Die betekenis van Christus se hemelvaart vanaf die Olyfberg

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Handelinge 1
Preek Inhoud: 

PREEK OOR HANDELINGE 1: 12

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 47: 1, 3, 4
Gebed
L. Sagaria 14: 1-9
T. Handel. 1: 12
Prediking
Ps. 68: 1, 2
Geloofsbelydenis
Ps. 68: 15, 16
Gebed
Kollekte
Ps. 9: 3, 4, 5, 7, 10

Gemeente van onze Here Jesus Christus,

Die keuse van my teks lyk dalk 'n bietjie snaaks vir vandag se feesdag. Ons sien die dissipels Jerusalem toe terug gaan.

Maar moet die kollig vandag nie op Jesus gerig wees nie? Moet ons Hóm nie sien teruggaan hemel toe nie? Ons gedenk mos vandag sy hemelvaart, sy terugkeer na die hemel nadat sy middelaarswerk op aarde klaar gedoen was.

Waarom dan 'n teks oor dissipels wat na die afskeid van hul Here terug huis toe gaan?

Maar ek kan u gerusstel, broeders en susters: ons sal rêrig nie ons aandag op die dissipels pleks van Christus konsentreer nie.

Ek het hierdie teks gekies vir vandag vanweë die naam wat Lukas hier amper terloops noem: wanneer Christus agter die wolke verdwyn het draai die dissipels om na Jerusalem van die berg af wat genoem word Olyfberg...

Want met hierdie korte plekaanduiding plaas Lukas die hemelvaart van Jesus Christus in die indrukwekkende lig van die Outestamentiese profesieë. Hy wil dat ons, voordat ons ons blikke vorentoe rig, na die dag waarop Christus net so sal terugkom soos Hy weggevaar het, soos die engele beloof het, eers nog 'n oomblik terugkyk na die plek waar vir oulaas die voete van die Seun van God op die aarde gestaan het: die Olyfberg.

Aan die einde van sy evangeliebeskrywing, toe Lukas ook van die hemelvaart vertel het, het hy ons gedagtes al effens op hierdie spoor wil plaas, toe hy geskryf het dat Christus sy dissipels uit Jerusalem uitgelei het in die rigting van Bethanië, die dorpie waarvan Lukas al eerder, in hfst. 19, laat weet het dat dit op die helling van die Olyfberg gelê het.

Nou noem Lukas opsetlik die naam van hierdie berg. Want opsetlik het die Here sy apostels na hierdie berg toe gebring om hiervandaan voor hul oë na die hemel te vaar.

Ons mag nie daaraan verby lees nie. Die hemelvaart juis vanaf hierdie plek, vanaf hierdie berg, is naamlik grootliks van betekenis.

Daaroor gaan ek u God se woord bedien vanoggend.

Ek mag dus vir u duidelik maak:

DIE BETEKENIS VAN CHRISTUS SE HEMELVAART VANAF DIE OLYFBERG.

DIT BETEKEN:

  1. GERIG OOR DIE VALSE KERK
  2. GENADE VIR DIE WARE KERK.

1. Deur daardie terloopse aanduiding in ons teks, gemeente, oor Christus se hemelvaart vanaf die Olyfberg, lê Lukas verband met die profesie van Sagaria 14, die Skrifgedeelte wat ons saam gelees het.

Lukas wil vir ons in hierdie tweede boek van hom vertel van die koms van God se Koninkryk. Jesus Christus, die gekruisigde Koning, het weer opgestaan uit die dood en bestyg sy troon in die hemel om vanuit die regeringssentrum daar die finale voorbereidings vir die herstel van sy ryk op aarde te tref.

Die dissipels het die Seun van die mens, wat hulle as terselfdertyd die Seun van God leer ken het, in die hemel sien binnegaan "met die wolke", om daar te nader tot God die Allerhoogste. En omdat Christus voor sy vertrek hul oë oopgemaak het vir die Skrifte, het hulle geweet dat dié binnekoms in die hemel die vervulling van die porofesie van Daniël 7 beteken het: hul Here sou nou ontvang "heerskappy en eer en koningskap oor alle voke en nasies. Ja sy heerskappy is 'n ewige heerskappy en sy koningskap sal nie vernietig word nie. "

"Here, gaan U in hierdie tyd die Koninkryk vir Israel weer oprig? ", het die dissipels vlak voor die afskeid nog gevra. Hulle het toe as antwoord gekry dat dit hulle nie toegekom het om die tye en geleenthede te weet wat die Vader vir Homself bepaal het nie. Wanneer? - dit sou God se saak bly.

Maar hulle mog as die getuies van die Christus wat opgestaan en hemel toe gegaan het, wel aktief betrokke wees by die weer oprigting van die Koninkryk van God.

En toe het die Here hemel toe gegaan.

Maar...... vanaf die Olyfberg, vertel Lukas nadruklik in ons teks en daarmee plaas hy ons gedagtes nou op die spoor van Sagaria 14.

Nie net Daniël nie, ook Sagaria het vir die kerk van die Ou Verbond reeds 'n nidrukwekkende skildery gewys van die koms van God se Koninkryk in die Nuwe Verbond.

Hy het alreeds mag vertel dat daar 'n dag sou kom waarop die HERE Koning oor die hele aarde sou word. In dié dag sal die HERE die Enigste wees en sy Naam sal die enigste wees. Dan sal die volkomenheid van God se Koninkryk bereik wees, en Hy alles in almal.

Maar Sagaria het ook geprofeteer oor dit wat aan daardie groot dag wat alleen aan die HERE bekend is, sal voorafgaan. En dit het hy uitgebreid vir ons geskilder in hoofstuk 14.

U moet by hierdie tipe van Outestamentiese profesië altyd daarmee reken, gemeente, dat dikwels gebeurtenisse van baie eeue tot een skildery inmekaar geskuif het. Die profeet mag vele eeue oorsien, tot aan die dag van Christus se wederkoms, maar daarby skuif die beelde van die nabye toekoms en die ver toekoms inmekaar. Die heilsgekiedenis van die laaste bedeling word in een tekening saamgepers, sodat dit wat in tyd na mekaar kom, in die profesie naas mekaar geplaas is.

So moet ons ook Sagaria 14 lees. Sagaria skilder vir ons in 'n paar beelde die hele geskiedenis vanaf Christus se koms in die wêreld totaan sy wederkoms. En die tydsverloop tussen sy hemelvaart en sy wederkoms is daarby in een beeld saamgepers.

'n Beeld waarin die Olyfberg effens buite Jerusalem 'n belangrike rol speel. Want van die Olyfberg begin die viktorie!

"In dié dag", profeteer Sagaria, "sal die HERE se voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die Oostekant".

Dit lyk 'n taamlik onbetekenende mededeling, broeders en susters, maar in werklikheid is dit 'n veelbetekenende mededeling. Ja, dit is 'n onheilspellende saak as God se voete dáár staan.

Want hier is iets nie reg nie! Die HERE behoort nie buite sy stad te staan nie. Hy behoort in Jerusalem te wees. In die tempel, doe plek wat Hy self as sy woning uitgekies het. Sy plek is, as Israel se God en Koning, in die heiligdom, op die troon in die Allerheiligste. "Hier vestig Ek my huis en troon, en hier wil Ek vir ewig woon", het Hy mos self gesê. Wat maak Hy dan buite die stad, op die Olyfberg??

God het die stad verlaat, ja: prysgegee, gemeente.

Die sonde en die goddeloosheid van sy kerkvolk het so groot geword dat die HERE dit nie langer daaronder kon uithou nie. Sy kerk het Hom verlaat- Hy verlaat nou ook sy kerk!

Sagaria sien hoedat Hy alreeds uit die heiligdom in die stad weggegaan het en nou op die Olyfberg, effens buite die stad staan.

Maar Sagaria sien tegelyk wat dít beteken: as God die stad uitgaan, trek die vyande daarin. Waar die HERE vroeër sy volk teen die magtigste vyand beskerm het, daar gee hy hulle nou aan die vyande oor. En Sagaria sien voor sy profetiese oog hoedat vyandige troepe in die kerkstad binneruk. Hulle kom van alkante. Die HERE self het hulle teen sy kerkstad gemobiliseer. Hy maak die verkiesing van sy een volk ongedaan: die vele volkere mag dit vertrap.

En dan vind daar grusame tonele plaas: mense word vermoor, vroue en dogters word gegryp en verkrag, die huise geplunder en aan die brand gesteek.

En die HERE staan eenkant, op die Olyfberg, oostekant van die stad. En Hy laat die gerig op sy ontroue verbondvolk los.

Hieraan, gemeente, moes Lukas dink, en wou hy ons laat dink, toe hy vir ons spesiaal opgeskrywe het dat God se Seun die Olyfberg uitgekies het as die plek om afskeid van die aarde te neem. Oënskynlik was daar niks besonders aan die hand nie. 'n Klein klompie mense wandel na die Olyfberg toe, 'n endjie buite die kerkstad Jerusalem. 'n Rukkie later het dieselfde mense weer teruggedraai stad toe, behalwe Een wat van die aarde af die pad hemel toe gekies het.

Maar die geloofsoog sien hier dat Sagaria se profesie tot vervulling kom- daardie onheilspellende profesie aangaande die HERE op die Olyfberg wat die begin van die gerig oor die ontroue kerk beteken het.

Lukas het in sy evangelieverhaal reeds 'n aantal kere aandag gevra daarvoor dat die Here Jesus Christus in die laaste dae voor sy lyding opsetlik telkens die Olyfberg gesoek het.

Christus het die Olyfberg gekies om langs dié pad sy koninklike intog in Jerusalem te hou op 'n eselsvul, onder die Hosannä-geroep van die menigte. Dit was 'n ompad, want Hy het van die Noordekant afgekom, maar bewus het Hy die oostelike roete gekies, oor die Olyfberg. Om God se volk te waarsku. U lees dit in Lukas 19 vanaf vs. 29. Hier het hulle Koning gekom. Hy het gekom om vrede vir Jerusalem te bewerk. Vrede met God want Hy was bereid om die straf wat vir hulle die vrede sou aanbring, op hom te neem.

Maar toe alreeds het Christus geweet dat die kerkstad nie wou insien wat vir sy vrede nodig was nie. Hulle het die gunstige tyd toe God hulle besoek het, in sy eie Seun: hierdie nederige Priester-Koning op 'n donkie, nie opgemerk nie. En Christus het gehuil, omdat Hy reeds die dae gesien het waarvan Sagaria geprofeteer het: die vyande sou 'n skans rondom Jerusalem opwerp, dit omsingel en dit van alle kante insluit, die volk, grysaards en kinders teen die grond verpletter en van die stad nie een klip op die ander laat bly nie.

Gerig oor die kerkstad wat die Christus van God nie wou aanvaar nie.

In hoofstuk 21 het Lukas vertel hoedat Christus uitvoerig vir sy dissipels vertel het van die aanstaande gerig oor die ontroue kerk. En as 'n aanvullende opmerking voeg hy dan toe (vs. 37): "Hy was oordag in die tempel besig om te leer, en snags het Hy uitgegaan en vernag op die berg wat die Olyfberg genoem word. ". Dit is asof Christus Jerusalem wou wakker skud en die oë vir Sagaria se profesie wou oopmaak: Hy, God se Seun, God self, was alreeds besig om Hom uit die stad terug te trek. Olyfberg toe. As 'n waarkuwende sinjaal.

In hoofstuk 22 keer dit nog 'n keer terug: ook in die nag van die gevangenneming gaan Christus Olyfberg toe. As hulle vir Hom soek: dáár kan die taakmag onder leiding van Judas Hom vind. Hulle is gewaarsku! Die swaard van God se gerig hang bo die kerksrad aan 'n dun draadjie. Die voete van die HERE staan op die Olyfberg.

En nou, in ons teks, Hand. 1, sien ons hoedat die Heiland na sy kruisiging en na sy opstanding nog eenmaal die Olyfberg beklim. Hy trek weg uit die stad wat nie wou insien wat vir sy vrede nodig was nie en sy Verlosser uit die stad uitgegooi het. Hy verlaat die stad, wat kérkstad, dit is: stad van die Here, mog wees maar vyand van die Here geword het.

Net 'n aantal getroue volgelinge loop agter hom aan. 'n Oomblik later staan sy voet op die Olyfberg -'n sabbatreis ver van Jerusalem af. Die stad is baie naby, en tog ewig ver weg. Vanaf hierdie berg bestyg Hy die hemeltroon en gaan Hy die koms van sy Koninkryk in die beslissende stadium bring.

Maar, moenie daaraan verby lees nie!, wys Lukas: dit was die Olyfberg waar Hy vir oulaas gestaan het. En dus: die stad wat verlaat is, sal sy gerig nie meer vryspring nie. Die valse kerk wat God se Seun as sy Verlosser verwerp het, haal self die oordeel op sy hals. Nog 'n rukkie, en dan trek die vyande in Jerusalem binne. Die huise word in puin gegooi, die vrouens onteer, klein kinders doodgemaak..... Sagaria het dit klaar sien gebeur. Die wat God verlaat is smart op smart te wagte.

Dit was onafwendbaar na Christus se hemelvaart vanaf die Olyfberg, gemeente. En die gerig hét gekom, nog nie 40 jaar later nie, in die jaar 70. Die Romeinse leër het sy stormramme teen die stad opgestel, dit ingeneem en daar huisgehou, so vreeslik dat dit onbeskryflik is. Swangere vroue oopgesny, Jerusalem se dogters verkrag, wreedhede sonder tal.

Maar hulle wás deur Christus gewaarsku. Ook daardie vrouens van Jerusalem was deur Hom nog gewaarsku, toe Hy al op pad kruis toe was en hulle gereken het hulle moet Hom jammerkry, hierdie arme Jesus van Nasareth. Kyk Lukas 23: 27 ev. "Dogters van Jerusalem, moenie oor My ween nie, maar ween oor julle self en oor julle kinders" was sy antwoord gewees, "want daar kom dae waarin die onvrugbares en die wat geen kinders het nie gelukkiger is as ouers met kinders, ja, dat hulle sal begeer om onder die berge en die heuwels bedolwe te word" - so vreeslik sal die verskrikkings wees!

Want wie die lewe uit die stad uitgooi - en Christus wás die lewe!- maak die poort wawyd oop vir die dood. 'n Vreeslike dood.

God die Vader het hulle ook nog gewaarsku, toe sy Seun klaar aan die kruis gehang en bloei het. Vir drie ure het God die lewenslig weggeneem as 'n teken van dreigende lewensafbraak vir almal wat hierdie Verlosser aan die kruis nie wil aanvaar nie. En die tempelgordyn het Hy middeldeur geskeur, as 'n teken dat Hy nie langer by hierdie mense wou woon nie.

Toe die Romeine die stad verower het, was dit te laat. Hulle het die waarskuwing verwerp. Geweier om hulle te bekeer. Die gerig het onafwendbaar geword.

Gemeente, Sagaria se profesie het met Jerusalem se ondergang nog maar gedeeltelik in vervulling gegaan. Soos Christus ook vir die vrouens van Jerusalem gesê het: "Dan sal hulle vir die berge begin sê: Val op ons! en vir die heuwels: Bedek ons!". Openbaring 6 vertel ons van die eindpunt, die dag waarop Christus in die hemel die sesde seël van die boekrol verbreek en die gróót dag van die toorn van die Lam aanbreek. Dit is die dag waarop Christus op die wolke weerkom en almal sal sien Wie of hulle verwerp en deursteek het. Dan tref die gerig almal wat die Seun van God as hul Verlosser verwerp het. Dan kom die laaste oordeel.

Ek besef, broeders en susters, dis nie 'n aangename boodskap op 'n feesdag soos vandag nie. Maar die Skrif dwing ons om dit by die herdenking van die hemelvaart van ons Here nie vir mekaar te verswyg nie. Die Koning op die troon in die hemel kom ook as Regter met sy gerig. En sy gerig tref ekstra swaar die wat sy volk kon gewees het, maar dit nie meer wou wees nie. 'n Kerk wat die kenmerke van die kerk: liefde vir haar hemelse Here en gelowige onderwerping aan sy Woord, verloor het. Dan sal pragtige geboue wat die naam "kerk" dra, niks help nie- die tempel het ook niks gehelp nie. Dan sal ook mans wat hulleself nog altyd "ampsdraers" laat noem, ons nie kan red nie- die priesters kon Jerusalem ook nie meer red nie. Dan kom die dag van die afrekening.

En nou moet ons nie na ánder kyk nie: ander kerkgroepe, sektes ens. nie. God se Woord waarsku vanoggend óns. God se Woord waarsku: julle gedenk vandag dat jul Koning sy hemeltroon bestyg het. Vier dit maar as 'n oorwinningsfees: die begin van die einde, die begin van die groot bevryding wat aan die kom is. Maar moenie vergeet nie: daardie bevryding sal die totale bevryding van so'ndes wees, en wie hom nie van so'ndes wil laat bevry nie, wie nie vandag reeds saam met Christus teen die sonde, die duiwel en sy ganse ryk wil stry nie, vir dié word die dag van bevryding 'n dag van verskrikking. As julle vandag tog wil insien wat vir jul vrede nodig is!

2. Nogtans wil ons teks nie net waarsku nie, gemeente. Ek mag gelukkig ook vir u vertel dat Christus se hemelvaart vanaf die Olyfberg tegelyk 'n bemoediging beteken vir die ware kerk wat wel sy vrede by die Seun van God soek. Die Olyfberg spreek van gerig én genade altwee.

Want Sagaria het nie net van gerig geprofeteer in hoofstuk 14, toe hy die HERE op die Olyfberg sien staan het nie. Ook van genade.

Want God berus nie daarin dat die stad wat eendag kerkstad mog wees, aan die gerig prysgegee word nie. Dit kan vir Hom nie die einde wees nie, En daarom haal Hy 'n oorblyfsel uit die wat verlore gaan uit. Kyk die slot van Sag. 14: 2: daar is 'n deel wat nie uitgeroei sal word nie. Die HERE kan geen Koning sonder onderdane wees nie. Hy moet 'n volk oorhou. en daarom lig Hy 'n aantal mense bo die verskrikkinge van die gerig uit om hulle vir Hom te bewaar.

Daarin betoon die HERE sy genade, broeders en susters. Hulle is nie beter as die ander nie, nie aantrekliker of wat ook al nie. Maar dit is mense wat Hy self gehoorsaam gemáák het, mense wat Hy geleer het om die lewe buite hulleself by Hom te soek. En vir hierdie klein klompie wat die kenmerke van die ware kerk bly vertoon het, werp die HERE Hom in die stryd. Dit is louter genade. Onverdiend, maar Hy kan dit nie aansien dat ook hulle ten onder sou gaan nie. En dus snel Hy te wapen soos Hy dit al so dikwels vir sy volk gedoen het. Kyk Sag. 14: 3. En vanaf die Olyfberg begin die viktorie! In beeldende profetiese taal vertel Sagaria hoedat die HERE op die Olyfberg vir die res van sy volk wat Hy wil red, 'n vlugweg oopbreek. Sodat hulle eendag in sy Koninkryk sal ingaan.

Nou maar goed, ook hierdie gedeelte van Sagaria se profesie mag ons tot vervulling sien kom by Christus se hemelvaart vanaf die Olyfberg. Vanaf daardie berg het die Seun van God padlangs in die hemel ingegaan.

Maar vanaf daardie oomblik, ja, vanaf daardie berg het Hy ook genadig 'n oorblyfsel uit die gerig begin weghaal om dit in sy Koninkryk binne te bring.

Immers: Hy stuur sy apostele terug, weer in die vyandige stad in. Maar nie met leë hande nie. Hulle kry die swaard van die Heilige Gees saam, die evangelie van redding vir elkeen wat daardeur glo in die Seun van God. En daarmee moet hulle 'n oorblyfsel uit die gerig wat aan die kom is weghaal. Hulle moet in Jerusalem die mense oproep tot Afskeiding en Vrymaking, tot 'n breuk met die valse kerk. "Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag!". En daar sal wees wat luister en hulle laat red.

Die apostels wat met die seën van Christus van die Olyfberg terugdraai, moet vervolgens die wêreld in, tot aan die uiterste van die aarde, om oral die mense op te roep om die lewe buite hulleself, in die Seun van God te soek, omdat God 'n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur hierdie Man wat Hy aangestel het en waaroor Hy aan almal sekerheid gegee het deur Hom uit die dode op te wek. Orals in die wêreld sal die oproep klink: "Gaan uit die wêreld van goddeloosheid en die kerk wat valse kerk geword het uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie".

Die roepstem het ook tot u gekom, broeders en susters. Dit kom nog aanhoudend tot u. En daarin bewys Christus in die hemel aan u hier op aarde sy genade. Hy het ook vir u 'n vlugweg oopgemaak. Hy soek om ook u as sy oorblyfsel te red. En terselfdertyd skakel Hy u in om nog baie ander saam met u die gerig te laat ontvlug. Ons moet ons nou saam met Hom in die stryd werp om die oorblyfsel wat gered word, bymekaar te maak. Ons moet die evangelie aan ander voorhou: "Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag". En moenie daarmee wag nie, moet gou maak, want ons Koning in die hemel kan enige dag weerkom. En dan is dit vir ewig te laat.

Dalk verstaan u nou nog beter, gemeente, waarom ons op 'n feesdag soos vandag oor die gerig wat aan die kom is, nie mog swyg nie. Eers as ons die erns van die gerig raakgesien het, word die wonder van God se genade oor ons regtig onbegryplik vir ons. Waarom wil die Regter in die hemel óns Redder wees? ! Wie van ons het dit verdien?

Eers dan sal ons ons ook met al ons ywer en energie met ons hemelse Koning in die stryd werp om nog so veel as moontlik ander mense van die toorn wat aan kom is, te red. Want die Redder van die kerk sal mos 'n ontsagwekkende Regter wees oor almal wat van sy vrede nie wou leef nie.

Daarom het ek hierdie Hemelvaartsdag 'n keer die Olyfberg in die kollig gehaal. Daardie berg wat vir ons leer dat ons Koning 'n God van genade én gerig is.

Ons moet maar nooit van die Olyfberg vergeet nie. Daardie berg herinner ons daaraan Wie ons enige dag uit die hemel kan verwag.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)