'n Hemelse koor sing aan herders die eerste kerslied voor

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Lukas 2
Preek Inhoud: 

PREEK OOR LUKAS 2: 13, 14

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 89: 1, 2, 3
Gebed
L. Lukas 2: 1-14
Ps. 29: 1
Prediking
Ps. 103: 11
Ere aan God
Gebed
Kollekte
Ps. 72: 1, 2, 4, 9, 10
Seën

Broeders en susters,

Een keer per jaar, op Kersfees, sing ons in die kerk 'n lied van die engele.

Ons sing meestal liedere van mense: 'n Psalm van Dawid, 'n lied van Asaf, 'n gedig van die kinders van Korag. Ons het 'n Psalmboek vol met sulke liedere.

Daarenteen sing ons maar selde 'n lied van engele.

Want ons ken maar een of twee van hulle liedere.

Dis nie so vreemd nie.

Die engele sing gewoonlik hul liedere onhoorbaar vir ons in die hemel.

"Die hemel loof, o HEER, u wonderbare mag, die eng'le prys u trou en waarheid dag en nag", het ons gesing met die woorde van Psalm 89.

Ons weet ook uit die visioene wat die apostel Johannes op Patmos gekry en in die boek Openbaring opgeskryf het, van sulke engelesang in die hemel.

Die hemel is die gebruiklike ruimte waar die engele hul lied laat hoor.

Slegs eenmaal het hulle daarop 'n uitsondering gemaak.

Een nag het die hemelse koor hier op aarde opgetree.

Maar toe was daar ook alle rede vir so 'n uitsonderlike optrede. Dit was die Kersnag toe die ewige Seun van God as die nuwe Koning vir God se volk gebore is in die huis en die stad van Dawid.

By dié gebeurtenis gee 'n engelekoor by uitsondering 'n sanguitvoering op aarde.

Wat dan egter direk opval is, dat hulle geen uitvoering by die koninklike wieg gee nie. Die engele sing nie in die stal vir Josef en Maria aan die voet van Jesus se krip nie.

Dáár sou 'n mens die feestlike optrede van die hemelkoor wel die eerste verwag het: 'n welkomslied vir die Koning. Ere wie ere toekom.

Die engele sing egter nie vir die Koning nie, maar gaan staan tussen sy volk.

Hulle tree nie eers op op 'n verhoog nie. Hulle staan sommer op die steppegrond tussen herders by Betlehem.

Want hulle gee hierdie nag nie 'n konsert waarna 'n mens kan luister en waarvoor jy vervolgens hande klap nie.

Hulle het aarde toe gekom om in hierdie nag voorsangers te wees wat maar net vir die mense die toon wil aangee. Sodat mensemonde hul lied sal oorneem en verder dra. Soos die herders net-nou ook doen. En daarna Simeon, Anna... en tot op vandag die kerk van alle eeue.

Die engelelied by Betlehem is dus 'n voorsang wat nagesing moet word.

Laat ons daarom vanoggend weereens sorgvuldig na hierdie lied luister. Sodat ons die regte toonhoogte daarvan nie verloor nie maar dit suiwer bly sing.

Kom ek vat die inhoud van ons teksverse so saam:

'N HEMELSE KOOR SING AAN HERDERS DIE EERSTE KERSLIED VOOR

DIT IS

  1. 'N STRYDLIED
  2. 'N OORWINNINGSLIED
  3. 'N LOFLIED

1. Die engele het in elk geval bereik dat ons nog steeds, al amper 2000 jaar na hul optrede, hul lied sing. Jaar na jaar klink tydens ons Kersfeesvierings die "Ere aan God" in die kerk.

Dit het 'n vaste item op ons Kersprogram geword.

Hierdie lied staan weliswaar nie in ons Kerkboek nie. Maar ons het daarvoor 'n kompromie gevind: Ons sing die "Ere aan God" dan nie in die diens nie, maar direk na die diens, so gou die leraar van die preekstoel afgeklim het.

Is daardie snaakse kompromie-oplossing egter nodig? Hoekom sing ons nie die Engelelied gewoon as gemeente in ons erediens nie? Hierdie lied is tog aan die kerk voorgesing om nagesing te word?

Ons sing dit altyd staande. Die harte omhoog.

Hierdie lied roep by baie mense spesiale emosies op. Want dit is die goue draad wat ons jaarlikse Kersfeesvierings aan mekaar verbind.

Verlede jaar het Ma nog saamgesing....

Sal ek volgende jaar nog kan saamging?

Daardie emosies is verstaanbaar. Hulle is ook nie verkeerd nie.

So 'n spesiale gevoel kan egter wel so oorheersend vir ons word dat ons die bedoeling van die engelelied nie meer voldoende tot ons laat deurdring nie.

Het dit nie al in 'n mate gebeur nie?

Blyk dit nie uit die manier waarop ons die engelelied sing nie?

Ons sing dit mos altyd so, en die orrelis speel dit ons so ook voor, dat ons die eerste reël taamlik luid sing: "Ere aan God". Maar die woorde daarna sing ons baie sagter: "Vrede op aarde", asof 'n mens oor 'vrede' met meer gevoel behoort te sing. En die "Amen" waarmee ons afsluit word heeltemal saggies gesing.

Ons behoort egter die woorde van die engelelied juis toenemend luider te sing. Daar klink 'n klimaks in hierdie woorde, sodat die afsluitende "Amen" 'n luidkeelse slotakkoord behoort te wees.

Want só klink die engelelied in ons teks.

Ek weet nie watter voorstelling u u van die engele by Betlehem maak nie, broeders en susters. Op prentjies word hulle dikwels voorgestel as lieflike wesentjies wat deur die lugruim swewe. En hul sing so soet en sag.

Dit is egter onsin.

Lukas vertel in ons teks: hulle was soldate van die hemelse leërmag!

Die hemelse koor was 'n soldatekoor. Hulle was 'n verteenwoordiging van God se staande mag wat Hy meteen vanaf die sondeval in die stryd gewerp het teen die duiwel en sy bose geeste.

Ons weet nie so veel van hul stryd agter die skerms van ons wêreldgeskiedenis nie. Die Bybel vertel nie so veel daarvan nie. Maar wel genoeg om te kan weet dat hulle nie net ons voorsangers is nie, maar ook ons voorvegters in die stryd teen die die magte van die duisternis, teen die bose geeste in die lug: die duiwel en sy helpers.

Jakob het hulle gesien toe hy uit Paddan Aram na die land Kanaän teruggekeer het. Kyk u gou met my saam in Genesis 32? Vers 1 en 2.

Later is vir Daniël in Babel 'n tippie van die sluier gelig sodat hy iets meer mog hoor oor die onsigbare stryd van God se hemelse leërmag.

Daardie soldate staan in hierdie nag van Christus se geboorte by die herders by Betlehem en laat hul strydlied oor die velde dreun.

Want hulle staan vanaand nie in galeklere nie. Hulle dra steeds die uniform.

Ja, hulle mag wel van vrede sing. Maar dit beteken nog nie dat in hierdie nag die swaarde al tot ploegmesse omgesmee kan word nie. Die hemelse leër kan nog nie ontbind word nie.

Daar is in hierdie Kersnag nie eers 'n skietstilstand gesluit nie.

Want die vrede waarvan die engele sing, moet nog beveg word.

Daarvoor het God se Seun juis vannag aarde toe gekom.

Vir baie mense is Christus in die krip die liewe Kindjie Jesus.

Vir die engele is Hy hul groot Generaal!

Hy was dit al die eeue van die Ou Testament.

Voor sy geboorte as 'n mensekind het die ewige Seun van God gedurigdeur God se hemelse leërmag aangevoer as "Die Engel van die HERE". So loop ons Hom dikwels raak in die Ou Testament.

So het Hy voor die volk Israel uit gegaan deur die woestyn. So het Josua Hom ontmoet naby Jerigo. Kyk u weer gou met my saam? Josua 5: 13, 14.

Hierdie leërowerste het nou 'n mens geword, nie om voortaan 'n liewe Kindjie te wees nie, maar om die eeuelange stryd tussen God en die duiwel, tussen vrouesaad en slangesaad in die beslissende fase te bring.

Die tyd het aangebreek dat die engele almal moet terugstaan en hul Generaal man-alleen die vyand in sy skuilplek sal opsoek om hom te vernietig.

Een wink aan sy Vader en dié sou sommer meer as twaalf legioene van engele aan Hom beskikbaar kon stel. Maar om die program van die Skrifte te vervul sal God se Seun sonder engelehulp die stryd moet besleg.

Hierdie stryd het die engele met hul lied kom inlui, broeders en susters. Hul lied was allereers 'n strydlied. Hul optrede in die Kersnag was allereers bedoel om God se volk daaraan te herinner dat die stryd nog nie verby is nie. Die vrede moes nog beveg word.

Wanneer ons vandag die strydlied van die engele nasing, het daar al baie gebeur. Ons Here Christus het inmiddels aan die duiwel die beslissende slag toegedien. Dit was klaar D-day: Decision-day.

As ons Koning het Christus inmiddels na die hemel teruggekeer. As oorwinnaar het Hy daar die troon bestyg.

En in en saam met Hom mag ook ons hier op aarde reeds meer as oorwinnaars wees.

Nogtans is daar nog steeds rede om die engelelied, elke Kersfees weer, as 'n strydlied te bly sing. Want V-day, Victory-day het nog nie aangebreek nie. Die laaste stryd teen die reste van die duiwel se ryk, en teen die sonde wat nog in ons woon, moet nog gestry word. Die werklikheid van elke dag, sekerlik ook in ons eie land, maak dit maar alte duidelik.

Ons staan nog steeds aan die front. Niet net die engele nie, ons mense ook.

Het u geweet dat God se volk in die Bybel óók "die leërmag van die HERE" genoem word? Kom ek wys u op twee tekste in die boek Exodus: 7: 4 en 12: 41 (LEES)

En kyk vervolgens 'n oomblik met my in Psalm 110: in hierdie Psalm wat met Christus se hemelvaart in vervulling gegaan word (Hy sít nou aan God se regterhand in die hemel!), word ons, Christus se volk, in vs 3 geteken as sy keurtroepe wat ons gewillig laat mobliseer vir die stryd, totdat alle vyande 'n voetbank vir Christus se voete gemaak is.

Dus pas daar op Kersfees nie soetlike liedjies oor vrede en verdraagsaamheid nie. Veral die engelelied moet nie in die stemming gesing word nie.

Die Kind van die krip roep ons op tot die stryd. Wie voor Hom as Koning kniel, wie hom skaar by sy engele, word beveel om die uniform aan te trek.

2. Wel mag ons by voorbaat ons strydliedere in 'n oorwínningsstemming sing.

Want so het ook die engele in die eerste Kersnag hul lied aan ons voorgesing.

Toe hulle hul strydkreet oor die velde van Betlehem laat dreun het, het hulle klaar van vrede gesing.

Hulle was wel nugter. Hulle het geweet dat die vrede nog beveg moes word.

Volgens ons vertaling het hulle gesing: "Vrede op aarde", maar as ons sorgvuldiger vertaal moet ons lees: "Vrede op pad na die aarde".

Tog is hulle vas oortuig daarvan dat die vrede sál aanbreek op aarde. Hulle sien die vrede al in die verskiet.

Want hulle ken vir hul Generaal wat so pas in die gedaante van 'n dienaar 'n mens onder die mense geword het.

Een van hulle het Hom so pas aan die herders bekend gestel: "Vir julle is vandag gebore in die stad van Dawid die Saligmaker wat Christus die Here is. "

Die aangekondigde Kind van Jesaja 9 is vannag gebore:

Die Seun wat genoem word "Wonderbare Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors".

Hy is gebore "tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. "

Hy sal die vrede bring wat niemand voor Hom kon totstandbring nie.

Dit sal vir Hom nie 'n maklike opgawe word nie.

Daarvoor sal -dit het Jesaja ook al geprofeteer, hoofstuk 53- die straf wat ons die vrede aanbring, op Hom moet wees. Hy sal ter wille van ons oortredinge deurboor moet word, en ter wille van ons ongeregtighede verbrysel. God sal die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.

Maar so sal die dag aanbreek waarop Hy, terug uit die dood en vry van die straf, sy dissipels bly kan begroet met die woorde: "Vrede vir julle!".

Ja, vanaf dié dag sal Hy Self ons vrede wees!

So is Hy mos in die Ou Testament, deur die profeet Miga, aangekondig? Sal u weer gou met my saamkyk: Miga 5: 1, 3, 4a.

Die apostel Paulus sal later in sy brief aan die Efesiërs daarop teruggryp en in hoofstuk 2 ook van Christus skryf: "Hy is ons vrede!".

Vrede begin naamlik met die versoening met ons God en Vader in die hemel, broeders en susters. En dié versoening sal God se Seun bewerkstellig. Dié vrede sal Hy vervolgens in eie Persoon waarborg. In Hom is alles weer reg tussen God en ons. In Christus wil God weer ons Vader wees en mag ons weer sy kinders wees.

En op dié basis alleen kan ook die verhouding tussen mense onder mekaar weer herstel word. Op dié basis alleen sal eendag alles op aarde weer regkom.

Deur Christus sal eendag die tyd waarvan Psalm 72 sing, aanbreek: "Die berge sal vrede dra vir die volk, Hy sal aan die ellendiges van die volk reg verskaf, die kinders van die behoeftiges verlos en die verdrukker verbrysel. In sy dae sal die regverdige bloei en sal daar 'n volheid van vrede wees totdat die maan nie meer is nie. "

Dié tyd, gemeente, het die hemelse soldate in die nag van Christus se geboorte in die verskiet gesien, en hulle en hul lied as 'n oorwinningslied by voorbaat aan die mense voorgesing.

Nie oormoedig nie. Maar vol vertroue.

En hul verwagtings is nie beskaam nie. Ons weet immers inmiddels dat hulle na Christus se dood en opstanding hul Generaal weer in triomf in die hemel mog inhaal met die lied wat Johannes op Patmos gehoor het: (Openb. 5: 12) "Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof. "

Dis dus nie verkeerd om op Kersfees van vrede op aarde te sing nie, al duur die stryd ook nog voort. As die engele dit in die Kersnag al kon doen, hoeveel te meer rede is daar dan vir ons vandag om dit te doen! Ons kyk daarvoor nie na mense nie. Nie na 'n Uitvoerende Oorgangs Raad of 'n regse politieke leier nie. Politici bewerk nie die vrede op aarde nie, al meen hulle soms so. Hulle kan hoogstens daaraan meewerk dat Christus se vredesoffensief op aarde kan aangaan.

Ons verwag dit ook nie van mense se positiewe ingesteldheid waarvan daar in hierdie Kerstyd so veel gepraat word nie. Inteendeel.

Ons kyk op na ons Koning in die hemel.

Deur Hom is die vrede op pad na die aarde.

Deur Hom mag ons vandag reeds die voorsmaak van daardie vrede ervaar.

3. Die engelelied is dus allereers 'n strydlied. Maar tegelyk 'n oorwinnings- lied.

Dit is egter allermees 'n loflied. Die engele bring publiek eer aan hul God in die hoogste hemele.

Hulle prys die HERE wat Homself as 'n heerlike, dit is: 'n indrukwekkende God laat ken het en wie se glorie vannag nog indrukwekkender geword het.

Want die geboorte van sy eie Seun in Betlehem as Vegter vir die vrede is die grootste wonder in die geskiedenis tot dusver. Dit bewys hoe ver Hy in sy genade wil gaan.

God was nie hiertoe verplig nie. Ons het hierop g'n reg gehad nie. Niemand verdien dit dat die vrede op aarde weerkeer nie.

Dat dit nogtans sal gebeur en dat God bereid was om sy eie hemelse Seun daarvoor in te sit, is enkel en alleen omdat God nog steeds in die mense 'n welbehae het!

U weet seker wel, broeders en susters, dat daar oor hierdie woorde in die engelelied al baie geskryf is. Daar is naamlik ook handskrifte wat so lees: "Vrede op aarde in mense van welbehae".

Die NAB lees ook so: "vir die mense in wie Hy 'n welbehae het. "

Die Roomses het daarvan gemaak: vir mense van goeie wil, en dan dink hulle aan mense wat dit sélf verdien om eendag in die vrede van Christus te mag deel.

Daarteenoor het Gereformeerdes in hierdie woorde juis 'n aanduiding van God se genadige verkiesing gesien: mense in wie Hy 'n welbehae het - is dit nie die uitverkorenes nie? Die vrede wat op aarde neerdaal is nie vir alle mense weggelê nie. Dit is die kérkvrede vir God se uitverkorenes alleen!

Sodoende is egter onnodig 'n dogmatiese strydpunt in die engelelied ingelees.

Die Griekse teks dwing ons om, soos die Ou Afrikaanse vertaling ook het, die lied as drie afsonderlike uitroepe wat op mekaar volg, te lees:

    "Ere aan God in die hoogste hemele;
    Vrede op aarde;
    in mense 'n welbehae. "

Ons mag nie die laaste twee uitroep so aan mekaar verbind asof daar sou staan: "Vrede op aarde vir mense van welbehae nie. ". Want ook die handskrifte wat lees: "mense van welbehae" het nogtans die woordjie in pleks van vir: "In mense van welbehae". Dit is egter ook in die Grieks 'n snaakse manier van sê: ons kan wel praat van vrede vir of onder mense, maar nie van vrede in mense nie.

Daarom kom daardie lesing in die belangrikste Griekse handskrifte ook nie voor nie en is dit beter om te lees soos die Ou Vertaling dit doen.

Wat die engele in hierdie derde uitroep sê, is die rede hoekom die vrede, ondanks ons opstand teen God, tog op aarde sal terugkeer. Dit is ook die rede hoekom die HERE die hoogste eer verdien: Hy het nog steeds in mense 'n welbehae!

Die engele sê hier eintlik dieselfde as wat Christus later vir die Skrifgeleerde Nikodemus gesê het, die bekende woorde van Joh 3: 16: "So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het... "

God het sy wêreld, die werk van sy hande, na die sondeval nie sommer afgeskryf nie.

Hy het ook die mense, die kroon op sy skeppingwerk, nie afgeskryf nie.

God het nog steeds behae in die mens. Daarom wil Hy hulle verlos.

Hy stel nie voortaan die engele in die plek van die mense nie, maar begin 'n reddingsaksie om die mense, Adam se kinders, uit die greep van sonde en dood uit te haal. Daarvoor stuur Hy sy eniggebore Seun as die Tweede Adam aarde toe.

Daarom stuur Hy vannag engele na die mense toe.

Hierdie wonder van God se welbehae besing die engele.

Dat nie alle mense in die vrede wat Christus bewerk, sal deel nie, en dat dit te make het met God se genadige verkiesing - dit weet die engele natuurlik net so goed soos ons. Hulle weet dit nog beter as ons.

Maar daarvan praat hulle nie nou nie.

Nou besing hulle slegs die wonder dat God die mensewêreld nie losgelaat het nie, maar sy eie Seun 'n mens laat word het.

Dit is die wonder van die Kersnag. So 'n groot wonder dat engele uit die hemel neerdaal om aan mense op aarde die toon aan te gee en hul saam te neem in 'n uitbundige loflied op ons heerlike God.

Want as hulle, die engele, al so opgewonde is oor God se reddingsaksie vir mense, hoeveel te meer moet ons, mense, die HERE dan daaroor eer, broeders en susters.

Ek hoop dat u vanoggend weer mooi na die engele geluister het. Want dan raak u as mens nooit meer klaar gesing nie.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)