Christus is die lig van die wêreld

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Johannes 8
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JOHANNES 8: 12

LITURGIE:
L. Joh. 1: 1-12 & Joh. 3: 16-21
T. Joh. 8: 12
Ps. 90: 1, 4
Ps. 90: 9
Ps. 43: 3, 4
Ps. 89: 6
SB.50: 1, 2, 4

Broeders en susters,

Nie alle mense is ewe bly met die lig nie.

Lig kan bly begroet word. Maar lig kan ook met 'n vloek verwens word.

Lig kan 'n bevryding beteken. Stel u 'n groep mynwerkers voor wat êrens onderin 'n myn vasgekeer is as gevolg van 'n instorting. Dit is aardedonker daarso en hulle beskik nie oor een enkele lamp nie. Dit is vir daardie mense 'n onbeskryflike ervaring wanneer daar na dae van eindeloos moet wag eindelik 'n opening uitgekap word deur hulle bevryders en die lig hulle tegemoetstraal.

Of dink 'n bietjie aan 'n man wie se motor gebreek het êrens op 'n eensame grondpad in die bosveld, saans in die donker. Hy is gedwing om te voet hulp te gaan soek maar hy weet hoegenaamd nie in watter rigting hy moet gaan nie. Hoe opgelug haal so'n man asem as hy eindelik lig ontwaar, van 'n ander motor wat naderby kom, of van 'n plaashuis waar hy hulp kan vra.

Maar daarteenoor kan lig ook iets aan die lig bring wat die daglig nie kan verdra nie. Dit is vir 'n inbreker 'n ramp as hy by sy pogings om êrens in 'n huis of 'n gebou in te kom, skielik gevang word in die soeklig van 'n polisiemotor. "Elkeen wat kwaad doen, haat die lig.... " het ons tereg in Joh. 3 gelees.

Die koms van lig kan dus tweeërlei uitwerking hê: bevrydend, maar ook ontmaskerend.

Dit kan ons ook sê, broeders en susters, van dié Lig van die wêreld, soos die Here Jesus Christus Homself noem in ons teks. Op die eerste gesig is hierdie selfbenoeming vir ons dalk aantreklik en veelbelowend: die wat Hom volg, "sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê".

Dit ís ook veelbelowend.

Maar moenie meen dat dit vir mense soos ons is, maklik is om Christus te volg nie. Daardie veelbelowende lig, Christus, is naamlik allereers 'n ontmaskerende lig wat ons almal as sondaars in sy soeklig vang.

Dit sal ons vanoggend hoor wanneer ons teks vir ons vertel dat Christus die lig van die wêreld is.

CHRISTUS IS DIE LIG VAN DIE WÊRELD

SY LIG IS:

  1. ONTHULLEND
  2. BEVRYDEND

1. Ons lees 'n aantal kere in Johannes se evangeliebeskrywing, broeders en susters, dat die Here Jesus Homself met die lig vergelyk het.

Nie net in ons teks nie, maar al in hoofstuk 3 loop ons dit raak, in die verse wat ons gelees het. "Dit is die oordeel, dat die lig in die wêreld gekom het en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos. "

Dit is nie 'n opmerking van Johannes nie. Die het die apostel opgeteken uit Jesus se mond.

En in hoofstuk 12: 46 lees ons dit weereens: "Ek het as 'n lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie".

Ek kan ook nog hoofstuk 9: 5 noem waar Christus sê: "So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld".

Dit is dus g'n wonder dat Johannes veral deur hierdie beeld geboeid geraak het, sodat hy sy Evangeliebeskrywing begin het met 'n lied oor die lig wat aan kom was in die wêreld om in die duisternis te skyn nie.

En as u 'n slag kyk in Johannes se eerste brief, sal u sien dat ook daar in die eerste hoofstukke dieselfde tema aangesny word, van die lig wat hom teenoor die duisternis stel.

Nou is dit verleidelik om maar al hierdie Skrifgedeeltes bymekaar te neem omdat in almal dieselfde beeldspraak gebruik is, en om dan dadelik allerhande toepassings vir ons te gaan maak.

Ons moet egter eers sorgvuldig daarna kyk in watter verband telkens deur Christus die beeld van die lig gebruik is. Want dit was elke keer na aanleiding van 'n bepaalde konkrete situasie dat die Here Homself die lig van die wêreld genoem het. En daardie situasies was elke keer verskillend.

En as ons dan vanoggend op ons tekshoofstuk konsentreer, Joh. 8: hoekom het die Here hier sover gekom om Homself so te noem? Watter indruk het sy woord op daardie oomblik op die mense wat dit toé gehoor het, gemaak? Het Christus bewustelik by 'n bepaalde gebeurtenis aangesluit?

Op dié vraag is deur meer as een verklaarder verband gelê met die huttefees wat in Jerusalem gevier is. Hulle wil die beeld van ons teks - Christus as die lig van die wêreld- lees in die verlengde van die beeldspraak wat Christus in die vorige hoofstuk gebruik het en waarna ons verlede sondagoggend gekyk het: Christus as die bron van die lewende water.

In daardie beeld het die Heiland Hom mos opsetlik aangesluit by die grootse waterseremonieel wat 'n belangrike onderdeel van die huttefees gevorm het. Die volk het gesmag na die bronne van heil en om dit te onderstreep het hulle elke dag onder leiding van 'n priester in 'n optog water gaan haal om dit na die tempel toe te bring.

Toe het Jesus Homself aan daardie dorstige feesvierders aangebied as die lewensbron van God.

Maar behalwe daardie waterseremonieel het die huttefees ook 'n ligseremonieel geken. Saans is in die voorhof van die tempel groot lampe opgehang wat hulle lig oor die hele benedestad versprei het. Daardie lampe was bedoel om die volk te herinner aan die lig van die vuurkolom waardeur Israel eendag begelei was tydens sy reis deur die woestyn op pad na die beloofde land toe. Tegelyk moes daardie ligte vooruitwys na die lig van die verlossing wat nog moes kom en wat God op talle plekke deur die profete beloof het.

Heelwat uitleggers meen daarom dat die Here Jesus Hom teen hierdie agtergrond aan die volk in Jerusalem voorgestel het as die lig waarvoor hulle al so lang gewag het. Hy is nie net die vervulling van hul waterseremonieel nie, Hy is ook die vervulling van hul ligseremonieel.

Hoewel dit baie mooi is om so'n verband te lê, gemeente, en dus aantreklik, is dit darem nie baie aanneemlik nie.

Want op die oomblik waarop Christus die woorde van ons teks spreek, is die huttefees klaar verby. Moet maar kyk, die laaste vers van hoofstuk 7: "En elkeen het huis toe gegaan". Ook die laaste, die groot dag van die fees (kyk 7: 37) is ten einde.

En dit is eers die volgende oggend dat die woord van ons teks gespreek word. Waarom eers nou? ! Indien Christus met sy woord spesiaal by daardie lampeseremonieel in die tempelhof wou aangesluit het, sou Hy dit tog baie beter saans kon gedoen het, tydens een van die vorige dae?

Bowendien het Johannes die vertelling van alles wat tydens die huttefees plaasgevind het, met die laaste vers van hoofstuk 7 afgesluit en in hoofstuk 8 'n nuwe gedeelte van sy evangelieverhaal begin. Hoofstuk 8 begin met die verhaal van die owerspelige vrou.

Dit is dan ook baie meer waarskynlik dat hierdie insident die aanleiding vir Christus gevorm het om vir die Jode te laat weet: "Ek is die lig van die wêreld".

Want wat het gebeur: in die nag na die fees in Jerusalem is daar in Jerusalem 'n vrou betrap op owerspel. Dit het in Jerusalem al net soos na heelwat feeste by ons gegaan.

Hierdie vrou het iets gedoen wat die daglig nie kan verdra nie, maar haar sonde het aan die lig gekom. Dit wat sy gedoen het, was tipies 'n werk van die duisternis. Want die wat dronk word, is meestal in die nag dronk en die wat hulle aan uitspattinge skuldig maak, doen dit by voorkeur snags.

Die sonde soek die donker.

Maar dié keer is sy betrap en by die skrifgeleerdes en die Fariseërs gebring. En dié het weer in optog met haar na Jesus toe gestap om van Hom te hoor wat Hy van so'n ding sal sê.

Maar Christus voel agter die skynheilige maskers van hierdie eerwaarde here hulle hoogmoed. Hulle voel hulleself ver verhewe bo hierdie suster in die HERE:

"O God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie: rowers, onregverdiges, egbrekers, ja, soos hierdie owerspeelster nie".

Hulle is oortuig daarvan dat die duistere lewe van hierdie vrou in 'n skrille kontras staan met hul deurskynende heldere lewenswandel.

Weet u hoe dat hierdie skrifgeleerdes hulleself beskou het, gemeente? Die apostel Paulus vertel dit vir ons in sy brief aan die Romeine, die tweede hoofstuk. Kom kyk gou saam met my (vs. 19): "Jy is oortuig dat jy 'n leidsman van blindes is, 'n lig (!) vir die wat in duisternis is".

Kyk, só het hulle hierdie oggend na Jesus toe gekom met daardie vrou tussen hulle in.

Maar hulle druip heel anders af as wat hulle gekom het. Bloot omdat Christus niks anders gesê het nie as: "Laat dié een van julle wat sonder sonde is, maar die eerste klip op haar gooi".

Met daardie sinnetjie het Christus al hierdie skynheilige leidsmanne ontmasker as ewe sondig en sleg soos alle ander mense. In daardie een sinnetjie het die vraag opgesluit gelê wat Paulus later reguit sou vra in sy brief aan die Romeine (kyk 2: 21): "Jy dan, wat 'n ander leer, leer jy jouself nie? Jy wat sê dat 'n mens nie owerspel mag pleeg nie, pleeg jy owerspel? Jy wat jou op die wet beroem, onteer jy God deur die oortreding van die wet? "

Dié wat hulleself beskou het as 'n lig vir die wat in die duisternis is, blyk self net so goed in die duisternis vasgevang te wees.

Daar is Een wat dít aan die lig bring.

Kyk, en dán hoor ons daardie Een dus in ons teks sê: "Ek is die lig van die wêreld. Die wat My volg, slegs hy sal regtig alle duisternis agter hom laat en vir goed in die lig binnestap. Net Ek is die ene lig wat aan alle duisternis ontkom het; wie dus nie vir My wil volg nie, bly in die duisternis, al meen hy ook dat hy hoe verlig is. Die mees verligte mense word deur My tog as werkers van die duisternis ontmasker. Wie dus na die lig verlang, moet by My wees en voortaan agter My aan gaan"

So gee Christus 'n betekenis aan die lig wat die Jode heeltemal uit die oog verloor het; en wat ons ook maklik uit die oog kan verloor.

Die Jode het wel vir die lig gewag. Lank al.

Ek het so pas reeds vertel dat die huttefees hul verlange na die lig elke jaar weer 'n nuwe stimulans gegee het.

God het beloof om vir die volk die lig aan te steek. God sou Sélf daardie lig wees! Sy aangesig sou eendag oor sy volk lig, mooier as ooit tevore. God is mos 'n bron van troos en lig.

Hy het nie net lewende water toegesê nie, maar ook bevrydende, verlossende lig.

Wie ken nie daardie bekende woorde uit Jesaja 9 nie: "Die volk wat in duisternis wandel, sien 'n groot lig, die wat woon in 'n land van doodskaduwee, oor hulle sal 'n lig skyn".

Hoe het die Jode daarna uitgesien! Daardie lig sou vir hulle eindelik lewensruimte skenk soos hulle daarvan gesing het met die woorde van Psalm 36: "By U, HERE, is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig". Met ander woorde: u lig sal ons hele lewe verlig; ons kry weer ruimte om verlig asem te haal.

Maar hulle het al hoe minder verstaan dat hierdie lig van God verlossing sou bring deur allereers hulle sóndes aan die lig te bring.

Wanneer God sy lig aansteek in hierdie wêreld, verdryf Hy nie allereers die duister van uiterlike omstandighede nie: die duister van die oorheersing deur vyande, die donker newels van siekte, armoede, eensaamheid ens., die nag van die dood. Ja, ook dit alles word eendag deur sy lig weggevaag.

Maar God begin nie met daardie uiterlike omstandighede nie- Hy begin by die innerlike lewe van die mens: by die duisternis van sy eiewyse en opstandige hart.

Want jy kan nog so'n verligte mens wees, beter as baie ander mense in hierdie wêreld, jou lewenswandel kan 'n ligtende voorbeeld vir talle mense wees, maar soos kunslig verbleek sodra die son op sy volle sterkte begin skyn, so verbleek jou ligtende lewe heeltemal by die glans wat God se Seun afstraal. Hy bring aan die lig hoeveel duisternis daar nog altyd in ons lewe oorgebly het. Hy laat 'n mens eers besef hoeseer ons al aan die duister van die sonde gewoond geraak het. Ons het gedink dit was die ene lig, maar kyk hoe donker was dit eintlik nog!

So, broeders en susters, het Christus opgetree in Israel. Onthullend.

Hy, God uit God, Lig uit Lig.

Sy woorde en dade het die mense in hul ware aard teen die lamp laat loop. Sondaars soos hoere en tollenaars was gedwing om te breek met hul werke van die duisternis. Maar ewegoed is die gedraginge van skrifgeleerdes en Fariseërs in 'n ander daglig gestel.

So het Christus met sy lig ook u en my lewe binnegekom. Deur sy Woord en Gees.

Baie mense meen dat hulle die Evangelie van Christus kan gebruik soos 'n skemerlamp: dit maak jou lewe knus en behaaglik. So lees hulle hul Bybel en so wil hulle in die kerk die prediking ondergaan.

Maar Christus se Evangelie is geen skemerlamp nie, maar 'n soeklig wat deurdring tot in die verste skuilhoeke van u lewe en alles blootlê wat u maar liewer in die beskutting van die donkerte wil hou.

Dit dring deur tot in u binnekamer en u kluis, dit skyn oor u winkelwaentjie en oor u klerekas.

Wanneer Christus se lig oor ons lewe gaan skyn, word dit eers goed sigbaar hoeveel selfsug, hoogmoed, drif, verslaafdheid, afguns en so meer daar nog in ons lewe agtergebly het, al behoort ons ook reeds van kleinsaf aan Christus se kerk.

2. So'n onthullende lig is natuurlik nie aangenaam vir eiewyse en selfversekerde mense nie. Jy voel lus om, soos die Skrifgeleerdes, beskaamd af te druip, ja, weg te kruip in 'n hoekie waar die onbarmhartige lig jou nie heeltemal kan bereik nie.

Op die ou end het die Joodse leiers hulle selfs so vereg oor Christus se lig dat hulle geprobeer het om dit vir goed te doof. Hulle het Christus die buitenste duisternis ingejaag.

Maar daardeur het hulle maar net bereik dat sy lig nog kragtiger geword het en vanuit Israel kon uitstraal selfs tot aan die uithoeke van die aarde.

Niemand kan sy lig nou meer doof nie. Inteendeel, deur Hom sal alle duister van die aarde af verdrywe word en sal daar eendag weer 'n ewige glans van God oor die lewe lê.

Dit gaan dus nie help om Christus se lig te probeer doof nie. Christus roep in ons tekswoorde juis op om die teenoorgestelde te doen: om te kapituleer vir sy lig en alle duisternis wat daardeur in ons lewe onthul is, agter jou te laat deur voortaan Hom te volg. Sy lig is geen soeklig waarmee hy ons wil arresteer nie. Hy wil ons met sy lig bevry! Hy het gekom ons uit die duisternis uit na die lig van die lewe toe te trek sodat ons voortaan agter Hom aan sal gaan en wandel in die lig.

Die Skrifgeleerdes en Fariseërs het een vir een weggegaan. Christus se ontdekkende lig was te onaangenaam vir hulle.

Maar die owerspelige vrou staan nog daar, beskaamd en onseker.

Tot haar het Christus gesê: "Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie". Maar indien sy nou sou weggaan, sou sy sommer in die duisternis terugstap. Sy moet voortaan Christus volg.

Wie homself aan sy lig gewonne gee, staan dalk aanvanklik verbaas met sy oë en knipper, maar sal al gou agterkom hoe bevrydend dit is om eindelik alles in die lewe weer in die regte verhoudinge te sien.

Hy ontdek hoe bedrieglik die werke van die duisternis inderwaarheid is, al lyk hulle ook hoe aantreklik: hulle sleep jou saam na die ewige verderf. Hy ontdek terselfdertyd hoe wonderlik dit is om jou weer in alles deur die Woord van die HERE te laat lei.

In die duisternis stamp jy jou telkens en kies jy jou pad maar op goeie geluk af. Daar is orals vyande rondom jou, maar jy kan hulle nie sien nie.

In die lewenslig op die pad agter Christus aan sien 'n mens klaar en duidelik elke hindernis en gevaar en kan 'n mens kyk tot aan die horison van die ewige lewe.

Dus kry jy plesier in hierdie lig. Jy wil jou nou ook daardeur láát verlig. Alles wat selfs maar aan die duisternis kan herinner, word uit die lewe weggedoen en orals breek die lig deur. Die enigste verskil met vroeër is nie dat daar voortaan 'n Bybel op die boekrak lê en ons gereeld bid nie. Nee, daar kom 'n heeltemal ander lewensstyl vorendag, sodat ons self ook ligtende voorbeelde vir ander mense word. Daar verander so veel dat ons nou ook self "die lig van die wêreld" genoem kan word.

En daarin word al die eerste strale sigbaar van die oorweldigende lig eendag op die nuwe aarde as God die menselewe weer ongehinderd met sy goddelike glans oorskyn.

Ons teks van vanoggend plaas ons almal voor die keus, broeders en susters.

Wat kies u: wegkruip in die duisternis, die gordyne van u lewe gou-gou toetrek om die soeklig van Christus se Evangelie buite u lewe te hou?

Of in al u skamelheid en skuldigheid in die lig in stap en u laat meetrek agter Christus aan, die nog helderder lig tegemoet?

U sal moét kies.

Want die lig dríng op en bring aan die lig waaraan u wil behoort: aan die lig of aan die duister.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)