Die vervulling van Judas se ampsvakature beteken die vloek oor Judas se ampsverraad

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Handelinge 1
Preek Inhoud: 

PREEK OOR HANDELINGE 1: 15-22

LITURGIE:
L. Psalm 69: 7-14 en 25-37 & Psalm 109
Ps. 101: 1, 3, 6
Ps. 73: 12
Ps. 21: 6, 7, 9
Ps. 109: 6
Ps. 69: 11, 14

Was dit feitlik wel 'n goeie ding, broeders en susters, daardie verkiesing van Mattias as apostel in die plek van Judas?

Dis 'n vraag was al dikwels by ons teksverse gevra is.

Het die kleine kerk tussen hemelvaart en Pinkster tereg daartoe oorgegaan om in die vakature-Judas 'n dubbeltal te stel en na loting Mattias as die nuwe twaalfde apostel te aanvaar?

Of was dit 'n voorbarige en eiesinnige daad, op voorstel van die al te ywerige Petrus?

Hierdie vraag het opgekom -ook in die kring van die Gereformeerde Kerke- aangesien die Here Jesus Christus al gou na Pinkster sèlf ook 'n apostel geroep het in die persoon van Paulus.

Was Paulus niet die eintlike twaalfde apostel nie? En was die indrukwekkende roeping van hierdie Saulus van Tarsus deur die verskyning van Christus self nie 'n korrektie agteraf van die oorhaaste beslissing van die dissipels voor Pinkster nie? Wou Christus met die roeping van Paulus tot die apostelamp duidelik maak: Ek bepaal self wie tot die fondament behoort waarop Ek die kerk van alle eeue gaan bou?

Ons hoor mos van Mattias ook verder niks meer in die Bybel nie?

Tog lyk dit vir my, broeders en susters, dat die wat hierdie vraag by ons teks opgewerp het, self bietjie te voorbarig was.

Dit moet ons by 'n dergelike vraagstelling al dadelik tot versigtigheid maan dat Lukas die geskiedenis van die verkiesing van Mattias vertel zonder enige afkeurende kommentaar. En zón kommentaar sou ons tog mog verwag as die vervulling van Judas se vakature inderdaad te haastig en dus ongeoorloof was gewees.

Maar bowendien moet ons nie daaraan verby lees nie dat Petrus vrymoedig durf te sê dat daar nou wel 'n vervulling in die vakature-Judas moet kom. En dan bring hy daarby nie sy siening oor hierdie vakature-kwessie te berde nie, maar hy verwys nadruklik na die Skrifte. Die Skrifte dwing daartoe om die vakature-Judas sou gou as moontlik te vervul deur die verkiesing van 'n nuwe apostel.

Want die Skrifte werp 'n spesiale lig op hierdie vakature: die duistere lig van God se vloek oor Judas se verraad. Die Skrifte leer dat dit by hierdie vakature nie net saak is dat die elftal weer 'n twaalftal word nie, maar dat deur die vervulling van Judas se ampsvakature die vloek oor Judas se ampsverraad voltrek word.

So wil ek met u die geskiedenis van ons teks lees. Ons hoor hier dus, kort saamgevat, hierdie boodskap:

DIE VERVULLING VAN JUDAS SE AMPSVAKATURE BETEKEN DIE VLOEK OOR JUDAS SE AMPSVERRAAD.

ONS WIL NAGAAN HOEDAT DIE KERK DIÈ VLOEK

  1. VANUIT DIE SKRIF VERSTAAN HET
  2. VOLGENS DIE SKRIF VERDER VOLTREK HET.

1. Ja, dis opvallend in ons teksverhaal, gemeente, hoeseer Petrus die vervulling van die vakature Judas as 'n saak van die Skrif gesien het. As hy die woord neem in die gemeentevergadering en die kwessie-Judas aan die orde stel, begin hy uit die staanspoor uit om op die Skrif te wys. En met konkrete Skrifverwysings kom hy tot die gevolgtrekking dat daar 'n nuwe apostel in Judas se plek gekies moet word.

Die Heilige Skrif was vir die dissipels nie langer 'n geslote boek nie. Christus self het vir hulle hierdie Boek leer lees, voordat Hy na Pase teruggekeer het na die hemel.

Lukas het aan die einde van sy evangeliebeskrywing vertel hoeveel geduldige moeite die Heiland daarvoor wou doen. U kan maar dink aan die verhaal van die Emmausgangers. Die hele Ou Testament het Christus met daardie twee deurgekruip om vir hulle te wys wat alles in die Skrifte op Hom betrekking het. En nog die einste aand, so vertel Lukas ons, het Christus diè Bybelonderrig vir die gesamentlike apostels herhaal. En "toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan".

Dit was vir die Here van die grootste belang dat sy kerk aanstonds die Skrif sou ken en verstaan, wanneer Hy hemel toe sou gegaan het. Veertig dae lank het Hy na Pase nog daarvoor die tyd geneem, vertel Lukas weereens aan die begin van hierdie boek Handelinge. In daardie veertig dae het Hy met hulle oor die dinge van die Koninkryk van God gespreek.

Nou blyk dit dan dat al daardie moeite nie tevergeefs was nie. Petrus blyk al gou - en net-nou op die Pinksterdag opnuut- 'n volleerde Skrifuitlegger te wees.

Daar was nog altyd die geval-Judas.

Christus is inmiddels terug in die hemel om die koms van sy Koninkryk nou daarvandaan, vanaf sy troon daar, te bewerk. En die kleine gemeente wag gehoorsaam in Jerusalem nadere instruksies af. Die Heilige Gees sal mos oor hulle kom.

Maar ondertussen lê die saak-Judas nog altyd daar. Daar is nog steeds daardie een leë plek in die apostelbank, wat skrynend herinner aan die vuile verraad van Judas.

Dan staan daar skielik Petrus op en sê: Ek lees in die Skrif dat ons hierdie saak nie sommerso kan laat lê nie. Ons kan nie daarmee volstaan om te sê: dit is aaklig dat daar een uit ons kring wat taamlik vroeg al deur die Here tot sy spesiale twaalftal uitgekies is, so diep kon val dat hy ons Here en Heiland aan sy beule uitgelewer het, en dit nog wel deur 'n skynheilige soen. Nee, dis nie voldoende om te sê: wat gebeur het, het gebeur; Judas het sy straf wel gekry en nou moet ons maar sonder hom verder.

As ek die Skrif lees, kom ek tot die gevolgtrekking dat ons met Judas nog nie klaar is nie. Sy oop plek mag nie bly bestaan nie. Ons moet daarvoor sorg dat 'n ander een sy plek inneem.

En dan blyk dit, broeders en susters, dat Petrus 'n diep insig in die Skrifte van die Ou Testament gekry het.

Hy herinnerom te begin sy broeders en susters aan die verdiende loon wat Judas vir sy verraad ontvang het. Die hele Jerusalem weet inmiddels daarvan.

Judas wou aan sy verraad verdien. "Wat wil u my gee? " het hy gevra. "Hoeveel kan ek daarmee verdien? " En daarmee het aan die lig gekom dat Judas ryk wou wees in die teenwoordige wêreld; dat hy sy hoop meer gestel het op die onsekerheid van die rykdom as op die lewende God. Judas wou hier op aarde skatte bymekaarmaak, waar mot en roes verniel. Omdat 'n skat in die hemel vir sy gevoel so'n ongrypbare ding was.

Hy het regtig heeltemal by die apostelkring behoort. Ook aan hom het die eer te beurt geval dat hy een van die twaalf apostels mog wees van die lankal verwagte Messias-Koning wat die Koninkryk van God onder Israel kom bring het. Toe het daar iets gewees wat hom magtig in Jesus Christus aangetrek het.

Maar agteraf het geblyk dat Judas die volg van Jesus as iets winsgewends beskou het. Hy het self 'n dief geword wat die geld van die gesamentlike apostels wat aan hom toevertrou was, ook vir eie uitgawes gebruik het.

Aardse verwagtings het Judas van Jesus gekoester. Hy het gedink dit is voordelig om Jesus te volg. Hy het homself miskien al in die toekoms gesien as 'n belangrike minister in Christus se Koninkryk. Bepaalde wonders het daardie hoop ook aangewakker. Eer en aansien het hy gesoek. Maar op die ou end het alles hom begin teleurstel. Jesus was nie dìt wat Judas verwag het nie. En toe het daardie verraad gegroei. Judas het 'n manier gesien om tog aan Jesus te verdien. "Wat kan ek verdien as ek Hom aan julle uitlewer? ", het hy aan die Sanhedrin gevra. En hulle het ooreengekom dat die verradersloon dertig silwerstukke sou wees, as ons dit in Rande omreken 'n salaris vir omtrent drie maande. 'n Inkome vir 'n kwartaal. 'n Bietjie verdienste darem nog aan Jesus.

Maar wat het hy uiteindelik daarmee gewen? , vra Petrus. Wat het sy uiteindelike loon geword? Elkeen in Jerusalem weet dit: 'n stukkie grond wat as begraafplaas gebruik word, terwyl hy self op 'n grusame wyse aan sy end gekom het. Die weinige wins wat hy gesoek het, het 'n volledige verlies geword. Alles het hy verspeel. Hulle het sy liggaam gevind, deerlik vermink aangesien hy by sy selfmoord vooroor te pletter geval het. En van daardie bietjie geld wat hy aan sy verraad verdien het, is 'n begraafplaas gekoop waaraan die bewoners van Jerusalem al gou bietjie spottend die ongunstige naam "Bloedgrond" gegee het. Was dit nie van bloedgeld gekoop nie? Hierdie grond sal die verraad nog lank in herinnering bly roep.

Maar, sê Petrus, dit is meer as 'n tragiese lot, broeders en susters! As ons sê dat Judas sy verdiende loon gekry het, laat ons dan wel daarby bedink dat Gòd dit is wat aan Judas sy loon uitbetaal het. So moes dit ook wel met die verrader van die Christus afloop! Oor hom het die vloek gekom waarvan die Heilige Gees in die Skrif alreeds by monde van Dawid gepraat het.

En dan verwys Petrus na wat daar staan in Psalm 69: "Laat sy woonplek woes word en laat daar geen inwoner in wees nie".

Hier blyk hoedat Petrus die Skrifte gaan verstaan het. In Psalm 69 besing Dawid hoe hy moet ly onder die smaad en die haat van teëstanders. Hy, die gesalfde koning van Israel, wat deur die ywer vir God se huis verteer word, het 'n vreemde geword selfs vir sy eie broeders. Omdat hy hom beywer vir die heiligheid van die verbond met die HERE, sing dronkaards 'n spotlied op hom.

Petrus het leer sien hoedat hierdie Psalm van Dawid sy vervulling gekry het in die lewe van die groot Seun van Dawid, sy Here Jesus Christus. Ook Hy is gehaat en bespot vanwee sy ywer vir die huis van God. 'n Ywer wat Dawid se ywer nog ver oortref het. 'n Ywer waardeur Hy Homself totaal in die vuur van God se toorngloed laat verteer het.

Maar toe Dawid in Psalm 69 sy nood gekla het, het hy ook om God se vloek oor sy haters geroep. So'n spot met die gesalfde van God mog mos nie ongewroke bly nie! "Stort oor hulle u grimmigheid uit, en laat u toorngloed hulle inhaal, HERE", het Dawid gebid.

"Laat hulle laer woes word, laat in hulle tente geen bewoner wees nie" Met ander woorde: daardie mense, wat so met hulle self, met hulle aardse besittings, met hulle huise hièr besig is, dat hulle die wat hom in die eerste plek vir u huis beywer, uitlag- ontneem hulle daardie skynbare fundament onder hulle welvarende, sorgelose, trotse lewe! Laat die wat hul lewe nie by U, in u huis soek nie, maar agterkom dat jy dan ook niks oorhou nie: net die dood! Laat hulle maar agterkom dat alleen die liefhebbers van u Naam 'n woonplek oorhou (sien vs. 36, 37).

Ook hierdie vloek het deur die groot Seun van Dawid tot vervulling gekom, begryp Petrus. En hy wys dit aan in Judas se lewe. As jy al nie Dawid strawweloos kon smaad nie, hoeveel te minder sy groot Seun!

Petrus sè: ons kan dit in ons Bybels aanwys dat dit wel so met Judas moes afloop. Sy lewenseinde was die onvermydelike gevolg van sy verraad van die Here. Dit het lankal in die Skrif vasgelê. Dit gebeur as jy nie saam met die Christus van God aan God se huis wil saambou nie, as jy nie desnoods jou deur die ywer vir God se huis wil laat verteer nie, maar in plaas daarvan slegs vir jouself 'n huis en 'n aangename lewe wil bou. Die geval-Judas is 'n sprekende waarskuwing vir ons almal en vir die hele Jerusalem.

Wat hou jy tenslotte oor? niks nie! 'n Dodeakker. 'n Stukkie grond waar geen mens meer woon nie.

Inderdaad, gemeente, daardie klein lappie grond met die bietjie spottende naam "Akeldama", wat aan Judas se verraad van sy Meester, ja aan Judas se hele selfsugtige, aardsgesinde lewe herinner het, was vir almal in Jerusalem en vir al Christus se dissipels 'n waarskuwende monument.

So sal dit elkeen vergaan wat die Here maar net wil dien uit eiebelang, uit aardsgesinde motiewe. Die wat in die diens van die Here, as puntjie by paaltjie kom, homself soek en nie God se Koninkryk en sy geregtigheid nie, diè word as 'n verrader ontmasker en gestraf. Ja, gevloek!

Judas se lewenseinde bewys dit, ons sien dit 'n rukkie later by Annanias en Saffira, by Simon die towenaar in Samaria, by Demas wat die kerk verlaat omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het...... En dit is vandag nog presies dieselfde.

Die wat uit selfsug verraad pleeg aan die Here Jesus Christus, sal sy lewe eendag sien doodloop.

Ons mag vandag al as konings saam met Christus regeer en ons mag eendag saam met Hom oor alle skepsele regeer. 'n Nuwe hemel en 'n nuwe aarde word ons woonplek. Maar ons amp in Christus se diens vra vandag terselfdertyd nog van ons dat ons bereid is om onsself as 'n lewende dankoffer in sy diens op te offer, soos ons in Sondag 12 H.K. bely. Die wat nie Christus soek nie maar homself en daarom met sy amp vandag nie ryk kan wees nie; die wat die rykdom wat die ampsdiens in Christus se Koninkryk vandag alreeds gee, verag en in plaas daarvan 'n aardse rykdom begeer, word doodarm. Sy beoogde wins word 'n ewige bankrot. Die vloek van Psalm 69 word aan daardie mens voltrek. Ook hierdie woorde: "Voeg skuld by hulle skuld, en laat hulle nie in u geregtigheid kom nie. Laat hulle uitgedelg word uit die boek van die lewe en nie saam met die regverdiges opgeskryf word nie".

2. Wanneer Petrus so die vloek oor Judas se ampsverraad vanuit die Skrif aangewys het, noem hy dit nou ook as die argument om so gou as moontlik tot die vervulling van Judas se ampsvakature te kom. Hierdie vloek is die rede dat daar 'n andere apostel in Judas se plek moet kom. Dit is nie maar net noodsaaklik om die gat in die apostelkring te dig nie. Hoofargument vir die vervulling van die vakature-Judas is nie dat daar beslis weer twaalf apostels moet wees nie..........

Hoe belangrik dit ook al mag wees, Petrus lees uit die Skrifte 'n ànder argument. Hy wys aan dat die gemeente die draad van God se vloek oor die verraad van Judas verder moet spin deur die naam van Judas nou ook publiek uit die apostelkring weg te doen.

Wanneer Mattias net-nou die plek van Judas inneem, is daar maar nie 'n vakature vervul nie. Maar dan het die kerk van Christus volgens die Skrif die vloek verder voltrek, in aansluiting aan die vonnis wat God alreeds voltrek het. Judas word postuum geëkskommuniseer, uit die kerk geban, as 'n afgestorwe lidmaat afgesny.

Want nou wys Petrus op wat daar staan in Psalm 109. Dis ook 'n psalm van Dawid, wat baie ooreenkoms vertoon met die eerder aangehaalde psalm 69. Ook in hierdie psalm kla Dawid oor die smaad wat hom deur vyande aangedoen word. En ook nou spreek hy 'n vervloeking uit aan die adres van daardie teëstanders. Hulle het eerste 'n hele klomp vervloekings oor sy kop uitgestort -ons het dit gelees- maar in vs. 20 laat Dawid al daardie vervloekings op hul eie kop terugkeer. Hy vra die HERE: dit alles wat hulle my toewens- laat dit hul eie loon wees, HERE, die loon van hulle wat kwaad spreek teen my. "Maar U, o HERE, maak dit goed met my om u Naam ontwil en red my".

Petrus sien ook hierdie Psalm vervul word in die groot Seun van Dawid, Jesus Christus. Saam met die Sanhedrin het Judas Jesus vervloek en Hom dood gewens. Maar die vloek kom nou op sy eie kop neer. Ook hierdie vloek (vs. 8 van Psalm 109): "Laat 'n ander sy amp neem". Hulle wou hierdie Messias nie aanvaar nie. Hulle het begeer dat sy amp Hom ontneem sou word en dat Hy as 'n gevloekte, een wat uit sy amp gestoot is, aan 'n kruis sou sterwe.

Maar die vloek sal nou Christus se teëstanders self tref. Heel eerste Judas.

Ons sal diè vloek aan hom moet voltrek, besef Petrus. Judas mag nie in die herinnering bly voortlewe as een van die apostels nie. Hy mag nie die geskiedenis ingaan as 'n apostel wat ongelukkig vroegtydig oorlede is nie. Nee, die naam "apostel" moet hom asnog publiek ontneem word. "Hy is mos saam met ons getal gereken", herinner Petrus. Vir die buitewêreld het hy en ons bymekaar behoort. Dis hoekom sy naam nou ook publiek uit ons kring weggedoen moet word. Judas moet asnog oneervol ontslag kry. Sodat kerk en wêreld in later eeue sal weet dat Judas deur sy verraad vir ewig nie meer tot die kerk behoort nie. Die vloek wat Hy Christus toegewens het, het sy eie deel geword.

Dis diè, broeders en susters, dat Mattias in die plek van Judas gekies is. Om die gedagtenis aan Judas uit te wis in die kerk. Om Judas formeel postuum uit sy amp te stoot.

Wanneer later die apostel Jakobus sterf onder die beulshande van Herodes -en dit is al tamelik gou na Pinkster- word daar geen nuwe apostel gekies in die vakature wat dan ontstaan nie.

Christus kan met elf, of tien of agt apostels ook wel verder. Maar die vakature-Judas moes baie beslis wel vervuld word.

Ons sê dadelik: dit was nodig omdat Israel twaalf stamme gehad het. En ons wys op die nuwe Jerusalem uit Openbaring 21, die stad wat gebou is op twaalf fondamente met daarop die name van die twaalf apostels van die Lam. Met Mattias se naam in die plek van Judas. En dit alles is reg. Die getal 'twaalf' is 'n bewuste keuse van die Here en dit speel ook 'n rol hier in Handelinge 1.

Maar dit is nie diè argument wat Petrus noem om tot die vervulling van die vakature-Judas te kom nie. Eerste vereiste is vir Petrus nie dat die kerkfondament weer volledig is nie. Maar eerste vereiste is dat die kerkbouers weer skouer aan skouer staan. Hy het uit God se Woord verstaan dat stakers, wat in die diens aan die Here net hulleself soek, eenvoudig uit die pad moet omdat hulle die Here in die pad staan by sy kerkbou. God laat Hom deur verraaiers nie ophou nie. Die werk aan die kerk moet ongehinderd aangaan. Daarom moet elkeen publiek eenkant toe geskuif word wat 'n belemmering geword het. Soiemand word uit die kring gestoot. So definitief dat sy amp aan 'n ander een gegee word. Die dwarsdrywer is eenvoudig nie meer daar nie. As 'n gevloekte word hy ontslaan en van die bouterrein verwyder.

Dis hoekom Mattias die plek van Judas moes inneem, gemeente. Om die kerkbou van Christus ongehinderd te laat aangaan, openlik gesuiwer van stakers.

So het die vervulling van die vakature-Judas 'n veelbetekende daad geword, sowel vir die kleine gemeente as vir die omstanders.

Daar het nog te meer duidelik geword hoe definitief die oordeel is oor elkeen wat aan God se Koninkryk nie wil saambou nie maar alleen 'n koninkrykie vir homself soek. God stoot so'n mens gewoon eenkant toe.

Maar tegelyk is hierdie oordeel van God ook vol genade vir elkeen wat Hom vrees. Want die vloek oor Judas toon ons nog te meer die sorg van God vir sy kerk. Hy laat Hom nie deur dwarsdrywers ophou nie. Die verrader word ontslaan, sodat die kerkbou nie sal stagneer nie. Die afvallige ampsdraer word afgesit, maar die amp bly en 'n ander neem sy plek in. Sodat die werk op volle krag kan aangaan. Menselike ontrou doen aan God se trou geen afbreuk nie.

Met diè wetenskap mag die kerk die laaste bedeling ingaan.

Die afval mag dalk nog groot word, daar kan nog baie verraders en weglopers kom, maar Christus laat Homself daardeur nie ophou nie. God self sal wel sorg dat die vakatures weer vervul word. Hoeveel daar ook wegval, oop plekke sal daar nie wees nie. God sorg wel vir nuwe mense wat Hom wil dien.

Hy maak baie plekke woes, baie koninkrykies van hebsugtige en selfsugtige mense maak Hy tot puinhope.

Maar sy Koninkryk word klaar gebou. En die nageslag van sy knegte sal dit beërwe, en die liefhebbers van sy Naam sal daarin woon (Psalm 69: 37).

AMEN

(Pretoria Mei 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)