alle ortodokse Jode wat Moses en die profete kon spel, het daarop gewag. Die God van Israel het dit in die Skrifte mos oorvloedig gesê: "Kyk, daar kom dae dat Ek met die huis van Israel en met die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het nie: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart" (Jer. 31: 31- 33). "Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees. My Gees sal Ek in jul binneste gee. En julle sal vir My 'n volk en Ek sal vir julle 'n God wees" (Eseg. 36: 26-28).

Dit sou 'n nuwe begin van God met sy volk wees waarin Hy dan alle volke sou gaan betrek.

Na daardie groot toekoms, daardie geskenk van die Gees, het die vrome Jode gesmag. Het God nie gesê nie: "Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge" (Jes. 44: 3).

Maar noudat dit dan eindelik sover is, noudat die God van Jakob eindelik die lankal beloofde Gees gaan uitgiet..... nou passeer Hy sommer al daardie duisende en beperk Hy Hom tot 'n klein groepie êrens in 'n aparte saaltjie. En as al die duisende ook in die geskenk van die Gees wil deel, sal hulle tog eers na daardie aparte saaltjie en daardie aparte groepie toe moet gaan en hulle gewonne gee aan wat daardie mense te vertel het.

Petrus kan net-nou wel sê dat die profesie van Joël op hierdie dag vervul word, dat God van sy Gees uitstort op alle vlees, maar elkeen kan sommer waarneem dat "alle vlees" vir eers tot net 120 persone beperk gebly het. Die groot geskenk is slegs aan 'n klein geselskap uitgedeel.

Ons verstaan wel hoekom God so klein begin het, broeders en susters. Maar die Jode in Jerusalem moes dit op diè dag ook leer verstaan. Petrus sal dit gou aan hulle duidelik maak, in sy eerste preek.

Daar is maar Een wat oor die Heilige Gees mag beskik: en dit is Jesus van Nasaret. Daardie Jesus wat gekruisig is, doodgemaak en begrawe, daardie Jesus met wie die skare nog onlangs so die spot gedrywe het, die Man wat hulle as 'n godslasteraar uit die stad uitgegooi het: Hy het alles met die uitstorting van die Heilige Gees te make. Die Jode in Jerusalem moet maar nie meen dat Hy dood is nie. Die graf was nie die einde nie. Het Hy nie al drie dae na sy dood die heilige stad in opskudding gebring met allerhande sinjale van 'n opstanding uit die dood nie? God het Hom uit die dode opgewek en tot 'n onaantasbare hoogte omhoog getrek: tot op die troon daarbo in die hemel. En toe mog hierdie einste Jesus, die gekruisigde, die geskenk van die Heilige Gees gaan uitdeel.

Maar -en die hele huis van Israel moet dìt nou dus wel weet!- Hy deel die Gees nie in die wilde weg uit nie, maar slegs daar waar geloof word dat Hy, Jesus, die Christus is, die Redder van God se volk en van die wêreld.

Al beteken dit ook dat die Gees maar net op 120 mense uitgestort kan word, God skaam Hom nie vir daardie klein begin nie. Want van die hemelvaart is die Heilige Gees die Gees van Christus en dus wil die Gees ook alleen daar woon waar Jesus as die Christus van die Skrifte geglo word.

Die Jode het Jesus nie in tel gehad nie, broeders en susters. Hulle het ook daardie klein geselskap van sy volgelinge nie in tel gehad nie., Skeurmakers was hulle, nalopers van die Man wat weens godlastering veroordeel en gedood was. Gelukkig maar min mense. En mens kon hul kerksaaltjie nie vergelyk met die indrukwekkende tempelgeboue waar die priesters op hierdie dag die ontelbare feesoffers sou bring nie.

Die groot menigte in Jerusalem het gedink: hulle met hul tempel is God se Sion, waarvan ons met Psalm 68 gesing het: "God self het hierdie berg begeer, om daar in lig, in glans, in eer, vir ewig by sy volk te woon en voor hul oog te skitter". En hulle het verwag dat die Gees van God dus eendag op hulle uitgestort sou word. Het die profete soos Jesaja en Joel nie gesê dat die Gees van God oor Sion sou neerdaal nie? Verbondsoutomatisme!

Maar God maak op hierdie dag duidelik: Sion is nie outomaties dieselfde as Jerusalem nie. Sion, my woonplek, is alleen daar waar my Seun geglo en sy offer vir die sondes aanvaar word.

God passeer die tempel, die priesters, die groot menigte wat by tallose offers feesvier en Hy organiseer die egte Pinksterfees daar waar die meeste mense dit nooit verwag het nie: by daardie klein klompie volgelinge van Jesus van Nasaret. Daar is die egte Pinksterfees: die fees van die volle oes. Want daar kom die Pinkstergees om die volle oes van Christus se verlossingswerk in te samel.

En dààr sal van nou af en voortaan die Heilige Gees te vinde wees: in die kerk van Jesus Christus. Vandaaruit sal die Gees die wêreld oorgaan. Die Gees van Christus bly aan die kerk van Christus verbonde.

God het in daardie klein begin op die Pinksterdag vir altyd die weg na die Heilige Gees aangewys, gemeente. In die kerk van Christus, met die Woord van Christus, met die ampte wat Christus self ingestel het- dààr gee God die Gees van Christus.

Hy steur Hom daarby nie aan groot getalle, ou geboue, die oudste papiere ensomeer nie. Al is daar ook maar twee of drie in die Naam van Jesus Christus byeen, daar sal Hy met die Gees van Christus wees, om die vrugte vir die skuur van sy Koninkryk bymekaar te maak.

Ons kan daardie klein begin moeilik vergeet. Nòg altyd is die kerk van Christus wat aan die Woord van Christus trou wil bly, by die groot menigte nie in tel nie. Nog altyd kan die meeste mense wat hulleself ook baie godsdienstig beskou, nie verstaan hoekom daar in die kerkgeskiedenis telkens weer skeuring, afskeiding, vrymaking moes wees. En ook ons kan begin twyfel of dit nog wel sinvol is om met so'n klein aantal kerke en mense apart te bly staan.

Maar as ons apart kom te staan het òmdat ons die Woord van ons Here Christus trou wou bly en omdat ons sy Gees nie wou bedroef deur ongehoorsaamheid of selfs uitdoof deur veragting van sy Woord nie, dan mag ons, hoe klein in aantal ook al, daarvan seker wees dat God self deur die Gees van Christus by ons woon.

2. God het aan daardie klein begin 'n kragtige bewys vasgeknoop, gemeente, dat Hy tog rêrig dààr met sy Gees aanwesig wou wees.

Hy het mos die uitstorting van die Heilige Gees met indrukwekkende tekens gepaard laat gaan. Dit het begin met daardie geluid soos van 'n geweldige rukwind wat die hele huis waar hulle bymekaar was, vervul het.

Dit het skielik gelyk asof daar 'n storm geloei het wat hom maar net op een huis in die hele stad gekonsentreer het. Ook buite daardie huis tot ver in die omtrek was die geluid van die storm wel hoorbaar, maar Lukas omskryf dit so vir ons dat dit blykbaar vir elkeen duidelik was dat die geluid van die rukwind direk vanuit die hemel in daardie een huis gekom en binneval het. Baie mense het al gou saamgedrom om te verneem wat aangegaan het.

Die Jode wat uit nuuskierigheid na binnegegaan het, het daar 'n tweede teken van God aangetref: tonge soos van vuur wat hulleself verdeel en op elkeen van die aanwesige dissipels van Jesus gaan sit het.

Alles bymekaar was dit 'n duidelike saak dat die hemel hierin die hand het. Hier het wonderlike dinge wat die grense van die menslike vermoë ver te bowe gegaan het, gebeur. Hier het God die HERE self Hom gepresenteer. Hy het, soos so dikwels, sy aanwesigheid deur die tekens van wind en vuur bewys.

Met hierdie tekens het Hy vanaf die verbondsluiting in die Sinaiwoestyn telkens na sy volk toe gekom. Daar in die Sinai, bo op die Horebberg het die HERE vir die eerste keer Hom aan sy volk in 'n laaiende vuurgloed en 'n loeiende stormwind vertoon. En sindsdien het dit die teken van sy koms gebly. Ons het daarvan gesing in Psalm 50: "Hy kom, Hy kom, met vuur wat voor Hom heen verteer! Geweldig storm dit rondom Hom, die HERE daal op aarde neer". So het die profeet Elia die HERE sien en hoor kom toe hy na die berg Horeb toe gevlug was. En wanneer Esegiël in die eerste die beste visioen wat hy gekry het, die HERE na hom toe sien kom, vertel hy: "Toe het ek gekyk - en daar het 'n stormwind uit die noorde gekom, 'n groot wolk met onophoudelike vuur.... ".

Wind en vuur -daaraan het die HERE laat weet dat Hy present was.

En daaraan laat die HERE dus ook nou weet dat Hy present is: by die kleine kerk van Christus wat apart in 'n saaltjie bymekaar is. Die hele Jerusalem moet weet vandag dat die God van Israel, die God van die verbond, Hom nou daar laat vind. Hy val vanuit die hemel regstreeks binne in daardie een huis en soek die groep wat daar bymekaar is, terwyl Hy die tempel, Annas, Kajafas, die Sanhedrin en duisende Jode links laat lê.

Meer nog: Hy bewys dat Hy daar wil woon! Dat Hy met daardie eenvoudige vissers en vroue met 'n slegte verlede, met tollenaars en so meer wil omgaan, sonder dat hulle deur die vuur van sy heiligheid verteer of deur die stormwind van sy toorn omvergeblaas word.

Want daar is in die tekens 'n groot verskil met vroeër: toe die Horeb in ligte laaie gestaan het en daar 'n orkaanwind om die berg geloei het, het die volk die uitdruklike bevel gekry: moenie die berg aanraak nie maar bly op 'n veilige afstand, anders sal julle sterwe!

Maar vandag word daar wel die geluid van 'n rukwind gehoor, maar ook nie mèèr nie: die krag van die rukwind word glad nie gevoel nie. En vandag word daar wel die verskynsel van vuur gesien, maar die krag van vuur word nie gevoel nie. Die vuurvlammetjies op die hoofde van almal verskroei selfs nie die hare nie!

Die wind verniel nie en die vuur verbrand nie en niemand hoef op hierdie dag te sterwe nie.

Want God kom by sy volk woon sonder dat die storm en die vuur nog langer 'n afstand tot die sondige mense hoef te skep. Die afstand is deur die offer van Christus oorbrug. God kom deur die Gees van Christus nou woning maak in die harte van hierdie mense.

Kyk, dit wou God duidelik in Jerusalem demonstreer op die Pinksterdag. Hier, in hierdie klein kerkie, waar in Jesus as die Christus, my Seun en in sy offer vir die sondes geglo word, waar sy Woord bewaar word, hier neem Ek my intrek sonder dat my toorn loeiend en laaiend hoef uit te slaan. Hier maak Ek die mense tot tempels van my Heilige Gees, sodat Ek die tempel van steen nie meer nodig het nie.

En ek sê weereens, broeders en susters: ons moet daardie indrukwekkende begin, die kragtige bewys dat God die kerk van Christus met die Gees van Christus vervul, nie vergeet nie.

Want ons sien vandag daardie besondere tekens van God se aanwesigheid nie meer in die kerk nie. Die Pinkstergroepe mag dan daarmee spog dat hulle vandag nog altyd deur die Gees in tale praat, maar dis onkontroleerbare gepraat en hoekom sien ons by hulle dan nie ook daardie tongetjies soos van vuur nie? En hoekom hoor ons dan vandag nooit meer by hulle 'n geluid soos van 'n rukwind nie? Nee, wind, vuur, tale- die tekens van die begin het verdwyn en dit wat oorgebly het is 'n eenvoudige preek, doopsbediening, nagmaalsviering, katkisasie....

Maar God het dit toè vir eens en vir altyd aangewys: waar dit alles trou volgens die Woord van Christus gebeur, daar is Ek self deur die Heilige Gees aanwesig. Daar is my toorn gestil en is Ek in ontferming te vinde. Daar is die sondes versoen en is daar weer hoop vir die lewe. Die wat in die kerk van Christus in onderwerping aan die Woord van Christus die lewe soek, mag daarvan seker wees -al sien die blote oog ook niks meer daarvan nie- dat die Gees van Christus in sy hart sy intrek kom neem om dit tot 'n tempel vir God te maak. Diè word met die Heilige Gees vervùl.

3. Ons lees tenslotte in ons teks van die ekumeniese belang van die uitstorting van die Heilige Gees. "Ekumenies": belangrik vir die hele wêreld.

Want wanneer God die Heilige Gees op Pinksater uitstort, wil Hy nie by die geselskap van 120 mense bly staan nie. Die Gees van Christus wil die hele wêreld oor. Die 120 moet nog die einste dag 3000 word, 'n paar weke later 5000; behalwe Jode moet daar ook Grieke, Romeine, Egiptenaars, Hollanders, Engelse, Bantoes ensomeer vir Christus gewen word. Ja, dit moet 'n ontelbare menigte word uit alle volke, stamme en tale.

Daarom vervul God daardie eerste 120 met sy Heilige Gees. Hy maak hul harte so vol met sy Gees dat die mond daarvan begin oorloop. Hulle begin skielik in baie verskillende tale die evangelie van verlossing in Christus uitbasuin. In veel tale word die een evangelie hoorbaar. En die insig in die Skrifte groei. Die Gees verlig die verstand sodat Petrus net-nou sommerso uit die Ou Testament orals kan aanwys dat Jesus van Nasaret die Christus is. Hulle is plotseling nie meer bang vir teëspraak nie, maar hulle het die regte woorde direk by die hand. Hulle is nie langer bevrees vir vervolging of gevangenskap nie, maar die Gees dwing hulle om van hul Here as die Redder van die wêreld te bly praat. Kortom, die wat die gawe van die Gees ontvang word tegelyk 'n instrument waardeur die Gees ook ander harte wil bewerk en bewoon.

Dit is ook Pinkster: die kerk van Christus wat die Gees van Christus ontvang, word nu dadelik tot 'n instrument van Christus waarmee Hy die wêreld gaan verower. Vervul met die Gees van Christus roep die kerk ook ander mense tot geloof in Christus sodat ook diè met sy Gees vervul mag word. En sò bereik God die uiterste van die aarde en die laaste dag van die geskiedenis.

Ons het Hom so vanaf daardie eerste Pinksterdag met daardie klein en nogtans so indrukwekkende begin, na ons toe sien kom, broeders en susters, die wêreld deur, die eeue deur. Telkens het Hy 'n prekende kerk gebruik by die voortgang van sy werk.

En ons mag Hom so deur ons nog verder sien kom, deur ons uitdra en verderdra van sy Woord, deur ons evangelisasie- en sendingwerk. Ons is by sy ekumeniese belang ingeskakel. God soek die hele wêreld. Die eerstelinge van die Pinksterfees vra om die volledige oes. Die Gees sal nie rus voordat die groot en deurlugtige dag van die HERE aanbreek nie.

Dus kan ons ook nie rus nie, solank God self ons nie tot die rus roep nie.

Ons wil tog ook nie rus nie, gemeente? Noudat ons die begin weer gesien het en rondom ons die vervolg agterkom, nou wil ons tog mèt die Gees die einde bereik!

AMEN.

(Pretoria, 14 Mei 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)