Die hoëpriester wys die soenoffer aan

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Johannes 11
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 53: 1-7
Ps 99: 1, 2, 3
Ps 99: 4, 5
Ps 46: 1, 2, 3, 4
Ps 27: 1, 2, 3
Lees: Joh 11: 45-57
Teks: Joh 11: 49-52

Brs en srs,

In ons belydenis praat ons oor die wonderlike raad en voorsienigheid van God. Ons bely dat God in staat is om ondanks en dikwels met inskakeling van sondes van mense tog in staat is om sy doel te bereik.

Oor hierdie moontlikheid van God kan ons probeer teoretiseer maar dit bly tog 'n bietjie ver van ons af weg.

Tot ons skielik daardie wonderlike raad van God in die praktyk sien werk.

In ons teks van vanoggend kry ons daarvan 'n verstommende voorbeeld.

Kajafas die hoëpriester stel nie minder as 'n moord voor.

'n Moreel volstrek verwerpelike voorstel. Jesus moet sterwe.

Hy het 'n pragmatiese argument daarvoor. Beter een man dood as dat 'n heel volk omkom.

Maar die Here gebruik hierdie afskuwelike voorstel van Kajafas om presies te bereik wat Hy soek.

Want ook vanuit God gesien is die dood van Jesus noodsaaklik.

Inderdaad, hier moet een man opgeoffer word. Maar die offer word nie soos Kajafas wil uit eiebelang op koste van 'n ander gebring nie.

Hier bring God Self die hoogste offer. Hy bring die offer van Sy Seun. Hy laat Hom nie slegs doodgaan nie, maar stuur Hom selfs die hel in om langs daardie weg redding te kan bring.

Nie net vir een volk nie, maar vir die hele wêreld.

En die mees besondere is dat die Here die hele gebeure inpas in die versoeningsdiens van die Ou Verbond.

Dit is nie verniet dat dit juis Kajafas is wat as Hoëpriester hierdie voorstel maak.

Ons tema vir die preek is:

Die Hoëpriester wys die soenoffer aan

  1. Hy soek daarmee selfbehoud vir Israel
  2. God bring daarmee lewensbehoud vir die wêreld

"En die pasga van die Jode was naby" skryf Johannes in vers 55 van ons tekshoofstuk.

Dit is nie die eerste keer dat Johannes in sy evangelie die tydsaanduiding van die pasga gebruik nie. Jesus was 'n hele paar keer juis tydens die pasga in Jerusalem.

Maar hierdie keer kry die aanduiding 'n besondere klank.

Op die pasga is immers altyd die paaslam geslag. Die offer wat herinner aan die redding van die volk uit Egipte deur die ingrype van God.

Maar in ons teks kom die eintlike Paaslam na Jerusalem.

God stuur Sy Seun Jesus Christus as die lam van die wêreld, wat geslag sal word om die sonde te versoen.

Hy sal sterf vir almal wat hierdie lam in geloof erken en aanvaar.

En daarom word dit hierdie paasdae spannend in Jerusalem.

Sal Jesus as die deur God gestuurde Messias aangeneem of sal Hy verwerp word?

Die tyd van beslissing is nou daar.

Daarom werk die Here Jesus en Sy Vader ook bewus toe na hierdie beslissing.

Dit is seker geen toeval dat die Here Jesus juis in hierdie dae een van sy grootste tekens doen nie.

Die opwekking van Lasarus uit die dood!

In ons tekshoofstuk word daaraan breedvoerige aandag gegee.

In hierdie wonder bewys die Here Jesus sy mag oor die dood.

Hyself is die Vors van die lewe!

In die lig van die onlangse opwekking van Lasarus is die voorstel van Kajafas om Jesus dood te maak eintlik 'n grote dwaasheid. Hoe kan jy die Vors van die lewe doodmaak?

Hoe dink jy as sterflike mens die Seun van God wat lewe in Homself het, van die lewe te kan berowe?

Maar later daaroor.

Eers dit: hierdie groot teken van Jesus, die opwekking van Lasarus uit die dood maak by die mense die vraag los,

Wat beteken hierdie teken?

Wie is Hy wat hierdie tekens kan doen?

Amper vanself kom die eintlike vraag op: Is Hy miskien die Messias? Is Hy die beloofde Verlosser vir Israel?

Almal worstel met daardie vrae. Is Hy die Messias? Ja of nee? Van die mense het sover gekom dat hulle die vraag met Ja beantwoord het. Ons glo in Hom. Hy is die Messias.

Almal worstel met die vraag.

Niemand kan hom na hierdie groot teken aan die vraag onttrek nie. Selfs nie die Sanhedrin nie. Die Joodse Raad.

Die Sanhedrin was die groot vergadering van deftige Sadduseers en ywerige Fariseërs.

Hulle moet aan die volk leiding gee.

Nou moet ek vir u eers iets van die posisie van die Raad vertel. Dit kan help om die gebeure beter te verstaan.

Hierdie Raad het 'n dubbele funksie gehad.

In die eerste plek was hulle 'n vergadering van geestelikes.

Die hoëpriester en die owerpriesters het daarin 'n plek gehad. Dit was dus 'n soort kerklike vergadering.

Maar langsamerhand het die Sanhedrin meer en meer 'n politieke karakter gekry. Dit was die gevolg van die Romeinse magsoorname in Israel. As die Romeine iets wou reël met betrekking tot die bevolking dan het hulle hul tot die Sanhedrin gewend as die verteenwoordiger van die volk Israel. Daardeur het die Sanhedrin steeds meer in politieke sake betrokke geraak.

Dit beinvloed uit die aard van die saak hul manier van dinke.

Dit sien ons ook in teks gebeur.

Ook die Sanhedrin kom na aanleiding van die groot teken van Jesus voor die vraag: Wie is hierdie Jesus en wat moet ons doen?

Dat hulle nie onmiddellik die antwoord weet nie, is nie so erg nie, maar wat moes hulle as geestelike leiers van God se volk gedoen het?

Hoe moes hulle bepaal het of Jesus wel of nie die beloofde Messias was nie?

Daarvoor was mos 'n weg! Hierdie: Maak die Skrifte oop!

Jesus self verwys steeds daarna vir sy legitimasie.

Wil julle weet wie is Ek?

Dit is mos die Skrifte wat van My getuig!

Die tekens wat Ek doen kan slegs in hul betekenis uit die Skrifte verstaan word.

Die Skrifte het mos belowe, as die Messias kom dan word die oë van die blindes geopen, die lammes wandel en die ore van die dowes word ontsluit.

Dit alles het gebeur by die koms van Jesus. Ja selfs dooies is opgewek.

Daarom moet aan hierdie tekens beoordeel word of Jesus 'n goeie of 'n valse herder vir die volk Israel is.

Maar wat doen die leiers van Israel?

Maak hulle die Skrifte oop, om by die lig daarvan tot 'n oordeel te kom?

Ag nee, die Skrifte bly toe.

En daarom kan hulle in Jesus nie die Messias herken nie.

Hulle wil dit nie sien nie.

En dan verskuif die vraagstelling.

Hulle stel nie die geestelike vraag: Is hierdie Jesus dalk die Messias?

Maar hulle maak daarvan 'n politieke vraag: Watter invloed oefen hierdie man op die volk uit en is ons gelukkig daarmee?

Hoe raak dit ons posisie as leiers van die volk?

Hulle sê: Almal loop Hom na!

Maar hulle bedoel eintlik: Die mense loop by ons af weg!

As ons hierdie man laat gaan, wat van ons posisie?

En dan neem Kajafas die hoëpriester, die woord.

Hy rig hom tot sy kollega-raadsmanne.

Hy sê hardop, wat niemand gewaag het om te sê nie, maar wat waarskynlik lankal deur hul koppe gespeel het: Hy moet weg. Hy moet dood! Dit is al manier waarop hierdie kwessie opgelos kan word.

As iemand gewetensbeswaar sou hê, want dit is nie minder as 'n moord wat die hoëpriester hier voorstel, dan het Kajafas 'n goeie argument.

Dink daaraan dat dit vir ons voordelig is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie.

So word die dilemma gestel: Of hierdie een mens sterwe of die hele nasie sal omkom.

Wel, vir 'n politikus is die keuse dan duidelik.

Daaroor hoef hulle nie eers meer te stem nie.

So lees ons dan ook in vers 53: van die dag af het hulle toe saam beraadslaag om Hom om die lewe te bring.

Nou kan ons ons afvra, hoe kom Pilatus daarby om dit so te stel: Die hele nasie sal nog omkom? Was dit nie 'n oordrewe argument nie? Jesus se optrede was tog nie bedreigend vir die nasie nie?

Maar as ons ons die situasie, die geestelike en die politieke situasie van daardie tyd indink, was Kajafas met sy argument dat die lewe van die hele nasie bedreig word, tog nie sover uit nie.

Kyk, in daardie dae was die Messiasverwagting van die Jode sterk lewend. Hulle het baie uitgesien na iemand wat hulle van die Romeine kon verlos. Daarom was hulle geneig om te hardloop agter elke profeet aan, wat maar bewerings in die rigting maak.

Pilatus, die Romeinse stadhouer het al 'n hele paar keer met sulke skynmessiasse te doen gehad. Dit het ook al 'n aantal male op 'n bloedbad uitgeloop.

Wel, as hierdie Jesus ook soveel mense agter hom kry, dan vrees die Sanhedrin, dan gaan dit weer in dieselfde rigting. Straks is daar weer 'n opstand teen die Romeine met net so min kans op sukses as die vorige pogings. En wat gebeur dan?

Lees maar in vers 48: Die Romeine sal kom en ons land en ons nasie albei afneem.

Dan is dit met die laaste stukkie selfstandigheid wat Israel nog het, gedaan.

Dit is uit die aard van die saak 'n politieke probleem.

Maar interssant genoeg dit is nie uitsluitlik politiek nie.

Want hier speel die Messiasverwagting van die Sanhedrin self 'n groot rol. Ook hulle verwag die Messias.

Nie 'n Messias soos Jesus nie, maar tog 'n Messias.

En hulle beskou dit as hulle verantwoordelikhied om as Hy kom aan Hom Israel as 'n selfstandige land en nasie te kan aanbied.

Daarom is hulle so bang vir hierdie Jesus en die beweging van die volk. Want hulle dink dit word weer 'n mislukking. Jesus is nie die kragfiguur wat hulle vir 'n Messias in gedagte het. En daarom moet sy beweging misluk.

Die Sanhedrin wil daarom Israel bewaaar vir die egte Messias wat nog moet kom.

Sien u die ironie van hierdie geskiedenis?

Met tal van tekens word aangetoon Jesus is die beloofde Messias.

Maar die Joodse leiers sê: Jesus moet dood.

Want land en volk moet bewaar word vir die Messias.

En hulle meen boonop met hul plan aan God 'n diens te bewys!

Asof hulle die volk Israel vir die Messias moet bewaar.

Asof hulle die Koninkryk van God moet veiligstel!

Sien u hoe hulle hier net besig met selfbehoud?

Hulle soek die lewe van land en volk te red.

En daarvoor offer hulle die Man wat hulle werkik kon gered het op. Hul poging tot selfbehoud loop op niks uit.

Skaars 35 jaar na hierdie gebeure kom die Romeine tog en verwoes Jerusalem, insluitende die tempel.

Die weg van selfbehoud is 'n doodloopweg.

Dit is nog altyd so.

Wie homself wil behou, hy loop aan Jesus Christus verby.

Wie homself wil handhaaf kan vir Jesus Christus in sy lewe nie gebruik nie.

Elkeen wat Christus nie as die redder van sy lewe wil aanvaar nie, sal Christus steeds opnuut aan die kruis bring.

2. God bring lewensbehoud vir die wêreld

Dit was 'n slegte woord wat Kajafas gespreek het: dit is vir ons beter dat een man sterwe, as dat die hele nasie omkom.

'n Duiwelse advies eintlik.

Maar tog is Satan nie die enigste wat in Kajafas se advies aan die woord is nie.

Die Heilige Gees praat hier ook.

En Hy laat Kajafas ondanks homself tog goddelike wysheid onder woorde bring.

Die Here wil namelik gebruik maak van hierdie hoëpriester.

Ons moet oplet dat Kajafas hier in ons teks twee keer nadruklik as hoëpriester van daardie jaar aangedui word.

Die Hoëpriester van watter jaar?

Wel, die Hoëpriester van daardie jaar waarin God sy Paaslam as 'n offer laat slag.

Soos u weet is die hoëpriester die man wat elke jaar die offerlam moet selekteer wat op die groot versoendag geoffer moet word.

Wel Kajafas sal die laaste Hoëprieter van die Ou Verbond wees wat 'n offer vir die groot versoendag uitsoek. Namelik vir die groot versoendag wat God vasgestel het op Goeie Vrydag.

Op hierdie oomblik wys die Hoëpriester van daardie jaar die laaste offerlam aan: Jesus van Nasaret moet sterwe!

Kajafas self besef dit nie so nie.

Maar God gebruik hom.

Hy laat die Hoëpriester sy laaste amptelike diens verrig.

Kajafas het 'n plan gemaak. Jesus moet dood.

Dan bly Israel as nasie bestaan.

Maar daarin voer hy presies presies die plan van God uit. Seker die Christus moet sterwe.

Hy moet selfs plaasvervangend sterwe, sodat die volk gered kan word.

Sonder dat Kajafas dit weet bring hy presies die weg onder woorde waarlangs God sy heil vir die volk wil bring.

Jesus Christus moet sterwe vir die volk!

Alleen, vanuit Kajafas was dit 'n politieke moord met vertrapping van die reg.

Maar vir God is dit die offer van sy Seun ter volbringing van die reg.

Slegs so kan God sy volk behou.

Watter volk? Die volk Israel as politieke eenheid waarvoor Kajafas hom so inspan?

Nee, meer as dit.

Lees vers 52: Jesus moet sterwe, nie net vir die volk nie, maar ook om die verstrooide kinders van God tot 'n eenheid saam te voeg.

Die verstrooide kinders van God, dit is al die mense wat God wil behou.

Die mense wat God roep uit alle taal en tong en stam en nasie.

Deur die sonde in die wêreld het die mensheid uit mekaar geval. Al die volke het hul eie weë gegaan.

Sles met een volk het God verder gegaan. Met die volk Israel.

Maar daaraan sit Hy nie vas nie. Hy soek sy kinders by mekaar oor heel die wêreld. Vanaf die eindes van die aarde.

Binnekort sal die apostels die wêreld intrek met hierdie boodskap: Jesus Christus en Hom as gekruisigde!

Elkeen wat in Hom glo sal die ewige lewe hê in sy Naam.

En so het die woord na u toe gekom, gemeente.

Die vreemde boodskap van die een mens wat moes sterwe aan 'n kruis om 'n hele volk te red.

Want dit is die wonderlike van hierdie woord van Kajafas.

Deur die Heilige Gees gedrywe het hy reeds oor julle geprofeteer.

Oor julle lewensbehoud.

Die verstrooide kinders van God. Dit is julle.

Nog voordat julle daar was, nog voordat julle ooit die boodskap van heil gehoor het, was God reeds besig met julle heil.

Want dit is tog die boodskap wat kragtig deurkom in ons teks: Hoe wonderlik het die Here alles beplan.

Hy het presies geweet wat hy wou hê.

Sy kinders moes gered word. Hulle moes tot 'n eenheid saamgvoeg word.

Hulle moes almal die stem van die goeie herder hoor.

Die herder wat sy skape roep.

Julle hoor die stem in die prediking: Laat julle red deur die dood van Christus.

Laat julle vergader tot die nuwe volk van God.

Dit kan slegs deur geloof.

Deur geloof in hierdie mees weersproke en ook mees onwaarskynlike reddingsboodskap wat ooit op aarde verkondig is: Deur die dood van een mens moet die hele volk van God gered word.

Ons lewe hang af van die dood van die Christus.

Dit is die onbegrypelike, maar ook altyd weer fassinerende boodskap van die kruis van Christus.

Wie sy lewe wil red, dus wie uit is op selfbehoud, sal die lewe verloor.

Maar wie sy lewe wil verloor om wille van die evangelie van die kruis van Christus, hy sal dit red.

Want Jesus Christus is die Seun van God.

Hy is die Vors van die lewe.

Hy deel die lewe uit aan wie Hy wil.

Hy wil dit uitdeel aan elkeen wat glo in Sy Naam.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)