Christus (is) die Brood van die Lewe

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Johannes 6
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JOHANNES 6: 35

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 146: 3, 4, 5
Wet
Ps. 146: 6
L. Johannes 6: 22-59
Gebed
Kollekte
SB. 9: 4, 5, 6
Prediking
SB. 1: 3, 5
Gebed
Ps. 65: 3
Seën

Broeders en susters,

Toe die Here Jesus Christus Homself in die sinagoge van Kapernaüm aan die Jode aangebied het as die brood van die lewe, het 'n hele aantal mense uit die kerk uit weggeloop.

Dit mag dalk snaaks lyk, maar juis toé het baie mense die rug op Hom gedraai.

Toe aan hulle die brood aangebied is wat jy by geen bakker kan koop nie en wat 'n ewige voedingswaarde het sodat jy nie meer sterf nie, juis toé het baie mense vir Jesus begin sê: "Nee dankie" en verdwyn.

Hulle het gemeen dat Jesus nou te ver gegaan het: jouself aanbied as kos? ! Hulle was nie so happerig na hierdie brood nie.

Christus het hulle vertrek aanvaar en geen moeite gedoen om hulle te keer nie. Hy het geweet dat dit sou gebeur, dat hierdie reaksie moes kom. Welbewus het Hy aangestuur op hierdie skifting van sy hoorders. Sy preek oor die brood van die lewe het duidelik die bedoeling gehad om tot 'n radikale keuse vir of teen Hom te dwing. 'n Mens moet al hoe skerper begin insien Wie hierdie Jesus is, en anders moet jy weggaan. Jy moet álles van Hom verwag, of niks nie.

Dis dié dat Christus, toe daar al baie van die volk verdwyn het, die wat agtergebly het nog 'n keer ekstra voor die keuse geplaas het deur vir hulle te vra (kyk vs. 67): "Wil julle ook nie weggaan nie? "

Maar dan antwoord hierdie mense: "Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe!".

Dié reaksie wou Christus hoor. Tot so'n belydenis wou Hy hulle uitlok. Mense moet so ver kom dat hulle alles buite hulleself in Hom, die Seun van God soek.

Vanoggend kom nou dus ook tot u en my daardie vraag, broeders en susters, of ons ook maar nie liewer wil weggaan noudat Christus Homself ook aan ons aanbied as die brood van die lewe nie.

Wat wil ons? Vertrek? Of met die dissipels wat trou gebly het, sê: Here na wie toe sal ons gaan? By U is daar die ewige lewe! U het vir ons hongerige en dorstige siele die ware spyse en drank van die ewige lewe geword. Daarom kan ons nooit meer sonder U lewe nie.

Voor daardie keuse staan ons wanneer ek aan u God se Woord bedien oor:

CHRISTUS (IS) DIE BROOD VAN DIE LEWE

  1. HIERDIE BROOD BIED DIE EGTE VERSADIGING
  2. HIERDIE BROOD VEREIS 'N EGTE HONGER

1. Ons kan nie sê nie, gemeente, dat die Jode wat in Kapernaüm se sinagoge saamgestroom het, nie hongerig was na besondere brood uit Jesus se hande nie.

In die vers wat aan ons teks voorafgaan, vra hulle nog: "Here, gee ons altyd hierdie brood!", en hulle bedoel sonder twyfel die besondere brood waarvan Jesus gepraat het: brood wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee. Die reklame vir sulke brood het wel indruk op hulle gemaak.

Maar dat hulle direk daarna hulle versluk in Christus se mededeling dat Hy sélf hierdie brood is waardeur die wêreld die lewe ontvang, is hieraan te wyte dat hulle 'n verkeerde versadiging soek. Hulle soek net brood vir die maag.

Dit is die eintlike kwessie in hierdie hoofstuk, broeders en susters. Die hele twisgesprek tussen Jesus en die Jode oor die brood wat uit die hemel neerdaal, draai op die ou end om die verkeerd gerigte verlangens van die Jode.

Dit het alles begin het daardie wonder van die vorige dag. 'n Groot menigte het Jesus gevolg en tot laat in die middag in sy omgewing bly rondhang. Toe het die Here skielik sy dissipels belas met die proviandering van daardie meer as 5000 mense om sodoende hulle geloof op die proef te stel.

Die dissipels het nie daarvoor kans gesien om soveel mense aan kos te help nie. Dit het in hulle oë onbegonne werk gelyk. Dit sou in die eerste plek kapitale kos as hulle iets sou gaan koop. Om die aanwesige voedsel eerlik te probeer verdeel, sou ook nie uitwerk nie want daar was net 5 garsbroodjies en twee visse.

Maar vir hulle Here het dit glad nie 'n onmoontlike opgawe gelyk om hierdie magdom mense van kos te voorsien nie. Rustig het Hy daardie 5 broodjies en 2 visse geneem, sy hemelse Vader gedank en vervolgens het Hy begin uitdeel.... En Hy het net aangegaan en aangegaan: daar het maar brood uit sy hande bly kom, mandjies vol, en ook aan die hoeveelheid vis het daar maar nie 'n einde gekom nie. Net solank totdat almal versadig was. Toe was daar vir elkeen van die 12 dissipels selfs nog 'n broodmandjie ekstra oor ook!

Hierdie wonder het die mense dol-entoesiasties gemaak. Hulle het dit lankal gedink, maar nou het hulle dit seker geweet: hierdie Jesus is nie sommer 'n rabbi nie. Hy moet regtig die groot profeet wees wat in die wêreld sou kom. Die Man van wie Moses gepraat het in Deuteronomium, die groot Leier wat God se volk vir altyd in die rus sou lei, wat blywende vrede en welvaart sou waarborg.

As Jesus vir hulle hul gang sou laat gaan het, sou hulle Hom met geweld saamgeneem het om Hom koning te maak. As hulle hul sin sou gekry het, sou nog vandag die seëtog van die Messias begin het.

Dog die Here het Homself onttrek en alleen in die berge ingegaan terwyl Hy die mense teleurgesteld en ontnugterd agtergelaat het. Die Koning self het hul planne sommer in duie laat val.

Hoekom eintlik?

Waarom was Christus nie bly oor hierdie entoesiasme van die volk nie? Wou Hy nie graag as die Koning van God se volk erken word nie? Hoekom het Hy 'n kroningskampanje ontvlug?

Dit, gemeente, vertel die Here die volgende dag vir die mense wanneer hulle Hom in Kapernaüm weergevind het. U lees dit in vs. 26 waar Christus sê: "Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het".

Daardie wonderlike maaltyd gisteraand was geen doel in sigself gewees nie. Dit was 'n teken gewees soos Jesus talle tekens gedoen het. Dit was nie blote wonders nie, maar alarmsinjale om die aandag van die mense te trek, om te bereik dat die mense dieper sou gaan nadink oor hierdie Jesus van Nasaret.

Die bedoeling van die brodewonder van die vorige aand was gewees dat die volk méér in Jesus sou gaan soek as net 'n volle maag. Hulle moes begerig word na die voedsel wat nie vergaan nie, maar wat bly tot in die ewige lewe.

Met dié begeerte het hulle egter nie vir Jesus weer opgesoek nie. Hulle loop Hom net na om nog wonders mee te maak. Hulle verwag veels te min van Hom. Of liewer: hulle verwag die verkéérde dinge van Hom. Hulle koester áárdse verwagtinge wat beperk bly tot vryheid en voorspoed, welvaart en gesondheid sodat elkeen rustig onder sy wynstok en vyeboom kan sit.

Maar Jesus het meer om te bied. Dit probeer Hy hier in Johaanes 6 vir die Jode duidelik maak. Hy het nog meer om te bied as 'n broodvoorsiening van 5000 mense. Jy kan by Hom meer kry as net 'n volle maag en 'n welvarende lewentjie.

Maar dit was nie maklik om dit die mense aan die verstand te bring nie. Hulle het hulle vererg oor Christus se woorde.

Gister was hulle bereid om 'n knieval voor Hom te maak en om Hom op die troon te help, en nou is Hy nog nie tevrede nie?

Wie dink Hy is Hy eintlik?

Hulle vra: "Watter teken doen U dan sodat ons kan sien en U glo. Wat werk U? "

Jesus moet nog maar 'n ekstra staaltjie gee van dit waartoe Hy in staat is as Hy regtig nog meer het om te bied. As Hy regtig die groot profeet is wat Moses reeds aangekondig het, moet Hy dit nog maar 'n keer bewys. Want daardie maaltyd gister was wel baie indrukwekkend gewees, maar nou ja, noudat hulle nog 'n keer daaroor nadink- dit was darem maar heel gewone brood en heel gewone vis gewees. As 'n mens Jesus se wonder vergelyk met die manna-wonder eendag in Moses se dae, was dit eintlik nog glad nie so indrukwekkend nie. Daardie brood by Moses het sommer uit die hemel kom sneeu! Daar het nie 'n mensehand aan te pas gekom nie.

Laat Jesus 'n slag probeer om daardie wonder te oortref. Dán sal hulle aanvaar dat Hy regtig Moses se meerdere is.

Maar verstaan u, broeders en susters, dat die Jode steeds op die verkeerde spoor bly aangaan? Nog steeds soek hulle 'n verkeerde versadiging: aardse brood.

Ja, want daardie manna in Moses se dae wat uit die hemel uit kom sneeu het, was welbeskoud ook maar net áárdse brood. Christus sê in vs 32: ook daardie manna kan nie opbie teen die brood wat my hemelse Vader vir julle aanbied nie: die ware brood uit die hemel wat aan die wêreld die lewe gee.

Moenie die betekenis van die manna uit die woestyntyd oordrywe nie. Uiteindelik het daardie brood ook maar net 'n tydelike versadiging kon bied. In vs 49 sal Christus net-nou sê: "Julle vaders het die manna in die woestyn geëet en het gesterwe". Hulle kon met daardie wonderbrood hul lewe nie verleng nie. Hul lewe het, ten spyte van daardie brood uit die hemel, 'n voortdurende sterwe gebly.

Maar God gee nou brood, die ware brood uit die hemel, sodat elkeen wat daarvan eet nooit meer sal sterwe nie. Wie hierdie brood eet, sal lewe tot in ewigheid.

Ook na hierdie woorde het die Jode ons Here Jesus nog steeds nie mooi verstaan nie, gemeente. Dit blyk wel uit hul aanvanklik begerige reaksie: "Here, gee ons altyd hierdie brood". Steeds het hulle brood vir die maag gesoek.

Hulle is dan ook heeltemal onthuts as die Here die woorde van ons teks spreek: "Ek is die brood van die lewe!". Dit het hulle nie verwag nie. Dit is vir hulle maar 'n snaakse storie. En net-nou loop hulle vererg uit die kerk uit.

Waarskynlik was Christus se woord van ons teks ook vir die wat nie weggeloop het nie, nie direk volkome deursigtig nie. Hulle het seker ook nie dadelik verstaan wat Christus bedoel het toe Hy Homself aangebied het as brood nie.

Maar óns weet dit inmiddels wel. Ons weet nou waarom Christus die egte versadiging bied. Hy is dit wat die oorsaak van ons ewige honger en kommer, naamlik die sonde, kom wegneem het.

Israel in die woestyn het ook brood uit die hemel geëet. Maar desondanks het derduisende van hulle gesterf.

Hoekom?

Omdat daardie volk 'n sondige volk gebly het wat God aanhoudend vertoorn het. Omdat daardie volk deur die sonde midde-in die dood gelê het. Die brood wat elke oggend uit die hemel gesneeu het, kon daaraan niks verander nie. Hulle mae het wel vol geraak met manna, maar hulle harte het ook vol gebly met ongehoorsaamheid en opstand teen God.

Ons vandag kan dalk eet en drink in oorvloed, gesond wees en 'n welvarende lewentjie lei, maar desondanks kan niemand daardeur die dood vryspring nie.

Hoekom nie?

Omdat die egte honger nie gestil word deur 'n volle maag nie. Omdat die egte lewe nie gewaarborg word deur weelde en welvaart nie. Nie ons maag moet met kos gevul worde nie, maar ons hart moet gevul word met liefde tot ons God en Vader in die hemel.

En daar is geen sondige mens hier op aarde wat dit kan regkry nie.

Maar daarvoor het God sy eie Seun uit die hemel uit na die aarde toe laat kom as die egte brood wat lewe gee. Christus bied die egte versadiging en die waaragtige lewe deur ons oneindige skuld teenoor God van ons af weg te neem. Hy skenk aan ons sy lewendmakende Gees wat 'n nuwe onverwoesbare lewe in ons tot stand bring. Slegs so word die lewe weer reg. Slegs so is die lewe nie langer 'n voortdurende sterwe nie.

Die wêreld is nie in die eerste plek gebaat by die oplossing van die hongerprobleem deur 'n meer ewewigtige voedselverdeling nie. Die wêreld is nie regtig gehelp met die oorwinning van alle ekonomiese krisisse nie. Daar kom geen voorspoed deur die beëindiging van alle oorloë en oorlogdreiging nie. 'n Modelstaat, opgebou volgens die mooiste prinsipes, sal geen einde aan alle ellende maak nie.

Die ellende van ons almal word deur die sónde veroorsaak. En dít moet dus heel eerste verdwyn.

Daar is in die hele wêreld maar Een wat dit kan regkry, en dis ons Here Jesus Christus, God se Eniggebore Seun. Hy het vir ons sy liggaam aan die kruis in die dood oorgegee en sy bloed vergiet om vir ewig ons sondes van ons af weg te neem. So het Hy vir ons hongerige en dorstige siele die ware voedsel en drank van die ewige lewe geword. Deur daardie dood het Hy brood geword. Sy dood het vir ons die lewe terugverdien.

En nou bied Christus Homself aan ons aan as die ware brood uit die hemel met ewige voedingswaarde- vandag in hierdie preek, en volgende week selfs sigbaar en tasbaar aan die Nagmaalstafel.

Wie dus die lewe soek, moet hiér wees, in die kerk van die Here Jesus Christus.

Want 'n preek is meer werd as 'n rede van die Staatspresident, 'n getroue sendeling bereik meer as 1000 ontwikkelingswerkers, 'n goeie huisbesoek lewer jou meer op as werk wat jou miljoene in die sak bring. 'n Nagmaalsviering beteken meer as 'n goeie gesondheid en 'n opregte openbare geloofsbelydenis is belangriker as almal onderskeidings by 'n eksamen.

Want die wat na Jesus Christus toe kom, die brood van die lewe, sal nooit meer honger kry nie omdat God hom versadig met sy heil. Dié sal ook nooit meer dors kry nie omdat God hom laat drink uit die waterfonteine van die lewe. Selfs in armoede en swaarkry-dae is daar vir sy lewe uitsig en toekoms. Want die Gees van Jesus Christus neem sy lewe saam na die ewige lewe toe.

2. Hoekom is daar dan so veel mense wat hierdie lewende brood nie wil hê nie?

Toe die Jode verstaan het dat Jesus oor Homself praat, het hulle hulle vervies en vir mekaar gesê: "Wat verbeel Hy hom? ! Is Hy nie Jesus, die seun van Josef en Maria nie. Ons ken mos vir sy Pa en Ma. Hoe durf Hy dan te sê: Ek het uit die hemel neergedaal? "

En toe Christus bly aandring het op 'n gelowige aanvaarding van Hom, het hulle hul baadjies aangetrek en huis toe gegaan met 'n spottende laggie om hul mond en 'n verwensing op hul lippe. Sou hierdie Jesus die wêreld van alle ellende kan afhelp??

So reageer daar vandag nog talle mense. Daar word vandag vanuit die hoogte effens meewarig gelag vir daardie kerkmense wat dit volhou dat Jesus die Redder van die wêreld is vanweë sy versoenende lyding en sterwe vir ons sondes. Of ons word ook vandag ronduit verwens.

Baie mense wil nog wel oor Jesus praat solank as wat Hy ingepas kan word in 'n ontwikkelingsprogram of in die propaganda vir 'n meer regverdige samelewing. Jesus die maatskappyhervormer. Jesus die rewolusionêr. Jesus, die bevryder van die armes en onderdruktes.

Maar hulle maak hul ore toe as Hy gepredik word as die Seun van God wat uit die hemel moes neerdaal sodat God die ongeregtighede van ons almal op Hom kon laat neerkom en sodat Hy ter wille van ons oortredings deurboor kon word.

Ek vra weereens: hoekom?

Omdat 'n mens liewerste sy eintlike honger en kommer nie wil ken nie. In elke geval nie wil érken nie. Hy wil van die óórsaak van sy ellende nie weet nie, die sonde. Dit beteken mos dat jy moet erken dat jy midde-in die dood lê en jouself ook nooit en te nimmer meer daaraan kan ontworstel nie. Jy moet bely dat jy by die God van jou lewe alle reg op lewe vir goed vergooi het en dat die ellende wat ons in hierdie lewe ondergaan, nog slegs 'n kleinigheid is in vergelyking met dit wat ons regtig verdien het en wat na die dood gaan kom.

Jy moet erken dat daar hulp uit die hémel noodsaaklik was om jou van die ewige dood te red.

Baie mense ken nie hierdie egte honger, naamlik na die vergewing van hulle sondes by God nie. Daardie honger pla hulle nie, knaag nie aan hulle nie.

Soms loop jy ook in die kerk mense raak wat daardie honger nie eintlik ken nie.

Daar is ook af en toe in die kerk van sulke mense vir wie hulle sondes nie bepaald die swaarste las in waaronder hulle gebuk gaan nie. As daar daarom in die prediking te veel na hulle smaak op die sonde gewys word, vererg hulle hul daaroor. En as daar in hul lewe teëslae kom, soos deur werkloosheid, of 'n bankrot, deur siekte met blywende gevolge of ander teleurstellings, val skielik ook die kerk hul teë. Die preke sê nie so veel meer vir hulle nie, hulle bly koud onder die Nagmaalsviering, die band aan die broeders en susters beteken niks meer vir hulle nie, tydens huisbesoek kom daar die ene kritiek...

Hoekom?

Omdat sulke mense blykbaar ook tevore nie deur die egte honger gedrywe kerk toe gekom het nie. Hulle godsdiens het vir hulle betekenis gehad solank as wat dit hulle na die mens gesproke voor die wind gegaan het. Hulle het in hul godsdiens die vervulling van kleinmenslike aardse verlangens gesoek. Die honger na die ewige lewe, na die versoening met God, die vergewing van hulle sondeskuld was nie so sterk nie.

Ja, en as dan daardie verkeerde honger na allerhande sake wat slegs tydelike waarde het, nie gestil word nie, verloor die kerk en die godsdiens natuurlik sy betekenis.

Net hulle bly in die kerk wat die egte honger ken wat vir die egte versadiging vra. Die versadiging met die brood van die lewe. Net hulle wat regtig weet wat sonde is, bly met volharding die kerk en sy prediking van die gekruisigde Christus soek, omdat alleen daar, by Christus, die honger en dors vir ewig gestil kan word.

Hulle weet: ek het elke preek, elke Nagmaalsviering, daardie gereelde huisbesoeke en so meer broodnodig om die ewige lewe te mag ontvang. Want in die kerk, daar word die brood van die lewe uitgedeel.

Broeders en susters, ook vanoggend is hierdie brood aan u uitgedeel, en niemand van u het uit die kerk weggeloop nie. Maar waarom sou u ook wegloop Waar anders heen sou u ook moét gaan? Hier was mos woorde van ewige lewe.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)