God beklemtoon die mag van die gekruisigde Priester-koning

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Lukas 23
Preek Inhoud: 

PREEK OOR LUKAS 23: 44, 45

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps 89: 1, 8, 10
Gebed
Skriflesing: Lukas 23: 1-4 en 23-38
Ps 89: 15, 16
Prediking
SB 45: 1, 8, 9, 12
Artikel 21 NGB
Ps 2: 6
Gebed
Kollekte
Ps 89: 6, 7
Seën

Die verhaal van die lyding en sterwe van ons Heiland vorm 'n klimaks, 'n hoogtepunt in alvier die Evangeliebeskrywings, broeders en susters.

Dit was mos vir Christus Self ook die klimaks. Nou moes die swaarste stryd gestry word. As ons Borg by God moes Hy nou God se toorn in sy volle omvang ondergaan. Die Lam van God moes Homself, om ons sondes weg te neem, nou oorgee vir die offer. Hy moes 'n verskriklike dood sterwe om vir ons die lewe in heerlikheid terug te koop.

Die Evangeliste het elkeen geprobeer om ons iets te wys van hierdie hoogtepunt in die lyde, wat terselfdertyd die dieptepunt in Christus se lewe was.

Hulle het dit egter wel elkeen op sy eie manier gedoen. Die een het ander aksente gelê as die ander. Die een het ook dinge vertel wat ons nie by die ander kry nie. En dit waaroor die een Evangelis baie uitvoerig oor geskrywe het, daaroor het 'n ander juis baie kort en sober gebly.

Ons gaan vanoggend na Lukas se beskrywing luister, soos ek al vanaf Kersfees my tekse uit Lukas se Evangelie gekies het.

Lukas het op besonderhede gewys wat by die ander nie voorkom nie. Lukas is byvoorbeeld die enigste wat die laaste preek van Christus vir ons vasgelê het waarmee Hy Jerusalem se vroue wat oor Hom gehuil het, op hul plek gesit het.

Lukas vertel ook as enigste van die bekering van die een misdadiger wat saam het Jesus gekruisig was, en van Christus se wonderlike belofte aan hierdie kruiseling: "Vandag nog sal jy saam met My in die Paradys wees. "

Dog wat wat daarna kom, dis nou ons teks, is vir ons gevoel wel baie kort en saaklik. Waar ons sou verwag dat daar nou 'n beskrywing sou kom van die helse verskrikking wat ons Verlosser moes deurstaan, soos ons dit ook by Mattheüs en Markus vind, as hulle die aangrypende uitroep van vermeld: "My God, my God, waarom het U My verlaat? ", daar rond Lukas nou in nog slegs 'n paar sinne die lydensverhaal af. Hy vertel baie kortliks van duisternis, van die skeur in die tempelgordyn en van Jesus se oorgawe aan sy hemelse Vader.

'n Mens sou amper sê dat daar in hierdie laaste verse skaars iets oorbly van die lyding vir Christus.

Hoekom het Lukas dit so gedoen? Het Hy hom nou maar verder daarvan afgemaak? Het Hy die diepste van Christus se lyding nie so goed geproe soos die ander Evangeliste nie?

U sal verstaan: dit kan nie wees by iemand wat deur die Heilige Gees gedrywe is om God se Woord vir ons vas te lê nie.

Maar wat is dan die oorsaak dat Lukas ons teksverse so anders weergee as Mattheüs en Markus?

Wel, Lukas wil ons met sy hele beskrywing veral wys hoedat ook tydens Christus se diepste vernedering sy glorie nie verborge gebly het nie.

Christus moes die weg na die kruis loop as 'n Koning wat deur almal verwerp is. Nogtans het Hy 'n magtige en indrukwekkende Kóning gebly!

Koninklik het Hy Jerusalem se jammerende dogters gewaarsku om liewer oor hulleself en hul kinders te roukla.

Koninklik het Hy die God se paleistuin oopgesluit vir 'n mede-kruiseling.

Koninklik het Hy die laaste asem uitgeblaas.

Daarop lê Lukas die aksente.

En in dié verband moet u ook ons teksverse, wat op die eerste gesig so kort en saaklik lyk, vervolgens lees. In twee indrukwekkende tekens het God in die hemel nogmaals die koninklike mag en majesteit van sy Seun aan die kruis onderstreep.

So het ek daarom ook die inhoud van ons teksverse vir u in een sin saamgevat:

GOD BEKLEMTOON DIE MAG VAN DIE GEKRUISIGDE PRIESTER-KONING
WANT HY WYS HOEDAT DIE VERWERPING VAN CHRISTUS TOT GEVOLG SAL KRY:

  1. LEWENSAFBRAAK
  2. TEMPELAFBRAAK

1. In die middel van die dag het dit nag geword, broeders en susters. Nag oor Golgota, nag oor Jerusalem, nag oor Israel. Plotseling was die son nie meer daar nie en het 'n ondeurdringbare duisternis hom oor die land gelê. Niemand kon meer 'n hand voor die oë sien nie noudat God se hand van bo- af ingegryp het in die natuurgebeure.

'n Gegons van van skrik en onrus en deur die menigte toeskouers by die kruise gegaan. Toe, so stel ek my voor, het dit stil geword, doodstil.

Ons weet, gemeente, want die Bybel laat dit duidelik weet, wat hierdie skielike duisternis vir ons Verlosser aan die kruis beteken het.

Of nee, ons weet dit nie, want g'n mens weet regtig wat Christus toe moes deurmaak nie. Hy het neergedaal in die hel, so bely ons. Hy het 'n onuitspreeklike benoudheid, smart, verskrikking en helse kwelling ondergaan, sê die Heidelbergse Kategismus. Maar wie van ons kan sê wat dit is? Wie van ons kan daaroor meepraat?

Toe in daardie beangstigende duisternis geen mens meer 'n hand voor die oë kon sien nie, kon Christus ook die hand van sy Vader nie meer sien nie!

God het die hande van sy Seun afgetrek, en sy vriendelike aangesig- daarvan het nie langer vrolikheid en lig afgestraal nie, maar God het dit vir sy Eniggebore Seun verberg.

Alle duiwels is op Christus losgelaat.

Christus het Self baie mooi geweet wat dit beteken om in die buitenste duisternis tereg te kom. Hy het God se volk dikwels daarvoor gewaarsku. Nou egter het Hy self daar midde-in verkeer.

Buitenste duisternis, terwyl God aan die binnekant die deur vir Hom gesluit hou. Dit moes Hy ondergaan as ons Borg, in ons plek.

Toe hulle Hom gisteraand in die tuin van Getsemane kom arresteer het, het Hy geweet dat dit sou gaan gebeur. "Dit is julle uur", het Hy vir sy vyande gesê, (kyk maar 22: 53) "en die mag van die duisternis. "

En drie ure aanmekaar het Hy in die duisternis gely, so swaar dat mensewoorde tekort skiet om dit te bekrywe. Swoegend het Hy die las van God se ewige toorn getors.

Nogtans, broeders en susters, as ons ons nie vergis nie, klink daar in ons teks veral 'n triomfantelike toon as Lúkas ons van hierdie skielike duisternis vertel.

Daar is vir die toeskouers iets indrukwekkends in hierdie onverwagse donkerte, iets huiweringwekkends.

Lukas wil ons nie net laat saamvoel met wat Christus moes gevoel het nie. Hy wil ons veral laat voel wat die vólk moes gevoel het toe die sonlig plotseling weggeval het.

Want God het hierdie dag van bo-af, uit die hemel uit vir Israel laat voel wát regtig besig was om te gebeur op die kruisheuwel net buite Jerusalem.

God het die mag van hierdie lydende Man daar aan die middelste kruis, gewys, deur helder oordag dag 'n dik duisternis oor die hele land te lê.

Immers, gemeente: nie net vir die swoegende Christus aan die kruis het dit donker geword nie. Nee, die hele Golgota kom in die donker en lê; ja die koningstad Jerusalem word in duisternis gehul, selfs in die wye omtrek, in die hele land val die lig skielik weg (want hier sal ons die Griekse woordjie eerder met land as met aarde moet vertaal).

Israel moet mooi besef wat hier besig is om te gebeur op Golgota! Daar hang 'n Man aan die kruis wat deur hulle as Koning afgewys en verwerp is. God sal hulle egter laat voel Wie dit is wat hulle verwerp het!

Al vanaf die begin van hoofstuk 23 het Lukas ons aandag daarvoor gevra dat die Jode Christus as hul Koning afgewys het. Hul aanklag voor Pilatus is: "Hy sê dat Hy Self die Christus, die Koning is. ". As gevolg van dié aanklag ondervra Pilatus vervolgens vir Christus en Hy besluit om Hom met die ander koning van die Jode te konfronteer: Herodes.

Wanneer Christus eenmaal aan die kruis hang, is die spot van die omstanders ook weer veral gemik op sy bewering dat Hy Israel se Koning is. "As U die Koning van die Jode is, " terg hulle, "verlos Uself. "

Hulle soek Hom nie langer as hul Koning nie. Hy het hulle dermate in hul verwagtings teleurgestel dat hulle Hom nou nou slegs kan hoon oor sy koninklike pretensie.

En Pilatus het van sy kant af 'n eie bydrae aan die spot gegee deur 'n opskrif bokant die kruis aan te bring: "Hier hang die koning van die Jode. "

Jerusalem wou hierdie Koning nie langer hê nie. Vererg het hulle Hom afgewys en aan die kruis laat spyker.

Hulle wou graag weer 'n eie koning hê, 'n Verlosser van God- daarvoor het hulle eeue lank al gewag en gebid. Maar hulle soek nie hierdie Jesus nie. Hulle soek nie 'n lam nie. Hulle begeer vir hulle liewer 'n leeu.

En nou hang Hy daar aan die middelste kruis. Hy bloei, en sweet en hyg na asem in die brandende middagson. Die lydende Kneg van die HERE.

Maar die volk lag en spot met Hom.

Niemand besef wat hulle besig is om te doen nie. Jesus het sopas, toe hulle reeds op pad was na Golgota toe, nog gewaarsku toe Hy vir vroue wat oor Hom misbaar gemaak het, die les gelees het. Jerusalem was besig om die groene hout uit te kap en weg te gooi, die stam, die wortel van hul lewensboom. Sodoende was hulle besig om hulleself van die lewe af te sny!

Dog niemand het regtig geluister nie. Niemand het hom bekeer nie. Die spot het nie verminder nie. Hulle wou net nie luister nie.

Maar die wat nie wil hoor nie, moet voel!

God Self sal hulle nou láát voel.

Hy sal die mag van hierdie gekruisigde Koning aan die lig bring, deur juis die lig weg te neem.

"Dit was omtrent die sesde uur", skryf Lukas. Twaalf uur in die middag. Die son staan op sy hoogste aan die hemel. Jerusalem skitter in die felle lig. Maar dan, skielik.... Dit is asof daar 'n hand voor die son skuif wat haar van die hemel af wegpluk. Van die een oomblik op die ander is die hele land in 'n dik duisternis gehul.

Verbeel jou, in die middel van die dag het dit sommer nag geword. 'n Mens sou jou boeglam skrik.

As dit by ons sou gebeur sou ons natuurlik dadelik die elektriese ligte aanskakel, en die munisipaliteit sou die straatligte laat brand. Maar so maklik was dit nie destyds in Israel nie. Die hele lewe is verlam. Niemand kon meer 'n voet versit nie. Was dit nie angswekkend nie?

Nou moes die Jode hul Bybel laat spreek. Nou moes die waarskuwings van hul profete weer in hul ore klink. Het hulle nie 'n dag soos vandag voorsê nie?

Kom kyk 'n bietje saam met my in Amos se profesieë, broeders en susters. Hoofstuk 8. Amos het reeds 'n dag soos van Golgota aangekondig. Vs 9: "En in dié dag, spreek die Here HERE, laat Ek die son op die middag ondergaan en vir die aarde die lig duister word terwyl dit nog dag is. "

Dié dag sou Israel ondergang inlui. So begin mos die hoofstuk. Israel is soos geplukte somervrugte ryp vir die einde. God gaan die volk nie langer spaar nie maar hulle uit hierdie lewe wegpluk. Die lyke sal oral op die strate lê, die feesgedruis sal verander in rouklag.

God breek die lewe af van 'n volk wat Hom, die Gód van die lewe verwerp het.

Dié profesie kom vandag tot vervulling. Dit gebeur mos: in die middel van die dag gaan die son skuil, en helder oordag word die land in donkerte gehul. Dit is 'n onmiskenbare teken van God se toorn. Dit is die begin van 'n totale lewensafbraak.

Is die lig nie die eerste geskenk waarmee God die wêreld begin leefbaar maak het nie? "Duisternis was op die wêreldvloed... Maar God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. En deur die lig het daar lewe op aarde moontlik geword. "

Vandag neem God egter die lig weer weg. Hy neem die lewe weer weg. Hy tree heeltemal terug tot voor sy eerste skeppingsgeskenk. Hy breek die lewe weer af.

Dit is wat ons mense saam verdien het. Dit is die teregte straf op ons sondes.

Dit is wat ook Israel verdien het.

God het egter hierdie Jesus van Nasaret gegee om daardie vloek van ons af weg te neem. Hy het in die wêreld gekom om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit. Die ou priester Sagaria het dit al voor sy geboorte aangekondig in 'n uitbundige lofsang vir sy bure.

Hierdie Jesus is Self die Lig van die wêreld. Hy het dit 'n paar dae gelede nog in Jerusalem uitgeroep (ons lees dit in Joh 12: 46): "Ek het as 'n lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie. "

Hy was bereid om Self, in ons almal se plek, in die buitenste duisternis weggestoot te word. Hy het in die wêreld gekom om God se toorn oor ons sondes vir ons almal te ondergaan. Dis hoekom Hy hier nou in die duister aan die kruis hang. Hy sal net-nou skree: "My God, my God, waarom het U My verlaat? "

Maar daarom moet nou ook almal, soos Hy gesê het, in Hom glo, in Hóm die lig en die lewe soek.

Want die wat Hom nie as Koning en Lewensredder wil aanvaar nie, die wat nie deur hierdie Jesus die lewenslig uit God se hande wil terug ontvang nie, hét ook geen lewe meer nie. Dié kies vir die dood. Vir dié mens is hierdie dag van Golgota die begin van die einde. Hierdie benouende duisternis oor die land is die voorbode van die totale duisternis en lewensafbraak wat sal kom oor almal wat die Seun van God verwerp. Wie Hom verwerp, verwerp die lewe. Wie Christus dood wens, haal homself die dood op die hals.

Dit, gemeente, was die betekenis van daardie skielike duisternis helder oordag toe Christus aan die kruis gehang en sterf het. Dit was 'n waarskuwende teken vir almal wat dit gewaag het om die spot te drywe met daardie gekruisigde Koning.

Maar dan sal u verstaan dat daardie destydse teken nog steeds van betekenis is. Dit is nog steeds 'n aansporing om die lewenslig in hierdie Jesus te soek, omdat ons anders 'n vreeslike dood te wagte is.

God vra vandag aan ons, op hierdie Goeie Vrydag amper 2000 jaar later, nie dat ons met ontroering terugkyk na 'n tragiese sterwe nie. Hy roep u op om u aan die Koning wat eens op Golgota aan die kruis gehang het maar vandag op die hemeltroon sit, geheel en al gewonne te gee; om u aan Hom uit te lewer; om te besef daar daar vir u geen lewe is buiten Hom nie.

Want die dag kom al hoe nader waarop God opnuut die son van die hemel af wegpluk, en dan regtig tot voor die eerste skeppingsdag terugtree, en hierdie hele wêreld afbreek onder die voete van almal wat sy Seun as Redder verwerp het.

Slegs vir die wat hul lewe in die Lam gesoek het, word dit op daardie dag nie regtig donker nie. Want hulle mag dan saamgaan met die Lam in die nuwe Jerusalem in; in die stad waarvan Openbaring 21 en 22 vertel dat dit die lig van die son en die maan of van 'n lamp nie nodig het nie, omdat die Here God sy inwoners verlig, en.... die Lam in sy Lamp!

2. God het nog 'n tweede opvallende waarskuwingsteken gegee in verband met Christus se dood aan die kruis. Lukas het in sy vertelling daardie tweede teken, ook 'n teken van afbraak, daarom direk aan die eerste vasgeknoop, alhoewel dit in tyd 'n bietjie later gekom het: eers nadat Christus die laaste asem uitgeblaas het.

"En die voorhangsel van die tempel het middeldeur geskeur. "

Dit was die en skrik na die ander op daardie Goeie Vrydag, broeders en susters.

Nouliks het die lig weergekeer en haal die mense verlig, (nou ja, verlig? ) asem, nouliks het ook die priesters in die tempel hul werksaamhede hervat, of kyk, en hoor: die groot gordyn wat die Allerheiligste heeltemal agter in die tempel afgesluit het, skeur met 'n krakende geluid middeldeur.

Niemand het daaraan geraak nie, geen mensehand het die skeur getrek nie, maar God se onsigbare hand wat eers die son sommer weggeneem het, het nou hierdie kosbare gordyn sommer aan flarde geskeur.

U weet natuurlik wat agter daardie gordyn was. Ek dink, die kinders in die kerk weet dit al. God Self het daar agter in die tempel gewoon. Daar het sy troon gestaan. Daar is op die versoendeksel jaarliks versoening bewerk vir al die sondes van volk en priesters. Vandaaruit het daar daarom elke dag genade en vrede van God na die volk op die voorhof, en in die stad en in die land toe gekom.

Maar verstaan u dan nou ook die betekenis van die skielike skeur in die tempelgordyn?

Ja, dit beteken allereers dat die egte versoening nou bewerk is. "Dit is volbring", mog die groot Priester aan die kruis uitroep. Danksy Hom is ons skuld by God vir ewig vereffen en hoef die pad na God se troon nie langer deur 'n swaar gordyn en simboliese engele versper te word nie. Voortaan mag ons saam met Christus vrymoedig na God se genadetroon gaan.

Maar soos Lukas die teken direk aan die eerste teken verbind, beklemtoon hy veral ook die keersy hiervan.

In hierdie tempel sal Ek geen dag langer bly woon nie, sê God as 't ware deur eiehandig die voordeur stukkend te ruk. Ek verlaat hierdie plek. Die priesters kan hul offerdiens maar staak. Hulle kan maar aftree. Ja, julle kan hierdie gebou wat my betref maar tot die grond toe afbreek.

Want Ek is hiér nie meer te vinde nie. Nie in hierdie tempelhuis nie. Voortaan kan julle My nog slegs kry in Hom wat daar aan die kruis hang, net buite die stad.

Niemand kom voortaan na My, die Vader, behalwe deur Hom nie. Die wat die versoening van sy sondes soek, moet niet meer hiér wees nie, maar daar by Hom.

Julle het gemeen julle het Hom nie nodig nie. Julle het Hom as jul Redder afgewys. Julle het Hom uitgelag en gespot met sy opvatting van verlossing.

Maar julle gaan sonder Hom nie regkom nie. Hy is my Kneg, my Priester-koning.

Moet dit nooit meer waag om met Hom te spot nie. Wie Hom verwerp, verwerp My.

Om dit onmiskenbaar vir julle te wys, verwerp Ek nou hierdie tempel.

Israel is daardie skeur hardhandig voor die keuse geplaas, broeders en susters. Die tempel was die fondament onder hul bestaan. Slegs omdat God in genade by hulle wou woon in hierdie huis, was daar vir hulle lewe en toekoms. Neem die tempel weg, en jy neem die toekoms weg.

Maar vandag sê God: Ek is aan hierdie bouwerk nie gebind nie. Hierdie gebou waarborg voortaan niks meer nie. Julle Borg hang daarbuite aan die kruis!

Hierdie tempel is voortaan 'n lewe woning. Maar by daardie gekruisigde Priester-koning is daar 'n volheid van lewe vir almal wat in Hom die versoening met My soek.

Wie egter Hom verwerp, moet ook op hierdie gebou maar nie meer vertrou nie. Wie My Seun vertrap en sy bloed waardeur 'n nuwe en beter verbond ingewy is, verag, vir daardie mens bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar 'n verskriklike verwagting van oordeel. Vir so 'n mens is Ek 'n verterende vuur!

Ek sê weereens, gemeente: ook hierdie teken van die geskeurde tempelgordyn het vandag steeds betekenis.

God is aan ons geboue nie gebind nie. Die lewe is vir ons nie outomaties gewaarborg as ons maar die naam "Kerk", of "Gereformeerd" of selfs "Vrye Gereformeerde Kerk" op ons vergaderplek skrywe nie. Ons sondes is nie vanself versoen as ons maar gereeld saamkom, as daar 'n preek gelewer, gesing en gebid word nie.

Ons vorm eers 'n tempel waar God met sy genade wil woon en ons sondes wil versoen, as Jesus Christus die hoeksteen is. Met ander woorde: as Hy die sentrum van ons bestaan is, die hart van ons eredienste, die middelpunt in die prediking en sakramentsbediening. Christus moet ons hele lewe beheers.

En so gou as wat Christus uit die sentrum weggedruk word, so gou as wat ons onsself, of bepaalde kerklike leiers, of ons politieke ideale, of allerhande afgode in die middelpunt plaas, trek God Hom uit ons lewe terug.

En dan waarborg ons kerklidmaatskap, ons kerkgebou, ons kerkverband, ons kerklike erfenis of wat ook al, niks meer nie. Want as God vir ons in 'n vyand verander omdat ons sy Seun verwerp, kan niks en niemand Hom keer nie.

"Laat ons daarom na Christus toegaan, en by Christus bly, die hoeksteen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat ons ons ook soos lewende stene opbou tot 'n geestelike huis waarin God by ons wil woon.... " (vgl 1 Pet 2: 4, 5)

Dan mag ons vandag al iets ervaar van dit wat die apostel Johannes gesien van die nuwe Jerusalem: 'n aparte tempelgebou en aparte menslike bemiddelaars is nie meer nodig nie. God het alles in ons almal geword. Danksy Christus, die gekrusigde.

Johannes skryf in dieselfde hoofstuk 21 waarin Hy vertel dat die Lam die lamp in die nuwe Jerusalem is: " En 'n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam".

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)