Christus (is) die goeie herder

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Johannes 10
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JOHANNES 10: 14

LITURGIE:
Ps. 100
Wetslesing
Ps. 79: 5, 9
Gebed
L. Eseg. 34: 1-5, 15, 16, 23 & Joh. 9: 24-10: 16
Ps. 23
Prediking
Ps. 95: 4
Gebed
Kollekte
Ps. 80: 1, 10

Broeders en susters, "skape" van ons Here Jesus Christus,

Ja, so mag ek u aanspreek: as skape van Christus.

So het die Bybel ons mos geleer om oor onsself te praat: soos oor 'n trop skape waarvan die Here die Herder is.

Daardie vergelyking maak pynlik duidelik hoe ons is: swak en kwesbaar soos skape. Dom ook soos skape. Eiewys en koppig. Ons dwaal en verdwaal ook dikwels soos skape. As daar nie een is wat ons oppas nie, dwaal ons en word ons 'n maklike prooi van wrede roofdiere; van die duiwel wat rondloop soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.

Ons het 'n herder nodig. 'n Herder wat vir ons omgee, wat ons met baie geduld saamneem, wat ons met sy eie lewe beskerm teen die gevaar van roofdiere, wat verdwaalde en verlore skape terugsoek. Ons benodig 'n herder wat ons weiding laat vind, ja, lewe en oorvloed (Joh. 10: 10).

Maar so, soos 'n herder, wil die Here vir ons wees. Die vergelyking van 'n herder met sy trop skape maak vir ons ook baie mooi duidelik wie die Here vir ons is en wat ons van Hom mag verwag. Hy is ons herder aan Wie ons ons volkome kan toevertrou. Hy het 'n hart vir sy skape. Hy was bereid om sy lewe vir ons te gee!

Ons teks van vanoggend gaan oor Hom, ons Herder.

Maar ons sal vanoggend tog ook oor ménse moet praat. Want wanneer Christus Homself in ons teks die Goeie Herder noem, plaas Hy Hom daarmee teenoor ander herders. Herders wat geen hart vir hulle skape het nie. Huurlinge wat die kudde los en weg hardloop as daar gevaar dreig.

Hy, Jesus, is nie soos daardie manne nie. Juis as daar gevaar dreig, spring Hy in die bres vir sy skape.

Daar is nog 'n tweede rede waarom ons vanoggend ook oor mense moet praat. Want ons Goeie Herder Jesus Christus het ménse in sy diens geneem om as onderherders namens Hom sy skape op te pas: die ampsdraers in die kerk. Nie net die dominee nie, alhoewel ons hóm meestal maar die herder en leraar van die gemeente noem, die pastor (die Latynse woord vir herder) wat in die pastorie woon, die herdershuis. Al die ouderlinge is egter onderherders oor Christus se kudde wat sy skape met pastorale sorg moet begelei.

En noudat Christus teruggekeer het na die hemel, kan ons nie meer oor Hom as die Goeie Herder praat sonder om daarby die onderherders wat Hy in die kerk aangestel het, te betrek nie.

Wanneer ek vanoggend dus oor die Goeie Herder van Johannes 10 praat, en oor sy goeie sorg vir u, moet u maar na u ampsdraers kyk.

Maar dis ook andersom: wanneer ek oor die ampsdraers praat, moet u in en agter hulle werk in die gemeente die goeie sorg van die Goeie Herder oor u lewe soek.

Ek bedien u dus God se Woord oor:

CHRISTUS (IS) DIE GOEIE HERDER

  1. SO LAAT HY HOMSELF KEN TEENOOR VREEMDE HERDERS
  2. SO WORD HY GEKEN DEUR SY EIE SKAPE

1. Ek het reeds gesê, broeders en susters, dat die Here Jesus Hom in Joh. 10 nadruklik plaas teenoor slegte herders. Hy is die Goeie Herder in teenstelling tot hulle wat die naam "herder" nie meer werd is nie.

Want ons moet ons tekshoofstuk lees teen die agtergrond van die konflik wat Johannes in die vorige hoofstuk beskrywe het.

Die Heiland het 'n man gesond gemaak wat vanaf sy geboorte blind was. U ken die geskiedenis.

Wanneer die Joodse leiers dit agterkom, is hulle glad nie bly met die wonder wat aan hierdie man gebeur het nie. Pleks van dat hulle hom gelukwens, neem hulle hom 'n kruisverhoor af en probeer hulle om van sy genesing 'n sabbatskwessie te maak. Want dit was sabbat toe Christus deur middel van klei wat met spoeg aangemaak was, sy blinde oë genees het.

Daardie sogenaamde skending van die sabbat het die eerwaarde here origens nie die meeste gepla nie. Dit was vir hulle hoogstens 'n aanleiding om 'n saak teen Jesus te kan begin. Die ding waaroor hulle hulle die meeste opgewen het, was dat Jesus op hierdie manier nog meer aanhangers sou kry.

Die gerug van hierdie wonderbaarlike genesing sou ongetwyfeld soos 'n lopende vuur versprei en al hoe meer mense sou daardeur volgelinge van Jesus kan word.

Dít wou hulle tot elke prys wil voorkom.

Ons lees in vs. 22 dat die Jode reeds ooreengekom het dat as iemand Hom as die Christus sou bely, hy uit die sinagoge geban sou word! Met die dreiging van tugmaatreëls wou hulle die mense intimideer om geen nalopers van Jesus te word nie.

Maar ten spyte van al hul dreigemente kan hulle darem die eks-blinde nie meer die oortuiging ontneem dat Jesus 'n baie groot profeet moet wees nie.

Sien, en dít kan die Joodse leiers glad nie verdra nie. Dáárop spits die hele konflik toe.

Wie en wat is hierdie Jesus van Nasaret?

Jesus se optrede bedreig húlle posisie. Hy trek al hoe meer volk na Hom toe. Maar húlle is mos die herders oor God se volk? !

Hulle snou die man wat weer kan sien toe (vs. 28): "Ons is dissipels van Moses. En ons weet dat God met Moses gespreek het; maar wat Hom betref, daardie Jesus, ons weet nie vanwaar Hy is nie". Met ander woorde: waar haal daardie Jesus die reg vandaag om in Israel as 'n herder op te tree en die mense agter Hom aan te roep?

Maar die man wat nie langer blind is nie, is deur hulle woorde glad nie van stryk gebring nie. Hy antwoord vol oortuiging: "Dis darem snaaks. Julle weet nie waar Hy vandaan kom nie, en tog het Hy my oë genees. As Hierdie man nie van God was nie, sou Hy niks kon doen nie".

Daardie vrymoedige antwoord kos hom wel sy plek in die sinagoge, maar die Joodse leiers moet knarsetandend aansien hoedat die man vervolgens 'n knieval voor Jesus maak en sy geloof in Hom bely.

Opnuut sien hulle 'n skaap van hulle kudde verdwyn. Hoekom gebeur dit telkens? Hulle is mos die wettige leidsmanne in Israel? Hoekom vertrou soveel mense hulleself blindelings toe aan daardie Jesus wat in hulle oë niks anders as 'n volksverleier is nie? Hoekom aanvaar almal Hom sommer as hulle herder?

Waaruit moet 'n mens die geheimsinnige aantrekkingskrag van Jesus verklaar?

Dit is teen hierdie agtergrond, gemeente, dat die Here Jesus in hoofstuk 10 Homself die Goeie Herder noem en die verskil aanwys tussen Hom en alle vreemde herders.

Hy sal dit duidelik maak hoekom daar telkens skape van God se kudde hulle rug draai op die Skrifgeleerdes en Fariseërs en Hom volg.

Hy sal ook aanwys waaraan 'n mens die goeie herder kan uitken.

Die herder is herkenbaar aan die manier waarop hy optree, die manier waarop hy sy skape benader. 'n Mens kan dit al dadelik sien aan die manier waarop hy in die skaapkraal binnekom.

En dan skets die Here vir ons hier die beeld van 'n Oosterse skaapkraal, 'n ommuurde ruimte waarin snags 'n aantal troppe bymekaar gedrywe is en toevertrou aan die sorge van 'n hekwagter.

Hoe kom soggens 'n herder sy skape haal?

'n Dief, en 'n rower- ja, hulle sou oor die muur klim, êrens agterin en probeer om 'n paar skape te steel.

Maar die herder kom gewoon by die deur in en hy hoef maar net sy eie skape te roep of almal kom orent en gaan met hom saam buite toe.

'n Herder hoef nie in te breek nie; daar bestaan so'n vertroue tussen hom en sy skape dat hulle hom feilloos eien aan sy stem. Hulle "volg hom omdat hulle sy stem ken, maar hulle sal nooit 'n vreemde volg nie maar van hom af weghardloop, omdat hulle nie die stem van die vreemdes ken nie".

Só het Christus ook as die Goeie Herder na God se kudde toe gekom. Nie langs slinkse weë, as 'n inbreker nie, maar langs de pad wat 'n mens van 'n egte herder mag verwag.

Hy laat sy stem in Israel hoor. Met God se Woord roep Hy die skape van God se kudde. Daarmee handel Hy volledig ooreenkomstig die wil van die Eienaar van die skape. Hy roep die skape met God se Woord wat hulle uit die Skrifte van die Ou Testament kan ken. Hy praat vir God se skape vertroude taal, die taal van die Skrif wat oproep tot geloof. Die volk hoor in Jesus se prediking God se lokkende liefde.

Hiérin verskil Christus van die Skrifgeleerdes. Al word hulle ook "Skrifgeleerdes" genoem- hulle laat die Skrif nie meer spreek nie. Hulle probeer die volk agter hulle aan kry met leringe van ménse.

Gód se Woord word in Israel skaars meer gehoor.

Dis dié dat die skape by die Skrifgeleerdes wegloop. Hulle is nie goeie herders nie. Eintlik is hulle glad nie herders nie. Hulle is vreemdes, en Christus aarsel nie om hulle selfs met diewe en rowers te vergelyk nie.

Want wie nie met die Wóórd die skape na hom toe roep nie maar hulle op 'n ander manier probeer saamkry, is geen herder nie. Sulke mense soek, as dit daarop aankom, nie die kudde nie, maar hulleself.

Voel u, gemeente, hoedat Christus hier die Joodse leiers in hulle ware aard ontmasker? Hulle is geen herders nie want hulle soek nie die heil van die skape nie. Hulle is net daarop uit om hulle eie posisie veilig te stel, ten koste van die skape. Hulle is herders wat aan hulleself weiding verskaf.

Hulle is nog dieselfde soos die herders in Esegiël se dae, aan wie die HERE daardie skerp verwyt gerig het wat ons in hoofstuk 34 gelees het.

Hulle jaag die trop uitmekaar en die skape raak verstrooid en verongeluk.

Dog die herders gee nie om nie, dit raak hulle nie solank as wat hulle hul baantjie maar behou.

Teenoor so'n instelling mag Christus Homself die Goeie Herder noem. Hy staan volkome anders teenoor die skape, al wil die Skrifgeleerdes dit ook nie insien nie. Kyk hoe tree Hy op:

"Ek ken my eie.. " sê Christus in ons teks en daardie woord het 'n diep en warme klank. Hy het 'n hart vir sy skape. Die kudde is vir Hom nie 'n winsgewende objek nie, maar Hy is bereid om Homself op te offer ter wille van sy skape. Hy is 'n herder wat met die lot van elkeen van die kudde bewoë is. Hy kén vir sy skape en weet wat elkeen benodig. Dit is 'n plesier vir Hom om die allerbeste vir die kudde te soek.

En wat is beter vir God se skape as om hulle te lei in die grasryke weivelde van God se Woord? Daar vind hulle lewe en oorvloed. Die goeie herder, met 'n hart vir sy skape, roep die kudde saam met Hom op die pad van die Woord.

'n Mens kan die goeie herder dus herken aan sy werkwyse, broeders en susters. Hoe kom hy na sy skape toe, hoe neem hy hulle saam met hom? 'n Mens kan die goeie herder wat sy skape ken, eien aan sy stem, aan die woord wat hy spreek. Jy hoor in sy stem die liefde van God wat jou soek.

So kan 'n mens ook vandag nog die Goeie Herder (met 'n hoofletter!) herken in die werk van die ampsdraers in die kerk. Ook die goeie onderherders is herkenbaar aan die wyse waarop hulle optree: hoe soek hulle die skape?

Hulle hoef nie uit te blink in welsprekendheid nie; die eerste vereiste is nie dat hulle oor 'n natuurlike leiers- of organisasietalent moet beskik nie. Die vernaamste kenmerk is dat in hul hele optrede, allereers in hul spreke, die liefde van die Opperherder hoorbaar deurklink. Deur sulke manne is die Opperherder self besig om sy skape op te pas.

Vreemde herders soek hulleself, hulle begeer die guns van hul volgelinge vir hulleself, hulle soek eer van mense, maar 'n mens kan hulle óók aan hulle stem herken.

In Openbaring 13 word van die valse profeet gesê dat hy lyk soos die Lam, dus: baie christelik; maar hy praat soos die draak, die duiwel. Van die valse herders geld: sy spraak verraai hom.

Hieraan kan u weet wáár die Goeie Herder u roep; waar sy kerk is hier op aarde; waar Hy u wil vergader en saamneem na die waterfonteine van die lewe toe.

Daar is talle verskillende kerke en orals is daar manne wat as ampsdraer u roep om hulle te volg. Waar moet u wees? Met wie moet u saamgaan?

Moet dan nie kyk nie: na mooie geboue, na aantreklike mense ens. nie. Maar luister na die woord waarmee hulle u roep om hulle te volg. Is dit ondanks 'n vrome skyn meer woorde van mense as woorde van God? Of is dit die suiwere en onvervalste Woord van u Here?

Die egte kerk, die egte herders is bowendien aan hulle trou herkenbaar wanneer daar gevare vir die kudde dreig. Wanneer wolwe op die kudde toesak.

Want as dit gevaarlik word, as dwaling of vervolging die gemeente bedreig, as daar geveg moet word vir die behoud van die kudde, laat die huurling die trop in die steek en hardloop weg. Hy gee die skape prys aan die wolwe en laat die dwaalleer sy verwoestende werk doen. Hy los die trop in die benouing van 'n vervolging en probeer sy eie huid red. Die huurling is as dit daarop aan kom, meer bedug vir sy eie posisie as wat hy bedag is op die lot van die skape. Hy wil nie graag sy traktement verloor nie, of sy pastorie, of sy aansien by die mense.

Die kerkgeskiedenis het reeds heelwat van sulke huurlinge opgelewer.

Maar juis in sulke situasies laat die egte herder homself ken as iemand wat, in navolging van die Opperherder, bereid is om sy lewe te gee vir die kudde. Die herder spring in die bres vir die kudde en as daar wolwe kom, blyk hy 'n vegter te wees wat alles daarvoor oor het om te voorkom dat die skape verongeluk of verskeur word. Hy sal nie rus voordat hy sy skape almal veilig uit die dodelike pote van die wolwe gered het nie.

Al kos dit hom 'n mooie pastorie of 'n aansienlike traktement of sy aansien in hierdie wêreld.

Daardie wolwe, gemeente, dis nie net brutale dwaalleer nie. Christus het ook gewaarsku vir wolwe in skapevag. En daarby kan u maar dink aan allerhande verléidelike dwalings wat ons bedreig: soos 'n toenemend wêreldse lewensstyl, 'n gevoel van gearriveerdheid en selfgenoegsaamheid.....

Ook as dié gevare op die kudde af kom, staan die goeie herder pal. Hy offer desnoods sy nagrus daaraan op om sy skape uit die gevare-sone weg te lei en op die regte spoor te hou.

Daaraan kan u 'n goeie herder uitken, broeders en susters. Ja, daaraan kan u die sorg van die Goeie Herder oor u lewe uitken.

Ek weet natuurlik wel, en u weet dit ook, dat menslike en sondige onderherders dikwels nog maar 'n swakke afbeelding vertoon van die Goeie Opperherder. Hulle herderswerk is nog lang nie volmaak nie. U sal dan ook baie moet bid vir u ampsdraers.

En ons, broeders, moet intensief besig bly met die Woord van ons Here in die hemel om daaruit te leer hoe om goeie herders oor sy skape te wees.

Maar die verskil tussen herder en huurling- 'n mens kán dit sien. Jy kan dit in elke geval hóór. Die egte skape sal hulle nie misgis nie. Hulle weet rêrig wel wanneer hulle moet volg, en wanneer nie.

2. Daaraan kan 'n mens ook die egte skááp van die Goeie Herder uitken. Dit is die ander kant waar Christus in ons teks ook op wys. Die herder ken sy skape, maar die skape ken ook vir hulle herder. Hulle herken sy stem uit duisende.

'n Vreemde mag hulle dalk nog hoe lokkend roep, hulle sal beslis nie saamgaan nie. Hulle sal van hom af wegloop omdat hulle sy stem nie eien nie.

Maar as die eie herder roep, gaan hulle saam, blindelings vertrou hulle hul aan sy leiding toe.

Dit kan in hulle lewe baie moeite oplewer. Hulle moet oor nou paadjies langs diep afgronde, deur dor landskappe en droë spruite.

Hulle kan in 'n moeilike en verdrietige kerkstryd beland, uit rustige weivelde verjaag word....

Dink nog 'n bietjie aan die blinde man wat deur Christus sy gesig teruggekry het: toe Hy aan die roepstem van die Goeie Herder gehoor gee, is hy uit die sinagoge uit verban.

Dink ook maar aan dit wat in later eeue nog male sonder tal Christus se gehoorsame skape oorgekom het, wanneer hulle hul rug op huurlinge gedraai en die Goeie Herder bly volg het. Partymaal het hulle omtrent alles kwytgeraak.

Maar hulle het die Herder behou en dit was vir hulle genoeg. By Hom alleen het hulle veilig gevoel.

Christus se skape het bo alle lawaai en geroep van mense uit die stem van hul Goeie Herder bly hoor en volg.

Ja, ek weet: dit gebeur ook elke keer as slegte herders hulle aan die kudde opdring, dat daar mense wegdwaal. Daar is ook altyd mense wat nie meer kan onderskei tussen die stem van die Goeie Herder en die geluid van die huurling nie.

Maar hoekom? Omdat hulle lankal maar 'n bietjie met die ander skape meegeloop het sonder om die ene oor te wees vir die stem van die herder. Hulle het nog wel saamgegaan in die spoor van die res, maar hulle het die herder skaars meer gehoor.

Slegs die gehoorsame skape wat hulle in alles alleen deur die stem van die herder laat lei, raak nie die spoor byster wanneer ander stemme die geroep van die herder probeer oorskreeu nie. Hulle bly trou in die voetspore van die herder al beteken dit ook dat hulle deur die donkerste dale heen moet.

Dit is die wonder in hierdie wêreld, gemeente: dat die stem van die Goeie Herder steeds gehoor bly vind; dat daar steeds skape van Hom bly wat daardie stem volg.

Want om as 'n skaap te volg- dit is vir eiewyse mense soos ons nie so maklik nie. "Volg"- dit is mos dat jy nie sélf jou koers bepaal nie, dat jy nie jou eie paadjie loop nie, maar slegs daar gaan waar die herder jou agter hom aan roep.

En die Goeie Herder roep ons weg by alles wat vir 'n mens juis baie aanloklik lyk. Ons word by alles wat sonde en ongeregtigeid genoem moet word, weggeroep al lyk dit ook hoe aantreklik en op 'n baie smal spoortjie geplaas.

Ons natuur verset hom dikwels daarteen. Ons is rêrig nie altyd so gewillig om saam te gaan nie. Meer as een keer moet die stok en die staf van die herder daaraan te pas kom om ons by die kudde te hou. Daardie stok en staf wat gebruik word om luie of eiewyse skape te waarsku en weer in die gareel te bring.

Nie elkeen ervaar die stok as 'n noodsaaklike herderlike sorg nie. Daar is ook in die kerk mense wat 'n skerpe en aanhoudende vermaan nie pastoraal vind nie.

Maar ook hieraan word dit duidelik wie die égte skape is en wie nie.

Want die skape wat die Goeie Herder ken, sal voel dat ook vermaan van tyd tot tyd wel deeglik pastoraal is. Die herder soek mos ook dan die behoud van sy skaap.

Die egte skape reageer dan ook gesond op 'n tik van die stok. Hulle verhard hulleself nie, maar laat hulle lei. En hulle volg weer, niet noodgedwonge nie, nie met teësin nie, maar vol oorgawe.

Die getal van Christus se skape was in hierdie wêreld nog nooit groot en indrukwekkend nie. Nogtans bly hulle kom: die skape wat agter die Goeie Herder aan wil gaan en hulle aan die herderlike sorge van sy ampsdraers toevertrou. En die kudde groei gaandeweg, onder die goeie sorge van die Opperherder.

Hulle voel hulle veilig by daardie sorg. Hulle ken vir Hom as die Goéie Herder. Daarom weet hulle: Hy ken ons, Hy weet van ons in al ons moeite en stryd, ons eensaamheid en bekommernis. Selfs al moet ons ook deur 'n dal van doodskaduwee heengaan, ons sal geen onheil vrees nie, want Hy is by ons. Sy stok en sy staf dié vertroos ons. As ons Hom bly volg, sal alles regkom. Hy het mos gekom sodat ons léwe sou hê en oorvloed. Vir dié doel wou Hy sy eie lewe gee. Hy het dit vir ons belowe: "Ek gee julle die ewige lewe, en julle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie en niemand sal julle uit my hand ruk nie".

Hy sal ons lei en bring na die waterfonteine van die lewe waar God alle trane van ons oë sal afvee.

Broeders en susters, die Goeie Herder roep u ook vanoggend, hier in die kerk. Ja, sy stem is met menselike gebrekkigheid hoorbaar gemaak.

Maar u het tog sy stem gehoor?

Verhard u dan nie, maar neig u oor.

Laat u ken as 'n skaap van sy kudde: merk op die roep van sy ontferming.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)