Christus herstel Petrus in sy amp

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Johannes 21
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 59: 1, 2, 5
Ps 106: 1, 2
Ps 106: 20
Skb 21: 1-6
Ps 139: 1, 2, 9
Lees: Johannes 21 ( N.V.)
Teks: Johannes 21: 15-22 ( O.V.)

Brs en srs, gemeente van die Here Jesus Christus!

Dit was nie juis 'n sjampanjeontbyt daardie vroegoggend op die strand nie.

Die oggendkoue is nog voelbaar. Die eerste sonskynstrale kom oor die berge.

Stil-stil sit 'n groepie van ongeveer agt mans rondom 'n vuurtjie. Hulle is duidelik vistermanne.

Elkeen trek huiwerend sy klere 'n bietjie stywer om sy lyf.

Die kole is reg. Vis is oorgenoeg beskikbaar. Maar die gesprek wil nie juis op gang kom nie.

Ja miskien 'n woordjie oor die vis wat gaar is. Hier vat vir jou 'n stukkie.

Maar dan swyg hulle maar weer.

Wat moet hulle sê? Hulle werp blikke op die een persoon wat 'n bietjie anders lyk as die meeste van hulle. Maar lank durf hulle nie te kyk nie. Want sê nou dat Hy iets sê. Wat moet hulle dan antwoord? Hulle voel almal ongemaklik.

Hoekom? Hulle weet dit baie goed.

Dit is vanweë die Here Jesus wat daar by hulle sit.

Maar is dit dan vir hulle so vreemd?

Dit is tog nie die eerste keer dat hulle saam met Hom eet nie?

Nee dit is waar.

Maar moenie vergeet wat gebeur het nie. Die Here Jesus het gesterf en later het Hy opgestaan uit die dood.

Dit is so groot dinge vir 'n mens om te bevat, dat jy maar liewers 'n bietjie daarvan wegbly. Jy hou jou maar liewers besig met dinge wat jy verstaan. Dan kan jy weer tot rus kom. Soos hierdie vissers. Om besig te wees met die vertroude handelinge van uitvaar met 'n skip, nette uitgooi en ophaal, vis sorteer en verkoop, dit gee vir hulle die rus waarna hulle so snak na die enerverende tyd in Jerusalem waarin soveel groot en onbegryplike dinge gebeur het.

Maar nou skielik is hulle daarin weer terug.

Daar is Hy weer!

Hier sit die Here Jesus by hulle.

Almal weet dit. Hulle wink vir mekaar. Dit is Hy!

Maar niemand waag dit om iets te vra nie.

Selfs Petrus wat altyd met sy mond vooraan staan, hou hom maar 'n bietjie doenig met die kole. Selfs hy weet niks om te sê nie.

Maar as die ontbyt klaar is het die Here Jesus wel iets om te vra. Hy rig Hom tot Simon Petrus.

Hy wil vir hom iets leer. Opsetlik doen die Here Jesus dit temidde van die ander dissipels. Ook hulle is betrokke. Want dit gaan die Here Jesus daarom dat Petrus sy plek moet leer ken temidde van die manne wat binnekort saam as apostels van die Here Jesus uitgestuur sal word.

Tegelyk is dit 'n les vir almal wat Jesus wil volg.

Ons tema vir die preek is:

Christus herstel Petrus in sy amp.

Petrus moet twee dinge leer:

  1. Hy moet hom deur Christus liefde laat oorheers
  2. Hy moet hom aan Christus leiding onderwerp

Simon, seun van Jona, het jy my waarlik lief, meer as hulle hier?

Dat hierdie vraag so spesiaal aan Petrus gestel word, lê wel 'n bietjie voor die hand. Immers dit is juis Petrus wat gemeen het hy is meer as die ander dissipels. Nie dat hy verwaand was of soiets nie, maar dit was nou maar so dat hy altyd die hardste geloop het.

Hy was diep daarvan oortuig dat sy liefde vir Jesus baie groot was. Met hart en siel het hy hom aan Jesus gegee. Hy kan hom van homself nie eers voorstel dat moontlik ander dinge daarin 'n rol gespeel het. Nee as hy hom gee dan gee hy homself heeltemal. Dit is na my gevoel, brs en srs, ook die aantreklike van 'n figuur soos Petrus.

Sy liefde was groter as die liefde van enig iemand anders. So het Petrus gevoel.

As die Here Jesus op die aand voor Goeie Vrydag waarsku: Julle almal sal my verlaat, dan maak Petrus daarop onmiddellik 'n uitsondering vir homself.

Almal, behalwe ek dan natuurlik. Ek is nie so nie!

Al sou almal aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie!

Ons kan maar stel: Petrus het die neiging om homself te oorskat. Hy het altyd die vinnigste geloop.

Daardie einste oggens nog. Natuurlik was dit Petrus wat eerste uit die skip gespring het en na die kant toe gestap het. Dit is ook Petrus wat eerste na die skip teruggaan om die net op die land te trek.

Dus as dit gaan om vertoning van die meeste ywer, dan gaan Petrus ongetwyfeld voorop. In die opsig kan hy die vraag "meer as hulle hier" definitief met 'ja' beantwoord.

Maar ywer vir die Here Jesus is nie outomaties dieselfde as liefde vir Jesus nie.

En dit is waarna die Here Jesus tans vra.

Het jy My waarlik lief?

Dat daar liefde en ywer vir die Here Jesus by Petrus is, dit is nogal duidelik. Maar die punt is of daar ware liefde vir die Here by Petrus is.

'n Liefde wat standhou. 'n Liefde wat die regte fondament het.

Wat hierdie ware liefde is wat Christus soek word nie deur die gevoelens van Petrus bepaal nie, maar word bepaal deur die Here Jesus self.

Daarom moet ons die vraag wat die Here hier stel, met baie nadruk op die woordjie 'My' lees.

Het jy My waarlik lief? My soos Ek is en soos Ek doen.

Petrus word hier deur die Here Jesus gevra om homself rekenskap van sy liefde vir Jesus te gee.

Watter liefde is dit eintlik?

Is dit 'n liefde wat voortkom uit 'n behoefte van Petrus self om vir iemand iets te beteken?

Of is dit meer 'n liefde wat voortkom vanuit 'n beeld dat Petrus van die Here Jesus het en het hy veral die beeld lief wat hy vir homself van die Here Jesus gemaak het?

Ek sal vir u 'n voorbeeld gee om te verduidelik waaroor dit gaan.

Kyk, jy kry ouers wat groot verwagtings van hul kind het, die ouers span hulle baie in vir die kind, die kind moet groot prestasies lewer waarmee die ouers later eer kan behaal.

Hulle dink self dat hulle hul kind baie liefhet en is selfs bereid om hulle daarvoor veel te ontsê. Maar eintlik het hulle nie soseer hul kind lief nie, maar het hulle die ideaalbeeld lief wat hulle self van hul kind gemaak het.

Wanneer later die prestasies teëval, as die kind nie kan doen wat sy ouers van hom verwag nie, dan laat hulle die kind sommer val. Vir so'n kind kan hulle nie liefde opbring nie. En daarmee het hulle eerdere liefde as sogenaamde liefde deur die mat geval.

Ons keer terug na die Here Jesus en Petrus.

Het jy My waarlik lief?

My soos Ek is en doen?

U moet onthou vroeër was dit Petrus wat graag wou besluit wat die Here Jesus wel of nie moes doen nie. Petrus het sy verwagtings en sy planne met die Here Jesus gehad.

Toe die Here Jesus b. v gepraat het oor sy weg van gevangeneming, van lyde en van sterwe, toe het Petrus onmiddellik met sy reaksie klaargestaan: Maar dit sal nie gebeur nie! Dan is ek ook nog daar!

Natuurlik, hy het dit gesê uit liefde vir die Here Jesus. Daarvan was Petrus self rotsvas oortuig.

Maar so'n liefde soek Jesus nie. Met so'n liefde kan jy Hom selfs hinderlik voor sy voete loop. Soos met Petrus dan ook dikwels gebeur het.

Dit kan vandag trouens ook gebeur. Jy kry mense wat baie ywerig is in die diens van die Here. Dit moet so gebeur. Daaroor behoort 'n mens so te dink. En in hul ywer sien hulle gou neer op mense wat nie so vinnig saamkom nie.

Vermoedelik alles met goeie bedoelings. Self is hulle oortuig daarvan dat hulle so maak uit liefde vir die Here. Maar inmiddels rig hulle skade aan binne die gemeente van Christus. Hul verkeerde ywer breek meer af as wat dit opbou.

So'n man was Petrus. 'n Man vol goeie bedoelings, baie emosioneel betrokke by die saak van Christus en tog...

Die Here Jesus wil vir hom iets leer.

Het jy My waarlik lief, Petrus?

My, om wat Ek gedoen het.

Om die pad wat Ek gegaan het om vir My 'n gemeente te vergader, 'n pad van lyde en sterwe en opstaan?

In my liefde het Ek my aan die wêreld gegee. In my liefde het ek my oorgegee in die dood. In hierdie liefde sal Ek die wêreld oorwin.

Maar Petrus wou dit anders gedoen het. Hy het gebou op sy eie liefde vir Jesus. Op sy eie verwagtings van Jesus. Hy wou self die wêreld oorwin vir Christus.

In daardie houding het Hy sy swaard getrek in die hof van Getsemane.

Laat dit Petrus! Ek het die wêreld oorwin.

En nou vra Ek jou liefde. Maar let op, Ek soek geen ander liefde as een wat 'n antwoord is op my liefde.

Het jy my so lief Petrus?

Kan jy jouself aan My liefde vir jou toevertrou?

Sal jy jou daardeur in beweging wil laat bring?

Wil jy van My liefde lewe?

Dit is ongelooflik belangrike onderwys gemeente.

Nie net vir Petrus en die apostels nie, maar ook vir ons.

Ons kan nooit bou op ons eie liefde vir die Here of op ons eie verwagtings van Hom nie.

Want dan kom teleurstellings.

Moenie vertrou op eie liefde of op eie karaktervastheid as u praat van die sekerheid van die geloof nie.

Bly by hierdie: Die liefde van Christus gaan uit na my.

Daaraan kan niks verander nie.

En daarom kan ek steeds verder.

Dit is ook altyd die kern van die prediking.

Christus liefde gaan na u uit.

Ons kom nie kerktoe om te wys hoeveel ons vir die Here liefhet nie. Maar ons kom kerktoe om te hoor hoe lief die Here ons het.

En as ons dit gehoor het, dan kom ook wel die antwoord van die liefde.

Ons kan as gelowiges slegs lewe van sy liefde vir ons.

Dit is noodsaaklike onderwys vir Petrus en sy mededissipels.

Hulle kan slegs lewe van die wonder van sy liefde. Eers as hulle dit verstaan het, kan hulle ook ander mense laat lewe van die wonder van Christus se liefde. Dan eers is hulle bekwaam om die kudde van Christus te wei.

Drie keer herhaal die Here Jesus die indringende vraag: Het jy My waarlik lief, Petrus?

Daarmee word Petrus getoets. En hy slaag sy toets.

Vroeër sou hy met steeds sterker bewoordinge sy liefde vir Christus betuig het.

"Ek het u lief Here. Natuurlik. Ek het u lief mee as hulle hier. Ek is absoluut seker dat ek U liefhet!"

Maar nou antwoord hy net: U weet dit Here, dat ek u liefhet.

U weet dit.

Petrus het iets geleer. Hy sien nou af van homself en lê alles in die hande van Christus. Petrus sal van nou af slegs bou op die liefde van Christus.

So word hier aan Petrus sy plek gewys as apostel. Christus wil hom gebruik. Christus kan hom gebruik, maar dan slegs op die manier soos Christus self bepaal.

Dit geld ook vir die dissipels wat daarby sit. Hulle moet getuie wees dat die Here Jesus Petrus aanspreek as sy toekomstige apostel, maar as 'n apostel op die voorwaardes van die Sender. Slegs so kan Petus ampsdraer wees. Wat Petrus verspeel het in sy verloëning van Jesus op die Goeie Vrydag word hier vir hom teruggegee. Hy mag die skape van Christus hoed. Maar onthou, nie jou skape nie. Maar my skape, my lammers.

Petrus hoef ook nie 'n leërmag op die been bring om die wêreld vir Christus te verower nie. God se Koninkryk word nie met geweld gevestig nie.

Die kenmerk van die Koninkryk is eerder swakheid. Die swakheid van 'n kudde skape wat totaal afhanklik is van die sorg van die herder. Maar dit is hoe Jesus dit wou gehad het.

2. Petrus moet hom aan Christus' leiding onderwerp

Noudat Petrus die toets deurstaan het en die opdrag ontvang het om die kudde van Christus te wei, sê die Here Jesus: "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, toe jy jonger was het jy jouself gegord en rondgegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud geword het, sal jy jou hande uitsteek, en 'n ander een sal jou gord en bring waar jy nie wil wees nie. "

Veelbetekenend teken Johannes hierby aan: "En dit het Hy gesê om aan te dui deur hoedanige dood hy God sou verheerlik "

Dit klink vir ons nogal dreigend. Ons ruik al amper 'n brandstapel.

Tog moet ons hier liewers 'n belofte as 'n dreiging in hoor.

Die drie keer herhaalde vraag: Het jy my waarlik lief, herinner ons nadruklik aan die drievoudige verloëning deur Petrus.

Toe Petrus dit van eie geloof en liefde verwag het, het dit heeltemal verkeerd gegaan. Toe het dit uitgeloop op die verloëning van Jesus.

Met 'n duidelik beeldspraak dui die Here Jesus aan wat Hy bedoel.

Petrus het homself gegord. By daardie gord moet 'n mens dink aan 'n riem wat jy kan gebruik om 'n lang kleed tot oor jou knieë op te trek. Dit om vir jou die geleentheid te gee om te hardloop of te werk.

Vergelyk ons uitdrukking: 'Die hande uit die moue steek' of 'jou sokkies optrek'.

Petrus was 'n man wat vasberade op sy doel afgegaan het. Vol ywer het hy voor die Here Jesus uitgegaan. Hy weet presies wat moet gebeur.

Hy het gemeen, hy is 'n sterk dissipel van 'n swak meester.

Maar nou moet dit andersom word.

Hy moet nou leer om 'n swak dissipel van 'n sterk Heer te wees.

En boonop om hom vir daardie situasie nie te skaam nie.

Slegs so kan die Here Jesus hom gebruik.

Toe Petrus self die pad wou wys het dit op verloëning van Jesus uitgeloop.

Maar nou ontvang Petrus die opdrag: Volg My!

Moenie voor My uit wil gaan nie. Dan kom daar sommer 'n oomblik dat jy my verloën.

Daarom: Kom agter My aan. Volg My!

Om Jesus te volg daarvoor moet jy jouself verloën.

Om Jesus te volg dit kan namelik 'n kruis in jou lewe bring.

Petrus het dit spoedig agtergekom. Skaars is die Pinksterfees met die eerste openbare optrede agter die rug of Petrus en Johannes word toegesluit in 'n tronk. Hulle is gebring waar hulle nie wou wees nie.

Maar dan kan dit Petrus se belydenis van die Naam van Jesus nie meer verhinder nie. Selfs nie as sy lewe gevaar loop nie.

Dan is dit vir hulle 'n eer om vir die Naam van Jesus oneer te ly.

Daar sien u wat ek bedoel dat hierdie voorsegging oor die dood van Petrus 'n belofte inhou.

Belofte dat Petrus sal volhard in sy volg van Jesus, selfs al sou dit sy lewe in gevaar bring.

Hy sal sy meester nie weer verloën nie. Hy verloën nou liewers homself.

Hoe kry hy dit dan wel reg? Omdat by daardie tyd sy liefde vir Jesus groot genoeg is?

Nee, dis anders. Dit is omdat hy weet, hy word gedra deur die liefde van Christus.

Die besef van daardie liefde gee vir hom die krag om te doen wat hy moet doen.

Ons kan soms daarteen opsien om vir die Naam van Christus uit te kom. Seker in 'n geselskap waarin dit nie gewaardeer word nie. Is ons liefde soms te klein?

Moet ons wag tot beter tye dat ook ons liefde groot genoeg is om dit te kan doen?

Nee, ons moet terug na die geloof. Die geloof dat ons gedra word deur die liefde van Christus. Hy gaan ons vooruit. Ons hoef slegs volg. Ons is nie die speerpunte van 'n leër in vyandelike gebied nie. Ons is net die volgers van Christus. Ons hoor sy stem. Die stem van 'n goeie herder. Ons wil net volg waar Hy ons roep.

Petrus het sy les geleer.

Moet egter nie dink dat Petrus nou eens vir altyd van die probleme met sy karakter ontslaan is nie. Dit gaan mos nie sommer so nie. By ons nie en ook nie by Petrus nie.

Hy sal nog dikwels daarmee moet stry.

Want sy natuur is nou maar so dat hy voor op die wa is.

Hy wil alles graag self reël.

As Petrus hom omdraai sien hy skielik hoe Johannes klaar besluit het om die Here te volg. En dan kom Petrus se ou natuur weer bo.

Hy kan dit nie laat om te vra nie: Here wat van hom? Sal hy u ook volg en met die dood u verheerlik?

Daarop wys die Here hom skerp tereg.

Dit gaan jou niks aan nie Petrus! Ek is die Here! En Ek bly dit. Ek gee vir elke kneg sy eie taak. Jy hoef nie na 'n ander te kyk nie. Moet ook nie meen dat die dood waarmee jy my mag verheerlik vir jou 'n voorrangsposisie gee nie.

As Ek sou wil hê dat Johannes in lewe bly totdat Ek terugkeer, wat gaan dit jou aan?

Jy is in my diens. En daarin is jy 'n ondergeskikte.

Ek bepaal die diens wat Ek van jou vra.

Dit geld vir ons almal brs en srs. Jy moet Christus se leiding oor jou lewe aanvaar. Jy moet steeds maar let op die vervulling van jou eie diens aan Hom.

Jy moet jou eie kruis op jou neem en jou lewe in Christus se hand lê.

Hy bepaal watter taak ons kry en hoe groot dit is, of hoe swaar.

Hy bepaal ook wanneer en hoe iemand sterf. Die een sterf jonk en die ander baie oud. Die een het dit gemaklik in die lewe en die ander kry swaar.

Die een word vervolg omwille van sy geloof, die ander kan steeds in alle rus sy geloof uitleef.

Natuurlik kan daaroor by ons allerhande vrae ontstaan. Veral as ons na ons gevoel swaarder kry as 'n ander.

Hoekom hy wel en ek nie? Waarom gaan dit met hulle so goed en gaan dit met ons maar so swaar?

Die Here Jesus sny al daardie vrae wat ons wou vra af.

En Hy sê vir elkeen van ons: Volg jy My!

Let net op jou diens aan My.

Want Ek wil jou gebruik in my Koninkryk.

Let nie steeds op mekaar nie. Wat kry hy en wat kry ek?

Wie so sy diens in My Koninkryk wil verrig raak onproduktief.

Let net op My.

En onthou, Ek gee vir jou alles wat jy nodig het.

Nie elkeen se diens is dieselfde nie.

Maar elkeen sal Ek krag gee na die kruis wat hy op hom moet neem terwyl hy my navolg.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)