God begin die geboorte van die Baba van Betlehem uitbasuin

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Lukas 2
Preek Inhoud: 

PREEK OOR LUKAS 2: 8-12

LITURGIE:
Votum en Seëngroet
Ps. 80: 1, 4
Wet
Ps. 80: 10
Gebed
L. Jesaja 52: 7-10 & 52: 13-53: 5
Prediking
Ps. 138: 3
Doop
Ps. 105: 5
Gebed
Kollekte
SB. 7: 1, 3, 8

Broeders en susters,

U weet hoe dit gaan by die geboorte van 'n baba: so gou as wat die kind gebore is, moet die berig van sy geboorte uitgebasuin word. Die pa hardloop na die telefoon om sy ouers en skoonouers en ander familie op hoogte te bring. Geboortekaartjies wat lank van tevore uitgekies was, kan gedruk en rondgestuur word.... Die ouers wil dadelik almal laat deel in hulle blydskap. "Met groot blydskap deel ons u mee dat ons van die HERE 'n kind ontvang het".

Toe God se Eniggebore Seun as 'n baba in Betlehem gebore is, het God ook dadelik die berig van sy geboorte wêreldkundig begin maak. En op watter wyse!

Die geboorte self was baie gewoon en onopvallend. Soos die geboorte van alle babás. Toe Maria se swangerskap voldrae was -gewoon 9 maande- het die kontraksies begin en het sy haar seun in die wêreld gebring.

Nie in 'n privaatkamer van 'n staatshospitaal met die beste versorging wat 'n mens jou maar kan wens omdat hier 'n Koningseun gebore sou word nie. Nie met wagtende joernaliste en persfotografe buite wat by die eerste teken in aksie sou kom nie.

Maar êrens agteraf in 'n stal. Met hooguit 'n paar diere as getuies.

Maar sodra die Kind gebore is, kom God Self in aksie om dadelik die blydskap oor hierdie geboorte uit te basuin. En so onopvallend die geboorte was, so indrukwekkend is die geboorteberig.

Laat ons vanoggend 'n slag daarna kyk, want God het dit ook vir u en vir my in sy Woord bewaar sodat ook ons in die blydskap sou deel.

Ons hoor in ons teks dus:

GOD BEGIN DIE GEBOORTE VAN DIE BABA VAN BETLEHEM UITBASUIN

ONS LET OP 4 DINGE IN ONS TEKS:

  1. DIE VORM VAN DIE GEBOORTEBERIG
  2. DIE INHOUD VAN DIE GEBOORTEBERIG
  3. DIE ADRES VAN DIE GEBOORTEBERIG
  4. DIE TEKEN BY DIE GEBOORTEBERIG

1. Terwyl Josef en Maria met hul klein Dawidseuntjie die koning te ryk is êrens in hul stal agteraf in Betlehem, sit daar 'n klompie herders in die velde buite Betlehem hulle skape en oppas. Hulle het nagdiens vannag. Die skape is bymekaar geja in 'n kraal en daardie herders sit en gesels 'n bietjie oor koetjies en kalfies. 'n Enkeling het in 'n dommel geraak maar skrik telkens wakker as hy meen hy hoor die gegrom van 'n roofdier. Bly dit egter stil, dan val sy kop weer vooroor en sak hy terug in sy slapie.

Maar skielik spring almal verskrik orent en is klaar wakker. Want wég is sommer alle donkerte. Hulle staan plotseling almal midde-in 'n stralende lig, helderder en feller as die son.

En daar staan vlak by hulle 'n hemelse gedaante. Mens kan dit sommer sien: dit is nie 'n gewone mens nie. Dit moet 'n engel van God wees!

En 'n oomblik later staan daar 'n hele leërafdeling engele, hemelse soldate by hulle wat 'n soort strydkreet oor die velde laat dreun.

So, gemeente, begin God die berig van die geboorte van sy Seun as 'n baba in Betlehem uitbasuin: deur soldate van sy hemelse leërmag. Engele in uniform.

Want God staan nou op tot die stryd. In die vrederyk van keiser Augustus kom Hy die vrede versteur. Hy gaan 'n onrus deur die lewe ja. Want Augustus en die meeste mense met hom soek 'n vrede wat deur die mens self tot stand gebring word. 'n Vrede van veilige grense en billike belastinge. 'n Vrede wat deur volkstellings, statistieke en amptenare gewaarborg moet word.

Maar daarom ook 'n vrede waarin die gevaarlikste vyand binne die mure, ja, op die troon gehou word: die sonde, die eiewysheid en hoogmoed wat aan die God van die hemel geen plek gee in die lewe op aarde nie.

God gaan nou vir eens en vir altyd daardie vyand beveg en verslaan. Nie deur sy engeleleër nie, maar deur die Kind wat so pas in Betlehem gebore is.

Hy sal stoksielalleen die vrede op aarde gaan verower.

Hierdie leërafdeling is net sy heraute. Hulle hoef alleen maar sy koms aankondig en die doel van sy koms bekendmaak: "Vrede op aarde".

God gaan 'n ander, 'n beter vrede bewerk as keiser Augustus. Die vrede waarin die mens weer met sy God versoen is en die paradys kan terugkeer op aarde.

Die hemelse soldate sal net-nou God se vredesplanne in hul strydkreet uitroep. Maar die HERE maak sy vredeswil aan hierdie herders by Betlehem ook al dadelik op 'n ander manier bekend: "die heerlikheid van die HERE het rondom hulle geskyn", lees ons in ons teks.

Die oogverblindende ligglans wat van God se aangesig afstraal, is hierdie nag weer sigbaar op aarde.

Vir 'n kort oomblik is hierdie steppe 'n stukkie paradys.

Die heerlikheid van die HERE is mos daardie die indrukwekkende teken van die HERE se aanwesigheid, waarvan ons in die Ou Testament telkens lees.

In die tuin van Eden het die HERE met die mens gewandel. Sy heerlike aanwesigheid het Adam en Mannin omstraal.

Maar deur die sonde is dié lig gedoof. God moes Hom van die mens terugtrek.

Toe was daar ook 'n engel, maar met 'n gevaarlike swaard om die mens op 'n afstand van God te hou.

In die daaropvolgende eeue het die HERE die mense wel steeds weer hoop gegee op herstel van dit wat verlore geraak het.

Die heerlike liggloed van sy aanwesigheid was terug toe die HERE sy volk uit Egipteland uitgehaal het. By die verbondsluiting in die Sinaiwoestyn het daardie goddelike ligglans 'n indrukwekkende rol gespeel. Daarna het die heerlikheid van die HERE sy intrek geneem in die tabernakel, en later die tempel, in die allerheiligste. God het weer digby sy volk gekom, agter die rook van offers en op die versoendeksel wat rooi was die versoenendende bloed.

Nogtans het daar altyd afstand gebly. Die sondes van die volk het telkens afstand geskép. Op die ou end was die HERE selfs genoodsaak om sy heerlikheid weer uit Jerusalem se tempel terug te trek en sy volk aan die duisternis waarvoor hulle self gekies het, oor te gee.

Maar vandag is God nadruklik in al sy skitterende heerlikheid terug op aarde. Die gebed van Psalm 80, waarmee ons dié diens begin het, is verhoor: "O God, U wat u troon op gerubs stig, verskyn weer blinkend in u lig; ja, verkwik, verlos ons deur die lig wat afstraal van u aangesig".

God wil weer woon by die mense. Woon in vrede omdat die sondes versoen is.

Vannag is dit die nag van Immanuel: God met ons.

En so mooi soos dit sedert die Paradys nooit meer gewees het.

In die Ou Testament het die HERe met sy heerlike ligglans wel weer na die mense toe gekom, maar terselfdertyd tog altyd ook afstand geskep. Die vuur van God se aanwesigheid was so indrukwekkend dat enige mens daardeur op 'n afstand gehou is.

Vannag is egter vir 'n oomblik alle afstand weg. God se arms omsluit sondaars.

Die feesverligting van die Paradys word weer aangeskakel. As 'n veelbelowende voorproef op die Nuwe Jerusalem wat God nou sal bou en waarin daar nooit meer 'n nag sal wees nie omdat die pas gebore Kind van Betlehem sy lamp sal wees.

Dit is egter merkwaardig, broeders en susters, dat die heerlikheid van die HERE in hierdie nag daarbuite in die velde by Betlehem die donkerte verdryf.

'n Mens sou verwag dat hierdie lig van God se aanwesigheid in die stal, rondom die krip moes skyn! Daar lê dan die Immanuel; daar het God as 'n Kind by die mense gekom.

Ja, maar daardie pas gebore Seun van God het nie gekom om sélf in die kollig te beweeg nie. Hy het gekom om te skyn oor óns wat in duisternis en doodskaduwee sit; en om sodoende óns voete na die pad van die vrede te rig.

Hy het uit die heerlikheid van die hemel wil neerdaal in vernedering, om aan die mense op aarde die heerlikheid terug te gee.

Dis dié dat die duisternis in die stal dit in hierdie nag lig rondom die mense maak.

2. Die herders skrik hulle boeglam en deins agteruit. Hulle meen hulle moet nog steeds afstand bewaar. God is mos 'n verterende vuur vir sondige mense.

Maar waar moet hulle heen? Hulle weet nie watter kant toe nie. Die goddelike vuurglans omring hulle van alle kante!

Maar hulle hoef ook nêrens heen nie. Hulle hoef geen stap agteruit te doen nie. God se engel doen 'n stap na hulle toe en sê: "Moenie bevrees wees nie, ek kom juis 'n groot blydskap aan julle bring".

Waarom skyn daar hierdie nag plotseling so'n groot lig oor die volk wat in duisternis wandel en in land van doodskaduwee woon? Want " 'n Kind is vannag gebore, 'n Seun is aan julle gegee; en die heerskappy rus op sy skouer en Hy word genoem: Wonderbare Raadsman, Sterke God, Ewige vader, Vredevors, tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy Koninkryk, om dit te bevestig deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid".

Ek omskryf die engel se woorde nou uitvoerig met 'n teks uit Jesaja se profesieë, maar wanneer die engel, om sy boodskap van groot blydskap te onderstreep, die geboortekaartjie tevoorskyn haal en voorlees, staan daarop net 'n paar name. Tog is dit name wat stuk vir stuk boekdele spreek. As jy naamlik dié boek goed gelees het: God se Woord.

In ons Bybelvertaling staan die volgorde presies omgekeerd.

"Gebore is vir julle vandag die REDDER, naamlik CHRISTUS die HEER, in die stad van Dawid" sê die engel.

REDDER- met dié naam begin die engel. En dié eenvoudige woord klink veelbelowend. Watter mens is mos volmaak tevrede met die lewe soos dit nou is? Daar is so veel ellende op aarde, soveel benoudheid, verdrukking, verontregting, terreur...

Maar nou is daar dus gebore daardie groot Man wat aan dit alles vir goed 'n einde sal maak en die lewe weer volkome leefbaar sal maak. Die Man waarna die hele wêreld, alle volkere op die een of ander manier uitgesien het.

Maar wie is Hy?

Die soveelste nuwe ster aan die politieke firmament?

Nee, die engel haas hom om dié misverstand dadelik af te sny. Hy is die CHRISTUS, die Gesalfde Kneg van God van Wie die Psalms en die profete aanhoudend en al hoe duideliker gepraat het. Hy is die Gesalfde Seun van God wat Hom, blykens Psalm 2, juis teenóór al daardie politieke grootkoppe opstel omdat Hy deur 'n ánder Gees beheers word: Hy is gesalf met die Heilige Gees van God om die lewe weer aan God alleen toe te wy. Hy kom nie om sélf bejubel te word nie, maar om te bewerk dat God weer alle lof ontvang in hemel en op aarde.

Daarom sal Hy ook nie alleen Koning wees nie. Hy sal, blykens Psalm 110, 'n Priester-Koning wees wat allereers die sondes by God sal versoen om die ware vrede in sy ryk te vestig.

So, deur Homself te verneder en Homself te offer deur gehoorsaam te wees tot die dood toe, ja, die dood van die kruis, sal God Hom uitermate verhoog en die Naam bo alle naam gee, sodat in sy Naam elke knie in hemel en op aarde sal buig en alle tong sal bely dat Hy die HEER, die absolute Maghebber is.

Vandag is Hy gebore, vertel die engel. In die stad van Dawid. Soos die HERE eeue terug reeds beloof het. 'n Nuwe Seun uit die huis van Dawid. 'n Nuwe Koning. Dié Koning waarna julle eeue lank al uitgesien het. Die nuwe Dawid wat Hom saam met sy volk weer sal buig onder die juk van die HERE.

Hy is dit wat die heerlikheid van die HERE terugbring op aarde en 'n nuwe Jerusalem sal bou.

Julle is bevrees? Bang?

Maar vannag het God juis begin om alle angs in blydskap te verander! Deur die Kind wat vannag in die stad van Dawid gebore is.

3. Wil u graag deel in daardie blydskap, broeders en susters? Wil u ook deur hierdie Redder gered word en danksy Hom weer woon in die lig wat afstraal van Gods aangesig? Dit is moontlik, want ook vir u is Hy gebore.

Kyk met my nou in die derde plek maar na die adres van hierdie geboorteberig.

Vir wie is die groot blydskap wat die engel van God kom uitbasuin, bedoel?

"Vir die hele volk", sê die engel.

Vir almal sonder onderskeid. Vir groot en klein, arm of ryk, vir groot geleerdes en mense met min verstandelike vermoëns. Almal mag deel in die blydskap wat die baba van Betlehem sal bewerk.

Daarom is dit ook nie snaaks dat die HERE met die geboorteberig van sy Seun allereers 'n klompie herders opsoek nie.

'n Mens sou miskien verwag dat God sy engele allereers na Jerusalem toe gestuur het. Na die priesters in sy tempelhuis wat solank al eintlik onbewoon is. Waarom het die HERE sy heerlike ligglans nie aangesteek in die allerheiligste nie? Of op die tempelplein? Of in die vergadering van die oudstes en wetgeleerders?

U kan in party verklarings lees, dalk het u dit ook wel 'n keer in 'n preek gehoor, dat daardie herders by Betlehem natuurlik tot die klein kring van gelowiges in Israel behoort het; dat hulle mense soos Simeon en Anna was wat wat met 'n volhardende verlange na die vervulling van God se troosbeloftes uitgesien het.

Maar die Bybel vertel niks daarvan nie. Lukas sê dit wél nadruklik van Simeon en Anna, maar nie van hierdie herders nie. Ons weet niks van hulle gloof nie.

God kies eenvoudig hulle eenvoudig uit omdat hulle die eerstes is wat Hy kan bereik. Almal slaap nou, maar die nagploeg is nog wakker. Maak nie saak nie dat dit maar herders is, mense wat by die grootste deel nie in aansien was nie. Mense wat dalk nog nooit 'n studieboek ingesien het nie. Mense met ook maar min uiterlike beskawing.

Aan sulke mense mag, ja: moét die engel namens God së: "Ek bring julle 'n goeie tyding van groot blydskap. Dit is vir die hele volk bestem, maar dus ook vir julle: vir julle is vandag die Redder gebore".

Onse God soek met die evangelie van sy Seun geen bepaalde groep mense nie, broeders en susters. Geen teoloë, geen mense met 'n spesiale Skrifkennis of mense met 'n groot mag of invloed nie. Eerder die omgekeerde: "wat dwaas is by die wêreld, en wat swak is, wat onedel en verag is, dit het God uitverkies, dit wat niks is nie, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie".

God wil hê dat die blye boodskap dat sy Seun die Redder van die wêreld is, eers aan die hele volk Israel, en na Pinkster "aan alle volke en mense sonder enige onderskeid verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof".

Selfs die grootste sondaars- nee, ek moet sê: juís die grootste sondaars moet die blye boodskap hoor dat daar 'n Redder gebore is wat ook vir sulke mense die lewe weer leefbaar sal maak.

Ook vir u, wat vanoggend hierdie geboorteberig weer lees en hoor, sê God: soek jy 'n beter lewe? Verlang jy na die einde van jou stryd en lyding? Gee jou dan oor aan die Kind van Betlehem, die laaste Koning uit die geslag van Dawid, die Redder van die hele wêreld. Dan word jou lewe die ene blydskap!

4. God vra dan egter wel gelóóf van 'n mens, broeders en susters. Dit blyk tenslotte nog uit die teken wat die engel by sy geboorteberig gee.

Die engel se woorde lyk te eindig in 'n antiklimaks. Hy het die mooiste woorde gebruik: "Redder, Messias, Christus, Here". Maar dan stuur die engel die herders weg om 'n baba te gaan soek, soos alle baba's in doeke toegedraai, en in hierdie geval is daar geen beter wiegie as 'n voerkrip nie.

Dit is die teken waaraan die herders kan weet dat die engel die waarheid gepraat het.

Maar watter teken is dit?

Dis in elk geval geen herkenningsteken nie. Hier is mos niks opvallends nie! Daar is soveel baba's in doeke toegedraai. En armoedige toestande sodat daar selfs geen behoorlike wiegie is, sal op die platland van Judea ook geen uitsondering gewees het nie.

Maar wanneer die herders daardie pragtige name op die geboortekaartjie lees, en net-nou niks besonders in Betlehem vind nie, is dít juis 'n teken vir hulle. Sêmaar 'n sinjaal. 'n Ding om, oor na te dink. Daardie eenvoud en armoede is tiperend vir hierdie Redder. Daardie stal vertoon sy styl. Die krip by sy geboorte is reeds uit dieselfde hout gekap as die kruis waaraan Hy sal sterwe.

Want Hy moes doodgewoon gebore word om gewoon die dood te sterwe. Slegs deur in die plek van alle mense Homself te verneder onder die hand van God en Homself vir die sondes van sy volk in die dood te offer, kan Hy die wêreld red van sy ellende.

Wie dus hierdie Kind as Koning wil aanvaar, moet mooi kyk na daardie teken. Dit is die signaal van Jesaja 53: "Wie het geglo wat aan ons verkondig is. En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar. Hy wat soos 'n loot voor God se aangesig opgespruit het en soos 'n wortel uit droë grond, het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.... Maar Hy is ter wille van óns oortredinge deurboor, die straf wat ons die vrede aanbring was op Hom".

Slegs wie sy eie skuld teenoor God leer ken het, kan hierdie teken verstaan en hierdie Redder aanvaar.

Het ú die betekenis van hierdie teken leer insien, broeders en susters?

Die wat hierdie teken nie begryp nie, kan hom alleen maar vererg.

Maar die wat hom deur hierdie teken laat leer, moet wel met die engelekoor instem: "Eer aan God in die hoogste hemele!" Vir hierdie diepe vernedering verdien God die hoogste lof. Want deurdat Gods se Seun die Man van smarte wou word, kan ons weer in groot blydskap lewe.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)