Wat dwaas is by God, is wyser as die mense

Teks: 
Lukas 2
Datum: 
2017-09-17
Preek Inhoud: 

25-12-91

LUKAS 2 : 1-7

Votum - seëngroet
Sing: SB. 1 : 1, 3, 5, 6
Gebed
Skriflesing: Mattheus 1 : 18-25
Sing: SB. 5 : 1, 2
Tekslesing: Lukas 2 : 1-7
Sing: Ps. 2 : 1, 2, 4
Prediking
Sing: Geloofsbelydenis
Dankgebed
Kollekte
Sing: Ps. 2 : 5, 6
Seën

Gemeente van ons Here Jesus,

onthou u die sensus van 1991, die telling van die bevolking van Suid-Afrika? Almal het 'n formulier by die huis gekry: om in te vul met hoeveel persone u daar woon, watter opleidingsvlak u het, hoe hoog u inkomste is, ens. So 'n sensus is iets om gou van te vergeet. Die enigste wat mens dalk nog onthou is dat daar eers omtrent 7 miljoen mense te min was: 7 miljoen minder as by die vorige volkstelling. Dit het 'n bietjie moeilikheid veroorsaak, maar ook 'n humoristiese trek gehad.

Ja, so 'n hedendagse verskynsel lê 'n direkte verbinding met die tyd waarin ons Heiland gebore is. Soos daar toe 'n volkstelling gehou is, so gebeur dit in ons samelewing ook. Soos die magtige mense van daardie tyd hulle planne en programme gehad het, so is dit in die land waarin 'n konferensie vir 'n demokratiese Suid-Afrika besig is. En Psalm 2 is nog altyd waar. Die nasies is in beweging, die volke maak planne en verwyder die geloof in die Drieënige God uit die grondwet. Wat maak 'n klompie mense van 'n klein aantal kerke dan?

Tog mag ons vandag blymoedig Kersfees vier: bly en moedig. Want die Here Jesus het op die mees onwaarskynlike wyse en tyd in die wêreld gekom. Dit lyk die ene dwaasheid om in 'n wêreldryk, soos Rome s'n, nog van Dawid se huis te praat. Dit lyk nonsens om in tye van internasionale verkeer nog op die voetreis van net een gewone egpaar ag te gee. Dit lyk onsin om vrede van 'n babaseuntjie te verwag. Tog vier ons blymoedig die Kersfees.

Ek bedien u die evangelie van die geboorte van ons Here Jesus Christus:

WAT DWAAS IS BY GOD, IS WYSER AS DIE MENSE

God gebruik

  1. 'n deursigtige grootkop (vs. 1-2),
  2. 'n doelgerigte reis (vs. 3-5) en
  3. 'n doodgewone geboorte (vs. 6-7)!

1. GOD GEBRUIK VIR JESUS SE KOMS 'N DEURSIGTIGE GROOTKOP

Keiser Augustus: hy word heiland en vredevors genoem en laat homself soos 'n god aanbid. Hy is mos die een wat vrede in die romeinse ryk gebring het. As erfgenaam van Julius Caesar het hy besef dat 'n land nie altyd kan aangaan met oorlogvoer nie. Daar bly nie mans oor om op die land te werk nie en honger is en bly 'n probleem vir die wêreldryk. Die nuwe keiser het die grense van sy ryk gestabiliseer en van nuwe uitbreiding afgesien. Die volk van Italië was so bly dat hulle hom die erenaam "Augustus", die Verhewene gegee het. Augustus moet intusse wel die hele ryk regeer en in bedwang hou. Daarom word oorwonne volke ingelyf. Die vrede van Rome, die pax romana word afgedwing.

Een van die middels om dit te bereik is 'n volkstelling. Jy kan jou gesag aan die volke laat voel en kry informasie oor mannekrag en moontlikhede om jou belastingopbreng te verbeter. Daar is drie stukkies teks in vers 1 wat die mag van die keiser wil duidelik maak. a. 'n Bevel het uitgegaan: dit is plegtige taal wat die impak wil laat voel. Die keiser het nie net besluit nie, maar dit duidelik laat besef. b. Die keiser word by sy erenaam "Augustus" genoem: die hele mag van Rome staan agter hom. c. Die hele wêreld moet ingeskryf word: die Griekse woord "oikoumenè" praat van die hele beskaafde wêreld, sy magtig ryk. Die ryk van Rome sal op die keiser se bevel in beweging kom. Bestuursamptenare, soldate en oorwonne volke gaan op pad.

Vs. 2 is 'n bietjie moeilik. "Hierdie eerste inskrywing het plaasgevind toe Cirenius goewerneur van Sirië was". Die probleem is dat hierdie P. Sulpicius Cirenius in die jaar 6 na Christus se geboorte sy volkstelling deurgevoer het. Die geskiedenisboeke sê dit baie duidelik. Dit is dus baie jare later as die jaar van die geboorte van ons Heiland. 'n Baie betere vertaling van vers 2 is: "hierdie inskrywing het vroeër plaasgevind as die wat deurgevoer is toe Cirenius goewerneur van Sirië was". Die inskrywing wat Rome beveel het is dus 'n andere, vroeëre een as die wat bekend is as die inskrywing deur Cirenius.

Mag ek 'n bietjie van die latere sensus in die jaar 6 na die geboorte van Jesus vertel? Dit werk baie verhelderend. In Judea was kort gelede die stadhouer Archelaus deur keiser Augustus afgeset. Sy gebied was Judea, Samaria en Idumea (Galilea speel geen rol nie, omdat daar nog altyd Herodes Antipas regeer). Die eie identiteit van Judea was nog altyd sigbaar. Nou onderneem Cirenius op bevel van Rome om Judea as 'n provinsie te likwideer. Judea sal 'n onderdeel van die romeinse provinsie Sirië word. Om dit te bereik word 'n sensus gehou, 'n volkstelling. Dit gebeur ook. Maar dan kom die bevolking in opstand. 'n Sekere Judas die Galileër is leier van die opstand. Hy voer die sgn. "seloten" aan: die kommando's van Judea. U sal verstaan dat die vryheidstryd wat met daardie volkstelling verbind is, skerp in die geheue van die volk Israel ingegrif is. In sy tweede boek, in Handelinge vertel Lukas later hoe Gamaliël die Joodse raad herinner het: "daarna was dit Judas die Galileër wat in die tyd van die volkstelling (!) in opstand gekom het met 'n deel van die volk agter hom aan" (5:37). Dit is hoekom Lukas, as hy sy evangelie skryf, duidelik moet sê dat die inskrywing ten tyde van Jesus se geboorte 'n ander een was.

Voel u hoe 'n volkstelling insny in die lewe van die volk? Die keiser in Rome wou weet: hoeveel mense is daar, hoeveel seuns is daar vir diensplig, wat is die waarde van die besittings, hoeveel belasting kan ek vra? Voel u hoe 'n inskrywing insny in die lewe van die Jóódse volk? Die eie bestaan, die beloftes van God, die landsgrense word bedreig met uitwissing! Dit vra nie net finansiële offers nie, maar geestelike.

'n Romeinse beskrywing sou soos volg begin: in die 23 jaar van keiser Augustus het hy beveel dat die hele wêreld ingeskryf moes word. Die evangelie skryf egter: "en in daardie dae het daar 'n bevel van keiser Augustus uitgegaan ...". In daardie dae: dit is die dae van verwagting in Israel! Elisabet het 'n seuntjie, Maria verwag nog! Augustus se bevel word ingevoeg in die data van die koms van die Here Jesus. Dit lyk dwaasheid vir elke romein, vir elke burger van die wêreldryk wat "a world in one country" probeer te wees. Die grootkop van Rome is egter vir God so deursigtig! God laat hom maak soos hy wil, maar die HERE is besig met sy planne en met sy volk! God se dwaasheid is wyser as die mense, hoe groot hulle ook is.

Dit bevorder dalk nie die respek vir die owerheid om van 'n grootkop te praat nie. As ek so oor Augustus praat, kan u so oor F.W. De Klerk of Mandela praat. Jesus het ons tog geleer om selfs 'n heiden soos "die keiser te eer"? Ja, ons sal die ministers en leiers eer deur met respek oor hulle te praat: uit respek vir die taak wat God op hul skouers gelê het. Dit is egter sinvol om te sien dat elke leier wat God se wil nie erken nie, nog maar net 'n grootkop is. 'n Dwaas in God se oë, soos Psalm 2 dit skerp sê. Of hy nou 'n wêreldryk, 'n groot land of 'n kommando aanvoer. Dit is nie ons taal nie, maar dit is wel God se taal. Hy praat so om sy volk moed te gee: om in alles blymoedig op Hom te vertrou. Al is ons klein en lyk ons hoop vir die christelike kerk in Suid-Afrika dwaas, dit is God almagtig wat ons en hulle regeer. Om Jesus ontwil.

2. GOD GEBRUIK VIR JESUS SE KOMS 'N DOELGERIGTE REIS (vs. 3-5)

"En almal het gegaan om ingeskryf te word, elkeen na sy eie stad" (vs. 3). As later Cireneus van Sirië die sensus hou om die provinsie Judea te elimineer, breek hy bewus met die gedragsreël van Rome. Die gedragsreël was om die gewoontes van die volk wat geregistreer gaan word, te respekteer. Cireneus wou Judea inlyf by Rome en wou romeinse gewoontes aanleer. Dit het tot die volksopstand onder leiding van Judas die Galileër gelei. Solang ou Herodes (die Herodes van die kindermoord) nog die vriend van die keiser van Rome was, is die Joodse gebruike gerespekteer. Dit is ook so, wanneer Augustus die volkstelling laat hou: "elkeen na sy eie stad". Die familiebande rondom die erfbesit, die fondament van Israel se samelewing word gerespekteer.

"En Josef het ook opgegaan van die provinsie Galilea, uit die stad Nasareth na Judea" (vs. 4). Nasareth is sy woonplek, maar Bethlehem is die plek van sy geboorte of afkoms. Of Josef self daar gebore is? Ons weet dit nie vir 'n feit nie. Maar hy is wel "uit die huis en die geslag van Dawid"! Met die dubbele uitdrukking word onderstreep: Josef is sonder twyfel 'n afstammeling van koning Dawid. By Maria is daar nie een aanduiding dat ook sy uit die stam Juda, uit Dawid se lyn kom nie. Sy is eerder 'n vrou uit Lewi, omdat sy verwant is met Elisabet wat "uit die dogters van Aäron" genoem word. Al eerder het Lukas vertel dat Maria verloof is "aan 'n man ... uit die huis van Dawid" (1:27). Ook in die evangelie volgens Mattheus word dit benadruk. Die engel sê: "Josef, seun van Dawid ..."! Dit is hoekom hy saam met sy vrou Bethlehem toe reis.

"Saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het" (vs. 5). Het hulle intusse getrou of is Josef en Maria nog altyd verloof? Die Joodse wet bevat 'n paar verskillende stappe wat tot 'n huwelik lei. Die beslissende een is dat die vrou uit die huis van haar vader uittrek en dat man en vrou saam gaan woon. As hulle saam die ver reis onderneem, is dit waarskynlik dat Josef en Maria hulleself só as getroude mense beskou. Daar is egter 'n ding wat nie normaal is nie. Die saamwoon impliseer die seksuele gemeenskap. Ons weet egter: Josef het homself in die maande voor Jesus se geboorte vrywillig daarvan onthou. In dié sin is hulle huwelik nog nie voltrek nie.

Maar watter dwaasheid is dit om saam met jou swangere vrou 'n lang voetreis te onderneem??? Allright, dalk het Josef 'n donkie vir Maria kon koop. Maar sit dit aangenaam op die rug van 'n donkie? En: is dit nie die ene dwaasheid om waarde aan Bethlehem te heg nie? Wat is die waarde van 'n herinnering aan die ou koningshuis van Dawid wat lankal geen konings meer lewer nie? As jy tog 'n bietjie hoog teenoor Rome wil opgee, hoekom dan nie Jerusalem gekies nie? Bethlehem, ja, dit is die dorp waar Dawid oorspronklik wegkom. Maar op daardie dag is Bethlehem niks meer as wat dit was nie: 'n dorp. Bethlehem speel tog ook in die Bybel nauweliks meer 'n rol?

Nee, maar die dwaasheid van God is wyser as die mense. Dit is God almagtig wat gemaak het dat dit 'n doelgerigte reis sou wees. Dit is meer as 'n sinnelose tog deur die bergland van Judea na 'n ontbekende dorpie, bloot uit gehoorsaamheid aan 'n heiden-keiser. God self bring sy Seun, ons Here Jesus by die wortels van God se ou beloftes. God self wys ons sy ou beloftes op die plek wat die beloftes sigbaar maak. Die dorpie kan nog so klein wees, God is groot. Die mense moet ver reis, ja, maar die HERE wil sy volk van ver terug haal.

3. GOD GEBRUIK VIR JESUS SE KOMS 'N DOODGEWONE GEBOORTE (vs. 6-7)

En nou sou die hoogtepunt moes kom. Nou verwag mens iets wat opweeg teen die grootspraak en die dwang van die keiser van Rome. Nou sou ons 'n indrukwekkende beskrywing van die geboorte van die Here verwag. Daar kom egter min wat indrukwekkend is. Eers later, rondom die reaksies van die mense - die herders en die wyse- gebeur daar indrukwekkende dinge. Die geboorte is egter gewoon, ja doodgewoon. "En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar" (vs. 6). Die dae is vervul: dit lyk 'n baie plegtige omskrywing, maar dit beteken gewoon dat die dae "vol" is. Die negende maand is uitgetel, die normale tyd van 'n geboorte is daar. "En sy het haar eersgebore Seun gebaar". "Seun" is in ons Bybelvertaling eerbiedig met 'n hoofletter geskryf, maar vir Josef en Maria is dit gewoon hul eerste kindjie, 'n seuntjie.

Daar is nog baie meer wat die geboorte eerder doodgewoon as superspesiaal maak. Die baba is volgens die kraamgewoontes van daardie tyd "in doeke toegedraai". Hy het die warmte en beskerming vir sy lyffie benodig. Hy het 'n bedjie benodig. Daar was egter niks anders as 'n krip nie, 'n voerbak van die beeste: 'n 'n uitgeholde klip of 'n houtbak. Ook die plek waar hulle bly, is doodgewoon. Die plek was 'n "herberg", sê ons vertaling. Die Griekse woord kan egter ook gewoon "kamer" beteken. As die laaste Pasga naby is, stuur Jesus sy dissipels uit om die kamer te soek waar hulle die paasfees saam sal vier. Dan lees jy dieselfde woord. Waarskynlik was Bethlehem te klein en het nie 'n eie herberg vir reisigers gehad nie. Die eenvoudige huise was dikwels so gebou: dat mense en vee in een groot vertrek gebly het. Die een hoëre gedeelte was vir die mense, die ander laer deel vir die diere bestem. Ons weet nie waar Josef en Maria voor die geboorte gebly het nie. As egter die dag van die bevalling gekom het, bly hulle nie in die gedeelte waar die mense normaalweg is nie. Die voerbak wys daarop dat hulle nou in die gedeelte vir die diere is. Die diere is waarskynlik buite, op die veld, soos die skape wat saam met die herders buite is in die velde van Efrata rondom Bethlehem.

Ja, die elemente wys op armoede. Teenoor die mag van Rome kom Jesus in baie nederige omstandighede op die aarde. Armoede, ja, maar die lewensnoodsakelike dinge is daar: voedsel, kleding en onderdak. Die doodeenvoudige dinge is vir die Here daar. Sodat Hy kan lewe. Want die mees gewone is dat hier 'n babaseuntjie, 'n mens gebore is! Dit is doodeenvoudig, ja, letterlik: 'n sterfelike mens, 'n kind wat deur die normale, maar pynlike en gevaarlike proses van 'n geboorte op die wêreld kom. En dit is 'n wêreld waar die dood nog altyd as koning heers, ook al dink die magtiges dat hulle vrede kan maak.

Dit is die evangelie wat so naby as moontlik by jou kom: dat die Seun van God in hierdie magtige, onsekere wêreld as 'n mens ingekom het. Dat Hy jou bestaan wou deel, tot in die diepste en vroegste en mees gewone dinge. Vir die wêreld se wysheid lyk dit dwaasheid om die Vredevors, die Heiland as 'n onbekende babatjie in armoede gebore te laat word. Vredevors en Heiland was die titels van Augustus. Ons Heer is hierdie Jesus. Hy gee moed en Hy maak bly om mens te durf wees voor God se aangesig, om christen te wees in 'n moeilike tyd. Jesus is mos in sy geboorte alreeds die grond van God se genade: sy genade en goedheid oor die lewe in die grote en die gewone huis. In al die jare wat God nog altyd bestuur.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)