Die koninkryk van die hemele word deur liefdevolle ampsdiens gebou

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Johannes 13
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 37: 1, 2, 3, 4, 5, 25
Ps 4: 1, 2
Ps 4: 3, 4
Ps 17: 1, 2, 3
Ps 84: 1, 2, 3, 4
Lees: Johannes 13: 1-20
Teks: Johannes 13: 15

Brs en srs, gemeente van ons Here Jesus Christus!

Want Ek het 'n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.

Die Here Jesus gee dus 'n voorbeeld wat ons moet navolg.

Hierdie woord van Jesus is oorgeneem deur duisende mense in die Middeleeue. Hulle het hul met 'n ongelooflik groot ywer en selfverloëning daartoe gesit om Jesus na te volg. Bedelende en predikende het hulle by duisende deur Europa getrek in hul poging om die lewe van Jesus te imiteer.

Was hulle reg met hul poging tot imitasie van Christus?

Want Ek het julle 'n voorbeeld gegee.... Vorm hierdie einste woorde tot op vandag nie 'n bron van inspirasie vir mense wat in Jesus 'n voorbeeld ter navolging sien? Jesus is ons voorbeeld! Lees maar die verhaal van die voetwassing!

Die wêreld sou heeltemal anders lyk as al die mense net so soos Jesus sou doen!

Is dit waar?

Ja, dit is heeltemal waar, brs en srs: Jesus is hier inderdaad 'n toonbeeld van nederigheid en liefdebetoon.

Boonop is dit waar dat Hy hierin vir ons 'n voorbeeld gee.

'n Voorbeeld om na te volg.

Maar, as ons hierin nie meer sien as slegs 'n voorbeeldige liefdebetoon, of nie meer as 'n uitstaande les in nederigheid nie, dan het ons die belangrikste gemis.

Dan het ons die evangelie gemis.

Die evangelie van genade van God en van behoud van sondaars deur die kruis van Christus.

Daarom, as ons die verhaal van die voetwassing deur Jesus goed wil verstaan, dan sal ons Hom hier besig moet sien met die vervulling van sy opdrag, met die uitvoering van sy amp.

Immers slegs deur ampsdiens van Christus word die Koninkryk van die hemele gebou.

Verder word die Koninkryk tot voltooing gebring deur ampsdiens van christene.

Daaroor bedien ek u vanoggend die Woord van God onder die volgende tema:

Die Koninkryk van die hemele word deur liefdevolle ampsdiens gebou

Ons sien:

  1. hoe Christus vir ons hierdie amp verrig
  2. hoe Christus ons tot hierdie amp verplig

Dit was in Israel 'n goeie gewoonte, brs en srs, kinders, om voor jy aan tafel gaan eers jou voete te was. Daar is in ons land nie soveel verbeelding nodig om te besef waarom.

Teerpaaie en sypaadjies was in daardie tyd nog nie uitgevind nie. Al paaie wat daar was was grondpaaie van swak gehalte. As ons besef dat mense of kaalvoet gestap het of 'n tipe oop sandale gedra het, begryp ons dat 'n paar minute se stap buitekant genoeg is om jou voete die kleur te gee van die rooi bruinerige stof waaruit die paaie bestaan het.

Gewoonlik is dit so dat iemand wat tuiskom onmiddellik self sy voete was in water wat daarvoor klaarstaan. Mense wat dit kon bekostig, het 'n slaaf aangehou wat hierdie taak op hom geneem het.

As jy as gasheer ander mense vir 'n maaltyd nooi, is dit jou taak om vir die geleentheid in elk geval 'n slaaf beskikbaar te stel om die gaste se voete te was. Dit is goeie maniere. Jy betoon jou gaste die eer wat hulle verdien.

Op die aand waaroor dit gaan in ons teks word ook 'n maaltyd gehou. 'n Gesamentlike feestelike Paasmaaltyd van die Here Jesus met sy dissipels.

Vanselfsprekend is Jesus die Gasheer.

Alles is puik versorg.

Maar daar is net een dingetjie.

Daar is nie 'n slaaf aanwesig om die gaste se voete te was nie.

Wat nou?

Vir die Here Jesus vra of Hy dalk vergeet het 'n slaaf te bestel? Maar dit doen 'n mens nie.

Elkeen sy eie voete was? Ja maar by 'n fees doen jy dit nie.

By die huis wel, maar nie hier nie.

Maar wat dan? Moet een van hulle dit doen? Maar wie dan? Die jongste een? Of die minst belangrike een?

Daar ontstaan 'n hele stryery oor wie nou verplig is om die werkie te doen.

Op die ou end gaan hulle maar net so met rooi koppe en met vuil voete aan tafel.

En dan los Jesus die stryery op.

As niemand die minste wil wees nie, dan doen Hy dit self.

Hy trek sy klere uit en bind vir hom 'n slawedoek om. Hy kry water en was vir hulle een vir een die voete. Die koppe van die dissipels word nog 'n bietjie rooier, maar nou van skaamte oor hul stryery van sopas.

Gemeente, tot nou toe het ons 'n vry duidelike verhaal. Ons kan die probleem van die dissipels verstaan. Ons loop ook nie almal ewe hard om in die gemeente minder eervolle werkies te doen nie.

Ons verstaan heel goed wat die Here Jesus bedoel. Hy gee praktiese onderrig in liefdevolle omgang met mekaar en in selfopoffering.

Maar ons moet meer sien as net dit.

Hier moet ons die Here Jesus besig sien as Middelaar.

Hier buig die Meester oor die voete van sy leerlinge.

Hier kniel die Heer aan die voete van sy knegte.

Hier verrig Hy sy amp as Middelaar, as dienskneg in die Koninkryk van die hemele.

Hier werk die Middelaar wat homself verneder, sodat ons wat in Hom glo, die lewe kan hê in Sy Naam.

Dit is volop ampswerk van Jesus dus.

Waarom doen die Here Jesus wat Hy doen?

Ons kry die antwoord in vers 3: 'omdat Hy wis dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God uitgegaan het en na God heengaan... '

Hier staan soveel as: Die Here Jesus was Homself baie bewus dat Hy deur God die Vader gestuur is. Dat Hy 'n taak moet vervul. Dat hy 'n amp op Hom geneem het.

Juis hier besef Hy sy amp: "Die Seun van die mens het nie gekom om hom te laat dien nie, maar om te dien... "

So gaan dit in Sy Koninkryk.

Dit gaan nie oor heers nie, maar oor dien.

In die eerste plek vir die Koning van daardie Ryk. Vir Jesus Christus.

Hy wis dat die Vader alles in sy hande gegee het.

Hy besef Hy is die Koning van die komende Koninkryk en daarom loop haal Hy water en 'n doek en spring aan die werk.

So wys Hy hoe dit gaan in die Koninkryk.

In die Ryk sit nie 'n koning op die troon om Hom te laat dien nie. Maar daar gaan dit presies andersom.

Wil jy in Sy Ryk binnegaan?

Maar dan moet jy eerstens bereid wees om jou deur die Koning te laat dien.

Wil jy die Koning van die ryk eer betoon?

Laat al die presente wat jy vir hom wou saambring by die huis. Wys vir hom net jou leë hande. Vra om genade.

Vergeet van jou eie eer. Vergeet van jou eie goeie werke.

Bring niks saam in daardie Ryk nie. Want daar kan jy slegs ontvang.

Gaan kyk hoe lyk die Koning!

Sien jul koning, o Jode!

Sien jul Koning, dissipels!

Kyk hoe loop hy in 'n slawedoek!

Dit is 'n ergernis vir die vlees. Wie soek nou so'n koning wat hom so verneder. Wie wil by so'n koning behoort?

Petrus in elk geval nie.

Vererg trek hy sy voete terug uit die hande van Jesus.

Hiervoor is Jesus te goed.

Kyk, Petrus het 'n probleem daarmee dat in die Koninkryk van die hemele sake presies andersom gereël word.

Hy meen dat dit anders moet gaan. Sy gewete sê vir hom: Dit kan nie so nie!

Maar vlymskerp word Petrus tereggewys: "As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie!"

Uit die skerpte van hierdie woorde blyk dat dit hier om meer gaan as om 'n praktiese les in nederigheid.

"Geen deel aan My nie!"

Deur hierdie Koning moet jy jou laat dien, voordat jy Hom mag dien!

Christus is hier mos besig in sy amp. Sy Koninklike amp!

Boonop ook nog as priester.

Want hierin berei Hy heel liefdevol sy dissipels voor op wat die volgende dag sal gebeur.

Want nog 'n dag en hulle sal hom weer sien.

Opnuut slegs gekleed in 'n slawedoek.

Dan is sy posisie nog nederiger en nog ergerniswekkender.

Dan hang Hy aan 'n kruis!

'n Koning aan 'n kruis.

Daarop berei die Here Jesus nou sy dissipels voor as Hy op sy knieë rondkruip in 'n lendedoek.

Wat ek doen begryp jy nou nie, maar jy sal dit hierna verstaan, sê Jesus (vers 7).

Wanneer sal hulle verstaan?

As Hy aan die kruis hang.

Dan moet hulle weer besef: dit is nie noodlot nie, maar dit is ampswerk.

Wie hom nie deur my laat was nie, het geen deel aan my nie!

Gemeente, hierdie teken van die voetwassing sal Christus fisies aan ons nie verrrig nie, maar die woord is darem nie minder geldig vir ons nie.

Wie hom nie deur my laat was nie, het geen deel aan My nie.

Maar ons is dan mos deur hom gewas.

Ons almal het die simboliese wassing van die doop ondergaan.

Daarom kom na ons almal die vraag toe wat die Here Jesus in vers 12 aan al sy dissipels stel: Verstaan julle wat Ek aan julle gedoen het?

Hierdie vraag kom vanoggend na julle almal toe: Verstaan jy wat Ek aan jou in die doop gedoen het?

Begryp jy dat Ek my tot in die dood toe moes verneder om hierdie wassing aan jou te kon uitvoer?

Begryp jy wat dit vir My gekos het?

Verstaan jy dat dit my liefde vir jou is en my besorgdheid om jou lewe dat ek dit gedoen het?

Waar is dan jou antwoord op jou doop?

Waar is die antwoord op my wassing van jou voete?

O ja, ek weet dit is moeilik om 'ja' te sê.

Want ook by jou leef die ergernis. Dieselfde ergernis oor so'n koning wat Petrus sy voete laat terugtrek het.

Ofwel, die ergernis van die kruis!

Moenie vergeet dat slegs langs daardie weg behoud is.

Seker, die omgekeerde kan ook gebeur.

Jy kan jou sommer jou voete laat was. Jy kan as kind gedoop wees, maar die doopwater net so van jou laat afgly. Jy doen niks daarmee nie. Jy steur jou nie aan die prediking van vergewing van sondes nie.

Dit was daardie aand ook by een van die dissipels die geval.

Judas het nie geprotesteer toe die Here Jesus hom sy voete kom was nie. Jesus kon maar rustig sy voete was. Hy gee nie om nie. Maar die teken het vir hom niks gesê nie. Hy het gebly wie hy was.

Onrein. En tenslotte het hy sy Heer en Meester verraai.

So daar is net twee moontlikhede: Of jy buig jou en aanvaar hierdie koning soos hy is. Soos Petrus tenslotte gedoen het.

Of jy handhaaf jouself. Jy doen niks met die feit dat die Here uit liefde ook jou gewas het. Tot jy sover kom dat jy die Heiland verraai. Soos Judas gedoen het.

2. Hoe Christus ons tot ampsdiens verplig

Want Ek het aan julle 'n voorbeeld gegee om net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.

Noudat Christus Hom neergebuig het om sy broeders hul voete te was, vra Hy van ons dieselfde liefdebetoon. Ons moet mekaar die voete was.

Wat beteken dit?

Dit is belangrik om dit nie onmiddellik te veralgemeniseer tot allerhande diensbetoon vir mekaar, tot hulpvaardigheid en nederigheid nie.

Immers ons het gesien, die belangrikste in Jesus se doen hier is die feit dat Hy besig is met ampswerk. Hy verrig sy roeping teenoor sy broeders in 'n amptelike daad.

As ons nou opgewek word om hierdie voorbeeld te volg, dan beteken dit dat ons op ons eie plek ons ampsdiens moet vervul.

Ons hoef nie dieselfde as Christus te doen nie.

Sy amp as Middelaar is mos uniek.

Hy vra dan ook nie van ons dat ons moet doen wat Hy gedoen het nie, maar Hy sê: doen soos Ek gedoen het.

Julle moet op julle plek julle ampsdiens verstaan en met dieselfde opofferingsgesindheid vervul as wat Ek gedoen het.

Jesus het geweet was sy amp was en met al die liefde van sy hart Hom daaraan gegee.

Dit is wat Hy ook van ons vra.

Ons wil nog iets skerper omskryf watter taak die Here Jesus by hierdie geleentheid op Hom geneem het.

Sy wassing het alles te doen met reiniging van die sonde.

En dit is dan ook die eerste taak wat ons in hierdie verband het.

Om ons in te span vir reiniging van die sonde.

In die allereerste plek by onsself deur te stry teen ons sondes.

Deur ons af te vra wat is my grootste swakheid in die lewe met die Here en hoe kan ek daaraan iets verander?

Maar ook by mekaar. Deur mekaar aan te spreek oor sondes.

Immers in die gemeente van Christus mag die sonde nie 'n wettige plek kry nie.

Nou is dit die moeilikste wat daar is, brs en srs, om as gemeente mekaar aan te spreek oor ons sondes.

Blykbaar sien ons nie kans om in die gemeente so 'n atmosfeer te skep dat dit vanselfsprekend is nie.

Om mekaar die voete te was, beteken vir die broer wat hierdie taak op hom neem dat hy op die knieë moet gaan.

Immers dit is onmoontlik om vanuit die hoogte jou broer aan te spreek en te sê: Broer ek sien jou voete is vuil. Daar moet iets aan gedoen word.

Nee, as jy die taak van voetwassing op jou neem, dan is dit maar 'n heel nederige werkie wat slegs in 'n gees van nederigheid gedoen kan word. Dan kan jy net die water aandra van vergewing van sondes deur Jesus Christus.

U voel wel die persoon wat dit vir 'n ander doen vat 'n kans. Die kans dat hy deur die ander 'n skop in sy gesig kry as hy hierdie werkie wil doen.

Tog moet dit gebeur as ons werklik gemeente van Christsu wil bly. 'n Gemeenskap waarin ons werklik geestelik omgee vir mekaar.

Kyk, dit is veel gemakliker om mekaar maar net vry te laat.

Ek bemoei my nie met haar nie. Wat sy doen is heeltemal haar saak! Laat die ouderlinge dit maar doen.

Geen dankbare werk hoor, hierdie onderlinge voetwassing.

"Ek het dit gedoen" sê die Here Jesus. Ek het dit by julle en vir julle gedoen.

So gaan dit in My Ryk.

'n Kneg is nie hoër as sy heer nie. As iemand hom te groot voel vir hierdie diens aan sy broeder of suster dan wil hy groter as sy Heer wees.

Daarmee staan jy die voortgang van die Ryk van Christus in die pad.

'n Ware volgeling van Christus is nie iemand wat slegs in sy persoonlike verhouding tot God belangstel nie. Nee dit is iemand wat begin met 'n persoonlike verhouding tot God op te bou. Maar vandaaruit begin hy besef dat hy 'n taak ontvang om iets daarmee te doen binne die gemeenskap.

Hy ontwikkel 'n ampsbesef.

Hy weet dat hy alles wat hy het ter beskikking moet stel in die Koninkryk van Christus.

Soos Christus Homself heeltemal gegee het.

Wie klein wil wees in die kring van die broeders hy is by God geëer.

Dit geld uit die aard van die saak ook vir hom wie se voete gewas moet word.

Daardie diens moet 'n mens laat verrig. Ook daarvoor is geloof nodig en liefde tot Christus. En vertroue in die opregte gesindheid van die broeder.

Want niemand hou daarvan om op sy sondes aangespreek te word nie. Almal sal van nature reageer soos Petrus: Nee dankie ek kan liewers my eie voete was.

Hoewel Petrus het vermoedelik geweier vanuit die gedagte: Daarvoor is Jesus te groot!

As ons weier om deur 'n ander ons voete te laaat was is die agterliggende geagte gewoonlik: Daarvoor is jy te klein, broer!

Van jou sal ek dit nie vat nie.

Wat het jy met my voete te doen?

Wel, iemand wat so doen belemmer die voortgang van die ryk van Christus.

Hy verhef homself. En hoogmoed is altyd blind vir ampsdiens.

Hoogmoed verhinder eie ampsdiens.

Hoogmoed belemmer 'n ander se ampsdiens.

Wie hom te groot voel om deur 'n broeder sy voete te laat was, skop daarmee sy nederigste broeder Jesus Christus in die gesig.

Jy kan nie sê: As ek deur Christus persoonlik vermaan sou word dan sou ek luister, maar nou dit slegs 'n broeder is, kan hy vlieg.

As jy jou te goed voel om jou deur ampvervullende knegte van Jesus Christus die voete te laat was, is jy nie goed genoeg vir die nederigste dienaar in die Koninkryk van die hemele namelik Jesus Christus self nie.

In sy Koninkryk word sake mos altyd andersom gereël.

'n Mens moet klein wees, om daar groot te kan word.

'n Mens moet arm wil wees om die rykdom van die Koninkryk te ontvang.

'n Mens moet smaad wil dra om daar geëer te word.

Ja, 'n mens moet homself wil verloor om daardie lewe te ontvang.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)