Israel se gekruisigde Koning lê Sy lot in die hande van Israel se God

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1989-03-24
Teks: 
Lukas 23
Preek Inhoud: 

PREEK OOR LUKAS 23: 46

LITURGIE:
Ps. 18: 2, 9
Gebed
L. Psalm 31
Preek
Ps. 21: 1, 3
Geloofsbelydenis: Art. 21 N.G.B.
Ps. 21: 4
Huweliksformulier
Ps. 61: 3 voor die gebed
Ps. 61: 6 na die gebed
Kollekte
Ps. 31: 3, 4, 5

Gemeente, broeders en susters,

Daar het op Golgota 'n Koning aan die kruis gehang.

Wanneer die evangelis Lukas ons die verhaal van Christus se martelgang Golgota toe vertel, wys hy dit gedurigdeur aan: Christus is as 'n koning gekruisig.

Hy is as koning by Pilatus aangekla deur die leiers van sy eie volk.

Hy is as koning bespot deur Herodes en sy soldate.

En toe die kruis opgerig is, was daar as opskrif bo Christus se kop geskrywe: "Hy is die koning van die Jode". Met as gevolg dat Jode en heidene op daardie een dag kop in een mus was in 'n gemeenskaplike spot met hierdie gekruisigde Koning:

"As u die koning van die Jode is, as u die Christus is, verlos Uself en ons".

Dit moet vir ons Here Jesus Christus 'n onpeilbare lyding gewees het, broeders en susters.

Hy was mos die Koning van Israel, die Messias, die Christus wat God aan sy volk gegee het om hulle te verlos. Lukas het in sy evangeliebeskrywing steeds dit aangewys. Gebore uit die huis van Dawid, in die stad van Dawid, met die belofte deur die engel Gabriel: "Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie".

Wie kan dus die leed peil wat ons Heiland moes verwerk toe Hy deur sy volk juis as koning verwerp is? Lukas het ons iets daarvan laat sien toe hy vertel het dat Christus tydens sy koninklike intog in Jerusalem op 'n jong donkie skielik begin huil het. Die Koning van Israel het gehuil omdat Jerusalem, die koningsstad, nie verstaan het die dinge wat tot sy vrede moes dien nie en Hom, die Vredevors, as ongeloofwaardig buitekant sy mure sou gaan gooi.

Daardie verdriet het ongetwyfeld in die daaropvolgende dae maar net groter en dieper geword. En toe Hy eenmaal aan die kruis gehang het, moet dit vir Hom soos dolksteke gevoel het dat die spot van die soldate en die Sanhedrin hom juis op sy betwiste koningskap gerig het.

En tog, gemeente, laat Lukas ons veral sien hoe koninklik Christus selfs in die moeilikste ure van sy vernedering gebly het. Daar het op Golgota regtig 'n Koning aan die kruis gehang. Die wat gelowig kon kyk en luister, moes dit wel gaan insien. Hoe snaaks dit ook al mog lyk- hierdie gekruisigde was 'n Koning. Kyk hoe dat sy koninklike krag onder die ergste spot en die vreeslikste pyne voelbaar gebly het!

Dit veral het Lukas ons in sy beskrywing van die kruislyde van Christus wil aanwys. Hy het dit aangewys in die koninklike swye van die Here op alle spot.

Maar hy het dit nie minder aangewys in die koninklike spreke van Christus nie. Moet maar eens daarop let wàtter woorde Lukas van die Heiland vasgelê het tydens die laaste ure van sy lewe. Koninklik het Christus Jerusalem se dogters, wat gemeen het om Hom te moet bekla, die les gelees terwyl Hy op pad na die kruisheuwel was. Koninklik het Hy voorbede gedoen vir die beule wat die spykers deur sy hande en voete gedryf het. Koninklik het Hy die paradys oopgemaak vir een wat saam met Hom gekruisig was.

En ook die heel laaste woord wat Christus voor sy sterwe gespreek het, is so'n koninklike woord.

Ons wil vanmôre na hierdie woord gaan luister, om die koninklike klank daarin te ontdek. Sodat ons nog des te meer onder die indruk kom van ons Koning, wie se krag aan die kruis nie gebreek het nie maar daar juis op sy mooiste aan die lig gekom het.

Ek het die boodskap van Christus se laaste kruiswoord soos volg saamgevat:

ISRAEL SE GEKRUISIGDE KONING LÊ SY LOT IN DIE HANDE VAN ISRAEL SE GOD.

DAARDEUR VERSEKER HY HOMSELF VAN

  1. DIE OORWINNING OP SY VYANDE
  2. DIE VERLOSSING VIR SY VOLK

1. Dit lyk in ons teks asof dit met die Koning van die Jode gedaan is, broeders en susters. 'n Indrukwekkende einde, toe maar, maar darem die einde. Netnou val sy kop vooroor en blaas Hy die laaste asem uit. Nog eenmaal versamel Hy al sy kragte om met 'n groot stem sy laaste woord te kan spreek. Maar dit is dan ook sie laaste woord.

Is dit nie 'n sterwenswoord nie, waarmee Hy Homself berustend oorgee aan die dood wat hy nie langer kan ontwyk nie?

Sekerlik, dit is 'n woord vol geloofsvertroue: "Vader, in U hande gee Ek my gees oor". Daar 's geen angs vir die dood by nie. Daar klink in daardie woord die rustige oorgawe van 'n mens wat nie net in sy lewe nie, maar ook in sy sterwe sy lot in die hande van sy hemelse Vader lê. Soos daar tot op vandag nog kinders van die Here sterf met hierdie bede op hul lippe.

Daarom is hierdie laaste woord wel 'n indrukwekkende woord vir iemand wat gedoem is om die kruisdood te sterwe. Is die kruisdood nie deur God vervloek nie? Moet daarom 'n gekruisigde nie doodbenoud wees om by sy sterwe voor God se regterstoel te moet verskyn nie?

Hierdie laaste woord van Christus was dus vir die omstanders wel 'n wonderlike woord. Maar dit was nogtans terselfdertyd sy sterwenswoord. Hy wat Homself die "Opstanding en die Lewe" genoem het, moes nou tog vir die dood kapituleer. Hy wat ander mense gered het, het nie by magte geblyk om Homself te red nie. Roemloos het die omstrede Koning van die Jode aan 'n wrede kruis ten onder gegaan. En die wat hoë verwagtings van Hom gehad het, moes nou tog insien sy saak was 'n verlore saak.

U verstaan natuurlik, gemeente: as ons sò ons teks moes lees, sou ons bitter weinig troos daaruit kan put. Dan sou ons vandag nie soveel meer vir mekaar kan sê nie as dat ons Koning nog in sy sterwe op God bly vertrou het, en dat ons dit "dus" ook maar moet doen. Dan sou ons hooguit van ons Heiland 'n voorbeeld kan maak in die uur van ons sterwe of in tye waarin ons baie swaarkry. Maar dit sou darem 'n skraal troos wees.

Gelukkig mag ons in die laaste woord wat ons Koning aan die kruis gespreek het, baie meer hoor as maar net 'n gelowige, maar berustende sterwenswoord.

Daar klink 'n triomfantelike toon in daardie woord wat wel die laaste woord gelyk het maar wat darem die laaste woord nie sou wees nie.

Want, hoe snaaks dit ook al mag lyk, dit was 'n oorwinningswoord waarmee Christus in die dood ingegaan het.

Dit was 'n laaste woord wat Hy sorgvuldig gekies het en wat die spottende Jode moes kan herken uit hulle Bybel.

'n Woord wat al 'n keer eerder deur 'n koning van Israel gebruik is toe die meeste mense gedink het dat dit klaar met Hom was.

'n Woord van Dawid uit Psalm 31, die psalm wat ons saam gelees het.

Ek hoop u het uit die lees van hierdie psalm verstaan dat die woorde "In u hande gee ek my gees oor" glad nie die klank van 'n koning op sy sterfbed het nie. Hoegenaamd nie. Hier praat 'n koning wat midde in die lewe staan en in daardie lewe ook wil bly staan en dààrom sy lot in die hande van die Gòd van die lewe lê.

Die koning van Psalm 31 lê hom nie by die afloop van sy lewe neer nie, maar begeer juis dat sy lewe verder sal loop. Ja, hy is daarvan seker dat sy saak nie doodloop nie. Omdat hy dit in die hande van God mag lê!

U kan maar kyk: so staan dit by mekaar in vs. 6 van Psalm 31: "In u hande gee ek my gees oor - U het my verlos, HERE, God van trou!"

Geen gebed van berusting nie, maar 'n lied van verlossing. Israel se koning verwag dat Israel se God sy lewe sal bewaar en hom die oorwinning op sy vyande sal gee. Vol vertroue lê hy sy gees -en dit beteken hier eenvouding: homself en sy saak- in God se hande. Dan sal alles regkom. Ja, die oorwinning klink orals al in Psalm 31: "Ek wil juis en bly wees in u goedertierenheid, u verbondstrou, omdat U my ellende aangesien, my siel in die benoudhede geken het. Omdat U my nie oorgelewer het in die hand van die vyand nie. U het my voete op vrye grond laat staan. "

Dit is die toon in Psalm 31- 'n toon van triomfantelike rus van 'n koning wat sy saak aan God toevertrou.

En juis hierdie psalm het ons gekruisigde Koning uitgekies om daaraan sy laatse woord te ontleen, broeders en susters.

Met 'n groot stem het Christus dit sy vader Dawid nageroep: "Vader, in u hande gee Ek my gees oor". Elkeen mog, ja, moes dit hoor dat Hy met hierdie psalm op die lippe in die dood sou ingaan. Al daardie spotters en grapjasse wat urelank die draak gesteek het met hierdie gekruisigde Koning, en ook sy naaste familie en die dissipels wie se vertroue op hierdie dag so swaar op die proef gestel is- almal sou dit hoor dat hierdie Koning nog glad nie aan sy saak wanhoop nie. Inteendeel, vol vertroue het Hy vorentoe gekyk. Hy het mos sy lot in die hande van sy God gelê! Nie Hy sou aan die kortste end wees nie. Sy vyande, wat sy dood begeer het, sou aan die kortste end wees.

Hoor u die triomfantelike toon in ons teks, gemeente?

Die hele dag het die ellende waarvan Psalm 31 gewaag, aan Christus in vervulling gegaan. Die swaarte van diè psalm is Hom urelank al aangedoen. Hy, die Koning van die Jode, het 'n speelbal geword in die hande van sy vyande. Dit het gelyk asof hulle hande oor sy lot kon beslis. Die ellende wat eenmaal koning Dawid aangedoen is, is volledig aan Hom vervul: "Vanweë al my teëstanders het ek 'n groot smaad geword (vs. 12), 'n voorwerp van skrik vir my bekendes. Die wat my op strraat sien, vlug weg van my af. Ek is vergeet uit die hart, soos 'n dooie; ek het geword soos 'n ding wat lê en vergaan. Want ek het die skindertaal van baie gehoor, terwyl hulle saam raad hou teen my. Hulle is van plan om my lewe te neem. "

Christus het dit alles ondergaan.

Psalm 31 praat van "valse lippe wat in trotsheid en veragting onbeskaamd spreek teen die regverdige". En ook diè het daar volop gewees hierdie dag, veral toe Hy eenmaal an die kruis gehang en bloei het.

En dit het maar nie met 'n man uit die volk gebeur nie, maar, net soos in Psalm 31, met die Koning van Israel, die Gesalfde van God wat God juis aan sy volk gegee het om dit te verlos en te beskerm.

Aan mensehande en mensehoon uitgelewer.

'n Speelbal van vyande.

Maar noudat dit lyk asof die vyande dit definitief gewen het, noudat dit lyk asof dit met hierdie Koning gedaan is- nou haal Christus die tema van Psalm 31 aan:

    "U is my eewge rots, o HERE!
    Diep in u veil'ge sy
    sal ek genestel bly.
    U sal my lei, u naam ter ere,
    tot ek die net verby is
    wat voor my voet gesprei is
    Ek gee my gees oor in u hande
    my Redder, wat my trou
    in veil'ge hoede hou. "

Luidkeels laat hierdie gekruisigde Koning nou weet: sy sterwe is nie sy einde nie, al het die spotters ook so geding en al het sy dissipels so gevrees. Die vyande maak dalk hul gevolgtrekking: hierdie koning kan nie die Christus wees nie - hy het geen hulp by God gevind.

Maar dwars daar teenin klink met 'n groot stem die belydenis: "Ek vind hier en nou alreeds hulp by God. Ek lê my lot in sy hande en dus, Israel: dus kàn dit met julle Koning nog nie gedaan wees nie. Sy lewe, sy saak kàn nie vasloop in die dood nie. Want God maak vir sy voete ruim baan. God sal Hom nie aan die vyand prysgee nie!"

Sò mag Christus dit nou sê, broeders en susters. Eers nou, wanneer Hy die lewe alreeds uit Hom voel wegvloei. Het Hy nie al baie eerder Psalm 31 teen sy vyande in stelling kon bring nie; nie al baie eerder sy lot in die hande van sy God kon oorgee nie?

Nee, Hy kon en mog dit nie!

Want dit wat Dawid in sy lewe nooit oorgekom het nie, dit het Christus wel oorgekom: God het sy hande van Hom af terug getrek.

Dawid het in sy angs wel gedìnk: "Ek het verdwyn, weg van u oë" (Psalm 31: 23), maar Christus het werklik uit God se oë verdwyn. God het Hom van Hom af weggestoot en in die hande van vyandige mense oorgegee. Toe was daar vir Christus niks meer om te sê nie. Hy het geen reg van spreke meer gehad nie, want god was teen Hom. Hy kon niks meer antwoord aan sy smaders nie. Hy moes alles maar oor Hom laat kom: geterg word, gesar word, geskend word, moet aanhoor en aansien hoe 'n spel met sy koningskap gespeel word sonder om 'n weerwoord te hê.

Koning Dawid mog sê: "My tye is in u hand: red my uit die hand van my vyande en van my vervolgers"

Maar koning Christus moes swyg.

Koning Dawid mag vra: "HERE, laat die goddeloses beskaamd staan, laat hulle verstom in die doderyk. Laat die valse lippe stom word wat in trotsheid en veragting onbeskaamd spreek teen die regverdige".

Maar Christus mog dit nie sê nie. Hy moes sy kop buig en swyg. Verdra.

Hy moes Hom laat wegstoot in die ewige diepte van die hel waar God 'n mens van Hom af wegstoot en waar jy die duiwel vierkank in die oë kyk. Daarvoor het Hy in die wêreld gekom. Daarvoor het Hy Koning oor God se volk geword. Dit was òns hel wat Hy moes dra. Hy het gekom om sy volk van die las van God se ewige toorn te red. Maar daarvoor moes Hy self diè las dra.

Dis diè dat Hy moes swyg, die hele lank dag. En God het dit vir Hom al hoe benouder gemaak: selfs die lig van die son, wat slegtes en goeies op aarde ontvang, is op die ou end aan Hom onthou. En God was ewig ver weg. Hy wàs weg, uit God se oog verban.

Maar noù mag Hy Psalm 31 na Hom toe haal. Nou sy gees aan God oorgee en die hoof in triomf ophef.

Want die son skyn weer. Die son is weer sigbaar en daarin laat God sy aangesig ook weer skyn oor sy Koning. Dit is volbring.

God strek sy hande weer na sy Seun uit en dus mag Christus noù sy lot weer in God se hande lê. Die einde sal nou gou kom. Die oomblik van sy sterwe nader met rasse skrede. Maar Christus weet van beter: noudat God weer met Hom is, het sy koningskap toekoms! Ook as Hy in die dood ingaan, gaan sy werk verder. Sy vyande kry nie die laaste woord nie. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.

2. En so het hierdie laaste woord van die gekruisigde Christus baie vir ons te sê, gemeente.

Ons is tog die volk van hierdie Koning?

Nou goed, toe Hy aan die kruis eindelik sy lot in God se hande mog lê en daarmee die oorwinning op sy vyande mog uitroep, het Hy terselfdertyd die verlossing vir ons, sy volk, uitgeroep. Toe Hy, al sou hy ook aanstonds sterwe, weer vorentoe kon kyk omdat die voortsetting van sy koningskap, dwars deur die dood heen, gewaarborg was, toe was daar ook weer toekoms vir ons, sy volk.

So is dit mos met 'n koning - diè man behartig nie maar net sy eie belange nie, maar die saak van sy volk gaan hom ter harte. Hy dra dit op die hart. Sy amp bring dit saam.

En toe koning Dawid Psalm 31 gesing het, het dit hom nie slegs om die saligheid van sy eie siel gegaan nie. Maar toe het met hom, die koning, die saak van sy volk op die spel gestaan. Vir diè saak moes hy sorgdra; en toe hy dus homself aan God se hande toevertrou het, het hy daarmee die lot van sy hele volk in God se hande gelê.

En dit het Dawid se groot Seun ook gedoen toe Hy die woord van ons teks gespreek het. As ons groot Koning het Hy in Homself die saak van ons almal aan God se hande toevertrou. Met sy eie lewe het Hy ons lot in God se hande gelê.

Hy mog dit nou doen. Die las van God se toorn oor ons sondes was gedra. Vir ons het die toekoms weer oopgelê.

Daar aan die kruis op Golgota is ons verlossing gekoop, gemeente. Ons toekoms is daar veilig gestel, omdat ons Koning ons by God teruggebring het.

En nou kan ons elke dag verder. Ons lewe kan nooit meer doodloop nie. Want daar sal aan Christus se koningskap geen einde meer wees nie en open dit geen ongekende perspektiewe vir sy volk nie? Geen moeite en verdriet, haat of hoon kan ons hierdie uitsig nog ooit ontneem nie. Altyd mag ons dit ons Koning nasê: "Vader, in u hande geen ek my gees oor".

En regtig, broeders en susters, u hoef daarmee nie te wag totdat u sterwensuur gekom het nie. Dit is mos geen sterwenswoord nie, maar 'n lewenswoord! Enige dag mag hierdie woord op u lippe wees.

Wat is 'n mooier trouteks as hierdie een? Hierdie woord dra u deur die lewe. Want dit is 'n woord wat toekoms bied.

"O, HERE, hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil".

AMEN.

(Pretoria Goeie Vrydag 24 Maart 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)