Die Here maak herders tot heroute van die Heiland

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Lukas 2
Preek Inhoud: 

PREEK OOR LUKAS 2: 15-17

LITURGIE:
Votum en seëngroet
SB. 4
<wetslesing>
<SB 24: 3, 6>
Gebed
(L.) Rom 10: 13-21 (NAB) & 1 Kor 1: 22-31 (NAB)
Ps. 89: 6, 7
Prediking
Ps. 96: 2, 6, 8
<Gesonge Geloofsbelydenis>
Gebed
Kollekte
Ps. 40: 3, 5
Seën.

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Een van die liedere wat 'n mens in hierdie Kerstyd uitentreure kan hoor, is die bekende "Stille Nag". Dit staan bo-aan die ranglys van die Kerstreffers.

Dit klink in die mees wêreldse programme oor die radio, jy hoor dit in alle tale in winkels speel....

Maar wie sê vir ons, broeders en susters, dat die nag waarin Christus gebore is, so 'n stil nag was?

'n Heilige nag, ja daarvan kan ons praat, want in daardie nag het die grootste wonder van alle tye plaasgevind: God het mens geword!

Maar 'n stille nag was dit glad nie.

Dit het juis 'n nag vol geluid geword: 'n engelekoor het die hemel oopgeskeur en sy strydlied oor die velde by Betlehem laat dawer.

En toe het ook die tonge van die mense losgeraak.

Sodat ons teksverse vertel dat herders direk orals begin uitbasuin het wat hulle van die engele gehoor en vervolgens in Betlehem se stal gesien het.

Die stilte was danig verbreek in daardie heilige nag.

Die stilte moés ook verbreek word, gemeente. Dit kon nie langer stilbly noudat God in hierdie nag sy vredesoffensief van stapel gestuur het deur sy eie Seun as Veggeneraal aarde toe te stuur. Elkeen moes hierdie blye boodskap hoor.

Ja, vanaf daardie heilige nag het dit nooit meer stil geword in die wêreld nie!

Sinds daardie nag waarin engele gesing en herders begin preek het, het niemand dit reggekry om die evangelie van die Here en Heiland wat toe gebore is weer tot swye te bring nie.

Nou ja, dit is wat ons teks van vanaand vir ons wil vertel. God het in daardie heilige nag dadelik daarvoor gesorg dat sy blye boodskap hoorbaar geword het op aarde en deur predikers van mond tot mond verder gedra is.

Want juis deur die prediking sou Hy die wêreld vir sy vrede wen.

'n Swak middel -'n mondelinge boodskap- waarin God juis sy krag sou betoon.

En as die eerste heroute van sy Evangelie het God eenvoudige herders uitgekies, ooreenkomstig sy spesiale styl, naamlik dat sy krag nou maar eenmaal in swakheid volbring word.

Ons teks vertel dus, as ek dit probeer saamvat:

DIE HERE MAAK HERDERS TOT HEROUTE VAN DIE HEILAND
HULLE MAG AS EERSTES DIE EVANGLIE

  1. HOOR
  2. SIEN
  3. UITDRA

1. As ons die Grieks in ons teksverse letterlik vertaal, broeders en susters, klink dit so: "En dit het geskied, toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, dat die herders vir mekaar sê: Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat geskied het... "

Dit is opvallend hoe díkwels die werkwoord "geskied" deur Lukas hier in hoofstuk 2 gebruik word.

Al dadelik in vers 1. Daar is ongetwyfeld nog wel broeders en susters wat daardie teks onthou in die Nederlandse vertaling: "En het geschiedde in die dagen dat er een bevel uitging vanwege keizer Augustus.... "

In vs 6 staan dit in die Grieks weereens: "En dit het geskied, toe Josef en Maria in Betlehem was, dat die dae vervul is dat sy moes baar. "

En nou, in ons teks, geskied dit dus dat die herders gaan sien wat daar in Betlehem geskied het.

God maak geskiedenis in hierdie nag, broeders en susters! Die tyd dat sy beloftes in vervulling gaan, het aangebreek en God bring vannag in die stad van Dawid sy eie Seun uit die hemel as die Vredevors in die wêreld.

Hy doen dit deur indrukwekkende dade.

Hy sal dit egter ook gaan doen deur eenvoudige woorde.

Daarvoor skakel Hy vannag meteens 'n klompie herders in.

Daar het 'n paar skaapwagters in die velde buite Betlehem gesit wat snags by hul diere moes bly om hulle op te pas.

Ons maak ons altyd so 'n eenvoudige voorstelling van daardie herders, en ek dink: dit wás ook heel eenvoudig - daardie gewone herdersvolk wat by hulle skape gesit het terwyl die ander mense geslaap het.

Hulle het 'n bietjie gesels, grappies vertel en af en toe in 'n dommel geraak totdat die gegrom van 'n roofdier hulle weer laat wakkerskrik het.

Het koning Dawid ook nie so begin nie? As 'n skaapwagter by Betlehem?

Destyds al was herder-wees nie juis 'n erebaantjie nie. Vader Isaï het Dawid heeltemal oor die hoof gesien toe die profeet Samuel een van sy seuns tot koning kom salf het.

Wie het nou aan Dawid daar buite by die skape gedink!

En wanneer Dawid later 'n kykie kom neem by Israel se leër terwyl dit teen 'n gevaarlike Fiulistynse oormag te staan gekom het, ja sy ouer broer hom vererg weg, terug na die skape toe: dit was die plek waar hy behoort het.

In hierdie nag sit daar steeds herders in die veld by Betlehem -eeue later. Skaapwagters.

Dit lyk asof in al die eue niks verander het nie. Alles het gebly soos dit was.

Maar dít is nie so nie.

Alles het weer geword soos dit was!

Dit wat God eeue terug in die skaapwagter Dawid begin opbou het, is inmiddels weer tot op die grond afgebreek.

Die herder Dawid het koning geword. Hy het die stal in Betlehem verrruil vir 'n paleis in Jerusalem.

Alle vyande van God se volk het hy, die een na die ander, tot binne hul eie grense teruggedrywe en aan hom onderhorig gemaak.

En onder sy seun Salomo het die groot bloei gekom. Israel het onder die Dawidshuis internasionale bekendheid verwerf.

Daarna het egter al dadelik weer nie neergang gekom. Dawid se ryk en reputasie het weer begin afbrokkel.

En nou, in hierdie nag, is die dieptepunt bereik.

Daar het amptenare en inspekteurs van die keiser te Rome Betlehem toe gekom en die bevolking is besig om hulle hoof vir hoof te laat registreer. Die laars van die besetter het die troon van Dawid omvergeskop en aan Dawid se volk alle hoop ontneem.

Eeue se werk is weer ongedaan gemaak, en weer sit daar herders by die skape by Betlehem.

Hierdie herders weet egter nog nie dat die HERE in hierdie einste nag opnuut begin het, in Betlehem, in Dawid se stad, in Dawid se huis; dat 'n nuwe Dawid ingeskakel is, weer allereers in 'n stal, by die diere.

En hierdie keer sal God sy vroeëre werk oortref.

Hierdie nuwe Dawid word die Goeie Herder oor God se volk wat sy lewe sal gee vir die skape.

So was dit lankal deur God belowe.

So het die HERE vannag gedoen.

God begin opnuut en dis hierdie herders wat as eerstes die blye boodskap mag hoor.

En op watter wyse!

Skielik is hulle omring deur 'n stralende lig, helderder en feller as die son.

God bewys sy nabyheid vir 'n oomblik baie direk.

En daar staan vlak by hulle 'n hemelse gedaante. Mens kan dit sommer sien: dit is nie 'n gewone mens nie. Dit moet 'n engel van God wees!

Daardie engel oorhandig hulle die geboortekaartjie waarop die koms van God se Seun as Dawid se seun in Betlehem vermeld staan: "Ek bring julle die goeie tyding dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus die Here is. "

En asof die boodskap uit die mond van een engel nog nie genoeg is nie, staan daar 'n oomblik later 'n hele leërafdeling engele in die veld, hemelse soldate wat die boodskap beaam met 'n magtige loflied: "Ere aan God in die hoogste hemele; vrede op aarde; in mense 'n welbehae. "

God sorg daarvoor dat die ore van die herders tuit. Hulle moét weet dat Dawid se volk 'n nuwe toekoms tegemoet mag gaan en dat Salomo se vrederyk in oortreffende trap sal terugkom.

En God se opset slaag volkome.

Sodra die engele weer uit die gesig verdwyn en die stilte in Betlehem se velde teruggekeer het, kom die herders in beweging.

As die engele swyg, kom die tonge van die herders los!

In die Griekse teks staan dit in vs 15 baie mooi, broeders en susters. Daar staan: "En dit het geskied toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, dat die mense, die herders, vir mekaar sê.... "

Hulle het mekaar waarskynlik eers vreemd aangekyk, daardie herders, toe die nagtelike duister weer oor hulle geval het. Het hulle dit nie gedroom nie? !

Alles was skielik weer so gewoon, so menslik. Hulle het weergekeer in die werklikheid.

Tog bestaan daar by hulle nie die minste twyfel of dit van sopas ook werklikheid was nie. Hulle is oortuig daarvan.

Kom ons gaan Betlehem toe, sê hulle direk vir mekaar.

En lees maar in ons teks: Hulle gaan nie om te sien of hierdie ding regtig so gebeur het nie. Nee, hulle glo dat alles so gebeur het soos die engel vir hulle gesê het en hulle gaan maar net om dit nou ook te bekyk.

Die skape moet maar wag. Hulle moet eers die groot Herder soek van Wie hulle self die skape is. God het in Betlehem geskiedenis gemaak, en dan kan 'n mens mos nie met sy werk aangaan asof daar niks gebeur het nie!

So gaan die herders op pad om nie net oorgetuies nie, maar ook ooggetuies te word van God se geskiedkundige werk in 'n stal in Betlehem. So gaan hulle op pad om die eerste menslike heroute te word van Christus se geboorte.

Hulle mog die Evangelie nog op 'n baie indrukwekkende wyse verneem. Dit was nodig om hierdie ongelooflike boodskap tot die menseverstand te laat deurdring.

Daarna sou hulle egter self, baie eenvoudiger, sonder hemelse glans maar in gewone mensewoorde, die boodskap moet verder dra. En so sou voortaan die prediking van die evangelie op aarde plaasvind. Uit gewone mensemonde in gewone mensetaal.

Want die Koning wat in Betlehem gebore is, soek nie nuuskierige oë nie, maar ontvanklike ore wat die HERE op sy Woord glo.

2. Daarom word die herders ook eers deur God op die proef gestel. (Ek kom by my tweede punt) Want hulle gaan wel direk met haas, in looppas, na Betlehem toe. Maar wat wil hulle daar soek? Wat dink hulle sal hulle daar vind?

Wat het die engel eintlik gesê? "Hulle sal 'n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in die krip lê. "

Dit is so gewoon en onopvallend as maar kan wees! Daar word mos soveel babas gebore. En almal word hulle in doeke toegedraai. En armoedige toestande sodat daar selfs nie 'n behoorlike wiegie is nie, sal op Judea se platland ook wel nie 'n uitsondering gewees het nie. Is dit alles waaraan hulle die nuutgebore Koning, die Heiland van die wêreld, kan herken? !

U verstaan wel, gemeente: nou vra God skielik baie geloof van die herders.

Hulle het 'n hemelse boodskap gehoor, maar wat hulle nou te siene kry, is skielik baie aards. Nie 'n koninklike wieg nie, maar 'n voerbak; nie 'n paleis nie, maar 'n stal; nie deftige hofpersoneel nie, maar eenvoudige mense.

Dit is wat hulle gevind het, sê ons teks.

Let 'n bietjie op Lukas se woordkeuse, broeders en susters: hulle het Maria en Josef gevind, en die Kindjie wat in die krip gelê het. In dié volgorde: twee gewone mense, 'n man en 'n vrou, en ja, toe ook nog 'n baba in 'n voerbak.

Dalk het hulle hooggespanne verwagtings gehad.

Dan word hulle nou danig op die proef gestel.

Wanneer die herders wat eers daardie pragtige name op die geboortekaartjie mog hoor, nou niks besonders in Betlehem vind nie, is dít juis 'n teken vir hulle. So het die engel dit ook vir hulle gesê.

Sêmaar 'n sinjaal. 'n Ding om, oor na te dink. Daardie eenvoud en armoede is tiperend vir hierdie Redder. Daardie stal vertoon sy styl. Die krip by sy geboorte is reeds uit dieselfde hout gekap as die kruis waaraan Hy sal sterwe.

Want Hy moes doodgewoon gebore word om gewoon die dood te sterwe. Slegs deur in die plek van alle mense Homself te verneder onder die hand van God en Homself vir die sondes van sy volk in die dood te offer, kan Hy die wêreld red van sy ellende.

Wie dus hierdie Kind as Koning wil aanvaar, moet mooi kyk na daardie teken. Dit is die signaal van Jesaja 53: "Wie het geglo wat aan ons verkondig is. En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar. Hy wat soos 'n loot voor God se aangesig opgespruit het en soos 'n wortel uit droë grond, het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.... Maar Hy is ter wille van óns oortredinge deurboor, die straf wat ons die vrede aanbring was op Hom".

Slegs wie sy eie skuld teenoor God leer ken het, kan hierdie teken verstaan en hierdie Redder aanvaar.

Die Kind van die Kersnag soek nie allereers die oë nie. Daar was nie soveel om te sien in Betlehem se stal nie.

Kersfees is daarom ook nie 'n féés vir die oë nie. Dit het mense wel van ons Kersfeeste gemaak. Hulle bou kersstalle in die kerkgeboue en voer 'n drama op met Josef en Maria, engeltjies en 'n pop in 'n krip.

Ander mense plaas 'n groot kersboom in die kerk en in hul huise, vol met liggies en kleur om die oë te streel. Kersvader staan by alle winkels ons aandag en opeis.

Derglike mense het egter maar min verstaan van die Kersfees. Kersfees is allereers 'n fees vir die ore. Kersfees vra geloof En 'n skuldverslae hart.

Die herders het hulle aan die eenvoud in die stal nie gestoot nie. Hulle het geglo. Omdat hulle die wóórd van die engele aanvaar het, het hulle dit ook nie meer moeilik gevind om dat wat hulle te sien gekry het, te aanvaar nie.

God het hul harte oopgesluit om hierdie Kindjie as hul Koning in hul hart te sluit.

En waar hul hart van vol was, het toe ook dadelik hul mond van begin oorloop.

(My derde punt)

3. "Oral het hulle die woord bekend gemaak wat aan hulle van die Kindkie vertel is" sê ons teks tenslotte.

Het die engel nie gesê dat die goeie tyding van groot blydskap vir die hele volk bestem was nie? Maar dan moet mos die hele volk nou ook hoor wat húlle te hore gekry het!

Almal wat hierdie Kindjie as hul Here en Verlosser aanroep sal deur Hom gered word.

Maar hoe sal 'n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in

Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor as daar nie mense is wat Hom preek nie?

Daarom het die herders dadelik oral hul wonderlike verhaal begin rondvertel.

Ons weet eintlik maar min van daardie manne, gemeente. Maar hulle roep tereg by ons die beeld op van eenvoudige ouens, die verteenwoordigers van Jan Alleman.

U kan in sommige verklarings lees, en dalk het u dit ook wel 'n keer in 'n preek gehoor, dat daardie herders 'natuurlik' tot die klein kring van gelowiges in Israel behoort het; dat hulle mense soos Simeon en Anna was wat met 'n volhardende verlange na die vervulling van God se troosbeloftes uitgesien het.

Die Skrif vertel egter niks daarvan nie. Lukas sê dit wél nadruklik van Simeon en Anna, maar nie van hierdie herders nie.

God kies hulle eenvoudig omdat hulle die eerstes is wat Hy kan bereik. Almal slaap nou, maar die nagploeg is darem wakker. Maak nie saak nie dat dit maar herders is.

Daar is êrens 'n bepaling van die Sanhedrin, die hoogste Joodse raad, gevind waarin vasgelê is dat herders nie as getuies in 'n hofsaak mog optree nie. Daarvoor het hulle hierdie soort mense blykbaar te onbetroubaar gevind.

Maar as dit so is, word God se keuse in hierdie nag nog wonderliker. Want hy kies juis hierdie mense uit om die eerste getuies te wees van die geboorte van die Heiland van die wêreld!

Sy vredesboodskap moet in die wêreld uitgedra word.

Die middel wat Hy daarvoor gekies het, het Hy aangepas by die inhoud: onaansienlik.

Hy skaam Hom nie om die mees eenvoudige kragte in te skakel nie. Dit is juis sy styl:

"Wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam. Wat vir die wêreld swak is, het god uitgekies om die sterkes te beskaam; en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak" (1 Kor 1).

So werk God. Hy roep simpele siele om predikers van sy Evangelie te wees en Hy maak Self hul hart vol en hul tong los vir daardie taak.

Ons het in ons teks al 'n voorspel op Pinkster, broeders en susters, as God almal van sy volk inskakel in die evangeliediens: groot en klein, seuns en dogters, werknemers en huishulpe.

Almal mag in die Evangelie deel. Almal mag ook help om die Evangelie verder uit te dra.

God benodig daarvoor nie net teoloë nie. Hy benodig gelowiges.

Hy benodig ook u.

U het inmiddels al baie meer gehoor as die herders in die Kersnag. Daarom staan u ook des te skuldiger as u nou nóg nie glo nie.

U het ook baie meer om aan die wêreld te vertel.

Daarom staan u ook des te skuldiger as u nie u mond oopmaak nie.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)