Jesus het opgestaan om weer hemel toe te kan gaan

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Johannes 20
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JOHANNES 20: 11-17

LITURGIE:
Votum en seengroet
SB. 33: 1, 2, 3
Gebed
L. Hebr. 2: 6-18
Ps. 22: 9
Prediking
Ps. 110: 1, 2
Geloofsbelydenis
Ps. 110: 6
Gebed
Kollekte
Ps. 18: 2, 3, 9, 10
Seën

Broeders en susters,

"Raak My nie aan nie, Maria!" Dit is die eerste woorde wat Maria uit Jesus se mond moet hoor as dit eindelik tot haar deurdring dat haar Here nie langer dood is nie: "Raak My nie aan nie!".

Probeer jou voorstel: iemand van wie jy met hart en siel gehou het en van wie jy gedink het hy is dood, staan skielik weer voor jou en noem jou op jou naam. Maar as jy hom dan om die hals wil val en jou vreugde en ontroering wil uithuil, sê hy vir jou: "Raak My nie aan nie!".

Waarom sê die Here so, broeders en susters? Hoekom hou Hy Maria so nadruklik op 'n afstand? Hy het haar mos eers gesoek, haar geduldig gehelp om van haar kortsigtigheid ontslae te raak en te aanvaar dat Hy terug is uit die dood? Maar wanneer sy Hom dan eindelik teruggevind het, lyk dit asof Hy haar direk weer van hom af stoot met die koelklinkende woorde: "Raak My nie aan nie".

By Mattheüs lees ons van ander vroue wat Jesus op die môre van sy opstanding terugvind; hulle gryp ook sy voete vas vol blydskap, maar Jesus verbied vir hulle glad nie om Hom aan te raak nie.

En wat van Thomas? Netnou vertel Johannes dat die Here Thomas spesiaal nooi om

Hom maar aan te raak; Thomas mag sommer met sy vingers die merk van die kruisspykers in Jesus se hande aanraak en met die hand voel waar die soldaat Jesus op die Goeie Vrydag laatmiddag met 'n spies gesteek het.

Waarom word Maria Magdalena dan so nadruklik op 'n afstand gehou?

Die antwoord op hierdie vraag is die boodskap van ons teksverse ook vir ons vandag nog, gemeente. Jesus moes vir Maria iets leer wat ook vir ons steeds belangrik is om te weet. Dis hoekom Johannes dit vir ons moes vaslê. Ek kan die boodskap van ons teks, die les wat Maria moes leer en wat ook vir ons van belang is, so saamvat:

JESUS HET OPGESTAAN OM WEER HEMEL TOE TE KAN GAAN

Ek wil dit in twee punte nader uiteensit:

  1. SY WERKTERREIN HET BREËR GEWORD
  2. DIE BAND AAN SY KERK HET STERKER GEWORD.

1. Was Maria dalk heimelik verlief op die Here Jesus, broeders en susters? Het sy diep in haar hart gehoop om eendag met Hom te mag trou? Is dit miskien die rede waarom die Here haar wel 'n bietjie op 'n afstand moes hou?

U weet dat in rolprente wat gemaak is oor die lewe en die lyding van Jesus van Nasaret, Maria so afgebeeld is. As die vrou wat 'n stille liefde vir Jesus gekoester het soos 'n vrou 'n man kan liefhê. En volgens daardie flieke was Maria van Magdala nie die enigste vrou wat op Jesus verlief was nie. Wat van Maria, die suster van Lasarus uit Bethanië?

Die Bybel ruim inderdaad 'n groot plek in vir Maria van Magdala. En ons kan dit nie ontken nie: sy hét Jesus liefgehad. Kyk hoe bly sy Hom soek terwyl die meeste ander dissipels en ook die dissipelinne lankal padgegee het. Sy volg Hom tot die bitter einde. Sy staan by Hom en hou Hom vas met haar oë terwyl Hy sy marteldood sterf. Sy bly by as Josef van Arimatha en Nicodemus sy liggaam van de kruis afhaal en begrawe. En ek vermoed dat sy as een van die laastes van die graf af weggegaan het, vol ontroosbaar verdriet.

En op die eerste dag van die week, twee dae later, is sy as eerste terug by die graf. Sy kan maar nie afstand neem nie. Sy wil in die grafkamer by die liggaam sit en treur en so lank as moontlik die lykgeur weghou met speserye.

Jesus het baie vir Maria beteken. Maria het met Jesus 'n stuk van haar lewe verloor.

Nogtans is Maria geen vrou wat treur oor die verlies van 'n man op wie sy verlief was nie. Die wat haar so afskilder, doen geen reg aan dit wat die Bybel van haar vertel nie. Maria is nie 'n vrou wat ontroosbaar is omdat haar heimelike trou-planne in duie geval het nie. Sy is so verslae omdat haar openlike geloofsverwagting die bodem ingeslaan is.

Ky hoe noem sy Jesus: in vs. 2: die Here; in vs. 13: "Vrou, waarom huil jy? Omdat hulle my Here weggeneem het". En wanneer dat haar Here skielik voor haar staan, kom daar uit haar mond geen woord wat minnaars mekaar gewoonlik toeroep as hulle mekaar onverwags terugsien nie: "Liefste". Sy noem Jesus nie eers op sy náám nie: "Jesus!!". Nee, sy gebruik 'n woord wat selde gebruik is en getuig van die allerhoogste eerbied en ontsag vir 'n persoon: "Rabboeni", my hoogste Meester!

Maria het Jesus liefgekry as haar Here en Heiland. As die Kneg van God wat met woord en daad God se ontferming oor sy volk voelbaar gemaak het. So het sy Hom op die Goeie Vrydag verloor. En so het sy Hom probeer vashou, toe sy liggaam in 'n grafkamer gelê is.

Maria het Jesus as haar Here geëer. Ja, maar sy het Hom nogtans nie geken nie, broeders en susters. Sy het tydens sy lewe aan sy lippe gehang. Maar sy het nie goed na Hom geluister nie.

Anders sou sy nou mos nie so verslae hoef te wees nie. Dan moes sy tog geweet het dat die dood en die graf vir Jesus nie die laaste kon wees nie.

Maria kan egter nie verder kyk as die graf nie. Vir haar het daar van Jesus niks meer nie as net 'n lyk oorgebly. Maar daardie lyk wil sy dan ook so lank moontlik bly koester, as 'n herinnering aan 'n mooie droom wat in 'n nagmerrie geëindig het.

Daarom waarsku sy ook onmiddellik Petrus en Johannes as sy tot die ontdekking kom dat die sluitsteen voor die grafopening weggerol is, as sy vroegoggend terug is in Josef van Arimathea se tuin. Sy kan maar aan een ding dink: die lyk moet deur mense weggeneem wees. Maar dit mag nie. Sy wil in elk geval sy liggaam by haar hou.

Petrus en Johannes het gekom. Hulle het ook weer huis toe gegaan. Swyend en diep in gedagte versonke na hulle in die grafkamer was en daar rondgekyk het. Hulle het Maria in die waan gelaat dat die liggaam inderdaad deur iemand weggehaal is.

En weer kan sy haar trane nie bedwing nie: dat die Here dood is, is vreeslik. Maar dat nou ook nog sy liggaam weg is- dit maak alles des te erger.

Terwyl sy daar so staan en huil kyk sy self ook nog 'n keer in die graf. Wat het tog gebeur? !

En dan sien sy skielik twee engele van die Here. Sy het waarskynlik nie geweet dat dit engele was nie aangesien hulle soos mense, soos manne gelyk het. Hulle het wel opvallende klere aangehad, heeltemal wit. Daardie opvallende verskyning in die skemerdonker van die grafkamer het Maria so verbaas laat staan, dat sy blykbaar glad nie die lykwindsels gesien het wat ook nog steeds daar tussen die twee "manne" in gelê het, nog presies in die vorm van Jesus se liggaam soos u onthou van die preek van vorige Sondag. Johannes vertel in ons teks dat die engele aan weerskante van die leë kokon gesit het: "een by die hoof en een by die voete".

Maria sien deur haar trane heen net twee manne in helderwit klere en dié aanblik versterk haar maar net in die gedagte wat al dadelik by haar posgevat het dat die liggaam van Jesus nie meer daar is nie. Wat maak mos die twee manne nou daar?

As hulle vriendelik vra hoekom sy huil, is haar antwoord dan ook: "Omdat hulle my Here weggeneem het, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie".

Sy wag nie eens 'n reaksie van die manne af nie, maar keer haar dadelik weer van die grafopening af. Sy het daar niks meer om te soek nie.

Sy is reg! Sy hét daar niks meer om te soek nie. Maar sy hoef ook nie op 'n ander plek gaan soek nie. Dié wat sy soek, staan skielik voor haar neus.

En weer hoor sy die vraag: "Vrou, hoekom huil jy? Wie soek jy? ".

Jesus self staan in lewende lywe voor Maria en Hyself probeer om haar te laat besef dat dit hoegenaamd nie nodig is om te huil nie. Dat dit ook glad nie nodig is om na 'n dooie Jesus te soek nie.

Maar Maria herken selfs nie vir Jesus nie. Sy dink dat dit die tuinier is, die man wat die tuin moet oppas. Dalk weet hy wat met Jesus se liggaam gebeur het!

Hoekom het Maria selfs Jesus nie herken nie?

Was haar oë so vol trane dat sy nie mooi gekyk het nie?

Maar hoe is dit moontlik dat sy haar eie Here nie eien nie? Al is haar oë dalk omfloers deur trane, haar ore moes tog direk die vertroude stem herken het? Sy het mos so lank met Hom opgetrek? Sy het sy stem mos so dikwels gehoor?

Ons lees nog 'n paar maal van so'n steurnis in die herkenning na Christus se opstanding, broeders en susters.

Dieselfde ding gebeur by die Emmausgangers. Daardie mans het 'n hele wandeling met Jesus gemaak en 'n hele preek van Jesus gehoor sonder om in Hom hulle Here te herken. En u kan in die volgende hoofstuk in Johannes se Evangeliebeskrywing lees dat die dissipels hulle Here nie herken nie as Hy op die oewer staan en vir hulle 'n paar vissies by sy ontbyt vra.

Dit was maar nie telkens domme kortsigtigheid nie. Ons lees ons in die geval van die Emaüsgangers: "hulle oë is weerhou sodat hulle Hom nie kon herken nie". Christus self het telkens 'n rukkie die oë vir die herkenning toegesluit. Hulle móg Hom nie dadelik aan sy voorkoms en sy stem herken nie. Hy het afstand geskep.

Hoekom? Wel, Pase, sy opstanding uit die dood, was nie die herstel van die situasie van voor die Goeie Vrydag nie. Sy opstanding het Hom nie by sy leerlinge teruggebring om voortaan weer soos vroeër saam aan te gaan nie. Dit sou nie meer lank duur nie of die dag van sy hemelvaart sou aanbreek. Christus sou nie hier op aarde bly nie, maar Hy gaan nou 'n troon beklim in die hemel. Christus moes nie terug nie. Hy moes verder!.

Dis dié, gemeente, dat Hy ook vir Maria sê, na sy Hom herken het: "Raak My nie aan nie". Ek stem saam: dit klink koel by so'n blye weersien. Maar dis die skuld van ons vertaling. Ek dink nie Christus het koel en afstandelik gelyk nie. Die klank van sy stem sal ook nie so geklink het nie. En as ons noukeuriger vertaal, het Hy ook nie gesê: "Raak My nie aan nie!", maar: "Moenie My bly vashou nie".

Maria klamp haarself aan Jesus vas asof sy Hom nooit weer sal loslaat nie. Sy het haar Here terug; haar Redder wat haar eendag verlos het van sewe duiwelse geeste wat haar lewenshuis beset en verwoes het; wat ook so veel ander mense se lewens uit die greep van siekte en verdriet bevry het. Hy is terug, terug uit die dood en nou mag Hy nooit, nooit meer weggaan!

En dié besitterige houding by Maria moet Jesus korrigeer.

U onthou dat ek gesê het: sy het Jesus as haar Here liefgehad, maar sy het Hom nog nie eintlik geken nie? Dit het duidelik geword toe sy gedink het dat die dood 'n einde aan sy verlossingswerk gemaak het. Hier blyk dit opnuut. Sy dink dat alles nou weer word soos dit was.

Maar hoe kortsigtig is dit. Jesus moét juis nou weggaan. Hy het opgestaan om verder te gaan. Om hemel toe te kan gaan. En sy werkterrein het nou baie breër geword.

Sê nou, broeders en susters, die Here Jesus sou na sy opstanding gewoon op aarde by ons gebly het. Dit lyk vir u dalk 'n aantreklike gedagte. Dan kon ons sommer na Hom toe gaan, Hom sien, met Hom praat. Hy kon miskien 'n keer voorgaan in een van ons dienste. Dalk was Hy bereid om 'n keer 'n katkisasieklas aan te bied. Dit sou tog wonderlik wees? En wat as Hy dan ook weer wonders sou verrig: genesings, opwekking van dooies?

Ja, maar aan die ander kant: die Here Jesus is vanaf sy geboorte in Betlehem 'n mens soos u en ek. Met 'n menseliggaam wat maar op een plek tegelyk kan wees. Hoe min sou Hy dan maar vir ons kon doen! U sou Hom wil praat, maar op daardie oomblik was Hy juis in Tokio. Of in Rio de Janeiro. Of in Berlyn. Daar sou so veel mense wees wat met Hom wou praat, wat Hom wou sien -dink maar aan hoe dit al partymaal in Israel was in die drie jaar wat Hy daar rondgetrek het!- dat u meer teleurgesteld as dankbaar sou wees.

Christus moes na sy sterwe en opstanding na die hemel toe gaan om van daaruit vir ons almal, vir sy kerk orals in die wêreld iets te kan beteken. Of liewer: om vir haar baie te kan beteken.

Boonop: sy opstanding uit die dood was nog maar die eerste begin van die verlossingswerk wat hy vir ons wou doen. Dit was nie die einde nie. Hyself het 'n nuwe, verheerlikte liggaam ontvang. Maar wat van Maria? En Petrus? En Johannes? Christus wou verder na 'n totaal verloste lewe op aarde toe. Op 'n vernude aarde. Hy wou ons vernederde liggame aan sy verheerlikte liggaam gelyk maak. Maar daardie vernuwing moet aan die binnekant begin. Maria was wel van sewe duiwelse geeste verlos, maar sy was nog nie volkome aan die invloed van die duiwel onttrek nie. Daarvoor moes die Heilige Gees vanuit die hemel uit na die aarde gestuur word, om aan 'n geduldige afbraak van alle duiwelse invloed in ons lewens te werk. Nie net van Maria, Jakobus, Alfeüs en so meer nie. Maar van nog ontelbaar veel kinders van God wat nog gebore moes word. Soos u en ek.

Met die oog daarop was Christus se plek na sy opstanding vereers weer in die hemel, die regeringsentrum van God. Maar die terugkeer na die hemel was geen teruggang nie. Dit was 'n voortgaan met sy verlossingswerk, voortaan nie meer net in Israel nie, maar in die hele breë wêreld van God. Aan der regterhand van God het Hy alle mag ontvang oor die hemel en die aarde om alle vyande wat die lewe op aarde nog tiranniseer en verwoes tot 'n voetbank vir sy voete te maak.

Ons moet Hom nie terugverlang hier by ons op aarde in 'n lewe soos dit voor die Goeie Vrydag was nie. Hy het verdergekom. Hy het die beste plek gekies om sy verlossingswerk te kan voortsit: langs God op die hemelse troon waar Hy kan beskik oor hemelse kragte: die Gees van God en 'n ontelbare leërmag van engele.

2. Maria was bang om haar Here weer te verloor. Nogtans sou sy Hom moet loslaat.

Maar sy hemelvaart sou geen afskeid beteken nie. Hy sou deur sy hemelvaart nie sy kerk op aarde loslaat nie. Glad nie.

Hoor met watter woorde Hy Maria nou na die ander dissipels toe stuur: "Gaan na my broeders.... "! Vroeër het Christus sy leerlinge "sy vriende" genoem (Joh. 15): "Ek noem julle nie meer diensknegte nie, maar julle is My vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel". Dit was 'n wonderlike voorreg: om 'n vriend van die Seun van die lewende God te mag wees.

Maar nou gebruik hierdie Seun van God 'n woord wat nog baie intiemer is: broers. Sondige mense, wat sy dissipels tog is, bangbroeke wat gevlug en Hom in die steek gelaat het toe Hy gevange geneem is, 'n man soos Petrus wat met vloeke gesweer het dat Hy daardie Jesus van Nasaret glad nie ken nie- sulke mense noem Hy sy broeders.

Ons het in Hebr. 2 gelees dat die Seun van God Hom "nie geskaam het" om ons sy broeders te noem nie. Hoe maak ons as daar in ons familie 'n swartskaap is wat al 'n kriminele rekord het of 'n ruk in die tronk was? Iemand wie se naam in alle koerante gestaan het? Ek dink ons hoop die meeste mense weet nie dis familie van ons nie. En ons hou hom op 'n groot afstand.

Hoeveel rede was daar dan vir Christus om die bande met ons volkome deur te sny. Ons, skinderbekke wat ons dikwels is, mense wat drank misbruik, materialiste wat altyd maar met geld en goed besig is en afgunstig op mense wat meer het as ons, bedrieërs en huigelaars, rusiemakers wat in haat en nyd met mekaar lewe, ja, selfs in ons familiekring met mekaar omgaan asof ons vreemdes vir mekaar is....

Maar sulke mense wil die Seun van God na sy opstanding uit die dood sy broeders en susters noem!

Want: Hy en ons het dieselfde Vader!

Dit mag Maria vir die dissipels gaan vertel: nie net dat Christus hemel toe gaan nie, maar dat Hy na Vader toe gaan. Sy Vader wat voortaan ook weer weer heeltemal ons Vader wil wees!

Waarvoor het Hy mos aarde toe gekom? Oms as 'n weldoener op te tree? Om siek mense gesond te maak en party dooies uit die dood terug te roep? Ag nee, dit was net tekens wat die aandag wou trek vir die eintlike doel waarvoor Hy in die wêreld gekom het. Anders sou Hy mos wel álle siekes in Israel kon gesondgemaak het en alle dooies opgewek het!

Nee, Hy het gekom om skinderbekke en drankverslaafdes, materialiste en owerspelers, rusiemakers en leuenaars by sy Vader terug te bring; om die kloof wat ons deur ons verwerping van ons hemelse Vader geslaan het, te dig. Hy was bereid om in ons plek die volle toorn van God oor al ons eiewysheid en liefdeloosheid te ondergaan; om in die hel weggestoot te word. Hy wou Hom so ver van Vader af laat wegstoot dat Hy op die ou end dit uitgeskreeu het: "My God, my God, waarom het U My verlaat".

Maar toe het sy God ook na Hom teruggekeer. Hy het self sy Seun uit die dood teruggeroep. God is weer heeltemal sy God, sy Vader.

Maar God is nou ook weer heeltemal ons God, ons Vader.

Na dié Vader gaan Hy nou toe. Maar nie net vir Homself nie. Terwille van ons, sy broeders en susters. Na sy dood en opstanding het sy band aan ons des te sterker geword. Ons het onafskeidelik geword. Saam kind van Vader in die hemel.

Hy het eers van Vader na ons toe gekom om Vader se belange by ons hier op aarde te behartig. Nou gaan Hy van ons weer na die Vader toe om ons belange by die Vader te behartig. Om vir al God se kinders hul skuld by Vader te versoen, om vir al God se kinders Vader se Heilige Gees te skenk. Om vir al God se kinders plek te berei waarna Hy terugkom om hulle by Hom te neem sodat hulle ook sal wees daar waar Hy reeds is. Waar kan Hy vandag beter vir ons sorg, as direk voor Vader se aangesig?

"Moenie My by jou probeer vashou soos dit tot nou toe was, Maria", moes Jesus vir Maria sê, broeders en susters. Maria moes leer om bly te wees met Christus se vertrek na die hemel.

"Moenie jaloers wees op mense soos Maria en Petrus en na dié tyd terugverlang nie", sê Christus vandag vir u en my. U en ek, ons moet ook leer om te kan bly wees met ons Here in die hemel. Hy is daar mos ons saakwaarnemer by Vader!

Sy vertrek was 'n vooruitgang. En ons kan maar vol verwagting wees: soos Hy direk na sy opstanding al met sy hemelvaart besig was, is Hy vanaf sy hemelvaart ononderbroke met sy wederkoms besig. Dié dag sal kom! En dán mag ons Hom aanraak en vashou vir ewig. AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)