Jesus plaas Sy aardse ouers voor die raaisel dat hulle Hom kwytraak

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Lukas 2
Preek Inhoud: 

PREEK OOR LUKAS 2: 40-52

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps 84: 1, 2, 5
Wetslesing
Ps 84: 6
L. Lukas 2: 25-35 & 39-52
Gebed
Kollekte
Ps 27: 2, 5
Prediking
Ps 40: 4
Gebed
Ps 43: 3, 4
Seën

Broeders en susters,

"Ook deur jou eie siel sal 'n swaard gaan" het die ou profeet Simeon op die tempelplein vir Maria gesê.

Dit was toe hy Jesus se moeder daarop moes voorberei dat haar Seun, wat hy vir 'n oomblik in sy arms mog hou, vir baie mense in Israel 'n struikelblok sou word: "'n val en 'n opstanding". Sy optrede sou onverwags en breemd wees en almal tot 'n keuse dwing, "sodat die gedagtes uit baie harte openbaar sou word. "

In daardie verband het die ou profeet Maria toegevoeg, sommer midde-in die sin wat hy besig was om te sê: "ook deur jou eie siel sal 'n swaard gaan. "

Waaraan het Simeon gedink by daardie woorde?

Wat het hy bedoel?

Dat Maria se moederhart seer sou kry vanweë die teëstand en veragting wat haar Seun later sou ondervind?

Het Simeon in gedagte Maria al aan die voet van Jesus se kruis sien staan?

Ek glo nie so nie.

Simeon het die taal van die profeet Jesaja gepraat. Hy het die "vertroosting" van Israel verwag, vertel Lukas - die vertroosting waarvan veral Jesaja so uitbundig geprofeteer het. In sy danklied aan die HERE se adres (die verse 29- 32) sluit Simeon hom ook direk aan by woorde vanm Jesaja: hoofstuk 49.

En kyk 'n bietjie met my in daardie hoofstuk, gemeente: in vs 6 kry u die woorde wat Simeon in sy lofsang aangehaal het.

Maar hoe begin Jesaja 49? Die Kneg van die HERE self, die beloofde Verlosser, sê daar: "Die HERE het My geroep van die moederskoot af, van my geboorte af het Hy My naam genoem. En Hy het my mond gemaak soos 'n skerp swaard. "

Aan daardie swaard moes Simeon dink, toe hy moeder Maria voorsê het dat daar ook deur haar eie siel 'n swaard sou gaan.

God het die mónd van haar Seun tot 'n skerp swaard gemaak om tot in die diepste gedagtes en oorlegginge van die harte deur te dring en dit openbaar te maak.

Christus sou met die mond die mense ontmasker en tot 'n keuse dwing: vír of téén Hom. Met sy mond sou Hy aan die lig bring wat leef in die hart: goeie of slegte gedagtes.

En ook sy eie moeder sou Hy daarby nie spaar nie. Ook haar sou Hy meer as een keer aanspreek op so 'n wyse dat sy woorde haar diep sou raak en dwing om in haar hart nader te oorweeg.

Nou ja, broeders en susters, daarvan gee Lukas direk in die vervolg van hoofstuk 2 al die eerste voorbeeld: die geskiedenis van ons teks.

As 'n kind van nog maar 12 jaar oud stel Jesus Maria en Josef 'n vraag waarmee hulle geen raad geweet het nie en waarmee Hy hulle nog 'n hele ruk laat worstel het.

Kom ek vat die inhoud van ons teksverse so vir u saam:

JESUS PLAAS SY AARDSE OUERS VOOR DIE RAAISEL DAT HULLE HOM KWYTRAAK

Lukas vertel ons hierdie bekende geskiedenis van die twaalfjarige Jesus in die tempel as 'n opvallende uitsondering in Jesus se origens onopvallende jeug, gemeente.

Die verhaal word omraam deur die mededeling dat Jesus as kind soos alle kinders gegroei het, Hy het groter geword, maar daarby ook toegeneem het in wysheid omdat God se Gees op Hom was. Eers vs 40 voor ons teksverhaal, en dan weereens vs 52 aan die einde daarvan.

Dis al wat Lukas oor Jesus se jeug kon vertel. In twee verse is alles gesê.

Vir sy eerste leser, die hooggeplaaste Romein Theofilus, was so 'n onopvallende jeug van Iemand by Wie se koms op aarde sulke verrassende stemme, sowel van engele as van mense, geklink het, ongetwyfeld opmerklik. In die Griekse en Romeinse wêreld was dit die gewoonte om by groot figure, helde of halfgode, indrukwekkende verhale oor die kinderleeftyd te vertel. 'n Groot man, en veral 'n goddelike Figuur het tog seker van kleinsaf die aandag op hom gevestig?

Wat dit betref moet Lukas sy lesers teleurstel. Hy vertel nie sulke verhale nie. Want daar wás nie sulke verhale nie.

Jesus het as 'n gewone kind in die loop van die jare liggaamlik en verstandelik gegroei, en die enigste ding waardeur Hy Hom van ander kinders onderskei het was sy uitsonderlike wysheid.

En u weet mos, broeders en susters, en julle ook jongmense: wysheid is in die Bybel meer as dat jy 'n goeie verstand het. "Die vrees van die HERE, dit is die begin van die wysheid. " Die Here Jesus het die aandag op Hom gevestig deur 'n toenemende liefde vir en gehoorsaamheid aan sy hemelse Vader in die gewone dinge van elke dag.

Maar dit is ook al wat daar van sy jeugjare vertel kan word.

Hy was 'n baie aangename, gelykmatige en veral: godvresende kind.

Maar juis daarom vorm die gebeurtenis van ons teksverhaal so 'n opvallende uitsondering in daardie patroon.

Die verwarring van Jesus se ouers bewys dit wel.

As wetsgetroue Israeliete het Josef en Maria elke jaar Jerusalem toe gegaan om daar die Pasga te vier. Saam met God se volk het hulle daar Israel se uittog uit Egipte gedenk en 'n lam geslag.

Daar is verklaarders wat uit vs 42 aflei dat die Here Jesus die eerste keer mog saamgaan toe Hy twaalf jaar geword het, maar dis nie wat Lukas sê nie. Dit was by die Israeliete gebruiklik om hul kinders al op 'n baie jonger leeftyd saam te neem. Hele gesinne het opgetrek na Sion. En ons mag aanvaar dat die Here Jesus ook al heelwat kere saamgegaan het.

Lukas vertel in ons teks maar net dat daar eenkeer tydens hierdie jaarlikse reis, toe die Here Jesus twaalf jaar oud was, 'n eienaardige insident voorgeval het.

Ja, soos Lukas sy sin opgebou het, word ons aandag onweerstaanbaar na daardie insident toe getrek. In ons vertaling is Lukas se een lang sin in 'n paar selfstandige sinnetjies opgedeel, maar as ons letterlik probeer vertaal moet ons so lees (die Ou Hollandse Statenvertaling doen dit ook so): "En toe Hy twaalf jaar oud geword het, en hulle na Jerusalem opgegaan het volgens die gebruik van die fees, en die dae voleindig het, toe hulle teruggekeer het, het die Kind Jesus in Jerusalem gebly; en Josef en sy moeder het dit nie geweet nie. "

Skielik vertoon Jesus 'n afwykende gedragspatroon. Hy laat sy ouers rustig terugreis na Nasaret toe, maar bly self, sonder om hulle te laat weet, in Jerusalem agter.

Hoekom?

Baie uitleggers verbind aan Lukas se mededeling dat Jesus 12 jaar oud geword het, dat Hy dus, volgens die Joodse tradisie "Bar Mitswa" geword het. Daardie Hebreeuwe uitdrukking beteken: "Seun van die wet". U kan dit op 'n maniet vergelyk met ons gebruik dat seuns en dogters tussen hul 18de en 20ste lewensjaar in die openbaar hul geloof bely.

Joodse seuns het op 'n bepaalde leeftyd kerklik meerderjarig geword. Hul pa was op daardie dag ontslae van die verantwoordelikheid van die opvoeding van sy seun in die diens van die HERE en die seun het self 'n mondige lid van God se verbondsvolk geword. Van nou af kon ook hy in die Sinagoge vorentoe geroep word om 'n gedeelte uit die wetsrolle voor te lees. En hy was nou self onderworpe aan al die verpligtings van die wet.

Volgens baie uitleggers het ook Jesus onlangs "Bar Mitswa" geword toe Hy daardie keer nie saam met sy ouers na Nasaret teruggereis het nie, maar in Jerusalem agtergebly het.

En waarom het Hy agtergebly?

Daarvoor het die uitleggers vervolgens hierdie verklaring: Josef en Maria het nie die volle feesweek in die heilige stad deurgebring nie, maar al na twee of drie dae die terugreis aanvaar. Daar het naamlik 'n slim bepaling van die Rabbyne bestaan dat 'n mens God se voorskrif om 'n week lank die Pasgafees te vier, so mog interpreteer dat dit jy tenminste een nag in die stad moes oorslaap. Daarna was jy nie verplig om langer te bly nie.

En volgens heelwat uitleggers het Josef en Maria daardie menslike bepaling van die Rabbyne bo die voorskrif van God Self geplaas en dus al na 'n paar dae die heilige stad weer verlaat. Dit sou Lukas bedoel, as hy in vs 42 praat van "volgens die gebruik van die fees": dit het gebruik geword om nie 'n volle week te bly nie.

Maar Jesus, wat as "Bar Mitswa", "Seun van die Wet" meer aan die wet van sy Vader as aan menselike gebruike en bepalings gehoorsaam wou wees, het besluit om die volle feesweek in die stad en by die tempel te bly.

Hierdie verklaring klink wel mooi, maar is darem onhoudbaar, broeders en susters.

In die eerste plek kan 'n mens al vra, hoekom Jesus dan skelm in Jerusalem agtergebly het en nie openlik sy ouers oor hul verkeerde besluit om al weer na 'n paar dae terug te reis, aangespreek het nie.

In die tweede plek is daardie verklaring taalkundig ook nie houdbaar nie. Want moet maar kyk in u Bybel: in vs 42 word die woorde "volgens die gebruik van die fees" nie verbind aan Josef en Maria se vertrek uit Jerusalem nie, maar aan hul opgaan. Soos gebruikelik het hulle weer vir die Pasgaviering Jerusalem toe gegaan.

Maar boonop, in die derde plek, wás Jesus by hierdie Pasga ook nog nie 'n "Bar Mitswa" nie. Want dit is 'n vasstaande gegewe dat die seuns in Israel nie op hul 12de nie, maar eers op hul 13de verjaarsdag "Seun van die wet" geword het.

Dit is juis opvallend dat Lukas in hierdie verhaal Jesus nie as 'n seun wat begin volwasse word, skilder nie, maar juis as nog 'n kind! Kyk maar vs 42: daar staan baie nadruklik: ".... toe het die Kind Jesus in Jerusalem agtergebly. "

Ook die ongeruste manier waarop Josef en Maria na Hom begin soek, onderstreep dat Jesus nog 'n blote Kind was.

Daarop laat Lukas alle nadruk val in sy vertelling: Jesus raak as Kind vermis en sy ouers soek Hom 'n hele ruk tevergeefs.

Het u gesien hoe dikwels Lukas die woordjie "soek" gebruik?

Josef en Maria begin allereers onder die familie en die bekendes soek. Dit was gebruiklik om in groepies saam te reis en normaal dat die kinders mekaar opgesoek het. En wie sou nou dink dat so 'n gehoorsame en geseglike kind soos Jesus nie sou saamgaam toe die groep van Galilea afgespreek het om op 'n bepaalde tydstip die terugreis te aanvaar?

Later sien ons Josef en Maria in Jerusalem soek.

En as hulle hulk vermiste Kind uiteindelik in die tempelgeboue vind, kla,

Maria: "Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Jou vader en ek het jou met angs gesoek. " Waarop Jesus verbaas reageer: "Waarom het u My gesoek? "

Maar hoekom het Jesus dan in Jerusalem vermis geraak? Hoekom het Hy sommer, sonder om hulle te waarsku, in die stad agtergebly terwyl sy ouers al op pad was terug huis toe?

Was dit omdat Hy so in die ban van die heilige stad en die huis van sy vadergeraak het, dat Hy alle besef van tyd verloor het? Het die diens vir sy hemelse Vader sy oë so in beslag geneem dat Hy sy aardse vader en moeder uit die oog verloor het?

Uit Jesus reaksie op Maria's verwytende vraag, blyk dit maar alte duidelik dat Jesus opsetlik vir sy ouers in Jerusalem vermis geraak het. Dit was nie die gevolg van onnadenkendheid nie. Jesus was regtig nie so 'n dromerige seuntjie wat alle gevoel vir tyd uit die oog verloor het nie.

Trouens soiets kan wel vir 'n paar uur gebeur, maar nie vir 'n paar dae nie. 'n Ander kind sou lankal self ook sy ouers gemis en heeltemal in paniek geraak het.

Nee, Jesus het sy aardse ouders baie bewus voor 'n raaisel geplaas. Hy wou dit so hê dat hulle Hom hier in Jerusalem moes kwytraak!

En Hy maak daardie raaisel nog groter deur op Maria se bedekte verwyt verbaas te reageer: "Maar hoekom het julle My gesoek? "

U moet daardie woorde mooi lees, broeders en susters. Ons hoor hierin meestal die verbasing van Jesus dat Josef en Maria tog kon gewéét het waar hulle hul kind kon kry. Waar anders as in die tempel?

Jesus vra egter nie: "Hoekom kon u My nie vínd nie? ", maar "Hoekom het julle My gesoék? " Dit was glad nie nodig gewees om spesiaal na Jerusalem terug te keer nie. Josef en Maria kon gerus verder huis toe gereis en Jesus in Jerusalem laat bly het. Hulle hoef mos nie verbaas te wees as hulle Hom kwytraak nie!

Dáárdie opmerking van hul Seun het Josef en Maria nie verstaan nie, vertel Lukas (vs 50). Dit was vir hulle met reg 'n raaisel.

Hier het die swaard van Jesus se mond deur Maria se siel gegaan!

Ja, hulle kon wel verstaan dat hierdie besondere Kind in 'n hoë mate in beslag geneem is deur die tempel. Hulle het geweet dat hierdie Kind bestem was om Homself volledig aan die HERE se diens te wy. Hulle het self Hom al na die tempel toe gebring toe Hy nog 'n baba was. Vir sy heiliging as eersgebore seun was hulle nie verplig om tempel toe te gaan nie. Daardie seremonieel is meestal by die huis voltrek. Maar Josef en Maria wou uit eerbied hierdie baie spesiale Kind waaroor die engel Gabriël sulke wonderlike dinge gesê het, in die HERE se eie huis aan Hom aanbied.

Oor hierdie rede het hulle tog ook elke jaar Hom saamgeneem na die Pasgaviering in Jerusalem?

Hulle kan heeltemal verstaan dat sy hart na hierdie stad, en spesiaal na die HERE se huis uitgaan; en dat Hy daarom nog graag 'n paar dae langer in Jerusalem wou agterbly. Maar hoekom het Hy dit nie gewoon vir hulle gesê nie? !

Hoekom het hierdie anders altyd so bedagsame Kind Homself nou onbekommerd láát kwytraak? Hoekom het Hy hulle sommer uit sy lewe láát vertrek?

Jesus het sy aardse ouers voor 'n raaisel geplaas, broeders en susters. Want Hy het tog ook weer gehoorsaam met hulle saam gegaan na Nasaret toe en was nog vir jare in hul huis aan hulle onderdanig.

Hy het in Jerusalem nie die band aan hulle finaal deurgesny nie. Hy het nie in opstand gekom en geen afskeid van hulle geneem nie.

Met hierdie uitsonderike insident het Jesus as Kind sy ouers 'n raaisel opgegee vir láter: hulle moet leer dat hulle as aardse ouers Hom sal kwytraak vanweë sy diens aan sy hemelse Vader!

Hulle het Hom mos nie sommer kwytgeraak nie. Hy het Hom nie 'n paar dae skuilgehou in die stegies van die stad nie. Terwyl Josef en Maria al op pad was na hul huis in Nasaret toe, was Jesus in die huis van sy Vader in die hemel. Daar kry hulle hom na 'n paar dae se soeke, aan die voete van die wetsleraars, vol vrae oor die diens van die HERE en die Wet van die HERE, sodat almal verbaas was oor sy insig en sy antwoorde op die vrae wat aan Hom gevra is.

In alles soos Hy daar sit en gesels, is dit aan Hom te sien: Hy voel tuis hier in die huis van sy Vader.

"Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie? ", vra Jesus dan ook verbaas.

Terloops: in die Griekse grondteks staan daar in vs 49 nie die woorde "die dinge" nie. Dit het die vertalers ter verduideliking toegevoeg. Maar dit is beter, gesien die Griekse taalgebruik, om te lees: "die woning, die huis".

Hiér moét ek wees, sê Jesus. Dis nie net dat Hy hier graag wóu wees nie. Maar hier lê sy bestemming: hiervoor is Hy in Josef en Maria se huis gebore.

En hieraan gaan hulle Hom ook kwytraak!

Want dis nie so moeilik om te raai waaroor Jesus daardie dae met die wetgeleerdes gesels het nie. Lukas vertel dit nie, daarop lê in hierdie verhaal nie die grootste nadruk nie. Maar ons mag maar aanvaar dat in elk geval ook oor die Pasgafees gepraat is. Dus: oor die verlossing van God se volk uit die slawehuis. Maar dan natuurlik ook oor die nuwe slawerny wat daarna as gevolg van die sondes van die volk, gekom het. En oor 'n groter, beter uitredding wat vir God se volk bewerk moes word.

Jesus se gedagtes was ongetwyfeld besig met die Pasgalám wat in die plek van die hele volk moes sterwe, sodat die volk kon lewe. En oor die beter offerlam wat God berei het.

Hy het toe al geweet: Ek moet eendag sê: "U het geen behae in slagoffer en spysoffer nie, brandoffer en sondoffer het U nie geëis nie. Kyk, Ek kom. In die boekrol is dit My voorgeskrywe. Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen en u wet is binne-in my ingewande. "

Daarom wou Hy nou al wel as 't ware deur die boekrolle kruip met die leraars in die tempel om die pad te leer loop wat Hom daarin voorgeskrywe was - 'n pad wat Hom, m ewat sy aardse ouers betref, al hoe verder van huis sou bring; 'n pad waarop sy aardse ouers Hom heeltemal sou kwytraak totaan die kruis en tot in die dood.

Was dit 'n wonderlike ervaring vir Jesus, daar in die tempel, broeders en susters? So wonderlik dat Jesus sy pa en ma vergeet het?

Ek dink, dit was ook baie beangstigend vir Hom! Hy het as 12-jarige Kind al bewus die eerste duidelike stappe gesit op die weg waarop Hy God en die mense tot in die hel sou kwytraak.

Dié bewuste eerste stappe vertel Lukas as die enigste kinderverhaal van ons Heiland. Hy vertel geen heldeverhaal nie. Hy weet geen stories wat die mense verstom laat staan nie. Hy weet alleen dat die groot Koning wat deur God uit die hemel gegee is om vrede op aarde te bring, van kleinsaf allereers Priester wou word in die tempel van sy God en Homself wou offer vir die sondes van sy volk.

So moes sy ouders hier op aarde Hom al in sy kinderjare leer aanvaar: as die kind wat hulle sou kwytraak in die huis van sy Vader in die hemel.

Want slegs dan sou hulle Hom eendag in sy glorie weervind.

So, gemeente, moet ook ons Hom vandag ken en aanvaar: as die Kind wat die rus en vrede in die huis van sy aardse ouers wou prysgee om aan al God se kinders die rus en vrede in die huis van hul hemelse Vader weer te gee.

So moet u in Hom glo en Hom liefhê.

Daarom sny die swaard van sy mond vanoggend ook deur u siel om bloot te lê wat daar leef in u hart: voel u uself soos 'n vermiste Kind en wil u u deur hierdie Seun laat weerbring? Of het u uself as dermate tuis gemaak in die sondige lewe sonder God dat u liewer met rus gelaat wil word?

Christus laat u vandag nie meer nadink oor raaisels nie, maar kom voor u staan met sy baie duidelike woord. En nou is daar maar twee moonltikhede: of u val u oor Hom te pletter, of u staan met Hom op in 'n nuwe lewe vir God.

Daar is geen tussenweg nie.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)