Die Messias leer Jerusalem se dogters om liewer medelyde te hê met hulleself

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Lukas 23
Preek Inhoud: 

PREEK OOR LUKAS 23: 27-31

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps 118: 2, 11
Wetslesing
Ps 118: 14
Skriflesing: Lukas 19: 29-44
Ps 125: 4-7
Gebed
Kollekte
Ps 22: 1, 3, 7
Prediking
Ps 102: 12
Gebed
Ps 21: 6, 9
Seën

Broeders en susters,

Die figuur van die lydende Jesus was nog altyd met mededlyde omring.

Dit was al so dié dag toe Hy Golgota toe gestrompel het.

En dis vandag nog presies dieselfde.

Baie mense word deur medelyde en ontroering aangegryp wanneer die lyding van Jesus met sombere kleure vir hulle geskilder word.

Hulle lees met betraande oë 'n aangrypende gedig oor die Man van Smarte wat aan 'n kruis moes sterwe.

Hulle aanskou 'n skildery van die bebloede Jodekoning met sy doringkroon en word stil en naar daarvan.

En elke jaar wanneer die bekende Mattheüs Passie uitgevoer word en die laaste tone van die indrukwekkende slotkoor "Wir setzen uns mit Tränen nieder" weggesterf het, is daar verskeie mense wat hul sakdoek tevoorskyn moet haal.

Of hulle hoor 'n lydensoordenking van 'n stigtelike dominee wat die lydende Jesus tog so gevoelig kan teken, sodat in hul hart die medelyde opwel.

So, gemeente, het dit eeue lank al gegaan. So sal dit seker ook maar bly.

Maar telkens as daar sulke medelyde met die lydende Messias is, maar ook niks méér nie, klink ook nog steeds die woorde van die teks wat ek vanoggend met u opgeslaan het: "Moenie oor My ween nie, maar ween oor julleself en julle kinders" Dáár is jul trane van pas.

Ons Here Jesus wil nie bejammer word as 'n beklaenswaardige, tragiese figuur nie. Derglike trane moet ons Hom liewer bespaar.

Want die wat maar net medelyde met Hom het, het niks verstaan van sy plaasvervangende lyding as die Christus, die Kneg van God wat die toorn van God oor ons sondes moes dra nie.

Daar pas by hierdie lyding geen medelyde, geen kunssinnige ontroering, geen vrome gevoelighede nie.

Hier pas slegs geloof, beskaming en verwondering, stille eerbied, en veral: oorgawe.

Dié boodskap kom vanoggend uit ons teks na ons toe.

Ons hoor in ons teks:

DIE MESSIAS LEER JERUSALEM SE DOGTERS OM LIEWER MEDELYDE TE HÊ MET HULLESELF

WANT DEUR HOM TE VERWERP HET JERUSALEM

  1. DIE LEWE AFGEWYS
  2. DIE DOOD INGEROEP

1. Wanneer Christus Jerusalem se dogters die laaste keer die les lees, broeders en susters, is Jerusalem besig Hom as sy Koning uit die stad uit te gooi.

"En 'n groot menigte van die volk het Hom gevolg" vertel Lukas.

Dit is rêrig nie die eerste keer dat daar so veel mense agter Jesus aan kom nie.

Gedurende sy hele optrede in Israel is Hy deur 'n menigte mense omring gewees.

Orals het hulle met Hom saamgegaan. As Hy in 'n skip die meer van Galilea oorgesteek het, het die mense heeltemal om die meer heen gestap en Hom anderkant weer gesoek.

Want die volk het groot verwagtings van hierdie Jesus gehad. Sy optrede, die genesings wat Hy verrig het, die feit dat Hy self mense uit die dood in die lewe weergebring het - was dit alles nie veelbelowend nie?

Dus het hulle Hom oral gevolg.

Vandag egter, noudat Jesus tussen 'n klompie Romeinse soldate uit die stad uit strompel, in 'n ou soldatejas gehul en met aaklige kroon van doringtakke op sy kop, terwyl die bloedige strieme van die geselslae op sy rug skrynend seermaak - vandag gaan die menigte nog een keer saam, maar nou om hierdie Man in wie hulle so hewig teleurgesteld is, uit die stad uit te gooi, vir altyd, as een wat verban is, wat gevloek is en vir wie daar in die heilige Godstad dus nie meer plek is nie.

"Neem weg, neem weg", het hulle geskree voor Pilatus, "kruisig Hom!".

Hulle was nou siek en sat vir hierdie Jesus, wat Homself wel as die Messias, die beloofde Verlosser voorgedoen het, maar nie aan die volk se verwagtings wou voldoen nie.

Die senior priesters het hulle inmiddels wel aan die verstand gebring dat hierdie Man nooit die Messias kon wees nie: Hy was veeleer 'n Godslasteraar.

Daarom: neem Hom weg, uit die stad uit, uit die poort uit en spyker Hom aan die vloekhout.

En die mense drom om Hom. Hulle wil nog 'n laaste glimp van Hom sien, noudat Hy Homself voortsleep oor die stowwerige pad. Hulle skree en vloek en uiter teenoor mekaar hardop hul verontwaardiging.

Daar leef egter nie alleen verontwaardiging en haat onder die menigte wat Jesus op sy pad na die kruis begelei nie.

Daar gaan ook 'n klompie vroue saam wat nie krys en skel nie, maar nie skaam is om te huis oor die tragiek van hierdie jonge lewe.

Daar is in Jerusalem ook gevoelige vroue wat hulle nie sommer laat saamsleep deur die publieke opinie nie, maar met 'n opregte medelyde vervul word by die sien van hierdie aangrypende tafereel dat so 'n jong man nog, in die krag van sy lewe, as 'n menslike wrak uit die stad uitgedrywe word, vol bloed en so swak dat iemand wat juis deur die poort in die stad wou ingaan, deur die soldate gedwing is om die swaar kruispaal van sy skouers af te neem.

Hulle kan die nie koel en onbewoë aansien nie. Dit gryp hulle aan, sodanig dat hulle luid jammerend in die optog saamgaan terwyl hulle hulself op die bors slaan.

En u moet maar reken dat dit nie 'n sagte, onderdrukte gesnik was nie, maar soos regte Joodse vroue maak: hulle het luidkeels misbaar gemaak.

Dáárop reageer Christus.

Hy het baie geswyg en verdra tydens die moeilike gang na die kruis.

Vanaf Pilatus het Hy sy mond nie meer oopgemaak nie. Want Hy wou wees soos 'n lam wat na die slagplek gelei word en soos 'n skaap wat stom is voor sy skeerders. Hy is uitgeskel, maar Hy het nie terug uitgeskel nie. Hulle het Hom seergemaak, maar Hy het nie gedreig nie, maar dit oorgegee aan Hom wat regverdig oordeel (1 Pet 2: 23).

Maar noudat Hy hierdie huilende en weeklaende vrou agter Hom hoor, verbreek hy die stilswye. En as God se hoogste Profeet en Leraar sal Hy in 'n laaste publieke preek hierdie misbaar makende vrou op hulle plek.

Hier blyk weereens die krag van ons Verlosser, gemeente. Selfs tydens sy eie swaar lyde en vernedering het Christus Hom nog telkens opgerig om aan Israel die erns van die situasie voor te hou. Hy kon nie swyg toe hulle trane oor Hom gehuil het wat nie gepas was nie. Hy sou aanhou waarsku tot die bitter einde.

Moeisaam rig Hy Hom op, draai Hom om na daardie rouklaende vroue en skerp klink dit uit sy mond:

"Moenie oor My huis nie, dogters van Jerusalem. "

Christus noem hierdie vroue op hul kerklike naam. Want hulle moet besef wie hulle is.

Hulle gaan hier nie as buitestaanders saam, as meelewende vroue nie. Nee, hulle is heeltemal betrokke. Hulle is "dogters van Jerusalem" wat die verantwoordelikheid vir dit wat nou besig is om te gebeur saamdra.

Die koningstad werp sy Koning uit.

Die kerkstad werp sy Redder uit.

Die Godstad werp sy Verlosser uit.

Daarom: as hierdie vroue voel daar moet gehuil word vandag, is hulle reg.

Daar mág gehuil word vandag. Daar mag 'n rouklag aangehef word.

Egter nie oor Hom wat nou uit die stad uitgedryf word nie.

"Ween oor julleself en julle kinders", sê Jesus.

Hierdie Jerusalemse vroue moet maar hulleself bejammer. En hul kinders.

Dit is meer van pas.

Geen trane oor Jesus nie, maar trane oor Jerusalem.

Ek vermoed, broeders en susters, dat hierdie vroue die vreemde woord van ons Heiland nie verstaan het nie. Dit het waarskynlik snaaks op hul ore geval.

Hoe kan hierdie Man nog so praat?

Christus het egter self maar alte goed die gewig van hierdie woord wat Hy moes spreek, gevoel. Hy het geweet waarom nie hy nie, maar Jerusalem vandag die meeste beklaenswaardig was.

Lukas het ons in sy Evangeliebeskrywing al eerder vertel dat Jesus Self gehuil het oor Jerusalem. Ons het dit in hoofstuk 19 gelees vanoggend.

Alles het so mooi begin daardie dag.

Op die vul van 'n donkie het Jesus Jerusalem toe gery, omring deur 'n juigende menigte. Die dissipels het hul Koning tot sy residensie sien nader en hul verwagtings het hoog opgevlam.

"Geseend is hy wat kom in die naam van die HERE", het hul gesing met die woorde van Ps 118. Die groot Seun van Dawid sou nou seker maar sy troon bestyg en die vergane ryk van sy voorvader weer oprig.

Hulle het hulself uit-asem gesing.

Maar onderwyl die mense so uitbundig gesing en gejuig het, het die Koning Self skielik begin huil. Toe Hy oor die skuinste van die Olyfberg gekom het en die stad voor Hom in die sonlig sien skitter het, het die trane skielik oor sy wange begin stroom.

Christus wis naamlik wat hierdie stad te wagte was: daar sou nie een klip op die ander gelaat word nie.

En dit alles omdat Jerusalem die gunstige tyd toe God na haar omgesien het, nie opgemerk het nie. Jerusalem wou nie wat vir sy vrede nodig was nie. Jerusalem het nie geweet Wie dit was wat tans sy poorte genader het nie.

Jerusalem mog 'n stad vol beloftes wees.

God het hierdie stad wat in die oë van die volkere rondom so veragtlik was, gekies as die middelpunt van die hele wêreld om vanhieruit die heil vir alle volkere te berei.

Dat daarvoor egter 'n Priester-koning nodig was, 'n lydende Kneg van God wat die sondes by God moes versoen - dit wou hierdie Jerusalem nie insien nie, alhoewel hulle dit uit al die profesieë van die Ou Testament kon weet.

God het aan Jerusalem die lewe kom aanbied in sy Seun wat in almal se plek wou sterwe. Maar Jerusalem sou Hom afwys. So 'n Redder was nie gewens nie.

Dis dié dat Jesus moes huil oor hierdie mooie stad wat die lewe sou afwys.

Hy kon sy trane nie bedwing toe Hy die Godstad voor hom sien oprys het, nou nog in al sy skittering, maar binnekort omring deur vyandelike leërs, oopgebreek, die bevolking uitgemoor, en daarna tot die grond toe afgebreek.

As daarom vandag die vroue van Jerusalem meen dat hulle oor Hóm moet huil, sal Hy hulle 'n ander ding vertel: hulle moet liewer kla en huil oor hulleself en oor hul kinders! Want hulle is op hierdie einste oomblik besig om hul eie ondergang te bewerk.

Hulle jaag hul Koning uit die stad uit.

Daarmee jaag hulle egter die lewe uit hul stad uit.

In Hóm is die lewe wat God vir sy volk wil skenk. Hy is die brood van die lewe, die water van die lewe, Hy is die weg, die waarheid en die lewe. Die wat in Hom glo, ontvang die ewige lewe.

Dog Jerusalem wys Hom af.

Die senior priesters, die oudstes, die volk. Maar ewe goed hierdie weeklaende vroue.

Want al kry hulle Hom ook hoe jammer en stroom hul trane ryklik - daar is geen gelóóf by hierdie dogters van Jerusalem nie.

Moeders van die moederstad mag hulle wees. Maar dit dring klaarblyklik nie tot hulle deur dat hulle besig is om 'n steriele, onvrugbare stad van die moederstad te maak nie.

"Want as hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die droë gebeur!", waarsku Christus hierdie vrou.

Hy is die lewensboom, vol lewenssappe, die wortel, die stam waardeur almal wat in hulleself dooie takke is, weer vir God tot bloei kan kom.

As hulle Hom egter as onbruikbaar en waardeloos weggooi, watter toekoms kan daar dan nog wees vir die droë takke? Hulle sal tot brandhout bestem word!

Dit is die waarskuwing in die laaste preek wat Christus voor sy kruisdood nog gehou het, broeders en susters.

Bespaar My u innige deelneming asseblief, sê Hy hier.

Staak u misbaar oor My asof Ek 'n tragiese en onbegrepe mens sou wees. Bedwing u ontroering en besef Wie Ek is.

Ek wil hê U moet in My glo en My dankbaar as U Redder aanvaar.

Nie as 'n lydende mens moet u My bejammer nie, maar as die Seun van die lewende God moet u My vereer.

U moet uself geheel en al aan My uitlewer, die lewe buite uself in My soek.

Want as U My nie só ken en liefhet nie, ken u die lewe nie. En dan ís daar vir u ook geen lewe nie!

Dan loop u die kans om as brandhout in die vuur gegooi te word.

Die wat die groene hout nie eer nie, word naamlik self as brandhout verteer!

2. Ons teks is 'n ontsaglik ernstige teks, gemeente. Veral as ons vervolgens lees hoedat Christus vir Jerusalem se dogters die gevolge van hul verwerping voorhou.

As hulle nou die lewe afwys, roep hulle die dood in.

"Daar kom dae", sê Christus, "waarin hulle sal sê: Gelukkig is die onvrugbares en die moederskote wat nie gebaar en die borste wat nie gesoog het nie. "

Daardie dae sal kom.

Noudat die Lewensvors uit die poort uitgebring word, staan die vors van die dood en die doderyk al by die poort en wag om in die stad te mag inkom.

As die lewe uit die stad weggeja word, sal die dood sy plek inneem.

Dit word iets verskrikkeliks.

Dan kan hierdie vroue oor hulself en oor hul kinders 'n rouklag aanhef.

Hulle het so pas voor Pilatus geroep: "Laat sy bloed maar kom oor ons en ons kinders!" Wel, God sal Jesus se bloed wreek aan hierdie menigte en hul kinders.

Die dag sal kom dat hulle wat nie kinders het nie gelukgewens kan word.

Is dit nie verstommend nie, broeders en susters?

Want kyk 'n oomblik met my saam in die profesieë van Hosea. Christus het dit duidelik in sy gedagte op hierdie oomblik. Kyk maar 10: 8 waar Hosea al die angskreet vir God se oordeel aankondig, wat Christus in ons teks voorsê: "Hulle sal tot die berge sê: Bedek ons! en tot die heuwels: Val op ons!"

Hosea het een hoofstuk eerder, in 9: 11 e. v. ook gepraat van kinderlose mense: "Geen geboorte, geen moederskap, geen ontvangenis meer. Ja, al sou hulle kinders grootmaak, Ek maak hulle kinderloos. "

Hier by Hosea klink egter nog die "wee!" oor die kinderloosheid.

Dit is die straf van die lewende God oor mense wat hul rug op Hom draai: 'n kinderlose moederskoot en uitgedroogde borste (Hos 9: 14). As sy volk die lewe by Hom verwerp, neem God ook die lewe weg.

Maar noudat Israel vandag, op die dag van Christus se kruisiging, selfs Hom afwys wat vir God se volk die lewe kom terugverdien het, word God se toorn nog so veel swaarder dat 'n mens nie eers meer 'n "wee!" kan uitspreek oor die kinderloosheid nie.

Daar is nou eerder rede om die onvrugbare en kinderlose gelukkig te prys!

God se toorn sal sodanig losbrand dat 'n mens bly kan wees as jy in daardie dae geen kinders het nie. Dan bly die ellende en verdriet oor dit wat jou kinders aangedoen word, jou darem bespaar.

Want die lewe sal so vreeslik word dat die mense die dood sal soek om aan die verskrikking te ontkom.

Hulle begeer om onder die berge en heuwels genadiglik die dood te vind.

Dit is die gevolge as die Seun van God as Verlosser verwerp word. Die lewe word 'n hel.

Jerusalem se dogters het dit al gou ervaar dat Christus nie 'n woord te veel gesê het nie, broeders en susters.

In die jaar 70 het sy woorde al bewaarheid begin word.

Romeinse troepe het die stad omsingel, ingeneem en vervolgens vreeslik te kere gegaan, waarna die stad tot die grond toe afgebreek is.

Jerusalem wou nie insien wat vir sy vrede nodig was nie. Jerusalem het nie opgemerk dat God vol ontferming in sy Eniggebore Seun na die Godstad omgesien het nie. Jerusalem het hierdie Seun verwerp.

En toe het God verwerp. So volkome, dat mense sonder kinders gelukgewens kon word.

Jerusalem se verwoesting was egter nog slegs die begin, gemeente.

Let naamlik op die woordjie "begin" in ons teks: vs 30.

Toe het hulle vir die berge begin sê: Val op ons!

Openbaring 6 vertel ons van die eindpunt, die dag waarop die lam in die hemel die sesde seël van die boekrol verbreek en die groot dag van die toorn van God en van die Lam aanbreek.

Op daardie dag breek die HERE die hele skepping weer onder die voete van die mense weg!

Die lewe word 'n onmoontlikheid, en dan sal daar weer die angskreet tot die berge en die rotse klink (Op 6: 16, 17): "Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit en vir die toorn van die Lam. Want die groot dag van sy toorn het gekom; en wie kan bestaan? ".

Toe die Lam, God se Seun Jesus Christus, uit Jerusalem se poort uit verdrywe is, het Hy dus Self hierdie groot dag van sy toorn al aangekondig, broeders en susters.

So werk dit in die verbond met die HERE: daar waar Hy een keer gewoon het, raak jy nooit meer ontslae van hom nie. En as jy Hom nie aangeneem het toe Hy jou met sy seën kom soek het nie, besoek Hy jou eendag met sy vreeslike toorn.

Dit is die waarskuwing vir die wêreld wat Christus verwerp. Wat nie eers met medelyde en ontroering vervul raak oor 'n lydende Jesus nie, maar slegs met spot en veragting oor Hom praat. Eendag sal God sy spotlag oor hulle lag.

Maar hierdie waarskuwing betref nog baie meer die kérk wat Christus as Redder verwerp. Want die Lam in die hemel kom dit wel agter as sy lyde by ons hier op aarde slegs 'n gevoelige snaar aanraak, maar eintlik ook nie veel meer nie.

Hy weet dit as ons nie daagliks vol verwondering lééf uit sy lyde nie.

Hy sien dit as u in die praktyk van elke dag maak asof u ook sonder Hom wel kan regkom.

Hy soek nie allereers ontroerende gesange oor Hom, of fynsinnige gedigte oor sy lyding, of 'n aangrypende skildery van Hom aan die kruis nie.

Hy soek in die eerste plek die oorgawe aan hom van u hele hart en lewe.

Hy eis dat u die lewe totaal en al buite uself, in Hom alleen soek.

En as u dit nie doen nie, as Hy by u slegs 'n gevoelige snaar aanraak, maar nie u hart in beslag neem nie - dan sal u eendag wens om onder die berge en rotse bedolwe te word.

Ek weet, dit is vanoggend nie 'n gebruiklike boodskap in die lydenstyd nie.

Maar wel 'n noodsaaklike boodskap.

Want aan die kruis het God gewys dat dit in sy verbond met ons "Alles of niks" is.

Alles- in Christus.

En anders- niks as 'n vreeslike oordeel.

Vreeslik sal die dag van sy toorn wees. Want wie kan bestaan?

Dan kan slegs hulle bestaan wat die Lam wou volg, waar Hy ook heen gaan. Al is hulle terwille van Hom nes Hom ook uit die gemeenskap van die mens uitgestoot.

Die Lam sal hulle wei en hulle na lewende waterfonteine lei; en na die boom van die lewe in die nuwe Jerusalem.

In daardie nuwe Jerusalem - daar sal die troon staan van Hom wat uit die ou Jerusalem uitgewerp is.

En daar, by Hom, sal die lewe wees.

Daar sal alle trane van die oë afgevee word!

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)