Die klaagsang word 'n loflied

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Lukas 2
Preek Inhoud: 

LITURGIE:
L. Jesaja 62 & Jesaja 54: 1-8
Ps. 80: 3, 4
Ps. 80: 10
Ps. 30: 4, 7, 8
Ps. 130: 3, 4
Ps. 69: 12, 13, 14

Broeders en susters,

Ons teks wys ons twee singende mense. Twee mense wat 'n lied tot lof van die HERE staan en sing.

Twee mense wie se lewenskrag reeds gebreek is: die een, Simeon, weet dat hierdie lofsang tegelyk sy swanesang sal wees. Hy weet dat die HERE hom nou enige tyd uit hierdie lewe kan wegneem.

Die ander, die profetes Anna, sal ook nie meer lank leef nie. Sy is reeds baie oud en afgeleef.

Nogtans is die lied wat hulle saam sing, 'n lewenslied. Hulle sing saam van die nuwe lewe wat God in sy goedheid en genade vir sy volk oopmaak. Lewe tot in ewigheid.

Want Simeon hou die bewys daarvan in sy arms: die Kneg van God wat die lewe vir God se volk uit die dood sal terugkoop.

Dis belangrik dat ons mooi na hierdie twee verwonderde kinders van God luister, gemeente. Want hulle was voorsangers wat ook by ander mense 'n lied wou losmaak. God het hul tonge in beweging gesit sodat ander hul lied sou oorneem en verder deurgee in die wêreld. Simeon en Anna het die openingsduet gesing. Van ons word die vervolg verwag. Want hierdie kantate op die God van die lewe moet bly klink, die ewe deur, totdat eendag al God se kinders in 'n massale slotkoor voor God se troon die lof op sy grootheid uitsing.

Ons het vorige week sondagaand alreeds na Simeon geluister. Hy het die toon aangegee. Vanoggend kyk ons na Anna wat haar by Simeon voeg en by hom inval. Anna se stem klink langs dié van Simeon hierom so kragtig omdat sy omtrent haar lewe lank net klaagliedere gesing het. Maar vandag, met haar stralende oë op daardie Kind in Simeon se arms, word haar klaaglied eindelik 'n loflied. In plaas van rou en harteleed het God haar eindelik met vreugd' omkleed.

So het die HERE hierdie Anna tot 'n bemoedigende en aansteeklike voorsanger vir ons gemaak, broeders en susters. Daar kom uit haar lewe 'n duidelike boodskap van God na ons toe. Ek mag dié boodskap vandag aan u deurgee. Ek kan dit kort en goed so saamvat:

DIE KLAAGSANG WORD 'N LOFLIED

Ons kyk na altwee kante:

  1. ANNA SE KLAG HET KRAG
  2. MAAR ANNA SE LIED BESING DIE EINDE VAN HAAR VERDRIET.

1. Ons het Jesaja 62 gelees. Ons lees in daardie hoofstuk van wagte op Jerusalem se mure wat vol spanning uitsien na die dagbreek wanneer die son van God se ontferming bo die horison sal verskyn.

Maar hulle staan daar nie stilswyend en uitkyk nie. Hulle het tewens die taak om gedurigdeur, die hele dag en die hele nag, die HERE aan sy beloftes te herinner. Jesaja gebruik 'n woord wat u wel ken uit 'n heel ander verband. Daar is in die Bybel 'n aantal kere sprake van 'n kanselier- wel, dit beteken, as mens dit letterlik vertaal: iemand wat herinner. So'n man was 'n beampte aan die hof van die koning wat die koning moes help om niks te vergeet nie. Nie om niks van die verléde te vergeet nie- daarvoor het die kroniekskrywer gesorg. Hy het die notule gemaak. Maar die kanselier moes daarvoor sorg dat die koning niks sou vergeet van wat vandag en môre tot sy taak behoort het nie. Hy was die wandelende geheue van die koning. Hy het met sy vors in oorleg getree om hom te herinner aan dit wat nog gedoen moes word.

Nou maar goed, ons lees in Jesaja 62 dat daar ook sulke beamptes op Sion se mure staan. Mense wat Jerusalem se lot ter harte gaan en daarom soos kanseliers optree by God. Aanhoudend doen hulle 'n beroep op God om nie te vergeet wat nog op sy regeringsprogram staan nie. Hulle laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en tot 'n lof op aarde gemaak het nie.

Anna was so'n kanselier, gemeente. Sy was so'n wagter op Sion se mure wat vol verlange na die rooidag vir Jerusalem uitgesien het. En wat daarom dag en nag in die hart van Jerusalem, in die tempel, die HERE aan sy beloftes herinner het: "Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie en ter wille van Jerusalem nie stil wees nie, totdat sy geregtigheid uitbreek soos 'n glans en sy heil soos 'n fakkel wat brand. "

En hierdie Anna se klag het krag gehad. Want haar eie lewe was self die ene weerspieëling van die duisternis wat oor Sion gedaal het.

Lukas skets in 'n paar woorde haar lewe en die beeld wat hy oproep is veelseggend.

Sy het tot die stam Aser behoort. Met ander woorde: Anna was 'n lewende herinnering aan die feit dat God se volk vroeër uit 12 stamme bestaan het. Maar wat het daarvan oorgebly? ! Saam met die meeste ander stamme van Israel het Aser hom onder Jerobeam van Juda en Benjamin, maar daarmee ook van Sion afgekeer en die goue kalwers van Bet-El en Dan begin dien. Daarna is die Tienstamme-ryk in ballingskap weggevoer, en vervolgens ook die Tweestamme-ryk, sodat God se volk heeltemal uitmekaar geslaan en verstrooi is. Die meeste stamme het nooit na Kanaän en Jerusalem teruggekeer nie. Feitlik net die stam Juda. Dis hoekom daar in Anna se dae van die volk van die Jode, die Judeërs gepraat word.

Anna uit Aser is 'n eenling, 'n eensame herinnering aan 'n verlore verlede.

Anna word in ons teks na haar pa Fanuel genoem. Dalk wou Lukas daarmee vir dié wat op hoogte was van die familieverbande in Israel, aangee uit watter familie Anna afkomstig was. Maar daar lê tog ook 'n ekstra dimensie in hierdie aanduiding. Anna was eendag 'n getroude vrou. Nogtans noem Lukas haar nie na die naam van haar oorlede man nie. Die band aan haar man behoort blykbaar lankal tot die verlede. Maar daaruit mag ons waarskynlik die gevolgtrekking maak dat Anna se kortstondige huwelik sonder kinders gebly het. Anna het die huis van haar man nie gebou nie. En daar was seker ook maar geen swaer wat daarna met haar getroud is nie. Opnuut 'n bewys dat die nag oor Sion gedaal het. Anna se lewe is met onvrugbaarheid geslaan.

Ja, Anna se lewe is 'n sinnebeeld van Sion self. Ons het ook Jesaja 54 gelees. Daarin vergelyk die HERE mos sy Sion self met 'n onvrugbare vrou, 'n eensame, een wat die smaad van die weduweeskap moes dra.

Inmiddels is Anna baie oud. Jarelank reeds weduwee. Al dié jare het sy tevergeefs uitgesien na die eerste strale van 'n nuwe daeraad vir Jerusalem. Maar hoe lank het Síon sélf alreeds daarna uitgesien! "HERE, hoe lank nog? ".

Maar al dié jare het Anna haar pos nie verlaat nie. In die hart van Sion, in die tempel, God se eie huis, het sy haar God nie met rus gelaat nie. Sy was letterlik dag en nag daar aanwesig om die HERE aan sy beloftes te herinner.

Wát het Anna verwag, broeders en susters? Waarna het sy uitgesien?

Ons vertaling sê in vs. 38: "verlossing". Maar daardie woord is te algemeen. Die woord wat Lukas gebruik het, beteken letterlik: "loskoop". Daardie woord spreek van skúld. Daar moet 'n hoë prys betaal word om God se volk uit die duisternis los te koop. Want God se kinders het hulle sélf aan die mag van die duisternis verkoop! Die oorsaak van alle ellende is die sonde van Sion. Daarom kan daar alleen versoening deur voldoening wees.

Ook daarom het Anna die tempel as die plek gekies waar sy haar kanselierswerk voor God wil verrig. In die tempel, waar daagliks die bloed van bulle en bokke aan die skuld van God se volk herinner, maar waar dié bloed ook roep om die beter offer van die volmaakte Hoëpriester- dáár sal Anna die HERE aan sy beloftes herinner. Dáár sing sy haar aanhoudende klaagsang.

En nie in opstandigheid nie.

Sy buig haar mee onder die skuld van God se volk. Ook sy staan skuldig voor God. Haar aanhoudende erediens in die tempel word daarom gedra deur vaste en gebed. Hoe kan sy haarself oorgee aan uitbundige vrolikheid so lank die nag die lewe in Jerusalem verlam? Hoe kan sy geniet van heerlike maaltye as God se toorn nog voelbaar op Sion druk? In 'n uiters sobere lewensstyl verootmoedig Anna haarself voor God. En sy smeek sonder ophou om God se genade en ontferming.

So, gemeente, kom Anna in ons teks na ons toe. 'n Klaagsang in lewende lywe. Maar haar klag het krag, want haar eie lewensgeskiedenis onderstreep die noodsaak van verlossing. En haar erediens bewys dat sy weet waar die wortel van alle ellende lê.

Sulke klaagsangers is in die tyd van die Ou Verbond deur die Heilige Gees as wagte op Sion se mure uitgesit. As voltydse kanseliers om die HERE aan sy beloftes te herinner. En hulle het by God 'n ope oor gevind. Mense soos Anna het nie tevergeefs na die hemel geroep nie!

Inteendeel, juis deur die aanhoudende herinnering van sulke mense hier benede het God Hom op die ou end laat beweeg om sy Seun van bo te gee. Mee deur hulle geroep kon God nie langer die swye bewaar nie. Hy het Hom aan sy beloftes van van oudsher laat herinner en uiteindelik die hoogste Woord gespreek. Dié Woord van God het vlees geword om sy eie lewe te gee as 'n losprys vir God se volk.

Dit mag u stimuleer, broeders en susters, om die kanselierswerk van Anna en al daardie ander wagte op Sion se mure voort te sit.

Want daardie werk bly ook noudat die Nuwe Verbond bevestig is, nog nodig.

Inmiddels het die eerste strale van die daeraad wel alreeds bo ons horison verskyn. Die loskoop het geskied deur die offer van God se eie Seun. Daar is nou volkome versoening van al ons sondes. En die eerste herstel van die lewe het alreeds voelbaar geword.

Nogtans is die verlossing nog nie volmaak nie. Die mag van die duisternis het nog nie ten volle gewyk nie. Die gebrokenheid van ons lewe is nog altyd voelbaar, die sonde doen ook in die kerk nog steeds sy verwoestende werk. God se tempel, sy gemeente is nog steeds deur vyande omring. Maar dit kan so nie bly nie. Solank dit nog so is, is God se regeringsprogram nog nie klaar nie. Hy kan nog altyd nie tot rus kom nie. En dus mag ons Hom nie met rus laat nie.

Die laaste Bybelboek vertel ons hoedat God Hom ook met die oog op Christus de wederkoms laat aanspoor deur die gebede van die heiliges wat soos reukwerk opstyg voor sy troon. Ja, daar is selfs ín die hemel kanseliers wat rusteloos roep: "HERE, hoe lank nog...? " Dit is die siele van die heiliges wat alreeds gesterf het. Maar wanneer hulle nog altyd so die HERE aanspoor tot die finalisering van sy regeringsprogram, hoeveel te meer rus dié taak op ons! Christus self het die woorde in ons mond gelê en ons vir ons kanselierstaak by God geïnstrueer: "Laat u Koninkryk kom" mag ons aanhoudende gebed wees waarmee ons by God op die volkome verlossing van Sion mag aandring. Dag en nag.

Dit is nie net 'n taak vir enkelinge in die kerk, die ampsdraers of so nie. As Sion se heil u ter harte gaan, is u almal met daardie taak belas. Nie in die laaste plek nie ook die broeders en susters wat langdurig siek is, en die bejaarde broeders en susters, die wat eensaam is. Hulle voel hulself dikwels uitgeskakel. Wat beteken hulle nog? Wat kan hulle nog doen vir die kerk? Hulle kan mos nêrens meer kom nie.

Maar juis hulle het alle tyd vir die voorbedes vir Sion! Die lange nagte waarin hulle wakker lê, kan benut word om die HERE aan sy nog onvervulde beloftes te herinner. Hulle mag sê: Vader, ek kan meestal nie meer saamdoen nie, ek is oud, swak, alleen. Maar daarin blyk nog die gebrokenheid van die lewe. En dit kan mos nie so bly nie. U het iets anders belowe. Dit moet mos sover kom dat al u kinders ongeskonde aanskik aan die feestafel in u nuwe Jerusalem?

Ons verval maklik in klaagsange teenoor mekáár as die moeite en verdriet in ons lewe ophoop. Maar verskyn u met u klaagsange ook, ja: allereers voor God se troon, broeders en susters? Vol verootmoediging vanweë die besef van u eie skuld? En tog vol vertroue dat u nie tevergeefs die HERE aan sy beloftes herinner nie?

Alleen so het u klag krag.

2. En dan word die klaagsang beslis 'n loflied.

Daarvan het God Anna tot 'n lewende bewys gemaak. Sy mag in haar eie lewensaand tog nog die môrelig van God se nuwe dag begroet. Sy mag die opgaande Lig van God uit die hoogte sien wat kom skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit.

As sy Simeon met daardie klein Kind in sy arms sien staan, as sy hom stamelend van geluk hoor sing dat sy oë eindelik dus die Heilbrenger mag aanskou wat God voor die oë van al die volke berei het, weet ook sy dat haar klaagsang 'n loflied kan word. Hierdie Kind is die beloofde Middelaar wat die losprys vir God se volk gaan betaal. Hierdie Kind sal die stralende son van God se geregtigheid oor Jerusalem terugbring. Die sonde moet padgee, God se verstrooides word weer versamel. God se gesalfde Kneg sal die stamme van Jakob weer oprig: Ruben, Simeon, Levi, Juda, Dan, Naftali, Gad, ook Aser..... Hy sal die gespaardes in Israel terugbring.

Die onvrugbare, wat nie gebaar het nie, mag uitbreek in gejubel. Sion mag die smaad van haar weduweeskap vergeet. Want die Heilige van Israel is haar Verlosser. Vir 'n klein oomblik het Hy haar verlaat, maar met groot ontferminge sal Hy tot haar terugkeer. En Anna val in by Simeon en saam sing hulle die hoogste lied.

Ook Anna vererg haar nie oor die eenvoud en nederigheid van Israel se Verlosser in Simeon se arms nie. Sy verstaan die taal van die teken. God gee vir sy volk geen Man om mee te pronk nie. Maar 'n Kind wat Hom saam met al God se mensekinders buig onder die wet van God. Die priester het so pas nog die voorskrifte van die wet aan Hom voltrek. Want alleen so kan Hy God se volk verlos van die vloek van die wet.

Anna sien in geloof dat hierdie onaansienlike begin 'n heerlike vervolg gaan kry. Sy het aan hierdie swakke Kind genoeg om in 'n kragtige loflied uit te breek.

Maar wanneer Anna toe alreeds haar klaagsange in 'n loflied kon transponeer, broeders en susters, hoeveel te meer moet ons dan vandag ons lofliedere sing.

Ek het so pas gesê: al het Christus inmiddels ook gekom en al het Hy ook alreeds sy losprys vir ons sondes betaal, nogtans bly daar vir ons redes om te kla, redes om die HERE aan sy beloftes te bly herinner.

Maar daarmee is nie alles gesê nie. Daar is méér redes om vandag lofliedere te sing. Die klaagsange mag in ons lewe nooit meer die eerste wees nie.

Die lof en dank oor alles wat God in Christus alreeds vir ons gegee het, moet nou altyd voorop staan. Ons sien mos reeds so veel meer as Anna: ons mag leef van die vergewing van ons sondes, ons ervaar reeds die begin van die herstelde vrede met God en met mekaar, ons ken 'n troos in lewe en sterwe waaroor ons telkens weer verbaas staan, daar groei in ons lewe 'n nuwe gehoorsaamheid aan die HERE en die stryd teen die sonde word al hoe kragtiger. Ons mag sien hoedat die christelike lewe opbloei deur die werking van die Heilige Gees en hoedat nog steeds mense hulle deur die Evangelie laat roep uit die duisternis na God se wonderbare lig..

Dit alles is vandag die sigbare, waarneembare gevolg van Christus se koms en werk in die wêreld. Die Kind van destyds het Hom ontwikkel tot die Koning van die toekoms.

Eers as ons dit alles gesien het en die HERE vol verwondering daaroor geprys het, mag ons vra om die res. Eers teen dié agtergrond mag ons kla oor die onvolkomenheid wat daar nog altyd is en vra of God nou ook regtig alles in almal wil word, soos Hy beloof het. As ons sien hoeveel die HERE reeds gegee het, wel, laat Hom dan maar nie met rus nie totdat Hy Jerusalem tot 'n lof op aarde maak.

"Jerusalem 'n lof op aarde"- dat was alreeds die begeerte van die kanseliers van Jesaja 62. Daarmee word bedoel: dis nie genoeg dat daar op óns lippe 'n loflied lê nie. Die hele wêreld moet weer die lewe by die HERE in sy tempel, sy kerk, soek en daar Sion se grootheid prys. Die loflied van die kerk moet die loflied van die hele wêreld wees. Alle lofsange moet verenig tot die een groot slotkoor op die God van Sion. Nie meer net twee mense wat altwee op sterwe na dood is nie, maar 'n ontelbare menigte uit alle volke, almal mense wat ewig mag leef, moet eendag God ewig loof. Eerder het ons geen rus nie. Dus tot solank laat ons God nie met rus nie.

Anna, gemeente, het saam met Simeon die openingsduet vir daardie slotkoor gesing. Hulle het die toon aangegee. Maar Anna het ook dadelik begin om ander sangers te werf. Die laaste vers van ons teks vertel dat sy van die Kind waarin sy haar Verlosser herken het, gespreek het met almal in Jerusalem wat die verlossing verwag het. Sy, wat 'n profetes was, mog nou as 'n regstreekse boodskap van God aan ander voorhou dat die klaagsange 'n loflied kon word.

Kom ons sing nie net Anna se voorsang na nie. Ons volg ook haar voorbeeld na en spreek ook vandag nog met almal wat wil luister van die Verlosser wat God vir ons gegee het. Dan lewer ons 'n dubbele bydrae aan die slotkoor wat eendag sal klink.

AMEN.

(Pretoria, 6 Januarie 1991)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)